Читать книгу ‘n Enkele verhaal - Deon Wiggett - Страница 9

2

Оглавление

Vyf dae later is dit Donderdag en ek is terug op Stellenbosch. Dit kon nie vermy word nie.

Ek dra selde ’n pak en dit is warm in die NG Moederkerk en my das wurg my. Die interieur is imposant met loodglas-apostels en ’n orrel groot genoeg om ’n aantal klein kinders te versteek. Ek sit langs my ma en my sussie in die voorste ry.

Vroeër, toe ons buite gewag het, het die orrelis Bach pragtig gespeel. Maar nou is daar ’n dominee op die kerk se punterige preekstoel. Hy sê ’n paar frases en dit is vir my eksoties en irrelevant. Almal hier weet wat hy volgende gaan sê. My pa is dood op 65. Dit is deel van God se plan.

Níks hiervan was deel van mý plan nie, en God bestaan nie, maar hier staan ek nou agter ’n kateder in sy huis en ek praat oor Dadda wat begin doodgaan het toe ek in die swembad was, en wat twaalf uur later dood was van ’n ongediagnoseerde dog lewensgevaarlike siekte. Ek het my kans gemis om ooit weer met hom te praat.

Die eerste ding wat ek sê, is bisar: “Baie mense se lewens kan netjies saamgevat word. Byvoorbeeld: Oom Jannie was ’n stil man wat gelewe het vir sy posduiwe.”

Iemand onderdruk ’n onelegante geproes. Dit is my vriendin Nella, wat ’n refleksreaksie op die absurde het. Dadda was ook so. Groot en gaaf en jolig, met die aandrang om ’n grappie te maak wanneer dinge te ernstig raak.

En dus dring ek aan op grappies vir sy begrafnis, want hy het my geleer dit help as ’n mens lag, en dit help die mense om jou ook.

Die res van die diens onthou ek skaars. Ek neem aan my tant Esmé het saam met ons heel voor gesit. Ons het sekerlik gebid en gestaan en gesit, maar ek kan nie mooi onthou nie en het vrede daarmee, hoewel ek hoop die ander grappies het geen posduiwe bevat nie. Ek was gebroke en ontredderd in omstandighede waarvoor niks in die lewe my voorberei het nie. Dit was te veel vir my brein om te absorbeer, so dit laat my liggaam toe agter, alleen in die Moederkerk, om alles net afgehandel te kry.

Ek onthou wel goed die Beethoven aan die einde. My pa het self op “Praat ek mense-, en’gletale” aangedring, en ek besef hy het ’n sekulêre lied gekies om sy ateïstiese seun in te sluit. My ouers het, heel verstandig, ’n paar jaar vantevore hul begrafnisse bespreek; my pa het dié lied voorgeskryf en ’n ongewone eis bygevoeg. Almal moet met die derde versie begin, en dan al drie versies van vooraf. Aan die begin en aan die einde huil ek te veel om te kan sing:

Al die tale, profesieë, met die tyd gaan dit verby.

Net die liefde, die volmaakte, kom en sal vir altyd bly.

Want geloof gee troos en rigting; na die toekoms reik die hoop.

Liefde is en bly die grootste. Liefde sluit die lewe oop.

Maar selfs al hou my brein my op ’n veilige afstand, het die skok van my pa se dood herinneringe begin losskeur; asof ’n aardbewing ’n kis gelig het uit die kelders van die see. Aanstons dryf die inhoud boontoe as wrakhout en uitskot.

Ek sien nou al amper wat ek lank terug begrawe het; onthou amper helder wat so lank vergete geag is.

Sigmund Freud sê die brein is ’n ysberg: die deel wat bo die water uitsteek – die enigste deel wat sigbaar is – is ons aandagtige bewussyn. Al is Freud se beeldspraak teenstrydig met my oseaniese kis, gun ek hom sy nuttige metafoor; hy stem buitendien saam dat iets verborge na die oppervlak kan styg.

Op die seebodem skreef die deksel oop en gedagtes skiet uit en op. My brein bring eers elke enkele herinnering wat ek van my pa het sodat ek sy status na “dood” kan opdateer.

Soos: Dit is 1984. Ek is vier. Dadda roep my na die tuin toe. Hy laat my op ’n klip staan, sak neer op sy hurke en sê: “Jy’s nou vier, jy’s ’n groot seun, dis tyd om te leer fluit.”

Ek probeer sy les inneem. Trek jou lippe mooi reg; druk jou tong net mooi vas; asem vasberade uit, of iets. Ek probeer, en probeer dan harder, maar geen klank kom uit nie. Ek is verleë, want ek is besig om Dadda teleur te stel, maar ná ’n rukkie hou hy my vas en sê: “Niks verkeerd daarmee nie, ons kan weer ’n ander dag probeer.” En dan stel hy dit nooit weer voor nie; nou besef ek dit was omdat hy kon sien ek was verleë.

Dit is nou dekades later, en nog steeds kan ek nie fluit nie. Ook, die man wat my probeer leer het, is dood, en die herinnering geliasseer onder Goed wat ek saam met dooie mense gedoen het.

Maar gedagtes is kettingreaksies; een ding laat jou ’n volgende onthou. Soos: Nóú dink ek aan ’n gesinsvakansie in my matriekjaar. Ons is in die Krugerwildtuin. Dit is 1997 in die piepklein Punda Maria-kamp, daar ver in die noorde waar die kremetarte is. Op die middag wat in my kop vassit, is dit bloedig warm, soos dit daar rond maar is. Daar is dalk twintig mense in die kampie en, soos my ouers, blyk almal anders ’n middagslapie in te pas.

Nie ek nie. Ek is op die foon. Dit is nie my foon nie, maar ’n Telkom-foon in die styl van daardie jare. Anderkant die heining slaap leeus en luiperds en luislange, en hierdie binne die kamp is die foonhokkie die enigste manier om met die buitewêreld te kommunikeer.

Ek praat met iemand vir baie, baie lank.

Dadda is wakker wanneer ek terugkom by ons eenheid.

“Waar wás jy?” vra hy, en hy lyk geïrriteerd – wel, dit is wat ek tóé gedink het; nou dink ek hy was bekommerd.

Ek kan nie onthou wat ek vir Dadda geantwoord het nie – presies met wié ek op die foon gepraat het nie – maar dit was ’n leuen en hy kon so agterkom. Hy was ontsteld en ek was ’n dikbektiener en dit alles loop toe uit op ’n massiewe argument.

Waarom dwing my brein dié herinnering op my af? En met wie wás ek buitendien op die foon?

Natuurlik, noudat ek so daaraan dink, weet ek presies met wie ek gepraat het. Ek het nog altyd geweet.

‘n Enkele verhaal

Подняться наверх