Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 9 - Tryna du Toit - Страница 6

Hoofstuk 3

Оглавление

Saterdag was ’n lieflike herfsdag, sonnig en warm, met geen teken van die suidooster wat die laaste paar dae so uitbundig te kere gegaan het nie. Veronica het ’n geblomde kortmou-syrokkie aangetrek met ’n breërandhoed van ’n sagte heuningkleurige strooi. Toe Jack Verster haar kom oplaai, knik hy goedkeurend.

“Ek voel sommer vandag is my gelukkige dag,” sê hy. “Met so ’n mooi meisie aan my sy, kan dit nie anders as goed gaan nie.”

“Los maar die meisie en konsentreer op die perde,” antwoord sy liggies. “Ek is seker dit sal beter dividende betaal.”

Sy sydelingse blik is warm.

“As ek ’n verstandige man was, sou ek ver van albei weggebly het,” sê hy. “Maar dis dié dinge wat die lewe interessant maak.”

“Dit hang af. Maar ek gaan nie nou met jou stry nie. Weet jy al watter perde almal vanmiddag gaan wen?”

“Ek weet van ’n paar wat die paal behoort te haal, maar so baie hang van die geluk af. Wat van jou? Nie drome gedroom of gesigte gesien wat vir ons ’n leidraad kan gee nie?”

“Nee. Ek is nie met die helm gebore nie!”

Skielik onthou sy dat sy die nag van Emile gedroom het. Sy het gedroom hulle twee staan op die oewer van ’n rivier, ’n breë rivier wat diep en stil vloei; so stil dat hulle die weerkaatsing daarin kon sien van die blou lug en die hoë bome en struike wat die wal van die rivier omsoom. ’n Lang ruk het hulle in stilte na die rustige toneel gekyk, toe sê Emile: “Waarom kan die lewe nie altyd so rustig wees nie?”

’n Eenvoudige droom wat niks beteken nie en waarvan sy seer sekerlik nie vir Jack Verster gaan vertel nie.

Sou Emile nog in Kaapstad wees? wonder sy. Wat sou hy op hierdie mooi herfsdag doen? In ander omstandighede sou sy dit nogal geniet het om Kaapstad vir hom te wys. Om saam met hom in die Tuine rond te loop, die Maleierbuurt en die mooi strande te besoek, om hom met die sweefspoor teen Tafelberg op te neem en sy gesig te sien as hy vir die eerste keer die wonderlike panorama wat aan hulle voete lê, aanskou. En dan onthou sy: in die vyf jaar wat verby is, het Emile ver gereis en baie gesien. Wat kan sy hier in Kaapstad vir hom wys wat hy nie reeds in ander lande gesien het nie?

’n Oomblik is sy weer vasgevang in heimwee, in gedagtes aan wat kon gewees het. Dan skuif sy die gedagtes doelbewus opsy en draai met ’n glimlag na Jack.

“Ek dink jy is reg. Ek het self so ’n gevoel dis vandag ons gelukkige dag.”

Dit was ’n opwindende middag. Hulle het eers saam met vriende van Jack geëet en daarna tussen die skare rondgestap. Veronica het haar verkyk aan al die mense wat daar rondgemaal het. Die rykes en die armes, sommige met glimlaggende, onbekommerde gesigte, ander op wie se gesigte jy kan sien dat dit vir hulle dodelike erns is watter perde eerste by die wenpaal aankom.

Sy het later saam met Jack en sy vriende na die perde vir die hoofwedren gaan kyk.

“Watter een kies jy?” vra Jack.

“Ek hou van daardie een,” sê sy en wys na ’n mooi klein skimmel wat toe net by hulle verbykom. Jack lyk teleurgesteld.

“Een van die buiteperde!” sê hy fronsend. “Waarom hou jy van haar?”

“Ek hou van haar naam: Silver Wings. Sy is nommer vyf en vyf is my gelukkige nommer. Ek hou ook van die manier waarop sy haar pote optel en van haar kalmte te midde van al die opgewondenheid.”

Jack se glimlag is tergend en so ’n bietjie uit die hoogte.

“Vroulike intuïsie, nè? Maar dié keer is jy verkeerd. Sy het nie ’n kans nie. Daar is die wenner,” sê hy en wys na ’n groot, lewendige swart perd wat met moeite deur sy jokkie ingehou word. Sagter vervolg hy: “Dis ’n baie vertroulike wenk wat ek gekry het. As jy enige spaargeldjies het, sit dit op Black Devil.”

Sy skud haar kop.

“Ek hou nie van sy naam nie en ek hou ook nie van die uitdrukking in sy oë nie. Nee, Silver Wings is my perd en as dit nog nie te laat is nie, wil ek graag ’n rand op haar sit.”

“Ek sal dit vir jou opsit,” belowe Jack met ’n glimlag. “Maar moenie my blameer as sy laaste kom nie.”

“Dis reg, juffrou. Bly by jou perd,” sê ’n vreemde stem saggies langs haar. “Silver Wings gaan vandag maklik wen.”

Sy swaai om om te sien wie die spreker is. Dis ’n ouerige man, vuil en verwaarloos, met bloedbelope oë en ’n sterk reuk van drank wat aan hom kleef. Sy wil eers wegdraai sonder om te antwoord, maar daar is iets so pateties aan hom dat haar hart versag.

“Het jy geld op haar gesit?” vra sy.

“Ses rand – alles wat ek kon bymekaarskraap. Vanaand slaap ek óf by die Grand óf by die Salvation Army.”

Sy kyk hom ’n oomblik simpatiek aan, maar sy laggie is aansteeklik en met ’n glimlag sê sy: “Ek hoop dis die Grand!”

Toe hulle ’n rukkie later terug pawiljoen toe stap, sê sy vir Jack, wat nie die woordewisseling tussen haar en die oubaas gehoor het nie: “Ek gaan roekeloos wees. Ek wil hê jy moet vir my twee rand op Silver Wings sit.”

“Vir wen of ’n plek?”

“Vir ’n wen.”

Hy neem die geld by haar.

“Is jy seker jy wil dit nie liewer op Black Devil sit nie?” vra hy, maar sy skud beslis haar kop. Toe hy ’n rukkie later terugkom, sê hy met ’n breë glimlag: “Ek het vir ons elkeen twee rand op Silver Wings gesit. Nou sal ons sien of daardie vroulike intuïsie van jou iets beteken.”

Dit was inderdaad Veronica se gelukkige dag. ’n Rukkie later het sy deur Jack se verkyker gesien hoe Silver Wings die hoofwedren met meer as ’n lengte wen. Black Devil, wat op een tydstip in die bondel vasgepen was, het nie eens ’n plek gekry nie.

“Jy is vyftig rand ryker, Veronica,” sê Jack opgewonde. “Ek kon ’n sak vol geld gehad het as ek na jou geluister het. Volgende keer sal ek beter weet.”

Hoe het die man geweet? wonder Veronica so tussen die geesdriftige gelukwensinge van Jack en sy vriende deur. Hoe het hy geweet Black Devil gaan vasgepen word en dat Silver Wings met meer as ’n lengte gaan wen?

Sy sien weer die oubaas met sy bloedbelope oë en vuil, verwaarloosde klere; sy hoor weer sy spotlaggie: “Vanaand slaap ek óf by die Grand óf by die Salvation Army,” en sy ril effens. Arme ou boemelaar! Hoe en wanneer het hy die pad byster geraak? As hy nou net sy wengeld verstandig wil gebruik, kan hy die wolf ’n hele ruk van die deur af hou, maar sy weet dis ’n ydel hoop. Vanaand slaap hy in die Grand, maar binne ’n week sal dit weer die Heilsleër wees.

“Daar sal nie ’n volgende keer wees nie,” sê sy vir Jack. “Ek hou nie van dobbel nie.”

Jack lag lekker.

“Dis net skok. Dit tref verskillende mense op verskillende maniere. Volgende week is jy weer hier.”

Jack het haar genooi om die aand saam met hom te gaan eet en hulle oorwinning te vier en sy het sonder aarseling ingewillig. Koenraad het sy ma vir die naweek na familie in die Paarl geneem, sy het geweet Adèle en Elma is besig, en om op ’n Saterdagaand alleen tuis te sit – en dit ná so ’n opwindende middag – sou ’n antiklimaks wees.

Terwyl sy bad en aantrek, is haar gedagtes by Jack Verster. Sy ken hom nou byna twee jaar lank en in dié tyd het sy houding teenoor haar geleidelik verander. Sy dink aan die aand, heel aan die begin, toe sy ook saam met hom gaan eet en dans het en die potjie wat hulle geloop het toe hy haar later huis toe gebring het. Hy het blykbaar ook – soos baie ander mans – gedink hy kan kanse waag omdat sy ’n geskeide vrou is en hy was nogal vies toe sy hom koel en beslis op sy plek gesit het. Die volgende dag het sy ’n kort briefie van hom gekry waarin hy haar om verskoning vra: hy het blykbaar die aand te veel sjampanje gedrink en hy hoop sy sal hom vergewe.

Sy het nie geantwoord nie en daarna het sy hom ’n lang ruk nie gesien of van hom gehoor nie. Dit is natuurlik die einde van hulle vriendskap, het sy gedink – sonder veel spyt – en sy was baie verbaas toe hy haar ’n paar maande later, toe hy weer in die Kaap kom, bel en nooi om die aand saam met hom uit te gaan.

“Jy hoef nie bang te wees nie – ek het my les geleer,” het hy liggies bygevoeg, en omdat sy eensaam was en in die verlede sy opgewekte geselskap geniet het, het sy weer gegaan. Daarna het hy haar gereeld uitgeneem wanneer hy in Kaapstad was, en hoewel sy nog altyd op haar hoede teenoor hom was, veral wanneer hy ’n paar drankies ingehad het, het hy haar nooit weer gepla nie. Verlede jaar, nadat die parlement verdaag het en hy weer terug Pretoria toe is, het sy af en toe ’n briefie van hom gekry, en toe hy saam met sy minister na ’n konferensie in die buiteland is, het hy vir haar ’n mooi borsspeld uit Italië gestuur.

Sal sy daarvan hou om mevrou Jack Verster te wees? wonder sy nou. Nie dat daar in die onmiddellike toekoms veel gevaar vir so iets bestaan nie. Jack geniet nog sy vryheid. Maar die dag sal seker kom dat hy moeg word vir die lewe van ’n vrygesel en voel dis tyd om met ’n huis en ’n familie te begin, dat hy een van sy baie vriendinne met ’n huweliksaansoek sal vereer.

Sal sy graag daardie persoon wil wees? Sy weet nie. Sy geniet sy geselskap en sy hou daarvan om saam met hom uit te gaan, om al die interessante figure van wie die gewone mens net in die koerante lees, te ontmoet. Sy weet hy is ambisieus en sy vrou sal saam met hom in die hoogste kringe beweeg, maar die vooruitsig staan haar nie juis aan nie. Om bestand te wees teen die storms van die tyd moet jou huis op ’n stewiger fondament gebou word.

En tog, is dit nie ook maar net ’n kwessie van geluk nie? Die een trou vir liefde en maak ’n hopelose mislukking van sy lewe. Die ander een trou vir sekuriteit – vir die materiële dinge wat die huwelik hom of haar sal besorg – en is gelukkig.

Hulle het lekker geëet en daarna gaan fliek. Toe hulle uitkom, het Veronica gedink dis tyd om huis toe te gaan, maar Jack het voorgestel dat hulle vir ’n rukkie by ’n nagklub gaan inloer. Daar het hulle van sy vriende raakgeloop wat hulle genooi het om spek en eiers saam met hulle te gaan eet en dit was die vroeë ure van die oggend toe Jack haar uiteindelik weer by die woonstel terugbesorg.

“Baie dankie vir ’n baie aangename dag,” sê sy toe die motor voor die gebou stilhou. Die strate is stil en verlate, daar roer nie ’n siel nie.

Hy sit sy hand oor hare.

“Ek het dit net so baie geniet. Jy weet, Veronica, jy sal verbaas wees as jy weet hoe baie jy die laaste tyd in my gedagtes is. Selfs wanneer ek baie ver van jou af is.”

Sy dink aan die briefies wat hy vir haar geskryf het, aan die mooi kamee wat hy uit Italië vir haar gestuur het, en sê liggies: “Ek is gevlei. Maar ek is seker ek het heelwat geselskap gehad.”

Hy sit sy hande op haar skouers en trek haar nader na hom toe. ’n Oomblik verstyf sy, dan laat sy hom begaan.

“Jy is heeltemal te slim,” sê hy terwyl sy arms vaster om haar sluit en sy stem is ongewoon diep en grof. Hy buk sy kop vinnig en soen haar. ’n Paar oomblikke is sy stil in sy arms, dan maak sy haarself sag maar beslis uit sy omhelsing los.

Hy laat haar dadelik gaan. Sonder ’n woord stap hy saam tot by haar woonstel en sluit die deur vir haar oop. Met ’n effens gedwonge glimlaggie kyk sy op na hom en sê sag: “Dankie weer. Dit was baie lekker.”

“Ek bel jou gou,” sê hy, maar sy het reeds soos ’n skaduwee by die deur ingeglip en hy staan alleen in die gang.

Ten spyte van die feit dat sy so laat in die bed gekom het, was Veronica vroeg die volgende oggend wakker. Sy het vir haarself ’n koppie tee gemaak en toe weer in die bed geklim, en terwyl sy die tee drink, het sy oor die vorige dag en aand gedink.

Dan was sy reg, dink sy. Jack se houding teenoor haar hét verander. Of was dit maar net weer die wyn wat gepraat het? Sy hoop so. Sy hou van Jack as vriend en metgesel en sy het dit geniet om gisteraand saam met hom uit te gaan – tot hy haar in sy arms geneem en gesoen het. ’n Rilling van afkeer gaan deur haar. Dis of haar keel wil toetrek net by die gedagte aan Jack as minnaar.

Is dit ’n sielkundige toestand, ’n vorm van skok waarvan sy ná vyf jaar nog nie heeltemal herstel het nie? Gaan daardie eerste ongelukkige ervaring wat sy gehad het verhoed dat sy ooit weer saam met iemand anders gelukkig sal wees?

Sy dink aan Emile en wonder of die aanpassing vir hom ook moeilik was. Maar ’n man is anders as ’n vrou. Liefde is net ’n deel van sy lewe, maar dit is ’n vrou se hele bestaan. Daarom dat die wonde in haar geval soveel langer neem om te genees.

Sou Emile al weg wees? Nie dat dit enige verskil aan haar maak of hy in Kaapstad of Pretoria is nie. Sy onverwagte verskyning nou die middag het die wind ’n bietjie uit haar seile geneem, maar teen die volgende dag het sy reeds haar ewewig herwin en kon sy dankbaar besef dat sy heeltemal onverskillig teenoor sy doen en late staan.

Sy wip soos sy skrik toe die telefoon skielik langs haar bed begin lui. Wie bel so vroeg op ’n Sondagoggend? Jack? wonder sy effens paniekerig. Sy aarsel ’n oomblik, dan steek sy haar hand onwillig uit en tel die telefoon op.

“Veronica Eybers,” sê sy saggies.

“Veronica! Ek hoop nie ek het jou wakker gemaak nie.”

Emile!

“As jy die brandweer soek, het jy die verkeerde nommer,” sê sy koud.

“Ek is jammer.” Sy stem is sag, berouvol. “Die son is al ure gelede op en ek kom nou net terug van my vroegoggendswem. Dis so ’n wonderlike dag, ek het nie gedink daar is in die hele Kaapstad nog iemand wat slaap nie. Maar ek het vir ’n oomblik vergeet jy was altyd ’n bietjie allergies vir die vroeë oggendlug.”

“Ek het nie gesê ek het nog geslaap nie,” antwoord sy koel, maar haar hart skop skielik soos ’n voorhamer teen haar ribbes. Watter beelde tower die woorde nie skielik voor haar geestesoog op nie! “Om die waarheid te sê,” vervolg sy liefies, “ek het ’n oomblik gelede aan jou gedink. Ek het gewonder of jy nog in Kaapstad is.”

“Ek is nog hier. Ek het gesê ek wil graag met jou gesels voor ek teruggaan. Of het jy vergeet?”

“Nee. Ek het nie vergeet nie. Maar ek het gesê ek dink nie dis nodig nie.”

“Dit is nodig. Daar is ’n saak wat ek graag so gou moontlik wil afhandel – iets wat my al baie slapelose ure besorg het. En ek is nie van plan om onverrigter sake terug te gaan nie.”

Wat kan dit wees? wonder sy.

“Probeer jy my nuuskierig maak?” vra sy liggies.

“Nee, glad nie. Ek is seker jy kan raai wat dit is. Wat makeer, Veronica? Is jy bang om my weer te sien?”

“Ek is glad nie bang nie! Ek het maar net gewonder wat jy ná vyf jaar vir my te sê kan hê. Maar as jy daarop aandring …”

“Ek is jammer, maar ek moet. Het jy nie lus om vanmiddag ’n entjie saam met my te gaan ry nie? Dis so ’n mooi dag en ek het nog nie juis tyd gehad om die wêreld te bekyk nie.”

Toe sy nie dadelik antwoord nie, vervolg hy: “As jy ander planne het, sal ek natuurlik nie aandring nie. Wil jy dan liewer een aand saam met my gaan eet?”

Sy haal ’n slag diep asem soos ’n swemmer net voor hy in die koue water duik, dan sê sy kalm: “Ek het nie juis planne vir vanmiddag nie. Hoe laat wou jy ry?”

“Ek het gedink so halfdrie, drieuur. Ek het werk wat ek eers moet klaarmaak. Ek kom jou dan oplaai sodra ek klaar is. Afgespreek?”

“Afgespreek,” antwoord sy saaklik en sit die telefoon neer.

Sy begin die woonstel aan die kant maak, maar haar gedagtes is nie by haar werk nie. Sy dink aan Jack, aan sy veranderde houding, en sy wonder wat dit vir die toekoms voorspel. Sy dink aan Emile en sy wonder wat die dringende saak is wat hy wil afhandel voor hy weer teruggaan Pretoria toe. Hy het gesê sy kan seker self raai, maar sy weet regtig nie wat hy bedoel nie. En dan dink sy aan Koenraad – goeie, gawe Koenraad, altyd gereed om vir haar ’n guns te doen of haar te help. Sy weet Koenraad hou baie van haar en sy vriendskap het die afgelope maande baie vir haar beteken. Maar of dit ooit tot iets meer as vriendskap tussen hulle sal ontwikkel, betwyfel sy. In elk geval nie voor hy geleer het om op sy eie voete te staan en hom heeltemal los te maak van sy ma nie.

Die deurklokkie lui skielik. Sy is nog in haar kamerjas, maar ná ’n oomblik se aarseling stap Veronica deur toe om te kyk wie die vroeë besoeker is. Dit is Elma, Adèle se twaalfjarige dogter, wat buite staan. Sy is ’n mooi kind, rond en mollig, met kort blonde vlegsels, blou oë en ’n pragtige vel.

“Môre, tannie,” groet sy vriendelik. “Mammie vra of tannie nie saam met ons kerk toe wil gaan nie. En daarna gaan ons in die Tuine eet.”

Veronica trek haar nader en soen haar.

“Hallo, Elma. Jy lyk soos ’n prentjie. Sê vir jou ma ek sal graag saamgaan. Maar julle kom eet saam met my. Sê vir haar ek het ’n sak vol geld.”

Glimlaggend stap Elma weg en terwyl Veronica haar agternakyk, dink sy weer aan ’n klein, te vroeg gebore dogtertjie wat maar net ’n paar uur gelewe het. Sy het nooit eens die voorreg gehad om haar in haar arms vas te hou nie. Sal sy die res van haar lewe moet boet vir haar jeugdige onbesonnenheid, of wag daar miskien weer vir haar liefde en geluk – en ’n dogter met helder oë, rooi wange en twee kort, oulike vlegseltjies?

Toe hulle net voor tienuur by die gebou uitstap om die bus na die stad te haal, skyn die son nog helder, maar met teleurstelling sien Veronica die ligte wit wolkies bokant die berg. Op die horison lê daar ook ’n digte mistigheid wat niks goeds voorspel nie. Sy hoop nie dit gaan vanmiddag reën nie. Sy sou die Kaap graag op ’n blou, sondeurdrenkte dag vir Emile wou wys.

Toe hulle uit die kerk kom, is die berge toe onder die mis, met nog net hier en daar ’n flentertjie blou lug, maar hulle besluit nietemin om steeds in die Tuine te gaan eet. Terwyl Elma die eekhorinkies met grondboontjies probeer nader lok, sit Veronica en Adèle op een van die bankies en geniet die rustigheid van die oggend.

“Het jy geweet mevrou Louw is siek?” vra Adèle opeens.

Mevrou Georgina Louw is ook ’n inwoner van Eikehof – die Herberg van die Eensames, soos Adèle dit spottend noem. Sy is al diep in die sewentig, ’n fyn, aristokratiese vrou met spierwit hare en ’n fier, regop houding en ’n wonderlike lewensfilosofie. Met haar opgewekte geaardheid, lekker humorsin en warm belangstelling in die lewe is sy ’n interessante mens en Veronica geniet dit altyd om by haar te gaan kuier en met haar te gesels.

“Nee, ek het nie geweet nie. Ek was die laaste tyd so besig, ek het haar ’n bietjie verwaarloos. Wat makeer haar?”

“Sy sê dis net verkoue, maar ek dink dis ’n griepaanval. Ek het gister vir haar ’n bietjie sop geneem en sy lyk vir my maar pap en sy het ’n baie slegte hoes. Maar sy wil nie daarvan hoor om die dokter te laat kom of haar kinders te laat weet nie.”

“Koppig en onafhanklik!” sê Veronica met ’n glimlag. “Ek sal netnou ’n bietjie daar gaan inloer.” Sy aarsel ’n oomblik, dan vervolg sy: “Jy sal nooit raai wat ek vanmiddag gaan doen nie.”

Adèle kyk nuuskierig na haar, getref deur die intonasie in haar stem.

“Nee, ek weet nie. Vertel.”

“Ek gaan vir Emile die Kaap wys. Ten minste,” vervolg sy terwyl sy na die lae miswolke kyk, “soveel daarvan as wat ’n mens op ’n kort, reënerige herfsdag kan sien.”

“So? En wanneer is dit alles beplan? Toe ek laas gevra het, het jy gesê jy dink hy is al terug Transvaal toe.”

“Hy het vanoggend gebel. Hy hou vol daar is iets wat hy met my moet bespreek voor hy teruggaan en ek het toe maar gesê ek sal saamgaan. Maar moet nou asseblief nie weer allerhande vreemde gedagtes kry nie, Adèle. Jy sal net teleurgesteld wees.”

“Sorg maar dat jy jou kaarte reg speel en ek hoef nie teleurgesteld te wees nie. Moenie so hardkoppig wees nie, Veronica. Veg vir jou geluk. As jy dit nie self doen nie, sal niemand anders dit vir jou doen nie.”

Veronica sug ongeduldig.

“Verstaan jy nie? Daardie deel van my lewe is ’n geslote boek. Klaar en afgehandel. Ek het jou gesê ons het gedurig rusie gemaak en was bitter ongelukkig saam. Ek het geen begeerte om daardie ervaring te herhaal nie. Dan bly ek liewer die res van my lewe ongetroud.”

“Toe maar, ek het jou maar net ’n bietjie geterg,” sê Adèle haastig toe sy sien haar vriendin is omgekrap. “En, soos jy sê, die alleenlewe het ook sy kompensasies.”

“Veral as jy so ’n oulike dogter soos Elma het wat naweke en vakansies kom kuier,” sê Veronica liggies, haar oë op die mooi kind met die blonde vlegseltjies wat haar so met die blinkvet eekhorinkies vermaak. Dan onthou sy skielik Adèle het nog ’n seun ook – ’n seun wat honderde myle ver van haar is, wat sy ook liefhet en na wie sy gedurig verlang, maar wat besig is om van haar weg te groei. Sy stel voor dat hulle ’n bietjie in die Tuine rondstap voor hulle gaan eet.

Later, terwyl Adèle met ’n bekende gesels en sy en Elma die goudvissies bewonder wat so vlug en vol grasie tussen die wit, ligpers en rooskleurige waterlelies swem, gesels hulle ’n bietjie.

“Hou jy van die koshuis?” vra sy nadat sy geluister het na ’n staaltjie wat Elma oor een van haar onderwyseresse vertel het. Dis of daar ’n wolkie oor die kind se jong gesiggie val.

“Ek dink dis baie lekkerder by die huis,” sê sy sag. “Maar Mammie moet werk en sy bekommer haar net as ek bedags alleen by die woonstel is. En gelukkig is daar altyd naweke en vakansies om na uit te sien.”

“En jou pappie?” vra Veronica sag, omdat sy al dikwels gewonder het wat in Elma se hart omgaan. “Onthou jy hom nog?”

“Ek onthou hom nog goed. Daar was ’n skoppelmaai in die tuin en Pappie het altyd vir my en boetie geswaai. En in die aande, as ons almal voor die vuur sit, het hy vir ons stories vertel. Van Rooikappie, en Wolf en Jakkals, en Sneeuwitjie …”

“Gelukkig is jy nou groot genoeg om self stories te lees,” sê Veronica.

“Ek verlang darem partykeer baie na Pappie en na boetie,” erken Elma en die wolkie is nog daar. “Veral as my maats se pa’s vir hulle kom kuier of vir hulle presente stuur – of vir hulle skryf,” voeg sy stil by.

“Skryf jou pa nie gereeld nie?” vra Veronica sag. Miskien is dit vir Elma ’n verligting om ’n slag haar hart uit te praat.

“Net as ek verjaar. My pa is weer getroud,” verduidelik sy asof sy alles daarvan weet, “en Mammie sê hy is baie besig, hy het nie baie tyd om te skryf nie. En my boetie is so lui, hy antwoord omtrent nooit my briewe nie.”

“Mans is maar so lui om te skryf,” troos Veronica met ’n glimlaggie. “Maar ek dink nou net daaraan: oor veertien dae is dit mos al weer vakansie, dan kom jy weer huis toe.”

“Ek weet nog nie of ek huis toe kom nie. ’n Maat van my wil hê ek moet saam met haar na haar oupa se plaas toe gaan en ek dink … ek sal miskien maar gaan.”

Veronica kyk ondersoekend na Elma, getref deur iets in haar stem wat baie soos berusting klink. Dan sê sy geesdriftig: “Ek dink dit sal baie lekker wees. Dink net aan al die pret wat julle sal hê.”

“As Mammie ’n paar dae verlof kan kry, sal ek liewer hiernatoe kom,” sê Elma, en daarop het Veronica geen antwoord nie. In haar hart bewonder sy vir Adèle wat, ná alles wat gebeur het, nooit ’n enkele bitter woord teenoor Elma rep nie, maar uit haar pad gaan om die beeld wat die kind in haar hart van haar pa het, te help bewaar.

Sou sý groot genoeg gewees het om in dergelike omstandighede dieselfde te doen?

Ten spyte van die wolke wat so dreigend bokant hulle koppe hang en die hartseer wat af en toe deurgeskemer het, was die Sondagoggend daar in die Tuine vir hulle al drie ’n lekker verposing ná die besige week wat verby is. Die droë herfsblare het onder hulle voete geritsel, die geur van die najaarsrose met hulle diep gloeiende kleure was oral. Net die gedagte aan haar afspraak met Emile die middag het Veronica se gemoedsrus effens verstoor.

Hulle was nog besig om te eet toe die misreëntjie begin neersif en teen die tyd dat hulle die huis haal, reën dit hard. Sy gaan reguit na mevrou Louw se woonstel toe en die ouer vrou maak self vir haar die deur oop. Sy het ’n sagte grys wolrok met ’n mooi blou sjaal aan en haar wit hare is netjies gekam, maar sy lyk koud en beteuterd en Veronica is seker dat sy koors het.

“Dis gaaf om jou te sien, hartjie,” sê sy heserig. “Ek het al gewonder wat van jou geword het.”

“Ek is jammer, ek was besig,” begin Veronica, maar ’n hoesbui oorweldig die ouer vrou. Sy hou haar vas totdat sy uiteindelik ophou met hoes, dan sê sy besorg: “Waarom is mevrou nie in die bed nie?”

“Dis net ’n verkoue. En dis so vervelig om in die bed te lê.”

“Dis meer as net ’n verkoue. Ek gaan Adèle se koorspen haal en ons sal sien wat hy sê.”

Georgina Louw wil nog teëpraat, maar Veronica is reeds op pad en hoe sy ook al ’n rukkie later protesteer, moet sy noodgedwonge gaan sit met die koorspen in haar mond en Veronica se hand op haar pols. Die pols is taamlik vinnig, haar arm voel droog en warm, en Veronica is nie verbaas toe sy sien dat sy ’n koors van byna 102 grade het nie.

“Heeltemal professioneel,” spot mevrou Louw toe sy weer kan praat. “’n Mens sal sê jy weet alles daarvan af.”

“Ek weet genoeg om ’n koorspen te lees. En die koorspen sê: dadelik bed toe. Kom, ek help mevrou gou om uit te trek. Het u al iets geëet?”

“Daar is sop in die yskas, maar ek was nie honger nie. Ek sal ’n bietjie gaan lê, maar ek gaan nie nou uittrek nie. Ek verwag vanmiddag kuiermense en ek is nie van plan dat hulle my in die bed moet kom kry nie. Ek belowe jou, sodra hulle weg is, sal ek gaan lê.”

Dit het niks gehelp om teë te praat nie. Veronica het haar met ’n donskombers toegemaak, ’n warmwatersak by haar voete gesit, vir haar ’n bietjie sop warm gemaak en gekyk dat sy dit drink. Maar mevrou Louw wou nie daarvan hoor dat sy ’n dokter laat kom of vir haar seun wat in die Paarl woon, laat weet dat sy ongesteld is nie.

“Dit sal hulle net die skrik op die lyf jaag. Môre is ek weer perdfris.”

Veronica kyk na die pragtige stinkhoutkamerstel, die mooi Chinese matte op die vloere, die silwer kandelare op die spieëltafel – herinnerings aan ’n lewe wat verby is; sy kyk na die portrette van haar man en kinders waarmee mevrou Louw haar omring, en haar hart is gevul met liefde en deernis vir die trotse, onafhanklike ou dame.

“Ek het my lewe gehad,” het Georgina Louw eendag vir haar gesê toe hulle oor dié dinge gesels het. “’n Vol en interessante lewe – met meer as my regmatige deel van voorspoed en geluk. Nou is dit my kinders se beurt en ek is nie van plan om die lewe vir hulle te versuur of om ’n las vir hulle te wees nie. Buitendien het ek meer as genoeg om my besig te hou. Die tyd word kort en daar is nog so baie wat ek wil doen!”

Sy dink nou aan haar woorde terwyl sy na die ouer vrou se mooi, fynbesnede gelaatstrekke kyk en sy dink dat Georgina Louw in haar dae seker ’n beeldskone jong meisie en vrou was. Baie van die jeugdige skoonheid het verdwyn, maar haar trotse, onafhanklike gees is nog ongeskonde.

“Moenie so bekommerd lyk nie, kind. Jy sal sien: môre is ek weer perdfris. Ek het Vrydag ’n ete en brugpartytjie wat ek vir niks ter wêreld wil mis nie. Toe, loop gerus nou. Ek het lus om ’n bietjie te slaap.”

Peinsend is Veronica terug na haar eie woonstel nadat sy eers Adèle se koorspen teruggeneem het en seker gemaak het dat Adèle later die middag sal inloer om te sorg dat mevrou Louw niks nodig het nie.

Sal hy nog kom? wonder Veronica ’n rukkie later terwyl sy teleurgesteld kyk na die grys mistigheid wat in digte vlae oor die see aangerol kom. Waarom moet dit nou juis vanmiddag reën? Dis of die dag en alles saamspan om haar mismoedig te maak.

Sy het later gaan uittrek en gereed gemaak ingeval hy tog, ten spyte van die onplesierige weer, opdaag. Sy het ’n bruin romp aangetrek met ’n sagte geel trui wat sy ’n paar dae vantevore gekoop het, ’n geel en wit syserpie om haar nek geknoop en ’n ligte tweedjas uit haar kas gehaal. Die hele tyd sê sy vir haarself dat hy seker nie in die reënweer sal kom nie, maar haar ore bly gespits vir die geringste geluid en toe haar deurklokkie net na halfdrie lui, begin haar hart soos ’n onervare skooldogter s’n bons.

Dit is hy. Hy het ’n reënjas aan en die reëndruppels blink in sy kort, donker hare. ’n Oomblik kyk hy glimlaggend na haar, dan vra hy: “Wel, is jy gereed?”

“Ek het gewonder of jy dit sal waag om in dié weer uit te gaan.”

“Dié weer?” Hy glimlag geamuseerd. “Jy vergeet, ek het meer as ’n jaar in Londen gewoon. Daar is sonskyndae die uitsondering.”

Sy het vergeet. Kort-kort vergeet sy maar weer …

Sy nooi hom binne, maar hy skud sy kop.

“As jy reg is, kan ons maar dadelik gaan. Kry net jou jas.”

Tryna du Toit-omnibus 9

Подняться наверх