Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 9 - Tryna du Toit - Страница 7

Hoofstuk 4

Оглавление

Onder in die straat voor die gebou staan ’n geel Citroën met ’n Pretoriase nommerplaat. Emile stap reguit daarheen.

“Jou motor?” vra sy. Sy het so half verwag dat hy met ’n gehuurde of ’n geleende motor hier sal aankom.

“Myne,” antwoord hy droogweg. “Ek het darem so ’n bietjie vooruitgeboer vandat jy my laas gesien het.”

“Natuurlik. Ná alles wat ek gehoor het, het ek ten minste ’n Rolls verwag,” sê sy kalm.

Hy maak die deur vir haar oop en klim agter die stuur in.

“Waarheen gaan ons?” vra hy.

“Moet ek besluit?” Sy dink ’n oomblik na. “Was jy al by Kommetjie? Ons kan daar gaan tee drink as jy lus het. Dis ’n pragtige pad – selfs op ’n vaal, reënerige dag.”

“Kommetjie is een van die plekke waarnatoe ek nog graag wil gaan. Dalk kan ons dan met die Constantia-pad langs terugkom. Hoe laat moet jy weer by die huis wees?”

Sy aarsel ’n oomblik, dan sê sy koel: “Geen spesifieke tyd nie. Maar ek het nog ’n bietjie skoolwerk om te doen.”

“Skoolwerk op ’n Sondagaand? Dit klink asof jy ’n besige naweek gehad het. Hoe het dit toe met die perde gegaan?”

“Goed. Dit was ’n lekker middag en ek het ’n klomp geld gewen.”

Noudat sy alleen saam met hom in die motor is, voel sy skielik ’n bietjie skaam en onseker van haarself. In ’n poging om dit weg te steek begin sy hom opgewek van haar ervarings die middag vertel – ook van die ou boemelaar wat voorspel het dat haar perd met meer as ’n lengte sal wen.

“Ek het eers gedink ek sal die geld vir die Heilsleër gee – gedagtig aan al die ou boemelaars en rondlopers wat hulle moet huisves – maar nadat ek daaroor geslaap het, het ek besluit om vir my een van Jacques du Pré se skilderye te koop. So ’n gelukkie sal my seker nie weer te beurt val nie en die skildery sal ’n dubbele doel dien: dit sal ’n gedurige bron van vreugde en inspirasie vir my wees, maar ook ’n herinnering aan die ou boemelaar en die euwels van dobbelary,” eindig sy effens uitasem.

Hy antwoord nie dadelik nie. Die verkeer is taamlik druk en dit vereis blykbaar al sy aandag om die motor in die nou, besige straat te bestuur.

“Van waar ken jy Jack Verster?” vra hy na ’n rukkie.

“Ek het hom twee, drie jaar gelede op ’n partytjie ontmoet,” antwoord sy versigtig.

“Sien jy hom dikwels – ek bedoel, wanneer hy in die Kaap is?”

Sy stem is kalm en ongeërg en sy antwoord liggies: “Taamlik gereeld. Dit hang af hoe besig ons albei is.”

“Interessante kêrel?” sê-vra hy.

Sy kyk tersluiks na hom, maar sy oë is op die pad voor hom gerig.

“Nogal. Hy ken almal en weet van alles. Ek geniet dit om saam met hom uit te gaan,” vervolg sy effens uitdagend.

Hy antwoord nie. Droom sy of is dit die werklikheid? dink sy. Sit sy regtig hier langs Emile in die motor, oorgehaal om met die geringste aanleiding rusie met hom te maak?

Die Twaalf Apostels is toe onder die mis en die bulderende see is een met die grys wolke en die misreëntjie wat mistroostig oor die aarde neersif. Sy en Emile is alleen in die motor wat so stil oor die nat pad gly, afgesluit van die res van die wêreld deur die vaal reënkombers.

Sy moes nooit gekom het nie, dink sy in ’n skielike opwelling van paniek. Sy moes haar nie deur Emile laat ooreed het nie. Wat kan hulle na vyf jaar vir mekaar sê wat nie weer al die ou spoke sal opjaag nie? Asof hy bewus is van haar verleentheid begin Emile gesels. Hy praat oor die Kaap met sy berge en sy natuurskoon, van die atmosfeer wat die ou stad besit, wat hom as argitek dadelik getref het. ’n Skilder sou natuurlik nog meer bewus daarvan wees!

Sy antwoord nie daarop nie, maar begin vra hom uit oor sy tyd oorsee. Hy vertel haar van Venesië, die argitek se droomstad, en van Rome, Parys en Londen, waar hy ook ’n tyd lank gewoon en gewerk het.

Sy luister stil, bewus daarvan dat hy ook nie heeltemal op sy gemak is nie. Tussen hulle lê natuurlik die onuitgesproke gedagte: as alles volgens plan verloop het, sou sy saam met hom daar gewees het. En tog, alles in ag genome, het dinge seker maar ten goede gebeur. As sy ook daar was, sou hy nie sy volle aandag by sy werk kon bepaal nie en sou geldnood hulle gedwing het om baie gouer na Suid-Afrika terug te keer. Hy was vry en ongebonde en het nie nodig gehad om hom oor ’n vrou – en gesin – te bekommer nie.

Op pad het die reën opgehou; die son het deur die wolke gebreek en plek-plek het daar blou kolle op die see verskyn. Toe hulle by ’n mooi rotsformasie naby Chapmanspiek kom, het Emile die motor van die pad getrek en haar genooi om uit te klim en die uitsig saam met hom te bewonder. Hulle het teen die rots opgeklouter en gekyk na die wye uitgestrektheid van die rustelose, deinende see, na die hoë branders wat skuimend oor die rotse breek en hoog in die lug opspat om dan weer terug te val in ’n eindelose kom en gaan.

“Daar is geen haas nie,” sê Emile langs haar. “Kom ons sit ’n rukkie hier op die rotse. Of is dit te koud vir jou?”

“Ek sal die hele dag hier kan sit sonder om moeg te word – of koud te kry,” voeg sy met ’n glimlag by.

’n Lang ruk sit hulle stil langs mekaar, hulle oë op die onstuimige groengrys see, die klam seeskuim teen hulle gesigte. Geleidelik verdwyn die onrus en onsekerheid uit Veronica se hart en word dit stil hier binne-in haar.

Dis Emile wat eerste begin praat en half onwillig maak Veronica haar los van die bekoring waarin sy vasgevang is. Emile verneem na haar familie en is geskok om te hoor van haar pa se dood ’n paar maande na sy vertrek.

“Ek is jammer,” sê hy. “Dis die eerste wat ek daarvan hoor. Waarom het jy nie vir my geskryf nie?”

Sy haal haar skouers op.

“Ek weet nie. Alles was so deurmekaar; dit het so skielik gebeur. Ek het vir jou ma geskryf – ek het gedink sy sal jou seker laat weet.”

“Miskien het die brief verlore geraak,” sê hy. “Ek kan nie dink dat sy my nie sou laat weet het nie.”

In sy hart het hy egter geweet dat dit wel moontlik was. Sy vroeë huwelik en die egskeiding twee jaar later was vir sy ma, wat baie hoë ideale vir hom gekoester het, ’n bittere teleurstelling. Hy weet sy het in haar hart vir Veronica daarvoor geblameer dat hy so vroeg getrou het en dat sy huwelik misluk het. Van haar kant af sou sy geen steen verroer om hulle weer bymekaar te bring nie.

Hy vra haar uit oor haar pa se finansiële probleme en sy vertel hom kortliks die omstandighede: nadat die boedel beredder is, was daar net genoeg om in haar ma se behoeftes te voorsien.

“Ek is jammer,” sê hy simpatiek. “Ek is werklik jammer om dit te hoor. Jy moes my regtig laat weet het.”

“Ek wou vir jou skryf, maar toe het ek gedink – jy kan tog niks aan die saak doen nie. En omdat ek nooit van jou gehoor het nie, was ek bang jy sou dink dat ek … wel, dat ek besig is om weer agter jou aan te loop.”

In stilte kyk hy na die hoë golwe wat op hulle afgestorm kom, die wolke van skuim wat opspat wanneer hulle telkemale teen die donker, blinknat rotse neerstort. Uiteindelik sê hy: “Toe jy my die dag van jou weggestuur het – toe jy vir my gesê het dat ons huwelik wat jou betref ’n volslae mislukking was en dat jy nie kans sien om langer so aan te gaan nie – het ek dit as finaal beskou.”

“Ek ook,” fluister sy.

“En nogtans het jy verwag – of gehoop – dat ek weer vir jou sal skryf?”

“Net ’n kort briefie – net om te sê dit gaan goed en dat jy my vergewe het vir alles wat ek jou aangedoen het,” sê sy sag.

Maar hy skud sy kop.

“Nee. Wat verby is, is verby. En van vriendskap tussen my en jou was daar in daardie stadium nie sprake nie.”

“En nou?” vra sy nuuskierig.

“Nou is dit miskien moontlik. Die storms is verby en die wonde het genees. Ons het albei weer rigting in die lewe gekry. Uiteindelik kan ons – hoop ek – soos twee verstandige mense oor die verlede sowel as die toekoms gesels sonder om mekaar seer te maak of in die hare te vlieg.”

Dis haar beurt om stil te wees. Dan sê sy: “Wat is die belangrike saak wat jy met my wou bespreek voor jy teruggaan?”

“Ek wil graag ’n ou skuld wat swaar op my gewete rus vereffen. Maar daarby kom ons later. Ek wou ook sommer net uitvind hoe dit met jou gaan en wat jou planne vir die toekoms is. Jy sien, Veronica, ek het verwag dat jy teen hierdie tyd lankal weer getroud sal wees. En tot my verbasing – en teleurstelling – sien ek jy dra nie eens ’n verloofring nie.”

“Waarom teleurstelling?” vra sy verontwaardig.

“Dit laat my skuldig voel. Was jou eerste ervaring so ’n ontnugtering dat jy bang is om ’n tweede keer te probeer?”

Sy haal haar skouers op.

“Ek sal seker weer eendag trou, maar daar is geen haas nie. Op die oomblik geniet ek nog die lewe soos dit is. Ek is my eie baas, ek maak soos ek wil, ek hoef niemand behalwe myself in ag te neem nie. Intussen spaar ek vir ’n vakansie oorsee …” Dis Adèle se skuld dat die argumente so hol in haar ore klink. “Maar wat van jou? Waarom is jy nog nie getroud nie?”

“Hoofsaaklik omdat ek nog te besig was. Onthou, toe ek van oorsee teruggekom het, het ek niks gehad nie – behalwe skuld, en natuurlik die kennis en ervaring wat ek opgedoen het. Maar ek het hard gewerk en ek was gelukkig. Ek is ’n vennootskap aangebied by ’n puik firma met kontrakte dwarsdeur die land. Werk is volop – ons land beleef ’n geweldige opbloei in die boubedryf wat seker nog geruime tyd sal aanhou. Jy sal Pretoria nie ken as jy weer daar kom nie: die hele middestad het verander en dit gaan steeds voort. In elk geval, dit het bo verwagting goed gegaan, die vooruitsigte vir die toekoms is goed en – anders as jy – begin ek voel die tyd word kort en ek word nie jonger nie. Ek raak moeg vir die alleenlewe; ná al die jare van swerf soek ek bestendigheid, ’n huis en ’n gesin. Ek voel dit word tyd om daardie droomhuis van my te bou.”

’n Skielike huiwering gaan soos ’n koue windjie deur haar.

“Mag ek vra wie sy is?” vra sy sag.

“Ek het nie gesê daar is iemand nie, het ek?”

“Jy is tog seker nie van plan om alleen in jou droomhuis te gaan woon nie,” werp sy vinnig teë.

“Nee. Dan sal dit nie regtig ’n droomhuis wees nie. Jy is reg, daar is iemand – ’n meisie wat in ons kantoor in Pretoria werk. Nee, jy sal haar nie ken nie, sy kom van die platteland af en is nog maar ’n jaar of twee in die stad.”

“Is julle verloof?” vra sy en is verbaas oor haar eie kalmte.

“Nog nie. Ek het gevoel ek is nie vry om – sal ons sê – ’n kontrak met ’n ander vrou aan te gaan voor ek jou weer gesien het, my skuld vereffen het en seker gemaak het dat ek nie meer enige verpligting teenoor jou het nie.”

“Jy het geen verpligting teenoor my nie.” Haar stem is laag, skaars hoorbaar bo die gedreun van die branders teen die rotse. “Het ek jou één keer in die vyf jaar lastig geval of laat voel dat … dat ek nog enige aanspraak op jou het?”

“Inteendeel! Jy het my baie goed laat verstaan dat jy dankbaar was om van my ontslae te wees, dat jy niks verder met my te doen wil hê nie. En as ek teruggekom het en jy was getroud of verloof sou ek tevrede weggegaan het en gevoel het ek is vry om my eie geluk te soek. Maar nou is jy alleen, sonder ’n ring aan jou vinger of iemand om jou te beskerm teen wolwe soos Jack Verster wie se geselskap jy so geniet. Jy het – van alle dinge – ’n onderwyseres geword. Jy skilder nie meer nie terwyl jy vroeër gesê het jou skilderwerk is net so ’n noodsaaklike deel van jou lewe as asemhaal. Ek … wel, ek weet nie wat om van die nuwe Veronica te maak nie!”

“Dis baie eenvoudig,” sê sy met ’n sweem van bitterheid. “Ek het ouer en verstandiger geword, dis al. Ek het die drome en illusies wat my soveel ongelukkigheid en teleurstelling besorg het, opsygesit en die lewe probeer aanvaar soos dit werklik is.”

Hy kyk ondersoekend na haar.

“En is die nuwe, volwasse, onafhanklike Veronica gelukkiger as wat die oue was?” vra hy saggies.

“Ek dink dis ’n baie onbillike vraag,” sê sy na ’n oomblik se aarseling. “As ’n mens jonk is en jy is verlief, het die wêreld ’n glans wat hy later nooit weer kry nie. Die sterre is groter en blinker, die gesang van die voëls klink soeter, jou hart is te klein om al die skoonheid en geluk te dra. Jy besef nie jou geluk is maar van korte duur nie … soos ’n seepbel wat verdwyn die oomblik wat jy daaraan raak nie.”

Sy kyk op na hom en glimlag effens: “Nou weet jy die sterre is nie regtig so groot en blink nie – hulle lyk maar net so. Jy weet daardie glinsterende seepbel is maar net ’n illusie – jy sal een oggend opstaan en uitvind dit het verdwyn.”

Hy skud sy kop beslis.

“Jy mag nie so praat nie! Ons het dit die eerste keer ongelukkig getref, maar dit is geen rede waarom dit nie die tweede keer beter sal gaan nie. Jy weet, ek het baie oor die saak gedink en ek is seker die groot moeilikheid het gekom omdat ons te jonk en onvoorbereid was. Die huwelik is vir volwasse mense, nie vir kinders nie. Ons het mekaar liefgehad, maar toe die storms kom, en die ontnugtering en die teleurstelling, was ons liefde nie sterk genoeg om dit te oorbrug nie. As ons ’n paar jaar gewag het, tot ons albei ryper en verstandiger was, sou dit miskien beter gegaan het.”

Hy kyk na haar en ’n oomblik rus sy blik op die rooibruin hare wat glinster in die sonlig, dan vervolg hy met ’n glimlag: “Ek sê ‘miskien’ … Sekere chemikalieë kan ’n mens nooit bymekaarbring sonder om ’n ontploffing te veroorsaak nie. Net so het sekere mense ’n natuurlike antagonisme vir mekaar – soos olie en vuur. Die oomblik wat jy hulle bymekaarbring, spat die vonke.”

Sy glimlag onwillig. Dan sê sy sober: “As liefde dan nie die maatstaf is nie – hoe kan ’n mens ooit seker weet dat die persoon wat jy kies, die regte een is?”

“Daar is baie dinge wat jy in aanmerking moet neem. Julle moet dieselfde ideale en belangstellings hê. Julle moet van dieselfde dinge hou, dieselfde taal praat …”

“Het ons nie al daardie dinge gehad nie? En nog meer?”

“Miskien het ons. Maar toe het die natuur met sy botsende chemikalieë bygekom. Twee harde stene, sê die spreekwoord, kan nie maal nie. En ons was albei harde stene – die een wou nie vir die ander toegee nie …”

Dis waar, dink sy terwyl sy kyk na die grys misreën wat weer oor die see kom. Twee harde stene. Albei te trots, te koppig, te moedswillig om te erken dat hulle verkeerd is … om ’n hand uit te steek om hulle wankelende geluk te red voor dit stukkend op die grond val.

“Daar is nog iets wat ek graag wil weet – miskien kan jy vir my sê, Emile. Dink jy ’n mens kan ’n tweede keer liefhê – opreg en met volle oorgawe?”

Hy kyk af na die stil, peinsende gesig, sien die weemoedige trek om die mooi, gevoelige mond en hy dink dat sy skielik weer jonk en weerloos lyk … glad nie so seker van haarself as wat sy probeer voorgee nie.

“Ek dink beslis so,” antwoord hy en sy stem is sterk en vol oortuiging. “Die ekstase sal miskien ontbreek, maar dit sal ’n dieper en inniger liefde wees, beter bestand teen die storms van die lewe. Maar dit sal natuurlik ook baie van jouself afhang. As die eerste ervaring jou hard en bitter gemaak het, as jy jou hart doelbewus sluit vir alles wat mooi in die lewe is, moet jy noodwendig die liefde ook uitsluit. Maar as jy besluit om die verlede agter jou te sit, om die toekoms met ’n oop hart tegemoet te gaan en die kennis waarvoor jy so duur betaal het te gebruik, kan jy nie anders as om ’n sukses van die lewe te maak nie. Maar kom, ons sal verder in die motor moet gesels. Hier is die reën.”

Uitasem bereik hulle die motor en ry in die reën tot by Kommetjie, waar hulle tee drink. Nou het hulle die dieper dinge ’n bietjie opsygesit en gesels oor familie en vriende en die meer oppervlakkige gebeurtenisse wat hulle lewens geraak het in die vyf jaar wat verby is. Sy vertel hom dat haar ma weer getroud is en Emile vertel haar dat sy pa se geskiedenisreeks waaraan hy soveel jare gearbei het, uiteindelik voltooi is en tot hulle geheime verbasing dadelik deur die departement aanvaar is. Met die outeurstjeks wat hy gekry het, en nog sal kry, kon hy die skoolhou laat staan en hom voltyds aan sy navorsing wy.

“Dis wonderlike nuus,” sê Veronica. “Ek is bly – ook om jou ma se ontwil.”

So is die lewe, dink sy: dis soos ’n wiel wat draai. Vandag is dié een bo, môre daardie een. Dis maar goed ’n mens weet nie wat die toekoms vir jou inhou nie.

Die rit van Kommetjie na Constantia, in helder sonskyn en met die herfsblou lug in groot kolle sigbaar tussen die wit wolke, is ’n lus vir die oog. Die najaar se goud is op die wingerde en in die valleie en teen die heuwels; ryk, vlamkleurige populiere staan in kontras met die groen van die denne. En altyd in die agtergrond, soos die sagte refrein van ’n geliefde lied, troon die blou berge.

Nou is hulle albei stil, vasgevang in die bekoring van die laat herfsmiddag. Die gesprek daar op die rotse het die lug tussen hulle gesuiwer; sy kon nou stil langs hom sit, sonder spanning of verleentheid.

Constantia in sy herfskleed was ’n onvergeetlike panorama van wisselende tonele. Die wonderlike eikelaan vol helder getinte blare, die denne- en bloekomplantasies met hier en daar die wit spookgestalte van ’n naakte populier, die sierlike wit gewelhuis wat vertel van ’n ryk verlede – elkeen was op sy eie ’n volmaakte prentjie. Hulle het geluister na die lied van die wind in die bome en die res van die wêreld was baie ver weg.

“Hier sal ek tevrede die res van my dae kan bly,” verbreek Emile uiteindelik die gemaklike stilte.

“En die suidooster?” vra sy met ’n glimlaggie, maar hy skud net sy kop.

“Dit tel nie regtig nie.”

In die persblou skemering stap hulle stadig terug na die motor. Die geur van klam akkerblare is om hulle en die weemoedige gekoer van ’n tortelduif klink bo die sagte geruis van die wind. Toe Emile sonder ’n woord haar hand neem en dit deur sy arm trek, laat sy dit daar bly.

“Ek kom nou agter ek is honger,” sê Emile toe hulle by die motor kom. “Ek was vanmiddag so besig, ek het nie tyd gehad om behoorlik te eet nie. Kom ons gaan hoor, miskien kan hulle vir ons hier aandete gee.”

Sonder ’n woord stap sy saam met hom binnetoe. ’n Halfdosyn groepies mense is besig om verversings te geniet en te gesels, verder is die vertrek leeg. In die groot kaggel brand daar ’n tamaai houtvuur en die kamer met sy houtbalke en groot vensters wat uitkyk op die wisselende natuurtonele lyk gesellig en aantreklik. Emile neem haar na ’n tafeltjie digby die vuur waar sy gaan sit terwyl hy die bestuurder soek. Binne ’n paar minute is hy weer terug.

“Dis nie ’n probleem nie. Ons kan selfs ’n glasie wyn kry om ons besig te hou terwyl hulle ons kos maak.”

Terwyl hulle ’n rukkie later die beloofde glasie sjerrie voor die vuur drink, vra Veronica terloops uit oor die werk wat Emile Kaap toe gebring het. Tot haar verbasing en heimlike ontsteltenis ontdek sy dat die besigheid wat sy gedink het ’n paar dae sou duur, in werklikheid ’n groot en belangrike opdrag is en dat hy verwag om nog minstens ses of agt weke in Kaapstad te wees.

“Ek verstaan nie,” sê sy ’n bietjie onthuts. “Waarom moet ’n argitek spesiaal van Pretoria af kom om ’n gebou in Kaapstad te ontwerp? Is hier nie ook argitekte nie?”

Hy verduidelik dat die betrokke firma een van hulle oudste kliënte is vir wie hulle al geboue oor die hele land ontwerp het. Hierdie spesifieke gebou bestaan uit kantore, ’n biblioteek, ’n verversingslokaal en ’n ontspanningskamer vir die personeel, en aangesien hy volkome vryheid met die ontwerp het, is dit ’n wonderlike kans om te wys waartoe hy in staat is.

Veronica luister stilswyend. Sy besef wel deeglik dat dit ’n buitengewone kans vir ’n jong argitek is, maar in haar hart voel sy nie baie gelukkig oor die saak nie. Emile se koms na Kaapstad het reeds die rustige gang van haar dae versteur; die nuus dat hy nog weke lank, miskien maande, hier in die stad sal wees, het die wind uit haar seile geneem. So iets was sy nie te wagte nie.

“Wat makeer, Veronica?” vra hy na ’n rukkie toe haar stilte opvallend word. “Hou jy nie van die gedagte dat ek nog so lank hier in Kaapstad sal wees nie?”

“Waarom sal ek omgee?” vra sy skouerophalend. “Ek het net so ’n gevoel dat jy my opsetlik onder ’n verkeerde indruk gebring het. Waarom anders die haas om jou sake in orde te kry en jou skuld te vereffen – terloops, ek weet nog nie wat die kamtige skuld is wat so swaar op jou gewete rus nie – as jy weet dat daar nog baie tyd is?”

Sy gesig is stil, onleesbaar.

“Ek het jou nie vir een oomblik onder ’n verkeerde indruk probeer bring nie. Ek sal die volgende weke baie besig wees en ek weet nie wanneer ek weer ’n kans sal kry om met jou te gesels nie. Dan kom Leonie – dis die meisie van wie ek jou vertel het – aan die begin van April vir ’n paar weke Kaap toe vir vakansie en ek wil graag die … ander saak afgehandel hê voor sy kom.”

“O!” Haar gesig is rooi van skielike verleentheid. “Ek is jammer. In daardie geval verstaan ek natuurlik jou haas.”

Hy steek sy hand in sy sak en bring ’n koevert te voorskyn waaruit hy ’n tjek haal wat hy vir haar gee. Dit is ’n tjek vir driehonderd rand en is aan haar uitgemaak.

“En dit?” vra sy koud.

“Dis die geld wat jy destyds vir my geleen het – ons meubelgeld – plus vyf jaar se rente. Ek is jammer ek het so lank gewag om dit terug te betaal, maar ek wou graag weer persoonlik vir jou dankie sê. Ek weet nie wat daardie eerste jaar van my sou geword het as ek nie dié geld gehad het om op terug te val nie. Ek voel net baie skuldig as ek dink jy het dit miskien self nodig gehad, maar ek was destyds onder die indruk …”

“Ek het dit nie nodig gehad nie,” val sy hom kortaf in die rede. “En ek wil dit ook nie nou hê nie. Die helfte het in elk geval aan jou behoort.”

“Die meubels was op jou naam en ek het die geld – op jou voorstel – as ’n lening aanvaar. Moet dit asseblief nie nou vir my moeiliker maak as wat dit reeds is nie, Veronica. Die geld kom jou toe. Neem dit en gebruik dit of bêre dit vir jou vakansie oorsee. Jy sal uitvind dat dit baie handig te pas kom.”

Sy kyk besluiteloos na die tjek tussen haar vingers, terwyl sy veg teen die impuls om dit stukkend te skeur en in die vuur te gooi.

“Ek het al van die geld vergeet. Ek wou dit nie weer teruggehad het nie,” sê sy stroef.

“Dit was ’n lening. Anders sou ek dit nooit aanvaar het nie.” Asof hy bewus is van wat in haar gedagtes omgaan, neem hy die tjek tussen haar vingers uit, maak haar handsak oop wat langs haar op die tafel lê en sit dit daarin. “So ja, dis nou afgehandel. En moenie dink jy kan dit by die huis gaan opskeur nie. Ek gaan jou gereeld lastig val tot ek van die bank hoor die tjek is inbetaal.”

“Waarom sal ek dit opskeur?” vra sy onskuldig, asof so ’n gedagte nooit eens by haar opgekom het nie. “Baie dankie, Emile. Ek sal dit definitief bêre vir daardie vakansie oorsee.”

Hy grinnik vlugtig.

“Mooi so! Ek het net benoud begin word. Ek het gedink dit gaan weer op een van ons volbloedrusies uitloop. En ek hoop ons kan die volgende sakie net so vreedsaam besleg as hierdie een.” Sy antwoord nie maar kyk afwagtend na hom en saaklik vervolg hy: “In ons huwelikskontrak het ek, behalwe die meubels, ook nog die som van tweeduisend rand aan jou belowe, betaalbaar indien ek sterf of – soos die geval was – wanneer ons skei. Ek het natuurlik nie destyds die geld gehad nie en ek het ook nie nou die volle bedrag nie, maar ek wil graag ’n ooreenkoms met jou aangaan …”

“Asseblief, Emile,” val sy hom koel en baie beslis in die rede. “Daardie kontrak bestaan nie meer nie – dit was in elk geval maar net ’n belofte wat jy destyds gemaak het omdat my pa daarop aangedring het. As … as daar ’n kind was vir wie ek verantwoordelik was, sou ek miskien nog oorweeg het om die geld, of ’n gedeelte daarvan, te aanvaar. Soos dit is, verdien ek meer as genoeg, nie net met die skoolhou nie, maar ook met my illustreerwerk, om in my eie behoeftes te voorsien en nog iets weg te sit. Ek droom nie daarvan om nog meer geld van jou te neem nie. Jy het geen verpligting teenoor my nie – net so min as wat ek enige verpligting teenoor jou het. Jy is heeltemal vry om ’n nuwe lewe saam met Leonie of enigiemand anders te begin.”

“En as jy nie weer trou nie?”

Sy kyk hom half geamuseerd, half ergerlik aan.

“Dan is dit nog my saak. Asseblief, ek waardeer jou besorgdheid, maar dit laat my ’n bietjie verleë voel. Soos ek gesê het, ek sal seker weer eendag trou. Intussen geniet ek die lewe en maak ek soos ek wil.”

Die kelner met hulle sop maak ’n einde aan die gesprek. Toe hy wegstap, sê Veronica: “Vertel my van jou vriendin. Sy weet natuurlik dat jy …” Sy breek skielik af en kyk na hom. “O, ek haat die woord ‘geskei’,” sê sy met onderdrukte hartstog. “Toe ons jonk was, was ’n geskeide persoon, en veral ’n geskeide vrou, iets uit die bose, en selfs vandag nog is dit of daar ’n soort stigma aan die woord en die persoon kleef.”

“Arme Veronica,” sê hy half spottend, half teer. “Dan is die lewe nie heeltemal so rooskleurig soos jy voorgee nie?”

Daar is ’n skielike knop in haar keel wat sy met die lekker warm ertjiesop probeer wegsluk.

“Vertel my van jou vriendin,” herhaal sy toe sy weer haar stem kan vertrou. “Wat doen sy nog behalwe kantoorwerk?”

“Ek dink ons wag liewer tot sy kom, dan kan jy self oordeel.”

“Nou maak jy my net nuuskierig. Kan jy my nie net ’n leidraad gee nie – anders begin ek later twyfel of sy regtig bestaan.”

Hy haal sy skouers liggies op.

“Jy sal haar miskien ’n bietjie jonk en ongekunsteld vind – nie dat vier-en-twintig so danig jonk is nie, maar sy het heeltemal ’n ander uitkyk op die lewe as die meeste jong meisies van vandag. Sy erken reguit dat sy ’n man en kinders bo ’n loopbaan verkies, dat sy hou van doodgewone dinge soos koskook en kleremaak en huisskoonmaak – al die dinge wat moderne meisies as vervelig en sieldodend beskou. Miskien omdat haar kinderjare nie baie gelukkig was nie – haar ma is dood toe sy nog jonk was en sy het nie ’n baie maklike lewe onder haar stiefma gehad nie – het sy ’n groter behoefte aan sekuriteit en liefde as ander jong meisies wat in gelukkiger omstandighede as sy grootgeword het.”

“’n Model van voortreflikheid,” spot sy saggies. “En jy waag dit om weg te gaan en haar alleen agter te laat?”

Hy glimlag effens.

“Geen kommentaar nie,” sê hy en sy voel meteens of sy die selfvoldane uitdrukking van sy gesig wil vee. Die atmosfeer het ongemerk verander, die gemoedelikheid het verdwyn. Sy voel skielik moeg en bedruk, maar sy dwing haarself om die res van die maaltyd liggies en gemaklik te gesels, bang dat die koel groenbruin oë haar verwarring en bedruktheid sal raaksien en moontlik heeltemal ’n verkeerde verklaring daarvoor sal vind. Sy is baie bly toe die ete ten einde loop en hulle huis toe kan gaan.

Buite is dit stikdonker en ’n koue misreëntjie waai teen hul gesigte aan. ’n Dag van sonskyn en reën, van wisselende stemminge wat mens sowel as natuur betref. ’n Oomblik staan hulle stil langs mekaar terwyl hulle luister na die diep gedreun van die wind in die hoë bome. Dan, sonder ’n woord, klim hulle in die motor en ry byna in stilte die hele ent pad huis toe.

Emile stap saam met haar tot by haar deur, neem die sleutel by haar en sluit die deur vir haar oop, maar sy nooi hom nie binne nie.

“Baie dankie,” sê Emile terwyl hy sy hand na haar uitsteek. “Dit was ’n aangename en interessante dag.” Sy lê haar hand in syne en voel hoe sy vingers warm en vas om hare sluit. “As daar nog spinnerakke was, hoop ek ons gesprekke vandag het gehelp om dit uit die weg te ruim.”

“Dankie. Ek is seker dit het gehelp.” ’n Oomblik is haar blik in syne vasgevang. Dan, met ’n bruuske groet, draai hy om en stap weg.

Die woonstel is koud en stil en leeg. Nog net so netjies en onaangeraak as wat sy dit gelos het. Sy dink aan die werk wat sy wou doen, maar vanaand sien sy nie daarvoor kans nie. Sy het net een begeerte: ’n kokend warm bad en om daarna droomloos te slaap tot die volgende oggend.

Sy haal die tjek wat Emile vroeër die aand vir haar gegee het uit haar handsak en bekyk dit peinsend. Flitse en beelde van die middag en aand wat verby is, herrys voor haar oë – hulle twee daar op die rotse; die wandeling in die skemering met die geruis van die wind in die bome, die geur van klam akkerblare om hulle; sy sterk hande op die stuur van die motor, sy stil, byna streng profiel – en hartseer wel in haar op.

Waarom is sy ongelukkig? Omdat Emile vir haar gesê het hy het ’n ander meisie lief en vir haar geld gegee het om seker te maak sy sal geen verdere aanspraak op hom maak nie? Of sommer net omdat die lewe hard en onverbiddelik is en sy seker die res van haar lewe sal moet boet vir die sondes wat sy begaan het toe sy jonger was?

Vererg gooi sy die tjek eenkant neer. Sy wens die voortreflike Leonie voorspoed toe met haar toekomstige man! Sy sal dit nodig hê. ’n Meer onmoontlike en moedswillige kreatuur as Emile de Klerk het sy nog nie weer teëgekom nie.

Die volgende dag kom Koenraad met die teepouse na haar toe.

“Waar was jy gister die hele middag en aand? Ek het jou verskeie kere gebel, maar daar was geen antwoord nie.”

“Ek is jammer, ek was uit.” ’n Nag se rus het haar gehelp om weer haar ewewig te herwin, om die wêreld weer in sy regte perspektief te sien. “Het jy verlang?” vra sy tergend.

“Ek het,” erken hy sag, en sy voel skielik verleë. “Ons het vroeër teruggekom as wat ons verwag het en ek wou jou nooi om by ons te kom eet.”

“Ek is jammer,” herhaal sy. “Ek was uit saam met Emile de Klerk – daar was iets wat ons moes bespreek. Ek sal jou later vertel.”

“Deesdae wemel die Kaap ook weer van Transvalers,” kla hy half in erns, half in luim. “’n Mens kan jou nie draai nie of jy loop in een vas. In elk geval, ek wou jou vra om een aand dié week saam met my te gaan eet en na ’n fliek of ’n opvoering toe te gaan. My ma se suster het saam met ons gekom om ’n rukkie te kuier en ek wil die kans gebruik om ’n bietjie rond te loop. Ek wil ook graag vir jou die deel van my manuskrip bring wat klaar is sodat jy dit kan lees – ek is nie so gelukkig met die storie nie. Miskien kan jy vir my raad gee.”

’n Skraal jong meisie van omtrent twintig met groot grysblou oë en ligbruin hare kom skamerig nader.

“Ek is jammer om te pla, meneer Louw, maar jy het belowe om pouse vir my daardie eenbedrywe van Fagan te gee.”

Koenraad glimlag vriendelik.

“Dis goed jy het my herinner, Lettie – om die waarheid te sê het dit my heeltemal ontgaan. As jy ’n oomblik hier wag, gaan ek dit dadelik haal.”

Terwyl hulle wag, vra Veronica wat die jong onderwyseres van haar eerste ervaring van skoolhou dink.

“Dit gaan nou baie beter, dankie,” sê Lettie skamerig. “Aan die begin was ek maar groen en baie senuweeagtig, maar almal is so gaaf en vriendelik dat ek al heeltemal tuis voel. Veral meneer Louw het my baie gehelp – ek dink regtig hy is ’n skat – hy is nooit te besig om ’n mens te help of raad te gee nie.”

Veronica kyk vlugtig na die meisie, getref deur die intonasie in haar stem. Die mooi blougrys oë is sag en blink en Veronica dink dat die meisie baie aantrekliker is as wat sy aan die begin gedink het. Sy sal moet oppas, dink sy met ’n tikkie humor, of sy is dalk vir Koenraad ook kwyt.

Sy sal haar tegniek met mans so ’n bietjie moet opskerp of sy sit een van die dae hoog en droog op die rak.

Tryna du Toit-omnibus 9

Подняться наверх