Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 9 - Tryna du Toit - Страница 5
Hoofstuk 2
ОглавлениеVeronica stap reguit na Adèle se woonstel op die tweede verdieping aan die suidekant van die gebou. Haar eie woonstel is twee verdiepings hoër op en kyk noord. Daar is lig in die woonstel en sy hoop maar Adèle het nie ’n besoeker nie.
Sy druk die voordeurklokkie en byna onmiddellik maak Adèle die deur vir haar oop. Adèle is lank en skraal, met klassieke gelaatstrekke, groenblou oë en gladde, donker hare wat sy in ’n eenvoudige bolla laag in haar nek dra. Sy is nog ’n hele paar jaar duskant veertig, maar haar swaar grimering en die effens harde uitdrukking op haar gesig laat haar ouer lyk. Sy hou van dramatiese klere en het nou ’n lang ferweelbroek met ’n rooi bloes aan, met ’n voorskoot daaroor. Die heerlike geur van die een of ander gebak vul die woonstel.
“H’mmmm, dit ruik lekker,” sê Veronica toe sy op haar vriendin se uitnodiging instap. “’n Partytjie?”
“Dadelkoekies. Elma kom die naweek kuier.”
“Wonderlik! Ek bedoel dat Elma kom kuier.” Elma is Adèle se twaalfjarige dogter wat in die Paarl op skool is en in die koshuis bly.
“Jy lyk spoggerig,” sê Adèle. “Kom jy terug of is jy op pad?”
“Ek kom nou net terug van die opening van Jacques du Pré se uitstalling. Dis briljant, Adèle. Een van die beste uitstallings wat ek in ’n lang tyd bygewoon het. Jy moet regtig ’n plan maak om daarna te gaan kyk.”
Adèle haal haar skouers op.
“Dit sal net tydmors wees. Ek het nie geld om te koop nie en ek verstaan ook nie moderne kuns nie. Al daardie strepies en winkelhakies beteken vir my niks nie.”
“Jy sal hierdie man se werk verstaan en geniet.”
“Net ’n oomblik,” maak Adèle haastig verskoning. “Ek dink die pan moet uit die oond kom.”
Veronica stap saam met haar kombuis toe. Op die rak staan ’n bak vol goudbruin koekies wat reeds klaar gebak is. Veronica soek vir haar ’n mooi vette uit, vol dadels en neute, en begin daaraan peusel.
“Heerlik,” sê sy waarderend. “Jy moet vir my die resep gee. Maar ek het nie kom kuier nie – ek het jou net kom nooi om by my te kom eet. Nie dat ek sulke wafferse kos het nie, hoor,” vervolg sy haastig. “Om die waarheid te sê, ek weet nog nie eers wat ek gaan maak nie. Maar ek is nie vanaand lus vir my eie geselskap nie.”
Adèle kyk haar ’n oomblik ondersoekend aan. Dan knik sy.
“Dankie. Maar ek moet eers die koekies klaar bak – ek is amper klaar – en ek kan nie lank bly nie. Ek moet nog my hare kom was, ek het strykwerk om te doen en ek wil ’n poeding vir môreaand maak. As jy niks anders te doen het nie, kan jy gerus saam met my en Elma kom eet.”
“Dankie, ons sal sien. Kom dan so gou jy klaar is. Ek gaan solank kyk wat daar in die kas is.”
In haar eie woonstel trek sy die gordyne toe en skakel die leeslampie aan. Dan, met die hoed in haar hand, bekyk sy die vertrek krities, byna soos ’n vreemdeling daarna sou kyk. Sy sien ’n ronde Sweedse tafel met vier ligte stoele; twee lae, gemaklike Sweedse stoele met helderrooi kussings – alles op afbetaling gekoop – ’n klein maar goeie gramradio, seker ’n luukse maar vir haar ’n noodsaaklikheid; swaar, roomkleurige gordyne; ligte, handgeweefde matte op die vloer en ’n paar etse en van haar eie skilderye teen die muur. ’n Ingeboude kas doen tegelyk diens as klere- en linnekas. Daar is ook ’n elektriese verwarmer en ’n ingeboude boekrak wat haar boeke en ’n paar mooi ornamente huisves, en sy dink die geheel maak ’n gesellige indruk. Buite op die stoepie staan haar esel en die divan waarop sy slaap. Verder is daar ’n ruim ingangsportaal, ’n kombuisie en ’n badkamer. Dis nie veel nie, maar dis haar eie plek wat sy met niemand anders hoef te deel nie. Hier kan sy maak soos sy wil, kan sy haarself wees.
Daar kom wel dae dat die vertrek vir haar te klein word, dat dit voel asof die mure haar wil vasdruk, maar ’n lang wandeling langs die see of ’n middag op die gholfbaan help haar gewoonlik om perspektief te herwin.
En diep in haar hart is daar natuurlik nog die hoop dat sy eendag weer ’n man sal kry wat haar liefde, sekuriteit, ’n eie huis en kinders kan gee. Dié keer sal sy weet hoe om haar liefde te vertroetel, sodat dit steeds sterker word. Sy sal nie haar geluk ’n tweede keer deur haar vingers laat glip nie.
Net soms is sy bewus van ’n gevoel van beklemming. Die jare gaan so vinnig verby. Sy is reeds agt-en-twintig. Wie sê sy sal ’n tweede kans kry? Die mans van haar leeftyd is byna almal al getroud of verloof of het reeds hulle keuse gemaak. En die paar wat oorbly verkies meestal die geselskap van jonger meisies. Baie mans kyk ook agterdogtig na ’n geskeide vrou: Waarom het haar eerste huwelik misluk? Wie sê dit sal met die tweede een beter gaan?
En Emile? Sover sy weet, is hy nog ongetroud. Nadat hy uit die buiteland teruggekeer het, moes hy natuurlik weer van voor af begin, maar sy het by ’n vriendin in die noorde gehoor hy doen goed in sy werk. Hy kan sekerlik ’n weeldeartikel soos ’n vrou bekostig. Dalk het hy reeds een uitgesoek.
Sy is nou jammer sy het nie sy ete-uitnodiging aanvaar nie. Die verlede is dood en begrawe, en daar is geen rede waarom hulle nie soos twee beskaafde mense kan saam eet en ’n uur of twee gesels voor elkeen weer sy eie pad gaan nie. Hy dink seker dit was ’n bietjie kinderagtig en onvolwasse van haar om sy uitnodiging te weier. Maar dis nou te laat om iets daaraan te doen. En as sy dink aan alles wat verby is, aan die vyf jaar van swye wat soos ’n kloof tussen hulle lê, is sy bly dat sy so beslis nee gesê het.
’n Uur later het sy en Adèle klaar geëet en die skottelgoed gewas en sit hulle elkeen in ’n gemakstoel met ’n koppie koffie. Adèle is opgewonde oor haar dogter se kuier en Veronica luister na die planne wat sy beraam om dit so lekker moontlik vir Elma te maak.
“Dis wonderlik dat sy so gereeld kan kom kuier,” merk Veronica later op.
“Net twee maal per kwartaal! Tensy dit ’n baie spesiale geleentheid is. Maar ek verstaan dat hulle streng moet wees, dat hulle nie gedurig uitsonderings kan maak nie. Ná so ’n naweek is die kinders altyd meer onbeheerbaar as gewoonlik. Die hoof sê vir my dit neem gewoonlik ’n paar dae voor hulle weer heeltemal in hulle roetine is.”
“Maar jy dink tog jy het reg gedoen toe jy haar koshuis toe gestuur het?”
“Ongetwyfeld. In die omstandighede was dit die enigste oplossing. Wat moes middae van haar word terwyl ek by die werk is? Ek het my byna morsdood bekommer die rukkie wat sy hier by my gebly het.”
Veronica knik instemmend. Dis hoekom sy nog altyd dankbaar was dat sy nie ’n kind het nie. En tog, as haar baba gelewe het, sou haar verhaal nie miskien vandag anders gewees het nie?
In Adèle se geval was dit ’n ander vrou, ’n jong tikster wat in haar man se kantoor gewerk het. Albei kinders is aan Adèle toegesê, maar later het sy ingewillig dat die seun, wat twee jaar jonger as Elma is, teruggaan na sy pa toe. Nou sien sy hom hoogstens een keer per jaar wanneer hy ’n paar weke lank by haar kom kuier.
“Vertel my van die uitstalling,” onderbreek Adèle na ’n rukkie haar gedagtes. “Wat was so wonderlik daaraan?”
Veronica vertel haar van Sestien en van die ander skilderye, en Adèle luister belangstellend.
“Ek sal eendag gaan kyk as jy my herinner,” belowe sy. “Maar jy weet ek is maar ’n doodgewone ou pleb wat niks van hierdie dinge af weet nie. Ek het geen talente nie: al wat ek kan doen, is kos kook en klere maak en huis aan die kant maak – en dit het ek so goed gedoen dat ek op die ou end my man en huis kwyt was.”
Haar stem is kalm en gelyk en die mooi gesig verraai geen gevoel nie, maar Veronica verstaan iets van die bitterheid en selfverwyt wat agter die woorde opgesluit lê. ’n Oomblik weet sy nie wat om te sê nie. Sy het al dikwels gedink dit is seker makliker om die man wat jy liefhet aan die dood af te staan as aan ’n ander vrou.
Meer om die atmosfeer te verlig as iets anders sê sy: “Jy sal nooit raai wie ek vandag by die uitstalling raakgeloop het nie. Nee, dis nie iemand wat jy ken nie, maar ek het jou van hom vertel. Emile de Klerk, my … my gewese man.”
Adèle kyk na haar met skielik verskerpte belangstelling.
“En jy sê nou eers vir my! Wat soek hy hier in die Kaap? Het jy met hom gesels?”
“Ek het ’n hele rukkie met hom gesels. Hy sê dis ’n sakebesoek.”
“Is hy weer getroud?”
“Hy het nie gesê nie en ek het ook nie gevra nie. Toe ek laas gehoor het, was hy nie getroud nie, maar dit was ’n hele paar maande gelede.”
“Jy kon darem gevra het. Of stel jy regtig nie belang nie?”
Veronica is bewus van haar vriendin se ondersoekende blik en sê liggies: “Ons het nooit in daardie rigting gesels nie, maar ek stel nie eintlik belang nie. Ek het hom meer as vyf jaar laas gesien of iets van hom gehoor. In vyf jaar verloor ’n mens kontak, raak jy heeltemal vervreemd van mekaar. Hy het my gevra om een aand saam met hom te gaan eet – daar is glo dinge wat hy met my wil bespreek – maar ek het nee gesê.”
“Waarom?”
Veronica haal haar skouers liggies op.
“Ek het gedink dis beter so. Daardie fase van my lewe is vir goed verby. Ek het geen begeerte om weer al die ou koeie uit die sloot te grawe nie.”
Adèle haal ’n sigaret uit haar handsak en steek dit peinsend op. Na ’n rukkie sê sy: “Veronica, was jy nog nooit spyt dat jy van jou man geskei het nie?”
Toe Veronica nie dadelik antwoord nie, vervolg sy: “Laat ek dit liewer so stel: As jy jou lewe kon oorhê – wetende alles wat jy vandag weet – sou jy presies dieselfde opgetree het?”
“Nee, natuurlik nie. Maar dis verby en niks of niemand kan dit ongedaan maak nie. ’n Mens hoop maar net,” vervolg sy met skielike bitterheid, “dat die ervaring wat jy so ten duurste koop vir jou later in die lewe van waarde sal wees.”
“Dit betwyfel ek ten sterkste. Jy kan ander miskien help, ander wat dieselfde probleem het, maar wat jouself betref – as jy reeds alles verloor het, of byna alles wat die lewe die moeite werd maak, wat help al die wysheid wat jy met die jare opgedoen het?”
“Ek weet nie, tensy dit help om ’n beter mens van jou te maak,” sê Veronica liggies in ’n poging om die atmosfeer ’n bietjie te verlig. Toe Adèle nie antwoord nie, vervolg sy sober: “In elk geval, dis maklik om nou te praat. Ek is seker al kon jy jou lewe oorhê, sou jy presies dieselfde opgetree het. ’n Mens het mos jou trots en selfrespek, en as jou man die dag vir jou kom sê hy het jou nie meer lief nie – dat hy met iemand anders wil trou – wat kan jy anders doen as om hom te laat gaan?”
“Jy kan baie doen,” sê Adèle bitter. “Daar is dinge wat belangriker is as jou trots, maar ongelukkig vind jy dit eers uit wanneer dit te laat is. Ons was tien jaar getroud – gelukkig getroud volgens my mening. Ek was verdiep in my kinders en ander huishoudelike pligte, en ek het miskien vir Dawid ’n bietjie verwaarloos. My ma het destyds by ons ingewoon en sy en Dawid het nie goed klaargekom nie. Omdat sy oud en eensaam was, het ek dikwels haar kant gekies, en dit het soms spanning en onaangenaamheid veroorsaak, maar die wrywing was nooit ernstig nie – altans, so het ek gedink. Maar die eintlike moeilikheid het gekom toe ek Elma, wat twee keer ná mekaar longontsteking gekry het, op die dokter se advies Suidkus toe moes neem om gesond te word. Dawid kon nie saamgaan nie en ek was verplig om alleen met die kinders te gaan. Ek was ses weke weg. Dawid was eensaam, hy het die meisie elke dag op kantoor gesien, en glo my, die klein Jesebel het nie gras onder haar voete laat groei nie. ’n Tyd lank nadat ek teruggekom het, het hulle die verhouding geheim gehou, maar uiteindelik het sy ’n kind verwag en alles het op die lappe gekom. Dawid het my vir ’n egskeiding gevra sodat hy met haar kon trou en ek was natuurlik so geskok en verslae dat ek, aangemoedig deur my ma en ander vriende wat dit goed bedoel het, ingewillig het om hom sy vryheid te gee.”
“Arme Adèle. Ek kan dink dit was ’n bitter slag. Maar ek sien nog nie wat jy anders kon gedoen het nie.”
“Ek kon vir hom gesê het: ‘Ek is jammer, Dawid. Jy is ’n getroude man en jou eerste verpligting is teenoor jou vrou en jou kinders. Ek is jammer vir die meisie en ons sal haar help sover ons kan, maar ek gaan nie van jou skei nie. Ek sal by jou staan en ons sal hierdie ding saam deurmaak.’ En ek is seker hy sou diep in sy hart baie verlig gewees het. Dawid was lief vir sy huis en sy kinders en ek is seker hy het nooit bedoel dat die verhouding so ver moes ontwikkel nie. Maar toe ek hom in die steek laat, kon hy, om so ’n bietjie van sy selfrespek te behou, niks anders doen as om met haar te trou nie.”
Veronica dink ’n rukkie, dan sê sy: “As jy nog jou man liefgehad het, as jy kans gesien het om hom te vergewe, moes jy natuurlik nooit weggegaan het nie. Maar ek wonder of jy werklik gelukkig sou gewees het? Dit kon daarna tog nooit weer dieselfde gewees het nie?”
“Natuurlik sou dit nie dieselfde gewees het nie. Iets was vir altyd verlore. Maar ek sou nog my huis en my kinders en my vriende gehad het. As Dawid se vrou het ek ’n sekere status in die gemeenskap gehad. Ek het sekuriteit gehad. Ek, en my kinders ook. Vandag het ek niks. ’n Uitgeworpene, ’n geskeide vrou na wie ander vrouens met agterdog kyk, en mans – nou ja, jy weet net so goed soos ek wat die meeste mans se houding teenoor ’n geskeide vrou is. Ek is nie net van my man geskei nie, ek is ook van my kinders geskei: vir Elma sien ek vakansies en naweke wanneer sy afkry, en vir Kallie sien ek miskien een keer per jaar vir ’n week of so. Ek het geleer wat eensaamheid is … en vrees. Ek word nie jonger nie, ek het geen besondere kwalifikasies nie, en as ek dink aan die jare wat voorlê – aan die dag wat ek sal moet terugstaan vir ’n jonger persoon – is dit of my keel wil toetrek. En sý, sy wat die skuldige is – wat my huis vernietig en my lewe verwoes het – sy het alles. My huis, my man, my vriende – die sekuriteit en gerief en gemoedsrus wat ek nie het nie. Verstaan jy nou as ek sê daar is dinge wat belangriker is as jou trots en jou selfrespek?”
Sy druk haar sigaret in die asbakkie dood en staan op. Op heeltemal ’n ander toon sê sy: “Ek is jammer, Veronica, ek het nie bedoel om jou met my probleme te verveel nie. Wat ek eintlik vir jou wou sê is dit: As jy jou man nog liefhet, moenie te koppig wees om dit te erken nie, of te trots om vir jou geluk te veg nie. Berou en verwyt is slegte geselskap op die lang pad wat voorlê.”
“Wat laat jou dink dat ek nog lief is vir Emile?” vra Veronica verbaas.
Adèle haal haar skouers op.
“Jy is jonk en mooi en aantreklik. Daar moet ’n rede wees waarom jy nie weer trou nie.”
“Daar is ’n rede: die beste mans is teen dié tyd reeds almal getroud of verloof, en om te trou net om getroud te wees – daarvoor sien ek nie kans nie. Nou is ek my eie baas, ek kan kom en gaan soos ek wil, ek kan my lewe inrig soos dit my pas …”
“Dapper woorde wat niemand glo nie – minste van almal jy self. Daarom sê ek, as jy hom kan terugkry …”
“Nooit. Hy is ’n onmoontlike man! Ons pas glad nie by mekaar nie. Ons het gedurig rusie gemaak. Selfs vanmiddag – ná vyf jaar – het ons nie tien minute lank gesels nie of ons was weer aanmekaar.”
Adèle kyk na Veronica se roesbruin hare. “Hulle sê dis nie so maklik om saam met ’n rooikop te woon nie. En as sy daarby nog ’n kunstenares ook is …”
“Ek is nie ’n rooikop nie en ek is ook nie ’n kunstenares nie,” antwoord Veronica warm. “Maar hy is ’n onmoontlike man. ’n Engel uit die hemel sal dit nie langer as ’n week saam met hom uithou nie.”
“Ek verstaan: ’n monster,” sê Adèle simpatiek. “Die soort man wat sy vrou en kinders slaan, wat drink en agter ander vrouens aanloop, wat al sy geld uitdobbel …”
“Dis nie nodig om sarkasties te wees nie,” sê Veronica gesteurd.
“Wat doen hy dan wat so onmoontlik is? Ek wil eerlik baie graag weet.”
“Hy is sommer net onmoontlik: selfsugtig, eiegeregtig, hardkoppig, foutvinderig – daarby is hy nog suinig, sonder humor en sonder ’n greintjie verbeelding.”
Adèle skud haar kop.
“’n Argitek sonder humor – dit is sekerlik moontlik; ek dink daar is min mans wat kan lag as dinge tuis verkeerd loop – maar ’n argitek sonder verbeelding? Ek het nie gedink so iets is moontlik nie.”
“Ek praat van ’n ander soort verbeelding – jy kan dit simpatie ook noem,” verduidelik Veronica koel. “Die vermoë om jou in ’n ander mens se plek te stel, om sy kant van die saak ook te sien.”
Adèle kyk haar ’n oomblik stilswyend aan.
“Daar is maar min van ons wat daardie gawe besit,” sê sy uiteindelik. “Die lewe sou andersins baie meer draaglik gewees het. Maar ek moet gaan. Dankie vir die ete en die geselskap. Alleen eet kan op die lang duur maar bra vervelig word.”
“Ek is bly jy het gekom,” sê Veronica en voeg ’n bietjie moedswillig by: “Ek hoop jy is môre in ’n beter bui!”
Adèle glimlag onverwags.
“Môre kom my kind, dan lyk die wêreld sommer weer anders. Tot siens dan – ons verwag jou môreaand tensy jy iets beters het om te doen.”
Veronica staar nog ingedagte na die deur toe dit skielik weer oopgaan. Adèle steek haar kop om die deur en sê: “Ek sou hom tog graag wou ontmoet. Hy klink vir my na ’n baie interessante monster!”
Die deur klap toe en dié keer bly dit toe. Veronica sit dit op slot en stap terug woonkamer toe. Adèle se kuier het nie vanaand die gewenste uitwerking gehad nie. Sy voel meer ontsteld en rusteloos as toe sy tuisgekom het.
Sy haal haar skoolboeke uit en probeer haar aandag daarby bepaal, maar die werk wil nie vanaand vlot nie. Sy dink aan Adèle se verhaal en voel opnuut jammer vir die ouer vrou. Ten spyte van haar effens dramatiese voorkoms is Adèle in wese ’n huisvrou en ma, met geen ambisie vir ’n eie loopbaan nie. Sy wil niks meer hê as die liefde van man en kind nie, haar geluk lê daarin om hulle gelukkig te maak. Die egskeiding was vir haar ’n wrede slag en ná wat sy vanaand gesê het, dink Veronica ook sy moes nie so haastig gewees het nie. ’n Halwe eier is beter as ’n leë dop. En om so alleen te woon, ver van almal wat vir jou dierbaar is, is maar net ’n bestaan, nie ’n lewe nie.
Haar geval was natuurlik heeltemal anders. Dit was nie ’n ander vrou of man wat tussen haar en Emile gekom het nie. Die grootste probleem was dat hulle albei te jonk en te onvolwasse was vir ’n ernstige saak soos die huwelik. Vir haar was die lewe ’n heerlike speletjie, alles was net maanskyn en rose. Sy het die voorregte van haar getroude status geniet, maar sy was nog nie gereed vir die verantwoordelikhede – en die opofferings – wat dit meegebring het nie. Vir Emile was die lewe ’n ernstige saak wat ernstig benader moes word. Hy het geen geduld gehad met haar tekortkominge nie; hy was onverdraagsaam en te gereed om fout te vind en te veroordeel.
Ai, die bitter rusies wat hulle gehad het! Die spanning wat hoër en hoër opgelaai het totdat dit uiteindelik met hulle baba se geboorte breekpunt bereik het. Was sy miskien te haastig? En daarna te trots en te koppig om te erken dat sy verkeerd was?
Noudat die gedagtes eenmaal begin het, kan sy hulle nie weer stop nie. In haar gedagtes herleef sy weer die jare wat gevolg het op daardie aand by die Fonteine.
Kort daarna het die vakansie aangebreek en is sy saam met haar ouers see toe. Dit was byna drie maande voor sy weer vir Emile gesien het, maar sy het dikwels aan hom gedink en gewonder of hy ook soms aan haar dink.
Sy het uit ’n bevoorregte huis gekom en – moontlik omdat sy die enigste dogter was – het veral haar pa haar baie bederf. Hy was ’n bekende sakeman in Johannesburg, haar ouers het in die beste sosiale kringe beweeg, haar vriende het almal uit ewe bevoorregte huise gekom en sy het nie geweet wat swaarkry of opoffering beteken nie.
Emile het weer uit heeltemal ’n ander soort huis gekom. Sy pa was eers ’n staatsamptenaar en daarna ’n onderwyser, maar hy het dit nie baie ver gebring nie, miskien omdat sy hart nie in sy werk was nie. Hy was ’n dromer en ’n idealis, op sy gelukkigste in sy studeerkamer, omring van sy geliefde boeke. Hy het veral belanggestel in Suid-Afrikaanse geskiedenis en was, vandat Emile kon onthou, besig met die skryf van ’n reeks geskiedenisboeke vir die laerskool. Behalwe Emile was daar nog drie kinders, ’n dogter en twee seuns, al drie jonger as hy en al drie net so skrander en ambisieus soos hy. Sy ma, wat in ’n pastorie grootgeword het as een van ’n groot gesin, was gelukkig meer prakties en nugter as haar man. Dit was haar vaste hand op die stuur wat die familiebootjie veilig deur die moeilike jare gekry het. Maar dit het swaarkry en opoffering gekos, en die kinders het vroeg geleer om hulle deel te doen. Vakansietye het Emile gereeld by ’n argiteksfirma gewerk en vanaf sy vierde jaar op universiteit het hy homself onderhou.
Maar as ’n mens jonk en hartstogtelik verlief is, dink jy nie aan sulke onbelangrike dinge soos ’n verskil in agtergrond en geaardheid nie. Jy dink jou liefde is sterk genoeg om alle moeilikhede te bowe te kom. Dis eers later, wanneer die pyn en die ontnugtering kom, dat jy besef dat die gevaartekens altyd daar was; dat jy hulle nie wóú raaksien nie.
Aan die begin van die volgende jaar is Veronica terug Pretoria toe en in die maande daarna het hulle mekaar gereeld gesien. Emile het haar van sy drome en planne vertel. Hy het gehoop om ’n beurs te kry om verder te studeer in Italië, die mekka vir alle argitekte. Daarna wou hy ’n tyd lank in Engeland en miskien Amerika rondreis en werk voor hy weer na Suid-Afrika terugkom. Sy het stil geluister en gewonder waar sy inpas. Want hoewel hy nog nooit in daardie rigting gepraat het nie, het sy geweet hy het haar lief en dat sy onvermydelik deel van sy toekomsplanne is.
Aan die einde van die volgende jaar het hulle albei graad gekry. Haar ouers wou hê sy moes die H.O.D.-kursus ook doen, maar daarvan wou sy niks weet nie. Haar belangstelling was kuns en sy het – soos Emile gesê het – gedink daar is niks meer vervelig en sieldodend as om dag ná dag met ’n klomp onwillige, onwaarderende kinders opgeskeep te sit nie. Buitendien het hulle toe ander planne gehad. Hulle wou vroeg in die volgende jaar trou en die jaar daarna – as Emile die beurs kry – saam oorsee gaan. Presies waar hulle die ekstra geld sou vind om haar onkoste te dek, het hulle nie geweet nie, maar sy was vol vertroue dat alles op die ou end sou regkom.
Oor een ding was die twee families dit eens: sowel Emile se ouers as haar ma en pa wou hê hulle moes die trouery ’n jaar of twee uitstel. Haar ouers het natuurlik gedink sy kan beter doen as ’n arm jong argitek met ’n droomkous vir ’n pa, ’n man wat niks het behalwe sy graad nie. Sý ma het weer gedink hy is te jonk om die verantwoordelikheid van ’n vrou op hom te neem, dat Veronica in hierdie stadium net ’n meulsteen om sy nek sou wees. Die ouer mense het die gevaartekens gesien wat sy en Emile, verblind deur hulle liefde vir mekaar, nie kon of wou sien nie.
Hulle is aan die begin van die jaar getroud en die eerste maande was hulle wonderlik gelukkig. Sy het nie veel van huishou of koskook geweet nie, maar met Emile se hulp het dit nie te sleg gegaan nie. In die eerste roes van geluk het hy baie verskoon, maar hy was besig op kantoor en dit kon nie so aangaan nie. Baie gou het die rusies begin. Emile het gesê sy is spandabelrig, te veel uithuisig en onverantwoordelik. Boonop wou hy hê sy moes haar kunsklasse – wat hulle nie kon bekostig nie – voorlopig laat staan en gaan werk. Sy het geweier. Sy en twee vriende was van plan om die volgende jaar saam ’n uitstalling te hou en hulle sou hard moes werk om alles betyds gereed te kry. Sy het gehoop sy sou genoeg skilderye verkoop om haar passaat na Italië te betaal – as sy eers eenmaal daar was, sou hulle wel ’n plan kon maak. Haar pa se besigheid het net toe ’n ernstige terugslag gekry, maar teen daardie tyd was hy miskien weer in ’n posisie om hulle te help.
Sy het haar dus nie veel aan Emile se ontevredenheid gesteur nie, maar ongestoord haar gang gegaan. Sy sou almal nog verras met die uitstalling, dan sal Emile besef hoe selfsugtig hy was om aan te dring dat sy haar talent verwaarloos en in ’n vervelige kantoor gaan werk om ’n paar ekstra pennies te verdien.
Die grootste moeilikheid was natuurlik dat hulle te veel van mekaar verwag het. Sy het verwag Emile moet haar vertroetel en bederf soos haar pa dit haar hele lewe lank gedoen het; Emile het verwag sy vrou moet net so prakties en nugter soos sy ma wees. Baie van die bitterheid en spanning is uit hulle albei se teleurstelling gebore.
Hulle was ’n bietjie langer as ’n jaar getroud toe sy ontdek dat sy swanger is. Emile het so pas gehoor dat hy die beurs gekry het en hulle was albei verslae. ’n Baba het in daardie stadium glad nie by hulle planne gepas nie. Sy veral was baie opstandig, maar nadat die eerste skok verby was, het sy weer van voor af planne begin maak. Emile durf nie die geleentheid laat verbygaan nie. Die baba hoef geen verskil te maak nie. As Emile sy vertrek ’n paar maande kan uitstel, is daar geen rede waarom sy nie nog saam met hom kan gaan nie. Sy was seker haar ma sou na die baba kyk terwyl hulle weg is.
Emile het nie met haar saamgestem nie – hy het gedink hulle moet hulle eie verantwoordelikhede dra – maar sy het hom oorreed. Soos gewoonlik het sy net aan haarself, aan haar eie gerief en plesier gedink.
Maar van haar planne het niks gekom nie. Dit was in alle opsigte vir haar ’n ongelukkige jaar. Tuis was daar al meer onenigheid, hoofsaaklik omdat sy volgehou het met haar bedrywighede en volgens Emile haarself en haar ander pligte verwaarloos het. Maar in daardie stadium kon sy nie meer kop uittrek nie.
“Wag net tot die uitstalling verby is,” het sy verskeie kere by Emile gepleit as hy so ontevrede was. “Jy weet hoe baie die uitstalling vir my beteken.”
“Ek begin dit besef,” het hy snydend geantwoord. “Meer as jou man en jou kind – meer as jou gesin. Ek begin wonder waarom jy met my getrou het.”
“Ek is ’n kunstenaar – ek het net soveel reg om myself uit te leef as wat jy het,” het sy teëgewerp, en verwytend bygevoeg: “Ek het nooit gedink jy sal so selfsugtig en outyds wees nie!”
Met al die gewoel en rondjaag, te min eet en te min rus, het sy haarself ooreis en haar baba is twee maande te vroeg gebore. Dit was ’n dogtertjie en sy het net ’n paar uur lank gelewe. Met die opening van die uitstalling het sy in die hospitaal gelê en dit is waar sy ’n dag of twee later die resensie daarvan gelees het. Die kritikus was glad nie geïmponeer deur hulle werk nie en het hulle poging om iets positiefs tot die skilderkuns by te dra, met verdoemende woorde verwerp. Hy het ’n paar skilderye genoem, waaronder ook een van hare, wat moontlik ’n bietjie belofte inhou, maar korte mette gemaak van die res.
Dit was vir haar ’n verpletterende slag. Haar hart was nog rou en seer oor die verlies van die baba na wie se koms sy reeds gretig begin uitsien het, en dié teleurstelling, so kort ná die eerste een, het haar voete onder haar uitgeslaan. Sy het reeds haar kind en moontlik haar man verloor, en nou was die uitstalling waarvoor sy alles opgeoffer het ook ’n mislukking. Wat bly daar nog in die lewe vir haar oor?
Emile het die aand weer vir haar kom kuier. Hy het die koerant op die tafel voor haar bed gesien en aan haar gesig agtergekom dat sy reeds weet.
“Ek is jammer, Veronica,” het hy ’n bietjie onbeholpe en verleë gesê, maar sy het hom koud toegesnou: “Jy is nie jammer nie. Jy is bly. Jy het mos van die begin af gesê ek het geen talent nie.”
“Ek het nie so gesê nie. Ek het gesê jou werk is nog nie ryp nie – dat jy ’n paar jaar moet wag met die uitstalling.”
Sy het haar kop weggedraai sodat hy nie die pyn en hartseer in haar oë moes lees nie.
“Gaan asseblief weg,” het sy na ’n rukkie gesê. “My kop is seer en ek wil slaap.”
En na ’n rukkie het hy gegaan.
Dié nag het sy ’n hoë koors ontwikkel en ’n paar dae lank was sy baie siek. Emile was daar en haar ma en pa het dikwels gekom, maar sy was te uitgeput om veel notisie van enigiemand te neem. Na ’n ruk het die donker newels gewyk, maar sy het moeg gebly, sonder geesdrif en sonder ’n greintjie energie.
Dit was ’n natuurlike reaksie ná die bittere teleurstellings wat haar getref het. En as hulle ’n bietjie ouer en verstandiger was, sou hulle geweet het dit is nie die tyd om belangrike besluite te neem nie.
Die dag voor sy huis toe sou gaan, het Emile weer vir haar kom kuier. Sy het gesien hoe moeg en gespanne hy lyk, hoe maer hy die afgelope maande geword het en gedink: dis alles my skuld.
“Dokter sê jy kan môre huis toe gaan,” sê Emile later, nadat hy gehoor het hoe dit met haar gaan en haar die een en ander van sy werk vertel het. Dit was asof daar in hierdie dae ’n afgrond tussen hulle was. Hoe hard hulle ook al probeer het, hulle kon mekaar nie vind nie. Die gebeure wat hulle nader aan mekaar moes gebring het, het die kloof tussen hulle net wyer gemaak.
“Ja.” Sy het ’n oomblik geaarsel terwyl sy haar moed bymekaarskraap en toe vasberade vervolg: “Sal jy asseblief vir Mammie bel? Ek wil hê sy moet my kom haal.”
Hy het haar ’n oomblik ondersoekend aangekyk en toe gevra: “Wil jy hê ek moet saamgaan?”
“Nee,” het sy gesê. En toe meer beslis: “Nee. Ek wil alleen gaan, Emile. En ek glo nie ek sal weer terugkom nie.”
Dit was stil in die kamer, so stil dat jy ’n speld kon hoor val. As Emile haar op daardie oomblik in sy arms geneem het, vir haar gesê het dat hy haar nog liefhet ten spyte van alles wat gebeur het, sou hulle miskien nog hulle huwelik kon red.
Maar Emile het strak en roerloos daar bly sit en uiteindelik gesê: “As jy dit so verkies, het ek verder niks te sê nie.”
Die volgende dag het haar ma gekom en haar saam met haar teruggeneem. Sy het haar ouers van haar besluit vertel en sy kon sien hulle is geskok en hartseer, maar hulle het geweet dit sal nie help om met haar te argumenteer nie. Sy was gewoond om haar sin in alles te kry, ook in hierdie saak sou sy doen wat sy wou. En nie een keer het hulle gesê “ek het jou gewaarsku” nie.
Tien dae later het Emile haar kom sien. Hy was bereid om die beurs op te offer en weer te probeer as sy na hom toe sou terugkom, maar sy het geweier. Haar hart was koud en leeg, wat haar betref was hulle huwelik ’n volslae mislukking en om verdere opofferings te maak om dit te probeer red, sou dom wees. En sy was seker dat Emile diep in sy hart ook so voel.
“Wat van die huisgoed? Ons trougeskenke?” het hy gevra toe hy besef dat sy onversetlik was.
“Verkoop dit – ek stel nie belang nie,” het sy geantwoord.
“Wat van jou skilderye?”
“Verbrand hulle. Gee hulle weg. Ek wil hulle nooit weer sien nie.”
“As jy van plan verander – laat my weet,” het hy gesê en sy het geweet hy praat nie net van die skilderye en trougeskenke nie.
“Ek sal nie van plan verander nie,” het sy beslis gesê. Hy wou weet wat haar toekomsplanne was, maar sy het haar kop geskud. “Bekommer jou nie oor my nie. Ek kan na myself kyk.”
’n Paar dae later is haar ma Pretoria toe om haar persoonlike besittings, ’n paar trougeskenke en van haar skilderye te gaan haal. Haar ma het ook vir haar ’n tjek van veertig rand saamgebring vir twee van haar skilderye wat gedurende die uitstalling verkoop is. Haar eerste impuls was om dit op te skeur, maar sy het haar gou bedink. Van nou af staan sy op haar eie voete en die geld sal handig te pas kom.
Sy wou dadelik gaan werk, maar op haar ma se aandrang het sy ingestem om eers haar onderwysdiploma te kry. Haar pa het dag en nag gewerk om sy verlore skade te probeer inhaal en sy het geweet haar ma is bekommerd oor sy gesondheid. Omdat sy nie verder tot haar bekommernis wou bydra nie, het sy vir ’n verandering na haar ma geluister. Dit was tog heeltemal duidelik dat sy nie van haar skilderkwas sou kon lewe nie!
Haar ouers het voorgestel dat sy Kaap toe gaan. Dit sou ’n algehele verandering vir haar wees, en daar in die nuwe omgewing sou sy haar geesdrif vir die lewe herwin.
Net voor sy weg is, het sy ’n kort, saaklike briefie van Emile ontvang. Ingesluit was ’n tjek vir tweehonderd-en-twintig rand, die bedrag wat hy vir die meubels en trougeskenke gekry het. Hy het geskryf dat hy oor twee weke na Italië vertrek en haar alles van die beste vir die toekoms toegewens.
Sy het die tjek dadelik aan hom teruggestuur. Sy het geweet hoe ontoereikend die beurs is en sy bietjie spaargeld is alles gebruik om die doktersrekening en haar hospitaalkoste te betaal. Sy het geskryf dat sy nie nou die geld nodig het nie, dat hy dit desnoods as ’n lening kon beskou. Later eendag, wanneer sy studiejare verby is, kon hy die helfte aan haar terugbetaal. Die ander helfte is in elk geval syne.
Hy het haar aanbod met ’n kort briefie van dank aanvaar en dit was die laaste wat sy van hom gehoor het. ’n Rukkie later is sy Kaap toe, waar sy haar kursus in alle erns aangepak het, vasbeslote om hierdie keer ’n sukses van haar lewe te maak.
Die aanpassing was nie maklik nie, maar sy het dit reggekry. Sy het hard probeer om die verlede agter haar te sit en haar oë op die toekoms gerig te hou, maar die pad wat voor haar uitgestrek het, het vaal en troosteloos gelyk. Die gedagte aan die kosbare skat van liefde en geluk wat sy so goedsmoeds verkwis het, het haar menige dag in die dieptes van ellende gedompel. Maar elke keer het sy haar reggeruk en aangegaan, en in die proses het sy finaal haar kinderskoene ontgroei en grootgeword.
Aan die einde van die eerste semester is haar pa skielik aan ’n hartaanval oorlede en nadat die boedel beredder is, was daar net genoeg vir haar ma om van te lewe mits sy baie versigtig te werk gaan. Gelukkig was haar broers albei selfstandig, maar van nou af sou sy wat Veronica is op haar eie voete moes staan.
Aan die begin het sy gehoop dat sy weer van Emile sou hoor, maar soos die maande en jare sonder taal of tyding van hom verbygegaan het, het sy besef dat hy, net soos sy, die verlede agter hom gesit het.
Vyf lang jare van aanpassing en aanvaarding, van swaarkry en volharding, en noudat sy uiteindelik weer rigting in die lewe gevind het, kom hy terug om die byna vergete skimme weer op te jaag.
Sy hoop maar net sy besigheid in die Kaap is gou afgehandel sodat hy kan teruggaan na waarvandaan hy gekom het en sy weer rus vir haar siel kan vind.