Читать книгу Trompie Omnibus 8 - Topsy Smith - Страница 10
3
ОглавлениеDie merkwaardige ontdekking
“Ek dink ek kan die vinnigste hardloop,” sê Trompie. “Ek sal gaan. Bly julle hier en praat Asjas moed in.”
Die ander stem saam met hom. Blikkies sê hy moet hol soos die wind – die outjie kan seker nie meer ordentlik asemhaal met sy kop so daar in die bedompige tonnel nie.
“Hoe voel jy, Asjas?” vra Trompie voor hy die pad bergaf vat. Hy wil ten minste weet hoe dit met die knaap gaan sodat hy vir die mense wat kom help, kan sê hoe ernstig dit is.
Asjas sing nou van ’n perdeby wat sy lollery moet laat staan. Maar hy los die perdeby om Trompie te antwoord.
“Ek voel oukei, maar ek word vaak!” skree die outjie. “Julle moet gou maak en my hier uitkry. Dis pikdonker.”
“Is die ding nog daar?”
“Ja, maar hy’s te bang om nader te kom.”
“Ek gaan haal gou hulp onder in die dorp, Asjas. Hou net moed!”
“Oukei, maar maak gou, Trompie.”
Almal bewonder die knaap se moed, veral Dawie. As hy halfpad in daardie donker tonnel moes vassit met ’n groot rot wat met blink oë na hom kyk, sou hy teen hierdie tyd sowaar al gehuil het.
Trompie los sy kussingsloop in die grot en is soos blits by die berg af. Wanneer hy onder kom, laat spaander hy deur die veld na die dorp toe. Boesman hardloop langs hom.
Trompie hou sy pet in sy hand vas. Sy hemp hang agter by sy broek uit en sy kouse lê op sy skoene.
Hy besluit om liewer nie na Asjas se huis toe te hardloop nie. Netnou word die outjie se ma sommer flou as hy vir haar vertel wat aangaan, en sy pa, wat natuurlik daar sal wees omdat dit ’n vakansiedag is, gee hom dalk ’n pak slae omdat hulle vir Asjas by die gat ingeprop het en hom nou nie kan uitkry nie.
Nee, besluit Trompie, hy gaan reguit polisie toe.
Die Grootkaptein is soos ’n warrelwind by die polisiestasie se hekkie in. Een van hul onderwysers, meneer Botha, staan op die stoep met die sersant en gesels.
Die sersant is ’n gesette man en ’n indrukwekkende figuur in sy blou uniform met die blink knope. Hy het so ’n weglêsnor waarvan die punte altyd tril terwyl hy praat. Trompie en sy vriende is maar skrikkerig vir hom. Wanneer die sersant hulle sien, wys hy altyd waarskuwend vir hulle vinger. Hy weet van al hulle kattekwaad.
Trompie se hart klop woes en hy hyg na asem. Die onderwyser en die sersant kyk hom nuuskierig aan.
“Wat wil jy hê?” vra die sersant met ’n bulderende stem. “Wat het jy nou weer aangevang?”
“Oom,” sê Trompie en haal diep asem, “Asjas is in ’n grot daar bo op die berg – en hy’s teen hierdie tyd seker al amper dood!”
“Wat makeer hom? Hoekom kom hy nie daar uit nie?”
“Hy kan nie. Hy sit in ’n tonnel vas.”
Die sersant kyk na die onderwyser en die onderwyser kyk na die sersant. Nee, besluit albei, Trompie sal dit darem seker nie waag om oor so iets met hulle die gek te skeer nie.
“Kom in en vertel my alles,” bulder die sersant vir Trompie.
Die onderwyser is ’n goeie vriend van die sersant en hy stap nou ook in. Hy wil hoor wat aangaan.
Die kinders noem meneer Botha Ou Tande omdat sy valstande altyd klapgeluide maak wanneer hy praat. Hy gee Afrikaans en geskiedenis by die hoërskool en hou ook vir Trompie en sy vriende skool. Sy stokperdjie is argeologie.
Ou Tande sit nou op ’n hoë stoeltjie langs Trompie voor die toonbank se afskorting. Die sersant sit agter die afskorting.
Trompie is baie haastig, maar hy moet nou eers tjoepstil sit terwyl die sersant op sy tyd ’n groot, dik boek oopslaan en ’n pen uit sy sak haal.
“Wat is jou naam?” vra die geregsdienaar.
“Trompie Toerien, maar Oom weet dit mos.”
“Ek het jou nie gevra om astrant te wees nie, mannetjie!” bulder die sersant en sy snorpunte tril.
“Nee, Oom.”
Trompie dink aan hoe Asjas daar in die tonnel in die donker met ’n gevaarlike dierasie by hom lê en seker al na asem snak. Die Grootkaptein besluit om nou sy sê te sê. Die polisie moet kom help. Daar is nie tyd om alles in die groot boek neer te skryf nie.
“Oom,” sê hy terwyl die sersant sy naam tydsaam in die boek neerskryf, en voor hy nog vrae kan vra, “ons moet gou maak, anders is Asjas sowaar vandag oorlede Asjas! Hy’t daar by die tonnel ingekruip, maar net sy bolyf het deur die gat gegaan en nou sit hy vas. Ons kan hom nie uittrek of instoot nie. En daar’s boonop glo ’n ding daar in die tonnel by hom. Dit het groot, blink oë en sit reg om arme Asjas te bevlieg.”
“Wie is Asjas?” vra die sersant. Dit lyk gelukkig nie asof hy die inligting wil neerskryf nie, want hy het sy pen neergesit.
“Dirkie van Gas, Oom, wat daar naby die laerskool bly.”
“Ek,” en klap-klap gaan die valstande, “ken sy,” klap, “ouers,” sê die onderwyser.
Trompie sug swaar. Gaan hulle nou sowaar eers oor Asjas se mense praat?
“Hoe het dit gebeur?” vra die sersant en klim stadig van sy hoë stoeltjie af.
Trompie vertel vinnig presies hoe en sê weer Asjas is teen hierdie tyd miskien al dood. “Ja-nee,” sê hy en sug swaar, “so dood soos ’n mossie.”
Die sersant stap na die polisiestasie se agterdeur toe en skree vir die tuinier om ’n pik en ’n graaf te bring. Dan maak hy ’n deur aan die kant van die aanklagkantoor oop en vertel vir twee jong konstabels wat daarbinne sit en werk wat gebeur het.
“Gaan saam met Trompie en kyk wat julle kan doen. Johannes bring vir julle ’n pik en ’n graaf.”
“Reg, Sersant,” sê die wakker konstabels tegelyk en sit hul pette vinnig op.
So ja, nou voel Trompie beter. Daar gebeur uiteindelik iets.
“Ek,” klap-klap, “dink ek moet ook saamgaan,” sê meneer Botha. “Ek,” klap, “wil graag die grot sien.”
Die groepie beweeg vinnig by die polisiestasie uit. Trompie en Boesman draf voor. ’n Paar tree agter die seun en die hond kom die twee jong konstabels met die tuinier se pik en graaf. ’n Hele paar tree agter hulle kom meneer Botha aan. Hy hardloop entjies, draf dan en stap dan weer. As hy te ver agter raak, hardloop hy gou weer om in te haal. Hy hou nie daarvan om aanhoudend te hardloop nie – dit is volgens hom onbetaamlik vir ’n senior onderwyser in Afrikaans en geskiedenis.
Die optog kom uiteindelik by die berg en en hulle begin dit sukkelend uitklouter. Trompie kyk kort-kort oor sy skouer en dan skree hy vir die konstabels: “Ons moet gou maak! Netnou is ons al te laat.”
Maar Trompie hoef nie bang te wees nie – inteendeel. Nadat hy by die grot weg is om hulp te gaan haal, het Rooie en Blikkies mismoedig langs die helfte van Asjas se agterwêreld gesit en luister hoe die outjie met sy bolyf in die tonnel dapper aanhou sing. Dawie het weer met sy tekeninge teen die rotswand aangegaan.
Dawie het ’n tydjie so gewerk en die ander twee het met donker gedagtes daar gesit. Toe hou Asjas skielik op met sing.
Dit is nou doodstil in die grot. Dawie teken nie meer nie. Rooie en Blikkies se koppe is skuins gedraai en hulle luister benoud. Hulle hoor niks nie.
Dan sê Rooie met ’n hees stem: “Asjas!”
Hy kry nie ’n antwoord nie.
Die drie seuns kyk met vrees in hul oë na mekaar. Rooie roep weer: “Asjas!”
Nog steeds geen antwoord nie.
Dan gil Rooie: “Asjas! Is jy dood?!”
Die drie luister aandagtig om te hoor wat die outjie op hierdie vraag gaan antwoord. Is hy nou dood of nie?
Ná ’n paar sekondes kreun Asjas en sê flou: “Natuurlik is ek nie dood nie. Ek probeer bietjie slaap.”
Rooie, Blikkies en Dawie slaak ’n sug van verligting.
“Wat het geword van daardie ding met die groot, blink oë?” vra Blikkies.
“Hy’t weggehardloop,” sê Asjas. “Ek sien hom nie meer nie.”
Die seuns glimlag. Asjas het so hard en so vals gesing dat die rot – as dit ooit ’n rot was – dit nie kon uithou nie en toe padgegee het.
Dawie is trots op sy tekeninge teen die rotswand. Hy spoeg in sy hande, maak modder met van die grond en smeer dit oor die gleuwe wat hy in die rots gekerf het.
“So ja,” sê hy tevrede, “dit lyk nou asof Boesmans dit lank gelede hier in die grot geteken het.”
Blikkies en Rooie kyk daarna, maar hulle is nie eintlik kunstig aangelê nie. Dit lyk vir hulle maar net soos ’n klomp strepe wat Dawie met die spyker op die rots getrek het. Hulle is glad nie beïndruk nie.
Dawie staan met die lang spyker in sy hand. Hy bewonder sy handewerk en wonder wat hy nog kan doen terwyl hulle hier vir hulp wag. Dan kom hy agter die rotswand waarin Asjas soos ’n slang vasgevang lê, lyk sag. As dit nie harde rots is nie, sal hy dit mos met die spyker kan loswoel. Miskien kan hy die gat dan groter maak sodat Asjas kan terugskuif en uitkom.
Dawie kap-kap met die spyker net bokant die outjie. ’n Groot stuk grond breek los en val op Asjas se sitvlak.
“Haai!” skree die knaap benoud terwyl hy sy agterlyf wild wikkel. “Wat maak julle?”
Die drie seuns lag. Hulle gaan Asjas sowaar loskry. Hoekom het hulle nie hieraan gedink voor Trompie gaan hulp soek het nie?
Dawie vertel vir Asjas wat hul plan is en sê hy moet net doodstil lê.
“Daar’s niks anders wat ek kan doen nie,” brom die dapper outjie. “Maar oppas dat julle my nie seermaak nie.”
Hulle verseker hom hulle sal nie. Dawie kap weer met die spyker se skerp punt teen die rotswand net bokant Asjas en stukke grond val op die outjie se sitvlak. Rooie en Blikkies vee die sand en kluite met hul hande van Asjas af.
“Dit gaan maklik en vinnig, ouens,” sê Dawie opgewonde toe hy weer ’n groot klont uitkap. “Asjas is nou-nou uit.”
En dit is ook so. Daar is gelukkig nie rots bokant die knaap nie en dit is nie lank nie of die gat is groot genoeg dat hy kan beweeg. Hy wikkel sy sitvlak eers en dan kruip hy versigtig soos ’n krap agteruit. Die res van sy sitvlak verskyn eers deur die opening, daarna sy maag en skouers – en toe sy kop. Asjas is vry.
Hy stof homself af en rek sy bene en arms ’n bietjie om seker te maak alles is in orde. Hy vind vinnig uit hy makeer niks nie en lag dan heerlik saam met Rooie, Blikkies en Dawie.
Die vier besluit dit sal nie help om nou dorp toe te hardloop om vir Trompie te gaan sê alles is reg nie. Hy is seker al op pad met die hulp wat hy gaan haal het. Hulle moet maar hier vir Trompie wag.
“Ek wed julle hy gaan weer dink dis ’n spook as hy Asjas sien,” sê Blikkies laggend.
Dit is nou al byna etenstyd en die seuns is honger. Hulle kry hout en begin ’n vuur voor die grot maak. Hulle gaan vleis braai. Trompie sal seker ook honger wees wanneer hy terugkom.
Toe Trompie-hulle halfpad teen die berg uitgeklouter het, kyk hy op en sien dik rookdampe waar hy dink die grot min of meer is. Hy staan fronsend en wonder wat op aarde aangaan. Hy hoop net nie die ding met die groot, blink oë het vir Asjas aangeval en dat Rooie, Blikkies en Dawie toe so onnosel was om ’n vuur in die grot te maak om die ding daar uit te rook nie. As hulle dit doen, sal Asjas mos nie kan asem kry nie. Maar nee, besluit hy, hulle sal darem seker nie so simpel wees nie.
Trompie kan glad nie dink watter rookwolke dit is nie. Hy stap vinnig tussen die struike deur na die rotswande waar die voetpaadjie begin. Die twee konstabels kom kort agter hom aan. Hulle lyk moeg en gaan staan kort-kort. Hulle lig hul pette om bietjie af te koel en vee met die agterkant van hul hande die sweet van hul voorkoppe af. Dan tel hulle die pik en graaf weer op en loop verder.
Meneer Botha kom ’n hele entjie agter die konstabels aangesukkel. Die sweet stroom by sy voorkop af. Sy hare is nat en deurmekaar en sy hemp hang net soos Trompie s’n agter by sy broek uit. Hy dra soos gewoonlik ’n pak en dit is allesbehalwe gemaklike klere vir bergklim.
Ou Tande is nou spyt hy het saamgekom, maar ’n mens weet nooit. Wanneer die mannetjie wat vassit eers gered is, wil hy die grot deursnuffel en kyk of hy nie dalk op ’n argeologiese vonds afkom nie. Hy pluk sy das nog losser, klap-klap ’n paar keer met sy valstande om hulle gemakliker te laat sit, en stryk weer moedig aan.
Rooie, Blikkies en Dawie sit langs die vuur wat hulle voor die grot in die koelte van ’n groot doringboom gemaak het. Elkeen het ’n stuk vleis aan ’n mikstok wat hulle oor die vuur hou. Asjas se stuk vleis lê op ’n klip langs die vuur. Hy is besig om vir hom ’n mikstok te sny.
Toe Trompie uiteindelik by die steil voetpaadjie kom wat langs die rotsagtige bergtop na die oopte met die doringbome voor die grot lei, is Asjas die eerste een wat hy sien.
Die knaap het net mooi ’n mik uit ’n boom gesny en die tak het voor hom geval. Hy buk en tel dit op. Toe hy opkyk, kyk hy reg in Trompie vas. Die Grootkaptein staan en gaap hom oopmond aan. Hy kan sy oë nie glo nie. Sien hy sowaar al weer ’n spook?
“Haai,” sê hy. “Waar … waar kom jy vandaan?”
As Asjas nou moet sê hy kom uit die doderyk, weet Trompie sowaar nie. Maar gelukkig het die outjie nie so ’n soort humorsin nie, of liewer, hy is nog te jonk om aan so ’n antwoord te dink.
“Haai,” groet hy Trompie. “Hoekom het jy so lank weggebly? Ek is lankal daar by die tonnel uit.”
“Hoe het jy uitgekom?” Trompie is nou nie meer bang nie. Hy kan sien Asjas is nie ’n spook nie. Maar die Grootkaptein is bekommerd. Wat gaan Ou Tande en die twee konstabels wat so swaar aan die pikke en grawe dra, sê as hulle sien die kind wie se lewe hulle kom red het, makeer niks nie?
Asjas vertel hoe Dawie die gat met sy spyker groter gemaak het en hoe hy toe met sy voete en agterwêreld eerste kon uitkruip.
“Jissou,” sê Trompie, “wat gaan ons nou doen?” Hy draai sy kop en hoor hoe die konstabels en die onderwyser hande-viervoet teen die steil voetpaadjie uitklouter.
“Daar’s net een manier,” sê die Grootkaptein skielik beslis. “Jy moet gou weer by die tonnel inseil sodat hulle jou kan red.”
“O nee!” Asjas retireer. “Jy kry my nooit, ooit weer daarin nie!”
“Maar jy moet net!” pleit Trompie. “Anders gaan die konstabels en Ou Tande my lewendig afslag. Om nie eens te praat van die sersant as hy my in die hande kry nie.”
“Maar hulle behoort mos bly te wees hulle hoef nie hard te werk om my los te kry nie,” sê Asjas. Dit is duidelik dat niemand hom weer daar by die tonnel gaan inkry nie – selfs nie eens met geweld nie.
Trompie besef ook nou dit sal nie eintlik help as Asjas weer by die tonnel inkruip nie. As die ingang groter is, sal die konstabels mos dadelik sien die outjie kon self uitgekom het as hy net wou. Trompie hoor die konstabels is nou reg onderkant die plato. Hy sug swaar en sê: “Toemaar, Asjas, ons moet maar die beste van die saak maak.”
Die Grootkaptein se woorde is skaars koud toe die twee konstabels se natgeswete gesigte oor die rand van die plato verskyn.
Hulle lig hul pette en vee hul gesigte met groot sakdoeke af. Dan sien hulle die twee seuns en die een konstabel sê: “Toe, Trompie, hoe lyk dit my jy’s moeg. Stap aan, dat ons die outjie gaan red.”
Trompie sluk. Hy stamel: “Oom … Oom sien … die saak staan so …”
“Wat is dit met jou?” vra die ander konstabel fronsend. “Ons is haastig. Die seun se lewe is in gevaar.”
Die twee konstabels tel die pik en graaf op om verder te stap en dan verskyn meneer Botha kreunend en steunend agter hulle.
“Waar’s die grot?” bulder die eerste konstabel. Hy wil nie tyd mors nie. Daar is ’n lewe in gevaar en hulle gaan die seun in nood red. Wie weet, miskien verskyn hul foto nog in die koerante en dan kry hulle dalk bevordering.
“Die grot is daar,” sê Trompie en wys oor sy skouer. “Maar dis nie meer nodig om soontoe te gaan nie.”
“Hoekom nie?” vra die tweede konstabel, en die eerste een lyk net so agterdogtig soos hy. Dit lyk vir Trompie of hulle sommer regstaan om boeie om sy gewrigte te slaan en hom in hegtenis te neem.
Maar ’n ander gedagte het by die onderwyser opgekom. Voor Trompie kan antwoord, sê meneer Botha hygend: “Is die seuntjie dood?”
Die polisiemanne lyk nou nie meer so kwaai nie. Hulle het nie daaraan gedink nie. As die outjie dood is, gaan die sersant hulle dalk kwalik neem omdat hulle te stadig was. Dan is hul bevordering na die maan.
“Is hy dood, hè?” vra die eerste konstabel kortaf.
Trompie sluk.
“Komaan, praat!” beveel die tweede konstabel.
“Nee, nee, hy is nie dood nie … Hy is …” En dan wys Trompie met ’n vuil wysvinger na Asjas “Hy’s hier!”
Daar heers ’n paar oomblikke lank doodse stilte.
Die konstabels staar mekaar uit die veld geslaan aan. Dan kyk hulle stip na Trompie en trek hul oë op skrefies.
Die eerste konstabel se stem is kil wanneer hy sê: “Verstaan ons jou reg? Is dít die knaap wie se lewe ons moes kom red het?” Hy wys na Asjas, wat sy bes probeer om te lyk asof botter nie in sy mond sal smelt nie. Hy het mos niks verkeerd gedoen nie.
“Ja, Oom-hulle verstaan my reg,” antwoord Trompie benoud. “Maar laat ek verduidelik.”
“Jou verduideliking sal uiters bevredigend moet wees, kêreltjie,” sê die tweede konstabel uit die hoogte. “Anders trek ons vandag jou velle van jou lyf af.”
Trompie wil nie sy velle van sy lyf afgetrek hê nie. Maar dan dink hy daaraan dat hy eintlik niks te vrees het nie. Hy het mos niks verkeerd gedoen nie. Maar nogtans, die polisie kan partykeer moeilik raak. Hulle sluit ’n ou sommer op. Trompie sien al hoe hy weke lank snags in ’n sel gaan slaap en bedags moet klippe kap.
Die Grootkaptein begin verduidelik. Hy vertel hoe hy en sy vriende besluit het hulle moet hulp inroep toe hulle besef Asjas verkeer in lewensgevaar. En Kwaggaberg se polisie is mos bekend daarvoor dat hulle altyd blitsvinnig optree as iemand in gevaar verkeer.
“Daarom het ek reguit polisiestasie gehardloop, sonder om te weet dat …”
“Ons wil weet hoe die mannetjie nou lewensgroot hier voor ons staan as hy amper dood was toe jy hulp gaan haal het,” val die eerste konstabel Trompie in die rede.
“Dis wat ek nou vir Oom-hulle wil vertel,” sê die Grootkaptein effens gegrief.
“Nou vertel dan,” sê die tweede konstabel, “en moenie ons tyd staan en mors nie.”
Trompie vertel hoe sy drie vriende wat in die grot by Asjas agtergebly het, uiteindelik aan die plan gedink het om die gat waarin hy vasgesit het, oop te kap en hoe die knaap toe losgekom het.
Die polisie kyk peinsend na Trompie. Dan sê die tweede konstabel: “Ek wonder of jy my die waarheid vertel.”
Die Grootkaptein vererg hom nou, al probeer hy om dit nie te wys nie. Hy staan trots en regop met sy vuiste effens gebal langs sy sye, en sê trots: “Ek vertel nooit ’n leuen nie, Oom. Ek is ’n verkenner!”
“Ons kan vir Oom-hulle die gat gaan wys waar ek amper lewendig begrawe was,” sê Asjas nou, “as Oom-hulle dit graag wil sien.”
“Ja, ons wil dit sien,” sê die eerste konstabel.
“Ons moet ’n volledige verslag indien,” sê die tweede een.
“En ek sal die grot graag wil bekyk,” sê Ou Tande.
Trompie en Asjas stap voor en die ander volg hulle. Toe hulle naby die grot kom, skree Rooie, Blikkies en Dawie: “Haai, Trompie!”
Die Grootkaptein groet terug. Sy vriende kyk met groot oë na die konstabels met die pik en die graaf en meneer Botha. Hulle wonder wat die onnie hier soek.
Die konstabels sit die tuingereedskap neer en dan neem Trompie hulle en meneer Botha by die grot in.
Hy wys vir die drie mans die ingang na die tonnel. Daar lê nou baie sand en kluite rond. Hy kan duidelik sien hoe sy vriende gegrawe het om die opening groter te kry.
“Sien Oom-hulle,” sê Trompie. Dan onthou hy hy het skoon van die onderwyser vergeet en voeg by: “En sien Meneer – dis waar Asjas vasgesit het.”
Die mans knik en die konstabels lyk nie meer so kwaai nie. Hul bevordering is wel na die maan, maar dit is tot daarnatoe.
Buite maak die eerste konstabel ’n paar aantekeninge in sy sakboekie. Dan sê hy vermanend: “Julle mannetjies probeer nie weer om by daai tonnel in te kruip nie, hoor! Verstaan julle?”
Die seun verseker hom hulle verstaan. Hulle – en veral Asjas – het nie die vaagste begeerte om weer daar in te kruip nie.
“Hoe lyk dit daar, meneer Botha?” skree die tweede konstabel oor sy skouer na die onderwyser wat in die grot agtergebly het om die rotswande te bekyk.
“Net ’n oomblik,” kom die onderwyser se stem opgewonde. “Net ’n oomblik … Hier is iets merkwaardigs!”
Die polisiemanne en seuns kyk fronsend na mekaar. Wat kan so merkwaardig daar in die grot wees? Hulle het niks buitengewoons opgemerk nie.
“Kom kyk hier!” sê die onderwyser nou en hy klink nog meer opgewonde.
Die konstabels gaan vinnig by die grot in met die seuns agterna.
Meneer Botha staan voor die rots waarop Dawie die tekeninge met die skerp spyker gemaak het. Die onderwyser se gesig straal van vreugde.
“Sien julle wat ek sien?” vra hy opgewonde.
Almal kyk na die tekeninge waarna meneer Botha wys. Dawie glimlag trots. Vir Trompie, Rooie, Blikkies en Asjas is dit miskien net ’n klomp strepe wat geen betekenis het nie, maar nie vir meneer Botha nie!
Die konstabels kyk fronsend na Dawie se kunswerk, en vir hulle is dit ook maar net ’n spul strepe. Hulle kan nie verstaan waaroor die onderwyser so opgewonde raak nie.
Voor die polisie kan vra wat so besonders aan die strepe is, sê meneer Botha met ’n plegtige stem, soos Dominee op Sondae: “Ons ou dorpie, Kwaggaberg, gaan ewige roem geniet! Hierdie dag sal nooit in die geskiedenis van ons land vergeet word nie!”
Die konstabels se oë is nou groot en hulle kyk verbaas na die onderwyser. Trompie kyk rond. Hy kan nie verstaan wat aangaan nie. Afgesien van die strepe wat Dawie op die rotswand geteken het, is daar niks noemenswaardigs in die grot nie – en vir die Grootkaptein is daardie strepe ook nie noemenswaardig nie. Om die waarheid te sê, hy dink nie eens hierdie ou grot is ’n behoorlike grot nie. ’n Ordentlike grot is een soos dié waarvan ’n mens in storieboeke lees – ’n gevaarlike plek vol geheime waar skurke skuil en ’n geheime skat begrawe is.
Die konstabels kyk aandagtig na Dawie se tekeninge. As dit dan so ’n plegtige oomblik is wat Kwaggaberg ewige roem gaan besorg, is dit miskien hul kans om daardie bevordering waarna hulle so smag uiteindelik te kry. Hulle weet net nie wat dit is wat hul dorpie beroemd gaan maak nie. Om eerlik te wees, hulle het nie die vaagste benul waarvan die onderwyser praat nie – en nog minder het Trompie, Rooie, Blikkies en Asjas.
Meneer Botha kyk nog steeds stip deur sy bril na Dawie se tekeninge. Dan voel-voel hy met die punte van sy vingers oor die gleuwe.
“Merkwaardig! Merkwaardig!” prewel hy. “Dit is ’n vonds wat argeoloë regoor die wêreld in ekstase sal hê.”
Jissie, dink Dawie, hy het geweet hy kan goed teken, maar hy het darem nie geweet hy is só goed nie!
“Wat presies is dit, meneer Botha?” vra die een konstabel nou reguit. Hy brand van nuuskierigheid.
“Laat ek verduidelik,” begin meneer Botha. Die seuns staan nader. Hulle brand ook van nuuskierigheid.
Ou Tande vertel dat argeologie sy stokperdjie is, maar dit is ou nuus vir Trompie-hulle. Hulle weet die onderwyser het al honderde grotte in Suid-Afrika, Europa en Noord- en Suid-Amerika verken. Hy vertel nou ook trots hy is die skrywer van ’n boek oor argeologie en meer spesifiek oor hoe ’n mens sekere inheemse stamme se rotstekeninge kan interpreteer.
Trompie en sy vriende en die konstabels knik ernstig kop terwyl die onderwyser na hulle kyk. Hulle maak asof hulle nie net van die boek weet nie, maar dit selfs ook gelees het.
“Nou sien julle dié tekeninge hier in die grot?” vra meneer Botha en wys na Dawie se pogings tot Boesmankuns. Almal knik weer. Hulle sien die tekeninge – as ’n mens die strepe tekeninge kan noem, dink Trompie.
“Wel, hierdie tekeninge is presies dieselfde as wat in Suid-Amerikaanse grotte gevind is,” kondig die onderwyser aan en sy gesig straal van opwinding. “Tekeninge wat die Inkas meer as tweeduisend jaar gelede gemaak het.”
Almal kyk aandagtig na die strepe op die plat rotswand. Dawie frons. Hy wonder of die tekeninge wat hy in sy geskiedenisboek gesien en hier probeer naboots het, dan ’n afdruk van die Inkas se tekeninge was. Miskien. Hy weet nie.
“Hierdie tekeninge is meer as tweeduisend jaar gelede deur Inkas gemaak,” sê Ou Tande, wie se tande van skone ekstase nog nie een keer geklap het nie, en streel eerbiedig met sy hand oor die strepe. “Besef julle wat dit beteken?”
Die konstabels en seuns staar hom met oop monde aan. Hulle weet duidelik nie wat dit beteken nie.
“Hierdie is die bewys waarna wetenskaplikes jare lank al soek dat daar geen oseane tussen vastelande was nie,” verklaar die onderwyser plegtig. “En dit was nie miljoene jare gelede nie – dit was so onlangs soos tweeduisend jaar terug.”
Nugter alleen weet hoe ’n mens tweeduisend jaar gelede as onlangs kan beskryf, maar Trompie luister aandagtig. Hy wonder wat Ou Tande en die konstabels sal sê as hy nou terloops moet sê Dawie het die strepe vandag op die rots geteken terwyl Asjas in die tonnel vasgesit het.
Hierdie gedagte is nou duidelik op al die seuns se gesigte te lees. Hulle kyk na mekaar, dink ’n oomblik na en knipoog dan. Hulle gaan stilbly. Hulle het mos nie gesê dit was Inkas wat die strepe tweeduisend jaar gelede geteken het nie. Dis die onderwyser wat so sê – en hy klink so geesdriftig dat hulle hom nie wil teleurstel deur te sê dit was Dawie nie.
Nee, hulle sal stilbly. Dit lyk of dié storie nogal vet pret kan wees.