Читать книгу Stories van Ruyswyck - Alba Bouwer - Страница 5

Die koshuiskamer

Оглавление

ALIE SIT penregop op die stoel, net soos ’n meerkatjie op ’n miershoop. ’n Bewerige meerkatjie op ’n vreemde miershoop.

“Volle naam, asseblief?” vra juffrou Naudé, en sy pik met die skerppuntpen in die ronde inkpotjie.

“Aletta Susanna,” sê tant Lenie, “maar ons noem haar nog al die jare Alie.” Sy kyk ’n slag na Alie. “Ek weet ook self nie hoekom nie,” sê sy.

Juffrou Naudé kyk nie op van die penpunt wat op en af, op en af oor die papier draf nie. “Hmm,” sê sy, “Aletta is so ’n mooi Boerenaam. Ouderdom?”

“Dertien jaar en een maand,” sê tant Lenie, en sy versit die swart handsakkie wat binne-in so na laventel ruik van die een knie na die ander en skuif ’n bietjie agtertoe op die stoel.

Juffrou Naudé kyk op en dit voel of haar oë Alie se gesig ’n rukkie styf vashou, soos twee groot hande, en toe vinnig laat los toe die pen weer oor die papier begin skuiwe.

“Hmm,” sê sy, “jonk vir graad nege. En u wil nou hê sy moet in die Engelse seksie kom, mevrou?”

Tant Lenie lyk soos ’n kind wat hoofrekene doen en nie heeltemal die regte antwoord weet nie, maar sy sê sommer gou: “Ons reken dis die beste vir haar om sommer nou goed Engels te leer, ten minste, ek reken so.” Die swart handsakkie skuif weer terug na die ander knie. “Sien, juffrou Naudé, op so ’n Vrystaatse plaas kry die kinders nie baie kans om Engels te praat nie. Terwyl sy nou hier in die Boland skoolgaan, moet sy maar goed Engels leer.”

Op so ’n Vrystaatse plaas. Dis vir Alie soos ’n hand wat ’n blinding voor ’n venster laat opskiet sodat dit lig word en ’n mens skielik ver kan sien nadat jy lank in die donker vasgekeer was. Die rivier en die doringbome; die blou rantjies met die pad wat oor hulle aankom; die waenhuis met die tuie teen die muur en die geslagte bees aan die haak; ou-Melitie se twee lang, swart hande om die stoofyster, en die kiewiete wat in die nag ver weg roep. Alie kap haar enkel saggies teen die stoel se poot om te kyk of sy regtig hier in die vreemde koshuis sit en of sy nie dalk op Rivierplaas ’n storie staan en droom nie.

“Sit mooi stil, ounooi,” sê tant Lenie hier na haar kant toe, en Alie skuif ’n slaggie heen en weer en sit haar voete in die nuwe skoene mooi langs mekaar neer sodat die veterstrikke saggies bewe.

“Goed, dankie dan, mevrou,” sê juffrou Naudé, en sy sit die skerppuntpen neer. “U is nog ’n rukkie hier by u broer en suster op die plaas, nè? Ek sal laat weet as daar nog iets is wat sy moet kry.”

Tant Lenie staan op. “Ek is nog twee weke hier, dan moet ek teruggaan Vrystaat toe; my man is alleen op die plaas,” sê sy. Toe word haar stem weer soos op die kombuisdrumpel of voor die rondawel op Rivierplaas. “Juffrou moet haar maar kortvat as sy dalk gruwelik is,” sê sy. “Ons wil nie klagtes hoor nie.”

Juffrou Naudé se oë word ’n bietjie kleiner sodat hulle nie Alie se gesig so baie styf vashou nie, toe sê sy: “Wag, ek roep gou een van die dogters om haar na haar kamer te neem.”

“Alie,” sê tant Lenie, en sy vat Alie om die skouers, “jy moet nou mooi leer, my kind, moenie hier staan en skandes maak nie, hoor!”

Alie kyk na die veterstrikke op haar skoene, maar voordat sy iets kan sê, kom juffrou Naudé terug met ’n meisie wat in die deur bly staan, ’n vettetjie met ’n ronde gesig en vaal hare.

“Hanna,” sê sy vir die meisie, “dis mevrou Neethling en dis Aletta van die Vrystaat. Sy is in kamer nommer ses in Aemstelhuis. Stap saam met haar en wys haar waar die plek is. Dis Hanna Louw, Aletta.”

Tant Lenie buk oor Alie. “Soet wees, my kind,” sê sy en sy soen haar op die wang en gee haar ’n drukkie om die lyf, en dit lyk of sy nog iets wil sê. “Nou ja,” sê sy, “dit sal wel goed gaan. Moenie koue water drink as jy warm gehardloop is nie, Alie, en maak skoon jou naels.” Sy gee ’n vinnige slukkie. “Soet wees, my kind,” sê sy soos een wat nog iets soek om te sê, maar niks kan kry nie. Alie maak haar mond oop, maar sy kry ook niks om te sê nie, toe soen sy tant Lenie maar nog ’n slag en stap agter Hanna Louw aan.

“Wag,” sê Hanna, “ek sal jou groot koffer dra, vat jy die kleintjie.”

“Het jy baie nuwe klere? In watter klas is jy? Ek is in graad nege, maar ek is al van graad ag af hier. Ek het net twee nuwe kerkrokke en nuwe skoene, al my goed is nog van verlede jaar. Ek wens ek groei hulle gou uit.”

Alie weet nou nie of sy moet sê van haar klere wat alles nuut is, alles soos daar op die wit papiertjie van die Ruyswyck-skool gestaan het, en dat sy in graad nege in die Engelse seksie is nie. Sy loop ’n entjie agter Hanna en kyk na haar bene wat so mooi rond en dik is en so bewe as sy haar voete neersit. Hanna skuif die koffer na haar ander hand.

“Dis nie regtig swaar nie,” sê sy, “net ongemaklik. Nee, toe maar, ek sal dit vir jou dra. Ek dink jy is in ’n kamer saam met Minnie Bosman en haar suster Santa. Minnie is in graad twaalf, sy is al lank hier, sy’s baie gaaf. Santa het nou net gekom, sy is in graad nege. Sy huil al van gister af aanmekaar oor haar ma. Minnie het ’n kêrel in die Noordskool. Ek hou baie meer van die seuns in die Suidskool, want my neef is daar en hulle baadjies is baie mooier.”

Alie sluk om iets te sê. “Ja,” sê sy.

Hulle stap by die Hoofgebou se trappies af en kom in ’n paadjie onder hoë bome met breë, blink blare. “Daar links is Delfthuis, by die groot magnoliaboom,” sê Hanna. “Dis die verste van die Hoofgebou af en al die soetste outjies is daar. Die meeste jong outjies is in Aemstelhuis, en al die stoutes is in die Hoofgebou met net ’n paar soetes tussenin, so onder ou Nottie se oë. Het jy gesien hoe groot is haar oë as sy vir jou kyk? Sy sien tot in jou harspan, dit moet jy weet.”

Hanna stap in die skemerdonker gang van Aemstelhuis in waar oral stemme agter toe deure zoem, klop aan ’n deur met ’n ses daarop en draai dit oop. “Haai, julle kêrels,” sê sy, “dis nou Aletta Neethling, sy kom van die Vrystaat af. Haai, Aletta, in watter klas is jy nou weer? Jy praat dan ook niks! Dis nou Minnie en dis Santa, en wat maak jy hier, Corrie? Ek dog jy is vanjaar in die Hoofgebou onder ou Nottie se kykers? Jy soek seker al weer iets te ete en die jaar het nog nie eers begin nie.”

Die lang meisie met die bruin krulhare kry sulke klein krakies om haar mond en oë. Sy stoot ’n kaslaai toe en steek haar hand uit. “Dag, Aletta,” sê sy. “Het jy nie langs die pad flou geval van al Hanna se praatjies nie? Hanna, draai toe jou kraan dat ’n ander mens ook ’n slag kan praat. Aletta, dis my suster Santa en hier sit Corrie Jansen. Jy is in graad nege, nè?”

Elke keer dat Minnie sê “Aletta”, voel dit vir Alie of haar ore toeslaan soos van die groot woorde in die Hollandse Bybel. “My naam is eintlik Alie,” sê sy, “en ek is in graad nege.”

“Dag, Alie,” sê Santa, en sy steek haar hand uit. Haar hare is net so krullerig soos Minnie s’n, maar sy het nie krakies om haar oë nie.

Corrie Jansen dop agteroor op die bed en skop met haar bene bokant haar kop. “Alie, balie,” skree sy, “Alie, balie. Waar kry jy dan so ’n naam? Ons het ’n ou guskoei met die naam van Alie.” Sy swaai haar bene vorentoe en sit weer regop. Haar hare is kort geknip soos ’n seun s’n en haar neusie lyk vir Alie soos juffrou Naudé se skerppuntskoen. “Haai,” sê sy, “ek noem jou sommer Balie. Net jammer jou beentjies is te dun vir ’n balie.”

“Jinne, Corrie,” sê Hanna, “ou Nottie sê altyd ’n mens moenie persoonlik wees nie.”

“Ou Nottie in haar kottie,” sê Corrie. “Is jy slim, Balie? Ek het graad ag gedop en graad nege ook, dalk is ons twee in een klas. Hoe oud is jy? Tien of elf? Jy lyk nog soos ’n bybie.”

“Ek is dertien,” sê Alie soos een wat hees is. Haar keel voel so dik soos voor ’n verkoue, en sy skuif agtertoe totdat sy teen die kas staan sodat Corrie nie haar beentjies moet sien nie.

Minnie gee Corrie ’n stoot. “Kyk hier, Kerneels,” sê sy, “vat nou jou goed en trek sodat Alie kan uitpak. Jy’t nie vry sê in hierdie kamer nie, hoor! Uit met jou!”

Corrie skuif tot teen die deur. “Balie,” sê sy, “jy moet goed hou met ou Hanna, want sy is ons posdraer na die Suidskool toe, sy’t ’n neef daar, dalk het jy nog ’n kêrel daar. Gaan julle almal in julle blikkies, ou Santa ook wat net kan huil. Toedeloe!” Sy ruk die deur ghoef! toe.

“Sjuut!” sê Minnie. “Hoor daar!”

“Corrie,” sê ’n stem in die gang, “gaan nou terug en maak daardie deur ordentlik toe. Het jy dit nog nooit geleer nie?”

“Ja, juffrou, ekskuus, juffrou,” sê Corrie. Sy maak die deur saggies oop met haar oë op die vloer en druk dit dan net so saggies toe.

“En moenie dat ek jou weer hierdie tyd van die aand in ons gebou kry nie, hoor! Gaan dadelik terug na jou kamer,” sê die stem weer.

“Dis juffrou Wagner,” sê Hanna. “Sy gee Geskiedenis en sy’s kwaai, maar sy’s nooit naar nie. Alie, gaan jy dan nie uitpak nie? Jy staan nog altyd op dieselfde plek en jy sê dan niks.”

“Hierdie twee laaie is joune en agter hierdie gordyn kan jy jou klere hang,” sê Minnie. “Kom, Santa, kom pak jou klere klaar uit en basta nou verder huil, wat.”

Alie voel soos ’n draaipoppie wat skoon afgeloop was en nou skielik weer opgewen is. Sy trek haar nuwe baadjie met die mooi blou Ruyswyck-wapen op die sak uit en sit dit op die leë bedjie met die wit deken neer. Toe knip sy haar koffer oop en ruik die laventelblommetjies van Rivierplaas se kas waaruit die blou handdoeke en die lakens kom. Die blinding in haar kop wil-wil net weer opskuif, maar sy skud haar kop en begin die nuwe kerkrok en die springjurk en die hemde uithaal.

“Jô, nonwetjie Alie,” het ou-Melitie gesê, “darem jou rokkie sy sal die moiste wees by darrie skool, en die hempie ok, sy’s alman nuut. Wie sal vor jou stryk die hempie sos jy’s ver? Jy sal by my denk?”

“Ou-Melitie,” het Alie gesê, “ek sal elke dag aan jou dink as ek ’n nuwe hemp aantrek, en ek sal elke dag wens dis amper winter dat ek kan huis toe kom en vir jou alles vertel.”

Elke dag van die vakansie het Alie na die kerkrokkie met die stiksels en na die hemde gekyk, en dit was vir haar soos iets wat nog nie heeltemal hare is nie, net soos die nuwe jim wat tant Magriet gemaak het en wat die skool se lysie ’n springjurk noem. Nou is al die nuwe klere hare, en nou is hulle niks meer mooi nie, want hulle lê nie meer in die onderste laai van die hoë kassie tussen die wit papier nie. Haar keel voel weer dik soos ’n verkouekeel en sy skrik toe Hanna aan haar rok trek.

“Haai, Alie, staan jy en slaap? Jy hoor nie eers ek praat met jou nie, man!”

“Maar Hanna, jy praat so aanmekaar dat ’n mens aan die slaap raak of doof word daarvan! Laat staan my nuwe kammie,” sê Minnie en sy gee Alie ’n klappie op die rug en begin ’n koffer op Santa se bed uitpak.

Dis vir Alie skielik of haar hemde mooier lyk in die vreemde laai op die stuk skoon koerantpapier, want dis mos haar kamer en haar laai, net soos die kamer en die laai op Rivierplaas, en sy kyk op en sien weer die krakies om Minnie se oë.

“Kyk hoe mooi pak Alie hopies klere,” sê Hanna. “Jy sal altyd baie punte vir jou laaie kry, Alie, moet net nie jou frokkies onder jou hemde sit nie, ou Mierie hou nie daarvan nie.”

Alie draai om. “Kry ons dan punte vir ons laaie?”

“Hier kry jy punte vir elke hoes en proes wat jy gee,” sê Hanna. “Ou Mierie, die matrone, loop al die kamers elke week deur en gee punte vir die laaie en die kamers, en dan lees ou Nottie dit in die eetsaal uit. Jy moet ’n papiertjie met jou naam daarop op jou laai se rand plak. Ons moet soggens uitvee en afstof ook. Haai, Santa huil al weer! Alie, gaan jy ook so huil? Jou ma is mos baie ver. Ons woon in die Karoo, dis net ’n dag met die trein. Het jy broers en susters, Alie? Ek het ’n groot suster wat al ’n kêrel het en ’n broer wat ’n bietjie ouer as ek is. Haai, jy praat darem baie min, weet jy!”

“My jinne, Hanna,” sê Minnie en sy val op haar bed neer, “jy praat ’n mens se bene lam. Jy vra Alie uit en dan wag jy nooit dat sy moet antwoord nie. Word jou kakebene nie glad uit lit uit nie? Santa, basta huil nou, man, ek gaan nie al jou goed uitpak nie.”

“Jinne, Santa, jy het dan vir Minnie hier by jou en jou ma sit net hier om die hoek op die volgende dorp! Vir wat huil jy?” vra Hanna.

“Ag, loop julle!” sê Santa en sy swaai haar kop en snuif ’n harde snuif. “Ek huil oor my pa wat my elke aand kom toegooi. Ek gaan nie hier bly nie, ek gaan sê Pappa moet my kom haal! Ek sal nie hier bly nie!” skree sy en val plat in die kussing met ’n fyn huiltjie.

Alie staan doodstil met haar nuwe waslappie en haar kam en borsel in haar hand. Dit voel of ’n mens afluister as ’n ander kind so voor jou huil.

Hanna se ronde blou oë gaan groot oop, maar Minnie kyk nie eers op van die laai wat sy regpak nie.

“Het jy broers en susters, Alie?” vra Minnie, so net of hulle in ’n ander kamer sit waar niemand so snik-snik en snuit-snuit nie.

Alie voel of sy wakker skrik en sy hang gou haar waslap oor die reling van die wastafel.

“Ja,” sê sy, “ek het ’n klein broertjie. Sy naam is Hennie en hy gaan vanjaar vir die eerste keer skool toe. Maar ek het ’n maat op die plaas wat amper soos my suster is; haar naam is Lulu. Sy is nou in ’n kloosterskool op Kimberley.”

“Haai, dis ’n snaakse ding om na ’n kloosterskool toe te gaan! Wat …” sê Hanna, maar Minnie praat sommer dwarsoor: “Julle het seker ’n mooi plaas, nè, Alie?”

Alie kyk op. “Ja,” sê sy, “ja, dit …” en toe is dit soos baie toefelantatprentjies wat vinnig oor mekaar skuiwe dat sy nie een mooi kan sien nie: die rivier waar dit na nat grond en gom ruik; die blink lywe van die Afrikanerbeeste wat teen mekaar die kraalhek inbeur; die vaal misvuurrokies oor die vlei langs die strooise; die klip-klop van die perdepote in die pad teen skemeraand; die kraak van ou Aron se sweepslag langs die kraal in die vroeë oggend. Al hierdie prentjies val oor mekaar in haar kop, en Alie kan nie van een van hulle mooi sê nie. “Ja,” sê sy, “ons het ’n mooi plaas.” Toe bêre sy haar kam en borsel in die laai en stoot dit saggies toe.

Katieng, katieng, katieng! lui ’n klok skielik so hard in die gang dat Alie agtertoe trap van skrik.

Hanna spring op. “Uittrekklok! Nag, julle ous. Ek moet nog party van my goed gaan uitpak en my skooldas soek; ek weet nie waar my ma dit ingepak het nie. Ek hoop jou sussie hou nou op met huil, Minnie,” sê sy al buite in die gang en trek die deur toe.

“Ons het ’n halfuur om uit te trek,” sê Minnie, “en dan lui die klok vir die stiltyd, Alie. Maak maar gou jou bed op, dan gaan bad ek solank terwyl julle uittrek. Kom, Santa, trek jou uit en borsel jou tande. Hier is jou klein kussinkie ook op jou ander kussing, net soos by die huis.”

Santa sê niks en dit voel vir Alie of sy vir haar kwaad is. Miskien moet sy vir haar iets sê. “Weet jy, Santa,” sê sy, “my boetie het op net so ’n klein kussinkie geslaap toe hy ’n babatjie was. Daar was ook sulke blou blommetjies op uitgewerk.”

Santa los haar rok wat al halfpad oor haar kop is. “Jy hoef nie te maak of ek ’n babatjie is nie, hoor jy! Ek is amper veertien en ek kan op enige kussing slaap as ek wil. Basta met my skoor! Ek hou nie van jou nie!”

Dis soos toe Sammie eendag verkeerd gemik het met die sweep en die voorslag Alie om die kuite gevang het, net so is dit, en Alie staan agter haar bed soos ’n vasgekeerde skaaplam teen ’n lyndraad. Toe slaan sy stadig haar onderlaken onder die matras in en gooi die bolaken oop, maar haar hande is los van haar. Ou-Melitie se boerseep en die son op die wasklip by die rivier slaan om haar op, en sy knip haar oë dat hulle nie so vaal en so styf moet voel nie. Sy trek haar klere saggies uit en hang hulle agter die hoekgordyn, want as sy ’n gerasie maak, is dit dalk ook soos ’n verkeerde ding wat sy sê. Die nuwe blou kamerjas en die blou pantoffels voel glad nie soos hare nie, en sy kyk gou in die spieëltjie op die kas of dit nog haar gesig is. Toe hang sy die springjurk en ’n wit hemp en die skooldas oor die stoel voor haar bed en sit die nuwe skoene mooi onder die stoel neer met die veters binne-in soos tant Lenie haar geleer het. Sy sal sommer gou in die waskom was en haar tande borsel.

Ghoef! gooi Santa haar een laai toe net toe Minnie by die deur inkom. “Kyk hoe mooi lyk Alie in die blou kamerjassie,” sê sy, “en Santa is ook al klaar uitgetrek. Onthou om te wens, want dis julle eerste nag in die kamer, hoor!”

“Ek wens ek is nie meer môre hier nie,” sê Santa. “Dis ’n ou nare plek vol nare mense.”

Katieng, katieng, katieng! lui die klok.

“Stiltyd,” sê Minnie en sy neem haar Bybel en kniel voor haar bed.

Alie neem die groen Bybeltjie met die vier Evangelies en die Psalms in Afrikaans en kniel op die matjie voor die bed. Sy maak dit oop om te lees, maar haar kop voel soos ’n vieruurtjiebos vol skoenlappers en sy maak maar liewer haar oë toe om te bid.

“Liewe Jesus,” bid sy, “dankie vir, dankie vir, vir …” Maar sy sien net Santa se dik, rooi oë en oop mond voor haar, en diep in haar keel brand ’n klein seer kolletjie. Miskien moet sy môre vir Santa een van haar nuwe sakdoeke gee. Nee, ’n mens gee nie sommer vir vreemde mense goed nie. Miskien kan sy vir haar sê sy kan haar mooiste potlood leen, want in die groot skool skryf ’n mens mos nie meer met ’n lei en griffel nie. Of sy kan Santa se bed help opmaak. Alie voel die rand van die groen Bybeltjie teen haar ken. “Liewe Jesus,” bid sy, “dankie vir Pa en Ma en Hennie en ou-Melitie en Lulu en almal op Rivierplaas. En dankie vir … vir …” Die seer kolletjie in haar keel skuif tot in haar mond en sy sluk ’n harde sluk. Môre is dit Maandag, dan kom die dorpskonstabel Rivierplaas toe om te kyk of daar nie bier by die strooise gebrou is nie. Dan maak hy sy perd aan die hoekpaal vas, en ou-Melitie skink vir hom koffie in die tweede beste koppies. En tant Lenie gee vir hom – Alie maak haar oë vinnig oop en knyp hulle weer toe. Maar tant Lenie en Hennie is mos hier naby, sommer hier anderkant die dorp op oom Koos se plaas. Die seer kolletjie in haar keel sak weer laag af en bly sit. Voordat dit weer Sondag is, sal sy tant Lenie mos sien, en vir Hennie. En môre, net môre as Santa weer met haar naar is, sal sy hard spoeg tot by Santa verby en sy sal omdraai en uitloop en die deur hard toeklap.

Katieng, katieng, katieng! lui die klok.

“Liewe Jesus,” bid Alie gou soos net Hennie nog bid, “ik ben ’n kindjie klein, maak tog nou my hartjie rein. Amen.” Toe spring sy op, trek haar kamerjas uit en klim in die bed.

“Ek sal die lig doodmaak,” sê Minnie, “my bed is die naaste aan die deur. Is julle in? Nag, Alie. Nag, Santa; moet nou nie weer huil nie, my bed is hier by joune. Net Alie lê alleen in die hoek.” Knips! druk sy die skakelaar, maak die houtblindings voor die groot venster oop en klim in die bed.

“Nag, Minnie, nag, Santa,” sê Alie.

“Nag,” sê Santa.

Êrens in die gang lag ’n meisie saggies, toe is dit ’n rukkie doodstil voordat die voetstappe in die gang afkom, pieks-paks, pieks-paks tot voor die deur. Die deur gaan oop en knips gaan die lig weer aan. Alie loer oor die rand van die kombers en sien ’n juffrou in ’n groen rok met groot, ligte oë wat saam met haar mond lag.

“Nag, meisies,” sê sy. “En julle nuwe outjies moet lekker droom vannag by ons, hoor!”

“Nag, juffrou,” sê Minnie, en Alie sê agterna: “Nag, juffrou,” maar Santa lê doodstil soos een wat slaap.

Knips! kraak die skakelaar weer, die deur gaan toe en pieks-paks gaan die voetstappe in die gang af en hou stil by nog ’n deur en nog ’n deur en nog ’n deur. Alie draai haar om en sien hoe die blare van die magnoliaboom naby die venster swart skaduwees teen die muur maak. Zoei-oei! sing ’n muskiet in die ander hoek van die kamer, en die nagwind laat die tafeltjie voor die venster saggies kraak. Toe is dit of die nagwind alles om haar wegblaas en sy staan ver weg en koud en alleen op ’n klipkoppie waar niemand haar kan sien of hoor nie en waar sy net kan sien hoe Rivierplaas se huis en die doringbome en die rantjies al hoe verder wegraak, wegraak. Sy sluk nie eers ’n sluk nie, sy voel net hoe die nat, warm strepies teen haar wange afloop en ’n klam kol onder haar oor op die kussing maak.

Zoei-oei! sing die muskiet, en die nagwind vroetel skelm in die blare voor die venster en lig Alie uit die bed uit en blaas haar soos ’n grasdonsie van die klipkoppie af en al met die wolke langs tot in haar bed op Rivierplaas waar sy haar in die lakens invroetel en suutjies aan die slaap raak.

Stories van Ruyswyck

Подняться наверх