Читать книгу Moord-en-roof - Albert Blake - Страница 11
Оглавление4 Vinger op die sneller |
Nadat sy met haar seun herenig is, het Lizzie Miller ’n plakboek begin maak van koerantberigte waarin hy genoem word. Dié plakboek is vandag in Charles se besit. Die vergeelde uitknipsels verstrek nie altyd die datum van publikasie of die name van die koerante waaruit dit kom nie, maar gee wel ’n blik op die gevare en soort misdadigers waaraan Charles in die sestiger- en sewentigerjare as jong polisieman blootgestel is.
Die West Rand Executioner
Elke era het ’n berugte misdadiger wat vrees by die gemeenskap inboesem, maar om al die verkeerde redes die publiek se verbeelding aangryp. In die sestigerjare was Hutchinson Motwa, ook bekend as die “West Rand Executioner”, so ’n misdadiger. Hy het ’n skrikbewind in veral Soweto en aan die Wes-Rand gevoer.
Motwa is gebore in Dobsonville, ’n swart woonbuurt wat aan die noordweste van Soweto grens. Van kleintyd was hy heelwat beter daaraan toe as die meeste ander swart mense van sy geslag omdat die Motwas vooraanstaande en betreklik welvarende mense was. Sy pa was die vervaardiger van die bekende Motwa-medisyne wat landswyd aan swart mense verkoop is.
Die jong Motwa het sy pa egter eindelose verdriet besorg. Hy het ’n soort charisma gehad wat baie mense na hom toe aangetrek het, maar hy het ook ’n gewetenlose donker kant gehad. Hy het sy eie gemeenskap etlike jare geteister en was by moord, aanranding, gewapende roof en huisbraak betrokke. Die koerant Post, wat in Soweto versprei is, het soos volg oor hom berig: “He was involved in so many shootings that his nickname ‘Shirai’, became synonymous with the word shooting. Lesser gangsters were known to threaten ‘I will Shirai you’, meaning they would shoot to kill.”
Teen Maart 1967 was Motwa in aanhouding en verhoorafwagtend op verskeie aanklagte, waaronder moord en poging tot moord. Op die dag van sy borgtogaansoek het Motwa ’n ander verhoorafwagtende, wat op ’n mindere aanklag in die landdroshof tereggestaan het, omgekoop sodat hy (Motwa) in sy plek in die Roodepoortse landdroshof kon verskyn. Borgtog is toe aan Motwa – of dan die persoon in wie se plek hy verskyn het – toegestaan. Nadat hy die borgtog betaal het, het hy doodluiters uit die hofgebou gestap.
Slegs drie dae ná sy ontsnapping het Motwa en ’n bende van drie ’n gewapende rooftog by die Randfontein-stasie uitgevoer. ’n Bankamptenaar is onder die neuse van spoorwegpolisiemanne van sy banksakke beroof. Daarna kaap die bende ’n motor naby Carletonville en gaan lê laag.
Enkele dae later kry die Wes-Randse Moord-en-rooftak inligting dat die rowers in die werkerskwartiere van ’n hotel op Carletonville skuil. Charles, sers. Miekie de Swardt en konst. M.J. Kgwele word gestuur om ondersoek in te stel. Met hul aankoms het hulle dadelik die werkerskwartiere in die hotel se agterplaas begin deursoek. Hulle is van kamer tot kamer, maar Motwa en sy twee bendelede was in die heel laaste kamer. Die polisiemanne het op hulle geskree om met hul hande in die lug uit te kom, maar hulle het die bevel geïgnoreer. Motwa is in ’n hoek gedryf, maar sou nie sonder ’n geveg oorgee nie.
Die speurders het besluit om in te gaan – die gevaarlike Motwa moes nie enige kans kry om verdere skade aan te rig nie. Toe Charles die deur van die kamer oopskop, het Motwa op hulle losgebrand. Die speurders het teruggeskiet en hom swaar in die nek gewond. Hy het egter steeds op hulle probeer skiet, maar kort daarna aan sy wonde beswyk. Die ander twee bendelede het tydens die skietery vreesbevange op die grond bly lê en het sonder enige weerstand oorgegee.
In Motwa se rewolwer is twee defekte patrone gevind wat nie afgegaan het nie . . .
In die ou bedeling het die polisieowerhede slegs by uitsondering dapperheid erken en dan dikwels ook arbitrêr. Charles en sy twee kollegas se optrede in die Motwa-saak het egter gesorg vir só ’n uitsondering. Die destydse kommissaris van polisie, genl. J.M. Keevy, het die dapperheidsaanprysing in ’n algemene magsorder op 17 Julie 1967 uitgereik, wat in die Staatskoerant gepubliseer en landswyd versprei is. Die drie is aangeprys omdat hulle “hul eie veiligheid verontagsaam” en “onverskrokkenheid” aan die dag gelê het deur Motwa en sy bende vas te trek. Charles was in sy loopbaan in menige gevaarsituasie betrokke waar hy meer of soortgelyke durf aan die dag moes lê, maar geen erkenning voor gekry het nie.
Skiet om dood te skiet
Dit is feitlik van die heel eerste bladsy van die plakboek ook duidelik dat Charles nie gehuiwer het om sy vuurwapen te trek as hy gereken het hy of sy kollegas word bedreig nie. Onder die ou bedeling het wetgewing die polisie gemagtig om onder sekere omstandighede met uiterste geweld teen verdagtes op te tree. Charles was in talle voorvalle betrokke waar verdagtes só dood is.
Kragdadige polisieoptrede is destyds ook grootliks deur die gemeenskap aanvaar. As ’n mens koerantberigte uit die sestiger- en sewentigerjare lees oor skietvoorvalle waarby die polisie betrokke was, is dit opvallend dat sulke optrede geen polemiek veroorsaak het nie. In ’n berig in Die Transvaler oor Charles se getuienis in ’n geregtelike doodsondersoek in die Roodepoortse landdroshof is byvoorbeeld só gerapporteer: “Sers. Miller het getuig dat hy en AO Van den Berg op 18 Mei omstreeks middernag patrolliediens gedoen het. Terwyl hulle op die parkeerterrein by Roodepoortstasie was, het hulle brekende glas gehoor.
“Hulle het gaan ondersoek instel en by die lisensiekantore in Kortstraat het hulle ’n wit bakkie voor ’n buitebandhandelaar se winkel gesien. Die bakkie se enjin het geloop en ’n swarte het agter die stuurwiel gesit. Twee ander swartes was besig om buitebande deur die vertoonvensters te dra. Toe die twee swartes hulle sien, het hulle iets vir die bestuurder in ’n swart taal geskreeu.
“Die bestuurder het vinnig weggetrek terwyl die twee diewe agter op die bak probeer spring het. Hulle het op die swartes geskreeu om stil te staan, maar hulle wou nie gehoor gee nie en is doodgeskiet terwyl hulle nog op die bak probeer spring het.”
’n Ander berig noem hoe Charles ’n gevaarlike ontsnapte rower, Daniel Dintwe, in Witpoortjie doodgeskiet het toe dié hom teen arrestasie verset het. Volgens nog ’n berig het Charles en De Swardt kort daarna ’n berugte inbreker, Daniel Sibeko, op heter daad betrap toe hy en ’n makker in die nag by ’n klerewinkel op Roodepoort ingebreek het. Sibeko is doodgeskiet en sy makker gewond toe hulle probeer vlug het.
Dan was daar die keer toe ’n informant (in polisietaal algemeen bekend as ’n beriggewer) Charles in November 1977 laat weet het van ’n bende wat ’n inbraak by ’n winkel in die Roodepoortse sakesentrum beplan het. Charles was toe reeds ’n tyd lank op die bende se spoor ná ’n rits inbrake in die gebied. Vroeg die aand het Charles en sers. Lourens (Swannie) Swanepoel van die honde-eenheid naby die winkels weggekruip, terwyl lede van die opsporingseenheid die omgewing gepatrolleer het. “Dié soort gewag was altyd frustrerend en senutergend,” vertel Charles. “Dit het ’n ongeduldige mens soos ek behoorlik getoets.”
Dit was amper middernag toe hulle die groot vertoonvenster van die Edgars-skoenwinkel hoor breek. Die twee polisiemanne het die arkade stil binnegegaan en gesien hoe die drie inbrekers besig is om bokse skoene uit die winkel te dra. Charles het die nagstilte verbreek toe hy hulle bulderend beveel het om stil te staan. Hierop het die inbreker naaste aan Charles hom met ’n knopkierie bestorm.
Charles se eerste skoot was mis, maar die tweede skoot het ’n inbreker noodlottig getref. ’n Tweede is ook deur Charles gewond, terwyl die derde een, wat platgeval het toe die skote begin klap, in hegtenis geneem is.
In ’n soortgelyke geval in 1975 het Charles en ’n kollega een Sondagnag inbrekers met kouse oor hul koppe betrap terwyl hulle besig was om by ’n winkel op die hoek van Van Wyk- en Kerkstraat op Roodepoort in te breek. In die skietery wat gevolg het, het Charles een van die inbrekers doodgeskiet, terwyl die ander op die vlug geslaan het.
Dié skietery het opslae gemaak in die destydse sakegemeenskap van Roodepoort toe die bestuurder van die nabygeleë Standard Bank gal gebraak het oor die skade aan ’n groot vensterruit van die bank wat stukkend geskiet is. Hy het gedreig om die verantwoordelike polisieman en die staat vir skadevergoeding te dagvaar. Die bankbestuurder het egter geen steun gekry van die dorp se sakesektor nie, wat skerp op sy besware gereageer het. Hy het daarna sy dreigemente laat vaar.
Gered uit die kake van die dood
De Swardt en Charles was uitstekende skuts wat skiet met handwapens ook as ’n sport beoefen het. De Swardt het verskeie kere Springbokkleure in pistoolskiet verwerf en is selfs gekies om aan die Olimpiese Spele van 1972 in München deel te neem, maar die Suid-Afrikaners is deelname geweier weens die land se apartheidsbeleid. Charles het Transvaalse provinsiale kleure in dieselfde sportsoort verwerf.
Charles en De Swardt het weens hul waaghalsigheid en durf ’n reputasie as ’n gedugte span aan die Wes-Rand en in Soweto opgebou. Die snykant hiervan was dat hulle dikwels deur die dood in die gesig gestaar is. Laat een middag in Junie 1974 het De Swardt in ’n worsteling met twee misdadigers amper sy lewe verloor.
Die twee rowers het ’n algemene handelaarswinkel in Kocksoord, Randfontein, beroof. Hulle het egter nie tred gehou met die aantreklike Chrissie Holthauzen, die winkelassistent wat daarvoor bekend was dat sy nie vir die duiwel sou stuit nie. Een van die rowers het hom as ’n klant voorgedoen en gemaak asof hy ’n baadjie wil koop wat hoog teen ’n winkelrak gehang het. Chrissie het op ’n leer geklim om die baadjie af te haal, maar toe sy afkyk, was dit in die loop van ’n vuurwapen.
Hulle het haar beveel om al die geld in die kasregister aan hulle te oorhandig.
Sy het doodluiters van die leer afgeklim – en die rower wat die vuurwapen op haar gerig het onverwags betrap deur hom met ’n harde vuishou vol op die mond te slaan. Die hou het hom laat terugsteier, wat haar die geleentheid gegee het om die winkel se alarmknoppie te druk. Al twee rowers het besluit dis beter om eerder vinnig pad te gee. In hul haas om weg te kom het hulle by die deur in mekaar vasgehardloop voordat hulle kon vlug.
De Swardt en Charles was in hul polisievoertuig in die omgewing toe hulle ’n uitkykberig oor die voorval oor hul polisieradio ontvang. Hulle het hulle na die toneel gehaas en ’n verbete Chrissie aangetref wat die verdagtes ’n hele ent van die winkel steeds te voet agternagesit het. Teen dié tyd het die twee rowers in ’n vlei ingevlug.
Intussen het nog ’n polisievoertuig by hulle aangesluit. In die vlei het die voertuig, wat deur Charles bestuur is, in ’n driffie vasgeval. Terwyl Charles agter die twee voortvlugtiges aanhardloop, het die ander polisiemanne De Swardt gehelp om die voertuig uit die moeras te kry. Nadat hulle daarin geslaag het, het die twee polisievoertuie kontak met mekaar verloor.
Charles het ook sig van die polisievoertuie sowel as die verdagtes verloor. Met sy terugkeer sien hy op ’n afstand dat De Swardt by hul voertuig in ’n worsteling met die twee rowers gewikkel is. Dit was vir hom duidelik dat dit om lewe en dood gaan en dat die twee rowers besig is om die oorhand te kry. Hy moes vinnig reageer indien hy sy maat se lewe wou red. Die ander polisiemanne was nêrens in sig nie.
Kort tevore was De Swardt besig om een van die rowers te arresteer toe die ander hom onverwags vanuit die bosse bestorm. Hy is oorweldig nog voordat hy die gearresteerde man kon boei, waarna die twee hom saam getakel het. Een van die rowers het hom aan die keel beetgekry en begin wurg. De Swardt kon hoor hoe die rower in Sotho aan sy makker sê om sy dienspistool af te vat en hom te skiet. De Swardt moes al sy kragte inspan om beheer oor sy pistool te behou, maar kon hom nie terselfdertyd teen die gewurg verweer nie.
Hy was besig om sy bewussyn te verloor toe Charles aangehardloop kom.
Charles kon nie op die rowers vuur sonder om De Swardt ook in gevaar te stel nie. Hy het skote in ander rigtings afgevuur om die rowers se aandag af te trek. Dit het gelukkig gemaak dat die rowers De Swardt laat los het. Dit het Charles ’n kans gegee om op hulle aan te lê.
Met sy eerste skoot het hy een rower doodgeskiet. Die ander een is vier keer gewond met twee skote deur die bene, een deur die wang en een deur die sy. Hy het wonderbaarlik oorleef.
Die volgende dag het die koerante ’n foto van Chrissie met ’n opgeswelde hand gepubliseer. Hoewel die een rower sy pistool herhaaldelik op haar en die polisiemanne gerig het, het hy nooit gevuur nie. Later het dit aan die lig gekom dat die rowers nie geweet het hoe werk die veiligheidsmeganisme van die pistool nie.
Die rower het ’n lang lys van vorige veroordelings gehad en is tot 18 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Op vlug ná ’n rooftog
Dit was ’n weeksmiddag in die winter van 1975 toe ’n aankomende voertuig teen ’n hoë snelheid op hul motor afpyl en op die laaste oomblik uitswenk en verder jaag. Instinktief het Charles en AO Willie van den Berg geweet dat die twee mans in die voertuig van ’n misdaadtoneel af vlug. Charles het onmiddellik ’n U-draai gemaak en hulle agternagesit.
Kort tevore het die twee mans ’n vrouekassier van die United-bouvereniging-agentskap in Discovery, Roodepoort, met ’n mes aangehou en van ’n aansienlike bedrag kontant beroof. Die twee speurders was toevallig op pad Roodepoort toe van ’n ondersoek af toe hulle die roekelose gejaag sien. Kort daarna het hulle ook ’n radio-uitkyk oor die rooftog ontvang.
’n Wilde jaagtog van sowat twintig minute het deur die buitewyke van Maraisburg tot in Hoofrifweg gevolg. Dit sou tot ’n einde kom op die terrein van die CMR-goudmyn. Toe die rowers op ’n verlate grondpad agter die myn begin inry, is twaalf skote op hul voertuig gevuur. Net toe het een van die rowers ’n aktetas by die venster uitgeslinger.
Hul voertuig het etlike kilometers verder tot stilstand gekom. Die rowers is met verskeie koeëlwonde in die motor aangetref – al twee was dood. Die gesteelde geld was nog net so in die aktetas.
Hinderlaag
Dit was in 1980. ’n Beriggewer het Charles ingelig oor rowers wat op ’n sekere aand ’n fabriek op Vanderbijlpark gaan beroof. Onder bevel van Jaap le Roux stel speurders van die Wes-Randse Moord-en-rooftak daardie aand ’n hinderlaag op die fabriek se perseel.
Dit was nog vroegaand toe ’n hele klompie rowers in ’n gesteelde bus opdaag, wat hulle buite die fabriek parkeer. ’n Hele ruk lank doen hulle niks nie en bly in die bus sit, terwyl hulle die perseel waarskynlik fyn dophou. Iets moes hulle agterdogtig gemaak het, want hulle het skielik weggejaag.
’n Wilde jaagtog het op die pad na Sebokeng gevolg waarin die speurders die rowers in drie voertuie agternagesit het. Die voertuig waarvan Charles die bestuurder was, het amper omgeslaan toe hy die bus wou verbysteek en van die pad gedruk word. Nog ’n polisievoertuig is ook amper te pletter gery toe dit die bus van die pad wou dwing.
Die speurders het verskeie skote deur die agterruit van die bus gevuur waarna dit gelyk het of die bestuurder beheer oor die bus verloor. Dit het van die pad geloop en naby die Wawielbrug skielik tot stilstand gekom.
Die speurders het uit hul voertuie gespring en ’n woeste oor-en-weer-skietery het gevolg. Een van die rowers is platgeskiet toe hy al skietende uit die bus geklim en op Charles afgestorm het. Hy het enkele meters voor Charles dood neergeval. “Dit was ’n bestiering dat nie een van ons getref is nie,” sê Charles.
In die bus is die lyk van ’n tweede rower gevind, wat reeds tydens die agtervolging moes gesterf het. Die ander rowers het op die vlug geslaan, maar is later tydens ’n opvolgoperasie vasgetrek.
“Cuffed in the scull”
Charles kon wel nie altyd sy vuurwapen gebruik om ’n misdadiger in sy spore te stuit nie. Een middag in 1974 het hy in ’n systraat van die nywerheidsgebied in Reefhaven, Roodepoort, afgekom op ’n groot groep mense wat twee mans uit ’n sementfabriek jaag. Hy sou later vasstel dat die twee ’n jong vrou probeer verkrag het.
Hy het die een met sy motor ingehaal en in hegtenis geneem. Nadat Charles hom vir sy eie veiligheid in die polisiemotor toegesluit het, het hy die ander man te voet agternagesit. Hy het ’n waarskuwingskoot afgevuur, maar die man het aanhou hardloop. Toe hy hom inhaal, het die man skielik ’n mes uitgepluk. Charles kon nie waag om op hom te skiet nie omdat daar soveel omstanders was. Die verdagte het Charles se huiwering gesien en die kans gebruik om oor ’n heining te probeer wegkom.
Dis toe dat Charles met al sy krag sy oop stel boeie na die man gooi en hom teen die agterkop tref. Hy het agteroor geval en roerloos bly lê. Al was die boeie se oop punte stomp, het een punt sowat 4 cm in sy agterkop weggesak. Die boeie is later die aand in ’n noodoperasie verwyder en die man het mettertyd herstel. ’n Engelse dagblad het oor die voorval berig onder die opskrif “Cuffed in the skull”.
Die Strafprosesreg van ’n vergange era
Charles kan nie sê in hoeveel skietgevegte met misdadigers hy in sy loopbaan betrokke was nie. Waarskynlik is daar te veel om te onthou. Hy kon ook nie my vraag beantwoord oor hoeveel mense hy doodgeskiet het nie. Soos ek inligting oor die voorvalle uit ander bronne opgediep het, kon dit sy geheue meestal verfris. Daar was egter ook gevalle wat hy glad nie kon oproep nie.
Die ou Strafproseswet van 1955 het aan ’n polisieman wye magte verleen om ’n voortvlugtige verdagte onder sekere omstandighede in die uitvoering van sy pligte te dood. Veral Artikel 37 van die wet was omstrede en is deur sommige as onmenslik beskryf. ’n Polisieman kon ingevolge daarvan loskom deur aan te voer dat sy optrede regverdig was. Al vier die volgende vereistes moes in daardie geval gegeld het:
1. Die polisieman moes op redelike gronde geglo het dat die oorledene ’n ernstige misdaad gepleeg het;
2. Hy moes probeer het om die oorledene te arresteer;
3. Die oorledene moes gevlug of weerstand gebied het in die loop van die poging om die oorledene te arresteer; en
4. Daar moes geen ander manier gewees het om die oorledene te vang as om hom te dood nie.
Hoewel die bewyslas op die polisieman was om die hof te oortuig dat hierdie vereistes nagekom is, moes hy dit bloot op ’n oorwig van waarskynlikhede doen en nie bo redelike twyfel soos wat die gewone maatstaf in die strafreg is nie. Artikel 49 van die Strafproseswet van 1977, wat bogenoemde wetgewing vervang het, het soortgelyke magte van “geregverdigde doodslag van verdagtes by inhegtenisneming” aan die polisie verleen.9
Die ou wetlike bepalings het nietemin nie ’n vrypas aan polisiemanne verleen om voortvlugtige verdagtes te skiet nie. Talle polisiemanne is in die ou bedeling aangekla en skuldig bevind wanneer hulle die wetlike perke oorskry het. Daar is egter geen twyfel nie dat ondersoekbeamptes, die verskillende kantore van die prokureurs-generaal en die howe destyds simpatiek gestaan het teenoor polisiemanne wat in skietvoorvalle betrokke was en dat hulle meestal die voordeel van die twyfel gekry het.
Sedert die Soweto-onluste van 1976 het die binnelandse en buitelandse politieke druk op die nasionale regering egter begin toeneem. Met eskalerende onrus het polisieoptredes verpolitiseer geraak en is dit toenemend onder die vergrootglas geplaas. Veral skietvoorvalle waarby die polisie betrokke was, sou algaande meer negatiewe aandag trek. Alle skietvoorvalle moes deur ’n polisieoffisier ondersoek word. Binnekort sou offisiere wat nie hul loopbaan wou benadeel nie self ook meer afkeurend teenoor skietvoorvalle begin staan.
Maar die groep polisiemanne waaraan Charles behoort het, was as ’t ware gekondisioneer om misdadigers onder sekere omstandighede dood te maak. Dit sou uiters moeilik wees om hulle te “herprogrammeer” om misdadigers se lewe ook in ag te neem.