Читать книгу Trompie Omnibus 8 - Topsy Smith - Страница 12

4

Оглавление

Vet pret

Meneer Botha oorreed die konstabels – en dit kos nie veel oorredingskrag nie – om die tuingereedskap te gebruik om die grot se ingang toe te gooi sodat niemand daar kan inkom nie.

Die konstabels werk hard, maar Ou Tande verseker hulle dat hulle ’n diens aan die ganse mensdom lewer. Hulle besluit as Kwaggaberg so beroemd gaan word soos die onderwyser sê en wetenskaplikes van regoor die wêreld hierdie grot gaan kom besoek, sal hulle as die polisiemanne wat by was toe die merkwaardige ontdekking gedoen is, ook in die glorie deel. Dan is bevordering beslis ’n baie groot moontlikheid.

Wanneer die konstabels natgesweet is, kry die Boksom­bende ook ’n beurt om met die pik en graaf te werk. Hulle doen dit natuurlik teen hul sin, maar hulle wil nie met die hele sak patats vorendag kom nie en speel daarom maar saam. Asjas help nie, want hy is skielik kastig te klein vir sulke harde werk, maar hulle weet hy is sommer net lui.

“’n Merkwaardige vonds,” sê meneer Botha oor en oor. “En om te dink ek wat argeologie maar net as ’n stokperdjie bestudeer, het daarop afgekom.”

“Wat is die volgende stap?” vra die een konstabel toe die grot uiteindelik toegegooi is. Hy wil weet wanneer die bohaai en die beroemdheid gaan begin.

“Die eerste ding wat ek nou gaan doen,” sê meneer Botha en vryf sy hande genotvol in die lug voor hom, “is om ’n paar professore aan ons universiteite onmiddellik van my merkwaardige vonds te verwittig. Hulle sal dan self kom kyk en nadat hulle my bevinding bevestig het, sal ons die wêreldpers in kennis stel. Dan sal wetenskaplikes van heinde en verre hier na ons dorpie toe stroom.”

Trompie-hulle sou baie meer opgewonde gewees het as hulle nie geweet het die hele affêre is ’n klug nie. Toe die opgewonde onderwyser en die konstabels, wat nou van oor tot oor glimlag terwyl die een met die pik en die ander een met die graaf oor die skouer die pad terug dorp toe aandurf, verdwyn, skater die vyf seuns soos hulle lag.

“Dawie,” sê Trompie, en hy hou eintlik sy maag vas soos hy lag, “jy het seker Inka-bloed in jou!”

“Maar kan ek nie in die moeilikheid beland nie?” Dawie lyk effens benoud toe hy dit vra.

Die seuns hou geleidelik op met lag en dink ernstig oor hierdie vraag na.

Trompie sê hy kan nie insien hoe Dawie in die moeilikheid kan beland nie. Dawie het nou wel die strepe teen die rotswand getrek, maar dit is mos nie teen die wet om so iets te doen nie. En daar is ook nie ’n wet wat sê Dawie moet erken dit was hy wat die kastige tekeninge gemaak het en nie die Inkas tweeduisend jaar gelede nie.

Dit is wat Trompie dink en omdat hy so dink, stem die ander saam met hom. Daar is geen gevaar nie en hulle gaan baie pret hê.

“Ek wonder net wat die slim mense, daai professore, gaan sê as hulle die strepe sien,” sê Trompie. “Sal hulle ook glo Inkas het die goed tweeduisend jaar gelede geteken?”

Niemand kan natuurlik hierop antwoord nie.

“As hulle ook so dink,” sê Rooie, “en hulle sê ook dis ’n merkwaardige vonds, hoop ek net hulle gee vir ons ouens ’n dag vakansie. Dis mos eintlik ons wat op die kastig merkwaardige vonds afgekom het!”

Almal lag lekker en besluit nou hulle is eintlik helde. As Asjas nie daar in die tonnel vasgesit het nie, sou Dawie nie die tekeninge gemaak het nie – en dan sou daar nie ’n merkwaardige vonds gewees het nie.

“Julle redeneer maar skeef en krom,” sê die slim Dawie. “Onthou, daardie tekeninge van my is nie eg nie.”

“Dit maak nie saak nie,” sê Trompie. “Al wat ek weet, is ons gaan vet pret daarmee hê.”

En die Grootkaptein is reg. Hulle gaan baie pret hê – en ook baie moeilikheid. Maar dit weet hulle natuurlik nog nie.

Al geselsende oor Dawie se strepe op die rots (Trompie weier om dit tekeninge te noem) wat Ou Tande so in ekstase het, sit die seuns heerlik en eet. Die vleis wat hulle gebraai het, is feitlik houtskool verbrand, maar dit is hoe hulle daarvan hou.

Wanneer hul mae vol is, gaan lê en rus hulle in ’n boom se skaduwee. Rooie wou hê hulle moes kos oorhou vir die middag nadat hulle geswem het, maar die meerderheid wou niks daarvan hoor nie. Teen die tyd dat hulle klaar geswem het, sal dit al laat wees en dan gaan hulle huis toe. Dan kan hulle mos daar weer eet.

Rooie het aangehou hulle moenie al hul kos eet nie en toe sê Trompie later hulle moet stem. Rooie se mosie dat hulle nie al die kos moet opeet nie, is met vier stemme teen een uitgestem. Hy is die enigste een wat vir sy voorstel gestem het.

Al die kos is gulsig verorber en die seuns se mae is nou stampvol. Hulle het brood geëet, gebraaide wors en vleis, hardgekookte eiers, ingelegde pere en koue vis. Dit was baie kos en baie lekker. Nou rus hulle.

Die vyf lê dromerig onder die boom. Asjas gooi klippe, en dan draf Boesman, wat ook baie geëet het, lui met sy tong wat uithang om die klip op te tel en bring dit vir Asjas terug.

Toe Asjas ’n klip effens te ver gooi, kyk Boesman na die plek waar dit grondgevat het. Die klip lyk vir hom gans te ver. Hy hardloop nie, maar draai om en stap terug na die koelte toe. Daar draai hy ’n paar keer in die rondte en plof op die grond neer. Hy laat sy kop op sy voorpote rus. Hy is moeg om klippe te jaag en gaan nou slaap.

Trompie kyk lomerig na Asjas, wat nou sommer net sit en niks doen nie – net soos die ander vier. Dawie lê uitgestrek met sy hande oor sy oë. Dit lyk amper asof hy slaap, maar Trompie weet hy lê en dink nou aan daardie kamtig wonderlike tekeninge van hom wat Ou Tande aan die Inkas s’n herinner.

Die Grootkaptein dink daaraan dat Dawie nou waarskynlik vreeslik vol van homself gaan wees. As dit so is, sal hulle vinnig vir hom moet wys hy is maar net ’n doodgewone ou. Trompie, Rooie en Blikkies het baie maniere om dit te doen, en die beste een is om met Dawie gek te skeer. Dan besef hy gou hy is glad nie so wonderlik soos hy dink nie.

Trompie draai sy kop lui en kyk na die ander twee lede van die Boksombende. Blikkies sit op die grond en sy rug rus teen die boomstomp. Sy oë is toe en die enigste teken dat hy nie slaap nie, is sy kakebene wat ritmies beweeg. Hy kou heerlik aan ’n stukkie kougom. Trompie glimlag. Ai, dié Blikkies darem. ’n Mens sien hom feitlik nooit sonder dat hy aanhoudend kou nie.

Van Blikkies af dwaal die Grootkaptein se oë na Rooie toe. Trompie glimlag by homself. Dit is darem maar eienaardig – Rooie se pa is die dorp se skoenmaker, maar die ou kan nie skoene aan sy voete verdra nie.

Op die oomblik probeer Rooie weer om sy tone te roer sonder om die groottone ook te beweeg. Hy kan dit eenvoudig net nie regkry nie. Trompie het eenkeer vir hom gevra hoekom hy so met die simpel storie aanhou, en Rooie het gesê hy sal daarmee aanhou totdat hy dit eendag regkry of totdat hy ses voet onder die grond is en sy tone nie meer kan beweeg nie.

Trompie hou Rooie se voete glimlaggend dop. Dit lyk vir hom of sy vriend nou slegter met hierdie onsinnige gewikkelry vaar as toe hy jare gelede daarmee begin het. Sodra die ander tone roer, begin die groottone ook sommer dadelik beweeg. Ja-nee, dit lyk nie asof al die geoefen veel gehelp het nie.

Trompie lê uitgestrek op die gras. Hy is nou moeg om te kyk na Rooie se gesukkel met sy tone en maak sy oë toe. Hy slaap nie. Hy rus net.

Die Grootkaptein lê en dink aan die rugbyseisoen wat voorlê. Nog net ’n paar weke, dan begin hulle oefen. Hy wil vanjaar ’n barshou speel. Hy het in die koerant gelees Oggendnuus borg ’n wedstryd tussen die Goue Leeus en die Blou Bulle se onder 17-rugbyspanne en die wenner gaan ’n beker verower.

Kwaggaberg val saam met al Johannesburg se groot hoërskole in die Goue Leeus se streek. Trompie weet hy sal moet uithaal en wys as hy vir die Goue Leeus se onder 17-span gekies wil word. Ja-nee, dis nou maar wors. Daar is blitsvinnige senters in die stad se groot skole.

Terwyl Trompie so met toe oë oor rugby lê en dink, hoor hy skielik Dawie se skril stem: “Probeer jy miskien snaaks wees, hè?”

Trompie en Blikkies maak albei hul oë oop om te kyk wat aangaan. Rooie hou op om sy tone te wikkel en kyk ook.

Dawie sit penregop en gluur na Asjas. Hy vryf sy oor, wat rooi is.

“Wat daarvan as ek probeer snaaks wees?” sê die astrante knapie.

Dawie is bleek. Hy kyk kwaai na Asjas terwyl hy sy oor sit en vryf. Asjas wikkel nou sy neus op en af net soos Trompie altyd doen om te wys hy is omgekrap. Almal in die laerskool weet die outjie aap Trompie altyd na omdat die Grootkaptein een van sy helde is.

“Wat het gebeur, Dawie?” vra Rooie nuuskierig. “Waaroor is jy so vies?”

“Daai …” en Dawie wys met ’n bewende hand na Asjas, wat sy sproetneus nog steeds sit en wikkel en nou ook blaas­geluide maak, “daai japsnoet het my met ’n harde bessie agter die oor gegooi.”

Trompie, Rooie en Blikkies glimlag. Hulle is nou heeltemal wakker. Hulle was juis moeg om so hier rond te lê. Dit lyk of hulle nou pret gaan hê.

Al drie kyk na Asjas om te sien wat hy gaan sê of doen.

Dawie het hom ’n japsnoet genoem en die twee pik mos nou al die hele dag op mekaar.

Asjas stel hulle egter teleur en wys hy is maar net ’n negejarige knapie wat nog in graad vier is. Trompie, Rooie en Blikkies verwag die een of ander kwinkslag, maar hulle kry dit nie.

Al wat Asjas sê, is: “Hie-hie! Ek gee nie om wat jy my noem nie!” Dan steek hy sy tong soos ’n tipiese laerskooloutjie uit en sê: “Whê!”

Ja-nee, Trompie-hulle is teleurgesteld. Hulle het iets beters as dit van Asjas verwag.

Dawie vryf nog steeds sy oor. Die ding brand erg.

“Dit was ’n lafhartige daad wat slegs deur iemand met lafhartige neigings gepleeg kon word.”

Asjas staar oopmond na Dawie. Hy verstaan nie al daardie hoë woorde nie.

“Hè?” vra hy fronsend. “Wassit?”

Voor Dawie kan antwoord, sê Trompie: “Dawie sê jy’s ’n bangbroek,” en om seker te maak Asjas verstaan, voeg hy by: “Hy sê jy’s ’n papbroek.”

So ja, nou kan daar nie enige misverstand wees nie. Trompie stut homself gemaklik op sy elmboë. Hy gaan die bakleiery tussen hierdie twee geniet.

“Ek het jou nie presies dit genoem nie,” sê Dawie. “Ek het gesê dis net iemand met lafhartige neigings wat so iets sal doen.”

“Wat wát sal doen?” sis Asjas.

“Wat ’n ou wat lekker slaap en niemand pla nie met ’n bessie agter die oor sal gooi.”

Asjas begin nou besef ’n lafaard is dieselfde ding as ’n bangbroek en ’n papbroek.

“Ek is nie ’n lafaard nie, Dawie!” sê hy kwaad. “Jy is! Jy was te bang om by daardie tonnel in te kruip en ek was nie – so whê!” Hy steek weer vir Dawie tong uit.

Dawie besluit om Asjas te ignoreer. Hy is buitengewoon intelligent en beskou dit as benede sy waardigheid om te argumenteer met iemand wat net sy tong kan uitsteek en “Whê!” sê.

Trompie, Rooie en Blikkies kyk na mekaar. Hulle is half teleurgesteld. Hulle het gedink hulle gaan ’n bietjie aksie sien, maar daar lê Dawie weer op sy rug met sy hande oor sy oë. Asjas sit ’n paar tree van Dawie af en wikkel sy sproetneus nog steeds op en af.

Trompie dink daaraan dat Dawie al baie jare lank hulle drie se vriend en ’n lid van die Boksombende is. Trompie weet Dawie het baie moed as dit daarop neerkom, maar hy is ook gans te veel van ’n boekwurm en dromer.

Die Grootkaptein onthou nou hoe Dawie hom eenkeer gehelp het toe twee boelies hom beetgepak het. Dawie het woes en aanhoudend geslaan tot die twee ouens die hasepad gekies het. Trompie wonder of Dawie – ten spyte van sy klein bou, slimheid en dromerigheid – nog so woes kan baklei.

Nou kyk Trompie peinsend na Asjas. Die outjie is vyf jaar jonger as Dawie, maar hy is groter en sterker gebou, al is hy korter. Trompie skat die twee weeg omtrent dieselfde. Hy het al gehoor Asjas is een van die laerskool se baasbakleiers en die knaap soek nou al heeldag lank moeilikheid met Dawie.

Trompie besluit as Dawie nie self uit sy dooierigheid wil kom nie, moet hy daaruit geskud word. Dit is mos ’n belediging vir al die Boksombende se lede as iemand een van hulle ’n bangbroek noem en dié een doen niks aan die saak nie.

Die Grootkaptein voel dit is sy plig om Dawie te help besluit om dadelik iets aan die saak te doen.

Trompie kyk na Rooie en Blikkies. Hulle staar vies na die niksvermoedende Dawie, wat nou weer lê en droom oor sy rotstekeninge wat presies soos die Inkas van tweeduisend jaar gelede s’n lyk. Rooie en Blikkies is duidelik ook ontevrede dat een van die Boksombende se lede ’n bangbroek genoem is en niks aan die saak doen nie.

Hulle kyk na Trompie en die Grootkaptein knipoog. Hy sien ’n groot, harde bessie ’n entjie van hom af lê. Hy buig vorentoe en tel dit op. Dan gee hy die bessie vir Rooie. Hy knik en wys na Asjas. Rooie glimlag. Hy verstaan.

Rooie leun oor na Asjas toe en gee die bessie vir hom. Asjas kyk daarna. Dan kyk hy op na Trompie, Rooie en Blikkies. Hulle glimlag vriendelik en beduie hy moet Dawie weer bykom. Hulle moedig hom aan.

Asjas aarsel net ’n oomblik, dan trek hy sy hand terug en gooi. Die bessie vang die niksvermoedende Dawie teen die kant van sy kop.

“Eina, sjoe!” skree Dawie en vlieg regop. “Dit brand!” roep hy uit.

Dawie draai al vrywende om en kyk na Asjas wat op die grond sit en lag. Trompie, Rooie en Blikkies sit regop. Hulle is seker hier gaan nou iets gebeur.

“Het jy my wraggies weer met ’n bessie gegooi?” vra Dawie en sy stem is kil en koud.

“Ja, ek het,” sê Asjas dapper, “en wat daarvan?”

Dawie kyk ondersoekend na die knaap. Hy weet dit is ’n toets hierdie. Hy voel hoe sy vriende hom belangstellend dophou. As hy nou nie iets doen nie, sal hulle hom nooit vergewe nie. Maar hy wil in elk geval iets doen. Hierdie astrante klein japsnoet moet ’n les geleer word.

“Asjas,” sê Dawie kil en bal sy vuiste, “jy soek my al die hele dag.”

“Wat daarvan?” wil Asjas weet. Dan steek hy sy tong vir Dawie uit en sê weer: “Whê!”

“Staan op!” bulder Dawie en sy stem klink nie meer pieperig nie.

Asjas is nou nie meer so astrant nie. Dit is hy wat nou ondersoekend na Dawie kyk. Hy het gedink die ou is te veel van ’n bangbroek om te baklei – en hier lyk dit nou vir hom sowaar asof Dawie regstaan om hom te gryp.

Die outjie bekyk sy teenstander nou aandagtig. Asjas weet Dawie is ouer as hy, maar dit maak nie saak nie. Hy het baie ouens in die laerskool wat ouer as hy is, al goed opgedons. Dawie lyk vir hom maar skraal en tengerig.

Asjas kom lui op die been. Dan sê hy parmantig: “Oukei, ek staan. So wat nou, hè?”

Dawie is al jare lank vriende met Trompie en hy het die Grootkaptein al baie gesien baklei. Dawie ken die prosedure. Hy stap vorentoe, tik met sy vuis op Asjas se boarm en sê: “Daar’s jou kesj.”

Asjas ken die prosedure net so goed. Hy is ook nie links nie en tik met sy vuis op Dawie se boarm en sê: “En daar’s jóú kesj.”

Trompie knik onwillekeurig om te wys hy stem volkome saam. Al twee ouens ken die regte prosedure. Maar dan bederf Asjas alles wanneer hy weer “Whê!” sê en sy tong uitsteek. Trompie kyk die outjie fronsend aan. So iets is heeltemal on­nodig as albei partye gereed en gewillig is om mekaar te takel.

Die erkende manier onder Kwaggaberg se seuns bestaan uit twee stappe. Die eerste stap – om mekaar se kesj te gee – is nou afgehandel. Nou volg die tweede stap.

Dawie trek ’n streep met die punt van sy skoen en sê: “Trap oor daai streep en ek tik jou dik.”

Trompie knik sy kop goedkeurend. Dit is reg en volgens die reëls. Dit is die tweede stap.

Die Boksombende kyk na Asjas. Trompie hoop hy gaan nie alles bederf deur weer tong uit te steek en “Whê!” te sê nie. Al wat Asjas nou moet doen as hy wil baklei en die regte prosedure wil volg, is om oor die streep te trap, sy vuiste gereed te hou en te sê: “Kom ons vat mekaar aan.” Dan baklei die twee.

En dit is presies wat Asjas doen. Ja-nee, dink Trompie, hy is ’n outjie wat die regte prosedure ken. Hierdie knaap het al baie baklei – dis nou maar wors.

Asjas gee ’n groot tree oor die streep. Hy hou sy vuiste gereed voor hom en sê: “Kom ons vat mekaar aan.”

Nou het die geveg amptelik begin, al het nie een van die twee al ’n hou geslaan nie.

Dawie dans lig op sy voete rond met sy vuiste voor hom. Hy hou Asjas stip dop. Asjas kom gebukkend nader en nader aan die dansende Dawie voor hom. Dan skiet Asjas skielik vorentoe en slaan woes. Dawie het die aanval verwag. Hy koes vinnig, en Asjas se houe trek skadeloos verby hom. Met dié gee hy Asjas twee vinnige houe in die ribbes en een aan die kant van die kop.

Trompie-hulle lag toe Asjas omswaai en hulle sy gesig sien. Die outjie het nie juis seergekry nie, maar daar is ’n verbaasde uitdrukking op sy gesig asof hy dit nie kan verstaan nie. As hy baklei en ’n ou so in volle vaart stormloop, is die geveg gewoonlik sommer binne ’n paar oomblikke verby. Hy hou net aan slaan totdat sy opponent later skree hy gee oor. Asjas het hier ook aanhoudend geslaan, maar dit was alles net gate in die lug.

Die parmantige knaap is nou baie versigtiger. Hy begin ook liggies ronddans.

Trompie, Rooie en Blikkies hou die twee dansende ouens aandagtig dop. Hulle wil natuurlik hê Dawie moet die geveg wen, maar hulle wil darem ook nie hê Asjas moet seerkry nie. Hy is ’n laspos wat gedurig by hulle wil wees, maar hulle hou nogtans van hom, veral vandat hy vroeër daar in die grot gewys het hy het nie ’n enkele bang haar op sy kop nie. Wie weet, miskien maak hulle hom nog eendag ’n lid van die Boksombende – wel, miskien nie ’n volle lid nie, maar ’n halwe een.

Die twee vegters dans nou al ’n hele paar minute so rond. Skielik skree Rooie: “Hoekom slaan julle nie? Ons kan nie die hele middag hier sit nie. Ons wil nog gaan swem.”

Trompie en Blikkies moedig die twee nou ook aan om mekaar beet te pak. Hulle is moeg daarvoor om so na die twee fladderende vlinders te sit en kyk.

Die storie begin Asjas ook verveel. Hy vlieg weer vorentoe en probeer Dawie verras. Asjas slaan vinnig en hard, maar die vernuftige Dawie laat hom nie so maklik vang nie. Danksy rats voetbewegings bly hy buite bereik van Asjas se swaaiende vuiste.

Die knaap hou uiteindelik op met slaan. Hy staan en hyg na asem. Asjas het baie geslaan, en hard geslaan, maar hy het net lug getref.

Trompie dink daaraan dat as Dawie iets by hom geleer het deur al die jare wat hulle al vriende is, sal Dawie nou vir Asjas soos ’n warrelwind bestorm. Dit is nou sy kans.

En die volgende oomblik wys Dawie ook hy het nie al die kere toe Trompie baklei het, gestaan en slaap nie. Dawie het baie geleer. Hy maak asof hy gaan slaan en Asjas buk en koes, maar net toe hy weer regop kom, bevlieg Dawie hom.

Die houe reën op die verbysterde Asjas neer. Hy slaan terug, maar Dawie slaan harder en vinniger. Asjas probeer retireer, maar Dawie bly op hom en gee die outjie nie ’n blaaskans nie.

’n Harde mokerhou tref Asjas op sy maag. Die knaap kreun. Dawie mik en nog twee harde houe tref die steunende Asjas op die krop van sy maag. Dan sak die outjie inmekaar. Sy wind is uit. Hy hyg na asem.

Dawie staan terug. Asjas probeer nou regop kom op die gras. Trompie-hulle is dadelik by. Hulle laat die outjie op sy rug lê en pomp sy bene sodat hy sy wind kan terugkry.

Wanneer Asjas se asemhaling reëlmatiger is en hy nie meer so hard kreun nie, sit hy regop. Hy kyk na Dawie en daar is nou respek in sy oë. Wie kon dink die pieperige Dawie kan so hard slaan en so woes veg?

Dawie staan nog steeds met gebalde vuiste. Hy is reg om Asjas weer te takel. Maar dit lyk nie asof die knaap van plan is om op die been te kom nie. Hy kreun en mompel dat hy te veel geëet het. Dis wat die moeilikheid was.

“Moenie verskonings soek nie,” sê Dawie kwaai. “Wil jy nog hê?”

Asjas kyk na Dawie wat dreigend regstaan en besluit hy wil nie meer baklei nie.

“Het jy genoeg gehad?” vra Dawie streng.

Ja-nee, knik Asjas sy kop. Hy het meer as genoeg gehad, dankie.

Trompie kyk peinsend na Asjas. Nou kom die groot toets. Nou gaan hulle sien of hulle Asjas miskien eendag ’n halwe lid van die Boksombende sal maak. As ’n ou verloor, moet jy soos ’n man verloor en jou teenstander se hand skud. Trompie, Rooie en Blikkies kyk na Asjas. Hulle wil sien of hy dit gaan doen of nie.

“Is jy jammer jy’t die hele dag met my gesukkel?” vra Dawie dreigend.

Asjas kyk op na Dawie. Dan sê hy: “Ja, sê maar ek is jammer.” Dan staan die outjie op en sy hele gesig verhelder soos hy glimlag. Hy steek sy hand na Dawie toe uit en sê: “Jissie, wie’t gedink jy kan so baklei en so hard slaan?”

Dawie neem die uitgestrekte hand glimlaggend en skud dit. Hy voel trots. Hy het self ook nie geweet hy is so goed met sy vuiste nie.

Die twee opponente gesels nou lekker. Hul arms rus gemoedelik oor mekaar se skouers en hulle praat opgewonde oor die geveg. ’n Mens sal sweer hulle is die grootste vriende op aarde.

Trompie glimlag. Dit is hoe dit behoort te wees.

’n Rukkie later besluit die seuns om by die berg af te klim en weer te gaan swem. Dit is nou baie warmer as vanoggend vroeg.

“Jy probeer ons nie weer ’n poets bak nie, hoor,” waarsku Trompie vir Asjas op pad af ondertoe.

“Ek sal nie daarvan droom om so iets te doen nie,” sê die knaap met ’n vroom, onskuldige gesig.

Die seuns kom onder aan die voet van die berg en stap deur die veld na die dam in die kloof, maar dan gewaar hulle twee donkies. Nou wil hulle natuurlik eers donkie ry.

En hier gebeur iets eienaardigs wat hulle glad nie kan verstaan nie.

Die vyf seuns vang net een donkie. Die ander een hardloop te vinnig weg. Hulle hou die donkie vas en praat van hom asof hy een van die wildste perde is wat hulle nog ooit in ’n cowboyfliek gesien het.

Trompie moet eerste opklim.

“Hô-nou,” sê hy paaiend. Sy hart klop vinnig. Hy weet hy moet gou opspring en dan styf vasklou. Die donkie gaan natuurlik vir die vale nael en skop en hom probeer afkry, maar hy sal soos ’n neet vasklou.

Hy wat Trompie is, gaan hierdie wilde donkie tem – en eers as die ding behoorlik mak is en dit nie meer gevaarlik is om op hom te ry nie, kan sy vriende opklim.

Dit is hoe Trompie hom die storie in sy gedagtes voorstel. Hy het sy pet nou so gedraai dat die harde rand agter sy kop sit. Hy dink dit laat hom soos ’n jokkie lyk.

“Hô-nou,” sê Trompie weer paaiend, en dan spring hy vinnig op die donkie se rug. Sy vriende hou die dier vas. Hulle hang aan sy nek.

Trompie is op en hy klou nou ook aan die donkie se nek. Hy druk sy knieë styf teen die donkie se maag. So ja, hy sit stewig. Hy wil nou sien of die donkie hom sal kan afgooi met sy gevaarlike gespring en geskop.

“Julle kan maar los,” sê hy, “ek is reg.”

Die seuns los die donkie, gee vinnig pad en gaan staan op ’n veilige afstand.

Trompie byt op sy tande. Hy klou met sy hele lyf aan die donkie vas en sy oë is styf toegeknyp. Maar Langoor begin glad nie wild spring nie. Hy staan botstil.

Later maak die Grootkaptein sy oë op ’n skrefie oop en draai sy kop effens om na die donkie se gesig te kyk. Trompie kan nie glo wat hy sien nie. Die dier se oë is toe. Hy staan en slaap!

Die hele affêre is ’n antiklimaks. Trompie het gedink die donkie sal woes te kere gaan om hom te probeer afkry. En hier staan en slaap Langoor sowaar.

“Haai!” sê Trompie vies. “Word wakker!”

Die seuns maak nou almal ’n geraas en skree hard om die donkie wakker te maak, maar niks help nie. Die dier slaap.

“Jissou,” sê Trompie uiteindelik, “die ding het seker slaapsiekte.” Hy probeer alles. Hy slaan die donkie met die plathand, hy skree hard in die donkie se ore, hy kielie die donkie met sy hakskene in die lieste. Maar niks help nie. Langoor slaap vas.

Op die ou end klim Trompie af. Hy kon netsowel op ’n rots wat glad nie beweeg nie, gaan sit het.

“Laat ek probeer,” sê Rooie en spring rats op die donkie se rug. Die skoenmaker se seun kry dit ook nie reg om die slapende donkie wakker te maak en hom sover te kry om te beweeg nie.

Daarna probeer Dawie en dan Asjas. Maar dit is alles tevergeefs.

Die donkie beweeg glad nie. Hy maak nie eens sy oë oop nie.

En dan gebeur die eienaardigste ding wat die seuns glad nie kan verstaan of verklaar nie.

Blikkies sê al kouende op sy lui manier hy wil ook probeer. Miskien kan hy die donkie wakker kry.

Blikkies klim met sy lang bene op die donkie se rug en sê: “Kom nou, Langoor. Laat ons weg wees.”

En nou, vir die eerste keer, maak die donkie sy oë oop en lig sy kop op. Die seuns juig opgewonde en skree vir Blikkies om die ding te piets sodat hy kan hardloop.

Maar Blikkies slaan die donkie nie. Hy tik-tik net sag met sy hand teen die dier se nek en sê: “Kom nou, Langoor. Laat ons weg wees.” Blikkies se vriende kan hul oë nie glo nie. Die donkie kom sowaar in beweging en begin met Blikkies op sy rug ronddraf.

“Hoe de joos kry Blikkies dit reg?” vra Trompie verbaas. Dit is natuurlik net ’n retoriese vraag, want hy verwag nie ’n antwoord daarop nie. Niemand kan hom in elk geval antwoord nie, want niemand weet hoe Blikkies dit regkry nie.

Blikkies ry ’n hele ruk rond en kom dan weer terug. Toe hy afspring, is almal dadelik by. Hulle wil nou ook probeer.

Die ander seuns probeer, maar die donkie staan nou weer en slaap. Hulle probeer Blikkies se towerwoorde: “Kom nou, Langoor. Laat ons weg wees,” maar dit help niks nie. Die donkie wil nie met hulle weg wees nie. Die ding staan en slaap.

Wat dit so onverklaarbaar en eienaardig maak, is dat die donkie elke keer wanneer Blikkies opklim, wakker word en ewe gewillig met Blikkies op sy rug ’n entjie draf.

Die seuns loop later vies daar weg. Nie een van hulle kon op die donkie ry nie. As hulle opklim, slaap hy. Maar die oomblik as Blikkies opklim, kry die ding lewe. Blikkies is die enigste een wat op die donkie gery het – en sommer ’n hele paar keer.

Die enigste moontlike verklaring, so verduidelik Trompie terwyl hulle dam toe aanstap, is dat Blikkies en die donkie familie is. Elke keer as Blikkies opklim, weet die donkie dit is familie van hom en begin dan met die ou op sy rug ronddraf.

Die ander seuns, behalwe Blikkies natuurlik, stem saam met Trompie. Sy teorie is al wat vir hulle sin maak. Hulle glo Blikkies moet familie van die donkie wees. “Hulle is seker broers,” mompel Dawie.

Die Boksombende en Asjas stap vinnig na die dam toe. Die son trek al laag in die weste. Hulle wil nog swem voor hulle huis toe gaan.

Trompie Omnibus 8

Подняться наверх