Читать книгу Wie met vuur speel - Деон Мейер - Страница 14

Оглавление

8

Teen middagete van die volgende dag het Dirk nog nie gebel nie.

Ragel is woedend. Sy gee nie om hóé besig hy is nie. Dit kan tog nie meer as ’n minuut of twee neem om net die telefoon op te tel en te sê ek leef nog en ek is nog lief vir jou, totsiens nie. Hy het nog nie sy liefde teenoor haar erken nie, maar vir mans is dit moeiliker, weet sy. Hy het dit al op subtiele maniere gesê, soos om te praat van sy “aanstaande”. En met sy liggaam en sy oë wanneer hulle liefde maak. Maar dié keer gaan sy kwaai wees.

Dan onthou Ragel sy wil by Van Sitterd hoor of alles goed afgeloop het met die tjek. Sy trek die telefoonboek nader en begin die nommer opsoek. Weer kry sy dit nie. Sy skakel die navraenommer, wat lank lui.

“G’n só ’n firma op die rekenaar nie,” sê die vrou wat uiteindelik antwoord.

“Het jy onder Van Sitterd gekyk? Van Sitterd en Jankowitz?”

Die vrou vervies haar vir Ragel se geïrriteerde stem: “Juffrou, ek het onder Jankowitz én Van Sitterd gekyk. Is jy seker jy weet hoe om dit te spel?”

Ragel se humeur vlam op. “Toe maar, mevrou, ek het nie jou hulp nodig nie,” sê sy met ’n yskoue stem en sit die telefoon neer. Sy staan op, gryp haar handsak en stap by haar kantoor se deur uit. Frikkie is besig om ’n hele klomp boeke aan toeriste van die binneland te verkoop. “Ek gaan my prokureur spreek,” sê sy in die verbyloop. Frikkie staar haar kopskuddend agterna.

Dit is ongeveer nege straatblokke na die Strandgebied-gebou waar Van Sitterd se kantore is. Ragel besluit om te stap.

Haar vasberade treë en swaaiende handsak, haar hare wat liggies in die wind waai en haar gefrons laat sakemanne en smouse langs die pad vir ’n oomblik stilstaan. Maar sy sien niks.

Haar woede is nou gemik teen Dirk-wat-nie-kan-bel-nie en Van Sitterd, wat ten spyte van al sy professionaliteit en regskennis nie weet hoe om sy telefoonnommer aan die publiek beskikbaar te stel nie.

Die deurwag van die gebou herken haar en groet vriendelik, maar Ragel knik net haar kop en stap by die groot glasdeure in. Die liggie wat wys dat die hysbak op pad is, brand reeds. Sy druk die knoppie weer met punktuerende oorgawe.

Tien straatblokke se flinke stap het ’n gloed oor haar gebring wat haar subtiele parfuum sag en geurvol deur die hysbak versprei. Die vyf mans wat saam met haar opry, glimlag onderlangs vir mekaar as hulle dit koppel aan die vrou wat fier en regop in die hemelsblou rok langs hulle staan. Die blos op haar wange, die deinende borste, die hare wat net effens deurmekaar is, maak haar onweerstaanbaar. Maar hulle weet sy is onbereikbaar binne die reëls van die sosiale spel. Daarom kyk hulle net en glimlag, terwyl Ragel na die liggies staar wat die verdiepings aandui.

Op die sewende klim sy uit en stap in die gang af. Sy maak die deur oop waar Van Sitterd se ontvangslokaal is . . . maar die vertrek is dolleeg.

Ragel trek die deur toe en kyk vir ’n oomblik verward rond. Het sy op die verkeerde verdieping uitgeklim?

Dan sien sy die kantore van Goeie Hoop Lewens verder af in die gang. Sy onthou dat dit op dieselfde verdieping as Van Sitterd en Jankowitz was. Dan het sy seker die verkeerde deur oopgemaak. Sy stap onseker die gang af terwyl sy haarself verwyt. As sy meer opgelet het en minder aan meneer Kan-nie-bel-nie se arm gehang het . . .

Die name van ander maatskappye en ondernemings staan op die deure wat uit die gang lei. Dan het sy by die verkeerde verdieping afgeklim. Ragel stap hysbak toe. Tog begin al die nommers op die deure met ’n sewe. Dit moet die sewende verdieping wees.

“Kalm nou,” sê sy ferm vir haarself en maak die deur van Goeie Hoop Lewens oop.

Die ontvangsdame is jonk en spog met ’n krullebol-haredos wat haar kop soos ’n stralekrans omring. “Can I help you?”

Ragel verduidelik.

“Hulle het gistermiddag getrek.”

“Getrek?” sê Ragel verbysterd.

“Ja. Jy weet mos – as jy al jou goed in bokse pak en in ’n lorrie laai.”

Ragel merk nie eens die sarkasme nie. “Waarheen?”

“Hoe sal ék weet? Hulle was maar net drie weke hier, jy weet. Nie genoeg tyd om op speaking terms te kom nie.”

“Drie weke?”

“Dis reg.” Haredos geniet nou haar rol as draer van slegte nuus.

“Is jy seker ons praat van dieselfde mense?”

“Sure. Jankowitz en Van Sitterd. Net die man en die receptionist gesien. Die een met die baie make-up. Hulle was ook nie juis baie op kantoor nie.”

“En jy weet nie waarheen hulle is nie?”

“Ek het net gesien hoe ’n klomp werkers gister die meubels in die hysbak laai. Dit is al wat ek weet. Sorry.”

“Dankie,” sê Ragel oorbluf en stap by die deur uit. Krullebol staar haar agterna en skud haar kop in ’n stortvloed van kartels.

Ragel se humeur vlam behoorlik op as sy die deur waar Van Sitterd gesit het, weer oopstoot en instap. Hoe kon hulle dit doen? Het Dirk geweet hulle gaan na ander kantore trek sonder om vir haar te sê? Sy verwag . . . nee, sy dring aan op beter diens as dié. Sy gaan Van Sitterd die skrobbering van sy lewe gee. Hy moenie dink sy maak nie saak net omdat hy en Dirk groot vriende is nie. Sy staan na die mat en staar, waar ’n paar skuifspelde en die doppie van ’n balpuntpen al getuienis is dat hier voorheen mense was.

“Die opsigter,” sê sy hardop en draai om.

Krullebol gooi haar hare agteroor en rol haar oë as Ragel weer opdaag. “Ek het jou gesê ek weet niks meer nie.”

Ragel ignoreer haar houding. “Waar kry ek die opsigter?”

“Grond. Agter die hysbakke.”

“Dankie.” Sy stoot weer die deur toe en neem die hysbak na die grondverdieping. Sy kry gou die deur waarop staan Opsigter/Caretaker. Sy verwag ’n man, maar as die deur oopgaan, is dit ’n groot, ronde vrou.

Ragel stel haarself voor, verduidelik weer en vertel ook van haar gesprek met Krullebol. Die vrou waggel by die deur uit en staan die hele kosyn vol.

“Maggie Oosthuizen,” sê sy en steek ’n fyn handjie aan die punt van ’n massiewe arm uit. Ragel skud dit vlugtig. “Dit is heeltemal reg. Hulle het gister uitgetrek. Is daar ’n probleem?”

“Nee, ek soek na hulle. Hulle doen werk vir my . . .”

“Ek kry net die papiere.”

Sy verskyn gou met ’n swart boogkniplêer waarin sy begin rondblaai. “Nee, geen toekomstige besigheidsadres nie, net ’n posadres. Posbus 343731, Roggebaai.”

Ragel se verstand sukkel om dié deurmekaarspul te begryp. “Geen toekomstige . . . Ek verstaan nie.” Dan besluit sy om dié ding stukkie vir stukkie te ontrafel. Daar móét ’n eenvoudige verduideliking wees.

“Mevrou, ek is jammer om jou tyd te mors, maar dit is baie belangrik dat ek weet waarheen meneer Van Sitterd is.”

“Dis okay. Kom in, dan gesels ons,” sê Maggie en draai haar logge lyf met moeite in die deur om. Ragel sien dit is nie ’n kantoor nie, maar ’n woonstel. Die meubilering is eenvoudig, maar word oordonder deur die stapels en stapels vrouetydskrifte wat oral in netjiese hopies op rakke en op die vloer lê.

Die vrou laat sak haarself met moeite in ’n leunstoel. Sy sien Ragel kyk na die tydskrifte. “Ek is nie baie besig nie,” bied sy as verduideliking aan.

Ragel gee wat sy hoop ’n simpatieke glimlag is. “Die ontvangsdame van Goeie Hoop Lewens sê Van Sitterd-hulle was net drie weke hier?”

Die groot vrou slaan weer die lêer oop. “Dis reg. Hulle het net ’n kontrak vir drie maande se huur geteken. Ek het gedink dit is snaaks, maar hy het gesê hulle wag net vir hul gebou om klaar opgerig te word. Seker vinnig gebou.”

Ragel slaak ’n sug van verligting. Sy het gewéét daar moet ’n verduideliking wees. “En hulle sê my niks. Maar dit het seker ook maar dol gegaan met die werk en die trekkery.”

“Dol? Nee, hulle het gesit en niks doen van die oggend tot die aand. Ek het nooit kliënte daar gesien nie. Gelukkig het hulle vooruit betaal. Kontant.”

Maar Ragel hoor haar skaars. Die wag vir die ander gebou om voltooi te word, verduidelik baie dinge – ook die telefoonnommer wat nie in die boek is nie. Van Sitterd sou wou wag tot hulle gevestig is. Sy staan op en bedank Maggie Oosthuizen, wat kreunend en steunend uit die stoel opstaan. Ragel groet by die deur. Dan stap sy terug winkel toe en slyp tande vir wanneer Dirk bel. Sy het die reg om te weet as die prokureur wat haar transaksie hanteer, van kantore verwissel.

By die winkel bel sy haar bank. Snyman verseker haar dat hulle die vorige dag die geld onmiddellik na die prokureurs se rekening laat oorplaas het. Sy bedank hom en leun terug in haar stoel. Dít het ten minste reg afgeloop.

Die dag gaan traag verby, sonder taal of tyding van Dirk. Die aand skakel Ragel vir die eerste keer in weke die televisiestel aan. Sy wil nie Mignon bel en haar lot bekla nie. Vriendskap is darem nie om net kontak te maak as jy verveeld of ongelukkig is nie. Haar humeurigheid vir Dirk gaan stelselmatig oor in die wete dat sy ’n lang, ernstige gesprek met hom sal moet hê. Sy verstaan dat ’n man sy werk wil doen sonder dat hy kort-kort hoef te bel, maar daar is darem perke. En wanneer sy R750 000 bestee, het sy die reg om ten volle ingelig te wees.

Sy raak voor die televisie aan die slaap en moet laatnag die trap opstrompel om in haar bed te gaan rondrol.

Die volgende dag is sy tam en die tyd wil maar net nie verbygaan nie. En Dirk wil maar net nie bel nie. Frikkie kan sien sy is omgekrap en speel al haar gunsteling-operamusiek terwyl hy die een beker koffie na die ander aandra.

Teen laatmiddag aanvaar sy dat iets moet voorgeval het. Dalk is daar nie ’n telefoon op die wildplaas nie en hul motor het gebreek. Dirk kon selfs in ’n ongeluk betrokke geraak het. Niemand sal dink om haar te laat weet as hy nie by sy bewussyn is nie . . .

Sy bel vir Mignon net voor sy huis toe gaan.

“O, jy leef nog?”

“Ook maar net-net.” Ragel vertel haar van Dirk se werkverpligtinge.

“Ja-nee, Ragel Bergh, jy kan nie albei kante van jou brood gebotter wil hê nie. Jy het ’n skatryk, suksesvolle, aantreklike man gevang wat boonop ’n tier in die bed is . . .”

“Mignon!”

“Praat ek die waarheid of praat ek nié die waarheid nie? En nou raak jy ongelukkig as Meneer Perfek sy werk moet gaan doen.”

“Jy is reg. Maar hy kan darem wragtig bel . . .”

“Ragel, as mans saam jag, visvang of drink, is die laaste ding waaraan hulle dink die vroutjie by die huis.”

Ragel sug. “Ek is nog nie eens die vroutjie by die huis nie. Ek is veronderstel om nuut en opwindend te wees.”

“Mans redeneer nie so nie. Jy sal sien, hy sal môre druipstert hier aankom met ’n tweedagbaard, ’n skuldige glimlag en daardie ‘kom hier’-trek in sy oë. Ek ken hulle. My pa was so, my broers is so en elke man wat kom vlerksleep, is so.”

Ragel lag. “Jy moet ’n boek skryf.”

“Nie vanaand nie. Wat wil jy doen? By die huis lê en jou bekommer of saam met my gaan fliek?”

“Het jy nie ’n afspraak vir ’n Vrydagaand nie?” vra Ragel gemaak geskok.

“O, ek ís gevra. Maar ek raak te kieskeurig.”

“Wil jy nie by my kom eet nie? Ons kan ’n video kry. Jou keuse. Ek is bang Dirk bel.”

“Ragel Bergh, jy is so verlief dat jy nie reg kan dink nie. Moenie soos ’n moedertjie by die huis sit en wag nie. Laat hy bel en wakker lê omdat hy nie weet waar jy is nie.”

“Nee. Sê nou maar net hy was in ’n ongeluk?”

“Dan kan jy vanaand net so min iets daaraan doen as môreoggend. Dit sal jou goed doen om uit te kom en vir ’n verandering goeie geselskap te geniet.”

“Nogal!”

“Ek kom haal jou so teen agtuur.”

Sy huiwer ’n oomblik. “Goed. Ek sal die winkel se antwoordmasjien by die huis gaan koppel.”

“Bangbroek!”

“Sien jou later.”

Daar is geen boodskap op die masjien toe Ragel laataand inkom nie. Sy rol weer rond en droom deurmekaar drome van ongelukke en Dirk wat saam met eksotiese vroue om ’n kampvuur dans.

Die Saterdagoggend is dit haar beurt om te werk. Dit is ’n reënerige dag en die winkel is stil. Sy mis die gerusstellende teenwoordigheid van Frikkie, wat sy vry naweek gebruik om op die platteland na skaars boeke te gaan soek.

Die telefoon in die winkel lui net twee keer. Elke keer skrik sy en hardloop net om teleurgesteld met eers ’n kliënt en daarna met Mignon te praat.

Mignon nooi haar saam na die opening van ’n kunsgalery op Stellenbosch, maar Ragel wil nie gaan nie. Weer praat Mignon haar om. Wanneer sy eenuur die winkel sluit, besluit sy om ’n boodskap by Dirk se woonstel te gaan laat as hy dalk vandag huis toe sou kom.

In die hysbak herroep sy die vorige keer toe sy en Dirk daarin gery het, en die verlange na hom versprei soos ’n pyn deur haar.

Sy sien Dirk se woonsteldeur staan oop. Hy het seker nou net teruggekom, dink sy, en die verligting gaan onmiddellik oor in woede omdat hy nie gebel het nie.

Toe sy die deur oopstoot en sien die woonstel is dolleeg, is die skok so groot dat sy begin huil.

’n Man steek sy kop verbaas om een van die binnedeure van die woonstel. “Kan ek help?” Hy kom met ’n besem in die hand aangestap.

“Is dit Dirk Buchner se woonstel?”

“Dit wás. Meneer Buchner het Donderdagmiddag sak en pak uitgetrek.”

Dit tref Ragel soos ’n vuishou in die maag. “Donderdag?” Sy snak na haar asem. Dis asof naalde en spelde in haar hande en voete steek.

“Donderdag?” herhaal sy.

“Ja, juffrou. Ek is die opsigter. Hy het die sleutel Donderdag kom teruggee en gesê ek moet net oopsluit as die mense die meubels kom haal. Hy het dit glo gehuur van Cape Interiors. Toe is hy vort. Opbetaal, einde van die kontrak.”

“Waarheen? Het hy . . .?” Maar in haar agterkop ken sy die antwoord.

“Hy het nie gesê nie. Maar hy was haastig. Hy het twee groot tasse gehad. Ek het hom nog help dra tot by die kar.”

Ragel wil sit, maar daar is niks om op te sit nie. Sy wil vlug. Sy wil huil. Sy wil skree. Sy wil iemand se arms om haar hê en ’n stem wat sê dit is net ’n grap, ’n misverstand.

Sy prewel ’n dankie en stap uit. Sy kan later byna niks van die rit na Mignon se blyplek onthou nie. As Mignon die deur oopmaak, huil Ragel onbeheers.

“Ek is in die moeilikheid,” is eers al wat sy kan uitkry. Mignon maak tee terwyl Ragel begin vertel – van die geld, die transaksie en die verdwyning van Van Sitterd en Dirk Buchner. Mignon swets soos ’n veteraan wanneer sy besef wat gebeur het. En sy kry Ragel diep en innig jammer, want sy weet hoeveel pyn daar wag.

Wanneer sy Ragel genoeg gekalmeer het, skakel hulle die polisie. “Dit is beter as julle stasie toe kom,” sê die konstabel op diens.

In die aanklagkantoor doen Mignon die praatwerk. Die konstabel skrik toe hy hoor watter bedrag betrokke is, en vou die bruin lêer toe waarin hy begin skryf het. “Ek dink dit is beter as ek dadelik die speurders kry.”

Hulle sit ’n halfuur lank op die koue, harde houtbankie van die aanklagkantoor voor ’n reus by die deur ingestap kom.

“Naand, kaptein,” groet die konstabel versigtig.

“Naand,” sê die groot man. Hy was duidelik op pad na ’n rugbywedstryd toe. ’n Laphoedjie waarop staan Ek ♥ WP sit op sy agterkop en hy dra ’n blou sitkussing in sy hand. Hy lyk na ’n seerower – deurmekaar rooi hare, woeste vlamrooi baard, ’n litteken wat van bo sy linkeroog loop tot waar dit onder die baard op sy ken verdwyn. Sy neus is krom en plat, soos ’n bokser s’n, en sy nek is kort en dik soos ’n boomstomp. Maar wanneer hy sy hand uitsteek om homself voor te stel, is sy stem sag en rustig.

“Boef Beukes.”

Mignon stel haar en Ragel voor. Beukes lei hulle na ’n kantoortjie agter die aanklagkantoor. Hy het die lêer saamgeneem en lees dit vinnig deur. Dan haal hy ’n skryfblok uit die lessenaar se laai en ’n pen uit sy bosak. Hy kyk simpatiek na Ragel, wat nou en dan snik en net voor haar uitstaar.

“Juffrou Bergh, ek verstaan dat jy . . . baie ontsteld is . . .”

Sy knik.

“Ek sou graag die ondervraging wil uitstel . . .”

“Ek is . . . ek kan vertel.”

“Tyd is kosbaar. Maar ek sal verstaan.”

“Nee. Ons moet aangaan.”

“As jy seker is. Dit is belangrik dat jy alles moet vertel. Alles. Elke klein dingetjie. Laat niks uit nie.”

Sy knik. “Dit het by ’n veiling begin,” sê sy. En sy weet dit gaan seer wees, want sy herleef die eerste ontmoeting, sy oë, sy goue bruin vel, die goue haartjies, die glimlag. Vals, alles vals.

Die pyn is ’n swaar massa in haar. Sy sug diep, haar stem dof en sonder intonasie. Haar woorde vertel die verhaal. Haar gedagtes sê oor en oor hy was nie lief vir haar nie. Hy was binne-in jou, Ragel Bergh. Maar hy was nie lief vir jou nie.

Die eienaardigheid is dat haar trane nie ophou loop nie. Haar stem, haar gesigspiere is onder beheer, maar die vog vloei oor haar wange.

Beukes se groot hand met die rooi sproete beweeg oor die papier. Die pen se krapgeluid is hoorbaar. Mignon sit na die vloer en kyk en huil saggies saam met Ragel.

Beukes hou nou en dan sy hand in die lug om in te haal of ’n vraag te vra. As sy uiteindelik meer as ’n uur later klaar is, tel hy die telefoon op. “Sersant, ek soek ’n vingerafdrukspan oor ’n halfuur by Tuine-stasie. En bel vir Truter, Calitz en Du Preez. Daar is werk.”

Hy sit die telefoon neer en stap om die lessenaar. Hy hurk voor Ragel en sit sy groot hande op haar skouers.

“Juffrou Bergh, dit is ’n vreeslike ding wat met jou gebeur het. Jy was die slagoffer van een van die slinkste kriminele oortredings wat daar is – deur iemand se emosies en vertroue te misbruik vir geldelike gewin. Maar ons gaan nou begin om die saak te ondersoek en ek belowe jou ons gaan dié skuim kry.”

Ragel knik. Sy wil nie dink nie. Sy wil net die pyn verdoof.

Beukes gaan voort. “Die eerste klompie dae ná die misdaad is deurslaggewend. Hulle het ’n voorsprong van twee dae. Jy sal dus moet help. Ek wil hê jy moet saam met ons kom. Kom wys vir ons waar hy gebly het en waar die prokureur se kantoor was. Sien jy kans daarvoor?”

Ragel knik weer. Sy voel leeg. Moeg. Tot die dood toe.

Die res van die ondersoekspan daag in die volgende minute op en Beukes verdeel die pligte. Hy stuur ook ’n span om bankbestuurder Ian Snyman werk toe te neem en te probeer vasstel na wie die geld oorgeplaas is.

Hulle ry eers na die gebou waar Van Sitterd se kantoor was. Die vingerafdrukspan begin die leë kantoor se mure fynkam terwyl Boef Beukes saam met Ragel en Mignon na Maggie Oosthuizen, die opsigter, se woonstel gaan. Beukes vra die vrae en maak aantekeninge. Sy stem is sag, maar die dringendheid waarmee hy die vrae in salvo’s afvuur, laat geen twyfel dat hy so gou moontlik wil maak nie.

Voor hulle vertrek, gee Beukes opdrag aan ’n paar spanlede om van die ander mense wat op dieselfde verdieping werk voor Maandag te probeer opspoor. “Tyd, kêrels. Die tyd loop uit.” Die vingerafdrukspan moet ook die meubels wat Van Sitterd-hulle gehuur het, probeer opspoor en ondersoek.

Dan is dit ’n hele optog na die woonstelblok waar Dirk Buchner gebly het. Die proses word herhaal. Beukes ondervra weer die opsigter terwyl Ragel byderhand is om te help met van die antwoorde. Hy stuur ook twee speurders om van deur tot deur te loop en die ander inwoners van die gebou te ondervra.

Dit is al donker toe Mignon vir Ragel na haar meenthuis neem. “Jy slaap vanaand hier,” sê Mignon beslis.

Ragel knik instemmend maar sonder geesdrif. Sy gaan sit in die sitkamer op ’n stoel en huil. Saggies. Mignon gaan sit op die stoel se leuning en hou haar hand vas. “Daar is niks wat ek kan sê wat jou gaan laat beter voel nie.”

Mignon staan later op en gaan kombuis toe om ’n pot sop aan die kook te kry. Elke keer dat sy by die sitkamer inloer, sit Ragel steeds in dieselfde posisie en huil. Wanneer die sop aan die prut is, gaan hurk sy voor Ragel.

“Ek gaan my huisdokter bel dat hy jou ’n inspuiting kan kom gee – net om te kan slaap. Ek dink dit sal jou goed doen. Jy het ’n groot skok gehad. Wat jy nodig het, is ’n goeie maaltyd en ’n goeie nagrus.”

Ragel stribbel nie teë nie en Mignon skakel die dokter se nommer. Wanneer hy ’n uur later opdaag, vra sy hom om ’n rukkie by Ragel te bly terwyl sy na haar huis ry om slaapklere en ’n klompie toiletbenodigdhede te gaan haal. Ragel slaap al teen die tyd dat sy terugkom.

“Ek het vir haar sop ingeskep, maar sy wou niks eet nie,” sê die dokter. “Sy sal slaap tot môreoggend. Hou haar maar dop. Dit lyk na groot trauma.”

“Dit is,” sê Mignon. “Dit ís.”

Wie met vuur speel

Подняться наверх