Читать книгу Trompie Omnibus 8 - Topsy Smith - Страница 8
2
ОглавлениеDie grot
Hoe nader die vyf seuns aan die dam in die kloof kom, hoe vinniger stap hulle. Die oggendluggie is nog effens koel, maar volgens hulle is dit nie te koud om te swem nie.
Toe hulle die dam sien, begin hulle draf – en dis nie lank nie of hulle hardloop.
Trompie skree: “Laaste een in is ’n vrot pampoen!” en hulle laat spaander nou in volle vaart na die dam toe. Trompie en Blikkies het hul kussingslope oor die rug en Rooie se streepsak is ook oor sy skouer. Dawie se tas swaai-swaai teen sy bene, maar hy hardloop vir al wat hy werd is.
Asjas kom agter hulle aan. Sy boeksak is stewig op sy rug en hy word nie deur kussingslope, ’n streepsak of ’n tas aan bande gelê nie – daarom hardloop hy vinnig en bly kort op die groot seuns se hakke.
Almal nael na die damwal toe. Hulle gaan sommer hier induik. Nie een van hulle wil laaste wees nie.
Die kussingslope, streepsak en tas word op die wal neergegooi, en die seuns trek hul klere soos blits uit. Asjas is nou ook by. Hy het sy boeksak sommer so in die hardloop van sy rug af gepluk en ook sy hemp uitgetrek.
Met ’n “Hier trek ek!” duik Trompie eerste by die water in. Rooie is net ná hom, en dan volg Blikkies.
Dawie is kaal behalwe vir sy een skoen. Hy sukkel om die veter los te kry. Toe hy dit nie regkry nie en sien Asjas is feitlik klaar uitgetrek, pluk hy aan die skoen om dit van sy voet af te kry.
Maar Dawie is te laat. Asjas skree: “Ek’s nie laaste nie!” terwyl hy deur die lug spring en in die water plof.
Dawie kan homself skop. Hy is sowaar laaste. Toe sy kop bo die water verskyn, spot sy vriende hom.
“Asjas het jou gewen!” skree Trompie vir Dawie terwyl hy heerlik op sy rug in die koue water lê en dryf.
Maar toe Trompie Asjas se naam noem, word sy hart skielik yskoud. Die outjie het nog nie weer bo die oppervlak van die water verskyn nie. Sê nou hy kan nie swem nie?
“Waar’s Asjas?” skree Trompie verskrik. Hy haal diep asem en duik onder die water in.
Rooie, Blikkies en Dawie kyk ’n oomblik lank benoud na mekaar. Dan haal hulle ook diep asem en verdwyn onder die water.
Asjas is ’n karnallie van die eerste water. Hy kan goed swem, maar toe hy deur die lug trek, het hy skielik daaraan gedink dat die groot seuns heel moontlik nie weet hy kan swem nie. En toe het hy besluit om hulle ’n bietjie skrik te maak.
Hy het nie vinnig na die oppervlak toe opgeskiet nie, maar onder die water geswem – weg van die ander af. Toe sy asem opraak, was hy al ’n hele entjie van hulle af. Hy kom net mooi op om asem te skep toe hulle afduik om na hom te soek.
Asjas trap water en glimlag breed. Hy is gereed om weer weg te duik sodra hul koppe bokant die water verskyn.
Die eerste kop wat opkom, is Trompie s’n, want hy het mos eerste afgeduik. Rooie, Blikkies en Dawie se koppe volg kort op mekaar.
Die oomblik toe Trompie bo die water verskyn, verdwyn Asjas weer geluidloos onder die oppervlak. Die vier seuns trap water en kyk benoud na mekaar.
“Wat kon van hom geword het?” vra Trompie en sy stem klink maar bewerig.
“Hy lê seker daaronder op die bodem,” sê Dawie in ’n piepstem en dit klink of hy enige oomblik gaan begin huil.
Rooie is bleek. Hy sê net kortaf om sy ware gevoelens te probeer wegsteek: “Ons moet maar duik en na hom soek.”
“Dit help nie om nog te soek nie,” sê Blikkies. Sy oë is groot en hy vergeet selfs om aan die stukkie kougom in sy kies te kou. “Hy moet al dood wees, want niemand kan so lank sonder asem bly nie.”
“Ons probeer nog een keer,” sê Trompie, “dan hardloop ons dorp toe en gaan kry hulp.”
Die bekommerde Boksombende duik onder die water in – en net toe hulle verdwyn, verskyn Asjas se kop weer. Die outjie skater soos hy lag. Hy het hulle darem sowaar ’n lekker poets gebak. Hy besluit om nou op te hou met die storie en nie weer weg te duik as hulle opkom nie. Daar is baie goed wat hulle vandag nog wil doen; hulle wil nie die hele dag hier in die dam deurbring nie. Dit is ook deksels koud hier in die water. Die swemseisoen is eintlik al verby.
Skielik verskyn die vier koppe weer. Die seuns hyg na asem. Hulle het onder op die bodem rondgeswem, maar kon Asjas nie kry nie. Nie een van hulle sien hom waar hy ’n entjie van hulle af water trap nie.
“Rooie,” sê Trompie hygend, “hol jy en Blikkies gou dorp toe en bring die polisie. Ek en Dawie sal hier bly en by die liggaam waak.”
“Orraait,” sê Rooie, en dan voeg hy by: “Die arme Asjas. Hy was nie ’n slegte outjie nie.”
Rooie en Blikkies begin na die wal toe swem, maar dan gewaar hulle die glimlaggende knaap.
“Sien … sien julle wat ek sien?” vra Rooie en sy oë is groot. Hy dink dit is ’n spook. Blikkies sien wat Rooie sien en sy oë rek ook. Hy dink ook dit is ’n spook.
“Jis-… sou,” sê Trompie verbaas, en dan skree hy: “Is … is dit jy, Asjas?”
Die seuntjie lag heerlik.
“Haai, julle ouens!” skree hy. “Natuurlik is dit ek! Wie dink julle miskien is dit?”
Die Boksombende is nog lam van die skrik.
“Waar kom jy vandaan?” wil Trompie weet. Dit sal hom glad nie verbaas as Asjas sê hy kom uit die doderyk nie. Niemand kan mos so lank onder die water bly sonder om asem te skep nie.
“Ek was maar heeltyd hier,” sê Asjas, en dan swem hy wal toe, want hy is moeg om so water te trap en dit word nou regtig yskoud. Die ander kyk verbaas na hom. Hy swem so gemaklik soos hy hardloop. Trompie, Rooie, Blikkies en Dawie voel verlig. Hulle is seker ’n spook sal nie so goed kan swem nie.
Trompie besef nou die klein karnallie was nie die hele tyd onder die water nie. Nee, dit is onmoontlik. Hy het natuurlik elke keer opgekom om asem te skep wanneer hulle afgeduik het om na hom te soek.
“Ons sal nog met hom afreken,” sê Trompie net, en dan swem hy en sy vriende ook na die damwal toe.
Sonder om te praat, trek die seuns gou hul klere aan. Dan sit hulle in die sonnetjie om warm te word. Niemand het nog met Asjas gepraat nie. Hy sit op ’n klip ’n entjie van hulle af. Hy is maar lugtig en gereed om op te spring en te nael as hulle hom dalk wil vang en karnuffel omdat hy hulle so ’n poets gebak het.
Maar die Boksombende is so verlig dat Asjas nog in die land van die lewendes is dat nie een van hulle hom wil bydam nie. Hulle gluur hom net kwaai aan.
Uiteindelik sê Trompie: “Asjas, dink jy miskien jy’s snaaks?”
Nee, skud die knaap sy kop en skuif vorentoe op die punt van die groot klip waarop hy sit sodat hy nog vinniger kan opspring om te hardloop as dit nodig is. Nee, hy dink nie hy is snaaks nie.
Dan vra hy versigtig: “Hoekom? Hoekom vra jy of ek dink ek’s snaaks?”
“Omdat jy ons so laat skrik het.”
“Ek het maar net ’n grappie gemaak,” sê Asjas.
Al vier verseker hom hulle hou net mooi niks van sulke soort grappies nie.
“Ek dink ons jaag hom huis toe,” sê Rooie. Sy hart klop nou nog vinnig soos hy geskrik het toe Asjas onder die water verdwyn het.
“Ek dink ook so,” sê Trompie, maar hy is nou nie meer so vies soos toe hy besef het Asjas was nie ’n spook nie. Hy voel nou eintlik net verlig. Dit sou darem vreeslik gewees het as hierdie geliefde dam van hulle sowaar Asjas se watergraf moes wees.
Voor Blikkies en Dawie kan sê hulle dink ook Asjas moet huis toe gejaag word, sê die knaap vinnig: “Aag, ouens, dit was rêrig maar net ’n grappie. Kom ons eet. Ek’s honger.”
Asjas maak sy boeksak oop. Die vier groot seuns hou hom dop. Hy haal ’n lang stuk gebraaide wors uit die sak, en ook ’n pakkie waarin daar ’n klomp toebroodjies is. Die Boksombende kyk na die wors. Asjas se ma is bekend vir die lekker boerewors wat sy maak.
Trompie het ook wors gebring, maar dit is rou. Hulle sal eers moet vuur maak en dit braai as hulle dit wil eet.
Asjas sê vriendelik: “Kom ons vergeet van die ou grappie. Kom, ouens, kom eet van my ma se lekker wors.”
Blikkies dink ’n stukkie wors sal nie sleg smaak nie, en Trompie, Rooie en Dawie stem volkome saam. Hulle besluit om Asjas maar te vergewe.
“Maar jy doen nie weer so iets nie, verstaan?” sê Trompie nogtans streng terwyl hulle na die outjie toe stap. Dan vat elkeen ’n groot stuk wors en ’n toebroodjie.
Die seuns sit heerlik en eet. Hulle begin selfs lag oor die poets wat Asjas hulle gebak het. Noudat hulle van die skok herstel het, sien hulle in hoe snaaks dit eintlik was.
“Ek het gedog ek gaan self ook verdrink,” sê Trompie laggend met kieste vol wors. “Ek het so groot geskrik toe ek Asjas se kop bo die water sien dat ek ’n hele mond vol water gesluk het.”
Die ander vertel nou ook hoe groot hulle geskrik het. Hulle kon nie verstaan hoekom ’n ou wat nou net dood is sommer dadelik begin spook nie.
Asjas lag natuurlik heerlik oor die petalje. Hy vertel hoe hy elke keer weer ingeduik het wanneer hul koppe bo die water verskyn.
As gevolg van Asjas se poets het hulle nie eintlik geswem nie, maar dit maak nie saak nie – die water is allesbehalwe warm. Hulle gaan nou ’n bietjie bergklim en die grotte bo teen die hang verken.
Dit neem ’n hele tydjie om by die berg se kruin uit te kom. Waar dit steil is, stap hulle in ’n ry agter mekaar – Trompie heel voor en Asjas heel agter. Dawie kry baie swaar. Die ou skooltas waarin sy kos is, stamp aanhoudend teen sy bene. Hulle moes sy kos daaronder by die dam geëet het. Dan sou die dekselse ding mos nie so swaar gewees het nie!
Wanneer hulle bo kom, rus hulle eers en dan sê Trompie: “Nou kom ons gaan verken daai grot.”
Trompie haal die flits wat hy sonder sy pa se wete geleen het uit sy kussingsloop en loop na die grot se ingang toe.
Hy en sy vriende het hierdie grot al vantevore verken, maar hulle het nooit diep ingegaan nie. Vandag wil hulle dit doen en sien wat daarbinne is.
Die ingang is agter ’n doringboom se takke weggesteek. Die seuns breek eers versigtig ’n paar takke af en wanneer die ingang redelik oop is, buk Trompie en gaan in. Sy vriende volg hom.
Binne is dit so groot soos ’n huis se voorportaal. Die seuns kan maklik regop staan en omdat hulle die takke voor die ingang afgebreek het, is dit taamlik lig in die grot.
Aan die een kant van die grot is daar ’n gat wat omtrent dertig sentimeter in deursnee is. Hulle dink lankal hierdie gat lei na ’n ander grot binne-in die berg – en vandag wil hulle daardeur kruip.
Die seuns hurk voor die opening. Al is dit taamlik lig hier waar hulle nou is, moet Trompie met die flitslig by die donker gat in skyn. Hulle sien dit is ’n lang tonnel.
“Ek wed julle,” sê Trompie, “as ons deur die tonnel kruip, gaan ons by ’n nog groter grot as hierdie een uitkom.”
Trompie skakel die flits af. Hulle wil nie die batterye mors nie.
“Hoe lyk dit?” vra die Grootkaptein nou. “Gaan ons hier inkruip?”
Hy skakel die flits aan en lig weer by die opening in. Dit is ’n lang, nou tonnel. Waar die ligstrale in die verte verflou, is dit pikdonker.
“Sal ’n ou in die tonnel kan asemhaal?” vra Rooie.
“Ek dink so,” sê Trompie.
Die seuns voel maar skrikkerig. Dit gaan moed kos om op hul mae deur so ’n nou tonnel te seil. Die een se kop sal by die een voor hom se voete wees, en wanneer hulle terugkom, sal hulle soos krappe agteruit moet beweeg as hulle nêrens ’n plek kry waar hulle kan regop kom of omdraai nie.
“Is dit rêrig nodig dat ons hier moet inkruip?” vra Dawie met groot oë.
Die ander wonder ook of dit regtig nodig is, maar sê niks nie. Niemand wil hê die ander moet dink hy is bang nie.
Dit is net Dawie wat glad nie skaam is om bang te wees nie.
“Sê nou maar net,” sê hy, “ons kruip ’n entjie in en sit dan vas. Nee, ouens, julle kry my nie daar in nie. Baie dankie.”
Dawie staan op. Hy het sy sê gesê en nou het hy alle belangstelling in die tonnel verloor.
Die ander voel ook soos Dawie, maar nie een wil dit juis sê nie. Trompie sê net: “Ek sal alleen gaan as julle nie wil kom nie. Ek is nie bang nie.”
Rooie, Blikkies en Asjas wil dadelik weet wie gesê het hulle is bang. Hulle is nie een ’n lafaard nie.
“Moenie dink ons is Dawie nie,” sê die parmantige Asjas.
Dawie antwoord nie eens hierop nie. Toe hy opgestaan het, het hy met sy skouer teen die kant van die grot gestamp en daar het ’n klomp grond losgekom. Die rotswand se wit oppervlak is nou blootgestel. Dawie dink dit sal lekker wees om daarop te teken terwyl die ander klomp vir hulleself en die ander bewys hoe dapper hulle is deur by die tonnel in te kruip.
Trompie-hulle het mekaar nou genoeg verseker hulle is nie bang nie. Nou moet hulle tot aksie oorgaan.
“Ek sal eerste inkruip,” sê Trompie, “en dan volg julle my.”
Dawie neem nie notisie van die klomp wat voor die gat lê nie. Hy brom net een keer hy is nie bang nie, bloot versigtig. Hy het ’n verroeste spyker by die grot se opening opgetel en teken nou op die rotswand. Hy dink dit sal gepas wees as hy probeer om Boesmantekeninge te maak soos dié waarvan daar foto’s in hul geskiedenisboek is.
“Hou die flits vas,” sê Trompie vir Rooie. “Ek kruip in, dan gee jy dit aan. Ná my kom jy, en dan Blikkies.”
“Ek kom saam,” sê Asjas. “Ek’s nie bang nie.”
Asjas kyk na Dawie, wat hard besig is om op die rotswand te teken, en sê: “Ek’s nie bang nie, maar ek weet van ander ouens wat is.”
Dawie mompel net: “Liewer bang Jan as dooie Jan,” en gaan dan aan met sy rotstekeninge.
Trompie se stem klink maar bewerig toe hy sê: “Wel, weg is ek, ouens.”
Sy kop gaan eerste deur die opening. Hy beur vorentoe, maar sy skouers is te breed. Trompie sukkel en kreun, maar dit help niks. Hy kan nie deurkruip nie.
“Laat ek probeer,” sê Rooie.
Rooie probeer, maar hy kry dit ook nie reg nie. Die gat is te klein. Blikkies probeer nie eens nie. As Rooie en Trompie nie kan deurkruip nie, kan hy ook nie. Hy is langer en groter as hulle.
“Dawie sal kan deurkom,” sê Trompie en kyk na sy vriend wat met die rotstekeninge besig is.
“Los my uit,” sê Dawie. “Ek kruip nie by daardie tonnel in nie. Al pas ek daar in, wat gaan ek daar doen? Julle kan mos nie saamkom nie.”
“Jy gaan stel ondersoek in,” sê Trompie. “Ons wil weet waarnatoe die tonnel lei.”
“Nee, ouens,” sê Dawie beslis, “dit traak my nie waarheen daai ding lei en wat aan die ander kant is nie.”
Dawie het nou sy sê gesê. Hy teken weer met mening op die rotswand en ignoreer aanmerkings soos “Bangbroek!” en “Lafaard!”. Hy weet sy vriende is ook bang en eintlik verlig dat hulle te groot is om deur die gat te kruip.
“Ek sal deurkruip en gaan kyk wat daar aan die ander kant is, Trompie,” sê Asjas skielik. “Ek’s nie bang nie.”
Trompie, Blikkies en Rooie kyk na Asjas. Hulle weet hy sal kan deurkruip, maar is dit nie te gevaarlik om die outjie so alleen te laat gaan nie? Wie weet wat is daar aan die einde van die tonnel?
Sê nou daar is ’n grot net so groot soos die een waarin hulle nou is, en in daardie grot is daar ’n prehistoriese monster wat Asjas verslind? Dit sal mos vreeslik wees. Hulle sal nie eens daar wees om hom te help nie. Of sê nou Asjas kruip ’n ent in die tonnel af en sit vas? Wat dan? Hy sal mos doodgaan van honger en dors.
Trompie het ’n geweldige verbeeldingskrag en hierdie gedagtes flits deur sy brein. Hy wens Asjas geluk dat hy so dapper is en nie ’n bangbroek soos ’n ander ou wat hulle almal ken nie. Dan voeg hy by: “Maar ek dink dis beter dat jy liewer nie gaan nie. Dis te gevaarlik.”
“Ek’s nie bang nie, Trompie,” pleit Asjas. “Ons het mos gekom om die grot te verken en deur die tonnel te kruip om te sien wat aan die ander kant is. Ek sal gaan, dan kom vertel ek julle alles.”
“Maar sê nou jy kom nie weer terug nie?” vra Trompie bekommerd.
“Natuurlik sal ek. Dis mos maklik om deur so ’n tonnel te kruip.”
Die seuns bewonder Asjas se moed. Hy het nie ’n bang haar op sy kop nie. Ja-nee, soos Trompie sou sê, dis nou maar wors.
“Wat dink julle?” vra Trompie vir Rooie en Blikkies.
Rooie kyk ingedagte na sy wikkelende tone. Hy probeer om hulle te roer sonder dat sy groottone ook beweeg, maar sonder veel sukses. Blikkies sit ingedagte voor hom en uitstaar. Net sy kakebene beweeg ritmies op en af soos hy aan ’n stukkie kougom kou.
“Dit lyk vir my na ’n gevaarlike besigheid,” sê Rooie uiteindelik fronsend. Blikkies sê niks nie. Hy knik net sy kop om te wys hy stem saam met Rooie. Dit lyk vir hom ook gevaarlik.
Dawie kyk op van sy rotstekening af en sê: “Julle ouens soek moeilikheid. As daar iets met Asjas in die tonnel gebeur … Sê nou maar net hy …”
“Niemand het jou mening gevra nie!” val Trompie hom in die rede.
“Oukei,” sê Dawie vies. “Maar onthou wat ek gesê het, hoor.” Dit is asof Dawie nou sy hande in onskuld was. Hy het sy sê gesê. Hy het hulle gewaarsku, maar hulle wil nie luister nie. Hy teken weer verder.
“Waarvoor wag ons nog?” vra Asjas. “Gee vir my die flits. Ek wil waai.”
Sonder om teë te praat, gee Trompie dit vir die dapper negejarige knapie.
“Onthou net,” waarsku Trompie bekommerd, “as dinge nie vir jou reg lyk nie, of as jy swaar begin asemhaal of so iets, dan kom jy terug. Belowe.”
“Ek belowe,” sê Asjas, “maar ek weet nie hoekom julle almal so bang is nie.” Die knaap geniet die aandag en die feit dat hulle so besorg is oor hom. Hy is nou kaatjie van die baan.
Rooie en Blikkies sê nou ook hy moet asseblief versigtig wees. Hulle wil nie sy dood op hul gewete hê nie en hulle wil nie later vandag van hom praat as oorlede Asjas nie.
Dawie draai sy kop en sê: “Ek sê nog steeds, julle soek moeilikheid om Asjas daar te laat ingaan.”
“Niemand het jou raad gevra nie!” snou Trompie hom weer toe. “Hy’s nie so ’n bangbroek soos jy nie.”
“Oukei, maar julle sal sien.”
“Wat sal ons sien?” vra Rooie bars.
“Toemaar, julle sal sien wat julle sal sien.”
Asjas lê op sy maag voor die opening. Hy het die flits in sy hand. Hy is glad nie bang nie.
“Tot siens, ouens,” sê hy.
“Tot siens, Asjas,” sê die Boksombende. Hulle hoop maar alles sal goed gaan en die outjie sal niks in die tonnel oorkom nie.
Asjas seil vorentoe. Sy kop gaan deur die opening en dan sy skouers, maar toe sy heupe moet deurgaan, sit hy vas. Hy wikkel en wikkel, maar sy sitvlak is te groot. Hy vorder nog ’n paar sentimeter, maar sit dan weer vas. Hy wikkel sy lyf weer, maar niks gebeur nie. Asjas se agterwêreld is definitief te groot om deur die gat te gaan.
Die knaap skop-skop met sy voete op die grond waar Trompie-hulle sit, maar hy kan nie verder vorentoe beweeg nie. Sy maag, skouers, kop en die helfte van sy sitvlak is nou in die tonnel. Die ander helfte van sy sitvlak en sy bene is buite in die grot by Trompie-hulle.
Dit lyk tog te koddig en die Boksombende lag lekker. Hulle voel ook verlig, want nou kan Asjas nie by die tonnel inkruip nie. Hulle was nogal skrikkerig dat daar iets met hom sal gebeur.
“Seil maar weer terug,” sê Trompie vir Asjas. “Jy kom ook nie daardeur nie.”
Die outjie se kop is in die tonnel en sy stem klink hol toe hy antwoord: “Ek probeer om terug te kom, maar ek kan nie. Ek sit vas.”
Die Boksombende sien nou aan Asjas se wikkelende agterwêreld hy probeer nie meer vorentoe beweeg nie – hy probeer agtertoe skuif.
“Vat sy bene en trek,” sê Trompie.
Rooie en Blikkies kry een been beet en Trompie die ander. Dawie is nou ook by om te help en hy gryp die been wat Trompie vashou.
“Trek, manne!” sê die Grootkaptein. Die vier lag heerlik, want hierdie affêre is vir hulle ’n groot grap. Dankie tog Asjas sit hier by die ingang vas en nie verder en dieper by die tonnel in nie.
Die seuns pluk en trek, maar dit is tevergeefs – Asjas beweeg nie. Hulle hoor hoe skree die outjie iets, maar sy stem klink so dof en hol dat hulle nie kan uitmaak wat hy sê nie.
Trompie buk by die opening met sy gesig by die helfte van Asjas se sitvlak wat sigbaar is, en hy skree: “Hè, Asjas? Wat is dit?”
Asjas roep weer iets. Noudat hulle stilstaan en nie aan hom pluk nie hoor die seuns die hol stem: “Julle maak my seer! En daar’s ’n ding hier voor my!”
“Watse ding?” skree Trompie.
“Ek weet nie. Ek sien net twee groot, blink oë in die flits se lig. Kry my hier uit!” Asjas se stemmetjie klink nou klein en pleitend.
Die seuns kyk na mekaar. Hulle lag nou nie meer nie. Hulle wonder wat is die ding met die groot, blink oë wat Asjas voor hom sien. Sê nou dis ’n slang!
“Trek weer, ouens,” sê Trompie benoud. Die seuns gryp die knaap se bene en hulle trek weer, maar dit help nie. Asjas sit, soos Trompie sou sê, properlies vas.
“Miskien sal dit beter wees,” sê Blikkies al kouende op sy tipiese lui manier, “as ons hom instoot pleks van uittrek.”
“Moenie nonsens praat nie,” snou Trompie hom toe. “Hoe kry ons hom dan weer uit? En wat van die ding met die groot, blink oë, hè?”
Blikkies mompel nou dat hy gevergeet het van die ding met die groot, blink oë.
Asjas skree weer iets en die seuns staan stil om mooi te luister.
“Die ding kom nader!” kom Asjas se hol stem. “Kry my hier uit! Asseblief!” Dit klink of die outjie nou histeries begin raak. Trompie kniel weer voor die opening.
“Asjas!” roep hy benoud. “Kyk of daar nie ’n klip of iets lê waarmee jy die ding kan gooi nie. Ons sal jou nou-nou los hê.”
Met ’n amperse huilstemmetjie skree Asjas terug dat hy ’n klip in sy hand het, maar so lê dat hy dit nie kan gooi nie. Dan gil hy skielik van angs. Dit lyk vir hom of die ding nader kom.
“Skyn die lig in sy oë!” skree Trompie. “Miskien verblind dit hom.”
“Kap hom op sy kop met die flits as hy te naby kom,” stel Rooie hees voor.
Die seuns kyk na mekaar. Hulle is nou baie bekommerd. Hulle pluk weer aan Asjas, maar hy sit so vas soos ’n neet en beweeg nie vorentoe of agtertoe nie.
“Wat maak ons nou, ouens?” vra Trompie sommer baie benoud.
“Ek het julle gesê hier gaan moeilikheid kom,” sê Dawie.
“Ag, bly stil!” sê Trompie.
Dan draai hy weer na Asjas se halwe agterstewe toe en roep: “Hei, Asjas! Hoekom praat jy nie?”
“Waaroor moet ek praat? Oor die weer en hoe ’n lekker sonskyndag dit is?” kom Asjas se stem sarkasties. “Wat doen julle? Hoekom kry julle my nie hier uit nie?”
“Waar is daai ding met die oë?” roep Trompie.
“Hy is nog hier voor my. Sy oë is nou groter en blinker. Dit lyk of hy al nader kom.”
“Kan jy sien wat dit is?” vra Trompie.
“Dit lyk soos ’n kat,” sê Asjas.
’n Kat? Die Boksombende kyk fronsend na mekaar. Hoe beland ’n kat hier in hierdie tonnel?
“Dit is seker ’n groot rot,” sê Trompie, “en daai soort rotte is gevaarlik. As daar een is, is daar gewoonlik honderde ander ook. As hulle Asjas pak, sal hulle hom opvreet.”
Die Grootkaptein en sy manskappe is nou werklik baie bekommerd. Dit sal vreeslik wees as hulle in die toekoms van hierdie knapie moet praat as oorlede Asjas wat deur die rotte opgevreet is.
“Ons moet iets doen,” sê Trompie.
“Maar wat?” vra Blikkies. “Dit help nie om net te sê ons moet iets doen nie. Dink aan ’n plan.”
En toe gebeur daar iets wat die situasie nog verder vererger. Asjas skree skielik skril: “Agge nee!”
“Wat’s dit, Asjas?” roep Trompie.
“Die flits se lig is dood!” skree Asjas. “Ek lê nou hier in die donker. Help! Help, ouens!”
“Waar is daai ding – die kat?”
“Hy sit nog hier voor my. Ek kan sy oë sien. Help my. Ek is bang!”
“Ons sal jou help, Asjas. Hou net kop – en hou moed,” sê Trompie vinnig in ’n bewende stem. “Maak geluide en slaan met die flits as die ding nader kom.”
“Sing, Asjas!” roep Rooie nou ook raad. “Miskien laat dit die ding skrik en dan hardloop hy weg. Ons het jou nou-nou hier uit.”
Asjas begin ten einde raad sing. Hy sing hard en vals. Hy besef nie die ironie van wat hy sing nie: “O, was ek maar dood, was die pyn in my hart nie so groot.”
“En hoe gaan ons hom kastig nou-nou hier uit hê?” vra Blikkies vies vir Rooie.
“Ons moet aan ’n plan dink,” antwoord Rooie, “en gou.”
“Maar wat gaan ons doen?” skree Blikkies geïrriteerd. “Almal sê ons moet iets doen, maar niemand doen iets nie.”
“Hoekom doen jý nie iets nie?!” gil Rooie.
“Ek het nie gesê ek gaan iets doen nie!” skree Blikkies. “Ek weet nie wat om te doen nie!”
Hulle moet albei so hard gil sodat hulle mekaar bo Asjas se geraas kan hoor. Die knaap sing nog steeds uit volle bors hy wens hy was dood, want dan was die pyn in sy hart nie so groot nie.
“Dit help nie ons stry nie,” kom Trompie nou tussenbeide. “Ons moet iets doen.”
“Ons weet ons moet iets doen,” snou Blikkies hom toe. “Maar wat? Dis wat ek die hele tyd vra.”
Trompie ignoreer Blikkies se uitbarsting en sê: “Daar is net een ding wat ons kan doen. Een van ons moet dorp toe hol om hulp te kry.”
“Dit is ’n goeie plan,” sê Rooie.
Skielik hoor die vier seuns Asjas sing nou ’n ander liedjie. Hy het moeg geword om te wens hy was dood, want dan was die pyn in sy hart nie so groot nie. Hy sing nou uit volle bors dit is weer lente en die winter is verby.