Читать книгу Moord-en-roof - Albert Blake - Страница 8
Оглавление2 Littekens op ’n jong gemoed |
Toe ek Charles oor sy herkoms en jeugjare begin uitvra, het sy antwoord my onkant betrap: “Moenie in jou herkoms gaan krap wanneer dit nie nodig is nie, veral as jy nie weet wat die onbekende alles gaan oplewer nie. As ek my lewe kon oorhê, sou ek nie in my verlede gaan delf het nie . . .”
Vir die eerste 18 jaar van sy lewe was William Charles Miller as Fredrich Wilhelm Salzmann bekend. Sy maats van kleintyd het hom “Salsie” genoem. Sy volwasse vriende ken hom slegs as Charles.
Daar is aanvanklik nie vir hom vertel dat die ouers wat hom grootmaak nie sy biologiese ouers is nie. As tiener het hy begin vermoed iets skort met sy herkoms nadat sy stiefpa op ’n ongevoelige wyse aan hom laat deurskemer het hy is nie sy kind nie.
Toe hy ’n jong man was, het hy alles in sy vermoë gedoen om sy ware identiteit vas te stel. Kinders wat aangeneem word, het dikwels ’n verterende begeerte om uit te vind wie hul biologiese ouers is en om hulle te ontmoet. Die waarheid het vir hom geen berusting gebring nie. Dit het, inteendeel, net meer verwarring veroorsaak.
Charles is op 1 Mei 1943 in Pretoria gebore. In daardie stadium het sy biologiese ma, Lizzie Miller, in Joostestraat 121, Pretoria-Wes, by haar skoonsuster, Flo Pepler, gewoon. Lizzie se Engelssprekende man, Tommy, was ten tyde van Charles se geboorte nie in die land nie, want hy was ’n soldaat in die Tweede Wêreldoorlog. Charles kon nooit vasstel presies hoe lank voor sy geboorte sy pa reeds weg was nie, maar wat wel gebeur het, is dat hy slegs drie dae oud was toe hy aan Theo en Dollie Salzmann gegee is. Daar was geen amptelike aanneming nie, maar die Afrikaanssprekende Salzmann-egpaar sou Charles versorg en het hom as Fredrich Wilhelm Salzmann in die NG Kerk laat doop. Die Miller- en Salzmann-families het nooit weer kontak met mekaar gehad nie.
Van sy stiefma, Dollie, praat Charles met groot deernis. Dis duidelik dat sy hom liefgehad het soos haar eie. Nadat Charles in haar sorg geplaas is, het sy nog twee seuns gehad. Die Salzmann-gesin het finansieel swaar gekry. Dit voel vir Charles asof hulle altyd deur buitestanders as onderdorpers beskou is. Aanvanklik het die gesin ’n soort nomadiese bestaan in Pretoria gevoer. Charles het op meer plekke gewoon en was in meer laer skole as wat hy kan onthou.
Tog was die eerste twaalf jaar van sy lewe andersins stabiel en kommervry. Daar was in dié tyd geen rede vir die jong seun om te vermoed dat Theo en Dollie nie sy biologiese ouers is nie. Die liefde wat hy in sy vroeë vormingsjare van sy stiefma gekry het, het hom waarskynlik genoeg stabiliteit gegee om latere swaarkry as ’n tiener te kon hanteer.
Toe hy twaalf was, is kanker by sy stiefma gediagnoseer en sy is kort daarna oorlede. Dit het Charles se jong lewe ingrypend verander. Die wewenaar Theo Salzmann kon nie drie seuns alleen grootmaak nie. Hulle het in daardie stadium in ’n klein huurhuis op Meyerton gewoon. Die wit gemeenskap van Meyerton was in die 1950’s, soos die meeste ander in die Vaaldriehoek, grootliks ’n werkersklasgemeenskap waar elkeen vir homself moes sorg. By skole is kospakkies met toebroodjies en vis, soms met melk of lemoensap, tydens pouses aan die behoeftige kinders uitgedeel. Dit was meestal die drie Salzmann-seuns se hoofmaal. Charles het dit ook op hom geneem om sy twee jonger stiefboeties teen die alomteenwoordige boelies te beskerm.
Charles se verhouding met sy stiefpa het vinnig versleg ná sy stiefma se dood. Hoewel hy Charles nie fisiek mishandel het nie het Theo hom psigies afgeknou.
Vir ’n tyd is die drie seuns na ’n jonger broer van Theo gestuur, wat saam met hul ouma Salzmann op ’n hoewe buite Rustenburg gewoon het. Dit was egter ook nie ideale omstandighede vir die jong seuns nie. Die hoewe was amper tien kilometer van die skool en hulle moes soggens skool toe loop en smiddae terug. Die ouma was reeds bejaard en haar kragte was aan die ingee, terwyl hul ongetroude oom nie besef het wat dit verg om kinders te versorg nie.
Theo het versuim om enige bydrae tot sy seuns se onderhoud te maak, maar in ’n stadium moes hy hulle weer by hom inneem. Hy het toe op Vereeniging gewoon.
Met die seuns se terugkeer het hy en Charles al hoe meer vasgesit. Theo het kwaai begin drink en wanneer hy onder die invloed was, het hy laat deurskemer dat Charles nie sy biologiese kind is nie. Charles het ook agtergekom dat die ander familielede meer besorg is oor sy jonger boeties as oor hom. Hy het algaande soos ’n buitestander in die Salzmann-gesin gevoel.
As leerling aan die Hoërskool Vereeniging kon hy hom darem op die sportveld uitleef, veral in rugby, swem en atletiek. In st. 8 het die plaaslike koerante sy pragspel as vleuel in die eerste span besing. Hy was een van vier seuns wat vir die Bondedagspan gekies is om op Ellispark te gaan speel (die ekwivalent van vandag se Cravenweekspan). Miskien het sy sporttalent ook daartoe bygedra dat daar vir hom plek in die skoolkoshuis was, want sy stiefpa het nooit die koshuisgeld betaal nie.
Hy was dus minstens in die skoolkwartale versorg en hoef nie met sy stiefpa gekonfronteer te word nie. Sakgeld het hy verdien deur gholfballe te verkoop wat hy in die Vaalrivier langs die gholfbaan by Vereeniging uitgeduik het. Hy het motors gewas en het ook teikens op ’n skietbaan naby Meyerton tydens die plaaslike kommando se skietoefeninge gewissel.
Sy stiefpa het hom al hoe meer laat verstaan dat hy nie vir skoolvakansies by sy “ouerhuis” welkom was nie. Hy het meestal vakansietye by maats gaan bly.
Charles het ook in die skool se kadetorkes gefloreer en tot tamboermajoor gevorder. Die orkes het op talle plekke opgetree en dit het hom blootstelling gegee aan ander plekke en mense wat hy andersins nie sou gekry het nie. Op akademiese gebied het dit egter beroerd gegaan en hy moes ’n standerd herhaal.
Tog was Charles ’n gunsteling onder die meeste onderwysers. Hulle het waarskynlik van sy huislike omstandighede geweet en het hulle oor hom ontferm. Charles noem dat hy moeite gedoen het om sy onderwysers tevrede te stel. Hulle was die rolmodelle wat hy nie in sy ouerhuis gehad het nie.
Kortom: Charles se jeugjare het hom voor baie uitdagings gestel wat net met moed oorkom kon word. Die verhaal van die dag in st. 8 toe hy by die Ellispark-swembad in Johannesburg vrees in die oë moes kyk, is meer as net ’n amusante anekdote.
Met sy natuurlike aanleg vir sport was Charles ook een van die voorste swemmers in die skool se swemspan. Aan die einde van die byeenkoms moes ’n seun en dogter van elke skool aan ’n duikvertoning deelneem waarvoor punte toegeken is. Sonder enige vooraf waarskuwing of voorbereiding het die swemonderwyser Charles aangewys om te duik. Nie een van die dogters het daarvoor kans gesien nie, want waar hulle vandaan gekom het, was daar nie sulke hoë duikplanke nie. (Op Vereeniging het net die munisipale swembad ’n duikplank gehad en dit het maar net drie trappe gehad.)
Die tawwe Charles het gereken hy is opgewasse vir die taak, maar het eers besef waarvoor hy hom ingelaat het toe hy die trappe na die hoë platform van die duikplank uitgeklim het.
“Doer onder het die swembad soos ’n klein poeletjie gelyk. Dit het vir my gevoel of ek die swembad gaan misduik en my teen die plaveisel aan die kant te pletter gaan val. Ek was nog nooit só bang nie. My keel het toegetrek, my mond was kurkdroog en ek kon nie behoorlik dink nie.
“Met die grootste inspanning het ek my voete op die duikplank stukkie vir stukkie vorentoe gesleep. Maar my moed het my begeef en ek het terugbeweeg. Nadat my swemonderwyser my ernstig aangespreek het, het ek weer stadig vorentoe geskuifel, maar my moed het my nogmaals in die steek gelaat.
“My swemonderwyser het nou sy houding verander en my amper gesmeek dat ek moes duik, anders sou hulle my diskwalifiseer. Ek dink daar was ’n doodse stilte op die paviljoen. Ek het besef dit is nou of nooit.
“Terwyl ek met my oë toe gebid het, het ek van die duikplank gespring, my bene vasgegryp en die grootste moontlike bom gemaak, wat ’n sproei water laat opskiet het wat van die omstanders natgespat het.”
Die leerlinge van al die skole was uit hul nate. Die meeste het klaarblyklik gedink dat Charles met opset ’n bespotting van ’n ernstige saak gemaak het. Niemand het geweet dat dié spektakel ’n intense verleentheid vir die jong seun was nie en dat dit nog lank by hom sou spook.
Maar Charles het homself daardie dag belowe om nooit weer voor vrees te swig nie. Wat nie altyd moontlik was nie . . .Later in sy lewe sou hy gereeld met vrees gekonfronteer word – daardie vrees dat hy sy lewe kan verloor.
Later in sy st. 8-jaar sou Charles besluit om die skool te verlaat. ’n Akademiese verleentheid het moontlik tot sy besluit bygedra.
Anders as sy goeie verhouding met die meeste van sy onderwysers kon hy net nie met die jong boekhou-onderwyser, wat boonop sy koshuisonderwyser was, klaarkom nie. Charles kon ook nie die vak baasraak nie. Die stramme verhouding is op die spits gedryf toe die onderwyser Charles betrap waar hy in die boekhou-eksamen by ’n maat afskryf. Hy en sy vriend is na die skoolhoof geneem.
Charles het die volle blaam op hom geneem. Die simpatieke hoof het hom bedank dat hy die waarheid gepraat het en het besluit om hom nie te straf nie. Steeds het Charles egter ’n skuldgevoel daaroor gehad.
Die keuse om die skool ná st. 8 te verlaat is eintlik vir Charles gemaak. Die verleentheid rondom die afskrywery, sy boekhou-onderwyser se vyandigheid en sy gesukkel op akademiese gebied was maar een deel van sy besluit. Die moontlikheid om vir homself te sorg het ook beteken dat hy nie meer van sy stiefpa afhanklik sou wees nie. Charles kon sy groot ideaal vervul om by die polisie aan te sluit.
Die feit dat hy die skool vroeg verlaat het, sou hom egter reeds met sy aansoek om toelating tot die polisie (en in later jare) aan die hakskeen byt. Vroeg in Desember 1961 het hy saam met 14 ander die toelatingseksamen by die polisiekantoor op Vereeniging afgelê. Die stasiebevelvoerder het die een ná die ander kandidaat met ’n handdruk gelukgewens totdat hy by Charles gekom het en hom meedeel dat hy dit ongelukkig nie gemaak het nie. Charles was verpletter.
Met die afkykery in die boekhou-eksamen nog vars in sy geheue wou Charles by die stasiebevelvoerder weet of hy dáárom toelating geweier is. Die bevelvoerder het gesê hy was glad nie bewus van die voorval nie – dit was sy Engels en rekenkunde wat nie goed genoeg was nie.
“Moet ’n mens dan somme kan maak om skelms te vang?” was Charles se vrugtelose verweer.
Die meeste jong mense sou hulle waarskynlik in die uitslag berus het en elders werk gaan soek het, maar nie Charles nie. Hy het daardie dag reguit van die polisiekantoor in Voortrekkerstraat na die speurders se kantore daar naby gestap. Op die trappe na die eerste vloer het Charles ’n jong speurder teëgekom wat hy later as Mooi Doep du Plessis sou leer ken. Hy het sy dilemma aan die “oom” verduidelik, wat maar ’n paar jaar ouer as hy was. Aangesien die polisie hom afgewys het, wou hy by die speurders aansluit.
Mooi Doep het die seun se naïewe onkunde komies gevind en hom na sy senior se kantoor geneem om sy versoek (tot almal se vermaak) te herhaal. Charles sou eers heelwat later besef dat die speurders besig was om die spot met hom te dryf. Hulle het duidelik nie besef hoe groot die seun se begeerte was om by die polisie aan te sluit nie en het hom aangeraai om eerder ’n Patrysspeurder7 te word.
In later jare moes die einste speurders hul spottery met die seun sluk. Hulle het darem aan hom verduidelik dat hy eers opleiding in die polisiekollege moet ondergaan voordat hy as speurder gekeur kan word. Charles het daardie dag ook agtergekom dat die polisiehoofkwartier, Wachthuis, in Pretoria se middestad geleë is.
’n Paar dae later ryloop hy na Wachthuis. Daar gekom, bekla hy sy lot teenoor die eerste polisiebeampte wat hy in die werwingskantoor teëkom. Hy moes daarin geslaag het om sy aanhoorder se simpatie te wen, want dié het hom na ’n groot kantoor op ’n ander vloer geneem waar hy eers buite moes wag. Ná ’n ruk is hy ingeroep waar drie taamlik onvriendelike polisiemanne hom aan ’n lang ondervraging onderwerp het. Die jong man het nog niks van range geweet nie en eers later besef dat dit senior offisiere was. Hy is daarna aangesê om weer buite te wag. Toe hy daarna ingeroep word, het die drie hom gelukgewens dat sy aansoek om ’n polisieman te word voorlopig aanvaar is. Charles moes hom vir ’n jaar as ’n studentekonstabel op Vereeniging bewys voordat hy vir die polisiekollege gekeur kon word.
Charles is waarskynlik verkeerd as hy meen die drie offisiere het hom net jammer gekry. Hulle moes beïndruk gewees het deur sy vasberadenheid om ’n polisieman te word.
Studentekonstabel Miller
Van Wachthuis is hy met ’n polisievoertuig na die Pretoria-stasie geneem waar ’n gratis treinkaartjie na Vereeniging aan hom uitgereik is. Charles was in die sewende hemel. Die volgende dag het hy vir diens aangemeld.
Die studentekonstabels het in ’n ou sinkgebou langs die polisiekantoor gebly wat as tydelike kaserne vir ongetroude polisiemanne gedien het. Daar het hy vir Miekie de Swart en Jaap le Roux ontmoet, wat al twee ’n groot invloed op sy loopbaan sou hê. Vir etes het die jong polisiemanne by losieshuise in die omgewing gaan aanklop. ’n Studentekonstabel se karige salaris het nie juis enige luukses toegelaat nie.
Die polisieadministrasie het herhaaldelik daarop aangedring dat Charles sy geboortesertifikaat moet toon, maar hy het net ’n doopsertifikaat van die NG Kerk gehad. Ná ’n gesukkel het hy sy stiefpa sover gekry om by die polisiekantoor op Vereeniging te gaan verduidelik waarom die geboortesertifikaat nie ingelewer kon word nie.
Theo Salzmann het agter geslote deure met die bevelvoerder gepraat. Charles het nie geweet wat gesê is nie, maar vir die res van sy jaar as studentekonstabel is hy nie weer vir sy geboortesertifikaat gevra nie. Charles het daarna nie veel van sy stiefpa gesien nie en hy het ook al hoe meer verwyderd van sy broers geraak. Miskien het Theo Salzmann se gewete hom gepla, want hy het in later jare toenadering tot sy vervreemde stiefseun begin soek. Sy drankprobleem het egter reeds teen daardie tyd sy tol geëis en sy einde was tragies.8
Lyke in die water
Die Vaalrivier het deur die jare sy kwota drenkelinge geëis. Vanaf die inlope van die Suikerbosrant- en Klipriviere word die Vaalrivier daarna breër tussen Vereeniging, Vanderbijlpark en Sasolburg as gevolg van die opdamming deur die Barrage-keerwal verder aan. Die rivier lyk daar meestal stil, maar kan veral in die reënseisoen bedrieglike sterk strome maak. Die strome van die Suikerbosrant- en Klipriviere voer ook allerlei lewensgevaarlike hindernisse af, wat dikwels onder die oppervlak nie met die blote oog sigbaar is nie.
In 1962, die jaar toe Charles as ’n studentekonstabel op Vereeniging diens gedoen het, het die polisie nog nie ’n water- of duikvleuel gehad nie en daar was ook nie juis toerusting beskikbaar nie. Omdat die jong man goed kon swem, is hy aangesê om met die uitduik van lyke te help.
Min was bereid om hierdie grusame werk te doen. Afhangende van die stadium van ontbinding kan dit gebeur dat nét die vel en ontbinde vlees saamkom as jy aan die lyk vat – soos wat by geleentheid met Charles gebeur het. In sowel die Afrikaanse as Engelstalige koerante van daardie jaar is verskeie berigte en foto’s waarin beskryf word hoe “studentekonstabel Salsie Salzmann” dié onaangename taak verrig.
Op ’n keer moes hy help om na die lyk van ’n jong Italianer in die Kliprivier te soek. Die Italianer het verdrink toe die roeibootjie waarin hy en twee ander was, omgeslaan het. The Star het soos volg berig: “Police later dragged the river for his body and Student Constable F.W. Salzman (sic) dived into the river in bathing trunks. Because of hidden weeds and reeds, he tied a rope round his waist. At the fourth dive he found Mr Giacinto’s body lying about 10 feet under the water. He returned to the bank for a grapping hook and saw a four-foot snake gliding into the weeds a foot away from his face. He flung himself back into the water and swam out of range.”
Charles is terug in die rivier en Giacinto se lyk is gehaak en uitgehaal.
Op Kersdag 1962 probeer Charles en ander polisiemanne die lyk van die 15-jarige Barry Haywood in die Kliprivier vind. Charles raak verstrengel in doringdraad wat diep in die water verberg is en verdrink amper self. Eers ’n paar dae later ná ’n groot gesukkel vind hulle die seun se lyk.
By ’n ander geleentheid het Charles en nog ’n jong polisieman die lyk van ’n swart man uit die Vaalrivier gehaal ten aanskoue van die oorledene se hartseer familielede en ’n skare nuuskieriges. Hulle het gesukkel om die lyk, wat reeds verstyf het, teen die steil rivierwal uit te dra. Toe hulle amper bo was, het een sy balans verloor en hulle het met die lyk terug in die water getuimel. Ten spyte van die familie se ontstelde gille was daar ongevoeliges onder die skare wat die gebeure aanskou het en hulle het luidkeels begin lag. Dit het die jong Charles, wat eintlik nog op die skoolbanke moes wees, hewig ontstel.
As studentekonstabel het Charles ook in die aanklagkantoor gewerk en buitedienste soos voetpatrollies gedoen. Dit was eers wanneer hy van diens was en Miekie de Swardt toegelaat het dat Charles saam met hom op ondersoeke gaan waar hy blootstelling aan ernstige en gevaarlike polisiewerk gekry het. Charles het sulke geleenthede aangegryp en sy ywer het hom ’n vanselfsprekende keuse vir die polisiekollege se inname van Januarie 1963 gemaak.
Die opleiding in die polisiekollege was intensief en veeleisend. Waarskynlik het sy moeilike grootwordjare asook die jaar wat hy as studentekonstabel diens gedoen het daartoe bygedra dat Charles makliker as baie ander rekrute by die strawwe opleiding van die kollege kon aanpas. Die rekrute is in pelotonne van 36 man ingedeel. Charles is vroeg reeds as pelotonleier van sy groep aangewys.
Soos die ander rekrute het hy vir die ou militêre opleidingstruuks van hul instrukteurs geval om samehorigheid onder hulle te kweek. Die gees van kameraderie het Charles gepas. Die instrukteurs het byvoorbeeld heel moontlik geweet dat van die rekrute nie kon swem nie. Een is moedswillig aan die diep kant van die swembad ingestamp en al die rekrute is beveel om die lengte van die swembad te swem. Charles het ingespring en die rekruut van verdrinking gered en hom boonop tot aan die ander kant gehelp. Hy het ook ’n rekruut gehelp wat aan hoogtevrees gelei het.
Charles se hunkering na samehorigheid spruit waarskynlik uit ’n gebrek aan sekuriteit in sy tienerjare. In sy loopbaan het hy ook moeite gedoen om sy kollegas te beskerm.
“Charles sal altyd vir jou cover,” is ’n opmerking wat sy kollegas gereeld oor hom gemaak het. Soms sou daardie lojaliteit tot sy nadeel strek, soos toe twee ouer rekrute van Charles se peloton in die middel van sy kollegejaar in ’n lelike vuisgeveg met mekaar betrokke was. Charles het die voorval probeer stilhou, maar ’n pelotonlid het uitgepraat. Aangesien hy versuim het om die gebeure te rapporteer is Charles van sy pelotonleierskap onthef.
Die doel van die opleiding in die polisiekollege was nie noodwendig intellektuele verruiming en om ’n kritiese ingesteldheid te kweek nie. Tipies van daardie omgewing en konserwatiewe tyd wou die kollege beheerbare produkte lewer.