Читать книгу Stories van Ruyswyck - Alba Bouwer - Страница 8

Briewedag

Оглавление

SOOS ’N stukkende string krale waarvan die krale stilletjies een-een uitryg en wegval, net so voel die dae en weke en maande vir Alie. Die dae ryg so vinnig uit en val so vinnig weg dat sy nie baie kans kry om te wens sy is op Rivierplaas nie. Elke Maandagoggend spring die week soos ’n vars perd weg met die saal toe stap en die vrolike musiek wat Alie se voete vir die hele week lig maak. Dan is daar elke dag ’n klomp lekker dinge en net ’n paar nare dinge wat soos knikke in die pad lê, soos die Wiskunde, wat ’n klein knikkie is, en een keer ’n week die liggaamsoefeningklas, wat ’n yslike sloot is.

Die liggaamsoefeningjuffrou, Miss Mervin, se gesig lyk soos ’n ou rivierlikkewaantjie s’n, en as sy praat, is dit net haar lippe wat bewe-bewe. Haar tande en haar oë en alles staan doodstil. Al vier die seksies van die klas gaan saam saal toe vir haar les, en as hulle in die tien rye moet inval, sorg Alie dat sy heel agter in ’n ry kom. Miskien, dink Alie dan, miskien breek een van die ou bankies met die dun plank waarop ’n mens moet loop voordat dit haar beurt is. Miskien trap Hanna met haar vet bene die plankie af. Maar die plankie breek nooit en Alie kry dit ook nooit reg om op daardie plankie regop te stap sonder om om te slaan nie. Leonora stap sommer loshande oor en swaai haar arms so lekker op en af, en Corrie Jansen spring soos ’n meerkat van die een punt na die ander en steek nog agter die juffrou se rug tong uit, sommer in die loop. Arme ou Hanna sukkel-sukkel stadig en versigtig oor, maar sy haal dit darem. Net Alie kan nooit oor sonder om halfpad af te val nie. Dan lyk die mooi opstel wat sy vir Engels geskryf het en die hoë punte wat sy in die Geskiedenistoets gekry het sommer na niks as Miss Mervin haar kop so skud en sê: “Poor show! Poor show, Aletter!” En Corrie Jansen leun oor van haar ry af en fluister: “Balie Beentjies, jy moet leer loop!”

Dan is Alie se voete heeldag swaar en haar kop voel dik en dom, net so dom soos haar dun beentjies wat nie oor daardie plankie kan stap nie.

Elke Donderdagoggend is dit daardie liggaamsoefening en daardie bankie. As die klok lui aan die einde van die les, voel dit vir Alie of hy net met haar praat en lekker grootkeel lag omdat hulle nou weer saam vir ’n hele week deur die nare knik is en loslyf anderkant in die pad aandraf. Dan vergeet sy die bankie en sy onthou dat daar vir haar ’n brief van Rivierplaas af sal wees; etenstyd as hulle koshuis toe gaan, sal die brief op die bord in die Hoofgebou steek, die brief vir Mej. Alie Neethling in tant Lenie se groot ronde handskrif.

Elke Donderdag is die brief daar, en elke keer is dit soos ’n present. Net eendag, naby die wintervakansie, is daar ’n knikkie in die brief ook.

Tant Lenie vra hoe dit gaan en of Alie nie snags koud kry nie en of sy haar frokkies dra. En luister Alie tog na juffrou Naudé, vra tant Lenie, en lees sy elke oggend en aand haar Bybel gereeld, en maak sy haar skoenveters tog goed vas dat sy nie daaroor val soos baie oggende op pad na die grys skooltjie toe nie? Dan vertel tant Lenie van die nuwe kalfie van ou Roksak en van die nuwe land wat hulle anderkant die vlei geploeg het. Sy vertel ook van die blomtuin wat so mooi is en van Hennie se nuwe kapokhennetjie met haar swerm koekoekkuikens wat sy uitgebroei het. Ou-Melitie is nog gesond, skryf sy, en sy vra hoe gaan dit met nonwe Alie? Maar die oes gaan vanjaar maar skraal wees, skryf tant Lenie, want dis baie droog, en Alie moet tog haar sakgeld mooi oppas sodat oom Jan nie gou weer hoef te stuur nie, want die skool en die boeke kos duur en die treinkaartjie ook vir die lang vakansie wat een van die dae kom.

Alie lees die brief gou en haastig deur, so soos die eerste lang suig aan ’n uitdruklemoen. Dan lees sy stadig en lank en oor en oor, soos die klein suigies en die druk en die weer suig en die weer druk aan die pap lemoen. Dan sien sy die nuwe kalfie wat so botterbeen-botterbeen vorentoe beur en met ’n nat snoet teen ou Roksak druk. Die ploegland lê lekker warm gebak en bruinrooi in die middagson en ruik na grond en bossies sodat ’n mens wil platval en jou gesig tussen die kluite indruk. En in die tuinkampie kloek-kloek die kordate kapokhennetjie met haar swerm geel kuikentjies en sleep haar vlerke ghi-r-r oor die paadjie as iemand net aan die hekkie vat. En ou-Melitie se lang rok maak sulke kort swaaitjies soos sy oor die werf stap met die leë wateremmer op haar kop om by die windpomp te gaan drinkwater haal. Elke aand staan oom Jan op die stoeptrappie en kyk na die weer en tant Lenie steek die lamp in die eetkamer op en sit die Bybel op die tafel vir boekevat. Maar dit bly droog en die plooitjie tussen oom Jan se oë bly daar sit.

Nou onthou Alie dat juffrou Naudé Maandagoggend in die saal gesê het sy wil sien dat elke meisie haar eie Hallelujaboek moet hê, want dis verkeerd dat twee-twee saamsing. En sy onthou dat sy vir tant Lenie spesiale sakgeld wou vra om vir haar ’n boekie te koop, want sy sing altyd in die saal saam met Catherine Lewis. Nou kan sy dit nie vra nie, want dis dan droog op die plaas en die oes gaan nie goed wees nie en haar boeke het al klaar so duur gekos. As sy die tien sjielings vir ’n Hallelujaboek vra, het tant Lenie dalk nie genoeg geld om die meel en suiker te betaal nie. Nee, sy sal maar nie nog geld vra nie, en die sakgeld wat by juffrou Naudé in die kantoor in ’n koevert staan, moet sy probeer spaar vir haar treinkaartjie vir die wintervakansie.

“Alie,” sê Minnie van haar bed af, “hoekom lyk jy so kop onderstebo? Is daar slegte nuus in jou huisbrief?”

Alie se kop ruk op van die brief af. “Ek, ja, nee,” sê Alie, heeltemal deurmekaar. “Nee, daar is nie slegte nuus nie.”

Minnie kyk weer af en lees die brief wat sy gekry het. Haar hele gesig is vol fyn kreukeltjies en dit lyk of daar stadigaan ’n blom binne-in haar oopgaan. Haar oë spring heen en weer en heen en weer oor die brief in haar hand, en toe sy dit klaar gelees het, steek sy dit versigtig in die koevert en sy kyk daar ver deur die venster en tussen die magnoliablare deur. Toe staan sy op en begin haar hare tydsaam voor die spieël kam.

Santa kom by die deur in en haar gesig lyk oop en bly soos dit net lyk op ’n Vrydagmiddag as sy vir die naweek huis toe gaan.

“Ek het ’n lang brief van Pa gekry,” sê sy vermakerig, “en hy stuur vir my tien sjielings wat ek nie vir ou Nottie hoef te gee om in die kantoor te hou nie. Hy sê ek kan daarmee maak net wat ek wil.”

Minnie draai nie om voor die spieël nie. “Maar dis nou goed,” sê sy, “nou kan jy my vyf sjielings teruggee wat jy twee weke terug geleen het toe jou sakgeld op was.”

“Gi,” sê Santa, “jy kan wag tot die vakansie om dit te kry. Ek gaan vir my nou elke dag roomys koop.”

Geld leen, dink Alie. Miskien kan sy by Santa geld leen vir die Hallelujaboek, maar toe skrik sy soos een wat ’n verkeerde ding hardop gesê het. ’n Mens mag nooit leen nie, sê tant Lenie altyd, want ou Leen lê op sy buurman ’n steen. Van jou suster miskien, maar nooit van ander mense mag jy leen nie.

Tok-tok klop iemand aan die deur en Tossie Smuts se rooi kop loer om die hoek.

“Liewe dogters van die volk,” sê sy, “het een van julle nie vir my asseblief ’n botteltjie swart teken-ink nie?”

“Swart teken-ink?” vra Minnie. “Wat wil jy dan nou teken?”

“’n Kol op my been wil ek teken,” sê Tossie. “Ek het ’n gat in my kous en nie tyd om dit heel te maak voor die wandeling nie, en ek wil net gou die been swart smeer waar die gat wys.”

“Jy’s darem ’n slodderkous, Tossie,” sê Minnie. “Het jy dan nie ander kouse nie?”

“G’n ander kous as ’n voddekous op my edele naam nie,” sê Tossie. “Dink jy miskien ek is Leonora Wessels wat ’n dosyn pare kouse en ’n dosyn wit syhemde het? Nee, ou suster, wie nie ryk is nie, moet skelm wees. Gee nou vir my die ink, ou Minnie.”

Minnie haal die botteltjie ink van haar boekrak af. “Haai,” sê Tossie, “lyk my julle het almal vandag briewe gekry, dié wat Alie weer so in haar slaap loop.”

Alie sien hoe Minnie skielik afkyk na die brief op haar bed en toe stadig daardie kant toe skuif, ewe ongeërg daarop gaan sit en skielik doenig is met haar kousnate. “Nou ja,” sê sy, “ons moet ons seker regtrek vir die wandeling.”

“Dis presies wat ek aan die doen is,” sê Tossie. Sy stroop een kous af en skroef die botteltjie ink oop. “Net hier,” sê sy, “net hier waar ek die potloodkring getrek het.” ’n Klein puntjie tong steek by haar mond uit toe sy versigtig met die swart ink die kol op haar been verf. Toe blaas sy ’n slag hard daarop. “So ja,” sê sy, “so ja, bo blink en onder ink en wie sal daarvan weet?”

“Tossie, onthou net om daardie kous vanaand heel te maak, hoor,” sê Minnie, “anders is jy môre in ’n ding. Jy weet hoe fyn juffrou Naudé se oë is, nè?”

“Seker, moeder Mina, seker, ek sal dit vanaand in die studiesaal mooi netjies sit en stop, en as die juffrou iets sê, sal ek sê die geagte hoofmeisie het my die opdrag gegee,” antwoord Tossie en maak ’n diep buiging voor Minnie.

Ghoef-ghoef! stamp iemand teen die deur, toe swaai dit met ’n vaart oop en Corrie Jansen staan in die kamer. “Haai, ou Minnie, een van die dagkinders sê vandag haar broer is by Herman in die klas en hy sê Herman het vir jou ’n brief gepos, sommer net so het hy dit deur die pos gestuur. Is hy nie bang ou Nottie kry jou voor nie? Het jy al die brief gekry?”

Minnie trek haar voorkop op ’n plooi soos een wat vir die eerste keer van ’n snaakse ding hoor, maar daar kruip ’n rooi skaduweetjie van haar nek af op boontoe en sy skuif ’n slag rond op die bed. “Ag loop, Corrie,” sê sy. “Wat het jy nou daarmee te doen van wie ek ’n brief kry? Buitendien het my ma by juffrou Naudé verlof gekry dat ek van vriende briewe mag kry, van Herman ook, as jy nou moet weet.”

Corrie val plat op die vloer en dop haar bene oor haar kop. “Ohoe!” lag sy. “Ou Minnie het seker klaar daardie brief gekry en sy jok oor daardie verlof!”

“Haai, Corrie!” sê Alie. “Minnie sal mos nie jok nie!”

Corrie kom stadig regop. “Reken, Balie Beentjies,” sê sy, “en wie’t miskien jou opinie oor die saak gevra? Jy’s nog ’n bybie hier en jy’t nie sê nie, hoor! Dis van ons julle nuwelinge nie mag doop nie dat julle so astrant word.”

Tossie draai haar kousnaat reg en gaan staan voor Corrie. “En jy’s ’n ou mens hier, Kerneels,” sê sy, “maar jy sit darem nog by die bybies in die klas, hoe’s dit vir jou vir ’n som om te maak?”

“En wat daarvan?” sê Corrie en haar skerp neusie lyk na ’n spreeusnawel.

“Dit daarvan,” sê Tossie, “dat jy jou mond uit die wapad moet hou, anders trap ’n wiel hom raak.”

“Komaan,” sê Minnie, “julle koggel mekaar soos twee ou kalkoene, en dis nie nodig nie. Kom ons gaan drink koffie. Dis wandeling vanmiddag.” Maar sy staan glad nie van die bed af op nie.

“Wie’s jou maat, Alie?” vra Tossie.

“Leonora,” sê Alie. “Sy’t my vanoggend gevra.”

“O, maar onthou, die volgende wandeling is myne. Santa, wil jy nie my maat wees nie?”

“Ek stap saam met Minnie,” sê Santa en sy pluk haar hoed van die kas af.

“O nee,” sê Minnie, “jy stap glad nie saam met Minnie nie; jy soek vir jou ’n ander maat, ou sussie, en ’n mens sê dankie as iemand jou skiet vir die wandeling.”

Tossie skud haar rooi kop agtertoe. “Ag wat, Santa,” sê sy, “jy hoef nie dankie te sê nie, maar stap dan maar saam met my, of hoe?”

“Dankie,” brom Santa en sy sukkel met haar hoed voor die spieël.

“Nou ja,” sê Corrie, “niemand vra my om saam te stap nie, nou sal ek maar loop. Maar ek gaan nog uitvind van daardie brief van Herman, ek belowe jou, Minnie.”

“Kom ons gaan drink koffie, Minnie,” sê Alie.

Minnie vou haar arms en rek haar bene voor haar uit. “Ag wat,” sê sy, “stap julle maar; ek het nie vanmiddag lus vir koffie nie. Ek kom netnou boontoe vir die wandeling.”

Alie hou die deur oop en stap agter die ander drie uit, maar voordat sy die deur toemaak, kyk sy om en sy sien hoe Minnie haar oplig, haar hand vinnig onder haar insteek en die brief uithaal. Sy kyk op en vas in Alie se oë. Toe glimlag sy, so soos een wat stilletjies vir ’n ander ’n present gee waarvan net hulle twee weet. Alie glimlag terug, trek die deur saggies agter haar toe en stap stadig agter die ander aan soos een wat te groot is om te spring en te hardloop.

Van Donderdag af ryg die dae vinnig uit tot Maandag. ’n Lekker skoon week en ’n lekker nuwe begin in die saal. Alie voel hoe haar kop en haar voete lig word toe hulle instap in die saal wat oorloop van die vrolike marsmusiek. Sy staan op die punt van ’n ry, en toe die ander seksies se graadneges verbykom, gee Leonora Alie se gordel ’n plukkie en stap aan sonder om na haar te kyk. Kort agter haar is Hanna, en Alie sien hoe blink haar vaal hare van die naweek se was. Op haar hakke kom Corrie, en sy probeer Hanna se hakskene met elke tweede tree raak trap, maar Hanna weet daar niks van nie.

Toe almal binne is, kom die juffrouens en juffrou Naudé op die verhoog en alles is doodstil. Toe gee juffrou Naudé die Halleluja-lied op en Alie draai na Catherine Lewis toe en wag dat sy moet opsoek in haar boekie. Nader my God by U … Dis vir Alie die mooiste lied in die hele boekie en sy hoop hulle sing al die versies, want dis so mooi om te sing van “verdwaal alleen …” Dit laat ’n mens dink aan die groot oop veld met net hier en daar ’n doringboom. Firts-firts-firts gaan dit soos baie hande in die saal blaai in hul boekies. Alie kyk op om te sien hoe juffrou Naudé vir Minnie wys sy kan maar die lied begin speel, so met ’n effense kopknikkie. Maar juffrou Naudé staan doodstil en dit lyk of haar oë die hele saal styf vashou. Toe sê sy: “Ek merk hier is nog baie meisies wat nie hul eie boekies het nie, en waarom nie?” Sy bly ’n rukkie stil en kyk oor die graadneges. “Aletta Neethling,” sê sy, “daar staan jy ook sonder jou eie boek. Is dit nou nie ’n skande nie? Maar dis die laaste keer dat ek daaroor praat. Dié van julle wat volgende Maandag nog nie jul eie boeke het nie, sal gestraf word. ’n Mens moet in hierdie wêreld leer om jouself te help en nie van ander afhanklik te wees nie.”

Een oomblik is dit doodstil en Alie hoor hoe die saaldak saggies kraak en ’n fietsklokkie daar ver buite in die straat lui. Toe voel sy doof en blind en ’n warm wal stoot van haar nek af op oor haar gesig en haar hare en af oor haar hande en haar voete sodat sy lam is, en sy durf nie roer of opkyk nie, want almal in die saal en al die juffrouens op die verhoog kyk mos nou na haar. Diep in haar keel brand ’n seer kolletjie wat al hoe hoër opskuif en agter haar oë kom sit. Sy hoor nie eers dat die klavier begin speel nie, sy voel net hoe Catherine Lewis die boek se een hoek teen haar arm druk en sy lig haar hand op en hou dit vas sonder om op te kyk. Haar lippe roer, maar sy sing nie regtig nie, want die seer kol in haar keel druk haar stem toe en laat haar oë so vaal voel.

“En is ek ver van hys, verdwaal allien …” sing Catherine hier langs haar, en Alie sien hoe die grootpad oor die rantjie op Rivierplaas loop en afsak na die rivier se kant toe. Sy sluk en staan eers ’n rukkie stil voordat sy weer haar lippe roer en haar oë knip na die vloer toe. Catherine trek die boek saggies terug toe hulle klaar gesing het, maar Alie kyk nie op om vir haar dankie te glimlag nie. As sy haar kop nou roer, sal haar oë dalk oorloop, en dan kyk al die kinders na haar. Doodstil staan sy op die vloer en kyk totdat juffrou Naudé bid. Toe haal sy haar sakdoek saggies uit haar baadjiesak en druk-druk dit teen haar oë en haar mond.

Die musiek begin speel en die voorste rye begin roer. Alie stap vinnig agter Catherine uit, maar sy kyk nie op na Minnie toe hulle langs die klavier verbyloop nie. Toe hulle in die klaskamer kom, buk sy dadelik om haar Wiskundeboeke uit haar tassie te haal, en sy voel meteens ’n koue strepie teen haar wang. Dis Catherine se bril. “Don’t worry,” fluister sy, “it’s not really so terrible, you know.”

Alie kyk verwonderd op en sluk ’n slag. “Thank you,” sê sy, en die seer kolletjie in haar keel skuif weer hoër.

Toe kom die juffrou en die meisies van die ander seksies in en die klas begin. Alie kyk na die figuurtjies op die bord, maar sy sien niks raak nie. “Verdwaal alleen …” sing dit deur haar kop, “verdwaal alleen…” Kips! val ’n papiertjie meteens op die bank voor haar en sy kyk af. Dis ’n opgevoude briefie met A.N. daarop. Sy vou dit stadig op haar skoot oop: Ou Nottie is ’n ou pes, wat! En ons sê almal so. L.

Alie se mondhoeke lig en sy voel hoe die seer kol in haar keel meteens afsak en klein word, en hoe daar ’n kielierige laggie diep in haar maag losspring. Sy steek die briefie stadig in haar sak, knip vir Leonora oog en skuif reg om te luister wat die juffrou sê.

Stories van Ruyswyck

Подняться наверх