Читать книгу Infanta - Деон Мейер - Страница 6

3

Оглавление

Die staatsaanklaer is ’n Xhosa-vrou en haar kantoor is gevul met die geelwit dossiere van haar dagtaak. Dit staan oral. Die lessenaar is oorvol en die stapels het oorgevloei na die twee tafels en die vloer, sodat hulle hul pad versigtig moet kies om by die twee stoele uit te kom. Sy het ’n erns aan haar en ’n gemete afwesigheid, asof haar gedagtes tussen die tallose dokumente versprei is. Asof die verantwoordelikheid van haar werk soms te veel is om te dra.

Sy verduidelik. Sy is die een wat die Staat se saak moet lei. Sy moet hom voorberei as getuie. Saam moet hulle aan die regter bewys dat die verdagtes skuldig is.

Dit sal maklik wees, sê hy.

Dit is nooit maklik nie, antwoord sy en skuif die groot goueraambril met die punte van duim en voorvinger weer reg, asof dit nooit heeltemal gemaklik sit nie.

Sy vra hom uit oor die dag van Pakamile se dood. Oor en oor, tot sy die gebeure deur sy oë kan sien. Wanneer hulle klaar is, vra hy vir haar hoe die regter hulle gaan straf.

“As hulle skuldig bevind word?”

“Wanneer hulle skuldig bevind word,” antwoord hy met sekerheid.

Sy skuif aan haar bril en sê ’n mens kan nooit voorspel nie. Die een, Khoza, het ’n vorige veroordeling. Dit is die ander een, Ramphele, se eerste oortreding. En hy moet onthou, dit was nie hulle opset om die kind dood te maak nie.

“Nie hul opset nie?”

“Hulle sal getuig dat hulle nie eens die kind gesien het nie. Net vir jou.”

“Watter straf gaan hulle kry?”

“Tien jaar. Vyftien? Ek kan nie met sekerheid sê nie.”

Vir ’n lang ruk staar hy net na haar.

“Dit is die stelsel,” sê sy met ’n verontskuldigende ophaal van haar skouers.

* * *

’n Dag voor die hofsaak begin, ry hy met die bakkie Mthatha toe, want hy moet ’n paar dasse, ’n baadjie, wit hemde en swart skoene gaan koop.

Hy staan met nuwe klere aan voor die lang spieël. Die winkelassistent sê: “Dit lyk smart,” maar hy ken nie die een in die weerkaatsing nie – die gesig is vreemd, en die baard wat sedert die kind se dood op sy wange verskyn het, is nou dik en grys op die ken en slape. Dit laat hom onskadelik lyk, en wys, soos ’n ringkop.

Die oë fassineer hom. Is dit sýne? Daar is geen glans nie, asof dit leeg en dood is binne.

Hy lê van laatmiddag af op sy hotelbed, arms agter die kop, bewegingloos.

Hy onthou. Pakamile wat vir die eerste keer ’n koei melk in die stalle bokant die huis. Onhandig, oorhaastig. Gefrustreerd dat die speen nie reageer op sy klein vingers se manipulasie nie. En dan, eindelik, die wit straal wat windskeef oor die stalvloer skiet en die kreet wat triomfantelik by die seun se mond uitkom: “Tobela! Kyk!”

Die figuurtjie in skooldrag wat elke middag vir hom gewag het, die kouse afgesak, die hemp wat uithang, die boeksak te groot. Die blydskap, elke dag, wanneer hy stilhou. En as dit met die motorfiets is, het Pakamile eers rondgekyk om te sien watter van sy maters getuie is van dié eksotiese gebeurtenis, dié uitsonderlike ryding waarop slegs hy die reg het om mee huis toe te ry.

Soms het die maats kom oorslaap, vier, vyf, ses seuntjies wat agter Pakamile aanstert oor die plaaswerf. “Ek en my pa het al hierdie groente geplant.” En: “Hier is my en my pa se motorfietse.” En: “My pa het al hierdie lusern self geplant, nè.” ’n Vrydagaand … almal in ’n krismisbed in die sitkamer, ingepak soos sardiens in ’n plat blik. Die huis het vibreer van hul lewenslus. Die huis was vol. Vol.

Die leegheid van die vertrek oorrompel hom. Die stilte, die kontras. ’n Deel van hom wat die vraag vra: Wat nou? Hy probeer dit verdryf met herinneringe, maar dit bly iewers eggo. Hy oordink dit nie, maar hy weet, ongeformuleer, dat Miriam en Pakamile sy lewe was. En nou is daar niks.

Hy staan een keer op om sy nood te verlig en water te drink en gaan lê dan weer. Die lugversorger sis en blaas onder die venster. Hy staar na die dak en wag dat die nag moet verbygaan sodat die verhoor kan begin.

* * *

Die beskuldigdes sit langs mekaar. Khoza en Ramphele. Hulle kyk hom in die oë. Langs hulle staan die advokaat vir die verdediging op, ’n Indiër, lank en atleties skraal, flambojant in sy swierige swart pak en pers das.

“Meneer Mpayipheli, toe die staatsadvokaat jou gevra het wat jou beroep is, het jy gesê jy is ’n boer.”

Hy antwoord nie, want dit is nie ’n vraag nie.

“Is dit korrek?” Die Indiër het ’n strelende stem, intiem, asof hulle ou vriende is.

“Dit is.”

“Maar dit is nie die volle waarheid nie, ís dit?”

“Ek weet nie …”

“Hoe lank is jy al ’n sogenaamde boer, meneer Mpayipheli?”

“Twee jaar.”

“En wat was jou beroep voor jy begin boer het?”

Die staatsadvokaat, die ernstige vrou met die goueraambril, staan flink op. “Ek maak beswaar, edelagbare. Meneer Mpayipheli se werksgeskiedenis is irrelevant tot die saak voor die hof.”

“Edelagbare, die getuie se agtergrond het nie net betrekking tot sy geloofwaardigheid nie, maar ook tot sy optrede by die vulstasie. Die verdediging het ernstige bedenkinge oor meneer Mpayipheli se weergawe van die gebeure.”

“Ek sal dit toelaat,” sê die regter, ’n middeljarige wit man met ’n dubbelken en ’n rooi gelaat. “Antwoord asseblief die vraag, meneer Mpayipheli.”

“Wat was jou beroep voor jy geboer het?” herhaal die advokaat.

“Ek was ’n handlanger by ’n motorfietswinkel.”

“Hoe lank?”

“Twee jaar.”

“En voor dit?”

Sy hart klop vinniger. Hy weet hy mag nie talm of onseker lyk nie.

“Ek was ’n lyfwag.”

“’n Lyfwag.”

“Ja.”

“Kom ons gaan net nog een stap terug, meneer Mpayipheli, voor ons terugkom na jou antwoord. Wat het jy gedoen voor jy, soos jy sê, ’n lyfwag geword het?”

Waar kom die man aan dié inligting? “Ek was ’n soldaat.”

“’n Soldaat.”

Hy antwoord nie. Hy kry warm onder die baadjie en das. Hy voel hoe die sweet teen sy rug afrol.

Die Indiër vroetel met dokumente voor hom op die tafel, haal ’n paar velle papier uit. Hy stap oor na die staatsadvokaat en gee haar ’n kopie. Hy herhaal die proses vir die regter en gaan sit dan een voor Tobela neer.

“Meneer Mpayipheli, sou dit akkuraat wees om te sê jy is geneig tot eufemisme?”

“Ek maak beswaar, edelagbare, die verdediging is besig om die getuie te intimideer en die aard van die kruisondervraging is werklik irrelevant.” Sy het na die dokument gekyk, en lyk nou ongemaklik. Daar is ’n hoër toon in haar stem.

“Beswaar van die hand gewys. Gaan voort.”

“Meneer Mpayipheli, ek en jy kan heeldag lank ontwykingspeletjies speel en ek het te veel respek vir hierdie hof om dít toe te laat. Kom ek probeer jou help. Ek het hier ’n koerantberig” – hy swaai die dokument in die lug – “wat sê, en ek haal aan: ‘Mpayipheli, ’n voormalige Umkhonto we Sizwe-soldaat wat spesialisopleiding in Rusland en die voormalige Oos-Duitsland ondergaan het, was tot onlangs toe betrokke by ’n dwelmsindikaat op die Kaapse Vlakte …’ Einde van aanhaling. Die berig verwys na ’n sekere Tobela Mpayipheli wat twee jaar gelede landswyd deur die owerheid gesoek is in verband met die verdwyning van, en ek haal weer aan, ‘staatsinligting van ’n uiters sensitiewe aard’.”

Net voor die staatsadvokaat opspring, kyk sy Tobela beskuldigend aan, asof hy haar verraai het. “Edelagbare, ek moet weer beswaar aanteken. Die getuie staan nie in die beskuldigdebank nie …”

“Meneer Singh, is jy iewers heen op pad met dié betoog?”

“Absoluut, edelagbare. Ek vra net vir een oomblik die hof se geduld.”

“Gaan voort.”

“Is dit jy waarna die koerantberig verwys, meneer Mpayipheli?”

“Ja.”

“Ek kan nie hoor nie.”

“Ja.” Harder.

“Meneer Mpayipheli, ek stel dit aan jou dat jou weergawe van die gebeure by die vulstasie net so ontwykend en eufemisties is as jou inkleding van jou agtergrond.”

“Dit is …”

“Jy is ’n hoogs opgeleide militaris, geskool in die gevegskuns, stedelike terreur en guerrilla-oorlogvoering …”

“Ek maak beswaar, edelagbare – dit is nie ’n vraag nie.”

“Beswaar van die hand gewys. Gee die man kans om klaar te maak, mevrou.”

Sy gaan sit kopskuddend, met ’n diep frons agter die goueraambril. “Soos dit die hof behaag,” sê sy, maar haar stemtoon is ’n teenwig.

“En ’n ‘lyfwag’ by ’n dwelmsindikaat in die Kaap, vir twee jaar. ’n Lýfwag. Dit is nie wat die koerantberigte sê nie …”

Die staatsadvokaat staan op, maar die regter spring haar voor: “Meneer Singh, nou beproef jy die hof se geduld. As jy getuienis wil lei, wag jou beurt af.”

“My opregte apologie, edelagbare, maar dit skrei teen die beginsels van geregtigheid dat ’n getuie hier onder eed kan kom staan en ’n storie fabriseer.”

“Meneer Singh, spaar my. Wat is jou vraag aan die getuie?”

“Soos dit die hof behaag, edelagbare. Meneer Mpayipheli, wat was die spesifieke aard van jou militêre opleiding?”

“Dit was twintig jaar gelede.”

“Antwoord die vraag, asseblief.”

“Ek was opgelei in teenspioenasie-aktiwiteite.”

“Het dit die gebruik van vuurwapens en plofstof ingesluit?”

“Ja.”

“Hand-tot-hand-gevegskuns?”

“Ja.”

“Die hantering van hoëdruksituasies?”

“Ja.”

“Eliminasie en ontvlugting?”

“Ja.”

“En by die vulstasie sê jy, en ek haal aan: ‘Ek het agter die petrolpomp weggekoes,’ toe jy die skote hoor?”

“Die oorlog is tien jaar gelede verby. Ek was nie daar om te veg nie, ek was daar om petrol …”

“Die oorlog was nie vir jou tien jaar gelede verby nie, meneer Mpayipheli. Jy het die oorlog Kaapse Vlakte toe geneem met jou opleiding van doodmaak en seermaak. Kom ons praat oor jou rol as lyfwag …”

Die staatsadvokaat se stem is hoog, kermend. “Edelagbare, ek maak ten sterkste beswaar …”

Op daardie oomblik sien hy die gesigte van die beskuldigdes, met hul monde wat vir hom lag.

“Beswaar toegestaan. Meneer Singh, dit is genoeg. Jy het jou punt gemaak. Het jy nog spesifieke vrae oor die gebeure by die vulstasie?”

Singh se skouers sak, asof gewond. “Soos dit die hof behaag, edelagbare, ek het.”

“Nou vra hulle, en kry klaar.”

“Meneer Mpayipheli, het jy vergeet dat dit jy was wat op die beskuldigdes afgestorm het toe hulle die vulstasiegebou verlaat het?”

“Ek het nie.”

“Het nie vergeet nie?”

“Edelagbare, die verdediging …”

“Meneer Singh!”

“Edelagbare, die beskul … verskoon my, die getuie ontwyk die vraag.”

“Nee, meneer Singh, jy lei die getuie.”

“Nou goed. Meneer Mpayipheli, sê jy … jy het nie die beskuldigdes op ’n dreigende manier bestorm nie?”

“Dit is wat ek sê.”

“Jy het nie ’n voorwerp in jou hande gehou wat hulle as ’n wapen kon beskou nie?”

“Ek het nie.”

“Nie ’n wielsleutel of ’n stuk gereedskap …”

“Ek maak beswaar, edelagbare, die getuie het reeds die vraag beantwoord.”

“Meneer Singh …”

“Ek het geen verdere vrae aan hierdie leuenaar nie, edelagbare …”

Infanta

Подняться наверх