Читать книгу Infanta - Деон Мейер - Страница 16

13

Оглавление

Sy is ’n bruin vrou met drie kinders en ’n man in die tronk. Sy is die ontvangsdame van Quay Delta se motorwerkswinkel in Paardeneiland en dit is nooit haar bedoeling om die hele ding op ’n dwaalspoor te plaas nie.

Die Argus kom teen 12:30 elke middag by haar aan, vier koerante wat na die wagkamer gaan sodat klante dit kan lees terwyl hul motors klaargemaak word. Dit is haar gewoonte om die nuusblad vinnig oop te slaan en na die hoofopskrifte te kyk. Maar vandag doen sy dit met groter doelgerigtheid, want sy het verwagtinge.

Sy kry die berig op die voorblad, net onder die vou van die koerant. Maar sy sien al aan die opskrif dat alles nie pluis is nie.

POLICE LINKED TO KILLING OF

ALLEGED CHILD RAPIST

Sy lees die berig vinnig en sy klik haar tong.

The SAPS may have been responsible for the vigilante-style murder of alleged child rapist Enver Davids last night.

A spokesperson for the Cape Human Rights Forum, Mr David Rosenthal, said his organisation had received “sensitive information from a very reliable source inside the Police Services” in this regard. The source indicated that the Serious and Violent Crimes Unit (SVC) was involved in the killing.

HIV positive Davids, who was freed on charges of murder and child rape three days ago after the SVC had misplaced DNA evidence pertinent to the case, was found stabbed to death in a Kraaifontein street early this morning.

Senior Superintendent Mat Joubert, head of the SVC, vigorously denied the allegation, calling the claim that two of his detectives tracked down Davids and killed him “malicious, spurious and devoid of all truth”. He admits that the unit was upset and frustrated after a judge sharply criticised their management of the case and then dismissed it …

Die vrou skud haar kop.

Sy sal iets moet doen. Want vanoggend, toe sy in die donker kombuis die bottel Vicks vir haar kind se bors gaan soek het, kon sy die bewegings deur die venster sien. Sy was ’n toeskouer van die verskriklike dans op die sypaadjie, en sy het Davids se gesig in die straatlig se dampkring herken. En een ding weet sy: Die man met die kort assegaai was nie ’n poliesman nie. Want sy ken die polisie, sy kan hulle op ’n myl uitken, al genoeg van hulle op haar drumpel gehad. Vanoggend weer, toe hulle kom vra het of sy iets gesien het en sy dit kopskuddend ontken het.

Sy soek na die telefoonnommer van die Argus op die voorblad en skakel dit. Dan vra sy vir die verslaggewer wie se naam by die berig staan.

“It wasn’t the police who killed Enver Davids,” sê sy, sonder om haarself te identifiseer.

“Who am I speaking to?”

“It does not matter.”

“And how do you know this, madam?”

Dit is ’n vraag wat sy verwag het. Maar sy gaan nie sê nie, want hulle sal haar kry, hulle sal haar kan opspoor as sy te veel inligting gee. “You can say I have first-hand knowledge.”

“Are you saying you were involved in this killing, madam?”

“All I want to say is that it wasn’t the police. Definitely not.”

“Are you a member of Pagad?”

“No, I’m not. It wasn’t a group. It was just one person.”

“Are you that person?”

“I am going to put down the phone now.”

“Wait, please. How can I believe you, madam? How do I know you’re not a crank?”

Sy dink vir ’n oomblik na. Dan sê sy: “It was a spear that killed him. An assegai. You can go and check that.”

En dan sit sy die telefoon neer.

Dit is hoe die Artemis-ding begin het.

* * *

Joubert en sy Engelse vrou kom kuier vir hom in die aand. En al wat hy kan sien, is hoe hulle aan mekaar vat, die groot senior superintendent en die rooikop vrou met die sagte oë. Vier jaar getroud en hulle vat nog aan mekaar soos ’n wittebroodspaartjie.

Joubert vertel hom van die aantygings, dat die Eenheid beskuldig word van Davids se dood. Margaret Joubert gee vir hom tydskrifte. Hulle praat oor alles behalwe sy probleempie en dan groet hulle en Joubert druk ’n groot hand op sy skouer en sê: “Vasbyt, Bennie.” As hulle weg is, wonder hy wanneer laas hy en Anna aan mekaar gevat het. Só.

Hy kan nie onthou nie.

Fok, wanneer laas het hulle seks gehad? Wanneer laas wóú hy? Soms, in die semi-dronkenskap van sy dag, sou iets hom prikkel om aan die moontlikheid te dink, maar teen die tyd dat hy by die huis kom, het die drank lankal die lood in sy potlood gesmelt.

En Anna? Sou sy die behoefte hê? Sy drink nie. Sy was geesdriftig, in die dae voor hy ernstig begin suip het. Altyd reg as hy reg is, soms twee keer per week, haar fyn vingers om sy ereksie en dan hul ritueel, hul spel, wat spontaan begin en nooit opgehou het nie. “Waar kry jy dié ding, Bennie?”

“Uitverkoping by Checkers, toe vat ek vier.”

Of: “Dis ’n bewysstuk, so moenie merke los nie – dit moet môre teruggaan.”

Of: “By ’n Jood geruil vir nege duim boerewors. Moenie skrik nie, hy’s kaalkop.” Elke keer sou hy iets anders uitdink en selfs wanneer hy minder spitsvondig of meer platvloers was, het sy gelag. Elke keer. Hul seks was altyd plesierig, vrolik, tot haar orgasme haar met erns oorweldig en agterna sal hulle in stilte aan mekaar vashou en sy sal sê: “Ek is lief vir jou, Bennie.”

Weggedrink, stelselmatig, soos alles.

Daar is verlange in hom en dit vul hom met emosie. Waar is die dae, Here, kan hulle dit ooit weer terugkry? As hy die drank los, sal dit ooit weer dieselfde wees? En dan wonder hy: Wat doen sy as die begeerte haar oorval? Wat het sy die afgelope twee, drie jaar gedoen? Haarself gehelp? Of is daar …

Paniek. Sê nou maar daar is iemand. Jissis, hy sal hom fokken skiet, niemand vat aan sý Anna nie.

Hy kyk na sy hande, beklemde vuiste, wit kneukels. Stadig, stadig, die dokter het gesê hy sal emosionele spronge maak, hy sal angstig raak … Hy moet stadig.

Hy maak sy hande oop, trek die tydskrifte nader.

Car. Margaret Joubert het vir hom manstydskrifte gekoop, maar karre is nie sy ding nie. Popular Mechanics ook nie. Daar is ’n skets van ’n futuristiese vliegtuig op die voorblad. New York to London in 30 minutes? sê die prikkel.

“Who cares,” sê hy.

Sy ding is drank, maar jy kry nie tydskrifte daarvoor nie.

Hy sit die lig af. Dit gaan ’n lang nag wees.

* * *

Die vrou by die internetkafee in Langstraat het oorringe teen die lengte van haar oorskulp af, een deur haar oogbank en daar sit ’n blink ding teen haar neusvleuel. Tobela dink sy sou mooier gewees het daarsonder.

“Ek weet glad nie hoe om dié goed te gebruik nie,” sê hy.

“Dis twintig rand per uur,” sê sy, asof dit hom al klaar diskwalifiseer.

“Ek het iemand nodig om vir my te leer,” sê hy geduldig, vars ná die middagslapie.

“Wat wil jy doen?”

“Ek hoor jy kan koerante lees. En sien wat hulle verlede jaar ook geskryf het.”

“Argiewe. Hulle noem dit internetargiewe.”

“Aaaaa …” sê hy. “Sal jy my wys?”

“Ons gee nie eintlik opleiding nie.”

“Ek sal betaal.”

Hy sien hoe die sinapse vuur agter die vaalgroen oë: Die potensiaal om goed geld te maak uit ’n dom swarte, maar die moontlikheid dat dit harde, frustrerende werk kan wees.

“R200 per uur, maar jy sal moet wag tot my skof klaar is.”

“Vyftig,” sê hy. “En ek sal wag.”

Dit betrap haar vir ’n oomblik onkant, maar sy herstel goed. “Honderd, vat dit of los dit.”

“Honderd en jy koop die koffie.”

Sy steek haar hand uit en glimlag. “Dis ’n deal. My naam is Simone.”

Hy sien daar is ’n blink ding op haar tong ook.

* * *

Viljoen. Hy was nie lank nie, skaars ’n halwe kop langer as sy. Hy was nie danig mooi nie en het ’n koperband om sy pols gedra, en ’n dun goue kettinkie om sy nek waaroor sy nooit mal was nie. Dis nie dat hy arm was nie – hy het net geen belangstelling in geld gehad nie. Hy het ’n agt jaar oue vier-by-vier-bakkie gery waarvan die kleur, wat dit ook al oorspronklik was, in die Vrystaatse son verbleik het. Want die ding het dag ná dag in die Schoemanspark-parkeerterrein gestaan terwyl hy gholflesse gegee het, of gholfballe in die pro shop verkoop het, of ’n ronde of twee saam met die belangriker lede van die klub gespeel het.

Hy was ’n professionele gholfspeler. In teorie. Hy het net drie maande in die Sonskynreeks gehou voor sy geld opgeraak het, want Viljoen kon nie onder druk set nie. Hy het die bewerasies gekry, die “jips”, het hy dit genoem. Hy het aangelê en weer weggeloop en weer gekorrel en gemik en aangelê en altyd te kort geset, die senuwees wat hom klaargemaak het.

“Toe word hy die resident pro by Schoemanspark en toe kry ek hom daardie aand op die agttiende green met die bottel in sy hand. Dit was weird. Dit was asof ons mekaar herken het. Ons was dieselfde soort. So half aan die buitekant. As jy in die koshuis is, kom jy dit gou agter, dat jy nie heeltemal belong nie. Dis nie dat iemand iets sê of iets doen nie, almal is nice met mekaar en jy kuier en jy lag en worry saam oor eksamens, maar jy’s nie heeltemal ‘in’ nie.

“Maar Viljoen het dit gesien. Hy’t dit geweet, want hy was ook só.

“Ons het begin praat. Dit was net so … gemaklik, van die begin af. En toe ek moet ingaan, toe vra hy my wat ek ná die tyd doen en toe sê ek ek moet ’n lift kry koshuis toe, so ek kan niks doen nie en hy sê hy sal my vat.

“En toe almal weg is, toe vra hy my of ek vir hom wil caddy, want hy gaan nou eers ’n bietjie gholf speel. Ek dink hy was ’n bietjie dronk. Toe sê ek mens kan nie in die nag gholf speel nie en hy sê dis wat almal dink, maar hy sal my wys.”

Die Bloemfonteinse somernag … Sy kan die gesnyde gras ruik, die naggeluide hoor, die halwe maan sien. Sy kan onthou hoe die lig van die klubhuis se stoep van Viljoen se songebreide vel weerkaats het. Sy kan sy breë skouers weer sien en sy eienaardige glimlag en die uitdrukking in sy oë en die aura van hom, daardie verskriklike alleenheid wat hy met hom saamgedra het. Die geluid toe die gholfstok die balletjie tref en dit in die donker inskiet en hy wat sê: “Tel op en kom, caddy, en moet jou nie steur aan die skare se gejuig nie.” Sy stem was gentle, altyd selfspottend. Voor elke hou het hulle eers uit ’n bottel gedrink, semisoet witwyn, nog koud uit die yskas. “Ek het nie die jips in die nag nie,” het hy gesê en sy sette gemaak, langes en kortes. Hy het die bal in die donker op die perfekte lyne laat rol, oor die deinings van die setperke tot dit kletterend in die putjie geval het. En in die skoonveld van die sesde putjie het hy haar gesoen, maar toe het sy al geweet sy hou te veel van hom en dit was okay, dit was heeltemal en absoluut okay.

“Hy het nege putjies gespeel in die donker en in daardie tyd het ek verlief geraak,” is al wat sy vir die predikant sê. Asof sy die herinneringe van daardie aand wil bewaar, asof dit sal verbleik as sy dit uit die donker moet haal en teen die lig hou.

In die groot sandkuil langs die negende setperk het hulle gaan sit en hy het sy telkaart ingevul en aangekondig dat hy ’n 33 gespeel het.

So baie, het sy tergend gesê.

So min, het hy gelag. ’n Sagte geluid, amper vertroulik. Hy het haar weer gesoen. Stadig en sorgsaam, asof hy absoluut seker wou maak hy doen dit reg. En met dieselfde langsaamheid het hy haar uitgetrek en haar kledingstukke een vir een opgevou en bo, op die gras buite die kuil, neergesit. Hy het oor haar gekniel en haar gesoen, van haar nek tot by haar enkels, en op sy gesig was daar ’n uitdrukking van absolute verwondering: dat hy hierdie voorreg het, hierdie magiese geleentheid gegun word. En eindelik het hy in haar ingegaan en daar was ’n intensiteit in sy oë, ’n geweldige emosie en sy ritme het versnel, sy dringendheid het groter en groter geword en sy het haarself daarin verloor.

Sy moet haarself terugdwing na hierdie vertrek, waar die predikant met soveel oënskynlike geduld vir haar wag om haar swye te verbreek.

Sy wonder vir ’n oomblik waarom herinneringe so sterk aan reuke gekoppel is, want sy kan hom nou, hier, ruik – deodorant en sweet en semen en gras en sand.

“By die negende putjie het hy my swanger gemaak,” sê sy en reik weer haar hand na die snesies uit.

Infanta

Подняться наверх