Читать книгу Stories van Ruyswyck - Alba Bouwer - Страница 6

Die meisies van die groot skool

Оглавление

ALIE STAAN langs ou-Melitie by die windpomp op Rivierplaas en luister hoe die waterstraal in die kombuisemmer stort. Op elke punt van die windpompwiel sit ’n rooi hoenderhen wat vir Alie met die onderdeur draai tong uitsteek, maar glad nie afval nie. Net toe Alie mik om die naaste ou hen van onder af raak te spoeg, storm die ou kwaai haan hulle en skop die emmer dat dit oor die werfklippe rol – katieng, katieng, katieng …

Alie knip haar oë en sien die blare van die magnoliaboom in die oggendlig voor die venster. In die gang gee die klok nog een lui en êrens loop water hard in ’n bad in. Doef-doef-doef draf iemand in die gang af. “Ek bad eerste!” skree ’n stem en ’n deur slaan toe.

“Môre, outjies!” sê Minnie en sy spring uit haar bed. “Ek hoop julle het goed geslaap en lekker gedroom. Nou het ons ’n driekwartier om aan te trek en die kamer skoon te maak. Ek dink Santa en ek kan vee, dan stof jy af, Alie. Jy kan solank gaan bad as jy wil – in die oggend is daar net koue water, hoor! Maar trek eers jou bed af om te lug, want juffrou Wagner kom nou daarna kyk.”

“Môre,” sê Alie en spring gou uit die bed om haar lakens af te trek. Santa bly op ’n stil hopie lê met die kombers tot teen haar oë.

“Die tweede badkamer is net links van die kort gangetjie,” sê Minnie toe Alie by die deur uitstap. Sy kry dit gou, sit die deur se skuifie op en draai die kraan oop. Alie trek uit en steek haar hand in die kraan se straaltjie. Yskoud. Bad beteken mos ’n bad vol warm water. Koue water is net in die gronddam of die rivier of in die waskom vir gesig was. Sy was gou haar gesig en ore en nek in die water, droog af, trek haar kamerjas aan en wag totdat al die water uitgeloop het voordat sy die deur oopmaak en uitstap. In die gang lag en stommel en raas dit deur die oop deure van die vee en afstof en bedopmaak wat in die kamers aangaan. Alie voel of sy stokalleen in die skemer gang is met niemand wat sal hoor as sy roep nie. Sy draf gou tot by nommer ses, draai die deur oop en gaan saggies in. Daar hang ’n fyn stofwolkie in die oggendlig voor die venster en Minnie is besig om bed op te maak. Santa sit met toe oë op die rand van haar afgetrekte bed en gaap.

“Aits,” sê Minnie, “jy’s lekker gou klaar! Ek het maar haastig uitgevee, want dis nog nie baie vuil nie; nou kan jy so hier en daar afstof as jy jou bed klaar opgemaak het, Alie. Toe, Santa, loop nou badkamer toe, man. En ek gaan nie elke oggend jou werk doen nie, hoor! Roer nou vir jou.”

Santa gee ’n snorkie, trek haar kamerjas aan en gooi die deur agter haar toe met die uitstap. Minnie kom effens orent bokant die bed wat sy opmaak en byt ’n slag haar onderlip vas. “Hoor hier, Alie,” sê sy, “jy moet jou maar nie te veel aan Santa se nukke steur nie, hoor! Sy’s baie bederf by ons huis, want sy was baie siek toe sy klein was. As sy dalk naar is met jou, moet jy maak of jy nie hoor nie. Ek gaan haar nog net vandag so help en dan moet sy haar eie potjie krap. My ma hoop sy sal hier ’n bietjie regkom.”

“Ja,” sê Alie, en sy trek haar bolaken glad. “Ja, toe maar.”

Alles lyk vaal in die vroeë lig, en Alie het ’n vaal kol op haar maag soos ná kasterolie drink. Sy skud die skerp voue uit die nuwe hemp en springjurk om te voel hoe lekker nuut hulle is, maar hulle voel ook vaal en so niks van haar nie. Net die gordel van die Ruyswyck-skool met die geel en blou skoolkleure daarin maak ’n vrolike strepie oor die oggend, en sy gee dit ’n ekstra stywe plukkie om te voel dis nou regtig hare.

Toe Santa terugkom van die badkamer, het Minnie haar bed ook klaar opgemaak en haar klere vir haar daar neergesit. “Kyk hier, Santa,” sê sy, “nou moet jy darem baie gou maak, hoor, want oor vyf minute is dit stiltyd en dan moet jy klaar wees.”

Santa gooi haar handdoek op die bed neer en gee ’n gaap. “Ek gaan vandag vir Pa oplui om my te kom haal,” sê sy. “Ek wil huis toe gaan.”

“Mm,” sê Minnie, “hier is nie so ’n ding soos oplui nie, ou sussie. Jy moet ou Nottie self gaan vra om op te lui en vir haar jou boodskap gee. Jy sal net moet uithou, dis al. Toe, maak nou gou.”

Katieng, katieng, katieng! lui die klok in die gang.

“Stiltyd,” sê Minnie. “As juffrou Wagner jou nou hier so kry, sal jy ’n ding sien, Santa.”

Santa vroetel haastig in haar klere in, en van waar Alie voor haar bed kniel, sien sy hoe rooi Santa in haar gesig is. Sy knyp gou haar oë toe. “Ag, liewe Jesus,” bid sy, “moet tog nie dat Santa weer begin huil nie, dan snuif sy weer aanmekaar. Baie dankie vir ’n nuwe dag en baie dankie vir …” Ghoems! val Santa se hareborsel, en Alie se oë wip wyd oop na haar kant toe. Santa buk om dit op te tel, kyk Alie vas in die oë en trek vir haar ’n lelike skewemond wat niks snaaks is nie, net naar. Alie druk gou weer haar oë toe. “Baie dankie vir Ma en Pa en Hennie,” bid sy, “en baie dankie vir …” Toe gaan haar oë stadig oop en sy kyk weer vas in Santa se oë waar sy op haar knieë voor haar bed sukkel om haar gordel vas te knoop. Toe steek sy vir Santa ’n lang, nare tong uit, knyp gou haar oë toe en bid haastig klaar: “En help my en ons almal asseblief vandag. Vir Santa ook. En vergewe my al my sondes. Amen.”

Sonder om op te kyk, maak sy die groen Bybeltjie oop en lees sommer net waar dit oopval: Psalm 23, ’n psalm van Dawid. “Die Here is my Herder, niks sal my ontbreek nie …” Die oggend word stadigaan ligter en die kasteroliekol op haar maag sak laer af. Sy lig haar oë effens op en sien hoe Santa haar oë styf toeknyp en haar lippe roer. Sy lyk nou net soos een wat bang is vir iets, en Alie wil net spyt kry oor die lang, nare tong, toe lui die klok weer in die gang en hulle staan op.

“Môre, julle ous!” sê Hanna Louw by die deur. “Kom ons gaan eet maar – roereier met baie water by en spek en bruinbrood met min botter op, dis Maandagoggend se kos. Het julle lekker geslaap? Alie, het jy en Santa gewens in die nuwe kamer? Ek het ’n kêrel in elke hoek gesit en nie van een van hulle gedroom nie. Weet jy, Santa, as dit nie vir jou was nie, sou Minnie saam met ’n senior meisie in ’n lekker kamer in Delfthuis gewees het. Nou moet sy so drie in ’n kamer wees.”

“Ag, basta tog, Hanna!” sê Minnie. “Wat maak dit nou saak waar ek is?”

Hulle stap in die pad onder die magnoliabome deur na die eetkamer langs die Hoofgebou, en dit lyk vir Alie of daar so baie meisies is dat sy niemand ooit sal ken nie. Dis net soos ’n groot dorp se straat, so vol mense op die pad onder hierdie bome deur.

“Hallo, ou Minnie!” skree ’n lang meisie van ver af. “Ek was gister saam met Herman op die trein en hy stuur vir jou groete.”

Minnie se oë kry fyn plooitjies rondom en sy word rooi. “Dankie, Hester,” sê sy, “maar hoe kon jy dan gister inkom? Juffrou Naudé laat mos nie toe dat ons op Sondag treinry nie?”

“My ma was siek,” sê die meisie, “en toe kon ek nie eerder weg nie.”

“Daar stap my een kammie,” sê Hanna. “Haar pa is ’n prokureur in Rhodesië. Sy ry amper ’n week lank trein. Haar naam is Rina Retief. Alie, ek het gesien jy en ek sit aan ou Nottie se tafel. Toe maar, net vir ’n kwartaal. Sy kom buitendien net een aand ’n week aan tafel eet. Ons moet by hierdie deur in die ry staan.”

Voor die eetkamer se drie groot deure maal die klomp meisies deurmekaar voordat hulle in die rye inval en doodstil bly staan. Hier en daar fluister-fluister iemand nog en van die groter meisies sê “sjuut-sjuut!” Toe gaan die deure oop en Alie stap agter Hanna aan in.

Die meisies maal ’n rukkie om die agt lang tafels, elkeen met ’n stuk of twaalf stoele, en toe staan hulle weer doodstil. “Sit maar,” sê ’n juffrou se stem van een van die onderste tafels af, en dit gaan soos ’n vinnige haelstorm op die dak toe almal stoele uittrek en gaan sit. Die juffrou vra die seën, en toe staan twee meisies aan elke tafel op om die skottels by die kombuis te gaan haal. Alie sit tussen Hanna Louw en ’n meisie met kort, bruin hare en donker oë, amper soos Lulu s’n. Sy kyk rond soos een wat almal ken, en Alie sien hoe mooi lyk haar skoolhemp, dis van sy, soos ’n kerkrok. Sy wil net omdraai om haar beter te sien, toe draai die meisie haar kop en kyk Alie vol in die gesig. “My naam is Leonora Wessels,” sê sy. “Is jy ook nuut?”

Leonora. Die naam is net so fyn soos die syhemp, dink Alie.

“Ja,” sê Alie, “ek is in graad nege. My naam is Alie Neethling.”

“Haai, ek is ook in graad nege,” sê die meisie. “Dalk sit ons nog in dieselfde seksie. In watter koshuis is jy? Ek is in Delfthuis.”

“Ek is in Aemstelhuis,” sê Alie. “Ek het ’n gawe –” sy sluk ’n slag aan die hoë woord – “kammie. Haar naam is Minnie Bosman.”

“O ja, sy’s mos hoofmeisie in die skool,” sê Leonora. “Almal hou vreeslik baie van haar. Sy wou by haar suster wees, anders sou sy by ’n ander senior in die kamer gewees het. Hulle sê haar suster is so ’n ou tjankbalie.”

“Ja, sy …” begin Alie, toe sien sy skielik weer hoe Minnie effens orent kom bokant Santa se bed en haar onderlip vasbyt, en sy sê: “Ag nee wat, sy’s nie sleg nie.”

Langs haar hoor Alie hoe Hanna vir ’n meisie sê: “Ja, Santa het gisteraand haar oë dik gegrens, en haar ma sit net om die draai. Alie kom van die Vrystaat af. Haar naam is Aletta, en dit lyk my ou Nottie wil niks weet van die ‘Alie’ nie, sy hou aan met Aletta.”

“Waar kom jy vandaan?” vra Leonora.

“Van die Vrystaat af,” sê Alie. “Ons plaas se naam is Rivierplaas.”

“Haai, dis darem seker ’n mooi plaas,” sê Leonora. “Ek het familie in die Vrystaat wat plase het. Ons gaan partykeer daar kuier.”

“Waar is julle plaas dan?” vra Alie.

Leonora draai haar om en kyk Alie vol in die gesig, en toe lag sy. “Nee wat,” sê sy, “ek is nie so gelukkig soos jy nie, ek kom van die Kaap af. Ons woon in die stad.”

Alie sit ’n rukkie stil. Al die kinders in die grys skooltjie het mos op plase gewoon, maar in ’n dorpskool kan almal mos nie van ’n plaas af kom nie. Leonora se pa is seker die burgemeester van die Kaap, dit sal pas by die wit syhemp.

“Wat maak jou pa in die Kaap?” vra Alie.

“O, my pa is ’n dokter, ’n snydokter, weet jy,” sê Leonora.

Hanna leun oor na Alie en Leonora se kant toe. “En hoe smaak die klontjieseier vir julle?” vra sy. “Maar dun, nè?”

’n Mens mag nie van ander mense se kos so praat nie, sê tant Lenie altyd, en Alie bly stil. Leonora haal haar skouers op. ‘Ag wat, dit maak nie saak nie. Jy’s Hanna Louw, nè?”

“Ja, en jy’s Leonora Wessels van die Kaap? Jou pa is mos …”

Net toe lui die juffrou ’n klokkie en almal bly stil sodat sy kan dank. Die stoele dreun weer soos ’n haelstorm en almal stap buitentoe.

“Sien jou by die skool,” sê Leonora toe sy onder die bome afdraai na haar koshuis toe. “Dalk kan ons nog naby mekaar sit.”

Alie haal haar klein koffertjie met die potlood en kladboek en liniaal onder haar bed uit en stap saam met Minnie en Santa na die skoolgebou net anderkant die koshuisheining.

“As jy in die Engelse seksie is, moet jy by daardie kant in die ry gaan staan, Alie,” sê sy. “Santa, jy kom hiernatoe.”

“Ek wil saam met Alie gaan,” sê Santa. “Ek wil nie alleen by die vreemde kinders gaan staan nie.”

Alie gaan stokstyf staan en kyk Santa aan. As ou-Melitie hier was, sou sy vir Santa gesê het: “Jy’s sos die kiewiet wat hy het die twee keel; die een sy skree fiet by die dag, die anner sy skree f-u-u-t by die nag.”

Alie knip net ’n slag haar oë en sonder om na Santa te kyk, stap sy aan en gaan staan by die pilaar waar Minnie gewys het. Voordat sy goed kan rondkyk, lui die klok en almal val doodstil in die rye in. Toe stap hulle in, en Alie probeer benoud onthou hoe die pad oor die stoep en deur die een gang en oor die ander stoep en deur nog ’n gang na die klaskamer loop, sodat sy weer daar kan uitkom, maar sy laat maar staan en stap aan agter die meisie voor haar. In die klaskamer gaan sy by die naaste bank staan en sit haar koffertjie neer. Almal staan totdat die juffrou inkom en op Engels sê hulle kan maar sit. Nou gaan hulle saal toe, sê die juffrou, en dan moet almal weer hierheen terugkom. Alie voel hoe die vaal kasteroliekol weer op haar maag kom sit en al hoe groter word. Toe moet hulle weer staan en saal toe stap. In ’n ander lang gang af stap hulle en van alle kante af kom nog meisies in rye aangestap.

Toe hulle naby die groot saaldeur kom, hoor Alie die vrolike musiek wat al hoe harder word, en toe blom die hele groot saal voor haar oop, so mooi soos ’n storieboekprentjie met die rye, rye meisies in die donkerblou en wit kleure en die strepiesgordels, en voor die klavier sit Minnie en sy knipoog vir Alie toe sy verbykom. Haar lang vingers spring oor die klawers soos die nuwe lammers in die vleiveld, en die hele saal word lig en vrolik daarvan. Alie voel hoe die vaal kasteroliekol kleiner word en heeltemal wegraak. Toe sy indraai en in een van die voorste rye tussen die ander meisies gaan staan, raak sy saggies aan die gordel met die blou en geel strepe wat om haar middel geknoop is. Nou is dit regtig haar gordel en sy is een van die baie meisies van die groot skool, net soos Minnie en Hanna en Leonora. Sy kyk vorentoe hoe die juffrouens en juffrou Naudé by die trappies opstap en op die verhoog gaan sit. In haar keel voel sy ’n ligte krieweltjie en sy lig haar kop op soos ’n ou plaasperd wat by ’n nuwe weikamp se hek eers die lug snuif voordat hy indraf en begin wei.

Stories van Ruyswyck

Подняться наверх