Читать книгу Wie met vuur speel - Деон Мейер - Страница 10

Оглавление

4

“Ek dink ek is verlief,” sê Ragel.

Mignon van der Merwe skud haar kort blonde hare uit haar oë om Ragel beter te kan sien. “Net omdat hy jou nie by die deur vuriglik omhels het nie?” vra sy en val haar kabeljou met mening aan.

Ragel sug. “Ek het jou vir middagete genooi omdat ek raad nodig het . . .”

“Jy sal jou raad kry. Kry eers al die feite op die tafel.” Hulle sit in die buiteluggedeelte van ’n hawerestaurant, omring deur sakemanne in grys snyerspakke.

“Jy het al die feite. Luister, ek is oud genoeg om te weet na watter swak plekke in ’n man se mondering ek moet soek. En Dirk Buchner hét nie een nie.”

“Bog. Hy het net nie een waarvan jy al wéét nie. Hoe kan jy deur ’n waas van hormone en verliefdheid oordeel?”

“Jy is seker reg . . .”

“Moenie so afgehaal lyk nie. Dit beteken net dat jy versigtig moet wees.”

“En van só versigtig wees sal hy sy Porsche vat en ander weivelde gaan soek.”

Mignon lag dat haar wit tande blink in die son. ’n Paar sakemanne kan nie hul oë van haar afhou nie. “Luister, ek kan verstaan hoe jy voel. Dit is die soort man wat dalk net een keer in ’n leeftyd in mens belangstel. Jy kan amper nie waag om hom te verloor nie. Maar dit beteken nie dat jy alle versigtigheid oorboord moet gooi nie.”

“Hoe versigtig moet ’n mens wees met ’n man wat jou op jou voorkop soen? Gewoonlik moet ’n meisie baklei om alleen by haar voordeur in te gaan.”

“Nou wat wou jy gehad het moet hy doen?”

“E . . .”

“Jy is verlief, Ragel Bergh.”

“Jy is heeltemal reg, Mignon van der Merwe.”

“Eet jou kos, Ragel Bergh.”

“Ek is nie honger nie. Ek kan op liefde leef.”

“Die hemel behoede ons.”

“Sê nou net hy bel my nooit weer nie?”

Mignon slaan haar oë op na Tafelberg. “Jy is 28, Ragel Bergh. Die oudste bakvissie in menseheugenis.”

Sewe dae lank hoor sy niks van Dirk Buchner nie. Sy sien hom nie by die gimnasium nie en hy bel haar nie.

In die proses dryf sy feitlik vir Frikkie en Mignon van hul sinne af. In die winkel kan sy nie stilsit nie, en sy dring daarop aan dat Mignon elke aand by haar moet kom kuier, want “die eensaamheid is te veel”. Mignon kyk dikwels op na die berg.

Dan bel hy haar by die winkel. “Ek is vreeslik jammer. Ek was in Johannesburg. Nie eens tyd gehad vir slaap nie.”

Die verligting en verwyte spoel saam-saam deur haar gemoed, maar sy kan nie waag om dit te wys nie. Het hulle nie telefone in Johannesburg nie? “O, haai. Hoe gaan dit?” sê sy.

“Nou weer beter. Wat doen jy vanaand?”

Ragel oorweeg dit vir ’n oomblik om hardekwas te wees, maar dan is die begeerte om hom te sien net te sterk. “Niks besonders nie.”

“Hoe klink La Traviata?”

“Wonderlik.”

Toe Ragel die telefoon neersit en ’n danspassie tussen twee rye boekrakke uitvoer terwyl sy haar weergawe van een van die arias gee, val Frikkie se mond oop. En die frons agter sy bril is swaar en afkeurend.

In die volgende twee weke sien sy hom elke aand. Die dae vlieg verby in ’n waas van afwagting, terwyl sy skaars agterkom dat hulle restaurante, teaters en simfoniekonserte saam besoek. Net om by hom te wees, is vir haar genoeg.

Mignon bel elke dag vir wat sy “die amptelike vryverslag” noem. En elke dag moet sy teleurgesteld hoor dat Dirk nog niks meer as ’n soen teen die voorkop geproduseer het nie.

“Miskien is hy gay,” sê sy gemaak ernstig. Ragel stik in haar koffie. “Net ’n grappie, net ’n grappie,” paai Mignon.

“Dit wys ten minste dat hy nie net om een rede in my belangstel nie.”

“Is daar enige ander rede wat die moeite werd is?”

“Gaan bars, Mignon van der Merwe.”

Op die dertiende dag van sy terugkeer uit Johannesburg nooi hy haar na sy woonstel, ’n luukse tweeslaapkamer in Clifton wat uitkyk oor die see. Hy dis Mozart, Roodeberg en sy eie, heerlike chilli con carne op. En dan soen hy haar vir die eerste keer.

“Nee, niks meer nie,” lui die vryverslag aan Mignon die volgende dag.

“Wel, ons weet darem nou hy is nie gay nie.”

“As jy só gesoen word, sal jy weet.”

“Het jy hom so bietjie aanmoediging gegee?”

“Is jy laf?”

“Ragel, jy is deesdae so fyngevoelig. ’n Mens kan niks meer vir jou sê nie. Dit is tyd dat hy jou hormone stabiliseer.”

“Dit is nie net my hormone nie. Ek is so bang hy dink nie ek is mooi en begeerlik nie.”

“Aaa, eindelik ’n bietjie perspektief.”

“Maar daar is hoop. Ons ry vanaand Houwhoek toe vir die naweek. Oorslaap.”

“In een kamer? So ’n vark!”

“Ek weet nie hoeveel kamers hy bespreek het nie.”

“Maar ek weet jy hoop dis nie baie nie.”

Wanneer Dirk haar die Vrydagmiddag kom haal, is hy stil en gespanne.

Ragel is heeltemal uit die veld geslaan. Die afgelope veertien dae was van die wonderlikste in haar lewe. En deel daarvan was Dirk se warmte, sy totale gebrek aan nukke en buie.

“Is daar iets verkeerd?”

Hy glimlag vir haar, maar die gewone vonkel in sy oë is nie daar nie. “Nee . . .”

Die gesprek tussen hulle wil nie vlot nie. Ragel gee later moed op terwyl die vrees aan haar begin knaag. Het sý iets verkeerd gedoen?

Sy tuur by die Porsche se venster uit na die slierte grys reënvlae, terwyl sy steeds wonder hoe sy Dirk te na kon gekom het. Sy dink aan gisteraand by sy woonstel: die ete wat sy nie genoeg kon komplimenteer nie, die rustige gesels oor ’n glasie jerepigo en later, net voor hy haar huis toe neem, die Groot Soen. Sy bloos effens as sy onthou hoe sy gewens het hy wil haar met meer passie en oorgawe soen.

Dan tref dit haar dat Dirk dalk op sy senuwees kan wees vir die naweek. Kan dit wees? Dirk Buchner? Meneer Selfvertroue?

Ragel se gedagtes word onderbreek wanneer hulle van die snelweg afdraai na die hotel. Die skoonheid van die plek slaan elke keer haar asem weg – die berge wat die hotel omring, die lowergroen fynbos en die gebou, een van die oudstes in die Kaap. Dié naweek gaan ’n sukses wees, kom wat wil, besluit sy.

Hy het aangrensende kamers bespreek. Sy beskou dit as ’n goeie teken.

Tydens aandete is hy steeds stil. Ragel probeer om so opgewek moontlik te wees, om vir Dirk op sy gemak te stel. Dié strategie wil ook nie werk nie, want hy praat al hoe minder. Ná ete sit hulle by een van die hotel se groot kaggels en luister na die stortreën op die sinkdak. Die atmosfeer van die geskiedkundige ou gebou en die ander mense wat gesellig om hulle kuier, is net een te veel vir Ragel. Sy skraap al haar moed bymekaar.

“Dirk, as jy stil wil wees, gun ek jou dit. Maar as dit is omdat ek iets gedoen of gesê het, wil ek daarvan weet.”

Hy lyk skielik skuldig, leun vorentoe en vat haar hand. “Nee, dis nie jy nie.” Hy leun vooroor en rig sy blou oë op haar. Sy sidder nog elke keer dat dit gebeur.

Hy skud sy kop asof hy só van die gevoel wil ontslae raak. “Ek is jammer. Ek is selfsugtig. En ek bring my werk saam huis toe. Dit is onverskoonbaar.”

Die verligting daal oor Ragel neer. Dit is sy werk wat hom so mismoedig maak.

“Wil jy daaroor praat?”

“En jou verveel?”

“Jou wêreld is vir my opwindend en interessant. Dit sal my nooit verveel nie.”

“Dit voel net nie reg om jou met mý probleme te belas nie.”

“Belas? En ek vertel jou elke dag van my duisende probleempies met die winkel, met vitterige versamelaars . . .”

Hy druk haar hand. “Jy is reg. Dit is net dat ek so lank gewoond was om dit vir myself te hou.”

“Jy hoef nie meer nie.”

“Ek weet nie hoekom dié ding my so pla nie. Dit is eintlik glad nie ’n probleem nie. Ek het toevallig so drie weke gelede gehoor van ’n kaal sake-erf wat in Kampsbaai te koop is – see-uitsig, 4 000 vierkante meter. Behoort aan ’n bejaarde Engelsman wat wil teruggaan Brittanje toe. Hy wil ’n realistiese R750 000 daarvoor hê. Maar kopers is nie nou te volop vir sake-erwe in daardie gebied nie.”

Sy sien hoe sy oë weer begin lewe kry terwyl hy praat.

“Ek het so drie jaar gelede vir ’n Duitse hotelgroep ’n wildplaas agter die Magaliesberge gekry wat hulle in ’n luukse kuierplek omskep het. Hulle was baie tevrede met die transaksie. Hul ontwikkelingsdirekteur, Muller, het eergister uit Bonn geskakel. Hy soek ’n perseel in die Kaap waarop hulle ’n superluukse hotel kan ontwikkel. In die omgewing van Kampsbaai.”

Ragel se voorkop trek op ’n plooi. “Ek verstaan nie waaroor jy kla nie. Is die Engelsman se erf dan nie nommerpas nie?”

Hy draai die glas om en om in sy hande. “Dit is juis die probleem. Die erf is perfek. Die regte grootte, die regte ligging. Maar dit is te goedkoop.”

“Te goedkoop?”

“Dit breek my entrepreneurshart om te sien dat die Duitsers bereid is om miljoene vir die regte plek te betaal, maar Cartwright wil net R750 000 hê.”

“Hoekom sê jy nie vir hom hy moet die prys opskuif nie?”

“Die oubaas is al 75 jaar oud. Sy hele familie is in Engeland. Hy sê hy wil nie nog neuk met hoër pryse nie, hy wil net die erf verkoop. Ek moet Maandag vir die Duitsers laat weet. Hulle gaan die grootste winskoop in die geskiedenis van die hotelbedryf bekom. Ek is seker hulle sou tot twintig miljoen betaal het.”

Ragel se oë rek wyk. “Twintig miljoen?”

“Dit is een van die grootste hotelgroepe in die wêreld. Sestien luukse hotels net in Afrika. Die koste om één so ’n hotel vir ’n dag aan die gang te hou, is al meer as R750 000.”

“Sou jy meer uit die transaksie gekry het as die verkoopprys hoër was?”

Dirk lag en skielik is die lewe in sy oë terug. Ragel sien hoe hy ’n sterk hand deur sy dik bos hare stoot, een van sy gewoontes wat sy al so goed ken. Hy praat met al hoe meer geesdrif. “Ek sou. En dit maak my ook hartseer. Maar nie so hartseer soos die feit dat ek die erf self kon gekoop het en aan die Duitsers verkoop het nie. Dit is nie heeltemal hoe ek sake doen nie, maar daar is altyd ’n eerste keer.”

“Nou hoekom doen jy dit nie?”

“Byna elke sent wat ek het, is vas belê vir minstens nog sewe maande. Daar is nie ’n kat se kans dat ek dit betyds kan loskry om die erf te koop nie.”

“Kan jy nie die geld leen nie? Jou vaste belegging kan mos as sekuriteit dien by die bank.”

Dirk sak terug in sy stoel. Sy stem verloor drif. “Ek het so vier jaar gelede ’n bietjie teenspoed gehad. Nee, kom ek wees eerlik, héélwat teenspoed gehad. ’n Makelaarsvriend het my vertel dat twee Taiwannese sakemanne ’n klein genoteerde elektroniese maatskappytjie in Pretoria wil oorneem. Hulle sou dit glo omskep in ’n onderneming van multimiljoene rande wat elektroniese onderdele vir uitvoer vervaardig. Ek was toe nog honger op pad boontoe. En naïef. Ek het elke sent wat ek gehad het, gebruik om aandele in die plek te koop. En ek het nog honderdduisend geleen by die bank, wat in daardie stadium gedink het ek is hulle volgende miljoenêrskliënt.”

Hy maak ’n gelate gebaar, teug aan sy drankie.

“Ek was nie die enigste een nie. Die plek se aandeleprys het oornag gestyg van negentig sent per aandeel na net oor die drie rand. Dit het my onmiddellik ’n miljoenêr gemaak. As ek daardie oggend verkoop het . . .” Hy sug en ’n gesigspier trek asof hy fisieke pyn ervaar.

“Ek was gierig. Dit was nie genoeg om my geld te laat verdriedubbel nie. Ek wou meer hê.” Hy glimlag wrang. “Die ander ook. Ek het hulle nooit geken nie, maar die koerante was vol. Amper tweehonderd beleggers . . . Gierigheid is ’n universele eienskap. Dit behoort nie eksklusief aan die dommes nie. In elk geval, die Taiwannese het dieselfde dag besluit om kop uit te trek. Toe ek die volgende oggend wakker word, was die prys tagtig sent per aandeel. ’n Maand later was die maatskappy bankrot. Ék ook.”

Haar gesig wys haar simpatie.

Hy lig haar hand tot by sy mond en soen dit saggies. “Ek het dit as skoolgeld beskou. Waaraan ek vandag nog afbetaal. Want die bankbestuurder sal my aansoek om ’n lening ewe vriendelik ontvang, my lêer gaan uithaal, dit oopmaak en daardie fronsie tussen sy oë kry wat net motorwerktuigkundiges of bankbestuurders kry wanneer jou motor of geldsake neuk.”

Sy lag. “Jy is baie filosofies daaroor.”

“Ek het lank gelede ’n transaksie vir ’n motormagnaat van Durban gedoen. En toe ons dit met ’n glasie brandewyn en ’n sigaar beklink, het hy vir my gesê die sakeman wat nie bereid is om ’n tweede of derde keer van voor af te begin nie, sal nooit regtig suksesvol wees nie.”

Hy merk dat haar glas leeg is. “Ek sien hulle het KWV Port op die rak. Kan ek vir jou ook kry?”

“Asseblief.” Sy hou hom dop terwyl hy wegstap. Hy beweeg glad. ’n Roofdier. ’n Paar vroue in die vertrek se koppe draai.

Hy’s myne, dink sy en glimlag.

Ragel weet sy is té gou té verlief. Sy weet sy loop die risiko van seerkry. Maar sy gee nie om nie. Om by hom te wees, sy aandag te hê, maak dit alles die moeite werd. Sy leun terug in die diep gemakstoel en staar na die vlamme in die kaggel. Sý sal Dirk se depressie genees, kom wat wil.

Hy kom teruggestap met die twee glasies in sy hande. “Die gode het port uitgevind vir reënerige aande voor die kaggel.”

Sy knik instemmend en neem haar glas. Dirk gaan sit. “Nou ja, waar was ons?”

“ ’n Sakeman moet bereid wees om weer van voor af te begin . . .”

“Dis reg. En ek hét.” Hy neem ’n slukkie. “Nektar. Ja, ek het weer voor begin. Nou aanvaar ek dat net ander mense vinnig ryk word. Ouens soos ek moet werk daarvoor.”

Hy lig sy glas. “Kom ons drink op die ongelooflike winskoop waarmee ek die Duitsers Maandag gaan verras.”

’n Idee skiet deur Ragel se gedagtes, en sy wil lag van pure opwinding. “Ek kan vir jou geld leen,” sê sy triomfantlik.

Hy deursoek haar gesig vir ’n teken dat sy ’n grap maak en lag humorloos. “Ja, en die tandmuis sal seker ook iets bydra.”

“Ek is ernstig,” sê sy half ergerlik.

Hy frons. “Dit lyk my so. Ragel, waar op aarde gaan jy R750 000 vandaan kry? En buitendien, al het jy dit nou uit jou tas gepluk, sal ek dit nooit as te nimmer by jou leen nie. Dit is ’n vaste beginsel . . .”

Sy val hom in die rede. “Jy kan onmiddellik ’n wins van negentien miljoen rand maak. Wat maak dit saak by wie jy die geld leen?”

Skielik glimlag Dirk breed. Hy leun vooroor en praat sag en geduldig, amper soos met ’n kind wat nie ’n eenvoudige stelling wil snap nie: “Ragel, daar is drie dinge hier ter sprake. Die een is die gesondste beginsel in die sakewêreld – leen geld by finansiële instellings. As sake nie uitwerk nie, kan hulle dit bekostig om die verlies te ly. Die tweede is dat ek niks sal doen wat ons verhouding in gevaar kan stel nie. Ek weet ons is albei volwasse mense wat dit soos ’n saketransaksie kan benader, met kontrakte en waarborge, maar jy is vir my meer werd as negentien miljoen rand. En derdens dink ek nie jy besef hoe moeilik dit vir jou gaan wees om R750 000 in die hande te kry nie.”

Ragel ervaar teenstrydige emosies. Haar hart juig dat hy hul verhouding as so kosbaar beskou, maar sy stemtoon en aanname dat sy nie die geld het nie, laat haar bloeddruk styg.

“Ek hét die geld.”

“Hoe bedoel jy?”

“Ek en my broer het elkeen net meer as ’n miljoen geërf ná my pa se dood. Ek het amper R300 000 gebruik vir die winkel en my huis. Die res is alles beleggings.” Ragel probeer hard om nie trots te klink nie.

Dirk fluit saggies. “Ek kuier by ’n skatryk vrou en ek weet dit nie eens nie.”

Ragel glimlag. “Maar ek verstaan jou beginsel. My pa was ook so. Hy wou nie eens geld geleen het by die bank nie, wat nog te sê van vriende.”

Hy leun agteroor. “Daar sal ander transaksies wees. Eendag. Kom ons gaan slaap.”

Ragel kan sien die lig in sy oë het weer verdof. Maar haar hart klop tog vinniger as hulle kamer toe stap. Dirk gaan staan voor haar deur, neem haar gesig in sy hande en soen haar. “Lekker slaap.” Hy sluit haar deur vir haar oop.

“Jy ook.”

Sy maak die deur saggies toe en val dan in frustrasie op haar bed neer. Hoe anders kon dit nie gewees het as Dirk nie met die transaksie geworstel het nie.

Sy hang later haar klere op, sit die lig af en skuif diep onder die komberse in. Haar gedagtes dwaal. Sy weet Dirk se fisieke aantrekkingskrag het baie met haar frustrasie te doen. Maar dit is net een deel daarvan. Hy behoort die soort man te wees wat sake in eie hande neem, optree, die leiding neem. Die omstandighede rondom die transaksie het sy vegtersinstink net te vinnig geblus.

Hoe sal jy weet? Het jy al negentien miljoen rand op een slag verloor? trek sy haar eie oordeel in twyfel. Nee, sy kan hom nie regtig kwalik neem nie. Dit is sy werk, sy lewe wat ter sprake is. En sy moet terugstaan.

Maar Ragel het nog nooit vir enigiets teruggedeins nie. Daar moet ’n oplossing hiervoor wees. Sy moet net dink.

Sy weet nie wanneer sy aan die slaap geraak het nie, maar in die nanag skrik sy wakker met die oplossing. So eenvoudig. So briljant. Haar hand strek na die telefoon om vir Dirk te bel. Sy trek dit terug. “Môre, Dirk Buchner, môre is nog ’n dag,” prewel sy. Dan draai sy om en raak weer aan die slaap.

Wie met vuur speel

Подняться наверх