Читать книгу Wit terroriste - Albert Blake - Страница 4
Оглавление__________
Voorwoord
Die kragte wat die gang van die geskiedenis bepaal, laat hulle nie voorskryf of in ’n keurslyf van historiese wette dwing nie. Tog maak die verloop van die geskiedenis soms ironiese draaie, soos die onlangse Suid-Afrikaanse bevrydingsgeskiedenis bewys.
Soos swart vryheidsvegters van voor 1994 daarop aanspraak maak dat hulle ’n gewapende stryd om bevryding van wit oorheersing in Suid-Afrika gevoer het, het Afrikaner-saboteurs hul terreurveldtog gedurende die Tweede Wêreldoorlog van 1939 tot 1945 geregverdig as stryd om ’n bevryding van Britse oorheersing. Om parallelle tussen die twee bewegings te trek kan egter histories gevaarlik wees. Die twee bewegings het om uiteenlopende redes ontstaan wat nie noodwendig algemeen geldend is nie. In ag genome sulke historiese gevare, bly ’n beheerste vergelyking tussen die twee bewegings insiggewend en terselfdertyd ontnugterend.
Terwyl die swart vryheidsvegters se pogings om wit heerskappy omver te werp nog vars in die geheue is, is dit vandag grootliks vergete dat militante Afrikaners die land met ’n terreurveldtog in die 1940’s bitter naby aan anargie gebring het. In ’n landwye vlaag van sabotasie is plofstof onwettig vervaardig, strategiese instellings opgeblaas en verbindingslyne asook kragdrade en -stasies op groot skaal vernietig, terwyl gewaagde inbrake en rooftogte uitgevoer is. Daar was skakeling met Nazi-Duitsland en ’n doelgerigte poging om die Geallieerde skeepvaart te stuit. Sluipmoorde is beplan en enkeles uitgevoer. Daar was ook gewelddadige vergelding vir talle wat as afvalliges van die Afrikaner-saak beskou is. Op sy beurt het die regering duisende Afrikaners wat van ondermynende optrede verdink is, op verskillende plekke in die land in interneringskampe aangehou, en honderde sonder verhoor in tronke.
’n Omvattende werk met die sabotasieoptrede van militante Afrikaners gedurende die Ossewabrandwagjare as sentrale tema het nog nie in Afrikaans verskyn nie. Dalk het die eiesoortige en ingewikkelde problematiek van die onderwerp daarmee te doen. In 1991 het prof. Piet van der Schyff ná jare lange intensiewe navorsing oor die Ossewabrandwag deur ’n span van die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys se geskiedenisdepartement tot dié gevolgtrekking gekom: “Die besonderhede van die stryd waarby die Stormjaers [d.w.s. die sabotasiebeweging] betrokke was, is baie dramaties maar net so vervleg en by tye amper chaoties verstrengel. ’n Mag der menigte dokumente van uiteenlopende aard sal nog intensief bestudeer moet word om presies agter die waarheid te kom.”1 Waarskynlik was daar vroeër ook ander, verskuilde redes hoekom Afrikaners van die onderwerp weggeskram het. Dit was nie tot die politieke voordeel van Afrikaner-nasionalisme ná die Nasionale Party se triomf in 1948 om aan dáárdie geskiedenis herinner te word nie, veral nie in ’n tyd toe alle wit mense se steun teen die “Swart Gevaar” en “Rooi Gevaar” nodig was nie. Die wonde wat die twee wit taalgroepe mekaar toegedien het, moes gou heel voordat die rassevraagstuk al hoe veeleisender sou word.
In die tyd van die Tweede Wêreldoorlog was daar ’n genadelose stryd om beheer van die Afrikaner-siel. Die Afrikaners was meer verdeeld en onderlinge verbittering was groter as ooit tevore in hul geskiedenis. Om daaraan herinner te word was ook nie in die dekades daarna in die belang van Afrikaner-nasionalisme nie. Afrikaner-terreur van vroeër moes liefs in die doofpot gestop word in die lig van die nuwe aanslag van swart terreur, wat tot elke prys as boos voorgehou moes word.
Die pro-Duitse gesindheid van baie Afrikaners in die Tweede Wêreldoorlog het ’n ongemaklike nasmaak gelaat namate die omvang van die gruwels van Nazi-Duitsland bekend geword het. Dit was waarskynlik een van die redes hoekom die meeste Afrikaners Afrikaner-terreur nie in later jare gemaklik met nostalgie in herinnering wou of kon roep nie.
Dis nou maar eenmaal só dat vandale met vooropgestelde politieke oogmerke nie ’n flenter omgee vir ’n strewe na ’n eerlike vertolking van die verlede nie. Daar is verstommende wanpersepsies van die ontwikkeling van die Afrikaner se politieke psige in dié tydperk. Sommige werke is só deurspek met vooroordeel dat ’n misplaaste geskiedenis noodwendig volg. Dekades lank is sowel radikaal linkse as Afrikaner-nasionalistiese geskiedskrywings gekenmerk deur stereotipering, al het dit teenoorgestelde invalshoeke gehad.
Neo-Marxistiese en sekere liberale geskiedskrywers wat hulle met die tydvak besig hou, se primêre doel is om politieke verwikkelinge in die land se latere rassebeleid te verduidelik.2 Omdat die meeste Afrikaners wat teen deelname aan die oorlog gekant was, die Duitse oorlogspoging ondersteun het, is hulle sonder meer afgemaak as Nazi’s. Selfs die Nasionale Party, wat die ondermynende bedrywighede nie ondersteun het nie, is as ’n Nazi-party voorgehou. Daarmee is ook aanvaar dat die opbloei van Afrikaner-nasionalisme in die 1930’s en ’40’s gekoppel moet word aan die opkoms van Europese fascisme. Dit berus op ’n swak begrip van sowel Afrikaner-nasionalisme as Nazisme. Wat soms volg, is die verregaande gevolgtrekking dat apartheid uit Nazisme spruit.
Terwyl enige samelewing ’n blik van buite behoort te verwelkom, is dit dikwels buitestanders wat in hul werke nie die onderstrominge in die Afrikaner se geskiedenis verstaan nie. Dis ook opvallend dat dié outeurs nie die onontbeerlike primêre Afrikaanse bronne ondersoek nie. Die oorsprong van Afrikaner-nasionalisme en apartheid is veel meer kompleks en die wortels daarvan strek eeue terug. Afrikaner-saboteurs se versetstryd in die 1940’s het nie oor ’n rassevraagstuk gegaan nie. Dit was by uitstek ’n stryd tussen wit mense. Die moontlike invloed wat die troebel jare later op ’n radikalisering van ’n Afrikaner- politieke psige gehad het, moet wel in ag geneem word.
Daarteenoor staan vroeëre Afrikaanse werke wat die breër Afrikaner-protes in die Ossewabrandwagjare aanraak, sterk in diens van Afrikaner-nasionalisme. Daardie Afrikaner-historici het Afrikaner-nasionalisme bewustelik én onbewustelik probeer regverdig. Só ’n “diens” gaan noodwendig gebreke oplewer, waarvan objektiwiteit die slagoffer is. Enige morele blaamwaardigheid van Afrikaner-terreur kry selde behoorlik aandag binne die tydskonteks. Dié werke verteenwoordig grootliks ’n onkritiese beskouing dat Afrikaner-protes teen die oorlogspoging uitsluitlik die gevolg was van ’n brandende Afrikaner-nasionalisme en republikeinse strewe wat deur Britse en plaaslike Engelse onderdrukking aangevuur is. Buiten dat Afrikaner-individue en -groepe Afrikaner-nasionalisme nog altyd verskillend gekonseptualiseer het, was daar ook ander oorsake van die protes.
Soos oorwinnaars nou maar optree, het die Afrikaner ná 1948 grootliks sy eie selfsugtige geskiedenis gedikteer, soos die ANC ook skaamteloos sedert sy oorwinning in 1994 doen. In die meer onlangse verlede is die geskiedenis van die stormagtige tye van die 1940’s vanuit Afrikaner-geledere egter met enkele uitsonderings verwaarloos.3 Die gevolg is dat die ouer Afrikaanse weergawes al hoe meer esoteries of selfs onbelangrik word, met ’n gepaardgaande algemene verwaarlosing van die onderwerp tot ’n soort kantaantekening, terwyl dit om ’n herwaardering roep.
Die doel van hierdie boek is om Afrikaner-terreur in die Ossewabrandwagjare te ondersoek en te verklaar sonder om moraliserend vanuit vandag se maatstawwe daarmee om te gaan en te poog om dit tot op die been oop te vlek. Terwyl Afrikaner-terreur in die verlede ’n emosionele en sensitiewe onderwerp vir veral Afrikaners was, is die voordeel tans dat ’n vertolking daarvan grootliks gestroop is van sulke vooroordele.
Die onderwerp lewer sy eie unieke vraagstukke op. Is daar ’n sinvolle antwoord vir die vraag of die Afrikaner-saboteurs verraaiers of patriotte was? Was die terreurveldtog inderwaarheid volksvreemde gedrag, soos sowel die Smuts-regering as die Nasionale Party beweer het? Is die ondermynende optrede teen die Smuts-regering se besluit om Brittanje se oorlogspoging te steun, uitsluitlik gemotiveer deur ’n militante nasionalisme en ’n republikeinse strewe of was daar ook ander beweegredes? Was die terreurveldtog opportunisties solank dit gelyk het asof Duitsland die oorlog kan wen? Het Nazisme ’n belangrike rol in die terreurveldtog gespeel? In watter mate is die psigohistoriese aanspraak dat mishandelde kinders mishandelende ouers word, ook vir die Afrikaner in groepsverband waar? Die onderwerp strek ook verder as die universele vraagstuk oor wanneer dit moreel geregverdig is om politieke en maatskaplike ontevredenheid met geweld te probeer oplos. Dit raak die hele problematiek rondom die mens se soms makabere hantering van geweld en verknogtheid aan oorlog as oplossings vir probleme.
Terwyl bogenoemde en ander algemene vraagstukke aandag kry, bly die primêre oogmerk om in die koppe van daardie individuele Afrikaners te klim wat aan die terreurveldtog deelgeneem het. Antwoorde word gesoek oor wat hulle daartoe gedryf het om bomme te plant en ’n magdom ander dade van sabotasie te pleeg.
Die Ossewabrandwagargief op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit bewaar ’n groot aantal herinneringe, dagboeke en dokumente, asook bandopnames van onderhoude wat in die 1970’s en ’80’s met voormalige lede van die Ossewabrandwag, Stormjaers en Terreurgroep gevoer is. Daarsonder sou hierdie boek nie moontlik gewees het nie. Die onderhoude gee ’n blik op die betrokkenes se denke, hoewel dit nie sonder gebreke is nie. Die woordvoerders is gewoonlik self gewese Stormjaer- of Terreurgroeplede wat hul kamerade van ouds nie met hoogs omstrede aspekte sou wou inkrimineer oor gebeure wat toe nog as sensitief beskou is nie. In sekere gevalle is daar versoek dat ’n embargo van ’n verdere tien of vyftien jaar geplaas word op die inhoud van die onderhoude voordat die publiek toegang daartoe kon kry.4 Selfs ná vier dekades het die geskiedenisdepartement van die destydse PU vir CHO die resultaat van sy navorsingsprojek oor die Ossewabrandwag in 1983 nog as só sensitief beskou dat dié beperking op die dekblad van Van der Schyff se studiestuk “Die Ossewa-Brandwag en die Tweede Wêreldoorlog” aangebring is: “Die inhoud van hierdie verslag is VERTROULIK.”5
Kontemporêre Afrikaanse en Engelse koerantberigte was ’n onontbeerlike bron om die chronologie van sabotasiedade te bepaal. Omdat beriggewing van die tyd erg partydig was, is dit met omsigtigheid benader. Waardevolle inligting is ook verkry uit dokumente wat by die Argief vir Eietydse Aangeleenthede van die Universiteit van die Vrystaat, die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument en die Argief in Pretoria bewaar word.
Daar word nie aanspraak gemaak op ’n volledige weergawe van alle ondermynende dade nie – daarvoor was dit té omvangryk – maar eerder om ’n geheelbeeld daarvan te vorm. Weens die omstredenheid van die begrip “terreur” word dit tans oorwegend met ’n negatiewe konnotasie gebruik. Hier het dit die wye betekenis van ’n strategie om bepaalde politieke oogmerke deur geweld en ondermyning te bereik. Die begrip “sabotasie” word gebruik om dade van verwoesting en vernietiging van die land se infrastruktuur en die belemmering van die Smuts-regering se oorlogspoging te beskryf. Verwysings na plekname en geldwaardes word gedoen soos dit in daardie tydperk bestaan het om verwarring te vermy. Die ewige debat oor wat ’n Afrikaner is, word daar gelaat – in dié boek beteken ’n Afrikaner ’n wit Afrikaanssprekende.
Die resultaat van die navorsing vir die boek was nie sonder verrassings nie. Aanvanklik het die militante verset teen die Smuts-regering se oorlogspoging gelyk na ’n terreurveldtog met ’n lae intensiteit van geweld waarin doelbewus gepoog is om enige lewensverlies te vermy. Gevolglik was ek skepties oor menings dat die terreurveldtog Suid-Afrika op die rand van anargie en selfs ’n bloedige burgeroorlog gebring het. Menings soos dié van Hans Strydom in sy populêre For Volk and Führer het oordrewe en selfs sensasioneel voorgekom: “More startling was the realisation that had the right-wing groups combined for revolutionary action, the plot might have succeeded.”6
Boonop het sekere historici ’n teenoorgestelde mening as Strydom gehuldig. Reeds in 1969 het prof. D.W. Krüger die terreurveldtog onderspeel deur met ’n enkele sin daarna te verwys in sy The Making of a Nation: A History of the Union of South Africa 1910-1961: “There were isolated instances of sabotage and subversive activity, but the Special Police soon put an end to this.”7 Meer onlangs het prof. André Wessels tot ’n soortgelyke slotsom gekom: “Daar was enkele voorvalle van sabotasie, opstootjies en stakings … maar in geheel gesien is binnelandse veiligheid nooit werklik bedreig nie.”8 Die feite toon egter ’n heel ander geskiedenis.
Namate die navorsing gevorder en die wye omvang van die sabotasie asook die potensiële eskalering daarvan aan die lig gekom het, het ek tot die besef gekom dis dalk nie so vergesog om te reken die land was op die rand van ’n moontlike bloedbad nie.
Alles kon maklik anders verloop het.