Читать книгу Raaiselster - Troula Goosen - Страница 8

5

Оглавление

Leopold!” Mieta se kneukels tik teen sy kamerdeur. “Oudok wag in die voorkamer.”

Leopold sak op die rand van sy bed neer. Buite ruis die reën op die nuwe sinkdak, amper asof Tafelberg ’n sluier trek oor Isabella de Villiers wat soos ’n waspop in die kis lê. Beeld­skoon. Gewild. Skatryk. En nou is sy weg. Vir altyd. Hy kreun en druk sy gesig in sy hande.

Die geklop word meer dringend.

Ná ’n rukkie gee hy in en loop na die kamerdeur. Voor hy aan die knop raak, swaai dit oop.

Verligting spoel oor Mieta se bruin gesig toe sy hom sien. “Ai, kind!” Haar lippe word strepies. “A nee a!” Sy trek hom aan sy onderbaadjie se pante nader. “Hoe’s jou knope dan so skeef vas?”

Leopold staan gedweë stil terwyl hy Mieta toelaat om die knope eers los en dan weer vas te maak, nes sy gedoen het toe hy nog klein was. “Wat nou, Mieta?” vra hy die vraag wat die laaste dae tussen hulle hang.

“Nou?” Met ’n hand vol eelte vee sy ’n denkbeeldige donsie van sy skouer af. “Nou lig jy jou ken en gaan bêre jou ma. Oor die res sal daar agterna gepraat word wanneer die testament gelees word. Oudok is mos jou voog, en geld sal daar oorgenoeg wees.”

“Maar wat van jou, Mieta? Van jou en Moos?”

“Oudok het gepraat dat ons ook moet kom luister. Dal­kies het jou mammie vir ons iets gelos vir ons oudag. Of vir al wat ons weet, stel Oudok ons aan om vir jou te sorg. Toe, toe, hy wag vir jou.” Mieta beduie af in die skemer gang.

Leopold rem terug. “Wat onthou jy van my pa, Mieta?”

Mieta se oë vernou. “Nou’s nie die tyd om oor hom te praat nie.”

“Wanneer dan? My ma het nie gepraat nie. Jy en Moos praat nie. Oudok ook nie. Dis amper of my pa nie bestaan het nie.”

Mieta druk ’n grys haarkrul onder haar kopdoek in. “Hygend hert, wat maak dit tog saak, kind? Buitendien, ek het mos eers ná jou geboorte vir jou ma begin werk. Jou pa was toe al lankal weg.”

“En die man in die swart jas? Weet jy wie hy is? My ma het van hom gepraat net voor sy dood is.”

Mieta skud haar kop. “Jou ma se gedagtes was seker deurmekaar.”

Sy trek haar swart tjalie stywer om haar skouers en druk hom vooruit. Daar hang ’n lanferlap oor die huisorrel en die voorhuis ruik na siprestakke.

Die res van die oggend gaan in ’n waas verby. Sy ma se koue voorkop onder sy lippe toe hy haar vir oulaas groet. Oudok se arm om sy skouers. Die genooide begrafnisgangers wat gedemp opdaag. Mans wat hulle hoede afhaal voor hulle hul plek in die voorkamer inneem. Die dominee se temerige trooswoorde. Toe die stoet na die begraafplaas.

Langs die oop graf breek die son deur die wolke. Leopold leun vorentoe om ’n rooi roos op die kis te gooi. Die oomblik toe die roosknop op die kis beland, trek daar ’n aardige huil­geluid deur die begraafplaas. Vir ’n oomblik dink hy dis sy eie hartseer wat uit sy lyf skeur, maar toe waai Oudok met sy sambreel.

“Voertsek!”

Leopold kyk op, net betyds om die wit hond wat hy vroeër die week in die stad gesien het langs een van die boom­stamme te gewaar. ’n Sonstraal val skrams op die tefie se kop en dis asof die rooibruin vlek op haar oor gloei. Sy kyk stip na Leopold, maar toe Oudok weer skree, verdwyn sy in die skaduwees.

Die dominee maak gesteurd keel skoon. “Rust mijn ziel …” sit hy die laaste gesang in. Kluite klap op die kis. ’n Vrou snik hoorbaar.

Dit is te veel vir Leopold. Hy stoot Oudok se arm van sy skouers af weg, druk tussen die begrafnisgangers deur en hardloop by die hek uit.

Iets taais vee oor Leopold se wang. Hy skreef sy een oog oop en kyk in die wit teefhond se jakkalsgesiggie vas. “Nee sies, brak!” spoeg hy en vee oor sy mond. “Waar kom jy vandaan?”

Die hond begin haar stert jaag.

Leopold skud sy kop dronkerig en kyk rond. Hy sit op die onderste trappie van die St. Stephen’s kerk, die kerk op Boere­plein waarheen Mieta elke Sondag kom. Afgesien van ’n os­se­wa wat in die een hoek uitgespan is, lê die plein verlate.

Die begrafnis! Hy klap met sy handpalm teen sy voorkop. Teen dié tyd is dit lankal verby en vir al wat hy weet, is die testament ook al gelees. Arme Mieta is seker rasend van bekommernis.

Styf-styf staan hy op, klap die stof van sy rouklere af en be­gin aanstap huis toe. Toe hy in Breëstraat opdraai, laat ’n tjankgeluid hom opkyk. Die hond staan in die middel van die plein en waai haar stert. Toe sy sien hy kyk vir haar, hardloop sy tot ’n paar treë voor die ossewa. Die rooibruin kol op haar linkeroor gloei in die laaste daglig.

“Wat wil jy hê, hond?”

Die tefie se tong hang uit. Sy jaag haar stert en verdwyn om die voorkant van die ossewa.

Agterdogtig kyk Leopold na die wa. Dis die eerste keer dat hy dié wa sien, so met ’n swart tentseil en bloedrooi wiele. Wie s’n is dit? En waarom lyk dit of die hond hom nooi om nader te kom?

Hy staan nog besluiteloos toe iemand aamborstig in die watent hoes. Die tentflap lig, en ’n krom figuur sukkel by die trappie af. Afgeteken teen die bleek laatmiddaglig lyk dit amper monsteragtig. Leopold tree verskrik agteruit toe hy die boggelrug herken.

Eers lyk dit of die man hom nie raaksien nie. “Sarel!” roep hy en toe ’n stem van agter die wa antwoord, steun hy tevrede. “Hang die ketel oor, ons het gaste.” Dan draai hy sy kop en kyk na Leopold. ’n Onleesbare uitdrukking kruip oor sy gesig. “Toe, waarvoor wag jy?”

“Hoe nou, Oom?” Baie lus om die hasepad te kies, meet Leopold die afstand na die straat met sy oog.

Die boggelrug antwoord nie. Hink net om die hoek van die wa. Teen sy beterwete volg Leopold hom. Hy trek sy asem in toe hy die tengerige bruin seun met die ligblou oë langs ’n kampvuurtjie sien hurk. Langs hom, onder ’n opvoutafel waarop ’n ketel en ’n paraffienblik vol boerbeskuit staan, verwelkom die wit hond Leopold met ’n lagbek.

“Dis Sarel, my touleier.” Die boggelrug beduie na die seun, wat net sy velhoed dieper oor sy oë trek. “En daardie kar­nal­lie is Asem.” Hy wys na die hond. “Kan haar prooi enige plek uitsnuffel.”

Verbaas kyk Leopold na Asem. Dis moeilik om te glo dié vriendelike brakkie is ’n jaghond.

Steun-steun sak die boggelrug op ’n veldstoeltjie neer, vis ’n rol pyptabak uit sy sak en sny ’n stuk met ’n knipmes af. “My naam is Barend,” stel hy homself bekend.

“A-aangename kennis, Oom.” Leopold steek sy hand uit. “Ek is …”

“Leopold de Villiers.” As Barend die verbasing op Leo­pold se gesig gesien het, wys hy dit nie. Hy stop ’n pruimpie in sy kies. “Kan jy skiet?”

“Hoe nou, Oom?”

“Ek vra of jy kan skiet. Vir die pot. Roofdiere. Rowers. Of het jy gedink dis grappies om transport te ry?”

Leopold roer sy skouers ongemaklik. “Ek woon hier in die Tuine, Oom, ek ry nie transport nie.”

Die touleier se blou oë flits in sy rigting, maar toe spoeg hy in die kole en vroetel met die sakkie om sy nek. Die ketel begin sing en hy pak twee blikbekers op die kamptafel uit.

“Ek moet gaan, Oom.” Leopold draai om, maar dit kry die man nie van sy storie af nie.

“Dis drie en ’n half maande met die transportwa tot in Kimberley,” sê hy. “Goeie plek om jou fortuin te soek.”

“Ek soek nie …” begin Leopold weer, maar Barend vat die blikbeker wat Sarel vir hom aangee en blaas oor die sto­mende koffie.

“Môre, voor die oggendster bleek word, wil ek al ver trek.”

Leopold besluit dat dit nie sal help om met die ou man te stry nie. “Dis reg, Oom, dan sê ek maar nag, Oom,” paai hy terwyl hy tot by die hoek van die ossewa retireer. Toe hy daar kom, vlieg hy om en nael oor die plein. Hy weet nie hoekom nie, maar iets voel verkeerd. Baie verkeerd. Hoe meer treë hy tussen homself en die boggelrug sit, hoe beter.

Raaiselster

Подняться наверх