Читать книгу Trompie Omnibus 6 - Topsy Smith - Страница 14
5
ОглавлениеDie nuwe plan
Trompie buk en haal die pop onder sy bank uit. Die klas giggel. Hy kyk verbaas na die pop asof hy nie kan verstaan hoe die ding hier onder sy bank gekom het nie.
“Bring dit hier,” beveel die hoof.
“Reg, Doktor.” Trompie stap vorentoe. Hy hou die pop versigtig vas. Hy wil tog nie hê die ding moet nou weer “Mamma!” skree nie.
Trompie hou die pop aan die arm uit. Die hoof vat dit en sy groot hand beland op die pop se maag.
“Mamma!” gil die pop skril. Die hoof skrik so groot dat hy onwillekeurig uitroep: “Hiert! Jou vabond!”
Die klas skater soos hulle lag.
“Stilte!” kom die hoof se streng stem. Die kinders is tjoepstil.
Die hoof hou die pop nou versigtig aan die arm vas. Daar plooi ’n glimlag om sy mondhoeke. Hy het nie gedink ’n mens kan so vir ’n pop skrik nie.
“Is dit jou pop, Trompie?” vra hy.
“Nee, Doktor!” Trompie is verontwaardig – veral toe hy hoor hoe die seuns almal proes van die lag.
“Wie s’n is dit dan?”
Katrien staan op.
“Dis myne, Doktor.”
“Hoekom bring jy jou pop skool toe?”
“Ek wou dit vir my vriendinne gewys het, Doktor.”
“Jy los dit in die vervolg by die huis, verstaan?”
“Ja, Doktor. Jammer, Doktor.” Katrien se stem is skor. Sy het nie gedink daar gaan vandag sulke moeilikheid met haar pop wees nie.
“Wie het die pop by Katrien gevat en eerste die ding se maag gedruk? Staan op en kom vorentoe!”
Trompie staan reeds by die hoof. Hy hoef nie op te staan en vorentoe te kom nie. Hy kug.
Die hoof kyk vraend na hom.
“Dit was ek, Doktor,” sê Trompie gedwee.
“Met ander woorde die pop het by jou begin en ook by jou geëindig?”
“Ja, Doktor.” Trompie trek sy skouers op en voeg by: “Maar dit was net toevallig, Doktor weet, blote toeval.”
Die hoof kyk peinsend na Trompie. Hoe moet hy die seun straf? Daar speel weer ’n glimlag om die hoof se mondhoeke. Hy geniet die petalje al hoe meer. Hy dink daaraan dat al het Trompie hiermee begin, het feitlik die hele klas die pop gehanteer – deur dit vir iemand anders aan te gee of deur dit te druk sodat dit “Mamma!” sê.
Die Boksombende se Grootkaptein staan met ’n soet uitdrukking op sy sproetgesig voor die klas. Sy hart klop vinnig. Hy hoop nie die hoof gaan vir hom detensie of uitskryfwerk gee nie – of erger nog, ’n loesing. Die skoolhoof gee selde lyfstraf – maar wanneer hy die lat gebruik, speel hy nie. Hy slaan deksels hard.
“Dit was slegte maniere om meneer Claassen so agter die geluid te laat aanhardloop,” sê die hoof. “Julle behoort hom om verskoning te vra.”
“Ekskuus, Meneer,” sê ’n paar leerders tegelyk en dan vra die hele klas om verskoning. Trompie se stem is die hardste van almal. Hy wil hê die hoof moet hom duidelik hoor. Dit sal miskien ter versagting dien wanneer dit by sy straf kom. Hy bewys mos nou hy is jammer oor wat hy gedoen het.
“Alles in die haak,” sê die goeie, gawe studentonderwyser vir die klas. “Ek aanvaar julle verskoning.”
Trompie sit ’n patetiese uitdrukking op sy gesig en kyk hoopvol na die hoof. Die onderwyser het hul verskoning aanvaar. Kan ’n mens nie nou maar net van die hele storie vergeet nie?
“Aangesien meneer Claassen julle verskoning aanvaar het,” sê die hoof uiteindelik, “sal ek julle hierdie keer nie straf nie.”
Daar is ’n duidelike sug van verligting.
“Vir my ook nie, Doktor?” vra Trompie net om doodseker te maak. “Word ek ook nie gestraf nie?”
“Nee, maar begaan net weer ’n oortreding!”
“Nooit weer nie, Doktor!” sê Trompie vinnig. Hy is nou so verlig dat hy enigiets onder die son sal belowe.
“Gaan sit.”
“Ja, Doktor … Dankie, Doktor.” Trompie sorg dat hy vinnig terug by sy bank kom.
Die hoof loop na Katrien toe. “Hier is jou pop – en jy bring dit nie weer skool toe nie.”
“Nee, Doktor.”
Katrien vat die pop, maar sy raak per ongeluk aan die maag en daar klink nog ’n “Mamma!” op.
“Ekskuus, Doktor,” sê Katrien vinnig.
“Ek dink dit sal beter wees as jy die pop liewer in jou tas sit. Ons het nou genoeg van daardie ‘Mamma!’ gehoor.”
“Ja, Doktor.”
Katrien sit die pop versigtig in haar tas sonder om weer aan die maag te raak.
Pouse gesels en lag die kinders heerlik oor die petalje in die klas.
Trompie, Rooie, Blikkies en Dawie is weer met hul tasse by die fietsafdakke. Hulle het nog lekkers wat hulle probeer verkoop. Niemand kom naby hulle nie, maar dit maak nie saak nie. Soos Trompie sê, indien iemand kom, dan is die winkel mos oop.
Hulle het nog omtrent niks lekkers verkoop nie en hulle het omtrent ook niks voorraad oor nie. Hulle het die meeste van die lekkers opgeëet.
“Julle weet,” sê Trompie terwyl hulle langs die oop tasse sit en eet, “dié ding met die pop laat my aan iets dink, maar ek kan nie dink wat dit is nie.”
“Dis belaglik,” sê Dawie. “Jy dink aan iets, maar jy weet nie wat nie.”
“Dit het iets te doen met die pop en met ons plan om ons geld terug te kry, maar ek kan net nie dink wat dit is nie.”
Rooie, Blikkies en Dawie dink nou ook. Hulle kan nie dink watter verband is daar tussen die voorval met die pop en die geld wat hulle feitlik alles verloor het nie.
Trompie kan ook nie die verband raaksien nie. Hy sê dit is asof daar iets agter in sy brein is wat nie vorentoe wil kom nie, maar as dit eers in plek val, sal dit so kliek! maak en dan sal hy weet wat dit is.
Die drie het nie die vaagste benul wat hy bedoel nie. Hy kan ook nie verduidelik nie, want hy verstaan dit self nie. Die hele affêre word vergeet toe Rooie kort en kragtig verklaar dat Trompie sommer nonsens praat.
Die Boksombende verkoop die dag by die skool weer niks lekkers nie. Hulle probeer nou ook nie eintlik meer nie. Hulle gaan maar net elke pouse by die fietsafdakke sit – ingeval daar ’n koper kom – tot hulle die lekkers alles opgeëet het.
Ná ete die aand sit-lê Trompie op sy bed. Hy is verveeld en wonder wat hy kan doen. Hulle het nie vandag huiswerk gekry nie en dis nog te vroeg om te slaap – of is dit? Hy gaap en kyk vinnig in die spieël om te sien hoe hy lyk wanneer hy gaap. Hy is net te laat. Hy wens hy kan weer gaap.
Trompie staar nou belangstellend na homself in die spieël. Hy draai sy kop effens om te sien hoe sy profiel lyk. Hy draai sy oë in hul kasse, maar kan homself nie behoorlik sien as hy sy kop nie ook spieël toe draai nie.
Nou kyk Trompie reguit in die spieël. Hy glimlag. Rooie, Blikkies en Dawie sou eerder sê hy trek skewebek, maar dit is hoe Trompie glimlag. Hy hou van sy glimlag. Ja-nee, dis nou maar wors – hy is ’n aantreklike ou.
Terwyl Trompie so na homself in die spieël kyk, skiet iets hom te binne. “Wag!” sê hy hardop vir homself. “Laat ek dink.”
Hy dink hard, so hard dat hy sy beeld glad nie meer in die spieël sien nie, al kyk hy ook na homself.
Die iets wat agter in sy brein was en nie vorentoe wou kom nie, het so pas in plek geval!
“Kliek!” sê hy en glimlag van oor tot oor. “Ek het dit!”
Vanoggend in die klas toe hulle soveel pret met die pop gehad het, het hy vaagweg aan iets gedink, maar hy kon nie uitwerk presies waaraan hy dink nie.
Nou weet hy egter. ’n Mens kan geld maak as jy iets soos daardie pop het – iets waarmee mense baie pret kan hê. Hy het al iewers van so iets gelees.
Alles word nou skielik duidelik. Toe Trompie so na homself in die spieël gestaar het en gedink het hoe aantreklik hy is en dat hy die perfekte gesig vir tandepasta-advertensies het, het dit hom skielik te binne geskiet.
Hy het ’n advertensie in ’n tydskrif gesien van ’n winkel wat allerhande goed verkoop waarmee ’n mens kan droogmaak en vir ander ouens poetse kan bak. Vanoggend se storie met die pop het hom vaagweg aan die advertensie herinner. Die verband was dat ’n mens met dié goed ook soveel pret kan hê.
En – dink hy ernstig, want hy is nou weer Trompie die sakeman – vir iets waarmee ’n ou soveel pret kan hê, sal ’n ou mos bereid wees om te betaal; sommer baie pitte, soos Rooie dit sou noem.
“Laat ek sien,” dink Trompie hardop en kry sy gedagtes mooi agtermekaar. “Ons koop van daai poetse, dan demonstreer ons dit vir die ouens hier in Kwaggaberg en verkoop dit teen dubbeld die prys!”
Trompie se hele gesig straal. Hy voel hy het nou die perfekte plan om nie net die geld wat hulle verloor het terug te kry nie, maar om ook ’n stewige wins te maak. Hy en sy vriende gaan nou sowaar ryk word!
Skielik tref dit hom dat die tydskrif waarin hy die advertensie gesien het nie meer hier in sy kamer is nie.
“Ma!” skree Trompie benoud. Hy is soos ’n warrelwind by die deur uit en hardloop sitkamer toe.
“Wat makeer?” vra sy ma verbaas.
“Ma, waar is daai tydskrif wat langs my bed gelê het?”
“Hoekom?” vra sy ma.
“Ek móét dit kry, Ma!” sê Trompie en voeg ernstig by: “Dis ’n saak van lewe en dood.”
Mevrou Toerien kan nie help om te glimlag nie. Haar seun kan tog so lekker oordryf.
“Waar’s daai tydskrif, Ma?” vra Trompie weer dringend.
“Gaan kyk op die rusbank in jou pa se studeerkamer.”
Trompie skiet soos blits by die vertrek uit en mik studeerkamer toe. Sy pa het werk huis toe gebring en sit nou verdiep daarin agter sy lessenaar.
Trompie glip vinnig by die deur in. Sy oog val sommer dadelik op die tydskrif. Hy raap dit op terwyl hy “Hallo, Pa … Tot siens, Pa!” sê en weer by die deur uitskiet.
Meneer Toerien kyk stadig op na die deur.
“Hè?” vra hy.
Die deur is reeds toe. Dan trek hy sy skouers op en sê droogweg: “Dit is Trompie … dit wás Trompie.” Hy gaan aan met sy werk.
In die sitkamer blaai Trompie deur die tydskrif en kom op die advertensie af. Hy lees dit gretig. Die winkel spesialiseer in allerhande toestelle en dinge waarmee ’n mens iemand ’n poets kan bak. Daar is ’n hele lys van goed wat die plek verkoop.
Trompie is in sy noppies. Die Boksombende gaan nou nie net geld maak nie – hulle gaan ook baie pret hê. Die advertensie gee die verskillende artikels se pryse en dit is glad nie so duur nie. Trompie voel hy en sy vriende moet saam oor die fyner besonderhede besluit – oor hoe hulle kapitaal in die hande gaan kry, wat hulle gaan koop, en waar en teen hoeveel hulle die artikels gaan verkoop.
Trompie bel eers vir Rooie.
Sy vriend tel op en sê: “Hè?”
“Ons finansies is gered!” sê Trompie opgewonde.
“Hè?” Dit klink of Rooie half aan die slaap is.
“Ek sê ons finansies is gered!”
“O,” grom Rooie net – en ná ’n paar sekondes vra hy: “Wat?”
“Wat wát?” vra Trompie vies. Rooie klink nog meer onnosel as gewoonlik.
“Wat het jy nou net gesê van … finansies?”
“Ek het gesê ons finansies is gered!”
“O, ek dag dis wat jy sê. So, wat beteken dit? Het ons nou geld?”
“Nee, nog nie,” lag Trompie, “maar ons gaan hê … Kry my ’n halfuur voor skool by die boomstomp – dan vertel ek jou alles!” Trompie sit die foon neer. Hy het nie nou tyd om sy planne vir iemand wat deur die slaap is te verduidelik nie.
Trompie bel vir Dawie en Blikkies ook oor hul finansies wat nou gered is. Dawie wil weet hoe dit gered is en Trompie sê hulle moet ’n halfuur voor skool by die ou boomstomp bymekaarkom.
Blikkies mompel hy is bly hulle gaan hul geld terugkry, want dit is seker wat Trompie bedoel. Maar hy wil weet presies hoe hulle dit gaan doen. Trompie sê iets in sy brein het skielik kliek! gemaak en hy het nou ’n fantastiese plan. Blikkies moet môre ’n halfuur voor skool by die ou boomstomp wees.
Die volgende oggend is Trompie vroeg op. Net ná ontbyt is hy met ’n vinnige “Tot siens, Ma. Tot siens, Pa,” by die huis uit. Hy jaag op sy rooi fiets na die ou boomstomp op die sypaadjie waar hy en sy vriende mekaar altyd ontmoet sodat hulle saam skool toe kan ry.
Naby die hoek waar die boomstomp lê, fluit Trompie die Boksombende se sein – ’n hoë noot afgewissel met ’n lae een. Sy drie vriende is al daar en fluit op dieselfde manier terug.
Trompie jaag na hulle toe.
“Haai!” sê hy opgewonde. “Groot nuus, ouens.”
Die drie lyk glad nie opgewonde nie. Hulle wonder wat broei nou weer in Trompie se kop. Wat dit ook al is – dit gaan hulle geld kos, geld wat hulle waarskynlik sal verloor soos met hul eerste besigheid.
Trompie sou graag vir hulle op ’n amptelike vergadering van sy plan wou sê, maar daar is nie nou tyd vir ’n spul prosedures en goed nie. Hy moet sy sê vinnig sê en sy plan met hulle bespreek, anders is hulle laat vir skool.
Trompie verduidelik hoe hy geweet het die pop wat so in die klas skree, laat hom aan iets dink – hy kon net nie dink waaraan nie. Maar gisteraand het hy skielik onthou dit was ’n advertensie in ’n tydskrif.
Nou vertel Trompie van die advertensie en al die goed wat ’n mens kan koop om mee pret te hê en mense poetse mee te bak.
“Enigiemand,” sê hy, “wat dié goed sien, sal dit wil koop.”
Trompie se plan is nou dat hulle ’n klomp van die “poetsgoeters” moet bestel en dit dan teen dubbeld die koopprys aan die kinders hier in Kwaggaberg van die hand sit.
Rooie, Blikkies en Dawie trek suur gesigte toe hulle die woord “dubbeld” hoor. Dit is wat hul snoepwinkel laat misluk het. Die ouens het geweier om dubbeld die gewone prys vir die lekkers te betaal.
“Hoekom dink jy,” vra Dawie, “sal hulle vir dié goed dubbeld soveel as ons betaal as hulle dit nie met die lekkers wou doen nie?”
“Ek het vir daai vraag gewag,” sê Trompie en vryf sy hande in sy skik in die lug. Hy is nou weer ’n sakeman. “Julle moet onthou, die kinders weet almal wat die lekkers se pryse is, want hulle kom mos baie daar in die kafee. Maar hulle ken nie die poetsgoeters nie. Hulle het nie ’n benul wat dit kos nie. En ek sê vir julle, hulle gaan mal daaroor wees as hulle sien hoeveel nonsens ’n ou daarmee kan aanjaag.”
Rooie, Blikkies en Dawie begin nou effens opgewonde raak. Dit is waar wat Trompie sê. Sulke poetsartikels is iets ongewoons. Niemand sal weet wat dit kos nie. Hulle vier kan hul eie pryse daarvoor vra en boonop self ’n baie lekker tyd daarmee hê.
“Dit klink goed, Trompie,” sê Rooie, “maar sê bietjie vir my …”
“Ja, Rooie?” Trompie skep die indruk dat hy die probleem behoorlik uitgepluis het en vrae verwelkom. “Vra maar net wat jy wil.”
“Sê vir my,” begin Rooie weer, “waar … waar kry ons geld vir so iets?”
Ja-nee, dit is natuurlik die groot vraag. Waar gaan hulle geld kry?
Dawie en Rooie sê hulle wil ook graag ’n antwoord op dié vraag hê.
“Ek dink nog daaroor,” sê Trompie vies omdat hulle hom met sulke lastige vrae pla. Hy staar ingedagte na sy ingeduikte skoenpunt. Dan sê hy: “Hoeveel lekkers het ons altesaam oor?”
Die vier kyk gou in hul tasse en tel die lekkers.
“Dis darem snaaks,” sê Rooie, “hoe vinnig sulke goed in ’n ou se maag verdwyn.”
“Kom ons verkoop die orige lekkers vandag teen die regte pryse – teen wat dit in die kafee kos,” stel Trompie voor. “Dan sal ons kapitaal hê om die poetsgoeters mee te bestel.”
Dawie dink dit gaan nie naastenby genoeg wees nie en Trompie stel voor hulle vra hul ma’s en pa’s om vir hulle nog van die geld wat hulle met die fliek verdien het, te gee.
Dawie sê sy ouers sal weier, want hulle voel hy het al heeltemal te veel van die geld wat hy gekry het, uitgemors. Blikkies en Rooie sê hul ouers voel dieselfde oor die saak en Trompie weet sy pa en ma ook.
Maar hy gaan nogtans met sy pa praat. Meneer Toerien is mos ’n bankbestuurder. Hy is veronderstel om mense wat ’n besigheid wil begin, te help! Hy moet vir hulle die kapitaal leen.
“Ons gaan my pa vanmiddag sien,” sê Trompie beslis. “Daar by die bank. Ons gaan hom vra om vir ons geld voor te skiet.”
Rooie, Blikkies en Dawie gee nie om nie, solank Trompie net voor loop en naaste aan die lessenaar staan – ingeval sy pa hom vies en sommer ’n paar klappe begin uitdeel.
Trompie verduidelik hulle kan die poetsapparate volgens die advertensie per pos bestel en as sy pa hulle help, dan pos hulle die bestelling sommer vandag al sodat hulle binne ’n paar dae kan begin besigheid doen.
“Dis te sê ás jou pa vir ons geld leen,” sê Dawie.
By die skool vertel die Boksombende die oggend vir almal van die snaakse “grapgoeters” wat hulle oor ’n paar dae gaan begin verkoop. Die kinders moet solank geld daarvoor spaar.
Trompie-hulle vertel ook vir almal hulle het besluit om die lekkers wat hulle nog oor het teen die gewone pryse te verkoop. Drop sal vandag net vyftig sent kos, presies soos by oom Stavrinos – en die kinders moet natuurlik onthou die Boksombende se lekkers is baie lekkerder en varser as die kafee s’n!
Noudat die lekkers die gewone prys kos, staan die kinders met pouse eintlik tou om te koop. Die vier seuns verkoop hul voorraad sommer gou uit.
“Ons maak nou natuurlik nie ’n wins nie,” brom Trompie toe hulle hul tasse toemaak, maar hy en sy vriende is bly dit is die einde van die snoepwinkel. Hulle is al moeg om die groot tasse skool toe te karwei en buitendien is hulle uitgeëet aan lekkers.
Nou het hulle darem ’n paar rand oor om hul volgende besigheid te begin – as die bankbestuurder hulle genadig is en ’n ietsie sal bylas.
Rooie, Blikkies en Dawie voel Trompie die sakeman het nou ’n beter plan beet as die een met die snoepwinkel.
Dié middag ry die vier bank toe. Hulle gaan Trompie se pa in sy amptelike hoedanigheid spreek. ’n Bank is mos ’n plek waar daar geld is en hulle het geld nodig om hul nuwe besigheid op die been te kry.
Trompie stap voor met Dawie, Blikkies en Rooie ’n paar treë agter hom. Die Grootkaptein se pet sit windmakerig skeef op sy kop, sy kouse lê op sy skoene en sy hemp hang agter by sy broek uit.
Die seuns het ná skool eers gou huis toe gegaan en Rooie het sy skoene uitgetrek. Hy voel hy kan maar kaalvoet wees vir die onderhoud met die bankbestuurder. Hy sal so ’n entjie agter Trompie staan. Trompie gaan mos die praatwerk doen.
Blikkies se kakebene beweeg ritmies op en af. Hy kou die laaste stukkie kougom wat tussen die orige lekkers was.
Dawie is netjies uitgevat. Hy glo dit is hoe ’n mens moet lyk wanneer jy ’n bankbestuurder gaan spreek – veral as jy ’n lening wil vra.
Toe die vier by die deur inkom, kyk die klerk agter die toonbank op. Hy ken die seuns.
“Middag, menere,” sê hy spottend. “Hoe lyk dit – kom julle geld bank?”
“Nee, Meneer,” sê Trompie sedig en probeer so ernstig soos ’n sakeman lyk. “Ons kom met die bankbestuurder oor sake praat. Mag ons hom asseblief sien?”
Trompie hou sy pet in sy hand en praat aspris nie van sy pa nie. Hy is mos hier om die bestuurder in sy amptelike hoedanigheid te spreek.
“Het julle ’n afspraak gemaak?” vra die klerk glimlaggend.
Die vier sakemanne kyk na mekaar. Hulle het nooit daaraan gedink nie.
“Nee, Meneer,” antwoord Trompie, “maar ons sake is ernstig. Ek is seker my pa – ek bedoel die bankbestuurder – sal ons sien as hy weet waaroor dit gaan.”
“Mag ek vra waaroor is dit?”
“Dis oor geld,” antwoord Trompie bot.
Hy is nie lus om alles oor hul plan om geld te maak hier uit te blaker nie.
Die bankklerk sal sommer dadelik sien hoeveel geld hulle gaan maak en dalk begin hy dan ook met so iets. Kwaggaberg is ’n klein dorpie. Hier is nie plek vir twee besighede wat poetsapparate verkoop nie.
“Almal wat die bestuurder wil spreek, wil hom oor geld spreek,” sê die klerk droogweg. “Kan jy asseblief vir my verdere besonderhede gee?”
“Nee, Meneer, dit is … dit is …” en dan dink Trompie aan ’n woord wat hy sy pa al baie hoor gebruik het, “konfidensieel.”
Hy kyk trots om na sy vriende. Ja-nee, hulle hou van die woord. Hulle knik hul koppe ernstig om vir die klerk te wys dit is beslis baie konfidensieel.
“Nou goed dan, julle kan die bestuurder spreek,” sê die klerk asof hy hulle ’n guns bewys, “maar hy is op die oomblik besig. Sit gerus solank.”
Hy wys na ’n bankie teen die muur. Die vier gaan sit plegtig.
Die klerk gaan weer met sy werk aan. Hy tel stapels note. Die seuns hou hom aandagtig dop.
“Jissie!” sê Trompie. “Daar’s vir jou geld soos bossies, hoor!”