Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 9 - Tryna du Toit - Страница 8

Hoofstuk 5

Оглавление

Woensdagmiddag is Veronica ná skool reguit na die kunslokaal waar Jacques du Pré se skilderye uitgestal word. Hy was besig om met ’n halfdosyn skoolmeisies te gesels toe sy inkom en het haar blykbaar nie opgemerk of herken nie. Terwyl sy wag dat hy klaarmaak, stap sy alleen in die vertrek rond en wonder watter een van die skilderye wat nog nie verkoop is nie, sy graag sal wil besit.

Tot haar verbasing en teleurstelling sien sy dat die meeste skilderye reeds die klein rooi etiket dra. Binne die eerste week het Jacques du Pré, op ’n paar werke na, reeds al sy skilderye verkoop! Sy is om sy ontwil bly dat hy so goed gedoen het, maar opnuut jammer dat sy nie daardie eerste middag reeds ’n skildery gekoop het nie. Sy het natuurlik toe nog nie geweet van die gelukkie wat haar te beurt sou val nie, maar met ekstra illustreerwerk sou sy die skade aan haar bankbalans redelik gou kon inhaal.

Soos die vorige keer word sy getref deur die lewenskragtigheid van die skilderye en die stemming wat elkeen weergee, en dit is byna met ’n gevoel van piëteit dat sy uiteindelik weer voor Sestien gaan staan. Die teerheid en onskuld van die meisie met die sagte oë, vol drome en vae verlangens, die illusie wat verdiep word deur die eensame bootjie teen die horison, ontroer haar opnuut. Om so te kan skilder – wat ’n kosbare gawe het die man nie ontvang nie!

Sy skrik wakker uit haar drome toe Jacques du Pré langs haar sê: “Middag, Veronica. Ek het jou nooit sien inkom nie.”

Sy draai met ’n glimlag na hom toe.

“Jy was besig. Ek het ook nie geweet of jy my sal herken as jy my weer sien nie.”

Daar is ’n glinstering in die donker oë.

“Natuurlik het ek jou herken! Ek is bly jy het gekom. Ek het al begin wonder of jy jou belofte gaan nakom.”

“Ek is ’n werkende vrou – dis my eerste vry middag. Maar ek is baie teleurgesteld. Ek het eintlik vanmiddag gekom om vir my ook ’n skildery uit te soek en nou sien ek byna almal is verkoop.”

“Jy mag nie teleurgesteld wees nie! As medekunstenaar behoort jy bly te wees dit het so voorspoedig met my gegaan.”

“Ek ís bly. Ek dink dis ’n wonderlike prestasie wat jy behaal het. Maar ek wou darem baie graag ook een van jou werke besit. Die paar wat oorbly is te groot vir my woonstel en ook nie wat ek sou gekies het as ek die eerste keuse gehad het nie.”

“Ek begin dadelik weer werk vir ’n volgende uitstalling,” troos hy haar. “Ek hou teen die einde van die jaar ’n uitstalling in Johannesburg, so as jy oor ’n paar maande nog so voel, kan jy vir jou een kom uitsoek. En vir my spesiale vriende gee ek gewoonlik ’n spesiale afslag,” eindig hy glimlaggend.

“Dis ’n belofte,” sê sy. “Die graagste van almal sou ek natuurlik vir Sestien wou gehad het. As die koper van plan sou verander …”

“Ek sal onthou,” belowe hy. “Maar ek dink nie jy moet daarop reken nie. Eintlik het ek die skildery vir Ingrid belowe, maar die koper is ’n ou vriend van haar en hy was so mal oor die skildery dat sy maar daarvan afgesien het. Sy het ’n baie sagte plekkie vir die man en ek glo nie sy sou dit aan iemand anders afgestaan het nie.”

Hy kyk na haar en vervolg met ’n glimlag. “As jy wil, kan ek jou sy adres gee, dan kan jy self met hom onderhandel.”

“Nee, dankie,” sê sy haastig. “In daardie geval sal ek my maar daarin moet berus.”

Hy nooi haar om te sit en trek vir hulle twee stoele in die een hoek van die vertrek reg. Gelukkig is dit ’n stil middag met min besoekers en hulle kan feitlik ongestoord gesels. Want toe hulle eenmaal begin praat, kan hulle nie weer ophou nie. Hulle gesels oor Jacques se werk en die inspirasie vir sy skilderye, en dwaal later af na die skilderkuns en kunstenaars oor die algemeen. Jacques vertel haar van sy jare oorsee, van die groot meesters onder wie hy studeer het, wat ’n worsteling dit was om erkenning te kry en hoe hy gedurig moes veg teen die versoeking om sy kuns te kommersialiseer. Maar hy het vasgehou aan sy ideale en vandag begin hy die vrugte pluk van die jare van opoffering en harde werk.

Dit was juis in die jare toe die stryd op sy kwaaiste was en die geldnood op sy hoogste dat hy Emile in Rome ontmoet het, en Emile se vriendskap en aanmoediging het op daardie tydstip vir hom baie beteken. Later in Londen het hulle die vriendskap hervat, maar toe het dit reeds heelwat makliker met hulle albei gegaan.

“Maar dis genoeg van myself,” breek hy sy vertelling af. “Nou gaan ons weer oor jou gesels. Na wat Emile my vertel het – hoe hard jy gewerk het en hoe jy alles opgeoffer het om jou ideale te verwesenlik, blykbaar selfs jou huwelik – het ek verwag om ’n medekunstenaar te vind. Een wat, as sy nog nie sukses bereik het nie, goed op pad sou wees om dit te doen. En hier kry ek ’n skooljuffrou wat so nou en dan vir tydverdryf ’n paar prentjies teken.”

Sy bloos effens maar sê glimlaggend: “Skoolhou is ook harde werk en ’n mens kan darem met die geld wat jy verdien ’n redelik ordentlike lewe lei.”

“Dit gee ek toe. Ek gee ook toe dat iemand soos jy ’n aanwins vir die onderwysberoep is en dat dit jammer is daar is nie meer van jou soort nie. Maar waarom ’n dilettant wees in jou vrye tyd – mooi, soetsappige prentjies teken wat nie regtig enige inspanning verg nie? Waarom lê jy jou nie op iets ernstigers toe nie? Wat het dan van al jou drome en ideale geword?”

Sy kyk hom ’n oomblik stilswyend aan. Dan sê sy skouerophalend: “Ons is nie almal genieë nie. Daar moet houthakkers en waterdraers ook wees.”

“Wie sê jy is nie ’n genie nie?”

“Ek het nog nooit daarna gestreef om een te wees nie,” antwoord sy. “My skilderwerk was maar net ’n drang om uiting te gee aan my gevoelens, my drome en gewaarwordinge. Dit was regtig ’n behoefte by my en – soos ek dikwels ’n bietjie teatraal vir Emile gesê het – net so ’n noodsaaklike deel van my lewe soos asemhaal. Ongelukkig het ek toe nie besef dat talent en harde werk nie dieselfde ding is nie, dat jy sonder talent jou vingers kan deurwerk en nooit sal presteer nie.”

“Wie het gesê jy het nie talent nie? Emile?”

Sy skud haar kop.

“Ek en Emile het dikwels – en later bitterlik – rusie gemaak oor my werk. Hy het gesê ek verwaarloos hom en my huislike pligte – wat dikwels waar was – en dat ek nie so haastig moet wees om uit te stal nie omdat my werk nog nie ryp is nie en nog nie ’n eie karakter het nie. Maar al het hy dit nie met soveel woorde gesê nie, het ek diep in my hart geweet hy dink ek is besig om ’n skim na te jaag. In elk geval, in my jeugdige verwaandheid en optimisme het ek my nie veel gesteur aan wat hy sê nie en my gang gegaan. Maar eendag, as ek die moed het, sal ek vir jou ’n koerantuitknipsel wys, dan kan jy sien wat ’n resensent van my werk gedink het.”

“En jy laat jou deur een man se opinie so van stryk bring dat jy net daar en dan die stryd gewonne gee?”

“Dit was nie net dit nie. Ek weet nie of Emile jou vertel het nie, maar ek het in daardie tyd my baba verloor – ’n dogtertjie wat te vroeg gebore is en net ’n paar uur gelewe het. Hoewel hy dit nie gesê het nie, het ek geweet Emile hou my vir haar dood verantwoordelik. ’n Paar maande later is my pa, aan wie ek baie geheg was, ook skielik oorlede. Binne ’n paar maande het ek my man, my kind en my pa verloor en – miskien was dit sielkundig – ook alle drang om weer te skilder. In die Kaap het ek hard gewerk om te vergeet en ’n sukses van my lewe te maak, en dit was byna drie jaar voor ek myself sover kon bring om weer te begin skilder. Ek het prentjies – soos jy hulle noem – begin teken wat nogal byval gevind het, en as ek my vandag daarop wil toelê, sal ek genoeg geld met illustreerwerk kan verdien. Maar die werk is te wisselvallig – sommige van die tydskrifte gebruik reeds foto’s omdat dit soveel goedkoper is – en ek verkies om my brood met skoolhou te verdien en in my vrye tyd so ’n bietjie met die kwas te speel. Die ergste is, ek gee glad nie om om ’n dilettant te wees nie – dis ’n interessante en lonende stokperdjie.”

“Solank jy gelukkig is. Dis mos die belangrikste, nie waar nie? Ek het ook niks teen illustreerwerk nie, mits jy nie besig is om ’n talent wat jy ontvang het te verwaarloos omdat die ander werk soveel makliker en lonender is nie. Sal jy vir my van jou skilderye wys? Ek gee nie voor om ’n kunskritikus te wees nie, maar ek sal jou eerlik sê wat ek daarvan dink.”

“Ek het net ’n paar doeke, maar as jy regtig belangstel, sal ek dit eendag vir jou wys. Maar onthou, ek het jou gewaarsku …”

“Kom eet Vrydagaand by ons, dan bring jy van hulle saam – ook ’n paar van die prentjies waarop jy so trots is. Kom vroeg, dan kan jy my help kos maak – Vrydagaande is Ingrid gewoonlik laat.”

Sonder aarseling aanvaar sy die uitnodiging. Sy sal graag die geniale jong man en sy blonde doktersvrou beter wil leer ken. ’n Rukkie gesels hulle oor Ingrid en hy vertel haar dat sy op die oomblik as locum waarneem vir ’n dokter wat vir ses maande oorsee is. Dit gee hulle tyd om hulle planne te finaliseer en te besluit of hulle hulle uiteindelik in die Kaap of elders in ’n stad of op die platteland gaan vestig.

Buite is die strate druk en woelig en by die bushalte wag lang toue mense, maar Veronica is so verdiep in haar gedagtes dat sy niks of niemand raaksien nie. Die gesprek met Jacques het haar gestimuleer maar ook effens onrustig gestem, al het sy lankal afgesien van haar drome om voltyds te skilder.

Tuis het sy net gou haar hande gewas en verklee, toe stap sy om te hoor hoe dit met mevrou Louw gaan. Toe Veronica haar die vorige dag gesien het, het sy nog nie die griepverkoue afgeskud nie en nog steeds hardnekkig geweier om ’n dokter te sien of vir haar kinders te laat weet dat sy ongesteld is.

Mevrou Walters, een van Georgina Louw se brugvriendinne, maak die deur vir Veronica oop en nooi haar binne.

“Ek het haar nou net in die bed gesit,” sê sy toe Veronica vra hoe dit met hulle vriendin gaan. “Ek wens jy wil my help om haar te oorreed om ’n dokter te kry. Ek is nie baie gerus oor daardie hoes van haar nie.”

Georgina Louw lê in die bed in ’n spierwit valletjie-nagrok met ’n warm blou bedjakkie daaroor. Met die wit kantmussie wat so keuring op die spierwit hare sit, die blink oë wat jou so uitdagend aankyk, lyk sy soos ’n trotse ou koningin. Sy hou vol sy is nie siek nie: sy sukkel maar net om van haar hoes ontslae te raak. Dis meer as dertig jaar dat sy laas ’n dokter se dienste nodig gehad het: sy dink dit is verspot om vir elke kleinigheid na ’n dokter toe te hardloop en glo daaraan om eers die natuur ’n kans te gee.

Veronica haal haar skouers op.

“Ek is ook nie baie lief vir die spesie nie, maar as ek regtig siek is, sal ek nie aarsel om ’n dokter te laat kom nie. Met die wonderlike medisyne wat hulle vandag tot hulle beskikking het, het hulle ’n mens in ’n kits weer op die been. As mevrou dit aan die natuur oorlaat, sal u bes moontlik nog ’n paar weke so aansukkel. Maar party mense hou natuurlik daarvan om martelaar te speel – en ’n week of twee in die bed sal u seker nie kwaad doen nie.”

Georgina Louw kyk haar vererg aan.

“Ek het nog nooit tyd vir ’n martelaar gehad nie. Maar jy kan maklik praat: jy is jonk en sterk en gesond. Ek wil nie ’n vreemde ou man hier in my slaapkamer hê wat my allerhande intieme vrae vra nie, en miskien nog daarop aandring dat ek my uittrek sodat hy my behoorlik kan ondersoek nie.”

Veronica onderdruk ’n geamuseerde glimlaggie, maar voor sy kan antwoord, sê mevrou Walters: “Ons kan altyd vir jou ’n mooi, jong doktertjie kry as jy dit verkies, Georgina.”

Mevrou Louw gluur haar vriendin aan.

“Dis nie nou die tyd vir flou grappies nie, Issie. Kan julle nie vir my van daardie wonderlike medisyne in die hande kry sonder dat ek ’n dokter sien nie? Ek gee nie om wat dit kos nie.”

Veronica skud haar kop.

“’n Mens kan nie sulfas en antibiotika sonder ’n dokter se voorskrif kry nie. Maar dis glad nie nodig om ’n vreemde man – jonk of oud – in te roep nie. Daar is vandag uitstekende vrouedokters wat net so bekwaam is soos enige mansdokter.”

Georgina Louw kyk haar ’n oomblik stilswyend aan.

“Weet jy van so ’n dokter?” vra sy dan onwillig.

“Ek ken presies die regte persoon.” Sy vertel haar van dokter Ingrid Meyer, die omstandighede van hulle ontmoeting, dat Jacques en sy ou vriende van haar gewese man is, en dat sy so ’n goeie indruk op haar gemaak het. “Ek is seker mevrou sal baie van haar hou. Die vraag is net of ek haar dadelik in die hande sal kry.”

“Sorg dat jy haar kry – al moet ek tot môre wag. Daar is in elk geval geen dringende haas nie – behalwe dat ek baie graag Vrydag na Johanna van Dalsen se brug- en middagete-partytjie toe wil gaan.”

Binne ’n paar minute kom Veronica deur na Ingrid Meyer se spreekkamer en tot haar verligting is sy nog daar. Sy vra om met die dokter self te praat en ’n oomblik later hoor sy haar koel, saaklike stem: “Dokter Meyer hier.”

Veronica verduidelik wie sy is, maar Ingrid onthou haar dadelik en vra wat sy vir haar kan doen. Veronica vertel haar kortliks van mevrou Louw en sy belowe om oor ’n uur daar te wees.

Mevrou Walters slaak ’n suggie van verligting.

“Nou sal ek meer gerus huis toe gaan,” sê sy terwyl sy haar vriendin bemoedigend op die skouer klop. “Pas jouself op, Georgina, en luister na die dokter. Môre kom ek weer kyk hoe dit gaan en miskien kan ons nog Vrydag saam brug speel.”

“Ry versigtig,” maan Georgina Louw. “Jy weet hulle het gesê as jy weer ’n ongeluk maak, neem hulle jou lisensie weg.”

“Dit was nie ek wat die ongeluk gemaak het nie,” sê Issie Walters verontwaardig. “Dit was daardie onverskillige jong snuiter wat in mý vasgery het. Maar ek sal oppas: sonder my motor sal ek verlore wees.”

Veronica stap saam met haar tot by die deur.

“Ek is bly jy het die dokter gekry,” fluister sy vir Veronica. “Kyk dat die dokter haar goed ondersoek – sy het jare gelede met die geboorte van haar jongste seun ’n bietjie hartmoeilikheid gehad.”

Veronica belowe en tevrede gaan Issie Walters daar weg.

Terwyl hulle vir die dokter wag, maak Veronica vir hulle tee wat mevrou Louw gretig drink. Veronica vertel haar van Jacques du Pré se uitstalling en hulle gesprek die middag, en van die blonde vrou wat hy in Londen ontmoet het en op wie hy dadelik verlief geraak het. Toe die deurklokkie lui om die dokter se koms aan te kondig, het Georgina Louw haar besware teen dokters vergeet in haar gretigheid om met Ingrid kennis te maak.

In ’n grys baadjiepak met ’n spierwit bloes en ’n klein donkerblou hoedjie lyk dokter Ingrid Meyer mooi, saaklik en op haar gemak.

“Dis gaaf van jou om so gou te kom,” sê Veronica toe sy die deur vir haar oopmaak. Sagter, met ’n knikkie in die rigting van die slaapkamer, voeg sy by: “Een van die ou garde, wat meer aan die natuur as aan dokters – veral ou mansdokters – glo.”

Ingrid Meyer kyk vlugtig na haar, maar lewer geen kommentaar nie.

In die slaapkamer wag Georgina Louw vir hulle, haar blou oë – byna dieselfde blou as die jong dokter s’n – ’n bietjie koel en uitdagend. ’n Oomblik kyk sy en die jong dokter woordeloos na mekaar, byna asof hulle kragte meet, dan stap Ingrid met ’n glimlag nader en steek haar hand uit om te groet.

“Hallo, mevrou Louw. Ek is jammer ek kry u in die bed. Die nasomer-verkoues kan soms so lastig wees, nè?”

Veronica tel die koppies van die spieëltafel af op. Solank die twee kennis maak en die dokter haar pasiënt ondersoek, sal sy die koppies was en kyk of daar dalk iets lekkers is wat mevrou Louw kan eet. Op ’n skielike impuls vra sy of sy nie vir Ingrid ’n koppie tee kan maak nie, en die aanbod word dankbaar aanvaar.

In die netjiese kombuisie was sy gou die koppies, maar haar soektog na “iets lekkers” om te eet lewer niks op nie, behalwe twee eiers, ’n stukkie kaas en ’n halwe bottel melk. Tipies van vrouens wat alleen woon, dink Veronica. Hulle is ongelukkig as daar nie blomme in die huis is nie, maar ’n leë yskas laat hulle onverskillig.

Na ’n rukkie kom Ingrid kombuis toe om kookwater te kom haal. Sy het haar baadjie uitgetrek en haar moue opgerol en lyk bekwaam en seker van haarself.

“Ek gaan vir haar ’n inspuiting gee en ek los ’n paar pille wat sy elke vier uur moet drink. Ek sal môreoggend haar apteker bel en sê dat hy nog moet stuur.”

“Het mevrou Louw jou van die brugpartytjie vertel? Sy is ’n uithaler-brugspeler, en sy sien vreeslik uit na haar weeklikse brugpartytjies. En hierdie een is ’n spesiale partytjie – een van die ander vrouens verjaar.”

Ingrid Meyer skud haar kop en haar gesig is ernstig.

“Hierdie petalje sal haar ’n goeie week in die bed kos. Haar regterlong is aangetas en haar hart klink nie te wonderlik nie – dit is dalk as gevolg van die siekte, maar ek wil liewer nie enige risiko loop nie.”

“Ek stem saam. Maar ek is bly ek is nie die een wat dit vir haar moet sê nie.”

“Ek het klaar vir haar gesê,” sê Ingrid droogweg. “Of sy sal luister, is natuurlik heeltemal ’n ander saak.”

Toe Veronica ’n rukkie later die tee inneem, gesels die twee soos ou vriende. Tot Veronica se verligting lyk Georgina Louw heelwat gemakliker na die inspuiting.

Toe sy later weer saam met Ingrid deur toe stap, sê Veronica skamerig: “Ek hoop nie jy gee om nie, maar ek het die hele middag by jou man gekuier. Ek stel ook ’n bietjie belang in kuns, veral skilderkuns.”

“Emile het my vertel,” sê sy. “Ek is seker Jacques het die besoek baie geniet.”

Veronica glimlag.

“Ek hoop so. Hy het my genooi om Vrydagaand by julle te kom eet.”

“Dit sal gaaf wees. Ons was van plan om jou gou te nooi. Het jy al weer vir Emile gesien?”

“Ek het Sondagmiddag saam met hom Kommetjie en Constantia toe gery. Ek was onder die indruk dat hy net op ’n kort sakebesoek in Kaapstad is, maar hy sê sy werk sal hom nog ’n maand of twee hier hou.”

Ingrid Meyer kyk ondersoekend na haar.

“Gee jy om?”

“Nie in die minste nie.”

“Het hy jou van sy nuwe … vriendin vertel?”

“Hy het. Ook dat sy volgende maand kom kuier. Ken jy haar?” vra sy ongeërg.

“Ek het haar ’n paar keer in Pretoria ontmoet: Emile het haar na ons hotel toe gebring en ons het een aand saam geëet. Ons sal seker heelwat van haar sien wanneer sy hier is. Maar ons gesels later weer. Jy is gelukkig, Jacques is ’n baie beter kok as ek, en,” vervolg sy met ’n laggie, “dis Vrydagaand sy beurt om vir die ete te sorg. Tot siens dan. Ek sal mevrou Louw môreoggend weer besoek, maar ek verwag dat sy ’n goeie nag sal hê.”

“Waaroor het julle so lank gesels?” vra mevrou Louw agterdogtig toe Veronica weer in die kamer kom. Veronica kyk ’n oomblik na haar, dan glimlag sy.

“Nie oor die pasiënt nie – behalwe dat die dokter gesê het sy kom môre weer vir mevrou kuier. Ons het eintlik oor my sake gesels. Toe ons Sondag gaan ry het, het Emile vir my gesê dat hy … wel, weer trouplanne het. En dat die meisie volgende maand kom kuier.”

“So? En wat is jou gevoelens oor die saak?”

Die blou oë is skerp en deurtastend, maar Veronica se blik weifel nie vir ’n oomblik nie.

“Ek het vrede daarmee.” Liggies voeg sy by: “Ek hoop net hy tref dit dié keer gelukkiger as die eerste keer.”

“Ek het altyd gedink jy is nog verlief op die man. Ek kon nooit verstaan waarom so ’n mooi, intelligente meisie soos jy nie weer trou nie.”

“As ’n mens een maal ontnugter is, is jy die tweede keer versigtiger. Hubare mans van my ouderdom kry jy ook nie agter elke bos nie. En tensy ek baie seker is dat ek die regte keuse maak, bly ek liewer soos ek is.”

“Jy het nog nie my vraag beantwoord nie. Is jy nog verlief op die man?”

“Nee,” sê Veronica stil. “Ons het gedurig rusie gemaak. Ek dink dit was vir ons albei ’n verligting toe ons die dag uitmekaar is.”

En tog was daar tye – selfs nadat die spanning tussen hulle begin oplaai het – dat sy gedink het sy is die gelukkigste mens op aarde. As hulle maar net geweet het hoe om daardie kosbare vlammetjie van geluk beter te vertroetel en te beskerm!

“Maar genoeg daarvan. Ek sien mevrou se koskas is leeg. Ek gaan eers kyk of myne miskien iets vir ons aandete oplewer.”

“Dis lief van jou om jou oor my te bekommer, hartjie, maar ek is regtig nie honger nie. Kom sit liewer hier by my en gesels nog ’n rukkie.”

“Ek kom gou weer,” sê Veronica liggies. “Ek gaan net kyk. Ek dink daar is nog ’n blikkie lekker tamatiesop in my kas.”

Binne enkele minute is sy weer terug met die sop. Terwyl sy dit saam met ’n bietjie melk verhit, sit sy die kamerlig aan om die skaduwees te verjaag, soek na opgewekte musiek op die radio, skud die kussings reg en maak mevrou Louw gemaklik vir die nag.

“Ek moet ongelukkig vanaand uitgaan – ek het ’n uitnodiging vir aandete en fliek – maar ek gaan netnou my lakens bring en vannag slaap ek op die divan hier op die stoep. As mevrou vir my ’n sleutel gee, kom ek so saggies in dat u my nie eens hoor nie. Ek sal vir Adèle vra om later in te loer ingeval u iets nodig het.”

Terwyl die pasiënt haar sop geniet, maak sy gou vir haar ’n omelet ook, dan moet sy spring om betyds gereed te wees vir haar afspraak met Koenraad. Adèle belowe dat sy ’n rukkie by mevrou Louw sal gaan sit en Veronica kan met ’n geruste gemoed uitgaan.

Koenraad neem haar na een van die bekende restaurante waar hulle al vantevore geëet het en sy kom sommer dadelik agter dat hy iets op die hart het. Hy lyk effens gespanne en sy wonder of sy ma ontevrede is omdat hy die aand saam met haar deurbring. Sy ma het een maal laat deurskemer dat sy nie van geskeide vrouens hou nie!

“Wat makeer, Koenraad?” vra sy later. “Is daar iets wat jou hinder?”

Hy kyk verras na haar, dan glimlag hy ’n bietjie verleë.

“Wel, ja, daar is iets wat ek jou wil vra. Ek wou wag tot ons klaar geëet het, maar noudat jy my die opening gee …” Hy kyk na haar en die uitdrukking in sy oë laat haar verleë wegkyk. ’n Bietjie onseker gaan hy aan: “Jy kan seker raai wat dit is wat ek jou wil vra, Veronica …”

“Wat is dit, Koenraad?” vra sy sag.

“Ek het jou lief, Veronica. Ek wil graag met jou trou.”

’n Oomblik kyk sy hom sprakeloos aan.

“En jou ma?”

“Ek weet nie. Ek wil dit met jou bespreek. Maar ek het nou lank genoeg gewag.”

Van die rolprent het Veronica later maar baie min onthou. Die hele tyd wat sy in die halfdonker langs Koenraad gesit het, was haar gedagtes met ander dinge besig. Koenraad het haar gevra om met hom te trou! Sy hou van Koenraad; hul belangstellings is in baie opsigte dieselfde; sy dink hulle kan ’n sukses van die lewe saam maak. En tog staan die vooruitsig haar glad nie aan nie. Is dit net die gedagte aan sy ma?

Toe Koenraad later vir haar tot siens sê, neem hy haar in sy arms en soen haar ’n bietjie lomp.

“Dink daaroor – later gesels ons weer. Ek weet my ma is ’n groot probleem, maar ek is seker ons kan saam ’n oplossing vind wat vir haar sowel as vir ons albei aanvaarbaar is. Onthou net, ek het jou lief en ek het jou nodig.”

Georgina Louw was nog wakker toe sy kort voor middernag saggies die woonstel binnesluip.

“Ek voel baie beter, maar ek kan nie slaap nie,” kla sy. “En as ’n mens so wakker lê, kry jy later allerhande spookgedagtes.”

“Ek is seker dis van pure hongerte dat mevrou nie kan slaap nie. Ek gaan vir ons elkeen ’n glas warm melk maak, met so ’n klein slaappilletjie vir u daarby – ek is seker dit sal die einde van die wakkerlê wees.”

Terwyl hulle die melk drink, sê mevrou Louw peinsend vir Veronica: “Jy weet, ek dink die swaarste van die alleenlewe is om vir jouself kos te maak. Om elke dag een aartappeltjie, een wortel en ’n halfkoppie rys te kook – en dan bly die helfte nog oor – nee wat, jy drink maar liewer ’n koppie tee en eet ’n stukkie roosterbrood daarby. Jy is later so moeg vir ’n skaaptjoppie of ’n stukkie lewer dat jy nie meer daarna kan kyk nie. Om van ’n hoendereier nie te praat nie. Die gevolg is dat jy jouself verwaarloos, jou gesondheid word ondermyn en jy sukkel wie weet hoe lank om ’n eenvoudige ou hoesie af te skud. Ek het nog nie met die kinders daaroor gepraat nie, maar jy weet, ek begin ernstig daaraan dink om na ’n ouetehuis toe te gaan. Ek sal dit haat om my woonstel prys te gee – my privaatheid en my gerief en al die mooi dinge wat saam met die woonstel gaan – maar dit lyk my op die ou end sal ek geen ander keuse hê nie.”

“Wat van u kinders? Hulle sal mos nooit toelaat dat u ouetehuis toe gaan nie?” sê Veronica verontwaardig, maar die ouer vrou skud haar kop.

“Ek is lief vir my kinders en ek weet hulle is lief vir my, maar ek sal nooit by een van hulle inwoon nie. Drie geslagte onder een dak betaal nooit nie. Daarvoor is hulle lewens – hulle behoeftes – te uiteenlopend.”

Sy is ’n rukkie stil, dan vervolg sy mymerend: “Jy weet, as ek so terugdink aan my lewe, is dit die kortstondigheid van alle dinge wat my die meeste tref. Die jare vlieg soos ’n gedagte verby, en onwillekeurig wonder ’n mens waarom jy nie alles meer waardeer en geniet het toe jy dit gehad het nie. Ek het altyd geglo die geheim van ’n gelukkige lewe is om altyd besig te wees. Jy moet iets hê om voor te lewe, ’n doel waarna jy strewe. As ’n mens jonk is, is dit natuurlik maklik. Dan is jou dae te kort vir alles wat jy graag wil doen. Maar die kinders word groot en selfstandig, een vir een verlaat hulle die ouerhuis om ’n eie lewe te begin en nou breek daar ’n ander fase in jou lewe aan. Jy brei en jy hekel vir die kleinkinders, jy hou jou met liefdadigheid besig, jy lees die boeke waarvoor jy vroeër nooit tyd gehad het nie, jy geniet jou vriende en die lewe is nog vol en gelukkig, die gevreesde ouderdom met sy kwale en gebreke nog net ’n skaduwee doer in die verte. Maar dan kom die dag dat jou geliefde kameraad, jou steunpilaar in tye van nood en kommer, jou ontval en jy alleen agterbly, dat jy deur omstandighede gedwing word om van jou groot huis en jou vriende af te sien, dat jy jou weer by ’n nuwe lewe moet aanpas. Aan die begin is dit bitter swaar, maar jy leer om dit te aanvaar, en as jy so om jou kyk, besef jy hoe baie jy nog het om voor dankbaar te wees.”

’n Hoesbui onderbreek haar, maar nadat sy nog melk gedrink het, vervolg sy saggies, byna asof sy met haarself praat: “Elke ouderdom het natuurlik sy kompensasies, en solank jy jou kragte en jou gesondheid behou, leer jy om jou seëninge te tel en die beste van elke dag te maak. Die lewe vloei nou in rustiger kanale, dis in die klein dingetjies van die lewe wat jy jou vreugdes vind. Die weeklikse brugpartytjie saam met jou vriende – baie van hulle in dieselfde bootjie as jy – is iets om na uit te sien en hou jou verstand wakker. Maar die ou oë is nie meer so goed nie, die kragte begin afneem en jy betrap jouself al hoe meer dikwels dat jy in die verlede instede van die hede leef. Intussen hou jy die pos gedurig dop vir briewe van die kinders en kleinkinders en die dag is vaal en leeg as die verwagte briefie nie daar is nie. Die kinders se vlugtige besoekies is die hoogtepunt van jou dae, jou sterkste kontak met die regte lewe. En dan kom die dag dat jy besef dat jy jou kringetjie nog nouer moet trek …”

“Ek is seker dis nie nou al nodig nie,” sê Veronica vertroostend. “Dis maar omdat u siek voel dat die wêreld vanaand so ’n bietjie troosteloos lyk. Sodra mevrou beter is, gaan u bietjie vir u seun in die Paarl kuier en ek is seker as u terugkom, sal u weer soos ’n splinternuwe sikspens voel.”

“Ek sal miskien ’n bietjie gaan kuier. Hierdie gedagtes begin my nou kwel en ek wil graag sake met Francois bespreek. Maar jy moenie dink ek is besig om myself te bejammer nie – net partymaal word die eensaamheid te veel vir ’n mens.”

“Ek weet,” sê Veronica sag. “Maar nou is dit tyd vir ons al twee om te gaan slaap. En u sal sien, môre in die helder daglig lyk die wêreld sommer weer anders.”

Georgina Louw het haar oë toegemaak en binne ’n paar minute was sy vas aan die slaap. Dit was Veronica wat slapeloos rondgerol het op die divan terwyl sy dink aan alles wat haar vriendin vanaand gesê het.

“As ek so terugdink aan my lewe is dit die kortstondigheid van alle dinge wat my die meeste tref …”

Die kortstondigheid van alles … Van liefde, van geluk, van die lewe self.

En teen die agtergrond van hierdie gedagtes, soos ’n reddingsboei in ’n see vol donker gevare, kom weer die herinnering aan Koenraad se huweliksaansoek.

Tryna du Toit-omnibus 9

Подняться наверх