Читать книгу Trompie Omnibus 6 - Topsy Smith - Страница 12

4

Оглавление

Die pop

Die volgende oggend voor skool bespreek die snoepwinkel se vier vennote hul posisie. Hulle het elkeen die lekkers in hul tasse getel en was verras – onaangenaam verras.

Ja-nee, hul sake staan glad nie goed nie. Hulle het baie meer geëet as wat hulle gedink het.

Trompie het die meeste lekkers verslind. Blikkies het die minste geëet, waarskynlik omdat hy meer kougom gekou het en dit langer as ander lekkers hou.

Trompie sien hoe vies sy drie vriende na hom kyk. Hy het hulle nie net in hierdie penarie laat beland nie – hy het boonop ook nog die meeste geëet. Hy sê ter versagting: “Julle moet onthou daai sjokolade wat ons verniet vir die outjie gegee het, was uit my tas.”

Die Boksombende werk nou uit dat hulle amper die helfte van die geld wat hulle bestee het se lekkers opgeëet het.

“Toemaar,” probeer Trompie sy vriende moed inpraat, “julle sal sien – ons gaan vandag goeie besigheid doen.”

“Al verkoop ons ook hoe baie,” sê Dawie wat die slimste onder hulle is, “sal dit nog steeds nie veel help nie.”

“Hoekom nie?” wil Trompie weet.

“Omdat ons omtrent al ons wins klaar opgeëet het.”

Dit is te moeilik vir Trompie, Blikkies en Rooie om uit te pluis of Dawie reg is of nie. Rooie brom en sê al waarin hy nou belangstel, is om sy geld terug te kry. As dit gebeur, het hy mos ’n wins gemaak, want hy het ’n hele hoop lekkers, soos hy dit stel terwyl hy oor sy maag vryf, “huis toe gestuur”.

Trompie, Blikkies en Dawie hoop ook hulle sal darem elkeen hul geld terugkry.

“Toemaar, julle sal vandag sien,” sê Trompie weer toe hulle met hul tasse waarin die lekkers en hul skoolboeke is die pad skool toe vat.

By die skool herinner die Boksombende almal dat daar pouse ’n snoepwinkel agter die fietsafdakke gaan wees. Hulle eet nie weer van die lekkers nie. Hulle moet mos voorraad hê om te verkoop as die kliënte op hulle toesak.

Maar die kliënte sak nie op hulle toe nie. Met eerste pouse daag daar net drie graadagtmeisies by die fietsafdakke op.

Trompie vryf sy hande opgewonde en sy manskappe doen dieselfde.

Die meisies soek op hulle tyd vir hulle lekkers uit. Dan vra die een: “Hoeveel skuld ons julle hiervoor?” Trompie tel die lekkers in hul hande. Hy glimlag vriendelik en sê: “Vyf rand elk.”

“Is jy mal?” vra die een meisie ontsteld. Sy antwoord nie eens toe Trompie vra of hy vir haar lyk soos iemand wat mal is nie. Sy gooi die lekkers terug in die tas, draai om en loop met ’n wipstappie weg terwyl sy oor haar skouer sê: “Vyf rand vir so ’n paar goedkoop lekkertjies? Dis belaglik! Julle is kroeks!”

Haar twee vriendinne volg dadelik haar voorbeeld.

Tweede pouse gebeur daar ’n wonderwerk. ’n Seun kom met een rand daar aan, koop ’n repie drop en is heeltemal bereid om een rand daarvoor te betaal. Hy stry glad nie eens nie.

“Sien julle, ek het julle mos gesê!” Trompie vryf sy hande opgewonde voor hom. “Nou gaan julle ’n ding sien.”

Maar hulle sien nie ’n ding nie. Dit is hul enigste transaksie van die dag. Op pad terug klas toe werk Dawie uit dit sal hulle ses-en-vyftig dae neem om al hul voorraad teen hierdie tempo te verkoop.

Die tweede dag in die lewe van die Boksombende se snoepwinkel was ook nie ’n sukses nie.

Dinge verbeter nie gedurende die volgende paar dae nie. Die vier vriende verkoop absoluut niks. Nou eet hulle maar hul voorraad op, want hulle kan tog niks anders daarmee doen nie.

Trompie-hulle is later al so uitgeëet aan die lekkers dat hulle daarvan vir die kinders in hul klas weggee. Hulle praat gedurig oor hul mislukte besigheid en probeer dink aan planne om die kapitaal wat hulle daarin gesteek het weer terug te kry.

Een middag sit die vier in Rooie se buitekamer met kakebene wat op en af beweeg soos hulle lekkers eet. Daar is mos baie van die goed.

“Ek sál nog aan ’n plan dink om ons geld terug te kry en ’n ontsaglike wins te maak,” belowe Trompie vir die soveelste keer omdat hy voel sy vriende neem hom kwalik dat hulle soveel geld verloor het.

Trompie hou van die woorde “’n ontsaglike wins”. Hy het dit by sy pa gehoor en gebruik dit nou sommer weer.

“Ja-nee, ouens, dis wat ons gaan maak: ’n ontsaglike wins.”

“Wanneer gaan ons dit nogal maak – en waarmee?” wil Dawie weet.

“Dis waaroor ek nou dink,” sê Trompie. Sy voorkop is geplooi en hy stut sy ken op sy vuis, net soos Die Denker in sy pa se studeerkamer.

Trompie loer om te sien of hierdie peinsende houding sy vriende beïndruk, maar dit lyk nie so nie. Hulle sit almal en kou. Rooie probeer sy tone roer sonder dat sy groottone ook beweeg. Dawie kielie Boesman se maag met sy skoenpunt en Blikkies se oë is half toe. As dit nie was dat sy kake so ritmies beweeg het nie, sou ’n mens gesê het hy slaap.

Die spul het ook geen verbeelding of verstand nie, dink Trompie vies. Hulle sit luilekker en ontspan en hy moet ernstig sit en dink.

“Julle moet ook dink,” sê Trompie hard.

“Hoekom?” wil Rooie weet. “Jy’s mos die kastige sakeman.”

“Waaroor moet ons dink?” vra Blikkies wat nou regop kom.

“Dink aan planne – maniere hoe ons al ons geld kan terugkry. Ander maniere waarop ons geld kan maak.”

“Maar waar gaan ons weer geld kry?” vra Rooie. “Ons geld is nou omtrent alles in ons mae.”

Dit is natuurlik ’n probleem. Die seuns se ouers gaan nie vir hulle nog geld gee om mee te spekuleer nie.

“Dalk moet ons ’n ander soort winkel begin,” sê Blikkies.

“Dis waaroor ons nou moet dink en besluit,” brom Trompie. Hy voel hulle praat in sirkels en kom nie verder nie.

“Jy’s mos die sakeman,” sê Rooie smalend. “Dink jy aan iets.” Hy begin sy tone weer wikkel.

“Weet julle wat?” vra Dawie voor Trompie op Rooie kan begin pik.

Almal kyk nou na Dawie. Dit lyk of hy ’n plan het.

“Wat?” vra Trompie.

“Wat wát?” vra Dawie.

“Wat bedoel jy, wat weet ons?” vra Trompie, maar voel dan dit is nie reg nie. “Ek bedoel, wat weet ons nie? Ek bedoel, probeer jy miskien snaaks wees?”

Dawie kyk onskuldig na Trompie. Nee, hy probeer nie snaaks wees nie. Hoekom sal hy dit wil doen? Sy oë vonkel ondeund.

“Nou wat wil jy dan sê?” vra Trompie vererg en wikkel sy sproetneus om te wys hy is nou lelik omgekrap.

“Ek wil sê daar is net een manier om ons geld weer terug te kry.”

“En wat’s dit?” vra Trompie, wat skoon vergeet om sy neus verder te wikkel. Hy stel baie belang, want hy wil mos graag sy geld terugkry. Rooie en Blikkies stel ook belang – hulle wil ook graag hul geld terughê.

“Die enigste manier,” sê Dawie ernstig, “is om te werk. ’n Mens kan net geld verdien as jy werk. As ons daai geld wil terughê, moet ons werk. Dis al genade.”

Trompie, Rooie en Blikkies kyk met suur gesigte na Dawie. Sy gesig is net so suur soos hulle s’n. Hy hou self ook nie van sy voorstel nie.

“Te oordeel na julle gesigte is julle nie mal oor my voorstel nie,” sê Dawie.

“Dis tog ’n belaglike voorstel,” brom Rooie. Trompie en Blikkies maak dit duidelik dat hulle volkome met hom saamstem.

“Onthou net, ’n sakeman werk nie eintlik self nie,” sê Trompie. “Hy laat ander mense vir hom werk.”

“Dis nonsens,” sê Dawie, “maar laat ons nie nou daaroor stry nie. Ek hou ook nie van my voorstel nie. Ons werk hard genoeg by die skool.”

Dit is weer stil in die kamer behalwe vir die geluid van kouende kake. Die Boksombende maak of hulle sit en dink aan maniere om sonder kapitaal ’n wins te maak sodat elkeen sy geld kan terugkry. Maar in die werklikheid wonder elkeen waaraan die ander drie dink.

Later dink hulle ook nie eens meer hieroor nie. Hulle sit sommer net.

Nog ’n rukkie later gaan hulle huis toe met groot beloftes om vanaand ook ernstig oor hierdie probleem na te dink.

Dié aand is Trompie pootuit van al die dink. Hy het die hele middag hard probeer om aan ’n plan te dink, maar kon met niks vorendag kom nie. Hy het nie vanaand die krag om nog verder te dink nie. Hy sal maar wag tot daar iets gebeur wat hom ’n idee gee.

Die volgende oggend gebeur daar iets in die skool wat die Boksombende dalk net kan help om baie geld te maak.

Katrien Gerritse, die meisie wat langs Trompie-hulle woon, sit in die ry langs hom – net ’n entjie voor Trompie.

Hulle het nou Afrikaans by meneer Claassen. Hy is ’n finalejaarstudent aan die universiteit en het net vir ’n maand kom aflos terwyl meneer Dykman van sy groot hartoperasie herstel.

Die kinders het die onervare aspirantonderwyser sommer die eerste dag al Klasie-Kasie gedoop. Later het hulle dit verkort tot net Ou Kasie. Die feit dat die jong man nog sukkel om dissipline te handhaaf, laat die kinders ekstra baie van hom hou. Hulle het altyd baie pret in Ou Kasie se klas.

Vandag moet die leerders ’n lang paragraaf op die bord netjies in hul boeke oorskryf. Dan moet hulle al die werkwoorde, selfstandige naamwoorde, voornaamwoorde en ander woordsoorte in aparte kolomme daaronder neerskryf.

Trompie verstaan nie veel van sinsontleding nie, maar hy is sommer gou klaar. Hy het elke woordsoort se naam boaan ’n kolom geskryf en die woorde toe sommer by enige kolom ingevul. Soos hy vir Rooie sê – hy gaan baie per toeval verkeerd hê, maar baie gaan ook per toeval reg wees.

Trompie is nou verveeld. Hy sit en rondkyk. Hy wonder wat hy kan doen.

Dan kyk hy na Katrien in die ry langs hom. Sy was eens op ’n tyd sy meisie. Hulle het die oggend begin uitgaan en daardie selfde middag het hy haar afgesê. Of het sy hom afgesê? Trompie kan nou nie meer onthou nie en dit maak ook nie saak nie.

Katrien was eenkeer ook ’n halwe lid van die Boksombende. Sy moes hulle betaal vir hierdie voorreg, en die seuns het vir hulle lekkers met haar geld gekoop. Trompie dink nou daaraan dat Katrien nog steeds ’n halwe lid van die Boksombende is – in teorie altans.

Dan sien hy iets op die bank langs Katrien. Dit lyk soos ’n bondeltjie klere. Trompie leun effens vorentoe om beter te kan sien en kom agter dit is ’n pop.

Hy het die pop al by Katrien se huis gesien. Hy frons. Hy wonder hoekom Katrien die pop skool toe gebring het? Is sy nie ’n bietjie oud om met poppe te speel nie? Sy het dit seker skool toe gebring om vir een van die ander meisies te wys. Dit is ’n baie mooi pop wat “Mamma!” sê as jy dit op die maag druk. Dalk wil sy ’n mondeling of iets oor die pop doen.

Trompie begin skielik glimlag. Dit behoort pret te wees. Ou Kasie is skrikkerig om te kwaai met hulle te wees. Hy sal maar net saam lag en ook die grap geniet.

Trompie wonder of hy Katrien moet vra of hy die pop kan leen. Maar sê nou sy sê nee? Dan sal sy die pop aan haar ander kant neersit – buite sy bereik. Hy besluit om haar liewer nie te vra nie.

Ou Kasie sit by die tafel en sien opstelle na. Die klas is vandag nogal besonder stil, seker omdat almal so besig is om die woorde in die (hopelik) regte kolomme neer te skryf.

Trompie skuif versigtig uit sy bank totdat hy soos ’n vink oor die paadjie tussen die twee rye banke hang. Hy steek sy hande stadig na die pop toe uit. Hy wil dit suutjies vat sonder dat Katrien iets agterkom.

Toe sy hande ’n paar sentimeter van die pop af is, kyk Trompie op om te sien of alles nog reg is en of die onderwyser nog met sy nasienwerk besig is.

Trompie skrik hom boeglam toe hy sien hoe Ou Kasie hom aandagtig sit en dophou. Hy laat sak sy hande vinnig en val terug in sy bank.

“Hê-hê …” gee Trompie ’n verleë laggie.

“Wat vang jy aan?” vra die jong onderwyser.

“Ek doen maar net ’n paar oefeninge, Meneer weet,” antwoord Trompie en wikkel sy skouers. “Mens word styf van so lank sit.”

“Gaan liewer aan met jou werk,” sê die onderwyser. “Dis netnou pouse. Dan kan jy oefeninge doen.”

“Ja, Meneer,” sê Trompie gedwee. Hy maak of hy weer met sy werk besig is, maar hy sit en dink hoe hy die pop in die hande kan kry sonder dat Katrien dit agterkom.

Dit is stil in die klas. Almal is nog steeds besig met die woordsoorte. Trompie kry ’n idee. Hy frommel ’n stukkie papier in sy hand op en stap tot by die snippermandjie voor in die klas. Hy gooi die papier daarin en kyk vlugtig rond. Niemand neem notisie van hom nie. Almal is verdiep in hul werk – die onderwyser ook.

Trompie stap kastig ongeërg terug na sy bank toe, maar sy hart klop wild. Hy moet vinnig gryp – en seker maak hy gryp die pop nie aan die maag nie, want dit sal alles bederf as die ding nou al “Mamma!” skree.

Toe Trompie by Katrien kom, skiet sy regterhand uit en gryp die pop aan die arm. Hy gee twee vinnige treë tot by sy bank en gaan sit. Dit gebeur alles so vinnig dat Katrien niks agterkom nie. Trompie prop die pop onder sy bank in.

Hy sit nou met ’n onskuldige gesig en rondkyk. Niemand het gesien hoe gaps hy die pop nie. Almal sit nog steeds en werk.

Trompie besluit dit is tyd dat die pret begin.

Hy fluister vir Rooie wat langs hom sit van sy plan en draai dan om en doen dieselfde met Dawie en Blikkies agter hom.

Dit is stil in die klas. Trompie steek sy hande onder sy bank in en voel-voel na die pop. Sy duime rus op die pop se maag. Dan druk hy hard.

“Mamma!” kom die helder stemmetjie. Almal kyk op. Die onderwyser frons.

“Wat op aarde was dit?” vra hy.

“Dit het geklink soos ’n babatjie wat huil en sy ma roep,” antwoord ’n seun voor in die klas.

“Maar hier kan tog nie ’n baba in die klas wees nie,” sê die onderwyser fronsend. Hy besef nie dit is ’n pop nie. Ou Kasie kyk na Trompie. Dit het vir hom geklink of die geluid van daardie kant af kom.

Trompie kyk met ’n vroom gesig voor hom uit. Dit lyk of botter nie in sy mond sal smelt nie. Rooie staar ook sedig voor hom uit.

Katrien giggel. Sy besef wat gebeur het. Trompie moes haar pop gegryp het.

“Stil, Katrien!” beveel die studentonderwyser. “Gaan aan met julle werk – almal van julle.”

Die kinders maak so – altans hulle maak of hulle daarmee voortgaan.

Die onderwyser sit fronsend en wonder. Die universiteit het hom nog nie geleer wat om te doen as ’n baba in die klas na sy ma roep nie.

Maar dit kan tog nie ’n regte baba wees nie? Ou Kasie dink nou aan allerhande verklarings vir die geluid wat hy so duidelik gehoor het, maar glad nie aan die moontlikheid van ’n pop nie. Hy vermoed dit is seker maar iemand wat ’n grap probeer maak het. Hy besluit om die voorval te vergeet en met sy werk aan te gaan.

Trompie het vir sy vriende gefluister sy plan is om die pop na iemand anders toe aan te gee sodat die geluid nie weer uit dieselfde rigting kom nie. Die nuus versprei soos ’n veldbrand deur die klas en dit is nie lank nie of almal weet wat aangaan.

Die pop trek vinnig met die rye af en is nou by ’n seun heel agter in die klas. Hy druk hard op die pop se maag.

“Mamma!”

Die seun het so hard gedruk dat die stemmetjie hierdie keer baie skriller is.

“Wat op aarde is dit?” Die studentonderwyser kyk verbaas oor sy bril na die klas. Hulle lyk net so verbaas soos hy.

“Dis ’n babatjie wat sy mamma roep, Meneer,” antwoord ’n meisie.

“Ja, maar waar’s die baba? En wat doen hy hier?”

Die giggelende kinders het nie antwoorde op sy vrae nie. Terwyl hulle kastig ook hardop wonder waar die baba kan wees, word die pop vinnig onder die banke aangegee na ’n seun in die ander hoek van die klas.

Hy druk die pop en almal hoor weer: “Mamma!” Dan trek die pop na ’n ander deel van die klas en die roepende stemmetjie kom hierdie keer daarvandaan.

Die onderwyser is totaal verward. Wie van die leerders is so ’n goeie buikspreker? Hy is oortuig dit is een van hulle wat elke keer so “Mamma!” roep.

Ou Kasie wil by die klas weet wie die skuldige is, maar hulle hou hulle dom. Niemand verklap die geheim nie. Almal lag terwyl die klaende “Mamma!” elke keer uit ’n ander deel van die klas opklink.

Die studentonderwyser spring op en hardloop nou in die klas rond om die geluid te probeer vaspen, maar tevergeefs. Die kinders skater soos hulle lag. Ou Kasie weet nou dit is ’n gekskeerdery, maar in plaas daarvan dat hy streng optree, probeer hy uitvind wie vir die geroep verantwoordelik is.

Die pret is op sy hoogtepunt en die pop het net weer by Trompie uitgekom toe die deur skielik oopgaan. Dit is die skoolhoof!

Die kinders wat die hoof sien, is dadelik tjoepstil. Maar al die ander lag en skree vir Ou Kasie: “Waar’s die baba nou, Meneer?”

Die onderwyser sien nie die hoof in die deur nie.

“Ek sal daai ding kry!” sê hy vasberade en vee die hare wat oor sy voorkop hang met sy hand weg. Hy loop nou suutjies op sy tone na die plek waar die geskree die laaste keer gehoor is.

Die hele klas het die hoof nou al in die deur sien staan, maar nie die jong onderwyser nie.

“Dis reg, ja,” sê Ou Kasie vir die klas, “sit doodstil. Ek gaan daai dekselse ding nou kry!”

“Meneer,” sê ’n meisie met ’n hees stem toe die onderwyser langs haar is.

“Hè?” Die onderwyser gluur die meisie kwaai aan. Hy wil nie nou gesteur word nie.

Die meisie wys bang met haar oë na die deur toe. Ou Kasie volg haar blik en dan sien hy die hoof eers! Hy glimlag verbouereerd terwyl hy sy hare regstoot en sy das regtrek.

“Goeiemôre, Doktor,” groet hy die hoof.

Die hoof wys die studentonderwyser liewer nie daarop dat hy vanoggend voor skool al vir hom môre gesê het nie.

“Wat gaan hier aan, meneer Claassen?” vra die skoolhoof en stap by die klas in. Die kinders lyk nou so soet en onskuldig soos engeltjies. Trompie sit met die pop op sy skoot. Hy hou sy oë stip op die hoof gerig en skuif die pop onder sy bank in terwyl hy seker maak hy raak nie aan die maag nie. Dit sal vreeslik wees as die ding nou “Mamma!” moet skree.

“Doktor, hier is ’n babatjie wat ‘Mamma!’ skree,” sê die student verbouereerd.

“’n Wat wat wát skree?” Die hoof se ruie wenkbroue is vraagtekens.

“’n Babatjie wat ‘Mamma!’ skree, Doktor. Ek bedoel nie ’n regte babatjie nie, maar iets of iemand wat …”

“Watse onsin is dit?” vra die hoof fronsend.

“Julle het almal die geskree gehoor, nè?” pleit Ou Kasie by die klas. Ja-nee, knik almal, hulle het dit gehoor. Die leerders is dik van die lag, maar hulle sal dit nie waag om hardop te lag nie. Die hoof is dan hier!

“Nou wat dink jy is dit wat so ‘Mamma’ roep?” vra die hoof vir die jongman en daar speel ’n glimlag om sy mondhoeke.

“Nee, Doktor, dit slaan my dronk,” antwoord Ou Kasie en krap sy kop. “Dis die een oomblik hier en dan is dit daar.” Die arme jongman swaai sy arms soos hy beduie hoe die “Mamma!” uit alle rigtings van die klas gekom het.

’n Paar kinders begin lag.

“Stilte!” sê die hoof streng. Die klas is tjoepstil.

Trompie het nie gelag nie. Hy is te bang. Sê nou die hoof ontdek die pop onder sy bank? Dan is hy mos so goed soos dood.

“Het jy al gedink aan die moontlikheid dat dit ’n pop kan wees wat so skree?” vra die hoof vir Ou Kasie.

Die studentonderwyser se mond val oop van verbasing.

“Nee, Doktor,” sê hy, “ek het glad nie daaraan gedink nie.” Dan draai die sagmoedige Ou Kasie, wat nie ’n benul het hoe om dissipline te handhaaf nie, na die klas toe en sê bars om die hoof te beïndruk: “Dis ’n pop, nè! Dís wat dit was!”

Die jongman gluur oor sy bril en sis: “Die een wat dit gedoen het – staan op!” Niemand staan op nie. Hulle weet mos nie wie moet opstaan nie – dié wat die pop gedruk het of dié wat die pop hanteer het of die een aan wie die pop behoort of die een by wie die pop nou op die oomblik is nie.

Trompie se hart klop al hoe wilder. Hy kyk met ’n onskuldige gesig in die klas rond om kastig te sien of iemand gaan opstaan. Almal lyk ewe onskuldig en kyk ewe ernstig rond. Niemand waag dit om op te staan nie.

“Ek sê, staan op!” bulder die studentonderwyser weer, maar hy kry nog steeds geen reaksie nie.

“Wag, meneer Claassen,” sê die hoof. “Ek sal met hulle praat.”

Die kinders se oë word al hoe groter.

“Het julle almal die geroep gehoor?” vra die skoolhoof.

“Ja, Doktor,” antwoord die klas soos een man.

“Was dit ’n pop wat die geluid gemaak het?”

Die leerders loer vinnig na mekaar. Dit klink nie juis soos ’n strikvraag nie en dit help mos ook nie hulle ontken dit nie.

“Ja, Doktor,” sê almal weer tegelyk.

Dan kom die vraag waarvoor Trompie bang was.

“Waar is die pop nou?” wil die hoof weet.

’n Hele paar kinders kyk reguit na Trompie. Ander weet nie waar die pop beland het toe die hoof sy verskyning in die deur gemaak het nie en hulle kyk oral in die klas rond.

Trompie is bleek. Hy kyk stip na sy ingeduikte skoenpunt asof dit iets te doen het met die moeilikheid waarin hy nou weer beland het. Hy voel hoe almal se oë nou op hom gerig is. Hy sug swaar en staan stadig op.

“Die pop is hier, Doktor,” sê Trompie.

“Waar?”

“Hier onder my bank, Doktor.”

“Nou haal die ding uit!”

“Ja, Doktor.” Trompie sug weer. Hy is al weer in die moeilikheid – sonder dat hy juis iets verkeerds gedoen het.

Trompie Omnibus 6

Подняться наверх