Читать книгу Trompie Omnibus 7 - Topsy Smith - Страница 6
1
ОглавлениеDie petisie
“Daar’s groot moeilikheid in die land,” sê Rooie en kyk na sy skurwe voete. Hy wikkel sy tone. Hy probeer om sy groottone stil te hou terwyl die ander beweeg. Dit is nogal moeilik.
Met ’n sug gee hy moed op en sê weer in ’n swaar stem: “Ja-nee, ouens, ek sê vir julle – daar’s groot moeilikheid in die land.”
Rooie se vriende, Blikkies en Dawie, sit by hom in sy buitekamer. Hulle kyk weemoedig voor hulle uit. Hulle dink duidelik ook daar is groot moeilikheid in die land.
Blikkies kou aan ’n stukkie kougom. Hy versit dit behendig van die een kies na die ander en dan vra hy: “Weet Trompie daarvan?”
“Nee,” antwoord Rooie, “hy weet nog van niks nie. Ek het dit net toevallig uitgevind. Ek’t daar by die klomp ouens gekom en gesien hoe gryp hulle die papier en probeer dit wegsteek. Toe vat ek dit af by die ou wat dit agter sy rug hou en lees wat daarop staan. Ek sê vir julle, daar is al ’n hele spul name op daai lys.”
Dawie staar peinsend voor hom uit. Dit is slegte nuus wat Rooie vir hom en Blikkies gegee het. As Trompie dit te hore kom, gaan dit vir jou ’n lelike ding afgee, hoor!
“Ja-nee,” sê Dawie en sug, “jy’s reg, Rooie – daar’s groot moeilikheid in die land.”
“Ons kan net een ding doen,” sê Blikkies en staan op.
Rooie en Dawie kyk vraend na hom. Hulle sal graag wil weet wat hierdie een ding is. Blikkies wil egter nie sê voordat hulle vra nie. Dit is ’n paar oomblikke stil, dan brom Rooie: “Wat’s dié een ding wat ons kan doen?”
“Ek het vir daai vraag gewag, Rooie,” sê Blikkies selfvoldaan. “Ons moet Trompie dadelik gaan vertel van hierdie gemene ding wat die ouens teen hom beplan. En dan moet ons vier dink aan ’n plan om hulle uit te oorlê.”
“Sê liewer te beveg,” sê Rooie bars en bal sy vuiste.
Dawie voel ook hulle moet die klomp wat Trompie so met ’n mes in die rug steek – en dit ná wat hy alles vir Kwaggaberg se rugby gedoen het – met hand en tand beveg. “Tot waar Dawid die wortels begrawe het,” sê hy en bal ook sy vuiste.
Terwyl Rooie, Blikkies en Dawie in Rooie se buitekamer oor hierdie krisis gesels, sit Trompie op sy bed in sy kamer. Hy het ’n pragtige foto van sy rugbyheld uit ’n tydskrif geknip en dit in sy plakboek geplak. Hy kyk nou ingedagte daarna.
“Vanjaar se rugbyseisoen gaan die beste ooit wees!” sê Trompie sag.
Eerstens sal hy natuurlik gekies word as kaptein van die beroemde Hoërskool Kwaggaberg se onder-16-span, en vanjaar gaan hulle sowaar die beker wen!
En tweedens kom die Britse Leeus vanjaar Suid-Afrika toe om die Springbokke, die wêreld se bobaas-rugbyspelers, te onttroon. “Gmf!” sê Trompie en trek ’n suur gesig. “Asof hulle dit ooit sal regkry!”
Daar word vier toetswedstryde gespeel – in Johannesburg, Pretoria, Port Elizabeth en Kaapstad. Hy sal ’n plan moet maak om by die twee in Pretoria en Johannesburg uit te kom. Hy wens hy kon die toetse in Kaapstad en Port Elizabeth ook bywoon, maar dit sal seker onmoontlik wees. Hy gaan genoeg moet soebat en smeek om sy pa sover te kry om hom saam Pretoria en Johannesburg toe te neem.
Ja-nee, dink Trompie met ’n glimlag, hy wens dit is al volgende week. Dan begin hulle rugby oefen en dan kies die ouens ook die verskillende spanne se kapteins.
Trompie se gedagtes word onderbreek deur ’n harde gefluit buite in die tuin. Dit is ’n hoë noot afgewissel met ’n lae een – die Boksombende se sein.
Trompie fluit op dieselfde manier terug. Dit is sy drie vriende. Wat wil die ouens hê? Hulle het mos afgespreek om later vanmiddag in Rooie se buitekamer bymekaar te kom.
Die Boksombende gebruik nooit ’n deur om by ’n vertrek in te gaan as daar ’n venster is nie. Hulle klouter altyd sommer deur ’n venster. Dit is ’n ongeskrewe reël.
Rooie, Blikkies en Dawie klim nou deur Trompie se kamervenster.
“Haai,” groet hulle hom kamtig vrolik.
“Haai,” groet hy terug en voeg dan by: “Daar’s nou vir jou ’n rugbyspeler, hoor!” Hy wys na sy held, die bekende Blou Bul-senter, se foto.
Rooie kyk eers na die foto van die senter, dan blaai hy deur die plakboek en kyk na al die ander sportfoto’s daarin. Ná Rooie is dit Dawie en Blikkies se beurt.
Die vier vriende maak ’n gedugte groepie uit: Trompie, die ondeunde sproetgesig; Rooie, die sterkgeboude ou met die rooi hare; die besadigde, ewig kouende Blikkies en slim Dawie met die wakker bruin oë.
Hulle is die lede van die Boksombende. Hulle is al van graad vier af vriende en is nou in dieselfde klas op hoërskool.
Trompie is die Boksombende se leier of altans, hul Grootkaptein.
Dawie – nadat Trompie eenkeer sy lewe gered het toe hy amper in die kloof se dam verdrink het – volg die Grootkaptein altyd blindelings. Trompie het natuurlik stilgebly oor die feit dat dit eintlik hy was wat Dawie by die dam ingestamp het, en dat hy so groot geskrik het toe hy sien sy vriend kan nie swem nie dat hy ingeduik het om hom weer uit te pluk. Maar volgens hom hoef Dawie dit mos nie te weet nie.
Rooie – nadat Trompie hom eendag, ’n hele paar jaar gelede, ’n prag van ’n blouoog gegee het – is altyd gewillig om hom te volg as daar sprake van kattekwaad is.
Blikkies is die een wat gewoonlik effens beswaar maak as Trompie met die een of ander voorstel kom. As daar nie eenparigheid is nie, stem die Boksombende en dan is Blikkies in die minderheid. Dit is altyd drie stemme teen een, so Blikkies moet gewoonlik maar saamspeel. Ten minste voel hy dat as hy een keer protes aangeteken het, is sy gewete darem skoon. As daar dan moeilikheid kom, kan hy mos sê hy hét hulle gewaarsku.
Terwyl hulle na die plakboek kyk, vertel Trompie opgewonde hoe hy vanjaar sommer ’n barshou rugby gaan speel.
“Ek sê julle ouens,” sê hy geesdriftig, “ek gaan net so goed soos dié ou van die Blou Bulle wees. Hy’s ’n senter en ek ook. Ek het mos laas jaar gesien hoe hy maak-maak of hy deur ’n gaping gaan skiet en dan glip hy skielik deur ’n ander een – en dit terwyl die ander ouens nie eens weet daar is ’n ander gaping nie.”
Trompie glimlag selfvoldaan. Ja-nee, dis hoe hy vanjaar gaan speel: sommer ’n barshou. Hy kom nie eens agter dat sy drie vriende onderlangs na mekaar kyk nie.
“En as kaptein,” sê Trompie en slaan met sy regtervuis in sy linkerhand, “gaan ek my manne met ’n ysterhand regeer. Vanjaar moet ons vir Hoërskool Saamwerk van Johannesburg behoorlik op hulle plek sit. Ek sê julle, vanjaar gaan ons die beker wen!”
Blikkies, wat laaste deur die plakboek geblaai het, sit dit nou op die bed neer.
Hy kyk vinnig na Dawie en Rooie. Hulle kyk na hom. Hulle wil duidelik hê hy moet die praatwerk doen. Hy het mos gesê daar is net een ding wat hulle kan doen en dit is om vir Trompie te sê van die lys wat by die skool rondgaan, so hý moet Trompie vertel daar is groot moeilikheid in die land.
Blikkies versit sy stukkie kougom behendig van die een kies na die ander en sê dan in sy lui stem: “Wie sê jy gaan kaptein wees?”
“Hè?” Trompie lyk verbaas.
“Wie sê jy gaan kaptein wees?”
“Ék sê so! Ek het laas jaar twintig meer stemme as Ben ou Pen gekry en ons onder-15-span het die beker so amper gewen. Vanjaar is dieselfde ouens onder-16 en hulle sal mos weer vir my stem.”
Blikkies, Rooie en Dawie sê niks nie. Dit lyk nie of hulle met hom saamstem nie. Die Grootkaptein begin effens onrustig word. Skort daar dalk iets?
“Dink julle nie die ouens sal weer vir my stem nie?” vra hy bekommerd.
“Party sal en party sal nie,” mompel Rooie.
“Natuurlik,” sê Trompie, “maar daar sal meer vir my stem as teen my.”
“Ons hoop maar so,” sê Dawie en sug swaar. Rooie en Blikkies staar ernstig voor hulle uit. Dit is asof hulle wil wys dat hulle ook so hoop, maar hulle is bevrees …
“Miskien word nie een van die ander ouens eens voorgestel as kaptein nie,” probeer Trompie homself moed inpraat. “Laas jaar was dit mos net Ben ou Pen wat teen my gestaan het.”
“Hy gaan vanjaar weer staan,” sê Rooie.
Ben – die kinders noem hom altyd Ben ou Pen, bloot omdat “pen” met sy naam rym en oor geen ander rede nie – is ’n koshuisseun. Hy was die onder-15’s se haker en het hom skitterend van sy taak gekwyt. Ben gaan vanjaar vir die onder-16’s haker speel.
“Hy kan maar staan,” sê Trompie ongeërg. “Ek het hom laas jaar met twintig stemme gewen – en vanjaar gaan dit nog meer wees.”
Rooie besluit die tyd het nou aangebreek om Trompie van die groot moeilikheid in die land te vertel.
“Dit gaan dié keer nie so maklik wees nie,” sê hy.
“Hoekom nie?” wil Trompie weet. Hy wikkel sy sproetneus om sy vriende te laat verstaan dat hy nou omgekrap is. Dit is mos simpel om selfs net te dink die ouens sal hom nie weer as kaptein kies nie. Hy was en is mos die beste speler. Hoeveel punte het hy nie verlede seisoen aangeteken nie! Sommer honderde van die goed!
“Dinge is dié keer anders,” waag Rooie dit.
“Hoe anders? Is ek nie die beste speler nie? Hou die ouens nie van my nie? Ek is Hoërskool Kwaggaberg se beste rugbyspeler – en beste atleet en bokser ook!”
Trompie glimlag selfvoldaan terwyl hy opnoem waarmee hy alles so goed is. Ja-nee, die ouens sal mos vir só ’n man stem. Ben ou Pen kan maar teen hom staan. Trompie skrik nie vir hom nie. Dis nou maar wors.
“Dis alles waar,” sê Rooie en voeg dan versigtig by, “maar jou pa het nie ’n lekkergoedwinkel nie.”
Trompie kyk Rooie fronsend aan. Hy verstaan glad nie wat dit veronderstel is om te beteken nie. “Wat … wat op aarde het dit met die saak te doen?” stamel hy.
“Baie,” antwoord Rooie. “Luister mooi, dan vertel ek jou.”
Trompie luister mooi. Dawie en Blikkies – hoewel hulle die storie al gehoor het – luister ook mooi.
Rooie vertel hoe hy by die skool se fietsafdakke afgekom het op ’n klomp ouens wat om iemand staan. Die ou in die middel het met ’n potlood iets op ’n stuk papier geskryf. Hy het die papier op ’n fiets se saal platgedruk terwyl hy skryf.
Rooie sê hy was dadelik nuuskierig om te weet wat die ou skryf en hoekom die ander om hom saamdrom. Hy stap toe nader en hoor skielik duidelik hoe sê iemand: “Tjips, hier kom Rooie. Hy is mos Trompie se pel.”
Die ou in die middel het die papier toe dadelik van die fiets se saal af geruk en agter sy rug gehou. Dit het Rooie net nog nuuskieriger gemaak. Almal het verleë gegrinnik toe hy by hulle kom en baie ongemaklik gelyk.
Die een wat die ongemaklikste gelyk het, was Gerrit Moerdyk. Hy het vinnig begin praat oor hoe ’n mooi dag dit is, maar dat dit darem ’n bietjie droog is en dat die boere dringend reën nodig het.
“Ek het sommer gesien hy praat nonsens oor hy bang was en iets vir my wou wegsteek. Ek is mos nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie,” sê Rooie trots.
Om te wys hy is slimmer as wat hy lyk, het Rooie sy oë die hele tyd op die ou met die papier agter sy rug gehou, al het hy nou saam met Gerrit en die ander ouens oor die weer gesels.
Maar toe Gerrit moeg word om oor die weer te praat en sê hy moet nou waai, het Rooie sy kans waargeneem.
“My hand het uitgeskiet en ek’t die ou met die papier om die nek beetgekry,” vertel Rooie. “Ek het hom in ’n halfnelson vasgehou en toe die ou begin tjank, gryp ek met my ander hand die papier uit sy hand.”
Trompie, Blikkies en Dawie luister aandagtig. Rooie se storie is boeiend, dis seker.
Hy vertel nou hoe Gerrit toe dreigend nader gekom en gesê het dit is sy papier en dit probeer teruggryp het.
“Toe druk ek net my vuis onder sy neus,” sê Rooie, “en sê: ‘Ruik daar, boetie, ruik daar’! Toe was hy glad nie meer so grootbek nie.”
Rooie vertel hoe hy toe vinnig gelees het wat op die papier staan, terwyl hy op sy hoede was vir ingeval die ander seuns dit miskien uit sy hand probeer ruk.
“En wat het daarop gestaan?” vra Trompie, wat nou al brand van nuuskierigheid. Hy verstaan nog nie wat is die verband tussen die papier en die feit dat hulle dink hy gaan nie vanjaar die rugbyspan se kaptein wees nie.
“Weet jy wat was daardie papier eintlik?” vra Rooie ernstig.
“Nee,” sê Trompie ongeduldig, “as ek geweet het, sou ek mos nie so nuuskierig gewees het nie.”
“Wel, dit was ’n … ’n …” Rooie kan nie onthou wat is die woord wat Dawie vroeër gebruik het toe hy en Blikkies die storie die eerste keer gehoor het nie. Rooie kyk vraend na Dawie.
“’n Petisie,” help sy vriend hom.
“Dis reg,” beaam Rooie. “Dis wat dit was – ’n petisie, ’n lys name. Ouens wat geteken het dat hulle nie vir jou as kaptein sal stem nie.”
Trompie is skoon dronkgeslaan. Hoekom sal die ouens so iets doen? Maar dan tref dit hom skielik dat dit natuurlik Gerrit is wat die petisie opgestel het. Net om dubbel seker te maak, vra hy: “Wie’s verantwoordelik vir die ding?”
“Gerrit Moerdyk,” sê Rooie vies, “daai lae lak. Hy het bo-aan geskryf al die ouens wat nie vir jou as kaptein wil hê nie, moet die ding teken. Hy vra die ouens om vir Ben ou Pen as kaptein te stem, want Ben is kamtig ’n beter kaptein as jy. Jy is glo nie ’n goeie kaptein nie.”
“So?” sê Trompie sag. Hy voel ’n koue rilling langs sy ruggraat af.
Hy onthou Gerrit het verlede jaar vir die B-span gespeel en in ’n stadium verkondig dat hy in die A-span sou gewees het as dit nie vir Trompie was nie. Hy het gesê Trompie het sy posisie as kaptein misbruik en die span se breier met allerhande slim praatjies beïnvloed om hom wat Gerrit is, uit die A-span te hou. Trompie glimlag skeef. Hy sal nooit so iets doen nie – al wil hy ook hoe graag.
Trompie en Gerrit het nog nooit juis langs dieselfde vuur gesit nie. Eenkeer – dit was toe hulle nog op laerskool was – het hy en sy drie vriende stokkies gedraai. Hulle het heerlik in die kloof se dam gaan swem, maar toe kom ’n onderwyser hulle daar haal.
Die Boksombende dink tot vandag toe nog dit was Gerrit Moerdyk wat hulle gaan verklik het. Hy was die enigste een wat hulle gesien het toe hulle koers gekies het kloof toe. Gerrit het dit heftig ontken, maar hulle het hom nie geglo nie en hou dit nou nog teen hom. Wat hulle betref, is en bly hy ’n klikbek.
“Dis natuurlik net omdat Gerrit weet ek hou nie van hom nie,” sê Trompie, “en omdat hy weet ek dink hy’s ’n vrot vleuel.”
“Jy’s reg,” sê Dawie, “en hy en Ben ou Pen is deesdae ook mos dik vriende.”
“Aag wat,” sê Trompie ongeërg. Hy staan op en sit sy plakboek van sporthelde in die tafel langs sy bed se laai. “Hy kan soveel petisies opstel soos hy wil – die ouens sal tog nie na hom luister nie. Maar ek wil darem ’n bietjie met hom gaan gesels oor een ding wat hy daar geskryf het.”
“Watse ding?” vra Rooie.
“Dat ek nie ’n goeie kaptein is nie. Het jy dit met jou eie oë op die petisie gesien staan, Rooie?”
Rooie verseker Trompie hy het.
“Wel,” sê Trompie en tik-tik met sy regtervuis in sy linkerhand, “dis tyd dat daai suinige ou Gerrit ’n les geleer moet word. Hy kan nie sommer sulke nonsens oor my skryf nie.”
“Gerrit is nie meer so suinig nie, Trompie,” sê Blikkies luiweg.
“Nie?”
Blikkies byt sy kougom met sy voortande vas, trek dit met sy duim en wysvinger ver voor by sy mond uit en ryg dit weer met sy tong in. Dan sê hy weer: “Nee, Gerrit is nie meer so suinig nie. Hy het hierdie kougom vandag vir my gegee.”
Dis eienaardig, dink Trompie, dat Gerrit sommerso vanself vir Blikkies kougom gee. Gerrit se pa het die lekkergoedwinkel op die dorp en Gerrit het altyd lekkers, maar hy deel dit nooit met ander kinders nie. Hy is baie suinig.
“En hy het vir ’n hele klomp ander ouens ook lekkers gegee,” voeg Blikkies by. Hy probeer nou om die stukkie kougom so te kou dat hy sy tandmerke duidelik daarop kan sien.
“Heng,” sê Dawie en kyk vies na Blikkies, “ek het nie gedink jy sal lekkers by ’n ou soos Gerrit vat nie. Hy’s dan ons aartsvyand.”
Dawie is twee jaar jonger as sy drie vriende, maar hy is besonder intelligent en daarom is hy ook in dieselfde klas as hulle. Hy het die woord “aartsvyand” in ’n boek gelees. Hy hou daarvan en besluit om dit weer te gebruik.
“Ja-nee, dit is wat hy is,” sê Dawie en probeer om sy piepstem grof te maak, “ons aartsvyand.” Hy slaan nou ook met sy regtervuis in sy linkerhand soos Trompie altyd doen.
“Ek hoop nie jy het jou siel aan hom verkoop nie,” sê Rooie bars.
“Wat de drommel bedoel jy?” vra Blikkies en hou vir ’n oomblik op kou. Maar dan val hy weer met mening weg.
“Dis wat ek ook wil weet,” mompel Trompie. Dit lyk mos vir hom of hulle nou van die petisie-besigheid afgedwaal het. Of het hulle?
“Daar staan ook in die petisie,” vertel Rooie vir Trompie terwyl hy vies na Blikkies kyk, “ouens wat lekkers wil hê, moet net vir hom wat Gerrit is, vra. Sy pa het mos die lekkergoedwinkel en hy is altyd bereid om vir sy vriende lekkers te gee. En die ouens wat hy as vriende beskou, is dié wat op die lys teken dat hulle vir Ben sal stem en nie vir jou nie.”
Blikkies kou stadiger. Hy lyk verbaas.
“Gerrit het vir my niks van ’n petisie gesê nie,” sê hy. “Hy sou dit natuurlik nie gewaag het nie.”
“Hy wou jou seker eers sag maak,” sê Dawie. “Dan sal hy jou later vra om die petisie te teken.”
“Ek sal mos nooit so iets doen nie,” sê Blikkies en voeg droog by: “Maar ek wens die ou wil aanhou om my te probeer sag maak deur vir my kougom te gee. Hy sal my nooit sag genoeg kry nie.”
Trompie is nou effens bekommerd. Blikkies sal natuurlik nooit teen sy Grootkaptein draai nie, al gee Gerrit ook vir hom hoeveel kougom, maar wat van al die ander ouens? Trompie is seker baie van hulle wat vir hom sou gestem het, kan op só ’n manier omgekoop word om vir Ben te stem.
“Gerrit moes al baie lekkers weggegee het,” sê Rooie, “want daar is al baie name op die lys.”
“Ons moet iets doen,” sê Blikkies. “Ons kan nie net so stilsit nie.”
Rooie en Dawie stem volkome met hom saam. Hulle voel ook hulle moet iets doen. Rooie sien nie kans om vir die A-span te speel as Ben ou Pen sy kaptein gaan wees nie. Dan gaan hy sowaar liewer vir die onnie sê hy wil in die B-span speel!
Trompie besef nou daar is werklik ’n moontlikheid dat hy nie as kaptein gekies gaan word nie. Gerrit is vir die petisie verantwoordelik en baie seuns sal graag met hom wil vriende wees as hy nou ewe skielik links en regs lekkergoed begin uitdeel.
“Daar’s groot moeilikheid in die land,” mompel Trompie.
“Dis wat ek ook sê,” beaam Rooie. En te oordeel aan Dawie en Blikkies wat so herhaaldelik knik, is dit presies wat hulle ook sê. Daar is beslis groot moeilikheid in die land.
Trompie besef daar moet iets gedoen word – en vinnig ook. Die rugbyvergadering is volgende week en dan word die kaptein gekies.
Die Boksombende se Grootkaptein gaan sit nou weer en staar met ’n frons op sy voorkop voor hom uit.
Dit is ’n minuut of twee lank doodstil in die kamer, dan sê Dawie: “Wat doen jy, Trompie?”
“Ek dink.”
“O.”
“Ja.” Trompie kyk na Dawie om seker te maak sy vriend probeer nie miskien snaaks wees nie. Dawie kyk egter met ’n onskuldige gesig na Trompie en vra soet: “Waaroor dink jy, Trompie?”
“Oor wat ons kan doen om Gerrit se petisie en omkopery stop te sit.”
“Ons moet definitief iets doen!” sê Blikkies terwyl hy heerlik kou aan die kougom wat Gerrit vir hom gegee het.
Almal stem saam hulle moet iets doen – maar wat?
“Ons moet die aartsvyand se slinksheid beveg!” sê Dawie en gluur woes terwyl hy hard met sy vuis op die tafel slaan. Hy hou soveel van die sin dat hy lus is om dit te herhaal – saam met die dramatiese gebaar. Hy besluit egter om dit nie te doen nie. Die ander seuns kyk hom vies aan. Hy maak dit vir hulle onmoontlik om te dink as hy so hard op die tafel slaan.
Die vier vriende sit nou ernstig oor hierdie probleem en nadink. Rooie word eerste moeg om so stil te sit. Hy kan nie dink wat hulle moet doen om Gerrit uit te oorlê nie. En in elk geval, Trompie is mos die Boksombende se Grootkaptein. Hy moet die dinkwerk doen.
Rooie staar nou weer aandagtig na sy wikkelende tone en probeer om hulle te wikkel sonder dat die twee groottone ook beweeg, maar tevergeefs. Elke keer as dit vir hom lyk of hy dit regkry, begin die groottone stadig wikkel en ’n oomblik later beweeg hulle net so vinnig soos die ander tone.
Dawie het nou ook opgehou dink. Trompie se hond, Boesman, lê op die matjie voor die bed. Dawie sit op die bed en kielie Boesman se maag met sy skoenpunt. Hy wil sien hoe lyk ’n hond wanneer hy lag. Hy kan nie onthou dat hy al ooit in sy lewe ’n laggende hond gesien het nie. Maar Boesman plof-plof net met sy stert op die vloer. Dit lyk nie regtig of hy wil lag nie.
Blikkies dink ook nie meer nie. Hy is nou weer besig om met sy duim en voorvinger die kougom ver by sy mond uit te trek en dit dan weer met sy tong terug te ryg.
Trompie probeer dink, maar Rooie se gewikkel, Dawie se gekielie en Blikkies se gespeel met die kougom irriteer hom.
“Ek wens julle wil stilsit,” sê hy vies.
Hulle kyk verbaas na hom.
“Maar ons sit mos stil,” sê Dawie.
“Nee,” sê Trompie. “Jy kielie vir Boesman en Rooie wikkel sy tone en Blikkies trek die kougom – wat hy nie eens behoort te gevat het nie – nes ’n bobbejaan voor hom uit. Hoe kan ’n mens dink, hè?”
“Maar ons is stil. Ons maak nie ’n geraas nie,” sê Dawie.
“Wat bedoel jy – die kougom wat ek nie eens behoort te gevat het nie?” wil Blikkies weet.
“Ek bedoel wat ek bedoel,” snou Trompie hom toe. “Jy moes dit nie gevat het nie.”
“Wat moes ek gedoen het?”
“Jy moes vir Gerrit gesê het hy moet gaan doppies blaas.”
“Sou jy dit vir hom gesê het as hy vir jou kougom of lekkers aangebied het?”
“Natuurlik sou ek.” Dan voeg Trompie uit die hoogte by: “Dit was ’n verkeerde ding wat jy gedoen het, Blikkies.”
Rooie en Dawie stem nou volkome met Trompie saam. Hulle dink ook dit was ’n fout.
“Julle sê net so omdat hy nie vir julle lekkers gegee het nie,” sê Blikkies vererg.
“Ons sou dit nie gevat het nie,” sê Dawie vroom, maar sy ondeunde ogies vonkel. Hy weet mos hulle sou.
“Gerrit het jou nou in sy kloue,” sê Rooie sedig.
“Dis reg,” stem Trompie met Rooie saam. “Hy het jou mos ’n guns gedoen deur vir jou kougom te gee – en nou moet jy vir hom ook ’n guns doen.”
“Watse guns?”
“Jy moet die petisie teken.”
“Ga!” sê Blikkies vies. “Laat hy daai ding net na my toe bring, dan sal hy ’n ding sien wat hy nie graag wil sien nie!”
Trompie, Rooie en Dawie weet dit is waar. Blikkies sal nooit vir iemand anders as Trompie stem nie. Hulle weet ook as Gerrit vir hulle lekkers aangebied het, sou hulle dit gevat het sonder om te voel hulle skuld hom nou ’n guns. Rooie gaan selfs sover om vir Blikkies te sê as Gerrit weer vir hom lekkers gee om hom sag te maak sodat hy die petisie moet teken, moet hy die goed onder hulle vier verdeel!
“Maar alle grappies op ’n stokkie,” sê Dawie, “wat gaan ons doen? As ons nie vinnig inspring nie, is Ben ou Pen sowaar vanjaar kaptein.”
“Ek het nou net aan iets gedink,” sê Trompie, maar hy trek ’n vies gesig asof hy nie veel van die plan hou nie.
“Wat is dit?” wil Dawie dadelik weet.
“Ons moet vir Gerrit met sy eie plan vang,” sê Trompie.
Sy drie vriende kyk hom vraend aan. Hulle verstaan nie.
“Ons moet vir die ouens vir wie hy lekkers gee, ook lekkers gee,” verduidelik Trompie, “maar nog meer as wat hy vir hulle gegee het.”
Die drie dink nou hieroor na. Dit klink nogal na ’n goeie plan. Die ouens sal dan mos nie vir Ben stem nie, maar vir Trompie. Die groot probleem is egter – en hulle sien dit sommer dadelik in – dat so ’n storie baie geld gaan kos. En geld is mos maar ’n skaars ding vir die Boksombende.
“Ons kan nooit kompeteer teen ’n ou wie se pa ’n lekkergoedwinkel het nie,” sê Dawie.
“En daar is te veel ouens wat ons moet probeer terugkoop,” sê Rooie. “Ek het daai lys met my eie oë gesien – daar is baie name op.”
Trompie is mismoedig. Vanjaar is so ’n groot rugbyjaar en dit lyk sowaar of hy nie eens kaptein van sy span gaan wees nie.
“Kom ons slaan die ou aartsvyand bloedneus,” sê die wraaksugtige Dawie skielik. “Kom ons maak hom só bang dat hy belowe om vir al die ouens wat die lys geteken het te sê hulle moenie meer vir Ben stem nie, maar vir Trompie.”
Die ander drie hou nogal van hierdie plan. Hulle sal dit geniet om Gerrit bloedneus te slaan.
“Maar dit sal nie rêrig werk nie,” sê Trompie met ’n sug. “Almal sal Gerrit jammer kry en selfs die ouens wat hy nie omgekoop het nie sal dan teen my draai. Hulle sal sê ek is ’n boelie wat ouens dwing om vir my te stem – en wie wil nou so ’n kaptein hê?”
“En Gerrit is ’n klikbek,” herinner Rooie hulle. “Hy sal vir die onnies gaan sê, en dan word ons gelooi.”
Nee, al wil hulle Gerrit ook hoe graag bloedneus slaan, besef hulle dit sal dom wees.
“Daar is net een ding wat my kan help,” sê Trompie ná ’n oomblik.
“En wat’s dit?” vra Blikkies en skuif nader aan Trompie. Rooie en Dawie skuif ook nader om te kan hoor wat hierdie een ding is.
“Ek glo,” sê Trompie ernstig, “ons skool se ouens – die onder-16’s – is nie almal so sleg dat hulle met lekkers omgekoop kan word nie.”
“Daar is baie name op daai lys, Trompie,” waarsku Rooie weer.
“Ja, maar onthou, daar is baie ouens wat stem. Ou Bles het mos afgekondig al die ondersestienspelers gaan vir die A-span se kaptein stem, want die ou gaan kaptein van al drie die spanne wees – van die A-, die B- en die C-span. So dis drie spanne se ouens wat gaan stem, en dan ook nog die ouens wat nie eens in die C-span kan plek kry nie. Daar is by die honderd onder-16’s – en elkeen van hulle kan stem.”
Trompie se drie vriende dink hieroor na.
“Hoeveel name dink jy is op daai lys, Rooie?” vra Dawie. “Vyftig, sestig of sewentig?”
Rooie sit met ’n groot frons. Hy dink ernstig oor hierdie belangrike vraag. Uiteindelik skud hy sy kop. Nee, hy kan nie sê of dit vyftig, sestig of sewentig is nie. Hy kan net sê dit is baie name, dis nou maar wors.
“Jammer jy’t die name nie getel nie,” sê Blikkies droogweg en versit sy kougom behendig van die een kies na die ander.
“So wat is jou plan, Trompie?” vra Dawie uiteindelik. “Moet ons vir eers niks doen nie?”
“Nee, nie niks nie,” sê Trompie. “Luister, dan sê ek julle.”
Rooie, Blikkies en Dawie sit nou aandagtig en luister. Hulle wil weet wat hulle te doen staan.