Читать книгу ‘n Enkele verhaal - Deon Wiggett - Страница 11

4

Оглавление

Dit is ’n matige Maartmiddag in 2018. My tante en peetma, Esmé, sit op my stoep in Johannesburg. Sy is dierbaar, lewensgroot en het ’n bietjie van ’n klap van die windmeul weg. Haar vrae is op die man af.

“So, hoekom het jy daarop aangedring ek moet hiérnatoe kom?” vra sy, wat middagete in Parys voorgestel het.

“Aangedring is ’n sterk woord.”

“Jy het my twee ure van Potch af laat ry om op jou stoep met my te praat.”

“Dit sou ’n uur en ’n half wees as die highway jou nie uitgefreak het nie.”

Ons skerts voort; sy lag hard; ek kies my woorde sorgvuldig, want my tante en peetma is ’n hoogleraar wat eintlik eers sal luister wanneer jy weet wat jy wil sê.

En dan vertel ek Esmé alles wat met my gebeur het, en sy verstaan hoekom ons op my stoep moes praat.

“So, hierdie Willem Breytenbach-karakter,” sê sy uiteindelik. “Jy sê hy lewe nog?”

“Very much alive, and very much active in Kaapstad.”

Dadelik: “Maar jy moet hom expose!”

“Dit ís die plan,” sê ek, en ek vertel haar ’n vae plan.

“Jou plan is ’n bietjie vaag,” sê sy.

“Het jy nie nog ver om te ry nie?” vra ek, maar sy maak of sy my nie hoor nie.

Dan, soos altyd, vertrek sy te vroeg, en ek huil oor my dooie pa, en oor ek verkrag is as seun.

Esmé is natuurlik reg: my plan is erg vaag. Soos met alles praat ek daaroor met Craig, my terapeut, wat ’n kompakte wysgeer en ’n baie swak Jood is. Ons sit in sy kantoor in ’n rustige tuin in Sandton.

Craig sê ek kan Willem ontmasker as ek wil, en dat hy my kan leer hoe om dit te doen. Die geheim, sê hy, is om ’n deeglike profiel saam te stel. Hy sóú so sê; sy obsessiewe studies het hom beide ’n kriminoloog en ’n psigodinamiese terapeut gemaak.

Ek gaan nie hier probeer om psigodinamika te verdedig teen ander sielkundige skole se beskuldigings nie. In 2018 besluit ek om my terapeut te vertrou, want dit is die metodologie wat aan my beskikbaar is. Die res van hierdie storie sal moet toon of Craig reg is, en so ook die eeu se sielkundige denke wat ek hom so gelate laat verteenwoordig.

Ons basiese aanname is: As Willem ’n pedofiel en reeksverkragter is, moet hy ’n psigopaat wees, want net psigopate kan mense eindeloos verkrag sonder om deur skuld verteer te word – van nature het psigopate geen empatie of gewete nie.

Craig sal nooit Afrikaans verstaan nie, so ek sê vir hom: “So, for this model to work, Breytenbach has to be a psychopath?”

Craig knik sy kop. Vir dié boek se doeleindes mag hy slegs bywoordelik knik in reaksie op mý stellings. Hy dring daarop aan, en omslagtig so, dat ons terapeutiese verhouding allerheilig is, en as ek sý woorde in mý boek sit, kan dit my langtermyn-welstand benadeel, of so iets. Craig is streng oor sulke goed.

“But I need your snappy dialogue for drama!” sê ek. Craig knik berouvol en vertel my op ’n simpatieke manier dat dit nié gaan gebeur nie.

En dus is dit ek, en nie Craig nie, wat sê: “By understanding psychopaths, and their dark and empty pathologies, we could start to look for patterns in Breytenbach’s own life!”

As hierdie boek ’n regte speurverhaal was, sou die psigopaat ’n reeksmoordenaar wees. Hy sou grieselrige trofeë in sy vrieskas stoor, kriptiese briewe aan die polisie stuur en hom in hul onmag verlustig.

“Wat kan magtiger as moord wees?” sê sy dierbrein vir hom.

“Om mense af te dank!” sê die sakereus.

“Om seks met kinders te hê!” sê die reekspedofiel.

“Ou, wat is fóút met jou?” vra die reeksmoordenaar en sakereus in vreemde unisoon.

Ál hierdie psigopate se emosies is gesetel in mag. Hulle voel woede en jaloesie as hulle nie die mag het wat hulle dink hul toekom nie, en bevrediging wanneer hulle dit verwerf. Dít is hoe eenvoudig hul persoonlikhede is.

In teenstelling met ’n regte speurverhaal is ons tartende booswig ’n pedofiel. Hy hoef sy trofeë nie te vries nie; hulle word trots uitgestal, want hulle is kripties genoeg. Die trofeë is daar vir hul vriende om te sien, want pedofiele is dikwels kuddediere. Nadat een ou man ’n tiener sover gekry het om hom af te suig, sal die tweede ou man minder weerstand teëkom, want die seun dink nou dít is wat hy moet doen.

En dus mag mans soos Willem foto’s op sosiale media post waarop hulle saam met seuns, tieners en jong mans verskyn. Kinders wat, noudat jy dit noem, dikwels merkwaardig eenders lyk. Soos grootwildjagters met mure vol trofeë vertoon die mans hul slagoffers vir enigiemand wat weet hoe prooi lyk.

In 2018 stel Craig voor dat ek begin deur te soek soek na Willem se trofeë. Presies wáár jy hulle gaan kry, hang maar af van die tipe brulpadda wat jy wil vang.

Wanneer ek Willem s’n kry, belas dit my met ’n geheim wat nie myne is om te bewaar nie. Hy is nog ál die tyd ’n onversadigbare jagter.

Iemand sal hom moet stop. Klaarblyklik gaan dit ek moet wees.

‘n Enkele verhaal

Подняться наверх