Читать книгу Infanta - Деон Мейер - Страница 4

1

Оглавление

Net voor die leraar die bokant van die kartonboks oopvou, staan die wêreld vir ’n oomblik stil en sy sien alles met ’n groter helderheid: Die forse man in sy middeljare met die diamant-geboortemerkie op sy wangbeen, soos ’n misvormde, ligroos traan. Sy gesig is hoekig en sterk, sy hare yl en agtertoe gekam, sy hande massief, ru, soos dié van ’n ou bokser. Die boekrak agter hom dek die hele muur in ’n mosaïek van afwisselende rugkantkleure. Die Vrystaatse laatmiddagson gooi ’n ligskag op die lessenaarblad, ’n magiese kollig op die boks.

Sy druk haar palms liggies teen die koelte van haar kaal knieë. Haar hande sweet, haar oë soek betekenis in die fynste verandering op sy gelaat, maar daar is net kalmte, dalk onderdrukte, goedige nuuskierigheid oor die inhoud van die karton. In die oomblikke voor hy die panele van die deksel lig, probeer sy om haarself te sien soos hy haar sien – ’n evaluasie van die indruk wat sy wil skep. Die dorp se winkels het niks opgelewer nie, sy moes gebruik wat sy het: Haar hare lank en reguit en skoon, die bloes veelkleurig, mouloos, dalk net te styf vir hier, vir hom? ’n Wit romp wat nou, soos sy sit, tot net bokant haar knieë opgeskuif het. Haar bene glad en mooi. Wit sandale aan haar voete. Klein goue gespes. Haar toonnaels ongeverf, daarvan het sy seker gemaak. Net ’n enkele ring, ’n dun goue band aan haar regterhand. Haar grimering lig, ’n noukeurige onderbeklemtoning van die volheid van haar mond.

Niks wat haar kan verraai nie. Behalwe haar oë en haar stem.

Hy lig die flappe op, die een na die ander, en sy besef sy sit op die punt van die leunstoel, effens vooroor. Sy wil skuif, maar nie nou nie, sy sal moet wag vir sy reaksie.

Die laaste paneel is weggevou, die boks oop.

“Goeie genade,” sê hy en kom halforent.

Hy kyk na haar, maar dit is asof hy haar nie sien nie en dan is sy aandag terug by die inhoud. Hy steek een van sy groot hande dieper in. Hy haal daarvan uit, hou dit in die sonlig.

“Goeie genade,” herhaal hy, sy hande voor hom. Sy vingers toets die egtheid.

Sy sit roerloos. Sy weet sy reaksie sal alles bepaal. Haar hart klop, sy kan dit hoor.

Hy plaas dit stadig terug, trek sy hande uit, vou nie weer die panele toe nie. Hy gaan sit, haal diep asem, asof hy tot verhaal wil kom en kyk op na haar. Wat dink hy? Wat dínk hy?

Dan skuif hy die karton eenkant toe, asof hy dit nie tussen hulle wil hê nie.

“Ek het jou gister gesien. In die kerk.”

Sy knik. Sy was daar, om hom te meet. Om te kyk of sy herken word. Maar dit was onmoontlik, want sy het in elk geval aandag getrek – ’n vreemde jong vrou in ’n klein dorpie se kerk. Hy het mooi gepreek, met deernis, met liefde in sy stem, nie so dramaties en afgemete soos die predikante van haar jeug nie. En toe sy uitstap, was sy seker dit sou werk om hierheen te kom. En nou weet sy nie meer nie … Hy lyk ontsteld.

“Ek …” sê sy, haar gedagtes wat skarrel agter die regte woorde aan.

Hy leun vorentoe. Hy wil ’n verduideliking hê, dit kan sy verstaan. Sy arms en vingers maak ’n reguit lyn op die rand van die lessenaar, van elmboog tot vingerpunt plat voor hom op die blad. Hy het ’n oopgeknoopte dashemp aan, ligblou katoen met ’n fyn rooi strepie daarin. Sy moue is opgerol, sy voorarms harig waar die son dit vang. Buite klink die geluide op van ’n weeksagtermiddag op ’n klein dorpie – die Sotho’s wat oor straatbreedtes heen groet, die munisipaliteit se trekker wat doef-doef-doef versnel af na die magasyn toe, die sonbesies, die gekap van ’n hamer teen ’n wielvelling en twee honde wat dit afwissel met ’n sinnelose geblaf.

“Daar is baie wat ek jou moet vertel,” sê sy en haar stem klink klein en verlore.

Eindelik beweeg hy, sy hande vou oop.

“Ek weet nie waar om te begin nie.”

“Begin by die begin,” sê hy sag en sy wil die empatie daarin omhels.

“Die begin,” beaam sy, haar stem sterker. Haar vingers skep die lang blonde hare van waar dit oor haar skouer hang en gooi dit terug na agter, met ’n ritmiese, behendige beweging.

Infanta

Подняться наверх