Читать книгу Stories van Ruyswyck - Alba Bouwer - Страница 7
’n Middagwandeling
ОглавлениеDIE SKOOLKLOK lui hard en vrolik buite, net soos ’n kind wat bly is oor iets en sommerso oopmond lag, nie so dikstem-dikstem soos dit heeldag lank kort-kort gelui het nie. Almal klap hul boeke toe en skuif rond. Dis die end van die laaste klas en die dag is om. Alie lig haar nuwe Geskiedenisboek so effentjies voor haar gesig op voordat sy dit in haar koffertjie pak, want dit ruik so lekker na nuwe papier en swart ink.
“Tyd om huis toe te gaan, meisies. Goeiemiddag,” sê juffrou Wagner op Engels, want haar Geskiedenisles was die laaste les van die dag. Almal sê goeiemiddag, sommerso een hier en een daar, en toe tel Alie haar koffertjie op en stap agter die ander meisies uit in die gang. Die koffertjie is vol nuwe boeke en nie so leeg soos vanoggend nie. Haar kop voel net so vol, maar deurmekaar vol, soos Rivierplaas se rondawel waar alles staan as hulle die dag die kombuis uitwit. Die hele dag was soos ’n lang les in Engelse diktee en grammatika, alles Engels, tot haar klasmaats ook. Die meisie links van haar het ’n halfmaanneusie net soos ou Yudelman op die dorp en haar naam is Bertha Yankelowitz; regs van haar sit Edith Dickson wie se hare soos heuning lyk en wat vir haar “O-lie” sê, en voor haar sit ’n meisie wat ’n dik bril dra en wat al die antwoorde van alles weet; haar naam is Catherine Lewis. Maar toe dit tyd word vir Wiskunde, moes die meisies van die Afrikaanse seksies ook na hulle toe kom, want almal moet Wiskunde op Engels leer. Toe was dit soos familie wat kom kuier, want Leonora en Hanna het ingekom. Bertha het uitgestap na die naaldwerkklas toe en Leonora het dadelik op haar plek kom sit en vir Alie ’n lekker snaakse skewemond getrek. Die Wiskunde-juffrou sê vir haar “Aletter” en haar oë is net so rond soos die kringetjies wat sy op die swartbord getrek het en waarvan Alie niks verstaan nie. Net Catherine het gelyk soos een wat al daardie kringetjies en snaakse strepe en syfers al baie male gesien het, en Leonora het gelyk of sy dwarsdeur al die strepe en kringe kyk. Miskien weet sy darem wat dit alles beteken en wat ’n mens alles doen met die blink gereedskappies wat in die blikkie lê om die hoeke en kringetjies mee te trek. Maar die Geskiedenis is lekker, want juffrou Wagner praat soos een wat stories vertel en sy …
“Alie!” skree iemand agter haar en sy ruk haar kop agtertoe en gaan staan. Dis Hanna wat uitasem aangehardloop kom en nie sien dat ’n ou juffrou met grys hare en ’n klein brilletjie om ’n hoek van die skool kom nie.
“Hanna Louw,” sê sy, “’n dame skree nooit so hard nie. Stap nou mooi en praat ordentlik.”
“Ekskuus, juffrou Mouton,” sê Hanna en stap kop onderstebo tot langs Alie; doodstil stap sy totdat die juffrou in Delfthuis verdwyn, toe sê sy: “Dis ’n wonder sy’t my nie sommer ’n stuk prosa gegee nie. Sy vang my altyd as ek raas.”
“Wat beteken prosa gee?” vra Alie.
“Ag, jy kry sommer so dertig of veertig reëls in ’n boek om uit jou kop te leer en dan vir haar te gaan opsê. Al die juffrouens straf ’n mens daarmee,” sê Hanna. “Hoe het hulle julle dan in julle skool gestraf?”
Alie trek haar voorkop op ’n plooi. “Gestraf?” sê sy, en dis soos ’n ver skaap wat sy moet soek en aankeer, hierdie straf van die grys skooltjie. “Ek weet nie eintlik nie … O ja, met ’n kweperlat het meneer Bronkhorst geklop as een kwaaddoen.”
Hanna gooi haar kop agteroor soos sy lag. “My jinne, Alie, met ’n kweperlat? Maar dis mos outyds, of hoe? In ons meisieskool mag hulle nie slaan nie, my pa sê so.”
Alie voel of die meisieskool niks van haar is nie en sy kyk na die wit muur met die ysterhek wat om die drie koshuise is. Miskien kan sy sommer by die hek uitloop en weer saam met tant Lenie en Hennie teruggaan Rivierplaas toe en na die grys skooltjie toe waar die kweperlat en die leie en griffels is. Maar daar is nie ’n graad nege nie.
“My jinne, Alie,” sê Hanna, “loop jy in jou slaap? Ek vra of jy vanmiddag my maat sal wees vir die rank walk!”
“Wat is die rank walk?” vra Alie.
“Dis wat ons elke Maandag en Woensdag en Vrydag ná koffietyd het, dan stap ons almal twee-twee in ’n lang ry, so vir ’n wandeling.”
“Maar waarheen stap ons?” vra Alie, want in ’n dorp stap ’n mens mos net winkels toe, daar is mos nie plek vir wandelinge nie.
“Ag, as Minnie Bosman voor loop, sal ons seker by die Noordskool verbyloop, want sy’t ’n kêrel daar. Maar as Corrie Jansen se maats dalk voor loop, sal ons by die Suidskool verbyloop, sy’s verlief op ’n outjie wat vanjaar daar in graad elf is. Kom ons gaan koffie drink, die klok sal nou-nou lui.”
Die hele dag is vir Alie soos ’n vel papier wat vol blokkies getrek is, en elke keer dat die klok lui, kom daar nog ’n blokkie by, en elke keer moet ’n mens sorg dat jy nie op een van die blokkies se lyne trap nie. Dalk kry jy prosa.
Daar is nie ’n juffrou by die eetkamer nie en niemand staan in rye nie, almal bondel sommer by die deur in vir die koffiedrink.
“Kom ons sit by die onderste tafel,” sê Hanna, “ons mag maar. Hallo, ou Tossie, kan ons maar hier by julle kom sit? Dis Alie Neethling, sy’s ook in graad nege en sy’s by Minnie Bosman in die kamer in Aemstelhuis. Alie, dis Tossie Smuts, ons twee het verlede jaar saam nuut hier gekom.”
Tossie het ’n kop so rooi soos die klei waarmee ou-Melitie die strooisdeure smeer en haar oë lyk soos die groen rivierwater.
“Hallo, Alie,” sê Tossie, “hoe hou jy dit by Hanna? Sy praat mos aanmekaar soos mieliepap, nè, ou Johanna? En verder leer sy prosa vir ou juffer Mouton. Hanna Louw, ’n dame maak nie so nie; Hanna Louw, ’n dame lag nie so hard nie.” Tossie trek haar neus op en praat net soos die ou juffrou.
“En wat van jou?” sê Hanna. “Jy lag altyd te hard, wat.”
“Lag is vry en prosa daarby!” sê Tossie en sy gooi haar kop agteroor en skater ’n harde lag uit.
“Haai, Tossie,” sê Minnie Bosman skielik agter Alie, “is jy nie bang jou keelgat skeur nie? En toe, Alie, ek het jou vanmiddag etenstyd nie gesien nie; hoe gaan dit?”
“Goed dankie,” sê Alie. “Ek het Santa nog nie weer vandag gesien nie.”
“O, Santa is in die kamer; sy wil nie koffie hê nie,” sê Minnie en sy kry ’n plooitjie tussen haar oë. “Julle moet gou maak, ons gaan nou wandel. Juffrou Wagner is vanmiddag op diens.”
“Die ou koffie smaak nes slootwater,” sê Hanna en sy trek haar mond op ’n plooi.
“Is jy nie bly nie?” sê Tossie. “Jy lyk ná die vakansie al klaar soos ’n werflam; dis tyd dat jy minder eet. En ek wed jy’t weer ’n hele spens vol kos van die huis af saamgebring.”
Toe hulle klaar koffie gedrink het, gaan Alie gou haar koffer bêre en haar nuwe wit hoed met die skoolband om opsit. By die groot hek staan die meisies in klompies en wag, en sy en Hanna val net agter Minnie Bosman en Santa in. Toe stap die ry meisies soos ’n lang slang by die hek uit en in die straat op. Oral staan mense stil om hulle te bekyk, en hier en daar tel een soos die ry verbygaan.
Op in die een straat, af in die ander straat, met swaaie en draaie stap hulle en Alie loop en kyk na die skaduwees van die akkerblare teen die wit mure van die huise, en na juffrou Wagner se bruin hoedjie wat so op en neer wip soos sy saam met een van die groot meisies langs die ry stap. Sy hoor nie alles wat Hanna sê nie; dis soos ’n koffiemeul wat sommer vanself maal, net af en toe gooi sy ’n pitjie in. Toe vat Hanna skielik aan haar arm.
“Kyk,” sê sy, “nou is ons amper by die Noordskool se koshuis. Ek het geweet ou Minnie sal daar verbystap – kyk, daar staan Herman Beyers reg voor die hek, dis Minnie se kêrel, hy’s ook in Matriek. En kyk net hoe staan die hele ou spul seuns om ons deur te kyk.”
Op die muur langs die straat sit ’n streep seuns en teen die groot ysterhek hang ook ’n klomp. Ongeërg staan hulle daar, asof hulle heeldag niks anders doen nie. Alie hoor hoe die gelag en gesels van die meisies in die ry stiller word, en toe hulle by die groot hek verbygaan, is dit so stil soos in die skoolsaal toe die musiek opgehou en juffrou Naudé op die verhoog gekom het. Minnie kyk na ’n akkerboom wat daar ver voor in die straat is, maar Alie sien hoe sy haar hoed se rand ’n plukkie gee en haar kop skud soos een wat ’n vlieg voel sit. Toe stap sy en haar maat tot by die punt van die straat, gaan oor met die hele lang slang meisies agter hulle en stap aan die ander kant terug. “Ahim!” maak een van die seuns keel skoon toe die straat tussen hom en die meisies is, en toe hoes hulle so op die ry af teen die hek.
“Lawwe goed!” sê Hanna met ’n snaakse, bewerige laggie en sy loer skuins onder haar hoedrand uit na die hek se kant toe. Alie kyk oor die straat. Hulle lyk vir haar almal eenders, die klomp seunskinders wat soos die plaas se ou koekiesveerhoenders op ’n bondel teen die muur en die hek staan, en sy is op die plek bly dat daar g’n stuk seuns in die Ruyswyck-skool is nie.
“Het jy gesien hoe lyk Minnie se kêrel? Hy’s mooi, nè?” sê Hanna agter haar hand vir Alie. “Hy’s die slimste seun in die Noordskool. Hy’t al vir Minnie briewe saam met een van die dagkinders gestuur, maar hy mag nie. Ek wonder wat skryf hy vir Minnie!” Hanna lag weer so ’n bewerige laggie.
“Daar was baie seuns by ons in die skool,” sê Alie. “Hulle is ’n regte oorlas.” Sy sê dit net so soos oom Jan altyd van die springhase in die mielieland sê.
“Ag ja wat, hulle is sommer simpel,” sê Hanna en sy kyk weg soos een wat kwaadgedoen het. Alie wonder hoekom sy so lank niks sê nie.
Die lang tou stap terug tot by die koshuishek, en toe val dit sommer uitmekaar en elkeen gaan na haar kamer toe.
“Ons moet nou aantrek vir ete,” sê Minnie. “Kom, Santa, maak nou gou.”
Alie trek haar skoolklere uit en haal een van haar wit amper-kerkrokke af om aan te trek. Minnie het al haar wit rok aan en staan voor die spieël haar hare en borsel, maar dit lyk of sy glad nie haar gesig in die spieël sien nie, maar ver anderkant verbykyk. Haar bruin krulle wip-wip soos sy hulle stadig borsel, en langs haar mond en haar oë is ’n fyn kreukeltjie soos een wat van ’n lekker ding weet wat niemand anders weet nie. Alie trek haar laai saggies oop om haar borsel uit te haal, so om nie te raas dat Minnie moet skrik en nie meer so mooi ver kyk nie. Santa staan voor die gordynrak en vroetel met haar rok se gordel.
Toe is daar ’n stampie teen die deur en Corrie Jansen ruk dit oop en storm in.
“Haai, julle ous!” sê sy. “Hoe gaan dit hier? Minnie, het jy gesien hoe kyk Herman vanmiddag vir jou? Môre stuur hy jou sowaar weer ’n briefie so onder ou Nottie se oë!”
Minnie sit haar borsel stadig neer. “Ag, Corrie, jy’s glad verspot,” sê sy. “Herman stuur nie vir my briefies met die dagkinders nie, hy’s g’n graadnegetjie nie.”
“Maar hy’s verlief, so verlief soos ’n kat in Augus’maand! “ sê Corrie. “Kyk hoe rooi word ou Minnie nou! Toe nou!”
Alie wens sy is groot en slim, dan sal sy Corrie sommer lekker stilmaak. Nou staan sy net en kyk hoe Minnie vinnig buk om haar skoene af te vee terwyl Corrie se neusie nog skerper word soos sy lag. Santa kam haar hare of sy niks hoor of sien nie.
“En toe, Balie, hoe gaan dit met jou? Ek hoor jy sit in die Engelse seksie?” sê Corrie.
Minnie kom regop en sy is nie meer so rooi nie. “Kyk hier, Kerneels,” sê sy, “laat bly vir Alie net in watter seksie sy wil wees. As jou ma jou lankal in die Engelse seksie gesit het, sou ek jou miskien nie so baie met jou Engels moes gehelp het nie.”
Die klok lui by die eetsaal en Alie is bly sy hoef nie verder na Corrie Jansen te luister nie. Sy stap langs Minnie en Santa onder die bome deur in die pad op en kyk hoe die son agter die berg wegsak sodat daar ’n sagte skaduwee oor alles lê wat die magnoliabome donkerder en die meisies se wit rokke nog witter laat lyk.
By die eetkamer staan almal doodstil in die rye, en toe hulle instap, fluister Hanna: “O gits, ou Nottie kom vanaand aan tafel sit. Nou sal niemand weer iets sê nie.”
By die Hoofgebou se trappies kom juffrou Naudé af in ’n rooi rok en sy lyk vir Alie glad nie of sy nou by die skerppuntpen pas nie. Haar oë lyk sagter en blinker as die dag in die kantoor toe hulle Alie se gesig so styf vasgehou het. Sy stap tot by die groot tafel, en almal wag doodstil tot sy gaan sit, toe dreun die stoele en daarna is dit weer doodstil voordat sy bid. Toe sy haar kop oplig en haar servet oopvou, kyk sy vinnig na al die gesigte aan haar tafel. Alie kyk sommer af, want dalk moet sy iets sê as juffrou Naudé se oog by haar kom en sy voel nou al haar keel word droog. “En toe,” sê juffrou Naudé, “hoe gaan dit met al die nuwe ooilammers? Hoe het dit vandag in die skool gegaan?”
Almal sit doodstil, maar Leonora praat sommer dadelik: “Goed dankie, juffrou. Ons voel nog ’n bietjie deurmekaar, maar dit gaan darem.” So asof sy met Alie en Hanna praat, net so maklik praat Leonora, net ’n bietjie stadiger en met haar kop effens eenkant toe, net soos een wat met ’n gebuigde pinkie sy koppie oplig as hy by vreemde mense koffie drink.
“En het jy darem jou pad in die skool gekry vandag, Aletta?” vra juffrou Naudé.
Alie kyk vinnig op soos een wat geskrik het en sy voel hoe haar wange warm word. “Ja dankie, juffrou,” sê sy en sy kyk weer af en vroetel met haar servet op haar skoot. Hoekom sê Hanna ook nou niks, sy praat dan so maklik so baie, dink Alie, maar toe sit die meisies die kosskottels aan die bopunt van die tafel neer en almal kyk soontoe toe die senior meisies begin inskep.
Juffrou Naudé begin gesels met een van die meisies langs haar en almal sit effens agteroor en begin hier en daar ’n praatjie maak.
“Van watter klas het jy vandag die meeste gehou?” vra Leonora.
“Van Geskiedenis by juffrou Wagner,” sê Alie; “dis soos ’n storie. Verstaan jy die Wiskunde?”
“Ag ja wat,” sê Leonora, “daar’s niks aan nie. Maar ek hou ook baie van Geskiedenis. Ons het juffrou Malherbe daarvoor in die Afrikaanse seksie. Sê my, Alie, was jou oupa in die Boereoorlog?”
Alie kyk op na Leonora. Het hulle dan vandag daarvan geleer in hulle Geskiedenisklas? “Ja,” sê Alie, “my oupa was in die oorlog, maar hy’s lankal dood. My ouma kan nog mooi stories daarvan vertel.”
“O,” sê Leonora. “My oupa was ’n generaal. Hy’s ook al dood. Hy het ook in die Vrystaat gewoon.”
Miskien kan sy vir Leonora van Ouma se stories vertel, maar sy weet nie regtig hoekom Leonora van die oorlog praat nie. Miskien om te spog van haar oupa wat generaal was? Maar sy het dit nie so soos spog gesê nie? Dis vir Alie amper soos die Wiskunde, hierdie ding, sy verstaan dit nie, en sy dink sommer aan Lulu wat alles so praat dat ’n mens verstaan.
Leonora gesels met die meisie anderkant haar en Alie eet maar doodstil en sit en luister hoe juffrou Naudé aan die oorkant van haar vakansie by die see vertel. Sy is baie bly toe hulle klaar is en die meisies dek af en gee juffrou Naudé se Bybel aan vir die godsdiens. Minnie Bosman gaan sit voor die ou klavier in die hoek en hulle sing: “Langs die heuweltoppe kom daar …” en Alie voel hoe sy losraak van die stoel en oor die berge weggly deur die koel, blou skemerlug tot by die vlei op Rivierplaas waar die paddas op ’n someraand so hard praat. Toe die stoele dreun soos almal opstaan om vir die gebed te kniel, voel sy eers weer die stoel onder haar. By die tafel net langs hulle s’n sien sy Tossie se rooi kop deur die stoelrelings. Die twee groen oë blink na haar kant toe en gaan dan so styf toe dat Tossie se voorkop vol plooie raak.
Ná die godsdiens stap hulle ’n bietjie onder die bome rond en Hanna gaan wys hulle waar die musiekkamers langs Delfthuis is, en toe lui die studieklok. Die Matriekmeisies studeer in hul kamers, maar die ander gaan eetkamer toe waar die lang tafels nou kaal staan en wag vir elkeen met sy hopie boeke.
“Ons sit by die onderste tafel,” sê Leonora toe hulle daar kom.
“Hoekom?” vra Alie.
“Die studiejuffrou sal mos by die hooftafel sit, en dan is ons nie so onder haar oë nie, my liewe Aletta,” sê Leonora en sy sleep Alie agter haar aan tot by die tafel.
Net soos een van die ou meisies is Leonora, dink Alie. Hoe kry sy dit reg? Miskien omdat haar oupa ’n generaal was.
Juffrou Mouton sit by die hooftafel en loer net af en toe oor haar bril as iemand ’n boek te hard toeklap of as sy dink daar is ’n fluisterstemmetjie êrens. Alie snuif eers weer die lekker papierruik van haar nuwe boeke op toe sy haar koffer oopmaak, toe begin sy elke juffrou se werk leer, die Geskiedenis heel laaste omdat dit die lekkerste is. Maar haar kop voel so groot en swaar en sy is bly toe die klok lui vir kamer toe gaan.
Santa is al daar toe sy in nommer ses kom en sy sit weer op haar bed en huil, maar Minnie maak of sy niks hoor nie. Toe gaan Alie maar gou bad, en toe dit stiltyd is, lees en bid sy vinnig voordat die slaap haar kop heeltemal dik maak. Sy spring in die bed toe die klok vir ligte-uit lui en sê gou: “Nag, Minnie, nag, Santa.” Toe draai sy om en dink hoe sy eers gevoel het soos een van die ou los trokke wat op party stasies gestaan het toe sy en tant Lenie en Hennie met die trein Boland toe gekom het. Nou voel sy of sy vandag styf aan die Ruyswyck-skool se lang trein gehaak is en saamskommel vorentoe, vorentoe na baie nuwe stasies en nuwe dinge terwyl die nagwind saggies in die blare voor die venster vroetel.