Читать книгу Moord-en-roof - Albert Blake - Страница 9
Оглавление3 Jonk en voortvarend op Vereeniging |
Al was hy uiteindelik op pad om ’n ware polisieman te word, het Charles toenemend begin wonder oor sy ware identiteit. Terwyl hy met sy opleiding besig was, het die polisiehoofkantoor ook weer na sy geboortesertifikaat begin soek.
In sy opleidingsjaar het hy eenkeer ’n saamrygeleentheid by ’n ouerpaar en hul 19-jarige dogter gekry. Die gesin het hulle daarna oor hom ontferm. Wanneer besoekers Sondagmiddae by die kollege toegelaat is, het die drie met ’n mandjie eetgoed by hom kom kuier. Hulle was die enigste besoekers wat hy daardie jaar ontvang het. Die ouers het waarskynlik in die goed gemanierde jong man ’n moontlike maat vir hul dogter gesien.
Wat egter vir Charles belangriker was, was dat die meisie by die departement van binnelandse sake gewerk het en hom moontlik kon help met inligting oor sy herkoms. Hy het sy hart teenoor haar oopgemaak en sy het aangebied om hom te probeer help. ’n Ruk later het sy hom meegedeel dat ’n William Charles Miller op dieselfde datum as hy gebore is. Die ouers se adres is aangeteken as Joostestraat 121, Pretoria-Wes. Kort daarna het hy een middag in sy kollege-uniform by die adres gaan aanklop.
Hy is begroet deur ’n vrou in haar vroeë vyftigs. Sy het taamlik agterdogtig na sy vrae oor die Millers geluister. Charles het besluit dis die beste om haar alles te vertel. Hy kon egter sien hoe sy al hoe ongemakliker raak. Sy het hom behoorlik aangestaar. Iewers in hul gesprek het sy genoem dat die Millers in Montclare in Johannesburg woon. Hy het vermoed dat sy iets wegsteek, maar kon geen verdere inligting uit haar kry nie. Later sou hy vasstel dat die vrou sy biologiese ma se skoonsuster, Flo Pepler, is.
Charles het die Millers se adres in Montclare in die Johannesburgse telefoongids opgespoor. ’n Hele paar weke het egter verloop voordat hy die geleentheid gekry het om na die adres te ryloop. Ná al die jare kan hy nog die beklemmende gevoel onthou toe hy aan die voordeur van die skakelhuisie in Wilmastraat in Montclare klop.
’n Vrou het die deur oopgemaak en ineengestort toe sy Charles sien. Dit was sy biologiese ma, Lizzie Miller. Wat Charles nie geweet het nie, is dat Flo Pepler haar skoonsuster intussen laat weet het dat haar seun op soek is na haar. Toe Lizzie tot verhaal kom, het sy hom krampagtig vasgegryp en sy wou hom nie los nie. Lizzie het haarself baie verwyt oor die besluit om haar seun weg te gee en vir die res van haar lewe, tot haar dood in 1981, sou sy alles in haar vermoë doen om die verlede te probeer regmaak.
Charles het sy ma nooit gevra waarom sy hom weggegee het nie. Was hy dalk te bang vir haar antwoord of wou hy haar die verleentheid spaar? Self weet hy nie waarom hy haar nie hierdie allerbelangrikste vraag kon vra nie. Vir hom sou daar altyd onderdrukte verwyte en onbeantwoorde vrae wees. Sy ma se pogings om haar verhouding met haar nuutgevonde seun te versterk het blykbaar nie gehelp om ’n hegte band tussen Charles en die Miller-mans te vestig nie.
Sy wêreld het in daardie stadium dramaties verskil van dié van Tommy Miller en sy seuns, wat Engelssprekend en liberaal was. Charles kon toe beswaarlik Engels praat en het uit ’n konserwatiewe Afrikaanse agtergrond gekom. Die Millers was tot Charles se afgryse selfs vyandig teenoor die Nasionale Party-regering.
Dit het Charles bykans twee jaar geneem om ’n volwaardige konstabel te word. Die opleidingskollege se uitpasseringsparade was op 22 November 1963 op Loftus Versfeld in Pretoria – dieselfde dag waarop pres. John Kennedy van Amerika vermoor is.
In daardie dae was die uitpassering nog ’n groot skouspel, met duisende toeskouers en ’n toespraak deur die eerste minister, dr. Hendrik Verwoerd. Charles se hart het geswel van trots toe Verwoerd in sy toespraak noem dat die Suid-Afrikaanse Polisie vergelykbaar is met die beste ter wêreld, maar hy was terselfdertyd ook hartseer omdat niemand na aan hom daar was nie.
Baie rekrute is aan die einde van die jaar uitgeplaas na polisiekantore wat nie hul eerste keuse was nie. Die rugbyspelers, soos Charles, is egter deur kapt. Bierman van Zyl (later brigadier en afrigter van die Noord-Transvaalse rugbyspan) bevoordeel en is na die polisiekantore van hul keuse uitgeplaas. Charles is gevolglik toegelaat om na Vereeniging terug te keer.
Verwoerd en Vorster se oppasser
Elkeen van die land se groter polisiekantore moes ’n konstabel vir parlementêre diens Kaapstad toe stuur. Charles het skaars op Vereeniging aangeland toe hy aangewys is om dit vir die eerste ses maande van 1964 te doen. In dié tyd het hy by dr. Verwoerd en die minister van justisie, John Vorster, se ampswonings in Kaapstad wag gestaan.
Vir Charles was dit ’n erg vervelige en frustrerende tyd. Die patrollering om die parlementsgebou in Kaapstad was eweneens eentonig. Bowendien het daar ’n meisie op Vereeniging op hom gewag – die jong ongevalleverpleegster Dorothy Phillips met wie hy al sedert sy skooldae uitgegaan het. Nie eens die feit dat hy vir die polisie se eerste rugbyspan in Kaapstad gespeel het, kon hom in die Moederstad hou nie.
Die jong man wat as Salsie Salzmann uit Vereeniging na Kaapstad vertrek het, het etlike maande later as Charles Miller teruggekeer. Hy het finaal afstand gedoen van sy doopname en besluit dat hy voortaan op sy tweede Miller-voornaam, Charles, genoem wil word. Sy eerste doopnaam, William, het hom te veel aan sy tweede Salzmann-doopnaam, Wilhelm, herinner. Hy het daarop aangedring dat almal, selfs sy meisie, hom voortaan Charles noem. Die Salzmann-familie was nie baie gelukkig omdat hy hul van verwerp het nie, maar met die identiteitsverandering wou hy hom losmaak van ’n ongelukkige verlede. ’n Nuwe polisiemagsnommer is selfs aan hom toegeken.
Charles is met sy terugkeer na Vereeniging dadelik aan die diep kant ingegooi. In die 1960’s was die Vaaldriehoek met sy snel ontwikkelende nywerheidsgebiede ’n kookpot van bedrywighede.
In 1964 het die ducktails by tye nog ’n skrikbewind op sekere plekke op Vereeniging gevoer. Die ducktails was ’n soort subkultuur wat hoofsaaklik onder ’n deel van die laermiddelklas-wit mense ontstaan het met min respek vir die reg, opvoeding en werk. Hulle is só genoem omdat hul langerige, oliebesmeerde hare na ’n punt agtertoe gekam is, wat soos ’n eend se stert gelyk het. In hul leerbaadjies, nou langbroeke met swart skerppunt- Jardimskoene en wit sokkies was hulle maklik uitkenbaar – saam met hul dikwels uitdagende meisies, wat sheilas genoem is.
Die bestuurder van die Odion-bioskoop op die dorp het by die polisie gekla dat hulle rolprentvertonings ontwrig. Een Saterdagaand het Charles en van sy kollegas besluit om dié groep moeilikheidmakers ’n les te leer. Die oomblik toe hulle die ander teatergangers begin teister, is die ligte aangeskakel en die polisie het ingestorm. ’n Groot geveg het uitgebreek en ’n ruk lank het dit gelyk asof die ducktails weens hul getalleoorwig vir die polisie gaan ore aansit, maar toe raak van die mans in die fliek ook betrokke en uiteindelik moes die ducktails die aftog blaas.
“’n Klompie van die belhamels is in hegtenis geneem. Ons het met blou kolle en kneusplekke maar tevrede na die polisiekantoor teruggekeer. Daarna was daar nooit weer probleme met die ducktails in die Odion nie.”
In die (politieke) sop
In sy eerste diensjaar het Charles se voortvarendheid een Saterdagmiddag amper ’n politieke opskudding veroorsaak. Sharpeville is ’n swart woonbuurt tussen Vereeniging en Vanderbijlpark. Vier jaar vantevore, op 21 Maart 1960, het ’n groep van sowat 10 000 inwoners in opstand gekom teen die diskriminerende paswette en voor die polisiekantoor in Sharpeville betoog. Teen die middag het die spanning begin oplaai met die betogers wat dreigend teen die doringdraad rondom die polisiekantoor begin druk het. Dit het breekpunt bereik toe die heining begin meegee.
Die polisie het later op die betogers losgebrand en 69 mense is dood en 180 gewond. ’n Kommissie van ondersoek het later bevind die meeste slagoffers is in die rug geskiet. Die internasionale gemeenskap was heftig in hul veroordeling van die slagting en die Nasionale Party-regering was in die spervuur.
Die gebeure was nog vars in die geheue toe Charles se rugbyspanlede op ’n dag in 1964 ná ’n oefening buite die Vereeniging-rugbyklub deur verkeersbeamptes vir oorlading beboet is. Charles, wat te voet na die polisiekwartiere teruggekeer het, was onbewus daarvan totdat sy spanmaats by die volgende oefening hul lot by hom bekla het in die hoop dat hy as polisieman iets daaraan sou kon doen. Die rugbyspelers het gevoel hulle word spesifiek geteiken.
Hoewel Charles niks aan die boetes kon doen nie, het hy hom vervies omdat die eienaars van die algemene busdiens op Vereeniging oënskynlik nie dieselfde behandeling as die rugbyspelers ontvang het nie. Hul busse was gereeld ook oorlaai, maar die busdiens is nooit beboet nie.
Charles het besluit om dié onreg een Saterdagmiddag reg te stel. Saam met ’n swart konstabel het hy elke bus voorgekeer wat passasiers tussen Sharpeville en Vereeniging vervoer het. Al die busse was oorlaai en boetekaartjies is uitgeskryf. Die oortollige passasiers is beveel om van die busse te klim en moes te voet verder. Dit het onmiddellik groot ontevredenheid onder die passasiers veroorsaak.
Die destydse minister van justisie en polisie (en latere premier), John Vorster, het toevallig dieselfde middag op Vereeniging gholf gespeel. Die eienaars van die busdiens het intussen ’n bohaai opgeskop by hooggeplaastes op die dorp en Vorster het ook daarvan te hore gekom. Die laaste ding wat die regering in daardie stadium wou hê, was enige protes wat die aandag opnuut op Sharpeville sou plaas. Die polisie se streekskommissaris, maj. Willie Wessels (later ’n brigadier en pa van die politikus Leon Wessels), is dieselfde middag nog na Vereeniging ontbied om die situasie te ontlont. Al die boetekaartjies is teruggetrek en Charles is aangesê om die Maandagoggend by Wessels se kantoor op Krugersdorp aan te meld.
“’n Groot swart ampsmotor is gestuur om my die Maandagoggend Krugersdorp toe te neem. Toe ons by die polisiekantoor vertrek, het ’n spul nuuskieriges ons aangestaar asof ek na ’n slagplaas geneem word. Ek wou wegsink in die aarde van al die aandag.
“Ek was ongemaklik waar ek saam met ’n offisier op die agterste sitplek gesit het, terwyl ’n ouerige adjudant die voertuig bestuur het. Die offisier het my amper die heelpad gemaan om gedurende die ondervraging eerder stil te bly en liefs om verskoning te vra.
“Ek was nog nooit een wat kan stilbly nie. Nadat ek voor maj. Wessels geparadeer is, het ek die geleentheid aangegryp en my hart uitgestort. Hy het, anders as wat ek verwag het, my nie stilgemaak nie, maar my laat uitpraat.”
Wessels het wel aan die heethoofdige jong konstabel die moontlike politieke gevolge van sy optrede verduidelik, maar die saak daarmee as afgehandel beskou.
Gevaar op die pad
Loeiende sirenes en flitsende blou ligte op polisievoertuie is vandag ’n alledaagse gesig. Toe Charles ’n jong polisieman was, was polisievoertuie egter nog nie hiermee toegerus nie, wat dinge aansienlik gevaarliker vir polisielede gemaak het. Jaagtogte agter misdadigers aan was toe reeds deel van hul werk, maar polisievoertuie is byvoorbeeld eers van die 1970’s af met veiligheidsgordels toegerus.
Charles self was in die 1960’s in meer as een motorongeluk betrokke, die meeste daarvan terwyl hy aan diens was. Dit sou hom met permanente beserings los.
In 1964 is hy eendag uitgeroep na ’n inbraak by ’n woonstel in Peacehaven, Vereeniging. Op pad daarheen het ’n dronk bestuurder in ’n bakkie voor sy patrolliewa ingedraai en ’n ernstige botsing veroorsaak. Al twee voertuie het omgeslaan.
Die twee beseerde mans is na die hospitaal geneem waar die besope bakkiebestuurder stilletjies weggesluip het voordat sy bloed vir alkoholtoetse getrek kon word. Hy is wel later aangekeer en skuldig bevind aan roekelose bestuur. Charles het kopbeserings opgedoen en was ’n tyd lank in die hospitaal.
Drie jaar later het die bestuurder van ’n gesteelde 5 ton-vragmotor wat boonop sonder sy ligte aan gery het in die middernagtelike ure van 25 Julie 1967 voor Charles se polisiemotor, ’n Studebaker Lark, ingeswenk. Charles het reg onder die vragmotor ingery. Hy is deur die geweldige slag uit die voertuig geslinger en het sy linkerhand en voorarm gebreek. Charles se een kneukel is in die ongeluk afgeruk en sy linkerhand het nooit heeltemal herstel nie. Die insittendes van die gesteelde vragmotor het weggehardloop.
Dié handbesering het hom amper sy lewe gekos toe hy in 1983 Bokkie Taute se hand met ’n pistool daarin van hom moes wegdraai om nie raakgeskiet te word nie.
’n Diagnose in ’n ou hospitaalrekord meld ook dat Charles op 22 Julie 1969 ’n breinbesering as gevolg van ’n motorbotsing opgedoen het. Op daardie dag was hy ’n passasier in ’n polisievoertuig wat deur sers. Miekie de Swardt bestuur is. Hulle was in ’n kop-aan-kop-botsing in Dobsonville betrokke en Charles was etlike dae lank in die Krugersdorpse hospitaal.
“Dan bedank ek!”
Die Wes-Randse Moord-en-rooftak is in 1965 gestig met ’n bedieningsgebied wat ’n groot deel van die Vaaldriehoek ingesluit het. Die lang pad wat Charles in dié eenheid sou stap, het ’n wankelrige begin gehad toe hy in dieselfde jaar na ’n Vaaldriehoekse subtak in Evaton oorgeplaas is.
Die ywerige en energieke Charles het daarna uitgesien om die soort werk te doen waarvan hy ’n voorsmakie gekry het toe hy as studentekonstabel saam met De Swardt gewerk het. Hy is egter oorgeplaas saam met ’n senior wat nie die lus of die hart vir dié soort gevaarlike polisiewerk gehad het nie. Daar was gou wrywing tussen die twee.
Veral nadat Charles ’n Moord-en-roof-kursus in Johannesburg bygewoon het, het hy met groot verwagtinge na Evaton teruggekeer. Sy senior se lusteloosheid het hom egter bly frustreer. Die breekpunt sou kom toe Charles – ná twee en ’n half jaar waarin hy geen verlof geneem het nie – ’n paar dae wou insit om saam met sy meisie, Dorothy, en haar suster op Knysna te gaan vakansie hou. Sy senior het geweier om sy verlof goed te keur en boonop self verlof geneem om vir ’n vriend teen vergoeding voertuie in Port Elizabeth te gaan haal.
Charles se verontwaardiging en teleurstelling was diep. Hy het daar en dan bedank en in die proses al sy voordele verbeur. Hy het dadelik by die Vereenigingse verkeersafdeling aangesluit, maar gou besef dat hy oorhaastig opgetree het. Die verkeerswerk was uiters frustrerend en het vir hom geen bevrediging gebied nie. Hy het die opwinding van die gevaarlike polisiewerk gemis en moes toesien hoe sy oudkollegas aan opspraakwekkende sake werk.
Ná drie maande het hy weer by die polisie aansoek gedoen en hy is sonder omhaal teruggeneem. Maj. Wessels het Charles klaarblyklik na waarde geskat en hom saam met sers. De Swardt na Roodepoort verplaas om ’n nuwe Moord-en-rooftak daar op die been te bring.
In sy loopbaan en sy private lewe sou dinge hierna vir Charles aansienlik beter raak. Op 1 Julie 1966 is hy met Dorothy in die landdroskantoor op Randfontein getroud. Daar kon beswaarlik ’n eenvoudiger “onthaal” gewees het. Ná die troue het hulle ’n paar vriende in ’n plaaslike kafee op koeldrank en slaptjips getrakteer. Op ’n polisieman en verpleegster se inkomste kon hulle niks meer bekostig nie.
Charles se skoonfamilie was aanvanklik afsydig teenoor hom, maar hul gesindheid sou oor die jare in volkome aanvaarding verander. ’n Jong, verliefde Dorothy sou egter nie in haar wildste drome kon dink wat vir haar voorlê nie. Dit sou ’n baie sterk vrou verg om al die beproewinge te deurstaan wat die lewe nog na haar kant sou gooi.