Читать книгу Raaiselster - Troula Goosen - Страница 5
2
ОглавлениеLeopold kry nie kans om lank oor die boggelrugman te wonder nie. Frans laat waai asof die duiwel in sy nek blaas en hy moet draf om by te bly. Toe hulle by die hawegebied kom, skroei sy asem in sy bors, maar Frans bly voor.
“Wag vir my!” roep Leopold. Die vissersbote wat douvoordag uitgevaar het, is besig om in te kom en sy stem verdrink in die gekras van die meeue wat bokant die handelaars se viskarre ronddraai. Frans seil soos ’n slap snoek deur die gewoel en die laaste wat Leopold sien, is sy sandblonde kuif wat tussen die visvroue se bont kopdoeke wegraak.
Leopold steek vas. Ander dae kan hy hom verkyk aan dié kleurvolle mense agter hulle blokke, maar vandag is anders. Vandag lyk hulle figure spokerig in die mis, en die reuk van visderms laat hom naar voel.
Wat dóén hy hier? Hy moet vergeet van die stoomskip en teruggaan na sy siek ma.
Hy wil net omdraai toe hy Frans se blonde kop ’n entjie vorentoe bokant dié van die ander mense sien uitsteek. Frans kyk terug en klap met sy vingers. “Hiernatoe, mater!” beduie hy.
Leopold huiwer. Dit sal net ’n rukkie vat om na die skip te kyk. Miskien sien hy van die passasiers op die dek en kan hy vir sy ma vertel hoe die nuutste Engelse modes lyk.
“Da-da-die-damm!” Frans boots ’n tromslag na en swaai sy arm dramaties. “Daar, in al sy glorie: die Trojan op sy nooiensvaart!”
Leopold klim langs hom op die lae klipmuurtjie en rek sy nek. Die mis is besig om te lig, net genoeg om die buitelyne van die posboot uit te maak. Twee maste, ’n skoorsteen en die reddingsbote. Wat dit spesiaal maak, is dat dit die eerste vaartuig is wat met elektrisiteit verlig word, maar daarvoor moet hulle wag tot dit donker is. En selfs dan sal hulle alles nog beter kan sien as hulle op ’n manier aan boord kan kom.
“Deksels! As daar iemand is wat ’n plan sou maak om ons op die skip te kry, is dit tannie Isabella,” eggo Frans sy gedagtes. “Jou ma kon mos nooit wag om die nuutste danspassies by die passasiers te leer nie.”
“Ja, sy sê altyd die Kapenaars moenie agter raak met wat in Engeland aangaan …” Leopold kyk met skrefiesoë na Frans. “Jy dink nie regtig my ma gaan gesond word nie, nè?”
Frans word rooi en vee oor sy nek.
Leopold spring van die muurtjie af en plant sy hande op sy heupe. “Jou beste maat se ma is besig om dood te gaan en al waaraan jy kan dink, is elektriese gloeilampe.”
“Dis nie nodig om my kop af te byt nie.” Frans sit sy hand op Leopold se skouer. “As jou ma nie beter word nie, hoef jy ten minste nie oor geld bekommerd te wees nie.”
“Geld? Is dit al waaraan jy dink? Is dit waarom jy die diamantroof nie uit jou kop kan kry nie? Omdat jy eintlik wens jou pa hét die diamante gegaps?”
“Deksels, Leopold, ons is vriende. Ek probeer om jou beter te laat voel!”
“Vir jou inligting, dit werk nie!” Leopold klap Frans se hand weg en struikel amper oor ’n net wat op die sand oopgegooi lê. Hy systap ’n smous met ’n bamboesjuk oor sy skouers en storm blindelings weg. Frans roep agterna, maar hy hou hom doof.
Uiteindelik is hy aan die onderpunt van Adderleystraat. Hy is nie lus om stroomop te beur teen die nuuskieriges op pad na die hawegebied nie en besluit om af te draai Groentemarkplein toe. ’n Slukkie van die helder bergwater wat ’n mens daar uit die fontein kan pomp, is net wat hy nodig het om sy kop skoon te kry.
Die plein was nog altyd een van sy gunstelingplekke. Op warm someraande het hy en sy ma soms hier kom stap en dan het sy hom vertel van die slawe wat vroeër jare hier verkoop is. Het Mieta se voorouers ook hier in kettings gestaan? Hy het nog nooit die moed gehad om te vra nie.
Teen dié tyd het die son deur die mis gebreek en speel die strale vrolik oor die groenteverkopers se kleurvolle seiltjies. Afgetrokke kyk Leopold na die vars produkte wat daaronder uitgestal is. Beet. Mielies. Wag ’n bietjie! Hy het mos sy ma se beursie saamgebring. Mieta sal bly wees as hy ’n kooksel groenbone saamvat huis toe. Maar eers gaan hy sy dors les. Hy loop tot by die fontein en pomp ’n sluk yskoue water in sy mond.
Die plein is stiller as gewoonlik, seker omdat al wat Kapenaar is vandag in die hawe saamdrom. Links van die Burgerwaghuis staan daar ’n paar waens wat verhuur word en in die skaduwee van die kerktoring bondel ’n groepie mans saam, vakmanne wat hulle dienste aanbied. Leopold herken hier en daar ’n gesig.
Toe sy ma nog gesond was, het sy hom elke maand hierheen gestuur om ’n boodskapper te huur. Hoekom weet hy nie. Sy het net gesê die man moet iets belangriks vir haar gaan haal. Noudat hy daaraan dink: sy het die laaste maande bekommerd gelyk elke keer nadat sy met die boodskapper gepraat het. Hy moet onthou om haar daaroor uit te vra wanneer sy beter is.
’n Skraal figuur tussen die werkers trek Leopold se aandag. Dis ’n seun, seker so twee jaar jonger as hy. Die outjie lyk uit plek tussen die manne. Sy klere is verslete, hy is besonder skraal en speel kop onderstebo met ’n sakkie wat aan ’n toutjie om sy nek hang. Leopold verwonder hom nog aan die vaalblou oë in die bruin gesig toe daar onverwags ’n wit streep om een van die groentewaens verskyn.
Dis die hond van vroeër. Die brakkie swenk tussen twee klante se bene deur en pyl op die bruin seun af. Toe, net soos sy vroeër met Leopold gedoen het, spring sy teen hom op en lek met haar lang tong oor sy gesig. Die seun lag en probeer haar wegdruk.
Leopold staan nader om ’n geselsie aan te knoop toe die grys skaduwee langs een van die huise in die man met die landkaartgesig verander. Die ou man hink tot by die seun en hulle gesels ’n rukkie. Toe sit hy sy arm om die knaap se skouers en hulle stap saam weg, die wit hond stertswaaiend op hulle hakke.
Net voor hulle by die dwarsstraat afdraai, kyk die boggelrug om. Sy oë ontmoet Leopold s’n en, amper asof hy hom herken, gly daar ’n tandlose glimlag oor sy gesig. Toe trek hy sy pet oor sy oë en verdwyn saam met die seun en die hond om die hoek.