Читать книгу Trompie Omnibus 8 - Topsy Smith - Страница 6
1
Оглавление’n Heerlike vakansiedag
“Weet julle wat?” vra die sestienjarige Trompie, en kyk ingedagte na sy ingeduikte skoenpunt wat in so ’n toestand is omdat hy gedurig na klippe, blikke en graspolle loop en skop.
Sy drie vriende, Rooie, Blikkies en Dawie, kyk peinsend na hom. Dan skud al drie hul koppe. Nee, hulle weet nie wat nie.
“Wil julle graag weet?” vra Trompie. Die drie knik nou hul koppe. Ja, hulle sal nogal graag wil weet.
“Wat wil julle weet?” vra Trompie en die ondeunde sproetgesig glimlag.
“Jy’t mos gevra of ons weet wat,” brom Rooie, en voeg by: “Probeer jy miskien snaaks wees, hè?”
Blikkies en Dawie wil nou ook weet of Trompie probeer snaaks wees.
“Natuurlik nie,” sê Trompie. Hy probeer verbaas lyk dat hulle oor so iets kan wonder. “Ek vra maar net: ‘Weet julle wat?’ Dis al.”
“Wel, ons weet nie,” brom Rooie. “Sê ons nou wat jy wil sê.”
“Al wat ek wil sê,” sê Trompie gemaak gedwee, “is dat môre ’n vakansiedag is. So daar’s nie skool nie.”
Sy drie vriende kyk met vies uitdrukkings op hul gesigte na hom.
Dan sê Blikkies: “Dink jy miskien ons het dit nie geweet nie?”
“Ek het geweet julle het geweet,” sê Trompie, “maar ek het gedink julle het gevergeet.”
Al drie verseker hom hulle het allesbehalwe, om sy woord te gebruik, gevergeet.
“Wel, wat gaan ons môre doen?” vra Trompie en vryf sy hande in die lug. Sy hele houding gee te kenne dat hy wil hoor wat hulle voorstel, maar hy het natuurlik reeds self besluit wat hulle die volgende dag gaan doen.
Die vier vriende kuier saam in Rooie se buitekamer. Trompie sit agterstevoor op ’n stoel. Hy het eenkeer in ’n fliek gesien hoe die cowboyheld elke slag wanneer hy gaan sit, die stoel omswaai sodat die rugkant voor hom is. Dan gaan sit hy wydsbeen oor die stoel en leun met sy arms en skouers teen die rugleuning. Trompie het van dié fliek en sy held gehou, en van toe af sit hy ook so op ’n stoel wanneer hy nie by die huis is waar sy ma hom daaroor kan aanspreek nie.
Soos gewoonlik lê Trompie se kouse op sy skoene en sy hemp hang by sy broek uit. Sy skoolpet sit windmakerig skeef op sy ongekamde boskasie. Hy kyk nou na sy vriende wat kastig ernstig sit en dink oor wat hulle môre op die vakansiedag gaan aanvang.
Hier op die dorpie Kwaggaberg waar hulle woon, is die vier bekend as die Boksombende. Trompie praat altyd van die beroemde Boksombende, maar baie Kwaggabergers noem hulle die berugte Boksombende.
Die vier seuns is al maats vandat hulle saam in graad vier in Kwaggaberg se laerskool was. Hulle het die Boksombende toe reeds gestig. Vandag is hulle in graad tien en in Hoërskool Kwaggaberg. Trompie, Rooie en Blikkies is dieselfde ouderdom, maar die hoogs intelligente Dawie is twee jaar jonger en nogtans in dieselfde klas as hulle.
Dawie sit op die bed en dink glad nie aan wat hulle môre kan doen nie. Trompie se hond, Boesman, lê op die matjie voor die bed en Dawie is besig om Boesman se maag met sy skoenpunt te kielie. Hy wil gaag sien hoe lyk ’n hond as hy lag. Dawie kan nie onthou dat hy al ooit ’n laggende hond gesien het nie. Maar Boesman lag nie. Hy tok-tok net met sy stert teen die vloer.
Rooie dink ook nie oor die gewigtige vraag van wat hulle môre gaan doen nie. Hy is soos gewoonlik kaalvoet. Hy wikkel sy tone en hou hulle noukeurig dop. Hy probeer sy tone op so ’n manier wikkel dat die groottone glad nie roer nie, maar dit is moeilik. Elke keer wanneer hy wil skree: “Ditsem! Ek het dit reggekry!” begin sy groottone ook beweeg.
Rooie – hy het natuurlik rooi hare – is ’n sterkgeboude kêrel wat Trompie deur dik en dun sal volg en bystaan.
Trompie is die Boksombende se Grootkaptein en Rooie erken dit deesdae. Daar was ’n tyd toe hy nie tevrede daarmee was nie, maar toe gryp hy en Trompie mekaar eendag en die Grootkaptein gee vir hom ’n prag van ’n blouoog. Nou aanvaar Rooie vir Trompie as hul leier.
Rooie glo iemand wat hom so in ’n geveg op sy plek kan sit, is ’n ou wat ’n mens deur dik en dun kan volg. En dit is presies wat hy doen. As Trompie die een of ander kattekwaad voorstel, is Rooie altyd die eerste een wat sê: “Orraait, Trompie, laat ons weg wees!”
Blikkies, die ander lid van die Boksombende, dink ook nie oor wat hulle op die vakansiedag gaan doen nie. Hy ken vir Trompie en weet die Grootkaptein het reeds op iets besluit en gaan nou-nou vir hulle sê wat dit is.
Nee, Blikkies sit en dink nie. Hy sit sommer net. Sy oë is half toe en dit lyk of hy sit en slaap. Net sy kakebene beweeg ritmies op en af soos hy aan ’n grashalmpie kou.
Blikkies is lank en skraal. Hy het sy bynaam op laerskool gekry omdat sy kniekoppe altyd soos twee blikke teen mekaar gestamp het as hy in die klas opstaan. Die kinders wou natuurlik tydig en ontydig hê Blikkies moet uit sy bank uit opstaan sodat hulle kon lag.
Blikkies praat stadig en half luierig, en hy is die een wat alewig beswaar maak as Trompie die een of ander kwajongstreek voorstel. Die ander drie steur hulle nooit aan sy besware nie, en Blikkies verwag dit ook nie van hulle nie. Hy doen dit net ingeval daar iets verkeerd loop, want dan kan hy vir die ander sê: “Sien, ek het julle mos gesê.” Nadat hy beswaar aangeteken het, is Blikkies altyd meer as bereid om aan die kattekwaad deel te neem, want hy voel sy gewete is dan skoon.
Dit is stil in die kamer. Die vier vriende sit kastig en dink. Blikkies draai sy kop en spoeg die grashalmpie waaraan hy gekou het met ’n boog deur die lug en by die venster uit. Blikkies kou altyd. Wanneer sy geldsake nie te benard is nie, kou hy kougom. As hy platsak is, en dit is gewoonlik die geval, kou hy grashalmpies.
Trompie kyk vies na Blikkies toe hy die grashalmpie so sierlik uitspoeg.
“Dink jy nie, hè?” snou Trompie hom toe.
“Ek dink, ja,” antwoord Blikkies stadig en lui.
“Hoe kan jy dink én spoeg?” wil Trompie weet.
“Dis maklik,” kap Blikkies terug. “Maar dis in elk geval nie vir my nodig om te dink wat ons môre gaan doen nie.”
“Hoekom nie?”
“Omdat jy al klaar daaroor gedink het.”
Rooie en Dawie stem saam met Blikkies. Hulle is seker die Grootkaptein het al klaar gedink wat hulle môre gaan doen. Hulle ken hom mos.
Trompie lag en sê: “Ek wou maar net hoor of een van julle dalk ’n beter voorstel as ek het.”
“Ons sal nie weet of ons ’n beter een het nie,” sê Dawie en sy wakker oë glinster, “as ons nie hoor wat jou voorstel is nie.”
“Hoe kan julle weet of julle ’n beter voorstel het as nie een van julle een gemaak het nie?” wil Trompie weet.
Rooie wikkel sy tone weer om te sien of hy hulle kan beweeg sonder om sy groottone te laat roer. Blikkies het intussen by die venster uitgeleun en ’n grashalmpie uit ’n graspol gepluk. Hy kou nou smaaklik daaraan. Die argument tussen Trompie en Dawie word gans te ingewikkeld.
“Orraait, ons het nie ’n voorstel nie,” brom Rooie, en hy lyk vies omdat hy sy groottone nie kan stilhou as sy ander tone beweeg nie. “So sê vir ons wat’s jou voorstel.”
“Ja, wat doen ons môre?” vra Blikkies ook. Hy versit die grashalmpie waaraan hy kou behendig van die een kies na die ander.
“Ek is moeg daarvoor om altyd die een te wees wat die dinkwerk moet doen,” sê Trompie en wieg-wieg effens op die stoel waarop hy sit. “As ek dit vir julle los, sal ons môre die hele dag net hier sit en niks doen nie. Maar luister nou mooi, ek het ’n goeie voorstel.”
Dawie hou op om Boesman se maag te kielie. Dis sommer ’n simpel hond, dink hy. Die ding kan nie eens lag nie. Rooie se tone is nou stil en Blikkies lyk nie meer asof hy half aan die slaap is nie. Hulle luister mooi – hulle wil graag hoor wat Trompie se voorstel is.
“Soos julle weet, is dit môre vakansie en …”
“Ons het dit al ’n honderd keer by die skool gehoor,” val Blikkies Trompie in die rede, “en jy het dit vandag ook al ’n paar keer gesê.”
Die Grootkaptein sê niks. Hy gluur Blikkies net woes aan, want hy hou nie daarvan dat iemand hom in die rede val wanneer hy so ernstig praat nie. Trompie wikkel sy sproetneus om te wys hy is nou omgekrap.
Dan gaan hy voort: “Soos ek gesê het, julle weet môre is ’n vakansiedag.” Trompie kyk kwaai na Blikkies asof hy sy vriend uitdaag om hom weer in die rede te val, maar dié keer doen Blikkies dit nie. Inteendeel, dit lyk asof Blikkies belangstelling in die gesprek verloor het. Hy sit-lê op sy stoel en sy oë is half toe. Sy kakebene beweeg ritmies op en af soos hy kou.
“Ja-nee, môre is ’n vakansiedag,” herhaal Trompie aspris, “en ek het gedink dis sommer nonsens om heeldag hier rond te sit en niks doen nie. Toe het ek besluit ons kan gaan kampeer.”
Die Boksombende sit nou regop, Blikkies ook. Sy oë is nie meer half toe nie.
“Waar?” vra Rooie.
Trompie het hierdie vraag verwag en sê tevrede: “In die kloof. Ons gaan nie net swem en dan weer terug huis toe kom nie. Ons gaan die hele dag daar bly.”
“Dan kan jy nie sê ons gaan kampeer nie,” sê Dawie. “Sê eerder ons gaan piekniek hou.”
“Wat is die verskil, hè?” brom Trompie.
Maar voor Dawie kan antwoord, sê Blikkies: “Jy bedoel ons gaan vroeg in die oggend en kom eers laat die middag terug?”
“Dis reg, Blikkies.” Trompie vryf sy hande weer in die lug. “Ons gaan swem, en dan gaan ons teen die berg opklim en daar in die grotte rondkyk.”
“Wat gaan ons eet?” wil Rooie weet.
“Kos, natuurlik!” snou Trompie hom toe.
Dan verduidelik hy verder. Hulle vier moet by hul ouers toestemming vra om die hele dag in die kloof deur te bring, en hulle moet kos saamvat. Trompie voel elkeen van hulle moet baie kos saamneem omdat hulle baie honger gaan word.
Tompie se vriende hou van sy plan om die hele dag in die kloof deur te bring. Die vier van hulle kan ’n baie lekker tyd daar hê. Hulle kan swem, al is die water al ’n bietjie koud, die grotte heel bo teen die berg deeglik verken en sommer net na hartelus baljaar. Hulle gaan mos baie tyd hê as hulle die hele dag lank daar in die kloof bly.
Rooie stel nou voor hulle moet wors en vleis saamvat om te braai. As ’n mens kampeer, moet jy mos vuur maak en iets oor die kole gaarmaak. Die ander stem saam met hom.
Die dorpie Kwaggaberg lê aan die voet van die berge. Die Boksombende gesels opgewonde oor die dag wat hulle in die kloof en teen die berg gaan deurbring.
Alles word sorgvuldig beplan. Elkeen moet presies weet wat hy moet saamvat. Dawie skryf die vinnigste en hy maak ’n lys van wat hulle gaan nodig hê.
Die lys word later so lank dat dit lyk asof hulle nie net een dag nie, maar sommer ’n hele paar maande daar in die kloof gaan deurbring.
Nadat die lys klaar opgestel is, sê Trompie skielik: “Jissie, amper het ons dit vergeet!”
“Wat?” vra Dawie. “Wat het ons amper vergeet?”
“Vuurhoutjies, natuurlik! Hoe dink julle gaan ons vuur maak?”
Dawie skryf dit vinnig neer. Rooie wens Trompie van harte geluk dat hy daaraan gedink het. Hulle sou doodgegaan het van die honger daar in die kloof as Trompie nie aan die vuurhoutjies gedink het nie. Hulle kan mos nie rou vleis en wors eet nie.
Die seuns is hoog in hul skik. Die lys is volgens hulle so volledig soos kan kom en hulle gesels nou opgewonde oor die lekker dag wat môre vir hulle voorlê.
Skielik hoor hulle ’n harde fluit. Dit is ’n hoë noot afgewissel met ’n lae een. Dit is die Boksombende se sein!
Die vriende kyk verbaas na mekaar. Die Boksombende bestaan net uit vier lede en hulle is mos al vier hier. Trompie is so verbaas toe hy hul sein hoor dat hy hulle onwillekeurig tel. Ja-nee, hy is tevrede – al vier lede van die Boksombende is hier in Rooie se kamer.
Die hele Kwaggaberg ken die Boksombende se sein, maar niemand sal dit ooit waag om so te fluit nie.
“Wie op aarde kan dit wees?” vra Dawie die vraag wat duidelik op almal se gesigte gelees kan word.
Die seuns spits hul ore, dan hoor hulle weer die fluit – ’n duidelike hoë noot wat met ’n lae een afgewissel word. En dit klink nou sommer naby. Dit kom van die sypaadjie voor die huis af.
“Kom, manne!” sê Trompie. Hy spring op en klouter deur die venster. Sy manskappe kom. Hulle is kort op sy hakke.
Die vier nael in die tuinpaadjie langs die huis af na die voorhekkie toe. Terwyl hulle so hardloop, hoor hulle die een weer fluit. Nou hardloop hulle nog vinniger. Die Grootkaptein se vuiste is gebal.
Trompie is al naby die hekkie toe ’n seun agter die heining aan die sypaadjie se kant te voorskyn kom en dit oopmaak.
Die Boksombende se lede is nou by die knaap. Hulle gluur hom blasend aan. Hy kyk na hulle en sê dan “Haai!” asof hy niks verkeerd gedoen het nie.
Die vier vriende ken die negejarige seun voor hulle goed. Sy naam is Dirkie van Gas, maar almal op Kwaggaberg noem hom sommer Asjas. Hy is in graad vier in die laerskool, en Trompie-hulle beskou hom as ’n stout klein karnallie. Hulle moet hom altyd probeer ontwyk, want hy wil gedurig by hulle wees. Die Boksombende het al geleer dié koddige sproetgesig is nogal onverskrokke en astrant.
“Vir wie sê jy haai?” vra Trompie en gluur kwaai na Asjas. Hy haal nog hard asem omdat hy so vinnig gehardloop het.
“Vir julle, natuurlik.” Asjas glimlag vriendelik. “Ek groet maar net.”
“Huh,” is al antwoord wat hy by Trompie kry. Die ander drie antwoord nie eens nie. Hulle gluur hom net woes aan.
“Het jy gefluit?” Trompie wikkel sy sproetneus om vir die knapie te wys hy is lelik omgekrap.
“Ek het gefluit, ja,” sê Asjas.
“Ons sein?”
Asjas se voorkop is nou geplooi soos hy hieroor nadink. Dan sê hy: “Wie’s ons – en wat’s ’n sein?”
Trompie kyk agterdogtig na die outjie voor hom. Hy wonder of die mannetjie miskien met hom, die Boksombende se Grootkaptein, probeer gekskeer. Nee, Asjas is dapper, maar nie so dapper nie. Hy sal dit darem seker nie waag om so iets te doen nie.
“Het jy só gefluit?” vra Rooie en fluit die Boksombende se sein.
“Ja,” sê Asjas en glimlag weer vriendelik. “Dis hoe ek gefluit het.”
“Hoekom?” vra Trompie bars. Hy druk ’n vuil wysvinger onder die knapie se neus en voeg by: “As jy lieg, bars jy!”
Asjas kyk fronsend na hulle. Sy houding maak dit duidelik dat hy glad nie verstaan hoekom hulle so kortaf en kwaai met hom is nie.
“Ek vertel nooit ’n leuen nie, Trompie,” sê hy uiteindelik uit die hoogte. “Ek het so gefluit omdat ek gehoor het julle fluit so as julle mekaar soek. Dis hoekom ek dit gedoen het. Julle doen dit mos altyd.”
Trompie en sy vriende kyk na mekaar. Dit lyk asof hulle Asjas glo. Hy het die misstap onwetend begaan. Hy weet dan nie eens wat die woord “sein” beteken nie.
“Daardie fluit is net vir ons wat lede van die Boksombende is,” sê Trompie streng. “Jy fluit nie weer so nie, verstaan?”
“Ek het dit maar net gedoen omdat ek julle gesoek het,” sê Asjas, en voeg dan mompelend by: “Dis mos ’n vry land.”
“Wat het ’n vry land daarmee te doen?” wil Dawie weet.
“In ’n vry land kan jy fluit soos jy wil,” sê Asjas en kyk parmantig na Dawie. Dit is amper asof hy te kenne wil gee hy is nie bang vir Dawie, wat maar tengerig gebou is, nie. Dawie sien hoe kwaai die sterk laerskooloutjie hom aankyk en besluit dit sal die beste wees om niks verder te sê nie.
“’n Vry land ofte nie,” sê Trompie en tik-tik met sy vuis op Asjas se bors, “jy fluit nie weer so nie.”
Asjas sê niks hierop nie. Dit lyk of Trompie reg staan om hom te klap as hy weer terugpraat.
Trompie sien die knaap het geskrik en lyk nie meer so astrant nie. Hy klink nie meer so kwaai nie toe hy sê: “Hoekom soek jy ons?”
“Ek wou maar net gevra het of julle weet daar’s nie môre skool nie.”
“Natuurlik weet ons dit!” snou Trompie hom toe. “Lyk ons miskien vir jou soos swape, hè?”
Asjas skud sy kop vinnig. Hulle lyk beslis nie vir hom soos swape nie.
“En as julle weet daar’s nie môre skool nie,” sê die outjie, “wou ek maar net gesê het ek’t aan ’n plan gedink.”
Die Boksombende kyk aandagtig na die seun voor hulle.
“Nou toe nou, die mannetjie kan sowaar dink,” sê Trompie sarkasties. “En wat is die plan waaraan jy gedink het?”
“Ek het gedink,” sê Asjas, “ons klomp kan môre kloof toe gaan en sommer heeldag daar bly. Ons kan swem en in die grotte gaan rondkruip en allerhande goete doen. En ons kan kos saamvat en daar op die berg gaan vleis braai. Dink julle nie dis ’n goeie plan nie?”
Trompie, Rooie, Blikkies en Dawie kyk na mekaar. Hulle kan nie help om te glimlag nie. Dis presies wat Trompie voorgestel het.
Dawie, wat slim is met alles, selfs Engels, sê laggend: “Great minds think alike.”
“Moenie sy mind met myne vergelyk nie,” sê Trompie en wys kastig kwaad na Asjas.
“Wat sê julle ouens?” vra Asjas grinnikend. “Is dit nie ’n goeie plan nie?”
“Dit is, ja,” sê Trompie, “maar ons het lankal daaraan gedink – en weet jy wat?”
“Wat, Trompie?”
“Ons gaan kloof toe, maar jy gaan met Jan Tuisbly se karretjie ry.” Trompie tik weer met sy vuil wysvinger teen Asjas se bors.
“Watse karretjie is dit?” vra die outjie fronsend.
“Dit is die karretjie waarmee jy by die huis bly. Jy gaan nie saam met ons nie.”
“Hoekom nie?” vra Asjas en kyk vies na hulle.
“Omdat ons jou nie wil saamvat nie,” antwoord Trompie. Dan voeg hy uit die hoogte by: “Jy’s gans te jonk om saam met ons te gaan. Jy moet met kinders van jou eie ouderdom speel.”
Die res van die Boksombende stem volkome saam met Trompie.
Asjas soebat nou hulle moet hom asseblief tog saamvat. Dit was per slot van rekening dan sy plan.
“Dit was nie,” sê Rooie en tik Asjas nou met sy vuis op die arm. “Dit was Trompie se plan. Weg is jy! Skoert!”
Rooie gee die outjie ’n harde hou op die arm.
“Eina!” skree Asjas en besluit om weg te wees. Die knaap hardloop, maar hy skree darem een keer oor sy skouer: “Toemaar, julle sal nog sien!”
Die vier weet nie wat dit is wat hulle nog sal sien nie. Hulle draai laggend om en stap weer terug na Rooie se kamer toe. Hulle wil nog ’n paar verdere reëlings vir môre se uitstappie tref.
Van hul laerskooldae af, toe hulle nog maar in graad vier was, het die vier lede van die Boksombende ’n spesiale plek waar hulle altyd bymekaarkom en dan saam op hul fietse skool toe ry. Dit is ’n ou boomstomp op ’n sypaadjie net om die hoek van Trompie se huis af.
Die vier spreek af dat hulle mekaar die volgende oggend sewe-uur by die boomstomp gaan ontmoet – elkeen natuurlik met die kos en ander dinge waarvoor hy verantwoordelik is.
Trompie kom die oggend eerste by die ou boomstomp aan. Hy gaan sit daarop en wag vir sy vriende. Die kos wat hy saamgebring het, is in ’n kussingsloop. Sy ma het vir hom baie eetgoed gegee, maar ná sy by die kombuis uit is, het hy die yskas oopgemaak en homself aan nog gehelp. Ja-nee, as sy manskappe so baie kos soos hy bring, dink die Grootkaptein nou, gaan hulle vier hulle vandag sowaar doodeet.
Dit is herfs en op die oomblik al effens koel, maar Trompie is seker dit sal later warmer word. Dan sal hulle gaan swem.
Terwyl Trompie so sit en dink aan die heerlike dag wat hulle in die kloof gaan deurbring, hoor hy skielik ’n fluit – ’n lang, uitgerekte hoë noot wat vinnig met ’n kort, lae een afgewissel word. Dit is die Boksombende se sein.
Trompie fluit op dieselfde manier terug terwyl hy wonder wie dit is –Rooie, Blikkies of Dawie.
Maar dit is nie een van die drie nie. Asjas kom om die hoek van die straat aangedraf. Hy dra sy boeksak op sy rug.
Trompie kyk vies na die outjie en bal sy vuiste. Die klein japsnoet moet sowaar ’n les geleer word.
Toe Asjas ’n entjie van Trompie af is, begin hy loop. Hoe nader hy aan die groot seun kom, hoe stadiger loop hy. Hy hou Trompie agterdogtig dop.
Toe hy ’n paar tree van die Grootkaptein af is, glimlag hy verbouereerd en sê: “Haai.”
Trompie is ’n ou met goeie maniere, en hy voel hy kan Asjas darem groet. Hy sê: “Haai,” en voeg dan vinnig by: “Wat soek jy hier? Gee pad!”
“Dis ’n vry land,” mompel Asjas. “Ek kan hier wees as ek wil. Ek sien nie hoekom ek moet padgee nie.”
“Jy’s lekker astrant, nè?”
Asjas antwoord nie hierop nie. Hy lyk nie eintlik astrant nie. Hy staan reg om vinnig weg te hardloop as Trompie miskien van die boomstomp af opspring om hom te gryp.
Trompie sit nog so na Asjas en gluur en wikkel sy sproetneus om te wys hoe omgekrap hy nou eintlik is, toe Rooie, Blikkies en Dawie om die straat se hoek aankom. Hulle loop opgewek en gesels.
“Haai, Trompie!” groet die drie vrolik en kom staan voor die Grootkaptein. Dawie het ’n ou skooltas waarin hy al die benodighede vir die dag gepak het. Rooie het ’n streepsak en Blikkies het ook ’n kussingsloop, net soos Trompie.
Die drie kyk vies na Asjas. Hy staan ’n goeie paar tree van hulle af.
“Hoe het dié ou hier gekom?” vra Blikkies, wat soos gewoonlik aan ’n grashalmpie kou.
“Dis wat ek ook wil weet,” brom Trompie.
“Wat ek wil weet,” sê Dawie, “is wat dié ou hier soek.”
Rooie dink dit sal ’n goeie idee wees om die knaap te vra wat hy wil hê.
“Wat wil jy hê?” brul Rooie.
Asjas skrik so vir Rooie se bulderende stem dat hy vinnig nog ’n entjie verder retireer voor hy sê: “Ek wil saam met julle kloof toe gaan. Ek het my eie kos gebring.” Hy slaan met sy hand teen die boeksak op sy rug om te wys waar die kos is.
“Hoe het jy geweet ons kom vanoggend sewe-uur hier bymekaar?” vra Dawie. Hy kyk onderlangs na sy vriende om te sien of een van hulle nie miskien skuldig lyk nie. Dalk is daar ’n verraaier in hul midde. Dit is tog net hulle vier wat geweet het hulle gaan hier bymekaarkom.
Die ander lede van die Boksombende kyk nou ook na mekaar. Die gedagte “Wie het vir Asjas gesê?” is nou duidelik in elkeen se oë te lees.
“Ek het geweet omdat ek slim is,” antwoord Asjas en glimlag selfvoldaan.
“Jy is nie slim nie,” snou Trompie hom toe. “Jy’s dom. Maar sê nou maar net jy is nie heeltemal onnosel nie, wat het dit te doen met die feit dat jy geweet het ons kry mekaar vanoggend sewe-uur hier? Hoe het jy geweet?”
“Omdat ek slim is,” sê Asjas. “Ek weet mos julle kom altyd hier by die boomstomp bymekaar en julle’t gister gesê julle gaan vandag heeldag kloof toe. So omdat ek slim is, het ek toe gedink julle sal seker so sewe-uur waai. Toe kom ek sewe-uur hiernatoe en kry Trompie hier.”
Die vier vriende gluur die outjie vies aan, maar hulle is terselfdertyd ook verlig. Hulle weet ten minste een van hulle is nie ’n verraaier nie. Die Boksombende kan nou ook sien dit was maklik om uit te pluis dat hulle mekaar vroeg hier by die boomstomp sou ontmoet.
“En sê nou ons was al weg toe jy hier aankom?” vra Trompie.
“Dan’t ek kloof toe gehol en julle daar gaan soek.”
“O, rêrig, nè?” sê Trompie sarkasties. “Wel, jy kan nou maar begin hardloop.”
“Hoekom? Julle is mos hier. Waarnatoe moet ek hardloop?”
“Reguit huis toe! Ons het jou gister al gesê jy gaan nie saam met ons nie.”
Rooie, Blikkies en Dawie stem volkome met Trompie saam. Asjas gaan sowaar nie saam met hulle nie.
“Kom, ouens,” sê Dawie nou haastig. “Waarvoor staan en redeneer ons nog met die japsnoet? Laat ons weg wees.”
Asjas kyk vies na Dawie, en toe sê die outjie: “Wie dink jy miskien is jy, hè?”
Dawie is effens uit die veld geslaan. Dit lyk nie asof Asjas vir hom bang is nie. Dawie betrag die laerskoolkind ernstig. Al is hy soveel jonger, is Asjas sterk en baie meer gespierd as Dawie.
“Ek is Dawie,” antwoord Dawie, “en wat daarvan?” Hy sê dit egter nie in ’n kwaai stem nie. Dawie is effens skrikkerig, maar steek dit goed weg. Gelukkig kom sy vriende dit darem nie agter nie.
“Laat ons gly,” sê Trompie en spring van die boomstomp af. “Ons het nie tyd om die hele dag hier rond te hang nie.”
“Ek het baie kos gebring, ouens,” sê Asjas vinnig. “Kan ek asseblief saamgaan?”
Die vier seuns het net begin wegstap toe Asjas dit sê. Hulle kyk na mekaar. Hulle voel effens sleg omdat hulle so botweg weier om hom te laat saamkom. Maar aan die ander kant, wat soek hy by hulle? Hy is mos te klein. Hy het mos sy eie maats.
“Ek sê dit nou vir die laaste keer,” waarsku Trompie. “Jy gaan nie saam met ons nie!”
Die Boksombende begin weer stap, maar dan sê Asjas: “Ek het baie kos – lekker kos wat my ma spesiaal gemaak het. Ek sal dit met julle ouens deel.”
Trompie-hulle draai weer om. Hulle stel nou meer belang.
Asjas gaan vinnig voort: “Hierdie hele boeksak van my is vol allerhande lekker kos.” Hy slaan met sy hand teen die sak op sy rug.
Trompie, Rooie, Blikkies en Dawie kyk na die twee kussingslope vol kos wat Trompie en Blikkies het. Dan kyk hulle na Rooie se streepsak en Dawie se ou skooltas, wat ook albei vol is. Nee, hulle het genoeg kos. Hulle stel nie in nog belang nie.
“Weg is jy!” sê Trompie vir Asjas. “Los ons nou uit.”
Maar Asjas los hulle nie uit nie. Hy wil nou sy troefkaart speel.
“Wag!” sê hy.
Die vier draai weer om. Trompie sug swaar.
“Wassit, Asjas?” vra hy. “Hoekom gaan jy nie huis toe nie?”
“Gaan eet jou kos in julle tuin,” sê Rooie. “Dis waar japsnoete soos jy moet pieniek hou.”
Asjas ignoreer Rooie se aanmerking. Hy glimlag geheimsinnig en sê: “Weet julle ouens wat?”
“Nee!” snou Trompie hom toe. “En ons wil ook nie weet nie!”
Maar hulle loop nogtans nie dadelik nie. Hulle wil duidelik graag weet wat dit is wat Asjas weet.
Dan speel Asjas uiteindelik sy troefkaart.
“Ek het gisteraand honderd rand by my oom gekry,” sê hy.
Trompie, Rooie, Blikkies en Dawie kyk na mekaar. Hulle is nou glad nie meer so haastig om weg te kom nie.
Trompie vra die belangrike vraag namens hulle almal: “Wat het jy met die honderd rand gemaak?” En omdat dit miskien te bot klink, voeg hy by: “Het jy die geld nog?”
Trompie se stem klink nou glad nie meer so kwaai nie. Honderd rand is baie geld. ’n Mens kan baie lekkers daarmee koop. Rooie, Blikkies en Dawie kyk na Asjas en wag vir sy antwoord. Hulle lyk nou ook baie vriendeliker.
“Nee, ek het nie meer die honderd rand nie,” sê Asjas. Voor die vier weer vies na hom kan kyk, sê hy vinnig: “Maar ek het honderd rand se lekkers hier in my boeksak. Ek het dit gisteraand gaan koop. Ek het geweet die kafee sal vanoggend nog toe wees, want ons gaan mos vroeg kloof toe.”
Die Boksombende ignoreer Asjas se “ons”. Hulle vra hom glad nie hoeveel onse daar in sy pond is nie. Hulle glimlag vriendelik. Daar is mos honderd rand se lekkers in Asjas se sak. Trompie vryf sy hande in die lug en sê glimlaggend: “Laat ons die lekkers bietjie sien.”
“Oukei,” sê Asjas. Hy stap nou nader en haal die boeksak van sy rug af.
Die knaap sit die sak op die grond neer en haal ’n groot papiersak vol lekkers uit. Daar is sjokolade, skyfies, droppype, swart suikerballe, visse, kougom, toffies en nog baie ander soorte lekkergoed.
Die seuns staan gebukkend en kyk na die lekkers wat Asjas uit die papiersak haal en op sy boeksak uitstal. Hulle het self baie én heerlike kos saamgebring, maar nie een van hulle het lekkers gekoop nie. Hulle kon nie, want hulle het nie geld nie.
Maar hier is sowaar honderd rand se lekkers. Die Boksombende het klaar uitgewerk dat dit twintig rand se lekkers vir elkeen van hulle is – dit wil sê as hulle die laerskooloutjie laat saamgaan.
Asjas is hoog in sy skik. Trompie-hulle loop nou oor van vriendelikheid. Hul oë bly stip en gulsig op die lekkers. Blikkies kyk na die kougom, en dan draai hy sy kop en spoeg die grashalmpie waaraan hy gekou het met ’n boog deur die lug.
“Wil jy baie graag saam met ons gaan?” vra Trompie in sy vriendelikste stem vir Asjas.
“Ja, Trompie.”
“En … en sê nou ons sê jy kan maar saamgaan? Sal jy dié lekkers dan met ons deel?”
“Natuurlik, Trompie,” antwoord Asjas dadelik met ’n glimlag.
“Nou ja, manne,” sê Trompie en kyk na sy manskappe, “wat sê julle? Sal ons Asjas laat saamgaan?”
Die manskappe maak asof hulle baie ernstig nadink. Blikkies se oë is stip op die kougom gerig wanneer hy sê: “Ek dink so. Asjas kan maar saamkom.”
Rooie en Dawie dink ook so. Hulle voel ook die outjie kan maar saamkom – en Trompie voel natuurlik dieselfde oor die saak.
Die lekkers word vinnig verdeel en die vyf seuns stap al kouende kloof toe met die kleiner outjie ’n paar tree agter die Boksombende. Trompie se hond, Boesman, is ook by en draf blaffend langs hulle.
Die seuns is vrolik en opgeruimd. Daar is nie vandag skool nie en die son skyn al hoe helderder uit die blou herfshemel. Hulle begin sing, maar dan bars hulle uit van die lag omdat hulle so vals is.
Terwyl hulle so sorgeloos deur die veld stap, het hulle natuurlik nie die vaagste benul van die gevaarlike avontuur wat daar op hulle wag nie.