Читать книгу Trompie Omnibus 6 - Topsy Smith - Страница 10
3
ОглавлениеDawie se plan
Dawie sit met ’n frons op sy voorkop. Hy dink diep en ernstig.
Trompie, Rooie en Blikkies sit en eet. Hulle loer af en toe na Dawie om te sien hoe die dinkwerk vorder. Hulle wonder wat sy plan is. As elkeen net sy geld kan terugkry, sal hulle tevrede wees.
“Dit gaan nie te goed met ons besigheid nie, nè?” sê Dawie uiteindelik.
“Dit gaan beroerd,” brom Trompie. “Ons doen dan niks besigheid nie.”
“Presies,” sê Dawie. “So ons moet kyk of ons nie ’n deel van ons geld kan red nie.”
Trompie, Rooie en Blikkies hou van hierdie idee. Maar hoe gemaak?
“Julle weet mos my niggie, Isabel, kuier weer by ons?”
Die drie knik. Hulle hou baie van Dawie se twintigjarige niggie. Toe sy verlede keer hier in Kwaggaberg gekuier het, was sy baie vrygewig. Sy het ’n paar keer vir hulle geld vir lekkers gegee.
Trompie, Rooie en Blikkies kyk nou belangstellend na Dawie. As daar iemand is wat geld in ’n kwynende besigheid sal stort – of liewer, ’n besigheid wat nog nie eens bestaan nie – dan is dit Isabel.
“Wat is jou plan, Dawie?” vra Trompie.
“Ons bied vir Isabel ’n aandeel in die snoepwinkel aan – vir geld, natuurlik.”
Trompie, Rooie en Blikkies dink hieroor na.
“Maar ons kan dan nie eens dié lekkers verkoop nie,” sê Rooie en wys na die vier groot tasse. “Wat nog van die lekkers wat ons met haar geld koop?”
“Ons hoef nie nog lekkers te koop nie,” antwoord Dawie en sy gesig straal. “Ons kan Isabel se geld hou. Dan kry elkeen van ons ’n deel daarvan.”
“Slim plan!” sê Trompie opgewonde. “So kry ons darem elkeen ’n deel van ons verlore kapitaal terug.” Hy hou duidelik baie van Dawie se plan.
Rooie en Blikkies hou ook daarvan. Soos Blikkies sê, dan verloor hulle darem nie alles wat hulle in die snoepwinkel gesteek het nie.
“Onthou net,” sê Rooie ingenome, “ons verloor nie regtig geld nie, want al die lekkers gaan mos in ons mae eindig.”
Trompie stel voor dat hulle Isabel moet probeer oorreed om sommer ’n groot bedrag in die snoepwinkel te stort.
Die vier bespreek hierdie plan ’n rukkie al kouende, maar besluit dan dit sal nie regverdig wees nie. Hulle weet mos die winkel is besig om sy deure toe te maak. Om die waarheid te sê, dit het nog nie eintlik sy deure oopgemaak nie. Dit sal darem nie regverdig wees om vir Isabel te veel geld te vra nie. Hulle moet hul gewetens skoon hou.
“Maar sê nou sy wil alles van die besigheid af weet?” vra Blikkies. “Sê nou sy vra hoeveel geld ons al gemaak het, hoeveel lekkers ons al verkoop het en sulke soort goed?”
“Dan moet ons vir haar die waarheid vertel,” antwoord Trompie. “Maar miskien kan ons alles so verduidelik dat sy nie sulke vrae vra nie.”
Dawie wil net vra hoe hulle dit gaan doen toe Trompie opkyk en skielik skree: “Haai, wil julle nie lekkers koop nie?”
Die twee seuns op wie Trompie so gegil het, staan stil en kyk na die vier by die oop tasse.
“Ons het nie geld nie,” roep die een kind.
“En al het ons ook geld, sal ons nie by julle koop nie,” skree die ander een.
“Hoekom nie?” Trompie lyk verontwaardig. “Ons het die lekkerste lekkers in die hele wêreld!”
“Dit maak nie saak nie,” skree die eerste kind weer. “Ons betaal nie een rand vir iets wat net vyftig sent kos nie.”
Die twee seuns loop laggend weg.
“Simpel goed,” brom Trompie.
“Hulle’t ’n punt beet,” sê Dawie peinsend. “Hulle slaan die spyker op sy kop.”
“Watse spyker?” wil Rooie weet.
“Die probleem met ons snoepie,” sê Dawie. “Ons vra dubbeld vir ons lekkers en die kinders wil dit nie betaal nie, want dis gans te duur.”
“Maar hoe gaan ons ’n wins maak as ons nie dubbeld vra nie?” wil Trompie weet.
Niemand kan dié vraag beantwoord nie. Wat help dit om lekkers by oom Stavrinos se kafee te koop en dit dan weer teen dieselfde prys by die skool van die hand te sit? Dit is mos belaglik. Wat kry hulle dan vir hul moeite? Watse wins maak hulle dan?
“Toemaar,” sê Trompie en hoop hy is reg, “julle sal sien, die ouens gaan nog kom koop – gee net kans. Hulle gaan nog so lus vir lekkers raak dat hulle nie sal omgee om ons pryse te betaal nie.”
Die ander hoop ook so, maar twyfel of dit ooit gaan gebeur.
Hulle voel darem nou effens beter. Hulle gaan vanmiddag met Isabel praat en hulle is seker sy sal betaal om ’n aandeelhouer in hul besigheid te wees. Dan kry hulle darem ten minste ’n deel van hul geld terug.
Aan die einde van tweede pouse stap die vier met die groot tasse terug klas toe. Die tasse is nou heelwat ligter. Die Boksombende het niks lekkers verkoop nie, maar heelwat geëet.
Ná skool spreek hulle af om vieruur by Dawie se huis bymekaar te kom sodat hulle Isabel kan bearbei. Trompie sal natuurlik die praatwerk doen.
Net voor vier stap Trompie met die straat af na Dawie se huis toe. Sy hond, Boesman, draf blaffend langs hom. Trompie loop ingedagte en skop na blikke, graspolle en klippe. Sy kouse lê op sy skoene en sy hemp hang agter by sy broek uit. Sy hande is diep in sy broeksakke.
Daar is ’n frons op Trompie se voorkop. Hy loop ernstig en dink. Dit lyk sowaar of hy en sy manne al hulle geld gaan verloor met hierdie snoepwinkel wat hy voorgestel het.
“Die ouens by die skool is sommer simpel,” mompel hy by homself. Dan sê hy hard: “Vat so!” en trek los en skop ’n konfytblik dat dit met ’n sierlike boog deur die lug trek.
Trompie kyk glimlaggend hoe die blik ’n hele ent voor hom eers grondvat. Hy voel nou beter. Hy is miskien nie so ’n wonderlike sakeman nie, maar hy is ’n baasskopper. Dis nou maar wors.
Naby Dawie se huis gee Trompie ’n lang, uitgerekte fluit. Dit is ’n hoë noot afgewissel met ’n lae een – die Boksombende se sein. Drie ouens fluit feitlik gelyktydig op dieselfde manier terug en Trompie weet Rooie en Blikkies is alreeds by Dawie.
Trompie is seker hulle sit en gesels oor hoe vies hulle vir hom is omdat hulle hul geld met sy snoepwinkel-idee verloor het, of gaan verloor. Maar as hulle die eerste dag al ’n klomp geld gemaak het, dink Trompie, was hy natuurlik nou ’n groot held.
Hy sug en skop moedeloos na ’n klip. “Eina!” sê hy onwillekeurig. Die klip was groter as wat hy gedink het. Trompie sug. Die lewe is moeilik.
Rooie, Blikkies en Dawie sit op ’n bank onder ’n groot boom in die tuin. Hulle lyk ook maar bek-af.
Boesman hardloop vinnig na sy baas se vriende toe. Dawie begin die brak se maag met sy skoenpunt kielie. Hy wil graag sien hoe lyk ’n hond wat lag.
Rooie is kaalvoet en besig om sy tone te wikkel. Hy wil hulle beweeg sonder dat sy groottone ook roer. Hy is seker hy gaan dit eendag nog regkry.
Blikkies kou ’n stuk kougom. Hy byt die kougom styf met sy voortande vas en trek dit dan ver voor hom uit. Hy wil sien hoe ver hy dit so kan uitrek en hoe dun dit word voor dit breek. Elke keer as dit breek, ryg hy die stuk wat by sy mond uithang vinnig met sy tong en lippe in.
“Haai,” groet Trompie en kom sit op ’n bamboesstoel wat langs die tuinbank staan.
“Haai,” groet die drie terug en gaan aan waarmee hulle besig was. Dawie kielie vir Boesman, Rooie wikkel sy tone en Blikkies trek sy kougom voor hom uit.
Trompie sit fronsend in die groot gemakstoel. Hy kyk lank en ingedagte na sy regterskoen se ingeduikte punt.
“Het jy toe met Isabel gepraat?” vra Trompie uiteindelik vir Dawie.
“Nee, jy’t mos gesê jy sal die praatwerk doen.”
“Ja, maar het jy gesê ons wil haar sien? Haar oor ’n ernstige saak spreek?”
“Ja, maar ek het gesê sy moet wag tot ons almal hier is – dan sal jy met haar praat.”
Trompie knik. Die snoepie was mos sy idee, so hy moet alles mooi verduidelik en haar probeer oorreed om daarin te belê.
“Onthou net,” sê Trompie saaklik, “ons moet die ding so aanpak dat dit lyk asof ons haar ’n groot guns bewys deur vir haar aandele in ons besigheid aan te bied.”
Almal knik en dan sê Trompie: “Gaan roep haar, Dawie. Sê vir haar ons wil ernstig met haar praat oor iets wat tot haar voordeel sal strek.”
Dawie loop huis toe om sy niggie te gaan haal. Trompie, Rooie en Blikkies sit en dink. Hulle wonder of Isabel so vrygewig gaan wees soos toe sy laas in Kwaggaberg was. Hulle hoop maar vir die beste.
Dawie kom ná ’n paar minute terug.
“Sy sal nou hier wees,” sê hy en val weer op die tuinbank neer.
“Hoe is Isabel deesdae?” vra Trompie. “Is sy nog so gaaf soos toe sy laas hier gekuier het?”
“Ja,” sê Dawie, “maar dis nie te sê sy gaan in ons snoepwinkel belê nie.”
Ja-nee, dink die seuns en sug swaar, dis nog glad nie te sê nie.
Isabel kom aangestap. Sy glimlag toe sy die vier so neerslagtig en hartseer onder die boom sien sit. Sy wonder wat hulle wil hê. Volgens Dawie wil hulle haar ’n guns bewys, maar sy is nie so seker daarvan nie.
“Haai, julle ouens,” groet sy vriendelik toe sy by hulle kom.
“Haai, Isabel,” sê die Boksombende en staan op.
“Hoe gaan dit met jou?” vra Trompie en groet haar beleefd met die hand.
“Nee, goed – en met jou?”
“Ook goed, dankie,” antwoord Trompie en beduie sy kan op die gemakstoel sit.
Rooie en Blikkies skud nou ook haar hand. Blikkies sê hy hoop haar treinrit Kwaggaberg toe was aangenaam en Rooie mompel dat hy ook so hoop.
“Dankie, dit was heerlik,” sê Dawie se niggie en glimlag vriendelik.
Isabel is ’n mooi meisie met ’n lekker humorsin. Sy hou van die vier karnallies, maar sy is nou ’n bietjie agterdogtig. Sy ken hulle mos nie so vreeslik beleefd nie. Hulle draai om haar en vra of sy gemaklik sit, of hulle nie vir haar ’n kussing kan gaan haal nie en of sy die stoel nie meer in die koelte wil hê nie.
“Ek is heeltemal gemaklik, dankie,” sê sy laggend. “Wat kan ek vir julle doen?”
Die vier vriende kom sit nou weer op die bank. Rooie, Blikkies en Dawie kyk na Trompie. Hy moet die praatwerk doen.
Trompie kry sy gedagtes mooi agtermekaar, maar dit neem te lank na Rooie se sin. Hy pomp die Grootkaptein hard met die elmboog in die ribbes en fluister hees: “Sê nou jou sê. Moenie sit en slaap nie.”
Isabel hoor Rooie duidelik. Sy glimlag. Sy is nou baie nuuskierig en vra: “Wat is dit? Wat kan ek vir julle doen?”
Trompie kyk vies na Rooie, maak keel skoon en kyk dan na Isabel.
“Ons wil nie hê jy moet iets vir ons doen nie, Isabel,” sê hy en glimlag vriendelik. “Ons wil graag iets vir jou doen.”
“So? En hoekom wil julle graag iets vir my doen?”
Trompie frons. Hy hoop nie die meisiemens gaan nou met allerhande lastige vrae en goed begin nie.
“Ons wil graag iets vir jou doen omdat ons baie van jou hou,” antwoord Trompie en glimlag nog breër as netnou.
“Dis baie gaaf,” sê Isabel en daar speel ’n glimlag om haar mondhoeke. “Nou wat is die iets wat julle so graag vir my wil doen?”
Trompie wonder of sy miskien sarkasties is. Hy loer vlugtig na haar. Dit lyk darem nie so nie. Sy glimlag vriendelik.
“Ons wil jou help om geld te maak,” sê Trompie ernstig, “baie geld te maak.”
“Regtig?” Isabel se wenkbroue is vraagtekens.
“Ja,” antwoord Dawie. “Ons wil jou help om skatryk te word.”
Trompie gluur woes na Dawie en Dawie is nou tjoepstil. Hulle het mos afgespreek dat Trompie die praatwerk moet doen.
Trompie vryf sy hande in die lug en sê: “Ons wil jou ’n groot guns doen.”
“Dis baie gaaf,” sê Isabel, maar sy word nou al hoe meer agterdogtig. “Laat ek hoor wat dit is.”
Trompie trek dadelik los. Hy vertel dat hy op die blink gedagte gekom het om vandag ’n snoepwinkel by die skool te begin. Hulle het toe elkeen ewe veel geld ingesit en lekkers daarmee gekoop.
“En omdat ons so baie van jou hou,” sê Trompie ewe vertroulik, “wil ons jou die kans gee om saam met ons geld uit die snoepie te maak.”
“Dis dierbaar van julle,” antwoord Isabel glimlaggend.
Die Boksombende glimlag terug om vir haar te wys presies hoe dierbaar en gaaf hulle is.
Trompie besluit dit is tyd om haar te vertel dat sy vir hierdie groot kans sal moet betaal.
“Dit sal jou net ’n paar rand kos,” sê hy plegtig, “om aandele in ons wonderlike besigheid te koop.”
Isabel kyk na die vier seuns wat haar so aandagtig en hoopvol dophou.
“Nou toe nou,” sê sy, “dis ’n groot verrassing.”
“’n Aangename verrassing, nè?” sê Dawie en sy ondeunde oë vonkel.
“Ek weet nie,” sê Isabel peinsend. “Voor ek geld in julle besigheid steek, wil ek darem eers meer daarvan weet.”
Dit is wat Trompie gevrees het – dat sy ’n klomp vrae gaan vra. Meisiemense is mos snaakse goed. Hulle wil altyd meer van alles af weet.
“Vra maar net wat jy wil, Isabel,” sê hy kastig ewe vol selfvertroue terwyl sy hart vinnig klop.
“Julle het vandag met die snoepwinkel begin, reg?”
Die vier seuns knik gelyktydig hul koppe.
En toe vra Isabel die vraag waarvoor Trompie bang was.
“Hoeveel lekkers het julle vanoggend verkoop?”
Die vier sakemanne kyk verslae na haar.
Om seker te maak hulle het haar goed verstaan, vra sy feitlik dieselfde vraag weer: “Hoeveel geld het julle al gemaak?”
Die seuns kyk na haar. Dan grinnik hulle verleë.
Trompie sluk en sê: “Ons het nog nie eintlik geld gemaak nie, weet jy. Ons het vandag eers begin.”
“Hoeveel lekkers het julle vandag verkoop?” kom die vraag weer direk.
Trompie is trots daarop dat hy nooit leuens vertel nie. Hy glo dit is verkeerd. Al is ’n ou ook in die knyp – jy mag nooit ’n leuen vertel om daaruit te kom nie.
Trompie wens Isabel het liewer nie hierdie lastige vraag gevra nie. Maar sy het en hy moet nou antwoord.
Rooie pomp die Grootkaptein weer in die ribbes en sê met ’n klipharde fluisterstem: “Praat nou! Jy wou mos die praatwerk doen.” Dawie en Blikkies hou Trompie belangstellend dop. Hulle wonder hoe hy die vraag gaan beantwoord.
“Jy bedoel, hoeveel lekkers het ons verkoop?” herhaal Trompie die vraag om tyd te wen. Sy tong se punt speel teen sy bolip.
“Dis wat ek bedoel, ja,” sê Isabel. Haar stem klink streng.
“Niks,” brom Trompie vies.
“Ekskuus?” Isabel se wenkbroue is weer vraagtekens.
“Niks – ons het vandag niks lekkers verkoop nie,” sê Trompie. So ja, nou is dit uit.
“En julle wil hê ek moet geld in so ’n besigheid belê?” Isabel klink regtig verbaas.
Daar heers ’n ongemaklike stilte.
“Ek het skoon vergeet,” sê Trompie in ’n poging om die situasie te red, “ons het met kort pouse amper ’n … ’n lekker verkoop.”
“Ja-nee, dit was so ampertjies,” sê Rooie om Trompie te ondersteun. Dawie en Blikkies knik ook gretig hul koppe.
“Hoe bedoel julle, dit was so ampertjies?” wil Isabel weet.
Trompie sug. Hy wens die meisiemens wou nie so baie vrae vra nie. Hoekom sê sy nie net eenvoudig ja of nee nie? Wat lol sy so?
“Ons bedoel ons het so ampertjies ’n lekker verkoop. Dis wat ons bedoel,” sê Trompie nors.
“Een lekker?”
“Een, ja.”
“Dit klink glad nie na ’n goeie belegging nie,” sê Isabel beslis, “maar vertel my hoe het dit gekom dat julle so ampertjies een lekker verkoop het.”
“’n Ou wou vyftig sent se lekkers koop, maar ons het nie iets vir daai prys nie,” verduidelik Trompie.
“Hoekom nie?” vra Isabel.
“Ons pryse begin by een rand,” mompel Trompie. “Ons verkoop die kafee se goedkoopste vyftigsent-lekkers vir een rand.”
Isabel kyk verbaas na die vier vriende.
“Julle verkoop jul voorraad vir dubbeld die aankoopprys?” vra sy, net om seker te maak sy het reg gehoor.
“Ja, dis mos goeie besigheid.”
Isabel skater van die lag.
“Wat is so snaaks?” brom Trompie vies. “Dink jy nie dis goeie besigheid nie?”
“Net as jy kopers het,” sê Isabel. “En ek kan nie dink waar julle so iets gaan kry nie. Net ’n swaap sal by julle koop en dubbeld betaal. Ek kan nou verstaan hoekom julle nog niks verkoop het nie.”
“Dis omdat niemand vandag geld by die skool gehad het nie,” verdedig Trompie.
“Nee, dis nie die rede nie,” sê Isabel seker van haarself. “Al het die kinders ook geld gehad, sou hulle nie by julle gekoop het nie.”
Trompie, Rooie, Blikkies en Dawie lyk afgehaal. Hulle het dit nog nie openlik erken nie, maar hulle was bang dit is die rede hoekom niemand hul snoepie ondersteun nie – omdat hul pryse dubbeld die kafee s’n is. Trompie die sakeman het hom lelik hiermee misgis.
“Kan jy ons nie asseblief help nie?” vra Dawie skielik smekend.
“Hoekom moet ek julle help?” Daar speel ’n glimlag om Isabel se mondhoeke. “Julle het dan gesê julle wil mý ’n guns doen.”
“Maar nou wil jy nie hê ons moet nie,” sê Trompie bek-af.
“Nee, ek stel nie in so ’n guns belang nie, dankie,” antwoord Isabel. “Ek sal my geld net verloor. Ek kan nie sien hoe julle snoepwinkel ooit ’n wins gaan maak nie. En nog ’n ding – hoeveel van die lekkers wat julle oorspronklik met julle kapitaal gekoop het, is daar nou nog oor?
Sonder om te dink, antwoord Trompie vinnig: “Baie.”
“Hoeveel is baie?” vra Isabel. “Hoe baie van die lekkers het julle geëet?”
“Nie so baie nie,” sê Trompie vinnig.
Dawie se niggie glimlag droogweg. Soos sy die seuns ken, het hulle vandat hulle die lekkers gekry het feitlik die hele tyd daarvan geëet. Hulle sou dit nie kon weerstaan nie.
“Ons het net so nou en dan enetjie geëet,” sê Trompie en skop met sy ingeduikte skoenpunt na ’n vaal graspolletjie op die groen grasperk.
“As julle daardie enetjies wat julle af en toe geëet het bymekaartel, sal julle uitvind daar is glad nie meer so baie van julle lekkers oor nie,” sê Isabel.
Die seuns dink nou ernstig hieroor na. Hulle het natuurlik nooit getel presies hoeveel hulle eet nie. Hulle het sommer net geëet, bloot agter die lekker aan, tot hulle versadig was. En later het hulle maar weer begin eet. Hulle besef nou hulle sal dalk geskok wees as hulle sien hoeveel hulle in werklikheid al geëet het!
“Ons kort ’n … ’n dinges,” sê Trompie.
“’n Watse dinges?” wil Dawie weet.
Trompie se voorkop is geplooi soos hy probeer dink aan die woord wat hy sy pa al hoor gebruik het.
“Jy bedoel julle moet ’n voorraadopname maak,” sê Isabel laggend.
“Ditsem,” sê Trompie. “Dís wat ons kort … ’n Voorraadopname.”
Trompie kyk na sy drie vriende wat nog nie mooi verstaan nie en verduidelik: “Ons moet al ons lekkers tel om te sien hoeveel ons nog van die oorspronklike kapitaal se lekkers oor het.”
Rooie, Blikkies en Dawie lyk glad nie ingenome met die plan nie. Hulle dink terug. Hulle is bevrees hulle het baie lekkers geëet. Hulle het sommer daar in die kafee toe hulle dit gekoop het al begin.
“Ek dink julle gaan ’n onaangename verrassing kry wanneer julle die lekkers tel,” sê Isabel en staan op.
Die vier seuns staar mismoedig voor hulle uit. Hulle is bevrees sy is reg.
“Maar hoe lyk dit?” probeer Trompie haar nog ’n laaste keer oorreed om ’n vennoot in hul besigheid te word. “Wil jy nie aandele in ons snoepie koop nie?”
“Nee, dankie,” sê Isabel beslis en stap vinnig weg. Sy wil duidelik nie hê hulle moet haar ’n guns bewys nie.
Die vier vriende bly moedeloos agter. Hulle kon Isabel nie oorreed om in die snoepie te belê nie en hulle is nou bekommerd dat hulle nie meer veel van hul belegging oor het nie. Hulle het gans te gulsig aan daardie lekkers weggelê.
Uiteindelik sê Trompie: “Ons moet uitvind hoe ons sake staan.”
Die ander stem saam. Hulle loer verwytend na Trompie. Dit is hy wat voorgestel het hulle moet die snoepwinkel begin. Hy is mos kastig ’n wonderlike sakeman met wonderlike idees.
Rooie, Blikkies en Dawie neem Isabel glad nie kwalik dat sy nie aandele in hul besigheid wil koop nie. Soos Rooie sê, hulle drie se oë het nou ook oopgegaan – Trompie is nie ’n sakeman se voet nie.
Waar Trompie natuurlik hopeloos verkeerd was, sê Dawie nou ook sy sê, was toe hy gedink het die kinders sal so lus vir lekkers wees dat hulle nie sal omgee om dubbeld daarvoor te betaal nie. Hulle hét omgegee en hulle hét geweier om dubbeld te betaal.
Blikkies kerm dat hy sy geld liewer op kougom kon uitgegee het. Hy het teen hierdie tyd lankal die paar stukkies kougom in sy tas opgekou.
“Ek weet nie hoekom julle almal so op my pik nie,” sê Trompie vies. “Ons het almal saam in die ding ingegaan – met oop oë.” Hy gluur sy vriende woes aan en wikkel sy sproetneus vinnig op en af om hulle goed te laat verstaan hy is nou lelik omgekrap.
Die drie praat nie. Hulle gee hom net die een vuil kyk ná die ander.
“Ek sê nog steeds ons gaan baie geld maak,” hou Trompie vol en waai ’n vuil wysvinger voor hul gesigte. “Niemand het vandag geld by die skool gehad nie, maar nou weet hulle mos ons snoepwinkel is daar agter die fietsafdakke. Hulle gaan môre geld saambring.”
“Ons hoop maar so,” sê Rooie en sug swaar. Dan groet hy en Trompie en Blikkies vir Dawie en stap mismoedig huis toe. Dawie se plan het nie gewerk nie. Isabel wil niks met die snoepwinkel te doen hê nie.
Hulle gaan nou huis toe om ’n voorraadopname te maak sodat hulle kan sien hoe hul sake staan.