Читать книгу Wit terroriste - Albert Blake - Страница 7

3

Оглавление

__________

In die skadu van ’n wêreldoorlog – ’n verdeelde nasie

Die tragedie van ons land se geskiedenis is dat die bewoners nog altyd ’n verdeelde nasie is. In Suid-Afrika met sy gefragmenteerde bevolkingsamestelling en gemeenskap is verdraagsaamheid nie vir almal ’n deug nie. Vooroordele en verdraaide persepsies voer dikwels die botoon. Die geskiedenis van die onderlinge stryd tussen wit mense tydens die Tweede Wêreldoorlog is nóg ’n voorbeeld van die tragiese verhaal van menslike onverdraagsaamheid, selfsug en vooroordeel.

Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog op 3 September 1939 het die politiek in Suid-Afrika skielik dramaties verander. Die parlement was begin September in sitting om die senaat se ampstermyn te verleng. Onder genl. Jan Smuts se leiding is die geleentheid gebruik om Suid-Afrika se deelname aan die oorlog na ’n punt te dryf. Met ’n skrale meerderheid van 13 stemme het die Volksraad op 4 September 1939 besluit om saam met Brittanje oorlog teen Duitsland te verklaar. Die goewerneur-generaal, sir Patrick Duncan, wou nie reageer op die premier, genl. J.B.M. Hertzog, se versoek om ’n algemene verkiesing nie omdat dit glo tot geweld sou lei. Hertzog het bedank en Smuts het as eerste minister oorgeneem.1

Landwyd het die oorlogsbesluit hewige emosies ontketen en onheil voorspel. Reeds tydens die stemming oor oorlogsdeelname is die kloof tussen die twee taalgroepe onderstreep in die onstuimige skare wat in die straat voor die parlementsgebou saamgedrom het. Oorlogsgesindes het “God save the King” en “Rule Britannia” gesing; Afrikaners “Die Stem” en “Afrikaners, Landgenote”.2

Onlangse gebeure in Suid-Afrika wys volk- en landsimbole het geweldige emosionele – en uiteenlopende – betekenisse vir verskillende mense. Dis niks nuuts nie. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het dié soort emosies hoogty gevier. Die sogenaamde ou vlag wat vandag vir party ’n afstootlike nalatenskap van apartheid is, is destyds traag deur Afrikaners aanvaar omdat die Union Jack daarop as simbool van Britse verdrukking beskou is. Vir die OB en veral die verskillende groepe wat aan die terreur deelgeneem het, was die ou republikeinse Vierkleur die ware Afrikaner-vlag wat, soos “Die Stem”, ’n simbool van verset was.

Dat een groep lief kan wees vir ’n volkslied en ’n ander dit haat, spreek van die gebruik van “God save the King” tydens die oorlog. Die Britse volkslied was sedert 1910 ook die Suid-Afrikaanse volkslied totdat die Volksraad in 1938 besluit het “God save the King” en “Die Stem” sal by alle formele regeringsgeleenthede gespeel word.3 In die praktyk is “God save the King” op allerlei wyses aan die gemeenskap opgedwing.

Daar is talle voorbeelde van woeste gevegte wat veral by bioskope uitgebreek het waar die gebruik was om “God save the King” aan die einde van die vertoning te speel en van die aanwesiges verwag is om op aandag te staan. In Pretoria het ’n groep studente afgespreek om een aand ’n vertoning in die Capital-bioskoop, ’n gereelde bymekaarkomplek van soldate, by te woon. Toe “God save the King” gespeel is, het die studente bly sit en die lawwe studenteliedjie “Help ’n bietjie daar” gesing. ’n Onvermydelike massageveg het gevolg.4 Dié soort gevegte sou ’n alledaagse verskynsel word.

Nadat T.C. Alberts, ’n inwoner van Tzaneen, bly sit het toe “God save the King” gespeel is, het die plaaslike magistraat hom aan rusverstoring skuldig bevind en met £10 beboet. Omdat geen statutêre bepaling ’n persoon verplig het om te staan nie, is die magistraat van blatante partydigheid beskuldig.5 Dit en die onenigheid oor “God save the King” in bioskope het wye dekking in al die Afrikaanse koerante gekry. Die Stormjaers het bioskope later met brandbomme aangeval.

In Pretoria was daar reeds vroeg in die oorlog ’n reëling wat tot bakleiery gelei het. Op Kerkplein het ’n leërorkes “God save the King” op sekere dae met tussenposes gespeel. Volgens ’n Terreurgroeplid is omstanders wat geweier het om stil te staan in die water van die fonteintjie gegooi waar Paul Kruger se standbeeld nou staan: “Ons het verskriklike bakleiery met die soldate daar gehad; dan moes die polisie inkom; dit was omtrent so al om die ander aand se besigheid gewees.”6

In Afrikaanse koerante het berigte oor die miskenning van die Afrikaner se kultuur gereeld verskyn. Onder die opskrif “Afrikanerjag op Middelburg” berig Die Volksblad oor ’n onderwyseres wat in die moeilikheid beland het omdat sy gedigte van Jan F.E. Celliers en Totius wat as ongewens beskou is, met haar leerlinge bespreek het. Haar leerlinge sou ook nie genoegsame ontsag vir die Union Jack getoon het nie. In dieselfde dorp moes ’n skoolseun voor die magistraat verskyn omdat hy voorkeur aan “Die Stem” bo “God save the King” gegee het.7 Dié soort berigte het die gemoedere hoog laat loop.

Twee klein rooi lussies op die skouers van vrywilligers wat bereid was om aan die oorlog deel te neem, het die pro- en anti-oorlogsgesindes in die weermag en polisie gepolariseer en ook in die breër gemeenskap geweldige wrewel en wrywing veroorsaak.

Die Verdedigingswet van 1912 het nie daarvoor voorsiening gemaak dat die verdedigingsmag in die buiteland optree nie, gevolglik moes vrywilligers gebruik word. Daardie vrywilligers moes ’n dokument onderteken wat algemeen bekend gestaan het as die “Rooi Eed”. Daarin het die ondertekenaar hom bereid verklaar om buite die grense van Suid-Afrika te veg. Diegene wat die eed afgelê het, het ’n diep-oranje lussie op elke skouer gedra, waarna spottenderwys as die “rooi lussie” verwys is, as sou dit ’n eed teenoor Brittanje wees.8

Slegs 1 252 van die sowat 7 000 polisielede het die Rooi Eed afgelê. Viktimisasie was nietemin van die ergste teenoor lede wat geweier het om die eed te onderteken. In die polisie het sulke lede byvoorbeeld oornag verplasings na afgeleë plekke gekry, wat hulle weens hul persoonlike omstandighede nie kon aanvaar nie. ’n Groot aantal weermaglede wat geweier het, moes weens druk hul ontslag neem. ’n Lid van die Terreurgroep, Rawat de Wet, was in ’n onderhoud in 1973 nog verbitterd daaroor: “Jy moes óf jou selfrespek en nasietrots oorboord gooi en jou laksman om die nek val, óf jou ruggraatloos onderwerp aan sy sadistiese dwangmaatreëls, wat regstreeks op jou oneervolle ontslag gemik was, óf jy moes ontslag neem om eervol uit sy wurggreep verlos te raak.” Baie polisiemanne en weermaglede is deur die Rooi Eed in die arms van die Stormjaers en Terreurgroep gedryf.9

Daar is ook teen burgerlike mans gediskrimineer wat nie bereid was om die eed af te lê nie. In ’n tyd toe werk skaars was, kon ’n man beswaarlik werk kry as hy nie daartoe bereid was nie. Baie sukkelende Afrikaners is deur avontuur en die soldy gelok of het geen keuse gehad as om ter wille van oorlewing die eed te sweer nie.10

Aan die ander kant was daar ernstige viktimisasie vanuit Afrikaanse kerke teenoor die rooilussiedraers. Talle gemeentes van Afrikaanse kerke het besluit soldate moet kerkdienste in burgerlike klere bywoon. Wanneer hulle in hul uniforms met die rooi lussies opgedaag het, is soldate versoek om eredienste te verlaat. In sommige gevalle het predikante geweier om hul kinders te doop. Terwyl soldate met rooi lussies by ’n Potchefstroomse NG kerk ingestap het, het die predikant, ds. Gerrit Worst, na bewering gesê: “Israel het altyd die Filistyne uit sy midde geweer, hier het die Filistyne ingestap.”11

Die opsigtelike onderskeid tussen manne in uniforms met rooi lussies en bebaarde manne daarsonder was ’n resep vir konfrontasie in ’n reeds gelade atmosfeer. ’n Man met ’n baard is vir ’n OB-lid aangesien (die baarde van Afrikaners was ’n nalatenskap van die Voortrekker-eeufees van 1938).12 Die twee groepe was uitdagend en uittartend teenoor mekaar en gevegte en aanrandings het vanaf die begin van die oorlog plaasgevind.13

Die gevaar van aanranding het mettertyd so groot geword dat albei kampe ter wille van hul veiligheid in groepe in groter sentra moes rondbeweeg. In 1940 is 79 gevalle van aanranding van soldate in Transvaal alleen by die polisie aangemeld. In die daaropvolgende jare het die aanrandings verder toegeneem.14 Veral die Stormjaers het groot behae daarin geskep om die soldate te ontvoer en aan te rand. ’n Stormjaerleier, Fankie Boshoff, het jare later met ’n mate van selfvoldaanheid vertel hoe hulle in die aand lede van die Britse lugmag in Pretoria onder die voorwendsel van ’n saamrygeleentheid opgelaai en na ’n afgeleë deel van Queenswood geneem het. Daar is die lugmagmanne poedelnakend uitgetrek en hul uniforms verbrand, terwyl hulle aan hul voete opgehang en so gelos is: “Ons het nooit eers weer gaan kyk wat van hulle word of hulle losgekom of wat van hulle geword het nie.”15

Die historikus Christoph Marx verklaar die betrokkenheid van jong Afrikaners by die gevegte en aanrandings só:

The frequent street fights between soldiers and enraged young Afrikaners clearly reveal how the consciousness of a loss of social status – as a result of the waves of industrialisation, the urbanisation and the uprooting of people who were alienated from their familiar rural enviroment – crystallised itself around war that was seen, in nationalistic categories, as ‘forced upon us.’ This found vent in violence perceived as ‘defensive.’16

’n Voorval wat erg opslae gemaak het, was die aanranding van die minister van binnelandse sake, Harry Lawrence, op 10 Januarie 1941 in Klerksdorp. ’n Groep mans wat vlae geswaai en in Afrikaans gesing het, het ’n geslote vergadering van die Verenigde Party binnegedring. Van die moeilikheidmakers het op die verhoog gestorm en Lawrence ernstig aangerand. ’n Polisieoffisier wat hom wou beskerm, is beseer. Lawrence se milt is sodanig beseer dat hy voortdurend pyn ondervind het tot sy dood in 1973. Twee Volksraadslede, die broers Jan en Jacob Wilkens, en 13 ander is daarna skuldig bevind aan openbare geweld.17 In veral die Engelse pers is die aanranders se optrede heftig as ’n lafhartige daad veroordeel.18 Dit sou nog lank nie die einde van bullebakkery wees nie.

Te oordeel na die baie koerantberigte oor aanvalle deur soldate op burgerlike mans, was dit ’n wedersydse verskynsel.19 ’n Oud-Stormjaer wat ’n student was, vertel hulle kon nie alleen op straat loop in Pretoria nie: “Jy het gesorg dat julle darem so ’n paar studente saam was.”20 Daar was verskeie voorvalle waar soldate hulle te buite gegaan het. Volgens die Terreurgroepleier, Chris Coetsee, het mans met baarde erg deurgeloop: “Hulle het die baarde met bajonette afgeskeer. Daar was party mense wat verskriklik daarvan afgekom het – een bloedmassa.”21

Nog voordat Suid-Afrika tot die oorlog toegetree het, het ’n groep opgesweepte oorlogsgesindes op 4 September 1939 in Johannesburg saamgedrom en in die rigting van die Duitse klub beweeg met die voorneme om dit af te brand. Die polisie het traangas gebruik om die oproerigheid in bedwang te bring. Die volgende aand is dit herhaal, maar weer onderdruk.22 Daar was dreigemente van ’n gewapende opstand as Suid-Afrika nie tot die oorlog toetree nie.23 Of die dreigemente werklike gevaar ingehou het, is egter te betwyfel.

Die vonkie wat in die kruitvat beland het, het begin by ’n dansplek in Johannesburg. Soldate het moeilikheid begin soek by die Werdaklub, waar Hendrik Susan met sy boereorkes gespeel het. Die Werdaklub, naby die Colosseum-bioskoop, was ook ’n bymekaarkomplek vir OB-gesindes. Op 3 en 10 Augustus 1940 het grootskaalse gevegte uitgebreek waarin die soldate elke keer die onderspit gedelf het. Dis waar die rofstoeier en OB-generaal Johannes van der Walt, wat volgens sy aanhangers so sterk soos ’n bees was, die soldate “laat les opsê het” en tot Boereheld verhef is.24 Volgens die Stormjaerleier Apie Spies “het [Van der Walt] hom verlustig in die botsings” en was dit “vir hom ’n groot genot” om die soldate pak te gee.25

Die polisie wat die onluste moes beheer, is daarvan beskuldig dat hulle sterk steun vir die anti-oorlogsgesindes getoon het. Die oorgrote meerderheid van die onderoffisiere in die polisie het destyds uit plattelandse Afrikaner-huise gekom. Hul sentimente sou noodwendig by die OB lê. Van die polisiemanne was reeds in die geheim Stormjaers en ander sou later lid word.26

Die onrus in Johannesburg het bly smeul en opgebou tot ’n grootskaalse konfrontasie. Die gebeure by die Werdaklub sou ’n ander belangrike gevolg hê met die formele stigting van die Stormjaers as ’n teenvoeter vir die onrus.

Konflik was onafwendbaar tussen strydlustige soldate wat gefrustreerd was omdat hulle ná ’n jaar nog nie na die front gestuur is nie en lewenslustige, anti-oorlogsgesinde studente. Terwyl studente van die Potchefstroomse Universiteit en Onderwyskollege die aand van 7 Augustus 1940 in die studentesaal besig was met sangoefeninge vir die komende intervarsity teen Tuks, het etlike honderde soldate die kampus vanuit die nabygeleë militêre kamp binnegeval. ’n Hele aantal studente en soldate is in die daaropvolgende geveg beseer en groot skade is aan eiendom aangerig.27 Dit het blywende onmin veroorsaak en aanleiding gegee tot planne van militante anti-oorlogsgesindes om die militêre kamp binne te val en oor te neem. Volgens die direkteur van militêre inligting, E.G. Malherbe, het hy soldate die omgewing van die Universiteit van Pretoria belet toe dit aan die lig kom dat hulle dié universiteit wou afbrand.28

Gewelddadige botsings het wydverspreid oor die land voorgekom. In Kaapstad is die Afrikaanse dagblad Die Burger se gebou in Keeromstraat deur oorlogsgesindes beskadig.29 In Port Elizabeth het gevegte tussen soldate en anti-oorlogsgesindes op 6 Desember 1941 uitgebreek. Slegs spesiale voorsorgmaatreëls en bykomende polisieversterkings het verhoed dat die onrus handuit ruk.30

In Januarie 1941 het die Waarheidslegioen propagandarolprente soos Genl. Smuts aan die front en Springbokke in die Noorde in Grootvlei naby Heidelberg vertoon. Daar was reeds kort tevore moeilikheid toe dié flieks in Greylingstad en elders op die platteland vertoon is. As Jan Smuts op die skerm verskyn het, was daar ’n uitjouery. ’n Massageveg het gevolg. ’n Groot groep anti-oorlogsgesindes is van openbare oproer aangekla. ’n Lang hofsaak het gevolg waaroor wyd berig is. Uiteindelik is al die beskuldigdes onskuldig bevind.31

Die abnormale toestand in die land het op massakonfrontasie afgestuur. Johannesburg sou die brandpunt wees met sy baie Engelse inwoners en die OB se hoofkantoor in die Voortrekkergebou op die hoek van Hoek- en De Villiersstraat in die middestad.

“Die atmosfeer was elektries. Ek kan my nie voorstel dat ek ooit in my lewe weer so ’n geweldige atmosfeer beleef het nie,” het Coetsee jare later vertel.32 In ’n klassieke voorbeeld van massahisterie en emosionele opwelling het geweld tussen wit mense die middestad van Johannesburg van Vrydagaand 31 Januarie tot Sondag 2 Februarie 1941 tot stilstand geruk. In ’n stadium het dit gelyk of dit op ’n bloedbad afstuur.

In die onmiddellike aanloop tot die gebeure het Hans van Rensburg die Vrydagaand ’n groot kultuurbyeenkoms in ’n stampvol Johannesburgse stadsaal toegespreek. Buite het groepies soldate skoorsoekend rondgedrentel. Agterna het diegene wat dit bygewoon het, hardhandig op die koggelaars gereageer. Dit het ontaard in verwoede gevegte waarin die soldate die onderspit gedelf het en bedroë gaan hulp soek het. Polisieversterkings is ingeroep, wat die orde tydelik herstel het. Die tafel was egter gedek vir die grootste wit-onluste in die land se geskiedenis.

Die situasie het die volgende dag gespanne gebly toe groot groepe soldate op ’n uitdagende manier in Johannesburg se strate rondgemarsjeer het, terwyl Engelssprekende inwoners hulle verder opgesweep het. Die situasie het op breekpunt afgestuur toe soldate die Saterdagmiddag laat ’n bebaarde man van ’n trem afruk en sy baard met ’n stuk glas skeer. Hy is ernstig beseer voordat die polisie hom kon red.

Nadat hulle die aand hergroepeer het, het die soldate groot skade aan die geboue aangerig waar die OB en die twee Afrikaanse dagblaaie Die Transvaler en Die Vaderland se kantore was. Die soldate is herhaaldelik met teen-knuppelaanvalle van die polisie en OB-lede verdryf. Geboue is intussen beskadig en voertuie aan die brand gesteek. ’n Deel van die oproermakers is na Van der Walt se gimnasium waar hy weer persoonlik ’n groot aandeel aan die afweer van die aanvalle gehad het.

Die soldate is verder tot geweld opgesweep deur ’n opmerking in die Engelse pers dat almal wat teen die oorlogspoging gekant was, ’n klomp Nazi’s is wat hul kamerade se lewe in gevaar stel.

Die soldate het ’n verkeerde dag vir die onluste gekies. Wat hulle nie besef het nie, was dat duisende OB-lede, onder wie heelparty Stormjaers, die Saterdag in Springs saamgetrek het om na Van Rensburg te luister. Dit sou ’n enkele bevel van Van Rensburg verg om die groot groep OB-lede na die Johannesburgse middestad te laat opruk. Hy het wyslik besluit om dit nie te doen nie en daardeur waarskynlik ’n groot tragedie afgeweer. Hy het self ’n vuishou in die gesig gekry toe hy hom deur die skare na die OB-hoofkwartier gehaas het. Daar het hy ternouernood aan die dood ontkom toe ’n koeël enkele sentimeters van hom teen ’n vensterkosyn vasgeslaan het.

Die OB het hom ná die onluste daarop beroem dat sy lede se dissipline en gehoorsaamheid ’n bloedbad voorkom het. Onder oorlogsgesindes en in die Engelse pers is die polisie heftig van oormatige geweld teen die soldate beskuldig. Die polisie het inderwaarheid skouer aan skouer met die OB-lede die soldate se aanvalle afgeweer.

Die ongevalle van dié onluste is die hoogste in die geskiedenis van wit-teen-wit-oproer. Volgens sommige weergawes is tot 200 soldate en burgerlikes beseer. Een soldaat, kpl. S. Gilham (22), het drie dae later aan sy beserings beswyk. Minstens 68 polisiemanne is beseer, die helfte van hulle ernstig.

Hofsake en kommissies van ondersoek het gevolg, wat niemand uiteindelik tevrede sou stel nie. Vyftien konstabels het in die magistraatshof verskyn op aanklag van openbare geweldpleging, maar is onskuldig bevind nadat die getuienis teen hulle as blatante leuens bevind is. Die regering het ’n formele kommissie van ondersoek onder voorsitterskap van die Johannesburgse hoofmagistraat, S.H. Elliot, ingestel. Hoewel die polisie kwytgeskeld is van aandadigheid aan die onrus, is bevind dat sekere polisiemanne sonder rooi lussies meer geweld gebruik het as wat nodig was. Die hofsaak en die ondersoek het die geweldige partydigheid en onversoenbare verskille herbeklemtoon.33

Sowel Afrikaanse as Engelse koerante het met weinig takt oor die onluste berig en bygedra om gemoedere net verder op te sweep. Die Engelse koerante het gal gebraak oor die polisie se partydigheid, maar die straatboefagtigheid van die soldate en die opswepende skare misgekyk, nes die feit dat die soldate nie vroegtydig tot hul basisse beperk is nie en hul offisiere die wanorde toegelaat het. Die Afrikaanse koerante was stil oor die oormatige gebruik van geweld teen die soldate.34

Soos dikwels in sulke gevalle, het albei partye hulle skuldig gemaak aan erge provokasie en barbaarse optrede. Die abnormale oorlogstoestande het ’n kultuur van geweld in Suid-Afrika gevestig. Emosies was koorshoogte, wat tot grootskaalse uitbarstings sou lei. Daar was ’n aanvoelbare haat tussen die oorlogsgesindes en anti-oorlogsgesindes en haat is ’n emosie wat die mens versteur.

In ’n daad van loutere stommiteit is ’n bidpouse op inisiatief van die Kaapstadse burgemeester ingestel: Voetgangers in die middestad moes ná die kanonskoot om 12:00 smiddags twee minute lank stilstaan en bid vir ’n oorwinning van die Geallieerde magte.

Diegene wat geweier het om dit te doen, het die gevaar geloop om deur soldate en matrose toegetakel te word, “to be completely and deservedly beaten up”, soos wraaksugtige oorlogsgesindes dit destyds gestel het. Onder anti-oorlogsgesinde Stellenbosse studente het dié leuse ontstaan: “Moenie keer nie, slaan eerste.”35 In een so ’n geveg het ’n student sy sig verloor en hy kon nie verder studeer nie.36

’n Groep studente het vroeg die Saterdagoggend van 27 Julie 1940 per motor en trein na Kaapstad gereis om die bidpouse te gaan uittart. Hulle was terdeë daarvan bewus dat moeilikheid gaan volg. Matrose en soldate het van hul planne gehoor en vir hulle gewag. ’n Woeste geveg het in Adderleystraat uitgebreek, wat die polisie met moeite tot bedaring kon bring. Wat daarna gevolg het, sou dekades lank gevolge vir rasseverhoudinge in Stellenbosch hê.

Die studente het dieselfde aand by Senitzky se kafee regoor die huidige stadsaal saamgedrom om die koerante met berigte oor die bakleiery te kry. ’n Onbenullige relletjie tussen ’n bruin man en ’n student by die kafee het in rassegeweld ontaard. Die opgesweepte studente het daarna amok gemaak in ’n bruin woonbuurt. Volgens Hermann Giliomee en Gustav Hendrich was die onluste “’n voorafwaarskuwing van die strukturele geweld van apartheid wat ’n dekade later sou volg”.37 In Port Elizabeth het die stadsraad vinnig gereageer en wyslik die “bidpouse” afgeskaf.38

Die oorlog het gekompliseerde emosies onder Afrikaners ontketen en bevestig dat hulle nie ’n homogene groep is nie. Dit was nie net ’n stryd van OB-Afrikaners teen Engelssprekende oorlogsgesindes en Afrikaner-Natte nie, maar ook teen Afrikaanse lede van die Verenigde Party – die sogenaamde Bloedsappe.

Die Bloedsappe is ’n verskynsel wat weinig te doen gehad het met ’n verskil in ideologiese beginsels. Daar was by hulle ’n onvermoë om die beginsel te skei van die persoon wat dit vasgelê het. Hulle het blindelings agter leiers soos Louis Botha en Jan Smuts aangeloop. In gewese OB-lede en Stormjaers se herinneringe word met minagting na hulle verwys, onder meer omdat hulle as navolgers van Smuts die oorlogspoging goedgesind was. Vir die OB en die nasionaliste was die Bloedsappe as’t ware vyande van die Afrikaner-volk.39 Die weersin is aangehelp deur sekere Bloedsappe wat by die Waarheidslegioen aangesluit het.

Die Waarheidslegioen was ’n soort stut-organisasie wat van regeringskant geïnisieer is om ’n ondersteuningsrol in die oorlogspoging te vervul. In Afrikaans is spottenderwys na die lede as “Waarheidsridders” of “Kakieridders” verwys. OB-Afrikaners het ’n geweldige weersin ontwikkel in die organisasie, wat volgens hulle uitsluitlik daar was om op anti-oorlogsgesindes te spioeneer en nuus na die polisie aan te dra. Baie Afrikaners is inderdaad as gevolg van die nuusdraery geïnterneer. Veral in die staatsdiens en spoorweë is baie gruwelike onregte gepleeg. As jong Nasionalis het Ben Schoeman hulle in die parlement as die “betaalde lafaards” van Jan Smuts uitgekryt.40 Die Waarheidslegioen het onder gewelddadige vergeldingsoptrede van die Stormjaers en Terreurgroeplede deurgeloop.

Na raming het ’n beduidende 30% van Afrikaners in die 1943-verkiesing vir Smuts se Verenigde Party gestem. Dit is verder insiggewend dat ongeveer 35% van die soldate wat oorlogsdiens verrig het, Afrikaners was.41 As ’n groep was die Afrikaners allermins eendragtig teen die oorlog gekant. Van die Afrikaanse soldate was egter nie noodwendig deurwinterde Sappe nie. Daar was Afrikaners wat uit nood en vir die avontuur gaan veg het. Met die uitslag van die 1948-verkiesing sou dit duideliker aan die lig kom.

’n Kultuur om die soldate uit die Tweede Wêreldoorlog te gedenk is nooit onder Afrikaners gevestig nie. Anders as by baie Engelse skole, sal daar tevergeefs in die sale en gange van die ouer tradisionele Afrikaanse skole na panele met die name van gesneuwelde oudleerlinge gesoek word. Daardie gesneuweldes was gou vergete onder Afrikaners.

In hul herinneringe is die Stormjaers en Terreurgroeplede dit eens dat die terreurveldtog ’n reaksie op provokasie was. Die oorsake van die terreurveldtog is egter veel meer kompleks en provokasie het van albei kante gekom. Die onstuimige toestande het egter ’n gunstige klimaat geskep vir die opwelling van wilde en irrasionele nasionalisme wat inslag gevind het by ’n groep militante Afrikaners wat radikale optrede as geregverdig beskou het.

Dit was nou ’n oorlog in ’n oorlog.

Wit terroriste

Подняться наверх