Читать книгу Infanta - Деон Мейер - Страница 13

10

Оглавление

“My naam is Bennie Griessel en ek is ’n alkoholis.”

“Hallo, Bennie,” sê die twee en dertig stemme in ’n blymoedige koor.

“Ek het gisteraand ’n bottel Jack Daniel’s uitgesuip en my vrou geslaan. Sy het my vanoggend uit die huis uit gesit. Ek is nou een dag sonder drank. Ek is hier omdat ek nie my drinkery kan beheer nie. Ek is hier omdat ek my vrou en my kinders en my lewe wil terughê.” Terwyl hy die desperate vasberadenheid in sy eie stem hoor, begin iemand hande klap en dan dawer dit in die afgeleefde kerksaaltjie.

* * *

Hy talm in die donker buite die langwerpige, verbeeldinglose struktuur, neem ’n instinktiewe inventaris van uitgange, vensters en die afstand tot by sy bakkie. Die Yellow Rose moes ’n plaasopstal gewees het, ’n kleinboer se woning uit die vyftigs, voor die Khayelitsha-gety se hoogwatermerk hier verbygestoot het.

Onder die nok van die dak is ’n neonlig met die naam en ’n heldergeel roos. Rap-musiek klop binne, ’n vinnige, ontstemde hart. Daar is nie gordyne voor die vensters nie. Die lig breek uit en maak lang bane oor die parkeerterrein, ’n vrolike vuurtoring op ’n verraderlike swart rif.

Binne sit hulle dig getros om goedkoop tafels. Hy sien ’n paar Europese toeriste, die geforseerde gemoedelikheid van skrikkerige mense, soos sendelinge in ’n stat van kannibale. Hy vleg deur en sien daar is twee, drie sitplekke oop by die dennehout-kroegtoonbank. Twee jong swart kroegmanne spook daaragter om bestellings te vul. Kelnerinne gly behendig tot by hulle, elkeen met ’n geel plastiekroos flappend bo hul borste vasgesteek aan die dun wit T-hempmateriaal.

“What’s your pleasure, big dog?” vra die kroegman wat hom kom bedien in ’n vae Amerikaanse aksent. Biehg dawg.

“Het jy Windhoek?” vra hy in sy eie taal.

“Lager or Light, my friend?”

“Is jy ’n Xhosa?”

“Yes.”

Hy wil sê: “Dan praat jy met my in Xhosa,” maar hy hou hom in, want hy het inligting nodig.

“Lager, asseblief.”

Die drank en ’n glas verskyn voor hom. “Elf rand tagtig.”

Elf rand tagtig? Monomotapa gevind. Hy gee vyftien. “Hou die kleingeld.”

Hy tel die glas op en drink.

* * *

“Ek hoop julle klap nog hande as ek klaar is,” sê Griessel wanneer die ovasie bedaar. “Want ek gaan vanaand sê wat ek al in 1996 moes gesê het. En julle gaan nie noodwendig daarvan hou nie.” Hy kyk na Vera, die bruin vrou in die voorsitterstoel met die simpatieke glimlag. Die see van koppe is na hom gedraai, elke gesig ’n eggo van Vera se onvoorwaardelike ondersteuning, en hy voel die ongemak wat hom wil oorrompel.

“Ek het twee probleme met die AA.” Sy stem vul die vertrek, asof net hy daar is. “Een is dat ek voel ek pas nie hier nie. Want ek drink nie uit swakheid nie. Ek drink omdat ek moet. Ek is ’n poliesman. Moord is my spesialiteitsgebied. Elke dag.” Sy vingers het die leuning van die blou plastiekstoel voor hom beet. Hy sien sy wit kneukels en dan kyk hy op na Vera, want hy weet nie waar anders om te kyk nie. “En ek suip, want dit maak die stemme stil.”

Vera knik, asof sy verstaan. Hy soek ’n ander fokuspunt. Daar is plakkate teen die muur.

“Ons skree wanneer ons doodgaan,” sê hy, stadig en sag, want hy moet dit reg uitkry. “Ons hou almal vas aan die lewe. Ons hou verskriklik styf vas en wanneer iemand ons vingers losmaak, dan val ons.” Hy sien sy hande hier voor hom beduie, twee verbete kloue wat oopgaan. “Dit is dán wanneer ons skree. Wanneer ons weet dit sal nie meer help om te gryp nie, ons val te vinnig.”

Die mishoring by Mouillepunt weeklaag ver en diep. Hier in die kerksaal is dit stil. Hy haal diep asem en kyk vir hulle. Daar is nou ongemaklikheid, die blymoedigheid het versteen.

“Ek hoor dit, ek kan dit nie help nie. Ek hoor dit as ek inloop, as hulle daar lê. Die skree hang daar – dit wag dat iemand dit moet hoor. En as jy dit hoor, dan kom dit in jou kop in en dit bly daar.”

Iemand hoes senuagtig hier links van hom.

“Dit is ’n verskriklike geluid,” sê hy en kyk na hulle, want nou wil hy die ondersteuning sien. Hulle vermy sy oë.

“Ek het nog altyd stilgebly daaroor,” sê hy. Vera beweeg, asof sy iets wil sê. Sy moenie nou praat nie. “Want mense sal dink ek is nie lekker hier bo nie. Júlle dink dit. Nou. Maar as ek mal was, sou die drank nie gehelp het nie. Dit sou dit erger gemaak het. Die drank help. Dit help as ek by ’n moordtoneel inloop. Dit help dat ek deur die dag kom. Dit help as ek huis toe gaan en ek sien my vrou en my kinders en ek hoor hulle lag, maar ek weet daardie skree lê binne-in húlle ook. Ek weet dit wag daar en eendag sal dit uitkom en ek is bang dat ék die een sal wees wat dit hoor.”

Hy skud sy kop. “Dit sal vir my te erg wees.”

Hy kyk af na die vloer en fluister: “En die ding wat my die bangste maak, is dat ek weet daardie skree is hier binne-in mý.”

Hy kyk op in Vera se oë. “Ek drink, want dit vat dáárdie vrees ook weg.”

* * *

“Wanneer laas was John Khoza hier?” vra Tobela vir die kroegman.

“Who?”

“John Khoza.”

“Yo, man, there are so many dawgs coming in here.”

Hy sug en haal ’n vyftigrandnoot uit, skuif dit met sy palm oor die toonbank.

“Probeer onthou.”

Die noot verdwyn. “Sort of thin dude with bad skin?”

“Dis hy.”

“He mostly talks to the Boss Man – you’ll have to ask him.”

“Wanneer laas het hy met die Boss Man kom praat?”

“I work shifts, man, I’m not here all the time. Haven’t seen John-dawg for ages.” En dan is hy weg, om iemand anders te bedien.

Hy sluk nog bier, die bitter smaak oud-bekend, die musiek te hard, die basnote wat in sy borskas vibreer. Oorkant teen die venster is ’n tafel van sewe. Uitbundige gelag. ’n Gespierde bruin man staan op ’n stoel, ingewikkelde tatoeëermerke op sy arms. Hy sluk ’n groot beker weg, skree dan iets, die woorde verlore, en die leë beker word omhoog gehou.

Dis te leeg vir hom, te hol, te kunsmatig, dié vrolikheid. Dit was nog altyd, ná Kazakstan, maar dit is lank gelede. Honderd en twintig swart broeders in ’n Russiese opleidingskamp wat saans gedrink en gesing en gelag en verlang het, moeg tot op die been. Kamerade, krygers.

Die kroegman kom weer verby.

“Waar kry ek die Boss Man?”

“It can be arranged.” Hy staan daar, wagtend, sonder om ’n oog te knip.

Hy haal nog ’n vyftig uit. Die kroegman beweeg nie. Nog een. ’n Palm swiep die geld weg.

“Gimme a minute.”

* * *

“Die tweede probleem is in die Twaalf Stappe. Ek ken dit uit my kop uit en ek verstaan as dit vir ander mense werk. Stap Een is maklik, want die f … die Vader weet, my lewe is buite beheer, die drank het oorgeneem. Stap Twee sê ’n Mag groter as onsself kan ons heelmaak. Stap Drie sê gee net ons wil en ons lewe aan Hom.”

“Amen,” sê ’n paar van hulle.

“Die probleem is,” sê hy met soveel apologie as wat hy in sy stem kan sit, “ek dink nie daar ís so ’n Mag nie. Nie in hiérdie stad nie.”

Selfs Vera vermy sy blik. Hy staan ’n oomblik nog in die stilte. Dan sug hy. “Dit is al wat ek kan sê.” Hy gaan sit.

* * *

Aan die einde van sy tweede bier sien hy die Boss Man deur die vertrek aangestap kom, ’n vet swart man met ’n kaalgeskeerde kop, ’n goue ring aan elke vinger. Hy talm hier en daar by ’n tafel, sê-skree iets vir die gaste – van die kroegtoonbank af is die woorde onhoorbaar in die rumoer – tot hy eindelik hier by Tobela kom staan. Daar is fyn sweetdruppels op die gesig, asof die tog inspannend was. Juweliersware skitter toe hy sy regterhand uitreik.

“Ken ek jou?” Sy stem is verrassend hoog en vroulik, die ogies klein en wakker. “Madison Madikiza, hulle noem my Boss Man.”

“Tiny,” gebruik hy ’n bynaam uit die verlede.

“Tiny. Dan is my naam seker Maergat,” sê die Boss Man. Sy lag is ’n aansteeklike giggel wat sy oë laat toeval en sy hele lyf laat skud toe hy dit na ’n kroegstoel oplig. ’n Lang glas verskyn voor hom, die inhoud helder soos water.

“Gesondheid.” Hy drink diep en vee sy mond met sy mou af, swaai ’n wysvinger op en af in Tobela se rigting. “Ek ken vir jou.”

“Ek …” Sy hartklop versnel, hy fokus sterker op die gelaatstrekke. Hy wil nie onkant betrap word nie. Herkenning beteken moeilikheid. Dit beteken konnotasies, ’n spoor met ’n begin en ’n einde.

“Nee, moenie sê nie, ek sal nou onthou. Gee my net ’n minuut.” Die ogies wat oor hom dans, ’n frons keep lank oor die kaal kop. “Tiny … Tiny … Was jy … Nee, dit was ’n ander ou.”

“Ek dink nie …”

“Nee wag, ek moet jou net plaas. Hel, ek vergeet nie ’n gesig nie. Sê my net, wat is jou lyn?”

“Dit en dat,” sê hy versigtig.

Dan klap die vingers. “Orlando Arendse,” sê die Boss Man. “Jy het shotgun gery vir Orlando.”

Verligting. “Dis lank gelede.”

“Geheue soos ’n olifant, my vriend. ’98, ’97, daar rond, toe werk ek nog vir Shakes Senzeni, God rest his soul. Hy’t ’n chop shop in Gugs gehad, ek was sy voorman. Toe vra Orlando ’n sit-down oor gebiedsafbakening, onthou jy? Groot vergadering in Stikland en jy het langs Orlando gesit. Shakes het nog agterna gesê dit was slim, ons kon nie Xhosa gooi onder mekaar nie. Fok, my vriend, small world, ek hoor Orlando is afgetree, die Nigeriërs het die drug trade oorgevat.”

“Ek het Orlando twee, drie jaar laas gesien.” Hy kan die geleentheid onthou, maar nie die man voor hom nie. En iets anders, ’n gewaarwording van moontlikhede – as hy by Orlando gebly het, waar sou hy nou gewees het?

“Wat doen jy nou?”

Hy kan by sy dekmantel hou, nou met meer geloofwaardigheid. “Ek’s vryskut, sit jobs bymekaar …” Wat sou hy gedoen het as Orlando afgetree het? ’n Nagklubeienaar geword het? Iewers op die periferie van die wet ’n ding bedryf het? Hoe naby aan ’n potensiële waarheid is die storie wat hy nou fabriseer?

“’n Broker?”

“’n Broker.” Daar was seker ’n tyd dat dit moontlik sou wees, dat dit die waarheid sou kon wees. Maar dit lê in die verlede. Wat lê voor hom? Waarheen gaan hy?

“En jy het iets vir Johnny Khoza?”

“Miskien.”

Uitroepe klink bo die musiek uit en hulle kyk om. Die fris bruin man dans nou op ’n tafel, sy hemp uit. ’n Getatoeëerde draak spoeg verbleikte rooi vuur op sy bors terwyl sy aanhangers hom aanmoedig.

Boss Man Madikiza skud sy kop. “Daar kom kak,” sê hy en draai terug na Tobela. “Ek dink nie Johnny is beskikbaar nie, my vriend. Ek hoor hy hardloop, hulle het hom in die Ciskei gevang vir AR en manslag. Hy’t ’n service station gedoen – Johnny het nog nooit groot gedink nie. En toe die hofsaak verkeerd fok, toe kos dit hom vet geld om ’n sleutel te kry, as jy verstaan wat ek bedoel. Ek weet nie waar hy is nie, maar hy is definitief nie in die Kaap nie. Anders sou hy lankal hier ingesluip het. In elk geval, ek het beter talent as hy op my boeke – sê my net wat jy nodig het.”

Dit is die eerste keer dat hy die moontlikheid sien dat hy hulle nié gaan kry nie. Dat die soektog nutteloos is, dat hulle iewers in ’n gat ingekruip het waar hy hulle nie kan uitkry nie. Die frustrasie kom hang aan hom, maak hom swaar, magteloos. “Die ding is,” sê hy, maar hy weet al dit gaan nie werk nie, “Khoza het inligting oor die moontlike job. ’n Kontak aan die binnekant. Is daar niemand wat sal weet waar hy is nie?”

“Hy’t ’n broer … Ek weet nie waar nie.”

“Niemand anders nie?” Waarheen? As hy nie vir Khoza en Ramphele kan kry nie? Waarheen? Hy skud dit met moeite af, konsentreer op wat die Boss Man sê.

“Ek ken hom nie só goed nie. Johnny is small-time, een van baie wat hier inkom. Hulle is almal dieselfde – kom hier in met groot attitude, gooi hul geldjies rond voor die girls soos major gangstas, maar hulle doen service stations. No class. As Johnny vir jou sê hy’t ’n kontak aan die binnekant vir ’n serious score, moet jy maar versigtig wees.”

“Ek sal.” Die plaas is nie ’n opsie nie. Hy kan nie terug nie, nie met dié frustrasie in hom nie, dit sal hom van sy sinne dryf. Wat gaan hy doen?

“Waar kan ek jou kontak? As ek iets hoor?”

“Ek sal weer kom.”

Die Boss Man se ogies vernou. “Jy vertrou my nie?”

“Ek vertrou niémand nie.”

Die laggie borrel op, sjampanje uit ’n vaatjie, en ’n pofferhand klop hom op die skouer. “Goed gesê, my vriend …”

’n Slag klink op bo die desibels van die musiek. Die dansende draak se tafel breek onder hom en hy val aanskoulik, tot groot vermaak van die groep. Hy bly op die vloer lê, sy drankglas triomfantelik bo hom.

“Fok,” sê die Boss Man en staan uit die stoel uit op. “Ek het geweet dit gaan handuit ruk.”

Die bruin man staan stadig op en beduie ’n verskoning in Madikiza se rigting. Hy knik terug, sy glimlag styf.

“Hy gaan vir die tafel betaal, die gemors.” Hy draai na Tobela. “Weet jy wie dit is?”

“Geen idee nie.”

“Enver Davids. Hy’t gister weggeloop van ’n baby rape charge. Op ’n tegniese punt. Fokken polisie het die lêer verloor, kan jy dit glo – ’n genuine administratiewe fokop, jy koop jou nie uit daardie een uit nie. Hy’s slegter nuus as die Financial Mail. Generaal van die Twentysevens. Hy’t Aids in die tronk gekry by ’n wyfie, meer cell time as Vodacom, en toe parool hulle hom en hy gaan verkrag ’n baba, want dit sal sy Aids gesond maak … En nou kom suip hy hier, want sy eie mense sal hom halssnoer, die fokken sleg moer.”

“Enver Davids,” sê Tobela langsaam.

“Fokken sleg moer,” sê die Boss Man weer, maar Tobela hoor dit skaars. Want hy dink hy verstaan iets, hy sien iets.

* * *

Sy hande bewe op die stuurwiel, ’n lewe van hul eie. Hy kry koud in die warm somernag en hy weet dit is die onttrekking. Hy weet dit is die begin – dit gaan ’n verskriklike nag wees in die woonstel van Josephine Mary McAllister.

Hy steek sy hand na die radio uit, kry die knoppie met moeite, druk dit. Musiek. Hy hou dit sag. Seepunt se strate leef dié tyd van die aand. Motors en voetgangers, mense op pad iewers heen, doelgerig. Behalwe hy.

Hulle het hom omsingel toe almal klaar was. Hulle het om hom kom staan, hulle het aan hom gevat, asof hulle iets deur hul hande aan hom wou oordra. Krag. Of geloof? Gesigte, te veel gesigte. Sommige het stories vertel, in die jaarringe om die oë, om die mond. Hartverskeurende stories. Ander was soos maskers wat geheime wegsteek. Maar die oë, al die oë was dieselfde – gloeiend, besete met ’n wilskrag, soos iemand wat in die stormwater aan ’n dun, groen loot vasklou. Hy sal sien, het hulle gesê. Hy sal sien. Wat hy gesien het, is dat hy deel was van die Klub van die Laaste Kans. Hy het dieselfde desperaatheid gevoel, dieselfde meesleurende stroom.

Die bewing trek deur hom soos koors. Hy hoor hul stemme, en draai die radio harder. ’n Ritme vul die voertuig. Nog harder. Rock, Afrikaans, hy probeer die woorde vang.

Ek wil huis toe gaan na Mamma toe,

Ek wil huis toe gaan na Mamma toe.

Te veel sintetiseerder, dink hy, nie heeltemal reg nie, maar goed.

Die rivier is vol, my trane rol.

Hy hou voor die woonstelblok stil, maar hy klim nie uit nie. Hy laat sy vingers langs ’n denkbeeldige baskitaar se nek afstap – dís wat nodig is, meer bas. Here, om weer ’n baskitaar vas te hou, die ledemaat wat bewend ruk op sy eie tempo. Hy wil lag daarvoor, hard en uitbundig.

’n Bokkie wat vanaand by my wil lê …

Heimwee. Waar is die dae, waar is die twee-en-twintigjarige fokkertjie wat in die Polisie se dansorkes ’n baskitaar se strot kon druk dat die mure bewe?

Sy kan maar lê, ek is ’n loslappie.

Emosie. Sy oë wat brand. Nee, fok, hy is nie ’n tjanker nie. Hy stamp die radio af en die deur oop en klim haastig uit, sodat hy kan wegkom van dié plek af.

Infanta

Подняться наверх