Читать книгу ‘n Enkele verhaal - Deon Wiggett - Страница 20

11

Оглавление

Ek is op my senuwees en sit in my kar vir ’n minuut of so. Twee mans in ’n paneelwa hou langs my stil. Wanneer ek uit my kar klim, maak hulle ook so.

Ek haal diep asem, gryp my mikrofoon uit die kattebak en praat paraat eerste: “Is dit hier waar die kantoor is?”

Die mans is besig om toerusting uit te laai. Hulle is ’n kameraspan en het Grey toe gekom om rugby af te neem voor die kragmeting teen Paul Roos. Dis maar net hoe dit gaan by Grey – kameramanne in en uit by die deur.

“Ons gaat sommer nou saamstap!” sê die een wat meer omierig as sy maat is.

“Cool,” sê ek, “ek sal jou agtervolg.”

“Moet net nie dat ons agterkom nie!” sê die ander ou, wat minder omierig is, en ons almal lag lekker – u weet mos ons is hartlike mense.

Dan ’n vlaag onverwagse gebeure. ’n Paar treë voor die voordeur pop ’n figuur uit die bloute op. Sy is die kort en opgewekte Marzaan Venter, wat ek binnekort sal uitvind Grey se bemarkingsbestuurder is.

“Hallo, hallo, hoe gaan dit? Gaan dit goeee-oeeed?” borrel Marzaan, en haar klinkers reik hemelwaarts en tuimel dan weer in ’n gul gesang. Dan, aan die omie: “Meneer, ek neem aan … Kappie?”

“Dis hy!”

“Dit is goed so. Ek is Marzaan …” – nog ’n onderlinge gegroet – “… goed, dankie. Behalwe dat dit nou ewe skielik winter is. Ek wil weghardloop; ek’s glád nie ’n wintermens nie.”

Marzaan se vars en kompakte vreugde is nie wat ek by Grey verwag het nie. Sy kloek ons na binne en gesels soos haar klinkers opreik tot by ’n konsonant, van waar dit weer na benede gly deur middel van ’n diftong.

Ons is nou in die deftige hoofgebou en Marzaan sê ons moet asseblief wag terwyl sy gou vir mnr. Scheepers gaan haal.

Sy bedoel Deon Scheepers, die skoolhoof. My twee toevallige trawante begin deur sakke en baadjies grawe, klaarblyklik ook redelik gereed vir die ontmoeting. Hierdie is ’n rampspoedige verwikkeling. Ek besef teen nou terdeë dat ek aangesien word as die derde lid van die kameraspan, bes moontlik omdat ek ’n mikrofoon vashou. Ek beter iets sê, en vinnig. ’n Verwelkoming deur Skoolhoof Scheepers sal ’n patetiese begin vir ’n undercover-missie wees.

Ek laat van agter hoor: “Ek is … hierso om na julle museum te kyk; ek’s ’n oud-Paul Rooser.” Ek hoop dit is ’n voldoende verduideliking, maar hou nogtans nie op praat nie. “Ek’s net nuuskierig oor julle skool; ek was nog nooit hier gewees nie.”

“Oooooooo!” sê Marzaan. “Nee, maar ek kan jou gou-gou omvat.”

“Dit sal cool wees!”

“Ja, doodreg!”

Die twee TV-ouens en ek neem afskeid in ’n deeglike vlaag van “enjoy!” en “good luck!” en “julle ook!” en “dalk sien ons mekaar weer later.”

En ek en Marzaan stap by die spoggebou uit wat my so ontsenu het. Ek was net lank genoeg binne om my eerste leuen te vertel en totsiens te sê vir twee vreemdelinge.

Ons stap by ’n aangename, sonnige paadjie af, verby ’n groot en pragtige boom, op pad na die Grey Kollege-museum in die gebou langsaan.

“Askies! Ek dog jy’s saam met hulle!” sê Marzaan.

“Ek het maar daai familiar kind of houding,” antwoord ek in die deurmekaar Johannesburg-Afrikaans wat ek nou praat.

“Ai!” sê sy.

Ek begin haar vertel van my skoolkoerantprojek terwyl ons die Reünie-gebou binnestap. Dit is in dieselfde styl as die hoofgebou, maar nie van dieselfde negentiende-eeuse boumateriaal nie. Dit huisves die museum, asook Grey Together, ’n koffiewinkel vir besoekers.

“Ek gaan jou opvat,” sê Marzaan, en heroorweeg dan soomloos. “Of jy kan solank hier deurstap, dan gaan ek gou by Estie hoor of sy jou gou-gou kan deurvat en alles net gou vir jou verduidelik. Is dit reg so? Ek kry haar,” sê sy en pop weer uit, moontlik om vir Estie te sê: “Estie, hierdie ou van Paul Roos het nou net hier opgedaag en hy dring daarop aan om die argiewe te raadpleeg; ’skuus, Estie, maar ek het die TV-span hier, asseblief kan jy ’n plan maak met hom?”

Onder skuifel ek rond tussen uitstallings en uitstalkaste met sportnalia van Old Greys: Ryk Neethling, Bismarck en Jannie du Plessis, Ruben Kruger, Ollie le Roux, Francois Steyn en legio ander. Hier onder sal ek geen antwoorde vind nie.

“Hiér is jy!” pop Marzaan weer op. “Dis Estie.”

“Aangename kennis,” sê Estie. Sy is ouer as Marzaan en meer agterdogtig. Voor ons enigsins verder gaan, wil sy presies weet wat ek hier soek, baie dankie.

Marzaan sê: “’Skuus, ek het nou net vir haar gesê jy’s Deon en jy’s van Paul Roos, ek weet nou nie, is jy van ’n maatskappy, of wat presies …?”

“Ek is ’n documentary maker,” sê ek, wat waar is. Dan, oombliklik: “Ek was in Paul Roos. Klas van ’97. Uhm, en wat ek besig is om te doen, is ek kyk na skole- en universiteitsmedia in die aanloop tot 1994. Ek was die redakteur van ons skoolkoerant gewees en ek, daar’s ’n interessante storie om te vertel oor hoe die … hoe die skoolkoerante deel was van, van … wel, min, baie, dit hang nou maar af.”

Ek is ’n baie swak leuenaar. En weet ook nie wanneer om op te hou nie. Het ek al gesê van Paul Roos? “Plus, ek’s ’n Paul Rooser,” gaan ek voort, “so ons het obviously ’n lang geskiedenis met julle, uhm, so ek was anyway toevallig in Bloem, toe dog ek, weet jy: Hierdie is die perfekte tyd. Ek het hier aangekom en al klaar in al die regte mense vasgeloop.”

Marzaan lag lekker en vertel vir Estie van die verwarring met die TV-manne, na wie sy moet terugkeer. Dan sê sy: “Nou maar Estie, kan ek hom in jou veilige hande los?”

Dit is reg so met Estie, so Marzaan neem afskeid: “As jy iets nodig het of so, pop net weer daar by die hoofgebou in. Maar ek hoop jy kry wat jy nodig het, en geniet dit hier by ons!” en sy pop weer weg soos ’n klein speld.

Estie lei my die trappe op terwyl ek sê hoe pragtig die museum is.

“Dankie,” sê sy. “Dis net nooit klaar nie.”

Aan die bokant van die trappe is ’n glasdeur met ’n buzzer, en ek word deur die laaste hindernis vergesel.

En dan is ek in.

In hierdie argiewe is die antwoorde waarna ek soek. Ek gaan ’n skatkis in hierdie kaste en laaie vind. In hierdie hoërskoolmuseum, vanoggend, word Breytenbach se doppie geklink.

‘n Enkele verhaal

Подняться наверх