Читать книгу ‘n Enkele verhaal - Deon Wiggett - Страница 19

10

Оглавление

Dit is April 2019 en tentatief herfs in Johannesburg. My solder het vensters aan drie kante en meestal sien ek net bome en voëls. Asof my lessenaar in ’n boomhuis is, as boomhuise glasvensters gehad het en hope kataloguskaartjies en vier katte.

Ek probeer die 1980’s en 1990’s in Bloemfontein uitpluis. Ek weet Willem is nie aan die einde van 1987 daar weg nie. Dit was een van die eerste goed wat hy my vertel het daardie sweterige somersdag toe ons mekaar ontmoet het: dat hy skoolgegee het by die beroemde Grey Kollege, en toe Kaapstad toe getrek het in 1995 om iets ongelooflik te doen. Soos hy dit vertel het, was dit die loopbaanskuif van ’n leeftyd.

Noudat ek met volwasse oë na Willem kyk, ruik ek ’n rot. Ek hoor datums en stories wat nie vir my sin maak nie. Is Willem regtig by Grey weg omdat hy “die kans van ’n leeftyd” gekry het? Of het Grey hom afgedank en die nuwe werk was bloot ’n gelukkige toeval? Wat is die ware rede agter Willem se duisend-kilometer-lange uittog van Bloemfontein na die Atlantiese Oseaan? Dis ver vir ’n brulpadda om te swerf.

As Willem wél deur Grey afgedank is en dit iets met ’n seun te doen gehad het, sou dit tog logies ’n seun in Willem se laaste jaar daar gewees het. As ek ’n volledige lys kan kry van almal in Grey die jaar wat Willem weg is, is dit verder maklik. Dan moet ek hulle almal net opspoor en vra.

Die internet is onvoldoende vir Bloemfontein toentertyd. Dit is tyd om Grey Kollege toe te gaan, myself in hul argiewe in te praat en te kyk of ek ’n lys leerlinge uit Willem se tyd daar kan kry.

Maar sal Grey ’n volkome vreemdeling toelaat om in hul argiewe rond te krap? Dit gaan ’n mooipratery en ’n bietjie onderduimsheid verg.

Eerder as om te sê: “Haai, ek’s van Johannesburg, lei my na die bewyse,” berei ek ’n leuen voor: Ek maak ’n dokumentêre program oor skoolkoerante en -publikasies aan die einde van apartheid.

Grotendeels reken ek daarop dat ek en die Grey-boys ’n gedeelde geskiedenis het. Grey se aartsvyand is die Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch – wat juis toe mos is waar ék skoolgegaan het. Wat beteken ek en die Grey-boys het teoreties gesproke ’n broederlike wedywering in gemeen.

Ek moet meer uitvind van Grey Kollege uit ’n hoofseunagtige perd se bek. Ek kry vir Jean Craven, hoofseun van 1990.

Jean is ouer en meer gespierd as ek en is die baas van ’n welvaartfonds wat blykbaar goed vaar. Op Facebook en sy webblad, madswimmer.com, word die bron van sy lewenskragtigheid gedokumenteer: “Wat in 2009 begin het as ’n weddenskap een laat wintersnag in ’n chalet op die Franse berghange, het ’n groep dapper individue aangevuur om elke jaar ’n reeks ongelooflike swemtogte aan te pak om geld vir behoeftige kinders in te samel,” lees ek dit in Engels.

Uit oppervlakkige navorsing is ek gewoond daaraan om Jean in ’n Speedo te sien. In een van die fotogalerye op die webblad is hy in Antarktika. Hy sny deur donker water waar ysberge dreig. In ’n ander galery swem hy van Asië na Noord-Amerika, en dit lyk weer eens te koud vir swem. Maar hy doen dit in aangename plekke ook: van die Middellandse See en die Dooie See na die Malawimeer en Madagaskar. Dit het aan hom postuur en gespierde ewewigtigheid besorg wat ’n mens selde in mans van sy ouderdom vind.

Jean bly met sy vrou en twee dogters net om die draai in Johannesburg se boomryke noorde en ek gaan maak een Saterdag ’n draai daar.

Terwyl ek voor sy groot, moderne huis parkeer, sien ek ’n jong man op die grasperk op en af stap en duidelik instruksies oor sy selfoon blaf. Hy waai toe ek uit my kar klim. Ek wil nie sy vasberade oproep onderbreek nie, maar hy wuif my nader.

“Is jou pa hier?” wil ek saggies vra, maar hy onderbreek sy oproep, skud my hand en sê: “Deon, ek is nou by jou.”

Van nader is dit duidelik dat die jong man ouer as veertig is.

Vir die podcast praat ek en hy Engels, maar ons albei is Afrikaans; so ek vertaal terug.

“Was jou hele familie in Grey?”

“My oupa was daar in ’36, my pa in ’60, my broer in ’85 en ek in 1990. As ek seuns gehad het, sou hulle dalk ook soontoe gegaan het; hulle keuse …”

Jean is ’n Grey-boy uitgeknip en nog steeds baie betrokke by die skool wat hy dertig jaar gelede verlaat het.

“Sou jy sê Grey Kollege is die beste skool in die wêreld?”

“Ek sóú,” sê Jean en knik innig, “soos ’n ware Grey-boy sou.” Dan haal hy ’n oudskoolhoof aan: “Grey College is not an institution; it’s a way of life.”

“Hoekom?”

“Wel, dit onderskei hom definitief, ten minste op ’n sigbare wyse, in terme van die tipe persoon en seun wat [die skool] wil, jy weet, mould oor vier of vyf jaar. Jy weet: die etiket; die maniere … hoe om op te tree teenoor jou medeleerlinge, ouers.”

En: “Boonop het dit ’n baie ryk tradisie. Dis die derde oudste skool in Suid-Afrika; 1855. Uhm, en net [vir] seuns, wat, ek reken, dit, definitief vir sommiges, ’n bietjie meer spesiaal maak. Oor die afgelope 160 of so jaar het dit ’n fenomenale rekord. Voorwaar ’n plek om op trots te wees.”

Grey se bewering om die land se derde oudste skool te wees, is ’n dikwels herhaalde leuen; dit is die vyfde oudste. Die top-drie is seunskole in Kaapstad: SACS (1829), Wynberg Boys’ High (1841) en Bishops (1849). In 1855 is beide St Andrew’s College in Grahamstad en Grey Kollege in Bloemfontein gestig. (My eie alma mater het eers in 1866 op die toneel verskyn.)

Hoe dit ook al sy. Dit kom voor of my vraag volledig beantwoord is, maar Jean is nou eers opgewarm. “Uit ’n sportperspektief,” sê hy, “dink ek die meeste mense, wanneer hulle aan Grey Kollege dink, dink aan sy sportprestasies, veral rugby, krieket – ons het ’n hele paar beroemde Springbokke wat van Grey af kom. So, sport speel definitief ’n baie groot rol. Nie net by Grey nie, maar by baie ander beroemde Suid-Afrikaanse seunskole lyk dit of sport tipies boaan die agenda is. As jy ’n goeie sportman is, sou Grey ’n lekker plek wees om jou hoërskooljare deur te bring.”

Ek lyk dalk onvoldoende beïndruk, want hy swenk. “Nie dat ons nie akademies ook baie sterk is nie. Histories het ons nog altyd ’n klomp van die sterleerlinge, definitief in die Vrystaat en selfs in Suid-Afrika, wat uit Grey kom. So, ’n mens sou argumenteer dit het ’n redelik goeie balans. Dit gaan nie net oor sport nie; akademie speel definitief ’n baie groot rol.

“En daarmee saam, uh, kultuur, jy weet. Ons het een van die beste kore, definitief in die Vrystaat indien nie die land nie; ’n goeie orkes … Hoewel sport natuurlik ’n klomp van die aandag sal trek, sou ’n mens nie kultuur en akademie uitsluit nie.”

Dan vertel Jean rugbystories. Hy was in Grey se eerstespan in sy laaste twee jaar op skool. “Ons het net nou die dag daaroor gepraat,” sê hy. “In my hele skoolloopbaan het ek nog nooit ’n rugbywedstryd by Grey Kollege verloor nie, van die onder-14A’s regdeur tot in matriek het ek nog nooit ’n wedstryd verloor nie, wat … ek dink nie baie mense kan dit sê nie. Ek is baie, baie bevoorreg dat ek kon, jy weet, deur dit alles gaan.”

“Ja, maar was dit as gevolg van jou of ten spyte van jou?”

Jean vervies hom effens. “Rugby is ’n spansport,” antwoord hy. “Die kameraderie … soveel so dat ek selfs dertig jaar later teruggegaan het om vir ons Old Boys te speel [ses maande gelede], wat ’n ongelooflike voorreg was – om weer ’n Grey Kollege-rugbytrui oor jou kop te trek. Ek meen, wie sou kon dink, op 47, dat ek nog steeds rugby sou speel? Ek’t nog steeds ’n paar pains and aches van daai wedstryd.”

Dit is vier ure se ry met die N1 van die Goud- na die Rosestad, en ’n goeie tien ure verder Kaap toe as jy by die spoedgrens hou en net twee keer stilhou.

Maar ek gaan net so ver soos Bloemfontein op ’n stresvolle missie. Groot hier-is-die-manne-plekke maak my buitendien ongemaklik, en ek is undercover op pad na Grey as iemand wat nié deur een van die skool se onderwysers verkrag is nie.

Soos ’n Old Grey boy op pad vanuit Gauteng, neem ek die afrit na Nelson Mandela-rylaan en arriveer in die middestad. Soos u weet is Bloemfontein ’n klein en ietwat gatvol stad wat dit nietemin regkry om die grootste plek tussen Johannesburg en Kaapstad te wees. Dit is die hoofstad van die Vrystaat, waar die Boere eens republiek gehou het. Daar is ’n redelik goeie universiteit, ’n vermeende kleptokratiese provinsiale regering en Volksblad, die enigste dagblad.

Maar Bloemfontein se roos is Grey Kollege – ’n skool só uitmuntend dat ouers oor die ganse land heen hul seuns daarheen stuur om manne te word.

As u nuuskierig is oor Grey Kollege, maak Google Earth oop op u foon of tablet en soek na “Grey College” – nie die een in Engeland of Grey High School in Port Elizabeth nie. U is op soek na Grey aan Jock Meiringstraat, Universitas, Bloemfontein.

Soos Moeder Aarde u na sentraal-Suid-Afrika tuimel, merk u die blinkrooi wyser vir “Grey College”. As u die skool via die indrukwekkende fasade wil betree – en ek beveel dit sterk aan – gaan u Google Earth moet roteer tot die swembad se paviljoendak aan die regterkant is en die 22 tennisbane bo links. (Tien van die tennisbane behoort aan Eunice Girls’ High School, Grey se minder befaamde susterskool oorkant die pad.)

En nou, tesame, beskou ons die deftige hoofgebou se opregte provinsiale prag uit die Britse koloniale era. Voor die prag is karre geparkeer. Dit is waar ek parkeer op ’n herfsoggend in Bloemfontein.

‘n Enkele verhaal

Подняться наверх