Читать книгу Moord-en-roof - Albert Blake - Страница 6
Оглавление1 ’n Oorlewende se skuldgevoel |
Op ’n noodlottige Sondagnag in Augustus 1983 stel lede van die Wes-Randse Moord-en-rooftak ’n lokval by ’n fabriek in Boksburg aan die Oos-Rand. Hul doel is om ’n gevaarlike ontsnapte bedrieër vas te trek, maar die lokval loop liederlik skeef. In die treurspel wat volg, sterf vier mense, onder wie die bevelvoerder van die Moord-en-rooftak.
In die wilde skietgeveg word speuradjudant-offisier Charles Miller ook swaar gewond, maar hy oorleef dit. Hy is ’n veteraan van bykans twee dekades se skietgevegte met misdadigers, maar hierdie keer is daar ’n ander, blywende gevolg. Hy sal voortaan ’n geweldige las met hom moet saamdra: Daardie skuldgevoel van iemand wat kamerade in ’n traumatiese situasie aan die dood afstaan, maar self bly lewe.
Sondagnagslagting in Boksburg
Sommige meen finansiële probleme in sy elektriesekontrakteursonderneming op Carletonville het die 28-jarige Johann (Bokkie) Taute daartoe gedryf om in misdaad te verval. Maar sy gewelddadigheid dui eerder op ernstige afwykende gedrag.
Taute was besig om ’n vonnis van vyf jaar gevangenisstraf vir bedrog uit te dien toe hy op Woensdag 24 Augustus 1983 op verdere aanklagte in die hof op Oberholzer naby Carletonville moes verskyn. Hy het baie mense gewetenloos ingeloop en gevolglik het hy talle vyande in die myngemeenskap gehad wat om vergelding geroep het.
Hy het sy vrou toe reeds vanuit die gevangenis laat weet dat hy nie kans sien om nóg tronkstraf uit te dien nie. Sy het hom laat weet dat sy genoeg van sy misdadige gedrag gehad het en dat hy ’n egskeidingsdagvaarding in die tronk kon verwag. Sy en hul drie kinders sou elders ’n heenkome vind. Vir Bokkie Taute was dit olie op die vuur.
Nog voordat hofverrigtinge daardie Woensdag kon begin, het hy ’n bewaarder oorrompel en sy dienspistool, ’n 9 mm-Beretta, afgeneem en ongesiens by die hofgebou uitgeglip. Daar naby het hy ’n motor gekaap en na myngrond buite die dorp gery, waar hy ’n vriend gedwing het om sy Ford Cortina-bakkie aan hom te oorhandig.
Taute was nou onkeerbaar op die pad van rampspoed.
Padblokkades wat die polisie inderhaas opgestel het, kon hom nie keer nie en hy het by ’n vriendin aan die Oos-Rand gaan skuil. Daar is vermoed dat hy en die vriendin nog dieselfde aand ’n vlug van die destydse Jan Smuts-lughawe na Durban gehaal het. Toe sy vrou van sy gewaagde ontsnapping hoor, het sy uit vrees met hul kinders by familie gaan wegkruip.
Taute was nou landswyd ’n gesoekte man. Nuus oor sy ontsnapping is oor die radio en televisie uitgesaai. Hy moes besef het dat dit net ’n kwessie van tyd was voordat die polisie se net al hoe stywer om hom sou span. Dit het hom net meer desperaat – en gevaarliker – gemaak.
Die hulp van die Wes-Randse Moord-en-rooftak is vroeg reeds ingeroep. Op die dag van sy ontsnapping het die tweede-in-bevel van die eenheid, die 40-jarige AO Charles Miller, Taute se ouer broer, Hannes Taute, op Elsburg gaan besoek. Dié het ingestem om die speurders te laat weet as sy voortvlugtige broer met hom kontak maak. Hannes was, soos die ander lede van die Taute-familie, uiters besorg oor die geestesgesteldheid van sy jonger broer. Die familie het geglo dat hy dringend sielkundige hulp moes kry voordat hy homself of sy gesin dalk leed aandoen.
Die volgende Sondagmiddag ontvang speurders van Carletonville inligting dat Taute hom weer aan die Oos-Rand bevind. In oorleg met die bevelvoerder van die Wes-Randse Moord-en-rooftak, maj. Jaap le Roux, is besluit om hom dieselfde middag nog by Hannes se huis te gaan voorlê. Die 39-jarige Le Roux, wat bekend is as ’n uiters bekwame bevelvoerder, het beheer oor die operasie oorgeneem. Hy was een van min speurders met ’n universiteitsgraad wat steeds veldwerk gedoen het.
Le Roux het versoek dat Charles ook aan die operasie deelneem. Hoewel hy van diens was, het Charles soos gewoonlik onmiddellik ingestem. Die twee mans was meer as kollegas – hulle was ook groot vriende wat mekaar toe al amper twintig jaar geken het nadat hulle in 1964 as jong konstabels in die kaserne vir ongetroudes op Vereeniging ’n kamer gedeel het.
Vyf speurders en ’n burgerlike wat Taute sou kon uitken, het die Sondagmiddag met twee ongemerkte polisiemotors na Elsburg aan die Oos-Rand vertrek. Die burgerlike was Tollie Tolkin, ’n skagvoorman van Wes-Driefonteinmyn op Carletonville. Die ander drie speurders was AO Nick van der Merwe van Moord-en-roof en serse. Cobus Jacobs en Wally Hattingh, al twee van die Carletonville se speurafdeling.
Die twee bevelvoerders het met Hannes Taute beraadslaag oor wat hulle gaan doen om sy broer vas te trek. Hannes was uiteraard baie besorg oor sy jonger broer en het die speurders gesmeek om hom geen leed aan te doen nie. Hy het onder meer geëis dat hulle geen vuurwapens in hul operasie gebruik nie. Le Roux het gehoor gegee aan sy versoek, ten spyte van Charles se ongemak met dié besluit.
Soos hulle verwag het, het Taute sy broer daardie middag gebel. Die plan was om hom na Hannes se ingenieursaak op Boksburg-Wes te lok, waar die speurders hom sou oorweldig. Agter die ingenieurswerke was ’n klein private kroeg waar kliënte onthaal is. Hannes en sy vrou sou sy broer daarheen bring en hom eers gemaklik maak voordat hy ’n teken aan die speurders sou gee om uit hul skuilplekke te kom.
Die groep is intussen versterk deur Hannes se vennoot Johnny Simpson, wat die uitleg van die fabriek ook haarfyn geken het. Die groepie het in twee voertuie na die fabriek vertrek met Hannes wat later saam met sy vrou in sy eie motor sou volg.
Die speurders het hul voertuie in ’n nabygeleë fabriek versteek en die groep ontplooi nadat hulle hul plan nogmaals nagegaan en verfyn het. Sers. Jacobs en die skagvoorman Tolkin sou hulself net buite die kroeg versteek, terwyl die ander in die kroeg se toilet weggekruip het. As Taute onverwags die toilet sou gebruik, sou hulle reg wees vir hom. Van der Merwe en Simpson sou van die straat se kant observasie hou.
Die speurders het onrustig begin raak toe niemand opdaag nie en daar is selfs gevrees dat Bokkie sy broer en skoonsuster moontlik gyselaar geneem het. Maar uiteindelik het Hannes en sy vrou opgedaag. Kort op hul hakke was Bokkie en sy vriendin in die gesteelde Ford Cortina. Hulle het in die kroeg gaan sit en Hannes het vir almal drankies aangebied. Sover het alles volgens plan verloop. Maar Bokkie was soos ’n styfgespande snaar en baie agterdogtig.
’n Hele aantal dinge het toe verkeerd geloop.
Bokkie het daarop aangedring dat sy brandewyn met die gebruiklike Coke en ys bedien word. Omdat daar nie Coke in die kroeg was nie het Hannes se vrou aangebied om dit in ’n buitekamer te gaan haal. Dit was nie deel van die plan dat iemand die kroeg sou verlaat nie. Toe sy die deur oopmaak, het Bokkie vir sers. Jacobs en Tolkin opgemerk, wat intussen te naby aan die kroeg se ingang beweeg het. Omdat Taute vir Tolkin van Carletonville geken het, het hy hom waarskynlik herken. Die twee mans het die vertrek binnegestorm en op die groep afgepyl.
Hannes het probeer om sy broer vas te gryp, maar het sy greep op hom verloor en teruggesteier toe Tolkin hom per abuis met die vuis bykom. Die twee Taute-broers het na mekaar gelyk en Tolkin het waarskynlik vir Hannes met sy broer verwar. In die harwar is ’n staanlampie op die kroegtoonbank omgestamp, wat die vertrek in halfdonkerte gelaat het. Boonop het die twee vroue vreeslik aan die gil gegaan.
Bokkie het ’n pistool uit sy sak gepluk en wild begin skiet. Eers het hy Tolkin getref, wat dadelik neergesak het. Die koeël is onder sy linkerarm in en onder die regterarm uit. Jacobs het ’n skoot deur die long gekry en het bo-op Tolkin inmekaargesak.
Intussen het die drie speurders uit die toilet die kroeg binnegestorm. Le Roux kry ’n skoot deur die aorta net bokant die hart en sterf op die toneel. Sers. Hattingh het gestruikel en met die val sy arm beseer.
Charles het sy vuurwapen (wat hy by hom gehou het ten spyte van sy bevelvoerder se versekering aan Hannes) uit die holster agter sy rug gepluk. Terwyl hy ’n skoot op Taute afgevuur het, het hy terselfdertyd na hom geduik. Die skoot was mis en met die duikslag word Charles deur Taute raakgeskiet. Die koeël gaan deur sy regterarm en slaan vas teen sy regtersleutelbeen. Dit laat sy regterarm heeltemal lam.
Nogtans kry Charles die gewrig van Bokkie se hand wat die pistool vashou met sy linkerhand beet. As gevolg van ’n besering wat Charles voorheen in ’n motorongeluk opgedoen het, het hy nie volle krag in sy linkerhand nie. Maar hy slaag tog daarin om Bokkie se hand met die pistool van hom af weg te dwing. Op daardie oomblik trek Taute ’n laaste skoot af.
Hy tref homself in die kop.
Hy het slap geword in Charles se greep en afgesak vloer toe terwyl die pistool uit sy hand val. Charles het die pistool weggeskop al was dit nie nodig nie. Taute was reeds bewusteloos.
Toe Simpson en Van der Merwe (wat verder af in die straat was) die kroeg binnekom, het ’n bloedbad hulle begroet. Hulle het gesien hoe die gewonde Charles oor Le Roux se lewelose liggaam buk en iets prewel. Jacobs het na Charles geroep en gevra dat hy hom van Tolkin se lyk afhaal, maar Charles kon hom nie help nie. Sy eie kragte het as gevolg van sy wonde begin ingee.
Van der Merwe het ’n ambulans ontbied en die plaaslike polisie se hulp ingeroep. Die gewonde Charles en Jacobs, asook die sterwende Taute en Tolkin, is almal saam in ’n ambulans gelaai. Die ambulanspersoneel se bystand was egter nie van veel waarde nie omdat hulle nie eens in basiese noodhulp opgelei was nie. Omstanders het die gehawende ambulans met ’n outydse roomyskar vergelyk.
Op pad na die hospitaal het Taute se geroggel stilgeword. Tolkin is waarskynlik ook in die ambulans dood. Vir die duur van die rit het Jacobs met Charles bly praat. Hy het onder meer gesê sodra hulle weer gesond is, moet hulle so gou moontlik bymekaarkom vir ’n braai.
By die Benoni-Boksburg-hospitaal het die twee polisiemanne lank langs mekaar gelê terwyl hulle tevergeefs op noodsaaklike mediese behandeling gewag het. Jacobs het later ophou praat en stil gesterf. Charles is steeds oortuig dat sy kollega hom destyds onnodig doodgebloei het.
’n Deurmekaar en pyndeurdrenkte Charles het sy vrou, Dorothy, laat daardie Sondagaand vanuit die hospitaal gebel en onsamehangend oor ’n skietery gepraat. Sy het van sy kollegas probeer bereik om uit te vind wat gebeur het, maar sonder veel sukses. ’n Ruk later het kol. Martin (Cowboy) Saunders, die Wes-Randse afdelingspeurhoof, buite haar huis stilgehou. Haar hart het ineengekrimp. Saunders kon haar nie veel meer besonderhede gee nie, behalwe dat Le Roux en ander polisielede in ’n skietery dood is en dat Charles gewond maar buite gevaar is. Hy wou nie toelaat dat sy saam met hom Boksburg toe gaan nie.
Die skietery was reeds in die vroeë oggendure hoofnuus op die radio. Uit desperaatheid het Dorothy haar na Hans Botha, ’n jare lange en hegte vriend van Charles en Le Roux, gewend. Hans, wat in daardie stadium burgemeester van Krugersdorp was, het haar en die drie kinders na die hospitaal geneem.
Toe hulle daar opdaag, was daar nog geen teken dat die koeël uit Charles se skouer verwyder gaan word nie. ’n Ontstelde Hans het gereël dat ’n behoorlik toegeruste ambulans Charles na die Princess-hospitaal in Hillbrow vervoer, waar die koeël later die oggend uitgehaal is. Toe hy uit die operasiesaal kom, het Charles, nog deurmekaar ná die narkose, sy vrou aanhoudend gevra om sy vriend Jaap te gaan roep . . .
Die wond aan sy skouer sou mettertyd gesond word, maar dié aan sy arm het maande lank septies gebly. Uiteindelik het hy blywende skade aan sy regterarm opgedoen en die arm raak nou, ná drie dekades, steeds van tyd tot tyd lam.
Die vier oorledenes is almal op Woensdag 1 September 1983 begrawe. Vir maj. Le Roux en sers. Jacobs is militêre begrafnisse gehou. Charles het homself teen mediese advies daardie oggend uit die hospitaal ontslaan om die begrafnisse van sy twee kollegas by te woon. By die kerk op Krugersdorp het hy selfs genoeg krag bymekaargeskraap om as ’n draer van Le Roux se kis op te tree. By die graf kon hy nie meer staan nie en ’n stoel moes vir hom gebring word.
Bykans al die koerante het die dag ná die begrafnisse op hul voorblaaie dramatiese foto’s van Charles geplaas waar hy met sy gewonde arm in ’n skouerverband sand op Le Roux se kis strooi.
Bykans tien dae agtereenvolgens haal die voorval die hoofopskrifte in nasionale Afrikaanse en Engelse dagblaaie en Sondagkoerante. Die polisie se optrede word as heldhaftig beskryf. Selfs die destydse The Rand Daily Mail, wat gereeld vyandig teenoor die polisie was, het die polisiemanne se onverskrokke optrede besing in ’n berig onder die opskrif “Heroic tale of police bid to arrest Taute”.
Die gewonde Charles is as ’n held beskryf. Die destydse Die Vaderland het die dag ná die skietery onder die opskrif “Gewonde het al baie rowers aangekeer” onder meer berig: “’n Baasspeurder wat einde verlede jaar en vroeër vanjaar sommer ’n paar dosyn roofsake aan die Wes-Rand met sy onverskrokke speurwerk opgelos het, is in gisteraand se bloedige skietery aan die Oos-Rand gewond. Hy is a.o. Charles Miller van die Wes-Randse Moord-en-rooftak.”
Die berig noem dan ook vorige gewapende rooftogte wat Charles help oplos het. Soortgelyke berigte het in ander koerante verskyn.
Dié soort publisiteit het Charles egter ongemaklik laat voel. Van al die insittendes in die polisievoertuig wat hy daardie aand na die fabriek bestuur het, was hy nou die enigste oorlewende. Hy kon nooit dié skuldgevoel afskud nie en het homself verwyt dat hy sy makkers nie beter kon beskerm nie. Was hulle genoeg manne? Was dit ’n fout om die vroue en burgerlike (Tolkin) te betrek? Was die kroegie ’n geskikte plek vir die lokval? Op dié vrae sal hy waarskynlik nooit antwoorde kry nie. Boonop was Charles uit die staanspoor onrustig daaroor om ongewapen te wees.
Bykans elke aspek van die gebeurde is in die pers bespreek. In van die berigte is bespiegel wie Bokkie Taute die doodskoot gegee het – hyself of Charles? The Citizen het in ’n berig onder die opskrif “Wounded policeman killed convict” tot die slotsom gekom dat Charles vir Taute die doodskoot gegee het, net om twee dae later ’n berig te plaas onder die opskrif “Who killed Taute? Mystery over bullet”.
Daar is selfs berig dat die twee polisiemanne wat doodgeskiet is glo volgens hul weduwees wou gehad het dat hulle in die uitvoering van hul pligte sterf. Charles se reaksie hierop is waarskynlik meer realisties: “Geen normale mens het ooit sulke bedoelinge nie. Ons het nie by die polisie aangesluit om te sterf nie. Hele gesinne is verpletter en wees gelaat. Dit was van begin tot einde ’n onvoorsiene tragedie, wat niemand ooit wou gehad het nie. Dit was verskriklik . . .”
Vir Charles was daar amptelik geen vorm van ontlading ná die skietery nie. Geen kapelaan het hom besoek nie en sielkundige berading van polisiekant was ongekend in daardie tyd. Miskien was die polisie se bevelstruktuur in Wachthuis, Pretoria, naïef oor sulke dinge.
Ontlading is aan brandewyn en Coke oorgelaat . . .