Читать книгу Infanta - Деон Мейер - Страница 15

12

Оглавление

“Is jy seker hy is skuldig?” het hy vir Boss Man Madikiza gevra, want die moontlikhede het van nêrens in sy kop gekom en sy bloed laat bruis.

Die vet man het gesnork en gesê Davids was by hom in sy kantoor, voor die drinkery begin het. Breëbors, selfvoldaan. Die polieste het sy skoot gehad, in hulle hanne, die-en-ei evidence, hulle kon hom net daar met ’n life sentence genail het met hulle test tubes en hulle microscopes en toe moer hulle die botteltjie weg, thick as bricks, en toe kom die prosecutor so sleepvoet-sleepvoet voor die judge en sê djou honner, we fucked up a little, no more die-en-ei, no more rape charge, het daai judge hulle uitgekak, my broe’, like you won’t believe.

“Watter soort?” het die Boss Man gevra en na Tobela gekyk met absolute walging. “Watter soort mens rape ’n baby, vra ek jou.”

Hy het niks gesê nie.

“And they’ve gone and abolished the death penalty,” het die Boss Man gesê en opgestaan.

Hy het gegroet en uitgeloop en in sy bakkie gaan sit. Hy het sy hand agter die sitplek ingesteek en die gladde steel van die assegaai gevoel. Hy het die kussing van sy duim oor die hout gestreel, heen en weer, heen en weer.

Iemand moet sê “tot hier toe”.

Heen en weer.

En toe wag hy vir hulle om uit te kom.

* * *

Wanneer die predikant van haar wegbeweeg en op die rand van die lessenaar gaan sit, weet sy iets het verander tussen hulle, ’n afstand is oorbrug. Miskien is dit net binne haar waar ’n angstigheid gaan lê het, ’n vrees besweer is, maar sy sien ook in sy lyftaal ’n wending, ’n ontspannendheid.

Hy moet geduldig wees, sê sy, want sy moet die hele ding vertel, alles. Sodat hy kan verstaan. Miskien sodat sý ook kan verstaan, want sy sukkel nog. Sy het vir so lank geglo sy het gedoen wat sy móés, die enigste uitweg gevolg. En nou … sy weet nie meer nie.

Neem jou tyd, sê hy, en sy glimlag is anders. Vaderlik.

* * *

Die laaste ding wat Griessel kan onthou, voor hulle hom in die ongevallesaal van die Tygerberg-hospitaal met die een of ander kak inspuit wat sy kop sag en lekker maak, is Mat Joubert wat sy hand vashou. Die senior superintendent wat vir hom al die pad in die ambulans sê, oor en oor: “Dis net die DT’s, Bennie, moenie worry nie. Dis net die DT’s.” Met ’n stem wat meer kommer as streling dra.

* * *

Sy is universiteit toe om ’n fisioterapeut te word. Die hele gesin het haar op ’n sweetwarm Vrystaatse Januariedag gevat en haar pa het hulle almal in die koshuiskamer laat kniel en vir haar gebid, ’n lang, dramatiese gebed wat die sweet op sy fronsende voorkop laat uitslaan het en die onheil van Bloemfontein in breedvoerigheid blootgelê het.

Sy het buite op die sypaadjie bly staan toe die wit Toyota Cressida eindelik sy ry kry. Daar was ’n wonderlike gevoel in haar, ’n intense vrywording, ’n swewende euforie. “Ek het gevoel of ek gaan vlieg,” is die woorde wat sy gebruik. Tot sy haar ma sien terugkyk het. Miskien was dit omdat dit die eerste keer was dat sy dié gesin regtig van buite kon sien, maar haar ma se uitdrukking het haar ontstel. In daardie kortstondige blik, net ’n sekonde of twee voor sy die masker teruggesit het, was daar iets in haar ma se oë – ’n verlange, ’n afguns, ’n begeerte, asof sy ook sou wou agterbly, asof sy ook wou ontsnap. Vir Christine was dit die eerste insig, die eerste kennis dat sy nie die enigste slagoffer is nie.

Sy het beplan om ná die ontgroening vir haar ma te skryf, ’n brief van solidariteit en liefde en waardering. Sy wou iets sê toe haar ma in daardie eerste weke koshuis toe gebel het om te hoor hoe dit gaan. Maar sy kon nooit die regte woorde vind nie. Miskien was dit die skuldgevoel wat haar verhinder het: Sy is uit, haar ma nie. Miskien was dit dié nuwe wêreld wat nooit tyd of ruimte gelaat het om oor die donkerder dinge na te dink nie, want sy het opgegaan in die studentelewe. Sy het ’n intense behae daarin gevind, in die totale ervaring. Serenades, Jool, koshuisvergaderings, koffiekuiers, die mooi ou geboue, sokkies, Intervarsity, mans, die uitgestrektheid van die kampus se grasperke en waterstrome en boomlanings. Dit was ’n soet beker en sy het diep gesluk daarvan, asof sy nie genoeg kon kry nie.

“Jy sal dit nie glo nie, maar vir tien maande het ek nie seks gehad nie. Dis nie dat ek honderd persent celibate was nie. Ek het hulle warm gevry, vier, vyf, ses van hulle. Ek het een keer in ’n ou wat medies geswot het se woonstel in Parkweg die hele nag by hom geslaap, maar hy moes bo die belt bly. Ek het partykeer gedrink. Dis omtrent onmoontlik om op varsity glad nie te drink nie, maar ek het probeer om dit te doen as dit ’n girls’ night is, vir die veiligheid. Met Intervarsity daardie eerste jaar het ek uitgepass – ons het ’n gangbraai by Loch Logan gehou en my rooms moes my met haar Beetle koshuis toe vat en in die bed gaan sit.”

Die rede vir haar selibaatskap het niks met haar pa se briewe te doene gehad nie – lang, onsamehangende preke en Bybelversverwysings wat sy later onoopgemaak en met genoegdoening in die vullisdrom gegooi het. Dit was ’n kontrak, ’n ooreenkoms met dié nuwe bestaan: “Ek sal niks doen om dit op te f … foeter nie.” Sy wou nie die noodlot tart, die gode uitdaag nie. Dit was, en sy het dit vaagweg besef, nie ’n rasionele ding nie, want sy het byvoorbeeld akademies nie goed presteer nie, sy het op die slaagpuntgrense beweeg, maar sy het by haar deel van die kontrak gehou en die gode het aangehou om vir haar te glimlag.

En toe ontmoet sy vir Viljoen.

* * *

In sharp criticism of the State’s handling of the case, Judge Rosenstein quoted from recent newspaper reports on the dramatic increase in crimes against children.

“In this country, 5 800 cases of rape against children younger than 12 years old were investigated last year, and some 10 000 cases where children between 12 and 17 years old were involved. In the Peninsula alone, more than 1 000 cases of child molestation were reported last year, and the number is rising.

“What made these statistics even more shocking was the fact that only an estimated 15 percent of all crimes against children are actually reported. And then there is the matter of children as murder victims. Not only are they being caught in the cross-fire of gangland shootings, or the innocent prey of pedophiles. Now they are being killed in this senseless belief that they can cure Aids,” he said.

“These facts and figures clearly indicate that society is already failing our children. And now, the machinery of the State is proving inadequate to bring the perpetrators of these hideous crimes to justice. If children can’t depend on the country’s justice system to protect them, who can they turn to?”

Tobela vou die beriggie weer op en druk dit in sy hempsak. Hy stap af na die strand toe, die sand sag en diep onder sy skoene. Hy gaan staan net buite bereik van die branders wat hier skuimend hul wye wit boë oor die sand spoel, sy hande in sy broeksakke. Hy sien vir Pakamile en sy twee maters wat in gelid oor die strand hardloop. Hy hoor hul uitroepe, sien die kaal bolywe, die sandkorrels wat aan hul velle klou soos sterre aan ’n diepbruin firmament, hul hande uitgestrek soos vlerke, ’n eskader in formasie net bokant die waterlyn. Hy het hulle na Haga Haga aan die Transkeise kus geneem vir die Paasnaweek. Hulle het in tente gebly en kos op ’n vuur gemaak, die seuns het geswem en visgevang met handlyntjies in die rotspoele en oorlogspeletjies in die duine gespeel. Saans tot laat het hy hul stemme in die ander tent gehoor, die gedempte lag en gesels.

Hy knip sy oë en die strand is leeg en sy gemoed is vol. Dit is die min slaap, die nadraai van die oormaat adrenalien.

Hy begin strandlangs loop, noord. Hy soek weer dít wat hy in die Yellow Rose gevoel het, die absolute oortuiging dat dit is wat hy moet doen, asof die heelal met ’n duisend wysvingers vir hom die pad aandui. Dit was soos twintig jaar gelede, toe hy die regmatigheid van die Stryd kon voel – asof sy herkoms, sy instinkte, sy natuur vir daardie oomblik geslyp was, die vaste wete van sy roeping.

Iemand moet sê “tot hier toe”. If children can’t depend on the country’s justice system to protect them, who can they turn to? Hy is ’n kryger en daar is steeds ’n oorlog in dié land.

Waarom het dit alles nou ’n holler klank?

Hy moet gaan slaap, dan sal hy beter perspektief kry. Maar hy wil nie, hy is nie lus vir die vier mure van die hotelkamer nie – hy het oopte nodig, ruimte, son en wind en horisonne. Hy wil ry, beweeg, iéts doen. Hy wil nie in sy kop stilstaan nie.

Hy wou nog altyd gedóén het, hy kon nog nooit net toekyk nie. Dit is wat hy is en dit is wat hy sal wees – ’n soldaat, wat voor die kinderverkragter gestaan het en al die oorlogsappe in sy lyf gevoel het en dit was reg, maak nie saak wat hy nou voel nie, maak nie saak dat die oortuiginge vanoggend nie dieselfde ondeurdringbaarheid het nie.

Hulle sal die kinders van hierdie land begin uitlos, die honde, daarvan sal hy seker maak. Khoza en Ramphele is daar iewers, wegkruipers, voortvlugtiges, vir die oomblik onsigbaar. Maar die een of ander tyd gaan hulle kop uitsteek, gaan hulle met iemand kontak maak of iets doen en dan sal hy hulle spoor vat en hulle jag, hulle in ’n hoek vaskeer en die assegaai laat praat. Die een of ander tyd. As jy ’n prooi wil plattrek, moet jy geduldig wees.

En intussen is daar ander werk om te doen.

* * *

“Ek was clueless met geld. Dit was net nooit genoeg nie. My pa het ’n honderd rand per maand in my rekening gesit. ’n Honderd rand. Maak nie saak hoe hard ek probeer het nie, dit het net twee weke gehou. Miskien drie, as ek nie tydskrifte koop nie, of ek probeer minder rook, of ek maak of ek besig is as hulle wil gaan uiteet of fliek of chill … maar dit was net nooit genoeg nie en ek wou nie vra vir nog nie, want dan wil hy weet wat ek daarmee doen en dan moet ek weer luister na sy genag. Toe hoor ek hulle soek studente by ’n catering-plek in Westdene wat troues en funksies doen en hulle betaal negentig rand as jy ’n Saterdagaand gaan waitress of opskep en hulle gee ’n advance vir die klere, jy moet swart pantyhose en ’n swart pencil skirt en ’n wit bloes hê. Toe gaan vra ek en hulle gee my die werk, twee sweet, middle-aged moffies wat elke twee weke ’n helse uitval het en dan weer opmaak, net betyds vir die volgende funksie.

“Die werk was okay, as jy eers daaraan gewoond raak om so lank op jou voete te wees, en ek het stunning gelyk in die pencil skirt, al moet ek dit self sê. Maar ek het die meeste gehou van die geld. Van die vryheid. Van die … die … ek weet nie, om in die Mimosa Mall in te loop en na Diesel-jeans te kyk en te besluit ek wil dit hê en dan koop ek dit. Net die gevoel, jy weet heeltyd jou beursie is nie leeg nie – dit was cool.

“Ek het eers net Saterdae gewerk en toe Vrydae ook en partykeer Woensdae. Net vir die geld. Net vir die … mens kan seker sê vir die mag.

“En toe, in Oktober, gaan doen ons Schoemanspark se gholfklubpaartie en toe ek buite gaan rook toe die hoofgereg klaar is, toe staan Viljoen op die agttiende green met ’n bottel in sy hand en so ’n knowing smile op sy gesig en hy vra of ek ’n slukkie wil hê.”

* * *

Hulle het hom met iets ingespuit, want toe hy wakker word, stadig en moeilik, is dit vroegoggend en hy lê net en kyk vir die hospitaalkamertjie. Eers later besef hy daar’s ’n naald en ’n dun plastiekpyp aan sy arm. Hy bewe nie.

’n Verpleegster kom en vra vir hom vrae en sy stem is hees as hy antwoord. Hy praat dalk te hard, want sy klink ver. Sy vat aan sy pols en hou met haar ander hand ’n horlosie vas wat aan haar bors vasgesteek is. Hy dink dit is eienaardig om dit daar te dra. Sy druk ’n termometer in sy droë mond in en haar stem is sag. Sy is ’n swart vrou, geset, en daar is letsels aan haar wange, die fossielgeskiedenis van aknee. Haar oë is sag op hom en dan skryf sy iets op ’n spierwit kaart en dan is sy weg.

Twee bruin vroue bring vir hom ontbyt, skuif die tafeltrollie oor sy bed. Hulle is opgewekte, kwetterende voëls, plaas die stomende skinkbord daarop en sê: “Jy moet eet, Sarge, jy’t die nourishment nodig.” Dan is hulle weg en wanneer die dokter kom, staan dit steeds só, afgekoel en ongeëet en Griessel lê soos ’n fetus, sy hande tussen sy knieë ingedruk en sy kop dik. Onwillig om aan enigiets te dink, want alles wat sy kop opdis, is moeilikheid.

Die geneesheer is ’n bejaarde omie, kort en krom, bles en bebrild. Die hare wat hy rondom sy kop oorhet, groei lank en grys teen sy rug af. Hy lees eers die kaart en dan kom sit hy langs die bed.

“Ek het jou vol tiamien en Valium gepomp. Dit sal help vir die onttrekking. Maar jy sal moet eet ook,” sê hy sag.

Griessel lê net.

“Jy’s ’n dapper man om die drank op te gee.” Mat Joubert het seker met hom gepraat.

“Het hulle vir jou gesê my vrou het my gelos?”

“Hulle het nie. Was dit oor die drank?”

Griessel skuif effens orent. “Ek het haar geslaan toe ek gesuip was.”

“Hoe lank is jy al afhanklik?”

“Veertien fokken jaar.”

“Dan is dit goed dat jy ophou. Die lewer het sy beperkinge.”

“Ek weet nie of ek kan nie.”

“Ek het ook só gedink en ek is al vier en twintig jaar skoon.”

Griessel sit regop. “Jy was ’n alkie?”

Die dokter se oë knip-knip agter die dik lense. “Dis hoekom hulle my laat kom het vanoggend. Jy kan sê ek is ’n spesialis. Elf jaar lank gesuip soos ’n vis. My praktyk, my familie, my huis, my Mercedes-Benz onder my gat uit gedrink. Drie keer gesweer ek sal ophou, maar ek kon net nie my sit op die waterkar kry nie. Tot ek niks oorgehad het nie behalwe ernstige pankreatitis.”

“Het sy jou teruggevat?”

“Sy het,” sê die dokter en hy glimlag. “En toe maak ons nog twee kinders, net om die ding te vier. Probleem is, hulle lyk soos hulle pa.”

“Hoe het jy dit reggekry?”

“Seks het ’n belangrike rol gespeel.”

“Nee, ek bedoel …”

Die dokter vat aan Griessel se hand en hy lag met toe oë. “Ek weet wat jy bedoel.”

“O.” En dan glimlag Griessel vir die eerste keer.

“Een dag op ’n slag. En die AA. En die feit dat ek rock bottom geslaan het. Daar was nog nie medisyne om te help nie, net disulfiram, die goed wat jou laat opgooi as jy drink. Maar ek het uit die literatuur geweet dis gemors – as jy rêrig wil drink, vat jy net nie meer die pil nie.”

“Daar’s nou medisyne wat jou kan laat ophou drink?”

“Geen medisyne kan jou laat ophou drink nie. Net jý kan.”

Griessel knik met teleurstelling.

“Maar dit kan die onttrekking makliker maak.”

“Die DT’s wegvat.”

“Jy het nog nie delirium tremens ervaar nie, my vriend. Dit kom eers hier ná drie tot vyf dae nadat onttrekking begin het. Gister se dinge was die redelik normale konvulsies en, vermoed ek, hallusinasies van ’n strawwe drinker wat ophou. Het jy snaakse goed geruik?”

“Ja.”

“Snaakse goed gehoor?”

“Ja.” Met geesdrif.

“Akute onttrekking, maar nog nie DT’s nie en daarvoor moet jy dankbaar wees. DT’s is hel en ons het nog nie ’n manier uitgevind om dit te stop nie. As dit regtig rof raak, kry jy grand mal-epilepsie, miokardiale infarksie, beroerte, en enigeen van die drie kan jou doodmaak.”

“Jissis.”

“Wil jy regtig ophou, Griessel?”

“Ek wil.”

“Dan is vandag jou gelukkige dag.”

Infanta

Подняться наверх