Читать книгу Wie met vuur speel - Деон Мейер - Страница 13

Оглавление

7

“Moet ons regtig gaan?” vra Dirk. Hulle sit op ’n bankie in die Tuine. Dirk het ’n mandjie by ’n restaurant laat pak – toebroodjies met ’n verskeidenheid vulsels: gerookte salm, dun skyfies Italiaanse salami, gekerfde koedoebiltong. Daar is ook baba-agurkie-en-tamatieslaai, vier soorte kaasblokkies en ’n bottel yskoue Grand Cru.

“Mignon is my beste vriendin. En ek wil graag spog met jou.”

Hy staar voor hom uit. Ragel het nie dié reaksie verwag nie. ’n Eekhoring kom nader geskarrel en snuif die lug nuuskierig. Ragel haal ’n agurkie uit die plastiekbakkie en bied dit vir die eekhoring aan.

“Moenie die goed voer nie. Hulle is ’n plaag,” sê Dirk. Ragel skrik vir sy onverwagte uitbarsting.

“Ek . . . ek is jammer.” Sy sit die agurkie terug in die bakkie. Die eekhoring kom nader.

Dirk draai skielik na haar en neem haar hand. “Nee, ek is jammer. Dit was heeltemal onnodig.” Sy stem is sag.

Ragel sê niks. Sy is nog verward. Dit is ’n deel van sy persoonlikheid waarvan sy nog min gesien het.

Hy lê sy hand liggies teen haar wang, draai haar kop na hom. “Jammer. My probleem is dat ek bang is om aan jou vriende voorgestel te word.”

“Jy? Bang?”

“Ek is bang ek stel jou teleur. Sê nou maar hulle hou nie van my nie. As Mignon nie van my hou nie, sal jy my weer wil sien? Julle is al só lank vriende. Ek kan nie daarteen baklei nie. Verstaan jy?”

Ragel kry hom skielik baie jammer. “Ek verstaan. Ek het net nooit besef nie. Jy is gewoonlik so selfversekerd.”

“Daar skort niks met my selfvertroue nie. Maar jy weet hoe mense is. Jy en Mignon was gedurig bymekaar. En nou hou ek jou van haar af weg. Dit sal haar uit die staanspoor negatief maak.”

Die eekhoring staan regop voor hulle. “Toe, gee hom die agurkie. Ek was net nukkerig.”

Ragel glimlag en druk sy hand styf in hare. Sy gee ’n agurkie vir die diertjie. “Jy sal van Mignon hou en sy sal van jou hou. Jy sal sien.”

Sy teken dié middag die makelaarsnota met ’n bewende hand.

“Jy weet wat jy doen?” sê-vra Andy Cappriccio, by almal op die effektebeurs bekend as Andy Capp. Hy is ’n middeljarige Italianer, kort en bonkig, met ’n groot, ronde gesig onder ’n bleskop.

“Ek weet wat ek doen, Andy. Die beurs is nou te dood.” Ragel begin die klompie sertifikate een vir een oorhandig, asof sy van elkeen afskeid wil neem.

Andy gooi sy hande in die lug. “Mamma mia, jy behoort beter te weet. As hy afkom, moet hy opgaan.”

“Ek weet. Maar ek het iets wat baie vinniger opgaan.”

Cappriccio gee haar ’n afskrif van sy berekeninge. Hy beduie na die syfers. “Dit is wat jou aandele werd is, dit is wat ek kry en dit is wat jy kry. Reg so?”

“Reg so.”

Cappriccio kyk haar bekommerd aan. “Ragel, dit is baie geld dié. Meer as ’n halfmiljoen rand.”

Sy glimlag trots. “Dit is, nè.”

“En dit pla jou nie?”

“Hoekom moet dit my pla, Andy? Oor ’n week of twee . . . nee, ek mag niks sê nie.”

Hy vou sy hande saam op die lessenaar. “Daar is net twee maniere om geld te maak, Ragel. Werk daarvoor, of erf dit. Vinnig ryk word bestaan nie, ook nie op die aandelebeurs nie. As iemand jou iets anders vertel, lieg hulle.”

Ragel frons. “Andy, ek weet wat ek doen.”

“Okay, okay. Ek en jou pa het jare lank besigheid gedoen. Ek moet na jou kyk.”

“Ek waardeer dit, Andy. Maar ek is al mooi groot.”

Cappriccio haal die tjek uit die lêer en sit dit in ’n koevert. “Mooi en groot, ja. My seun, Gio, hy werk op ’n wynplaas. Ek kan hom aan jou voorstel?”

Dirk skakel wanneer sy al amper reg is om gehaal te word. “Ek is vreeslik jammer. ’n Transaksie het opgeduik in Durban. Ryk Indiër wat vier skaars sportmotors wil verkoop. Ek kan vanaand eerste opsie kry. Ek vlieg oor ’n uur.”

Ragel aanvaar dit gelate. Sy besef sy sal aan Dirk se onvoorspelbare werkslewe gewoond moet raak. Dan onthou sy. “Ek het nie jou telefoonnommer nie. Ek wou jou al ’n duisend keer bel die afgelope paar dae.”

Dirk lag aan die ander kant. “Ek bel jou ook só baie, jy sal skaars kan deurkom.”

Hy gee haar sy huisnommer. “Daar is niemand by die kantoor om boodskappe te neem nie, net ’n masjien. En ek bel jou lank voor ek die ding terugspeel.”

“Gee dit ook maar. Net vir die wis en die onwis.”

“Ragel, dit is onnodig. Sien jou môreaand.”

Hy sit die telefoon neer. Ragel is teleurgesteld. Sy wou hom nog vertel sy kan die tjek ter waarde van R750 000 al die volgende dag uitskryf, sodra sy vorms by die bank geteken het. Maar sy begin al hoe meer besef dat Dirk se werk ’n baie sterk invloed op sy buie en nukke het.

Ragel besluit om alleen vir Mignon te gaan kuier. As sy net met iemand anders oor die transaksie kon praat. Maar as Dirk dit moet uitvind . . .

Die bankbestuurder staan agter sy lessenaar op wanneer Ragel instap. Dit is al weer ’n nuwe een, dink sy. Hulle wissel so baie.

Die man steek sy hand uit. “Ian Snyman. Dit is ’n voorreg om een van ons topkliënte te ontmoet, juffrou Bergh.”

Snyman is ’n man van gemiddelde lengte, in sy laat dertigerjare, met ’n goueraambril en yl swart hare. Terwyl Ragel sy hand skud, wonder sy of almal wat met geld werk, hul hare vroeg verloor. Miskien die bekommernisse. Sy kan daarmee identifiseer.

“Sit gerus. Al die vorms is voorberei. Dit sal net ’n oomblik neem.” Snyman verduidelik aan haar wat die vorms beteken.

“Omdat u so haastig is vir die geld, gaan ons nie ’n verband registreer op u huis nie. Maar hiermee verkry ons sekuriteit. Net vir ingeval. U het gesê die oortrokke gerief is net vir drie maande, nè?”

“As dit só lank gaan wees.”

Hy wys haar waar om te teken. “Juffrou Bergh, met oortrokke geriewe weet ons nie waarvoor u die geld gaan aanwend nie. Verskoon dat ek vra, maar het u kundige raad ingewin oor die hele saak?”

Sy glimlag. Almal is so bekommerd oor haar. As sy ’n man was, sou dit bes moontlik anders gewees het. Maar as sakevrou is sy al daaraan gewoond. Seksuele diskriminasie van ’n ander aard. Sy teken oral waar Snyman se pen vir haar wys.

“Ek het kundige raad. Baie kundig. Ek kan u verseker – my rekening gaan binnekort aansienlik anders lyk.”

Ragel haal Cappriccio se tjek uit haar aktetas. “Ek sal bly wees as u dié tjek onmiddellik in my rekening sal inbetaal.”

Snyman se oë rek as hy die bedrag sien. “Natuurlik, juffrou Bergh, natuurlik.”

Hy maak ’n aantekening op ’n skryfblok. Dan kyk hy op. “As daar enigiets is wat ons vir u kan doen, moet u net praat.”

“Daar is. Ek gaan vandag of môre ’n tjek vir ’n transaksie uitskryf. Ek sal bly wees as u dit so spoedig moontlik sal uitbetaal.”

“Natuurlik.” Snyman hou sy pen gereed. “Gee my net die besonderhede van die transaksie.”

Sy besef dit kan nie kwaad doen om Cartwright se naam te noem nie. “Ek koop eiendom van ’n meneer Cartwright. Die prokureurs sal seker die betaling finaliseer.”

Snyman skryf vinnig en netjies op die skryfblok. “Laat die prokureurs net met my persoonlik skakel wanneer hulle die tjek vir betaling aanbied. Ek sal sorg dat die geld onmiddellik uitbetaal word.”

Ragel staan op. “Meneer Snyman, u diens is onberispelik. Baie dankie.”

Snyman glimlag van oor tot oor. “Net die beste vir ons topkliënte, juffrou Bergh, net die beste.”

Ragel kan die prokureursfirma Jankowitz en Van Sitterd glad nie in die telefoonboek opspoor nie. Sy wil graag die tjek gaan aflewer en die transaksie afhandel. Sodra sy haar hand na die telefoon uitsteek om navrae te skakel, lui dit.

“Bergh Boeke.”

“Haai, dit is ’n berg verlange hier.”

“Dirk! Is jy terug?”

“Nou net gekom. Ek stort net gou, dan kom ek jou haal. Ons het iets om te vier.”

“O?”

“’n Wins van R170 000 op die motortransaksie.”

“Dirk, dis wonderlik. Wat maak ’n mens met so baie geld?”

“Hoor wie vra – ons eie aspirant-multimiljoenêr.”

“Ek was nou net besig om John van Sitterd se nommer in die boek te soek. Alles is gereël. Ek kan nou die tjek uitskryf.”

“Ek dog jy kan dit eers teen Vrydag doen. Hoe het jy dit reggekry?”

“Kredietwaardigheid. En ’n skoon lewe,” lag Ragel.

“Ek wou nog altyd ’n kredietwaardige vrou verlei het. Wat doen jy vanaand?”

“Ek is jammer, maar ek gaan uit met ’n kredietwaardige man wat nou net R170 000 se wins gemaak het.”

“Gelukkige kêrel. Sien jou oor ’n uur of wat.”

“Dirk, wat van die tjek?”

“John-hulle kan nou niks daarmee doen nie, die banke is almal toe. Ek sal jou môreoggend persoonlik na die groot man toe vat vir ’n amptelike oorhandiging. Reg so?”

“Jy is seker reg.”

“Dit is die regte houding. Sien jou netnou.”

Dirk neem haar na ’n raserige Midde-Oosterse restaurant waar ’n danseres tussen die tafels deur wriemel en die kos ’n smaaksensasie is.

Hy vertel die een staaltjie ná die ander oor transaksies wat hy misgeloop het, wat skeefgeloop het, wat groot suksesse was. Hy laat haar skater, maak haar hartseer, laat haar ry op die euforie van sy sukses. Sy besef dat sy die hele dag effens gespanne was oor die transaksie, maar by hom voel sy veilig. Hy is in beheer. Hy sal haar beskerm.

Sy luister met oorgawe, geniet elke storie, adem die atmosfeer van die restaurant in. Daar is ’n hartlikheid en gemaklikheid tussen hulle, en die opwinding van seksuele afwagting. Die danseres met die oordadige bates dans dikwels by hulle verby, maar Dirk ignoreer haar. Sy oë hou Ragel s’n gevange, sy hande streel haar hande, haar arms. Hy is háre. Die danseres kan kyk en sy kan begeer, maar Dirk is Ragel s’n.

Wanneer hulle uitgaan, is dit bergwind-warm.

“Dit is ’n ongelooflike aand. Sal ons nie bo teen die berg gaan ry nie?” vra hy.

“Neem my na jou huis toe,” sê Ragel. Hulle het byna drie bottels wyn saam met die ete gehad – genoeg om die skerp hoeke van alles te verrond. En ’n vuur in haar buik aan te steek.

“Voel jy ook só?”

“Ongetwyfeld.”

Op pad kan sy skaars haar hande van hom afhou. Hy lag en keer en oortree elke denkbare verkeersreël in sy haas.

Hulle is alleen in die hysbak. Hy gooi die rok se skouers liggies af en neem haar vol borste in sy hande. Ragel beur haar kop agteroor en kreun. Hy soen haar.

As die deure oopgaan, het hy al weer sy baadjie om haar. Hulle strompel tot by die deur. Hy tel haar op, skop die deur agter hom toe en dra haar deur na die balkon wat uitkyk oor liggies en die see. Hy gooi die baadjie af op die groot sonstoel. Ragel gryp hande vol van sy hare en dwing sy kop weer na haar. Haar vingers strengel in sy hare, in sy hemp se knope. Sy voel sy warm mond op haar tepels; dan gly sy tong af na haar naeltjie en sy hande trek haar klere ongeduldig saam af grond toe.

Sy beur sy hemp van sy rug af, haar hande gryp die spiere van sy skouers, sy rug terwyl hy haar byna hardhandig optel en op die sonstoel neersit. Sy mond is op haar bene, warm oor die sagte vleis. Sy voel hoe haar eie hitte haar verswelg. Sy tong terg haar, laat haar klein kreungeluidjies van frustrasie en plesier maak. Dan kan sy dit nie meer hou nie.

“Asseblief. Asseblief.”

Hy is skielik weg van haar af. Sy maak haar oë oop. Hy het die laaste van sy klere uitgetrek en staan voor haar, ’n goue man, perfek afgeëts teen die stadsligte, sy oë vol triomf, sy mond wat effens glimlag, sy passie vir haar onmiskenbaar.

“Kom,” sê sy hees.

Hy sak liggies op haar neer, sy gesig teen hare, sy oë op hare. Haar hele liggaam, elke vesel, smag na hom. Sy weet hy weet dit. Maar sy gee nie om nie.

Dan is hy in haar.

Ragel se kreun kom van diep binne. “Ek het jou lief,” sê sy. “Ek het jou lief.” Dit word ’n ritme, ’n refrein, ’n reëlmatige rukwind. “Lief. Lief. Lief. Lief . . .”

John van Sitterd neem haar tjek. “Sewehonderd-en-vyftigduisend rand. It’s a lot of money,” fluit hy deur sy tande. “But not to worry. Ons gaan dit dadelik in ons trustfonds inbetaal.”

Dirk sit langs Ragel. Hy hou haar hand styf vas. “Jy verstaan nou presies wat gaan gebeur?” vra hy en Ragel wonder hoekom sy stem altyd so sag en rustig is ná ’n nag saam.

“Ek dink so,” sê sy en kyk in sy oë. Hulle moes vroeg opstaan om halfnege by Van Sitterd te wees. Die betowering van hul liefde hang nog soos ’n gordyn om haar.

Van Sitterd sug teatraal. “Oh, these love birds. Ragel, die tjek is aan ons uitgemaak omdat dit eers in die trustfonds ingaan tot die oordrag plaasvind. Al die dokumente is gereed, ons dien vandag in by die Aktekantoor. In the meantime kry jy die rente op jou geld. So, jy kan nie verloor nie. Jy moet nou net jou bank bel en vir hulle sê daarvan.”

“Ek het al.” Sy kyk af na Dirk se hande en onthou hul sagte dringendheid op haar borste.

“But they have to let the transaction go through today. Ons kan nie oordrag laat plaasvind voor die geld nie oorbetaal is nie.” Hy skree deur se kant toe. “Carol, bring vir my die kwitansieboek, asseblief!”

Dan skrik Dirk wakker. “John, Otto Muller van Intercontinental gaan vandag ’n kontrak faks wat julle vir Ragel moet deurgaan. Hulle bied haar ’n tweemiljoen-kansellasieklousule waarna jy veral moet kyk.”

Van Sitterd fluit weer deur sy tande en glimlag vir Ragel. “Quite a businesswoman, hey?”

Dirk gaan voort. “Muller kom aanstaande week aan vir ondertekening. Dan moet alles gereed wees.”

“No problem, no problem. Wat van nog koffie?”

Dirk trek die Porsche in ’n parkeerplek voor die boekwinkel. “Ek vlieg net voor middagete Windhoek toe.”

Ragel is diep teleurgesteld. “Dirk, jy kon my gewaarsku het. Wanneer kom jy terug?”

“Hopelik môre, dalk eers oormôre.”

“Oormôre? Ek gaan saam.”

Hy sit sy hand liggies teen haar wang. Sy stem is sag. “Jy weet hoe graag ek jou sou wou saamneem. Maar ek mag nie sake en plesier meng nie. En jy sal my nie sien nie. Ek is agter ’n wildplaas wat te koop is en gaan rondjaag vir die vale.”

Ragel pruil haar mond. “Ek verstaan. Sal jy bel?”

“Soveel moontlik.”

Hy soen haar lank en innig. Sy kom op vir asem. “Dirk Buchner, as jy nie nou jou sportmotortjie vat en ry nie, gaan hulle ons vir openbare onsedelikheid arresteer.”

Hy lag. Sy soen hom vinnig en klim uit. “Maak gou.”

“Ek belowe. Onthou om die bank te bel,” sê hy en flits ’n glimlag. Die spierwit tande, die blou oë, die kuiltjies in sy wange. Dan trek hy weg en laat Ragel op die sypaadjie agter. Sy waai tot hy bo by die Turkse badhuis om die hoek verdwyn. Sy doen haar bes om die glimlag op haar gesig weg te steek wanneer sy die winkel ingaan. Maar sy weet Frikkie voel beter ná hul gesprek. Mozart se een-en-twintigste sprinkel sy fyn note oor die rye en rye boeke uit.

Wie met vuur speel

Подняться наверх