Читать книгу Wit terroriste - Albert Blake - Страница 8
4
Оглавление__________
Noodregulasies, die “third degree” en internerings
John Vorster en Steve Biko het ’n ironiese verbintenis met mekaar. Albei is sonder verhoor en soms in eensame opsluiting aangehou. Albei was tydens hul aanhouding op ’n eetstaking en hulle is in dieselfde selle by die Baakensstraat-polisiekantoor in Port Elizabeth aangehou – die apartheidserapremier 35 jaar voor die Swartbewussynsleier.1
Aanhouding sonder verhoor was bykans ’n halfeeu lank deel van die Suid-Afrikaanse regsproses. Die Nasionale Party-regering het in die apartheidsjare nie geskroom om mense sonder verhoor aan te hou nie. Die oorgrote meerderheid van hulle was swart mense met bevrydingstrewes wat van ondermynende bedrywighede verdink is. Die Smuts-regering het dit ook tydens die Tweede Wêreldoorlog gedoen, en aan die ontvangkant was Afrikaners wat teen die oorlogspoging gekant was en ’n republikeinse droom nagestreef het.
Brian Bunting skryf in 1964 in The Rise of the South African Reich: “What was done to Vorster in war-time he is now doing to others in peace-time, on excuse that he is ‘at war with the enemies for the volk.’ ”2 Die aanhouding van politieke aktiviste sonder verhoor was vroeg in die swart-bevrydingstryd reeds ’n hewige politieke geskilpunt. Harry Lawrence, Smuts se minister van binnelandse sake ten tyde van die Tweede Wêreldoorlog, was teen 1960 as lid van die Progressiewe Party ’n ernstige kampvegter vir die regte van swart politieke aktiviste wat in aanhouding was. Ná Lawrence se aantygings dat die aangehoudenes swak behandel word, het Vorster hom op 16 Mei 1960 behoorlik in die parlement afgeransel. Vorster het groot gewag daarvan gemaak dat Lawrence in die oorlogsjare aandadig was aan onmenslike behandeling van Afrikaner- politieke gevangenes met wie se omstandighede hy toe nie simpatie gehad het nie. Vorster het veral na sy eie behandeling as aangehoudene sonder verhoor en eensame opsluiting verwys.3
Die historikus Christoph Marx is skepties oor Vorster se standpunte:
John Vorster later used parliament as a platform to legitimise the state measures of repression that he introduced as minister of justice with his own suffering in the camp. The logic behind such justification of unjust measures based on his own memories as a victim is difficult enough to follow, but the comparison itself is absurd. Not a single report mentions torture in the internment camps. The petty and generally harmless harassment that the inhabitants of Koffiefontein were exposed to from the guards can certainly not be equated with the ‘interrogations’ that were routine in the police headquarters named after John Vorster in Johannesburg.4
Die latere stryd tussen die apartheidsbewind en die swart bevrydingsbeweging was ongetwyfeld ’n veel gewelddadiger konflik en moet in daardie konteks beoordeel word. Vorster het wel aanhouding sonder verhoor en die trauma van afsonderlike opsluiting in onaangename omstandighede ervaar, wat deur Marx onderspeel word. ’n Belangriker vraag is watter invloed Vorster se ervaring in die selle op sy latere optrede as minister van justisie en eerste minister gehad het. Was dit ’n geval van ’n mishandelde kind wat ’n mishandelende ouer word? Die gebeure rondom die internerings en aanhoudings van Afrikaners sonder verhoor tydens die Tweede Wêreldoorlog moes ’n bepaalde nalatenskap op die Afrikaner se politieke psige gelaat het.
Smuts moes goed geweet het die meeste Afrikaners was teen oorlogsdeelname gekant. Die Rebellie van 1914 het getoon hulle wou nie in ’n oorlog van Brittanje gedompel word nie en party sou dit selfs met geweld beveg. Daarom het Smuts onmiddellik stappe gedoen om ’n soortgelyke gebeurtenis te vermy.
Smuts het tien dae ná die oorlogsdebat sonder enige parlementêre sanksie die sogenaamde noodtoestandregulasies afgekondig, wat buitengewone arbitrêre magte aan die regering verleen het. Dit het onder meer gehandel oor ’n noodtoestand en die vestiging van interneringskampe.5 Die regering is voorts gemagtig om enige persoon ’n onbepaalde tyd lank sonder verhoor aan te hou of te interneer, en geen hof kon daarby inmeng nie. Dit was ’n ernstige afwyking van die “rule of law”.
Nog dieselfde maand het twee geïnterneerdes, Danie du Toit en dr. G.P.J. Trümpelmann, ’n aansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien om vrygelaat te word, maar ’n volslae bloutjie geloop toe bevestig is dat die howe nie die bevoegdheid het om in te meng nie. Die parlement het die geldigheid van die regulasies op 7 Februarie 1940 terugwerkend bevestig en die uitvaardiging van verdere noodregulasies goedgekeur. Daarna het ’n stroom oorlogsmaatreëls met verreikende gevolge gevolg wat regdeur die oorlog van krag sou bly.6 Terwyl sekere noodregulasies geregverdig was in die lig van die algemene oorlogstoestand, het ander drakoniese afmetings aangeneem en diep ongelukkigheid veroorsaak. Alles het bygedra tot ’n algemene klimaat van verset.
’n Spesiale hooggeregshof is in Maart 1941 ingevolge die noodregulasies ingestel, bestaande uit regter Oliver Deneys Schreiner en twee assessore wat van tyd tot tyd aangewys is om spesiale politieke misdade te verhoor.7 Schreiner was die voorsittende beampte in die meeste van die belangrikste politieke verhore tydens die oorlog, waaronder dié van Robey Leibbrandt.
Schreiner was die seun van die Kaapse eerste minister, W.P. Schreiner (broer van die skrywer Olive Schreiner), en Frances, ’n suster van die Vrystaatse president F.W. Reitz.
Die noodregulasies het voorsiening gemaak vir verpligte minimum strawwe (in die meeste gevalle vyf of sewe jaar) vir sekere gemeenregtelike misdade soos diefstal, aanranding met die opset om ernstig te beseer en opsetlike saakbeskadiging. Dié verhoogde minimum strawwe was, soos die doodstraf by sabotasie waarby plofstof betrokke was, verpligte strawwe wat regters met vonnisoplegging beperk het.
Die vernederende vonnis van lyfstraf wat sekere magistrate vir sabotasiedade en ontsnappingspogings opgelê het, het altyd woede ontlok. Vale Ferreira het van sy ondervinding vertel wat aan gebruike van die Middeleeue herinner. Hendrik van Blerk het dit oorvertel:
Wat gebeur is, dat hulle ’n ding wat regop staan – ’n soort van ’n stellasie; hulle noem dit die mêrrie – gehad het; dan word die persoon met sy voete op die onderste sport van die mêrrie vasgemaak; dan word ’n kussing – ’n breë strook; dit kan spons of iets van dié aard wees – bokant sy boude, oor sy niere vasgemaak en ’n soortgelyke een net hier onder, sê maar by die waai van die been. Dit is om te voorkom as die slaner miskien nou nie reg korrel nie, dat sekere van sy organe soos niere of so seerkry. Iemand het vir hom gesê hy moet ’n sakdoek dubbel vou en in sy mond druk en daarop byt. Hy, sowel as Rokebrand [wat ook tot lyfstraf gevonnis is], het hulle voorgeneem om nie enige teken van pyn voor die bewaarders te wys nie. “Vale” het aan my gesê hy het aan daardie ding gehang. Hulle maak jou arms so hoog vas dat jy byna slap is, jy kan jou spiere as’t ware nie span teen die komende houe nie. Hy sê hy het die eerste en tweede hou gevoel, van die res weet hy niks nie. Hy het so hard op sy tande gebyt dat hierdie langs sy oogtand bo en onder gekraak het.8
Nog voordat die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, het lt. Gabriel Diedericks van die polisie opdrag gekry om die sogenaamde spesiale politieke eenheid saam te stel om politieke misdade te ondersoek. Uiteindelik het die afdeling uit meer as 180 speurders bestaan wat sake landwyd ondersoek het.9
Vir baie was hulle ’n gehate groep. Selfs in die polisie, waar daar baie pro-OB-sentimente was, is die eenheid met afsku bejeën. Van die eenheid se lede is selfs in die straat ten aanskoue van die publiek as die “Gestapo” uitgekryt.10
Tog was dit ’n bekwame eenheid wat merkwaardige sukses onder moeilike omstandighede behaal het. Ná die bewindsoorname van die Nasionale Party het van die politieke speurders, soos Jan Taillard, gekla dat hulle geviktimiseer word. Jare later, in 1979, het Diedericks sy lot teenoor ’n verslaggewer van The Sunday Times bekla:
Diedericks says he was hounded out of the police force after the Nationalists swept to power in the 1948 election.
Life was made ‘unbearable’ by fellow policemen who ‘hated’ him because of his wartime victories against the OB saboteurs. ‘My wife’s life was threatened and for one period of three months my home was guarded day and night.’
‘In fact 15 men I had interned became officers above me.’11
Diedericks het die polisiemag ná 31 jaar verlaat en die sekuriteitshoof van Anglo American se myne in die Vrystaat geword.
Dit blyk egter nie al die politieke speurders het sulke negatiewe gevolge ervaar nie. Kapt. H.J. du Plooy, wat die bevelvoerder van die politieke eenheid in Pretoria was, het in 1960 die kommissaris van polisie met die rang luitenant-generaal geword. Miskien het Du Plooy bloot sy mantel na die wind gedraai. Frik Faurie, die onderleier van die Terreurgroep wat as politieke speurder onder Du Plooy gedien het totdat hy ontmasker is, het oor hom gesê: “Hy was ’n boerseun … toe die oorlog uitbreek, toe het hy amper nie meer ’n woord Afrikaans gepraat nie … Hy het elke more ingekom en dan koop hy ’n Rand Daily Mail op die hoek en dan kom hy met dié onder sy arm in … In 1948 was hy nog daar en toe die nuus deurkom dat die Nasionale Party die verkiesing gewen het toe koop hy die more Die Transvaler en kom [voortaan] met die koerant daar aan.”12
Du Plooy het in 1947 die eerste bevelvoerder van die pas gestigte veiligheidstak van die polisie geword. Hy het die ondervinding wat hy teen die Stormjaers opgedoen het, daar toegepas en die toekomstige grondslag vir die veiligheidstak gelê.13
Die Stormjaers, Terreurgroeplede en ander anti-oorlogsgesindes wat onder die politieke speurders se ondervraging en ander ondersoekmetodes deurgeloop het, het die speurders deur die bank van die sogenaamde third degree beskuldig. Dit kom neer op die verkryging van inligting op ’n ontoelaatbare wyse en in sy ergste vorm by wyse van marteling.
Volgens Tos Pienaar, die Natalse Stormjaerleier, is Johannes Rokebrand in aanhouding so op die rug geslaan om inligting oor sy sending na Lourenço Marques uit hom te kry dat hy lank net op sy maag kon lê. Pienaar het bygevoeg: “Hy het geeneen van ons name genoem nie; hy het net eenvoudig die lyding self gedra.”14
Talle anti-oorlogsgesindes wat aangehou is, het vertel van slaapontneming en aanhoudende ondervraging onder skerp ligte. Die Terreurgroeplid Hen Pretorius noem die ondervraging het dag en nag geduur: “Hulle het my enige tyd in die nag wakker gemaak, uitgepluk en dan begin hulle my vir ’n paar ure ondervra … jy slaap ’n uur. Dan maak hulle jou wakker en dan begin hulle van voor af aan met dieselfde vrae.” Speurders het die ondervraging om die beurt waargeneem.15
Dat so baie verklarings wat die politieke speurders by getuies en verdagtes afgeneem het later deur howe as ontoelaatbare getuienis verwerp is, spreek boekdele van die ongeoorloofde ondersoekmetodes.
In die polisieselle is versteekte mikrofone geplaas om in te luister na wat die aangehoudenes vir mekaar sê. Dié het groot genot daaruit geput om voor ’n versteekte mikrofoon te staan en ’n wind te laat, saam met een of ander aanmerking. Lokvinke is ook in die selle geplaas om inligting uit die aangehoudenes te kry.16
Die speurders het voortdurend in die vroeë oggendure klopjagte op verdagtes se huise uitgevoer. Dikwels het hulle dieselfde mense herhaaldelik so geteister.
’n Verdere regulasie wat die anti-oorlogsgesindes hewig ontstel het, was die verpligte inhandiging van vuurwapens by polisiekantore onder die voorwendsel dat dit die oorlogspoging sou steun, terwyl die ware bedoeling was om enige gewapende opstand te bemoeilik. Teen Augustus 1940 is 88 000 vuurwapens reeds gekonfiskeer en nog sou volg.17 Die heftige beswaar teen die ontwapening is oor ’n rasseboeg gegooi met beskuldigings dat die Smuts-regering die wit gemeenskap weerloos laat teen ’n swart aanslag.18
Sommige regulasies het aan die absurde gegrens. Die verbod op driloefeninge en die dra van OB-uniforms was vanuit die regering se oogpunt verstaanbaar. OB-vroue is egter verbied om wit rokke te dra, wat klaarblyklik as uniforms beskou is. Die gevaar het nou bestaan dat die minister van justisie, Colin Steyn, se suster en hoofvrou van die OB, Emmie du Toit, in hegtenis geneem kon word as sy ’n wit rok dra. Steyn het egter spoedig die belaglikheid van dié verbod ingesien en dit opgehef.19 Die onsinnige bepaling was waarskynlik ’n erkenning van die stille mag van vroue.
Ondermynende materiaal is om verstaanbare redes verbied, maar in die proses is sekere boeke ook onnodig verbied, wat herinner aan die onbesonne besluite van die sensuurraad in die 1960’s en ’70’s.20 Daar was ’n geheime sensor wat alle korrespondensie kon deurgaan en telefoongesprekke afgeluister het.21 In die algemene oorlogspsigose het die SAUK nie Duitse musiek van komponiste soos Beethoven en Wagner gespeel nie.22
Tydens die oorlog is sekere noodsaaklike lewensmiddele gerantsoeneer. Baie Afrikaners het geviktimiseer gevoel oor die selektiewe wyse waarop permitte vir brandstof soms toegeken is. Weens die ernstige skaarste van brandstof en motorbande sou die opslag- en bewaarplekke daarvan teikens word vir die Stormjaers, wat gereeld rooftogte en diefstalle uitgevoer het om tekorte aan te vul. Baie Afrikaners het erg verontrief gevoel deur die skaarste van kos soos meel en vleis asook ander noodsaaklike gebruiksartikels omdat dit vir die oorlogspoging aangewend is.23
Die OB is nooit verbied nie, maar in 1941 is alle staatsamptenare verbied om lid daarvan te wees. In ’n slim teenreaksie het Hans van Rensburg alle staatsamptenare wat OB-lede was, eensklaps eervol ontslaan en van ontslagbewyse voorsien sodat hulle nie hul werk sou verloor nie. So het hy die angel uit die regulasie gehaal. As gevolg van die regeringsbesluit is baie staatsamptenare egter ondergronds gedryf en van hulle het by die geheime Stormjaers aangesluit.24
Dat die OB nooit verbied is nie, word aan Smuts se wysheid toegeskryf. Nadat die Nasionale Party en OB se paaie geskei het, kon hy sy natuurlike drang om in te gryp uitgeoefen het, maar hy het wyslik nie. Die onderlinge Afrikaner-stryd het “Slim Jannie” gepas en hy het sy troefkaarte briljant gespeel. Toe Smuts gevra is waarom hy “sagkens” optree, het hy skalks opgemerk: “Waarom moet ek hulle ophang as hulle mekaar se kele afsny?”25
Om die onstuimige jare van die Tweede Wêreldoorlog in Suid-Afrika te verstaan, moet ’n mens Smuts ook verstaan. Dat hy ’n wêreldstaatsman en intellektueel briljant was, is nie te debatteer nie. Dat hy die wêreld veel groter gesien het as die belange van Afrikaner-nasionalisme, was sy uiteindelike ondergang. Die Burger en Die Oosterlig het gepraat van Smuts se gewilligheid om te “draf wanneer daar deur die Britse base hande geklap word” en het hom die skelname “Handyman”, “Henceman” en “Handlanger van die Empire” gegee. Dit sou hom met die verkiesing van 1948 inhaal.
Wat hier van belang is, is Smuts se siening van oorlog. In ’n afskeidstoespraak aan die eerste kontingent soldate wat na die noorde vertrek het, het Smuts gesê: “I know what war means – seven years of my life have been spent in wars. They were among the hardest years of my life, but they were also full of the richest experience that life can give. I would not exchange my war experiences of the Anglo-Boer War and the last Great War for all the gold of the Rand.” Dis asof Smuts die smart van oorlog miskyk en oorlog byna verheerlik.26
Dieselfde geld vir die Afrikaner-saboteurs se siening van hul stryd teen Smuts. Hulle het geweld as moreel regverdigbaar beskou om hul oogmerke te bereik.
Maar die geskiedenis is nie sonder ironie nie. Ondanks hul radikaal uiteenlopende beskouinge en hul tekortkominge, was dit die voorkomende optrede van albei die opponerende leiers, Smuts en Van Rensburg, wat gekeer het dat fanatisme die oorhand kry en Suid-Afrika in ’n bloedbad dompel.
Die internering van baie Afrikaners in kampe tydens die Tweede Wêreldoorlog het die tragedie van die Anglo-Boereoorlog se konsentrasiekampe weer in die volksgemoed opgeroep. C.R. Swart, wat later die eerste staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika was, het gewaarsku die emosionele reaksie teenoor Smuts se interneringskampe sou dieselfde haat ontlok as Kitchener se kampe.27
Al het die interneringskampe hewige emosies ontketen, kon dit hoegenaamd nie vergelyk word met die smart en lyding in die konsentrasiekampe nie. Hierdie keer was dit ook nie vroue en kinders wat die spit moes afbyt nie, maar volwasse mans, van wie die meeste geïnterneer is weens hul vrye wilsoortuigings. Nietemin was die interneringskampe die grootste enkele steen des aanstoots vir die anti-oorlogsgesindes.
Daar was vyf interneringskampe: Andalusia (naby Jan Kempdorp), Baviaanskloof (naby Pretoria), Ganspan (naby Warrenton), Leeukop (noord van Johannesburg) en Koffiefontein (in die Suidwes-Vrystaat). Teen September 1941 is 3 936 mense geïnterneer, onder wie burgers van ander lande soos Duitsland. In een van die raaisels van die interneringsbeleid in die oorlogstyd is ’n aantal Jode – hoofsaaklik Duitse kommuniste – ook in Suid-Afrika in kampe aangehou.
Uiteindelik het 6 636 mense in die interneringskampe beland. Dis moeilik om te bepaal hoeveel van hulle Afrikaners was omdat party net ’n paar weke lank geïnterneer is en ander tot byna ses jaar lank.28 Die Bond van Oud-geïnterneerdes en Politieke Gevangenes het in 1953 beraam minstens 2 000 Afrikaners is tydens die oorlog geïnterneer, sonder om te noem hoe dit bereken is. In die Koffiefontein-kamp, wat later tot die belangrikste kamp sou ontwikkel, is gemiddeld sowat 800 Afrikaners geïnterneer – elk gemiddeld twee jaar lank. Die laaste geïnterneerde, J. Rokebrand, is in 1946 vrygelaat. Die politieke gevangenes in die Pretoria-Sentraal-gevangenis is later vrygelaat.29
Sir Theodore Truter, die hoof van die interneringskampe, was ’n bekwame man wat onder meer as die eerste kommissaris van die polisie gedien het. Maar hy was lank voor die Tweede Wêreldoorlog ’n gehate man onder baie Afrikaners. Truter was die voorsitter van die krygshof wat Jopie Fourie op ’n omstrede wyse in 1914 ter dood veroordeel het. Baie Afrikaners het dit nie vergewe nie en dit sou bly spook.30
Al die anti-oorlogsgesindes het die interneringsbeleid heftig teengestaan – wat D.F. Malan “interneringswoede” genoem het.31 Die arbitrêre redes vir internering was ’n groot bron van ontevredenheid. Soms is die redes nooit bekend gemaak nie of dit was vaag en dubbelsinnig. Die omstrede politieke speurder At Spengler, wat sy werk met oorgawe vir die Smuts-regering gedoen het, het later erken dat onskuldiges geïnterneer is: “Ek glo tot vandag toe dat daar baie inligting is wat nooit geverifieer is nie en dat baie persone onskuldig in die kamp beland het.”32
Mense is maklik geïnterneer as daar nie genoegsame getuienis was vir ’n skuldigbevinding nie.33 Daar was ook heelparty gevalle waar ’n persoon deur die hof onskuldig bevind is en onmiddellik ná vrylating weer gearresteer is om geïnterneer te word. Die meeste verhoorafwagtendes het op ’n spoedige verhoor gehoop, maar in talle gevalle is hulle maande lank aangehou sonder om aangekla en verhoor te word. Daar was ’n reg op appèl, maar dié prosedure is as ’n klug beskou omdat nie ’n enkele appèl geslaag het nie.34 Sommige redes wat vir internering gegee is, het aan die absurde gegrens. Kowie Marais (’n latere regter), wat gehelp het om appèlaansoeke vir mede-geïnterneerdes op te stel, vertel van dié rede wat die owerhede gegee het vir die internering van ’n pa en sy seun wat in Swaziland geboer het: “Die bewering teen die twee mense was dat hulle in die Pongolarivier dromme brandstof laat afdryf het see toe, vermoedelik vir die gebruik van Duitse duikbote wat aan die Ooskus op en neer sou vaar om die Geallieerdes se vlote voor te lê.”35
Die name van lede van die Waarheidslegioen wat inligting verskaf het wat tot die internering van ’n persoon gelei het, is streng vertroulik gehou. Om hul identiteit te beskerm was dit veiliger om ’n hofsaak te vermy en die persoon eerder te interneer.36 Die Stormjaers sou daardie inligting graag wou bekom om wraak te neem – wat inderdaad op wrede wyse plaasgevind het wanneer hulle sulke inligting gekry het.37
Menings oor die omstandighede in die interneringskampe is uiteenlopend en verklap meestal aan watter kant van die draad die waarnemer is. Die direkteur van militêre intelligensie, E.G. Malherbe, beweer in sy gepubliseerde memoires nog in 1981 dat die geïnterneerdes ’n “heavenly time” gehad het.38 Malherbe se mening is kenmerkend van die kante se onbegrip vir mekaar se lot, wat lank ná die oorlog voortgeduur het.
Die geïnterneerdes gee ’n heel ander weergawe van geestelike en liggaamlike swaarkry, ongevoeligheid van ’n hardvogtige owerheid en soms onmenslike behandeling aan die hand van dié met gesag by die kampe. Die Bond van Oud-geïnterneerdes en Politieke Gevangenes se lywige gedenkboek bevat vertellings van swak gesondheidsorg in die kampe, karige voedselrantsoene, weerhouding van en onredelikheid wat betref kontak met familielede en hardvogtige behandeling deur sekere bevelvoerders.39
Weens die hardhandige behandeling van geïnterneerdes was daar vroeg in Junie 1940 reeds ’n opstand in die Baviaanspoort-interneringskamp.40 In die kamp by Koffiefontein het ’n amperse bloedbad in November 1942 plaasgevind, wat katastrofiese gevolge vir die land kon ingehou het. ’n Geïnterneerde wat ’n wag ná ’n onderonsie platgeslaan het, het met die samewerking van die ander geïnterneerdes geweier om homself oor te gee. Terwyl drie pantserkarre by die hoofhek van die kamp gestaan het en masjiengewere op strategiese plekke op die kamp gerig is, het ’n afdeling wagte die kamp binnegegaan en stelling ingeneem om die hut waar die belhamels was. Dié het hulle gereed gemaak om die wagte storm te loop.
Juis toe het die Vrystaatse Stormjaerleier, Chris de Jager, opgedaag en die situasie tydelik ontlont deur te onderneem om die man saam met hom te neem om uitgelewer te word. Die man is egter op die skouers van sy kamerade na die hek geneem. ’n Woeste geveg het uitgebreek tussen die geïnterneerdes en die wagte, wat nie gou genoeg teruggeval het nie. Met ’n gesukkel het De Jager en ander die wagte by die hek uitgeboender. Die wagte het hulle masjiengewere oorgehaal en gereed gemaak om te skiet. Die kampbevelvoerder het hulle beveel om nie te skiet nie en daarmee ’n bloedbad verhoed. Só ’n tragedie sou martelare geskep het en kon op groot anargie uitgeloop het.41
Die noodregulasies en die beleid van internering was op kort termyn ’n doeltreffende manier om die ondermynende veldtog teen te werk. Maar onderdrukkende maatreëls het nie altyd op die lang duur die uitwerking wat die onderdrukker wil hê nie. Dit kan boemerang, soos herhaaldelik in die geskiedenis van Suid-Afrika gebeur het.
Die samevoeging van ’n klomp mense met sterk gemeenskaplike politieke oortuigings in interneringskampe skep ’n broeiplek vir verdere idees. Baie geïnterneerdes het later suksesvolle hoogtes bereik en sou ’n belangrike rol in die toekoms van die land speel, ook wat nasionale beleidvorming betref. Benewens John Vorster en Lang Hendrik van den Berg, wat later die hoof van die omstrede Buro vir Staatsveiligheid was, is verskeie latere dekane en professors saam geïnterneer. Hul ervaring van aanhouding sonder verhoor het ’n bepaalde nalatenskap vir die land gelaat.