Читать книгу Trompie Omnibus 7 - Topsy Smith - Страница 12

4

Оглавление

Die verkiesingsveldtog

Die volgende oggend begin die verkiesingsveldtog. Dit lyk of Gerrit en sy vriende die vorige aand sommer baie hard gewerk het. Hulle het al klaar plakkate en plak dit oral op die skool se kennisgewingborde en teen die hekke. Dit sê:

STEM VIR BEN OU PEN!

DIE BESTE KAPTEIN TER WÊRELD!!

Gerrit-hulle het nie juis veel oorspronklikheid aan die dag gelê nie. Al hul plakkate is eenders en sê dieselfde ding.

Gedurende pouses en selfs in die klasse word daar deur middel van briefies propaganda vir die twee aspirantkapteins gemaak. Trompie se vriende vertel vir almal hoe ’n goeie ou hy is en hoe ’n goeie kaptein hy sal wees, terwyl Ben ou Pen se vriende onder leiding van Gerrit weer vir almal beduie hoe ’n goeie ou Ben is en hoe ’n goeie kaptein hý sal wees.

Katrien en ’n paar van haar vriendinne maak dié middag die plakkate vir Trompie se veldtog. Die Boksombende gaan plak dit oral in die dorp en by die skool op. Op die meeste plakkate staan daar net:

HOMPIE KEDOMPIE – STEM VIR TROMPIE!

Die seuns dink dit is ’n treffende slagspreuk. Dit rym mooi en almal sal aanhoudend sê: “Hompie Kedompie – stem vir Trompie!”

Hulle is heeltemal reg. Hierdie eenvoudige slagspreuk vind groot inslag by die Kwaggabergers. Selfs grootmense hou daarvan en herhaal die rympie onwillekeurig: “Hompie Kedompie – stem vir Trompie!”

Trompie, Rooie, Blikkies en Dawie is goeie organiseerders. Hulle oorreed baie ander kinders om te help met die huisbesoek. Hulle span selfs van die laerskooloutjies in.

Omdat Trompie hom eenkeer gehelp het toe hy hoog in ’n boom vasgesit het, besluit die onverskrokke Dirkie van Gas (almal op Kwaggaberg noem hom Asjas) om Trompie met sy veldtog te help. Asjas is ’n astrante elfjarige mannetjie. Hy en sy maats gaan doen namens Trompie huisbesoek by ouens wat in die hoërskool is en vir die ondersestienspan gaan speel.

Trompie kan Asjas se geesdrif nie demp nie. Hy hoop maar net die outjie en sy wilde maats doen sy saak nie meer skade as goed aan nie.

Asjas se gretigheid om te help laat Trompie aan ’n skitterende plan dink. Die outjie moet sewe-en-twintig ander seuns van sy ouderdom inspan en elkeen moet ’n plakkaat om sy nek hang. Daar moet op elke plakkaat net een letter wees en saam moet dit dan Trompie se slagspreuk spel: “Hompie Kedompie – stem vir Trompie!”

Trompie tref die reëlings met Asjas en sy maats. Katrien en haar vriende skryf die letters netjies op karton. Hulle bind ook toue daaraan vas sodat die outjies dit om hul nekke kan hang.

Die laerskool sluit ’n halfuur vroeër as die hoërskool. Die dag voor die kaptein gekies gaan word, marsjeer Asjas en sy sewe-en-twintig manne na die hoërskool toe en neem stelling in voor die groot hekke waar die kinders gaan uitborrel sodra die klok lui.

Asjas beduie vir sy maats hoe hulle moet staan. Hulle staan mooi in ’n ry voor die hekke. Asjas is aan die punt. Hy is die “H” van “Hompie”. Hy verduidelik dat die ouens met niemand moet praat nie. Hulle moet kiertsregop staan en net stip voor hulle kyk. Die seuns is almal min of meer ewe groot en die plakkate hang mooi gelyk. Almal sal die sin duidelik kan lees.

Ongelukkig is Asjas – hoewel hy dit nie weet nie, en al sou hy dit ook weet, sou hy dit nooit erken nie – nie juis ’n kenner op die gebied van spel nie. Soos hy sy maats rangskik, is “Hompie Kedompie” nou “Hopmie Kepomdie”. Selfs “Trompie” is verkeerd gespel. Asjas het die “o” voor die “r” geplaas sodat die onder-16’s nie vir Trompie moet stem nie, maar vir “Tormpie”.

Gelukkig is Trompie en sy vriende van die eerstes wat uitkom toe die klok lui. Hulle wil mos sien watter uitwerking hierdie agt-en-twintig laerskooloutjies op die leerders gaan hê.

“Gou!” gil Trompie toe hy sien hoe verkeerd die woorde gespel is. “Maak reg die spelfoute!”

Die Boksombende gryp en pluk outjies uit die ry en druk hulle op die regte plekke in. Uiteindelik staan die spulletjie ordentlik. Daar is nie nou meer spelfoute nie. Die eerste klomp leerders wat by die hekke uitgeborrel het, lees wat daar staan:

HOMPIE KEDOMPIE – STEM VIR TROMPIE!

Die hoërskoolkinders kyk almal na die outjies wat so ernstig voor hulle uitstaar. Almal lag en geniet dit en stem saam – dit is nou regtig oorspronklik. Selfs die onderwysers wat by die hekke uitstap, lees eers gou wat die letters spel.

Baie seuns wat nie lekkers by Gerrit gekry het of nie weet Trompie is ’n selfsugtige rugbyspeler of nie eintlik vir Ben ou Pen ken nie, besluit hulle gaan vir Trompie stem. Hulle kan die oulike Hompie Kedompie-rympie eenvoudig nie uit hul gedagtes kry nie.

Dié middag neem Asjas se span ook voor die poskantoor stelling in. Trompie is daar om te sorg dat elkeen op sy regte plek staan en daar nie weer spelfoute is nie. Baie grootmense kyk glimlaggend na die sedige outjies en sê dan met ’n effense kopskud: “Ai, dié Trompie darem!”

Gerrit en ’n paar van sy vriende stap daar verby. Hulle ignoreer Asjas se manne wat so netjies in gelid staan heeltemal.

Trompie se veldtog is baie meer geslaagd as Gerrit s’n, maar die feit bly staan – Gerrit se pa is die eienaar van die lekkergoedwinkel. Gerrit het vir baie ouens lekkers gegee sodat hulle vir sy kandidaat, Ben ou Pen, moet stem. Daarom plak Trompie-hulle toe die plakkaat wat die seuns waarsku om hul geboortereg nie vir ’n bord lensiesop te verkoop nie by die skool op.

Die skoolhoof hou hierdie verkiesingsveldtog glimlaggend dop en verbied dit nie. Hy dink dit is goed vir die seuns om so iets op eie inisiatief te reël.

Uiteindelik breek die groot verkiesingsdag aan. Met lang pouse vergader die onder-16’s in die saal.

Sarel Marais – die verkiesingsveldtog was mos sy idee – het vooraf toestemming by die hoof gevra en verduidelik dat die kandidate vir die kapteinskap die stemgeregtigdes eers wil toespreek. Die hoof het ingestem en die oggend selfs afgekondig dat al die onder-16-rugbyspelers met eerste en tweede pouse in die saal moet vergader.

Teen eerste pouse storm al die onder-16’s by die saal in. Trompie, Gerrit, Ben ou Pen en Sarel sit sedig op die verhoog. Sarel is voorsitter. Hy het homself aangestel.

Toe almal sit, staan Sarel op en lig sy hand. Dan sê hy hard: “Stilte, asseblief!”

Die gezoem van stemme bedaar en die seuns word stil. Daar is tussen negentig en honderd ouens en hulle is almal onder-16-rugbyspelers.

“Ons vergader vanoggend hier,” begin Sarel sy toespraak, “om na die twee kandidate vir die kapteinskap te luister. Soos julle weet, is pouses maar van korte duur, so hulle mag nie te lank praat nie. Indien die tyd dit toelaat, sal daar ook geleentheid wees om vrae aan die kandidate te stel.”

Sarel se kort inleidende toesprakie word hard toegejuig. Hy draai na Ben toe en sê: “Die eerste spreker is Ben ou Pen.”

“Haai, Ben!” skree ’n klomp van sy vriende en baie van hulle klap hande.

Ben ou Pen verstaan die kuns om ’n bal blitsvinnig uit die oond te haak, maar hy is nie ’n spreker nie.

Hy sê stamelend: “Ek wil net sê julle sal nie spyt wees as julle vir my stem nie. My vriend hier,” en hy wys na Gerrit, “is my hoofagent en hy sal namens my praat. Dis al wat ek wil sê.”

Die seuns lag – Trompie ook – en Ben ou Pen gaan sit weer. Hy is tuis in ’n skrum, maar nie op ’n verhoog nie.

Trompie glimlag selfvoldaan. Hy het sy toespraak behoorlik voorberei. Hy het gisteraand hard daaraan gewerk en eers laat gaan slaap. Hy is reg om sy sê ordentlik te sê.

Sarel stel egter eers vir Gerrit aan die woord. Gerrit moet namens Ben praat. Gerrit is slim en dit is duidelik dat hy sy toespraak ook goed voorberei het. Hy begin deur Trompie en al Trompie se ondersteuners te vlei. Gerrit sê hy kan goed verstaan hoekom daar seuns is wat vir Trompie sal stem, want hy is ’n skitterende rugbyspeler.

“Ek is self een van Trompie se bewonderaars,” sê hy vroom, “maar ons moet onthou, ’n kaptein van ’n rugbyspan moet oor meer eienskappe beskik as om net goeie rugby te kan speel. Die onder-16A’s is vanjaar ’n baie goeie span – al vyftien manne speel ’n barshou. As ons iemand moet kies net omdat hy ’n goeie speler is, sit ons op die ou end met vyftien kapteins!”

Gerrit lag vir sy eie grappie. Baie seuns lag saam, veral dié wat verniet lekkers by hom gekry het en na nog meer uitsien.

Nou begin Gerrit eers reguit praat en sy angel kom uit.

“Trompie is ’n goeie rugbyspeler,” herhaal hy, “en ek is die eerste een om dit te erken – maar dit is al wat hy is! ’n Goeie speler – niks meer nie! Hy was laas jaar die onder-15’s se kaptein en selfs sy vurigste ondersteuners moet erken hy was ’n mislukking.”

Gerrit is nou op dreef. Hy bal sy regtervuis en hou dit voor hom uitgestrek: “Ek sê julle, as ons laas jaar ’n ander kaptein gehad het, het ons die beker gewen!”

“Hoor-hoor!” skree ’n klomp ouens vir wie hy al hande vol lekkers gevoer het.

“Jy praat nonsens!” klink Dawie se piepstem op wanneer die “Hoor-hoor!” bedaar het. Nou skree al Trompie se ondersteuners tegelyk dat Gerrit nonsens praat. Ben, of liewer Gerrit se ondersteuners, probeer hulle doodskree. Daar is ’n oorverdowende lawaai in die saal.

“Stil!” bulder Sarel so hard soos hy kan en hou sy hande in die lug. Uiteindelik kom die raserige spulletjie tot bedaring.

“Wil julle hê een van die onnies moet ons hier kom uitboender?” vra Sarel kwaai vir die gehoor.

“Nee!” skree ’n hele paar stemme. Hulle wil hê die vergadering moet aangaan. Hulle geniet dit.

Trompie dink as hy voorsitter was, sou hy gesê het: “Wel, dan moet julle nou julle bekke hou!”

Sarel is egter aan die roer van sake en hy is mos so uit die hoogte soos tien. Hy sê: “Die vergadering kan nou slegs voortgaan mits daar geen verdere steurings of oproerigheid is nie. Ek sal hierdie byeenkoms by die geringste teken van losbandigheid verdaag. Is dit duidelik?”

Die seuns in die saal kyk vir mekaar. Baie is nie seker wat presies Sarel bedoel het nie, maar hy lyk befoeterd, so hulle sal nou maar stilbly.

Die voorsitter sê vir Gerrit hy moet asseblief kort en saaklik wees en nie soveel dinge herhaal nie.

Gerrit knik en gaan dramaties voort. Hy kyk na Trompie en dan skud hy sy kop weemoedig. Hy maak klapgeluide met sy tong asof Trompie innig bejammer moet word. Die Boksombende se Grootkaptein begin effens ongemaklik voel. Daar is ’n vies uitdrukking op sy sproetgesig.

Skielik kyk Gerrit na die gehoor wat nou roerloos stil sit en sê met duidelike simpatie in sy stem: “Daar sit hy, die arme Trompie – ’n ou wat te hoog wil vlieg, ’n ou wat ’n posisie wil hê wat hy nie kan vol staan nie. As hy gekies word, sal hy diep ongelukkig wees, want hy weet voor sy siel hy is nie ’n goeie kaptein nie.”

Trompie is nou so verontwaardig dat hy hom nie meer kan inhou nie. Hy skree: “Jy lieg dat jy bars!” Trompie se ondersteuners begin Gerrit uitjou, maar hou dadelik op wanneer Sarel hard skree: “Stilte!”

Die klomp is weer stil. Sarel kyk na Trompie en sê ferm: “Geen aanmerkings sal geduld word nie.”

Trompie gluur woes na Gerrit en sy sproetneus wip op en af om te wys hoe ontstoke hy nou is.

“Sien julle?” sê Gerrit met ’n skouerophaling toe hy weer begin. “Ek het julle mos gesê Trompie is nie ’n kaptein nie. Kyk hoe maklik word hy kwaad – en ons weet mos ’n goeie kaptein moet nooit sy humeur verloor nie. Maar gelukkig het ons iemand soos Ben ou Pen hier.” Gerrit wys met ’n breë glimlag na Ben en sê: “Ben ou Pen is ’n standvastige, goeie, betroubare leier wat ook ’n briljante rugbyspeler is.”

Ben staar ernstig voor hom uit en doen sy bes om te lyk soos die soort leier wat Gerrit beskryf.

“Het julle al ooit gesien dat Ben ou Pen sy humeur verloor?” vra Gerrit vir die gehoor.

Nee, almal skud kop, hulle kan nie eintlik sê hulle het al ooit gesien dat Ben omgekrap raak nie.

“Wel, dan sal hy mos ’n waardige kaptein wees!” Gerrit wys met ’n dramatiese gebaar na Ben wat nog steeds stip voor hom kyk en standvastig en betroubaar probeer lyk – ’n man van min woorde, maar baie dade!

“Stem vir Ben!” Gerrit se stem is hoog en skril. “Stem vir Ben en ek belowe julle ons gaan vanjaar die beker wen. Onthou ook – hy is nie ’n speler wat selfsugtig is op die rugbyveld nie.” Terwyl Gerrit hierdie laaste sin sê, kyk hy smalend na Trompie. Almal kan duidelik sien hy dink Trompie is wel ’n selfsugtige speler.

“As julle die beste vir ons A-span wil hê,” sê Gerrit ten slotte, “moet julle vir Ben stem. Ben ou Pen is ’n goeie, onselfsugtige rugbyspeler – en hy sal ’n briljante kaptein wees. Ek weet julle wil net die heel beste vir ons span hê, so daarom weet ek Ben gaan vanjaar die onder-16’s se kaptein wees.”

Die seuns klap beleefd hande. Hulle skree nie weer soos vroeër nie. Hulle is bang Sarel verdaag die vergadering.

“Die laaste spreker vandag,” kondig Sarel aan, “is Trompie Toerien!”

Trompie se ondersteuners het maar bekaf gevoel terwyl Gerrit gepraat het. Hulle dink hy het ’n goeie toespraak afgesteek, maar ondersteun nou hul kandidaat en dit help nie eens Sarel probeer hulle stilmaak nie.

Een groep skree hard: “Trompie! Trompie!” en ’n ander skree: “Hompie Kedompie – stem vir Trompie!” Die seuns herhaal hierdie slagspreuk drie keer tot Sarel wys hulle moet bedaar.

Die voorsitter is nou nie so streng oor die lawaai soos vroeër nie. Om die waarheid te sê, hy het een keer saam geskree: “Hompie Kedompie – stem vir Trompie!”

Die Boksombende se Grootkaptein staan op die verhoog en kyk glimlaggend na die gehoor. Hy lyk nie so netjies, sedig en ernstig soos sy teenstander nie. Sy kouse lê soos gewoonlik op sy skoene en sy hemp hang agter by sy broek uit. Die seuns glimlag. Dit is die Trompie wat hulle ken.

“Vriende,” sê Trompie met ’n growwe stem en hou sy hand voor hom uit, maar steek dit weer vinnig agter sy rug weg toe hy sien dit is nie skoon nie, “ons is hier bymekaar om oor ’n ernstige en gewigtige saak te beraadslaag.”

“Hoor-hoor!” skree Rooie en dan dreun dit in die saal van almal wat “Hoor-hoor!” uitroep. Die ouens weet nie eintlik hoekom hulle dit doen nie, want Trompie het feitlik nog niks gesê nie en dit wat hy gesê het, het hulle nie juis verstaan nie. Trompie het dit self ook nie mooi verstaan nie.

Sy pa het die sin vir hom neergeskryf en hom aangeraai om sy toespraak so te begin. Trompie hou van die woord “beraadslaag”, en hoewel hy nie verstaan wat presies dit beteken nie, herhaal hy dit nou.

“Ja-nee, vriende, ons is hier bymekaar om oor ’n ernstige en gewigtige saak te beraadslaag.” Hy kyk na Sarel met ’n houding wat sê: “Sien jy, dis nie net jy wat allerhande groot woorde ken nie.”

Trompie gaan nou voort met sy voorbereide toespraak: “Ek is nie vandag hier om moeilikheid te soek met enigiemand nie – nie met Ben ou Pen nie, selfs nie eens met Gerrit nie. Ek is nie hier om ander mense te verkleineer of sleg van hulle te praat nie. Ek is hier om vir julle te sê,” en Trompie slaan nou met sy regtervuis in sy linkerhand om sy woorde te beklemtoon, “julle moet ’n bobaas-kaptein kies – en ek is daai ou!”

“Watter ou?” wil Gerrit smalend weet.

“Die ou wat ’n bobaas-kaptein sal wees!” snou Trompie hom toe.

Trompie dink nou aan nog ’n sin wat sy pa vir hom neergeskryf het en sê: “Vriende, laat ons die probleem koel en besadig in oënskou neem.”

“Jissie, Trompie,” skree Rooie, “het jy ’n woordeboek ingesluk?!”

Die seuns skater soos hulle lag. Trompie lag ook.

Wanneer almal tot bedaring kom, gaan hy verder: “Ek was laas jaar die onder-15’s se kaptein en ek het my bes gedoen. Ons het nie die beker gewen nie, maar ons het mooi rugby gespeel – en dit is belangriker as om te wen. Ons was ’n gelukkige span, julle weet dit. Ons het baie pret gehad.”

Trompie wys nou met sy vuil wysvinger na Gerrit en sê: “Die een wat kamtig Ben ou Pen se hoofagent is, was natuurlik nie ’n lid van daai span nie, so ek weet nie hoekom hy so baie te sê het nie.”

“Skande!” skree ’n klomp van Trompie se ondersteuners.

“Gerrit sê ek was selfsugtig,” vervolg Trompie. “Miskien was ek, maar dis nie te sê ek gaan vanjaar weer so wees nie. Julle ouens wat dink ek het te veel op eie houtjie probeer doen, moet onthou: ’n mens leer baie in ’n rugbyseisoen en ek is nie iemand wat oor en oor dieselfde foute maak nie.”

“Onthou ook ’n bietjie,” gaan hy voort, “almal van julle, ek het al ’n jaar ondervinding as rugbykaptein – en watter ondervinding het Ben? Niks nie! Hy’s ’n goeie haker en ’n gawe ou – maar ’n spankaptein? Nee, ek kan Ben ou Pen nie in daai rol sien nie.”

Ben staar nou weemoedig voor hom uit. Hy knik ’n paar keer stadig. Hy stem heeltemal saam met wat Trompie van hom sê. Hy wil in elk geval nie eintlik kaptein wees nie. Dit is Gerrit wat hom omgepraat en aangehits het.

“Ek sê vir julle,” sluit Trompie nou af, en hy dink aan nog ’n sin wat sy pa gisteraand neergeskryf het, “bly op die bekende weë! Hou wat julle het! Stem vir ’n ervare man! Ons gaan vanjaar mooi rugby speel – wenrugby! Hompie Kedompie – stem vir Trompie!”

Hy gaan sit onder dawerende applous. Feitlik die hele saal herhaal nou die kreet: “Hompie Kedompie – stem vir Trompie!”

Gerrit, Ben en hul ondersteuners lyk maar mismoedig. Trompie het ’n geweldige aanhang. Baie van die spelers wat lekkers by Gerrit gekry en die petisie geteken het, roep nou saam uit: “Hompie Kedompie – stem vir Trompie!”

Die seuns is beïndruk met Trompie. Hulle voel dit was grootmoedig en edel van hom om niks van die omkopery te sê nie en dit wen vir Trompie heelwat nuwe ondersteuners. Min weet hulle hy het in werklikheid heeltemal vergeet om dit te noem!

Sarel bedank die sprekers wat opgetree het in ’n hoogdrawende toespraak en verseker hulle daar sal nou baie meer helderheid onder die stemgeregtigdes heers. Dit sal nou vir hulle duidelik wees vir wie om te stem en vir wie nie. Daar is nog ’n paar minute voor die klok lui en die seuns kan nou vir die kandidate vrae vra as hulle wil.

Gerrit Moerdyk het nog nie moed opgegee nie en is dadelik op die been.

“Meneer die voorsitter,” sê hy plegtig, “ek wil graag vir Trompie iets vra.”

Trompie staan op.

“Seker, Gerrit,” sê hy vriendelik en vryf sy hande in die lug voor hom.

“Onthou jy die onder-15A’s het verlede jaar teen Hoërskool Saamwerk van Johannesburg gespeel?”

“Ja, ons het twee keer teen hulle gespeel. Ons het een wedstryd gewen en een verloor.”

“Dis reg,” sê Gerrit smalend. “Ek wil met jou praat oor die een wat ons verloor het. Onthou jy die telling?”

Trompie kyk fronsend na Gerrit. Waarop stuur hy af?

“Ja, ons het 10-5 verloor.”

“Dit is reg, Trompie,” en dan harder, sodat almal hom duidelik moet hoor, sê Gerrit: “die telling was 10–5 en daar was nog net ’n minuut speeltyd oor. Toe het Ben ou Pen die bal soos blits gehaak. Dit het tot by jou, op buitesenter, getrek. Daar was ’n gaping wat die binnesenter vir jou gemaak het en jy het daardeur geskiet.”

Trompie knik met sy kop. Hy onthou die wedstryd nog soos gister. Ou Bles, die rugbybreier, het hom daarna goed die kop gewas. Trompie weet nou waarop Gerrit afstuur. Hy voel effens ongemaklik.

Gerrit praat verder: “Jy’t veld op gehol met die bal onder jou arm en ons, die toeskouers, het ons almal hees geskree. Weet jy hoekom het ons ons hees geskree?”

“Nee,” sê Trompie bot.

Die seuns in die staal sit en luister belangstellend.

“Ek sal jou sê, Trompie,” gaan Gerrit voort, “ons het ons hees geskree van blydskap en opgewondenheid, want ons was seker van ’n drie onder die pale. Ons was doodseker ons gaan Saamwerk wen! Dís hoekom ons so geskree het.”

Trompie voel ’n warm gloed in sy gesig.

“Maar wat het toe gebeur?” vra Gerrit skerp.

Voor Trompie kan antwoord, antwoord hy die vraag self: “Ek sal jou sê wat gebeur het: jy het oopgelê na Saamwerk se doellyn toe. Net hulle heelagter was voor jou, en langs jou was jou boesemvriend, die blitsige Blikkies. Ons het gejuig en geskree omdat ons al kon sien hoe word die bal agter die pale geplant. Daarna sou die maklike doelskop definitief oor gewees het en dan sou die eindfluitjie blaas en ons sou Saamwerk met twaalf punte teen tien geklop het.”

Trompie skuif ongemaklik rond.

Gerrit is nog nie klaar nie. “Blikkies het die hele tyd mooi langs jou gebly, Trompie. Al wat jy moes doen, was om reguit op die heelagter af te storm en dan vinnig na Blikkies uit te gee sodat hy kon oordraf en die bal agter die pale neersit. Maar het jy dit gedoen?”

Trompie antwoord nie. Hy kyk vies na Gerrit en mompel iets oor ou koeie uit die sloot grawe.

“O, nee,” sê Gerrit smalend en kyk nou reguit na die seuns in die saal, “die wonderlike Trompie het dit nie gedoen nie. Nee, hy wou die drie self gaan druk. Hy was te selfsugtig om die bal vir Blikkies te gee. Hy is mos kaptein – hy moet self die punte aanteken. Dis hoekom Saamwerk se heelagter hom met bal en al geduik het. Is ek reg, Trompie? Is dit wat gebeur het?”

Dit help nie om dit te ontken nie. Trompie sê stroef: “Ja, dis wat gebeur het.”

“Nou ja, ek sê dis die selfsugtigste spel wat ek nog ooit op ’n rugbyveld gesien het, en ek is nie die enigste een wat so dink nie! ’n Man met baie jare se ondervinding in rugby en een van die WP se heel beste senters ooit sê ook so. Ek praat van meneer Roux, ons breier. Ek het met my eie ore gehoor hoe sê hy Trompie ná die wedstryd sleg. Ontken jy dit?” vra Gerrit en beduie beskuldigend na die verslae Trompie.

“Nee,” antwoord Trompie gedwee. “Ou Bles hét my uitgetrap.”

“Daar het julle dit,” sê Gerrit met ’n selfvoldane glimlag vir die seuns. “Wil julle ouens so ’n selfsugtige speler as kaptein hê terwyl julle ’n onselfsugtige, hardwerkende en briljante haker soos Ben ou Pen kan kry?”

Gerrit gaan sit. Dit is stil in die saal. Trompie kan aanvoel dat baie van die seuns nou weer teen hom draai.

Dan spring Dawie op. Hy sê hy wil ook vir Trompie ’n vraag vra.

“Was jy spyt toe jy daardie drie teen Saamwerk weggegooi het?”

“Bitter spyt, ja,” antwoord Trompie.

Dawie sit en Blikkies is dadelik op die been. Hy skuif sy kougom van die een kies na die ander toe en sê: “Ek is die blitsige vleuel van wie Gerrit gepraat het. Ek was langs Trompie toe hy deurgebreek het. Onthou jy dit, Trompie?”

“Natuurlik, ja.” Trompie glimlag.

“Wel, ek wil net sê ek weet meer van wat daar gebeur het as Gerrit, al het hy hom kamtig so hees geskree.” Blikkies praat hard. “En ek sê vir julle, Gerrit en Ou Bles is verkeerd om te sê dit was selfsugtige spel. Die heelagter was reg om vinnig om te swaai en my te duik as Trompie sou uitgee. Trompie het dit gesien en toe besluit om self te probeer deurbreek. Miskien moes hy die bal liewer na my toe laat loop het, ek weet nie. Ek weet net niemand kan met sekerheid sê wat hy moes gedoen het nie. So dis belaglik om te sê hy het selfsugtig gespeel.”

Blikkies gaan sit en ’n groot klomp ouens skree nou: “Hoor-hoor!” en dan: “Hompie Kedompie – stem vir Trompie!”

Toe die lawaai bedaar, is Rooie op die been. Hy wil ook ’n vraag vra.

“Onthou jy die wedstryd teen daardie Engelse skool in Pretoria?”

Trompie knik glimlaggend. Hy onthou dit baie goed.

“Hulle was 5-0 voor en daar was ook, net soos in die wedstryd wat Gerrit so goed onthou, nog net omtrent ’n minuut oor toe Trompie van sy eie kwartgebied af skoon deurgebreek het. Ek was daardie keer by Trompie. Hy het die heelagter geflous en kon maklik onder die pale gaan druk het, maar toe skree ek iets vir hom. Onthou jy wat ek geskree het, Trompie?”

“Ek onthou, ja.”

“Wat het ek geskree?”

“Jy het geskree: ‘Ek het nog nooit ’n drie gedruk nie, Trompie! Gee uit, laat ek die ding gaan plant!’”

“Dis reg, Trompie – en wat het jy toe gedoen?”

“Ek het die bal uitgegee.”

“En wat het ek toe gedoen?”

“Jy’t dit agter die pale gaan plant.”

“Dis reg, toe het jy die doelskop oorgesit en ons het met 7-5 gewen.” Rooie draai na die gehoor en sê hard en beslis: “Klink daai vir julle ouens soos selfsugtigheid?” Dan gaan sit hy. Rooie en Trompie word nou hard toegejuig.

Die klok gaan enige oomblik lui. Daar is geen verdere vrae nie. Voor Sarel die vergadering verdaag, sê Trompie hy het vinnig nog iets op die hart.

“Ek is beskuldig dat ek ’n selfsugtige speler is. Miskien is ek. Maar ek wil net sê, soos ek netnou ook gesê het – dinge gaan vanjaar anders wees.”

Die seuns hou van Trompie se nederigheid. Een skree hard: “Hompie Kedompie – stem vir Trompie!” en die res van die saal bulder dit nou soos ’n oorlogskreet uit. Terwyl hulle nog so skree, lui die klok en die seuns bondel laggend by die deure uit. Hulle het die vergadering geniet.

Trompie is bekommerd. Hy wil so graag vanjaar weer sy span se kaptein wees, maar volgens hom lyk die kanse maar skraal.

Sy vriende praat hom moed in. Hulle dink die vergadering het goed afgeloop en dat baie ouens wat nie vir Trompie sou gestem het nie, hom nou gaan ondersteun. Trompie bly egter maar mismoedig.

Met tweede pouse gaan die onder-16-seuns weer saal toe. Dit is nou tyd vir die groot verkiesing.

Meneer Roux – die kinders noem hom almal Ou Bles omdat hy bles is – is teenwoordig. Toe Trompie by die saal instap, staan daar ’n klomp seuns wat nie mag ingaan nie, omdat hulle nie onder-16’s is nie, voor die deur. Hulle wens hom alles van die beste toe, maar Trompie sien daar is ook ’n klomp wat vir Ben sterkte toewens.

Katrien en ’n paar van haar vriendinne staan ook voor die saal en wys vir Trompie hulle hou duim vas. Katrien knipoog en sê: “Sterkte.” Sy weet mos hoe graag wil hy weer die kaptein wees.

“Dankie,” mompel Trompie en dit val hom op dat Katrien eintlik glad nie sleg is nie, al is sy ’n meisiekind. Sy lyk nogal heel mooierig.

Toe al die onder-16’s in die saal is, vra die onderwyser ’n paar om die deure toe te maak. Hy hou nie daarvan dat feitlik die hele skool buite saamdrom nie.

Ná die intensiewe verkiesingsveldtog stel almal in die skool, tot die personeellede, baie belang in die verkiesing se uitslag. Selfs in die dorp wonder die grootmense wie as die onder-16’s se kaptein gekies gaan word.

Wanneer die deure toe is, sê Ou Bles: “Ek is bly om te sien so baie van julle gaan vanjaar rugby speel. Ons is van plan om drie spanne vir die onder-16-liga in te skryf en ek dink hier is genoeg talent onder julle dat al drie spanne besonder goed sal vaar.”

Die seuns klap bedees hande. Hulle sal dit nie waag om nou uitbundig te skree nie. Die wiskunde-onderwyser is baie kwaai. Almal is skrikkerig vir hom, maar hoog in hul skik dat hy hulle vanjaar gaan afrig. Ou Bles is ’n uitstekende breier en sy spanne presteer altyd goed.

Die onderwyser verduidelik nou die prosedure. Soos die seuns die ding verstaan, word hier vandag net een kaptein gekies. Die ou wat wen, sal dan kaptein van al drie die spanne wees. Die B- en C-span se kapteins sal eers gekies word wanneer die spanne hul eerste wedstryd speel.

’n Nominasie moet gesekondeer word en elke speler het natuurlik net een stem. Die genomineerdes sal die saal verlaat wanneer die stemmery begin en ’n mens stem deur jou een hand in die lug te hou.

“Is dit vir almal duidelik?”

“Ons verstaan, Meneer.”

“Nou goed,” sê die onderwyser glimlaggend. Hy weet van die groot verkiesingsveldtog en hy kan die spanning in die saal duidelik aanvoel.

“Ek vra nou nominasies vir die kapteinskap van die onder-16’s se A-span.”

Ou Bles staan met ’n stukkie kryt in sy hand langs die bord op die verhoog. Hy is gereed om die name neer te skryf.

Daar heers doodse stilte in die saal.

Trompie Omnibus 7

Подняться наверх