Читать книгу ‘n Enkele verhaal - Deon Wiggett - Страница 17

9

Оглавление

In my solder het die kataloguskaartjies outoverdeel in stapels wat netjieser kon wees. Met behulp van Willem se sosiale media het ek sy geskiedenis gereduseer tot datapunte in potlood op kaartjies. Die keer toe hy daardie seuns Brasilië toe gevat het? Ek kan jou sê wanneer hy gegaan het, en met wie, en wie iets op Instagram daaroor te sê gehad het, en wie nie, en wie skielik by posts ingesluit word, en wie nie, want dalk het hulle sy wentelbaan verlaat nadat hulle meer gesien het as wat hulle wou.

Die bogenoemde inligting is sorgsaam aangeteken op ’n kaartjie wat hoort in die Willem Breytenbach-stapel hier op my lessenaar. Maar daar is ook ’n Willem Breytenbach-stapel op Riaan se kanttafeltjie. Ek beter daardie kaartjies terugsit by hierdie stapel en dan die korrekte datapunte vind waarna ek soos ’n regte speurder al die Brasilië-inligting sal hê.

Willem het sy eie stapel, maar die ander is meer ad hoc. Daar is ’n hopie van die ander Breytenbachs. Hopies van Willem se kollegas en sy vriende. Een vir mense wat ek onthou in daardie tyd naby hom was, en wat my dalk sal help om meer te onthou. Of andersins dalk vir Willem dadelik sal bel die oomblik wat ek die foon neersit. So ek kan hulle nie nou al vra nie, maar ek beter hul name nietemin op kaartjies neerskryf, anders gaan ek net vergeet. Ek gaan hulle net vinnig stapel op Riaan se kanttafeltjie waar Willem s’n van weg is, net tot ek kan besluit wat my plan met hierdie mense is.

Die kaartjies van vermoedelike oorlewers is grieselrige leeswerk. Daar is so baie van hulle dat ek die kaartjies taktvol moet onderverdeel, en ek steier onder wat ek dink Willem net in die afgelope dekade verkeerd gedoen het.

As die patroon hou, en hierdie seuns deur ’n psigopaat verkrag is, sou hulle eers deur seksuele grooming voorberei word. Daar is tot ses fases van grooming en dit word eers teen die einde seksueel van aard. Die eerste vier fases is doelbewuste manipulasie wat ontwerp is om ’n teiken gereed te maak om verkrag te word en dan stil te bly daaroor.

Eerstens kies die pedofiel die teiken. Hy is altyd op die uitkyk, met spesifiek ’n oog op weerlose kinders – dié wat geïsoleer of onwaardeer voel en dus vatbaar vir aandag is.

Tweedens wen hy die teiken se vertroue. Hy neem fyn waar en leer wat die kind se behoeftes en swakhede is sodat – in fase drie – hy dit kan vervul. Normaalweg word dit vermag deur die kind geskenke te gee en die skyn van sorg voor te hou. Hierdie is die punt waar ’n brulpadda ’n kind se held word.

In die vierde fase word die teiken verder geïsoleer. Die groomer gebruik sy spesiale verhouding met die kind om hom alleen te kry, want dit is moeilik om ’n kind in die teenwoordigheid van ander te verkrag. Dié word dikwels oorkom deur die ouers ook te groom, as’t ware; hy moet húl vertroue ook wen en hulle aan sy teenwoordigheid in hul kind se lewe gewoond maak.

Wanneer die twee eers begin om tyd alleen deur te bring, kan die vyfde fase begin: geleidelik begin die volwassene die verhouding seksualiseer. Die kind moet gedesensiteer word oor seksuele aangeleenthede. Eers net ’n vinnige verbale verwysing na iets. Dalk sal hulle saam verklee of langs mekaar pie. Die pedofiel weet al te goed dat kinders van nature nuuskierig is – hy sal iets voor hul neuse hang; hul nuuskierigheid bewerkstellig; hul sin vir gelykheid vestig. Dit is noodsaaklik vir die groomer om die illusie van outonomie in die teiken te skep. Teen die tyd wat broeke om enkels eindig, dink die slagoffer hy is ’n grootmens en ’n gelyke deelnemer. Bietjie vir bietjie vorm die groomer die kind tot hy aan hom kan doen wat hy wil. Tot die kind die seksobjek is waarvoor die man hier is.

Die laaste fase van grooming is om beheer te behou. Die verkragter shame die kind en blameer hom vir wat aan hom gedoen is. Dalk dreig hy die kind met blootstelling en vernedering. En omdat hy homself in die middel van die kind se lewe geplaas het, weet die kind nie meer waar om te gaan of wie om te vertrou nie. Vernederd begrawe die kind wat met hom gebeur het en dink nooit weer daaraan nie.

Die ses fases het ten doel om kinders te beheer. Maar die sukses daarvan vereis ’n bedrog só diep dat dit die oorlewer ’n leeftyd sal neem om daarvan ontslae te raak.

*

Vir die meeste van ons klink pedofilie onmoontlik, so ons let nie daarvoor op tot dit te laat is nie. Hoe sou ons die wêreld anders sien as ons sou aanvaar dat pedofiele wel bestaan?

Byvoorbeeld: Hier is ons nou, ’n getroude paartjie, by ons sesjarige seun se rugbywedstryd. Vir so lank as wat enigiemand kan onthou, rig oom Fanie al die onder-7-rugbyspan af. Die seuns is mal oor hom, en hy is mal oor hulle.

Terwyl ons op die paviljoen wag, het oom Fanie en die onder-7’s ’n spanpraatjie op die veld. Die seuns lyk te kostelik in hul nuwe rugbytruie. Oom Fanie help met iemand se sokkies en gee die seun dan ’n drukkie – hy is ’n taktiele mens; almal weet dit.

Die wedstryd begin, ons seun Danie speel sy rugby, en hy druk ’n pragdrie! Ek en jy loop oor van trots op ons liewe en ratse lat. Hier hardloop hulle nou verby, en ons waai vir Danie en die span. Hulle is op pad kleedkamers toe met oom Fanie wat omtrent lyk soos ’n kat wat room gekry het.

Maar waarom straal oom Fanie so? Dalk tree hy presies op soos enige behoorlike mens sal, maar kom ons stel ons gou voor dat hy nie soos ons is nie. Het hy ander motiewe as wat ons sou hê? Sê nou maar jagse oom Fanie het ’n tipe: hy hou van sportiewe seuns jonger as sewe. Hoeveel weet ons werklik van oom Fanie en waarom hy die seuns afrig?

Ons sesjarige bons vars uit die kleedkamer, gloeiend van sy sportiewe vertoning. “Ma, Pa, het julle dit gesien? Oom Fanie sê ek’s ’n natural!”

Na ’n vlaag van ouervreugde sê Danie: “’n Paar van ons gaan na oom Fanie se huis toe, kan ek ook asseblief gaan? Assebli-ie-e-ef?”

As ek en jy onbehoedsame ouers was, sou ons albei dink: daardie Fanie darem! Sy entoesiasme vir ons seun is eindeloos.

En ook: ’n Middag af klink wonderlik, want kindersorg is vermoeiend.

Ek en jy is behoedsame ouers. Die paviljoen loop leeg en Danie smag na ’n antwoord soos Rina Hugo na Troepie Doepie. Maar tussen die twee van ons het ons net meer vrae. Presies hoeveel seuns gaan na Fanie se plek toe? Wat gaan hulle daar doen? Gaan hulle swem? Gaan Fanie die seuns dikwels drukkies gee om hulle gewoond te maak aan sy aanraking? Sal hulle ooit saam kaal wees vir ’n skynbaar onskuldige rede, soos om te verklee of te stort of langs mekaar te pie? Gaan ons seun ooit alleen wees met oom Fanie, sy held? As Fanie met ons seun se penis wil speel, sou hy die kans kry?

Ons het besluit. As Danie werklik so graag wil gaan, sal ons moet saamgaan en Fanie van naderby bekyk. Langs die swembad by Fanie se plek kyk ons hóé hy na die kinders kyk. Indien hy hulle dophou, wat presies hou hy dop? Volg die lyn van sy sig. Kyk hy na sekere dele van die kinders se liggame? Lyk dit of hy meer daarin belangstel om die kinders fyn dop te hou as om ’n bier saam met die grootmense te drink terwyl hy ’n oog hou op die kinders? As Danie ’n grootmens was, sou ons dalk dink dat oom Fanie met hom flirt? As Fanie ’n pedofiel is wat wegkruip waar pedofiele wegkruip, kyk ons dalk hier na ’n man met ’n crush op ’n kind?

Kinders het helde nodig, want goeie mense wys hulle hoe om self goed te wees. Maar regte helde probeer nie om helde te wees nie; dit is ’n eretitel wat toegeken word en nie nagejaag word nie. As iemand probeer om ’n kind om te koop met geskenke, uitstappies en buitensporige komplimente, kyk ons dalk nie hier na ’n held nie. Ons kyk hier na iemand wat ’n kind probeer verlei.

“Childhood sexual seduction” is hoe Oprah Winfrey, self ’n oorlewer, daarna verwys. Dit is eindeloos meer akkuraat as “stranger danger”, ’n term só onhulpvaardig dat dit netsowel deur pedofiele self uitgedink kon wees. Die roofdiere is selde vreemdelinge; meer dikwels is hulle welbekende vryers.

Eerstens moet ons onthou dat pedofiele nóóit ophou dink aan maniere om by kinders uit te kom nie. Jagters volg die prooi. Nie elke onderwyser of dominee of afrigter is ’n kinderverkragter nie, maar as jy wél ’n kinderverkragter is, is dít die soort beroep wat jou lok: ene waar jy oënskynlik onskuldige toegang tot die teikenmark het. Wanneer ons iemand sien wat entoesiasties is oor kinders, kan ons nie net aanneem dat hul beweegredes dieselfde is as ons s’n nie.

Tweedens het pedofiele meestal ’n tipe, en hulle vind dus maniere om hulself te omring met kinders met die bepaalde voorkoms van hul keuse.

Om ons kinders te beskerm moet ons, onsmaaklik soos dit is, die wêreld sien soos kinderverkragters dit sien. Dit is beter om die ergste aan te neem tot jy seker is – in jou kop en hart en derms – dat jou kind veilig sal wees met ’n volwassene wat sy held is.

In my solder werk ek my op oor Willem se Instagram. Ek sien hoe hy hom verander in die held van seuns wat lyk soos ek gelyk het toe ek hul ouderdom was. Hy geniet hulle ouer as oom Fanie – seuns tussen 13 en 16 – maar ’n paar jaar in enige rigting is ook goed genoeg. As sy gunsteling nie beskikbaar is nie, sal ’n brulpadda ’n ander plan maak.

Volgens die profiel is die huidige seuns net die nuutste in ’n patroon wat begin het lank voor mý gasverskyning in 1997 en volgehou behoort te word tot die dag wat Willem ons met sy afwesigheid seën.

Maar al is die Instagram-bewyse daar vir enigeen wat wil kyk, is dit wetlik betekenisloos as ek geen van hierdie seuns kan kry om te erken wat met hulle gebeur het nie. Die probleem is: hierdie seuns op Instagram is te onlangs getraumatiseer. Die morsige ontmoeting met Mike het my daarvan oortuig.

Ek maak weer Willem se LinkedIn oop. Die eerste keer wat ek dit gelees het, het ’n vreemde gaping my opgeval. Hy sê hy het in 1987 graad gevang by die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, en het toe in 1995 in Kaapstad begin werk. Vreemd. Wat dan van die sewe jaar wat hy skoolgegee het by Grey Kollege? Hoekom sou hy sy luisterryke onderwysloopbaan verswyg?

En dít is wanneer ek iets besef wat deurslaggewend sal wees. Something that will blow this case wide open, soos hulle graag in rillers sê.

Ek soek na die verkeerde ouens. Die Instagram-mans is seuns en hulle is bang. Dit het mý twee dekades geneem om my verkragting te sien vir wat dit is: ek kan nie van hierdie seuns verwag om te begryp watse bedrog nou in hul geeste woon nie.

Ek moet mans vind wat ouer is as ek, nie jonger nie. Mans wat reeds twintig-plus jaar gehad het om hul verledes te verwerk. Mans wat Willem se leerlinge was en wat hy nou probeer wegsteek. Dit is tussen hierdie mans dat ek konkrete bewyse sal kry – getuies sal vind. Dít is hoe ek vir myself ’n paar broers sal vind.

Ek weet nou waar om te soek. Willem het immers nie áltyd geswyg oor die geheimsinnige jare van 1988 tot 1994 nie. Eens op ’n tyd was hy baie trots op wat hy alles by Grey Kollege uitgerig het. Toe ek hom ontmoet het, het hy my dit alles vertel.

‘n Enkele verhaal

Подняться наверх