Читать книгу Raaiselster - Troula Goosen - Страница 7
4
ОглавлениеMieta!” Uitasem steek Leopold op die kombuis se drumpel vas. “My ma …?”
Mieta kyk op van waar sy by die stryktafel staan. “Dis als reg, Leopoldjie,” troos sy. “Oudok het bloed getrek, sy rus ’n bietjie.” Stadig, amper asof sy iets soek om haar mee besig te hou, sit sy die swaar strykyster eenkant. “Gaan groet eers.” Haar mondhoeke bewe.
“Mieta?” ’n Donker vrees sypel deur Leopold se lyf. Alles voel klipswaar. Sy voete. Sy bene. Sy hart.
Mieta antwoord nie. Begin net om die strykkombers op te vou. Oor en oor vou sy dit sonder om na Leopold te kyk.
Die vertrek kantel voor Leopold se oë. Sy ma se kamer is aan die onderpunt van die gang. Hoe gaan hy daar kom? Sy bene is lam. Maar toe hy weer sien, staan hy voor haar deur. Hy lig sy hand om te klop. Bedink hom en draai die knop. Saggies. Saggies. Hou asem op. Sluip binnetoe.
Geskok staar hy na die koperbed in die middel van die kamer. Sy ma is dan nie daar nie! Kan dit wees dat … ? Nee wag, daar is ’n hopie bene onder die wit lakens. Leopold proe die sout smaak van trane in sy mond.
Hy loop tot langs die bed en raak aan haar hand. Dis koud, yskoud.
“Leopold?” Geraamtevingers vou om syne.
“Ek’s hier, Ma.”
Haar ooglede fladder. “Ek moet … praat.” Sy begin hoes en soek-soek na haar sakdoek. Leopold kry dit tussen die lakens en hou dit teen haar lippe. Toe hy dit wegvat, is dit vol donker spatsels.
“Stadig nou, Ma,” sê hy toe dit lyk of sy weer asem het. “Rus eers ’n bietjie.”
Isabella se kop rol heen en weer op die kussing. “Jy moet weet. Van hom …”
Leopold druk haar saggies terug. “Van my pa?” vra hy die vraag wat hom al van kleintyd af pla.
Isabella maak ’n gebaar met haar hand. “Swart. Die swart man. Hy weet.” ’n Nare roggel rasper uit haar keel. “Jy moet uitvind wat gebeur het. Die boodskapper … Daar’s fout.” Dit lyk of die praat haar uitgeput het, want haar lyf smelt weg tussen die beddegoed.
“Ma!” Leopold tik teen haar wang. “Asseblief, Ma, moenie my alleen los nie.” Hy sak op sy knieë af en slaan sy arms om haar lyf.
“Jy móét dit kry, Leopold. Anders …”
“Wat moet ek kry, Ma?”
“Die man met die jas. Hy weet.” Sy lig haar hande en skulp dit om sy gesig. “Wees dapper my kind.” Haar hande val terug in haar skoot.
Later is daar gedempte voetstappe op die plankvloer.
Mieta buk oor Leopold en vee met haar vingers oor sy ma se oë, vou Isabella se hande oor haar bors en trek die laken oor haar gesig. Toe raak sy saggies aan sy skouer. “Kom, kind, ek maak solank tee.”