Читать книгу Wie met vuur speel - Деон Мейер - Страница 4

Оглавление

Skrywersnota

In die dertien jaar sedert hierdie roman die eerste keer gepubliseer is, het baie gebeur (die internet, selfone, 9/11) en so baie verander (die ontwerp van boekvoorblaaie, leessmaak, ons politieke bestel, die wêreldorde) . . .

Wat ’n mens uiteraard met interessante keuses konfronteer wanneer jy die manuskrip vir ’n nuwe weergawe moet hersien: Dateer jy alles volledig op, van taalgebruik tot by intrige en karakters, om 2007 te weerspiëel? Bly jy absoluut getrou aan die oorspronklike? Of doen jy net ligte restourasie om die ergste krake weg te steek?

Ek moet beken dat dit nie ’n maklike besluit was nie. Wie met vuur speel was my eerste roman. Ek het net meer as ’n dosyn kortverhale gepubliseer gehad toe ek dit aangepak het – en die sprong na die langer formaat het gevoel soos ’n om-die-blok-drawwer wat skielik ’n marathon aanpak: Dit het soms ’n geworstel afgegee. Voeg hierby die feit dat ek in vyf daaropvolgende boeke noodgedwonge heelwat nuwe romanperspektiewe gekry het, en die versoeking was groot om alles van voor af oor te skryf.

Vier faktore het eindelik gesorg dat net die voorplat noemenswaardig verander het: Ten eerste sou dit onmoontlik gewees het om modernisering te beperk – dit is óf alles óf niks, en alles sou in praktiese terme feitlik ’n nuwe boek beteken het. Ten tweede het ek ’n sekere ongemak gehad met die idee van grootskaalse herskryf, so asof ek skaam is vir die oorspronklike. En ek is nie. Dit was die beste wat ek destyds kon doen. Ten derde was daar die wyse raad, arendsoog en ondersteuning van my redakteur, dr. Etienne Bloemhof. En ten laaste – daardie oorspronklike omslag sou vandag om al die verkeerde redes aandag getrek het.

Hier is dus die herdruk, feitlik presies soos dit in 1994 uitgegee is, sonder selfone, die internet of apologie.


Deon Meyer

Melkbosstrand

Julie 2007

Wie met vuur speel

Подняться наверх