Читать книгу Wit terroriste - Albert Blake - Страница 6
2
Оглавление__________
Die Ossewabrandwag – ’n kultuurorganisasie?
Die blote noem van die Ossewabrandwag (OB) se naam het nog altyd uiteenlopende menings uitgelok. Daar is vele wanpersepsies oor die beweging, wat meestal uit onkunde of vooroordeel spruit.
Die omstredenheid van die OB is kompleks. Benewens al die vooroordele was daar die realiteit dat ’n terreurbeweging soos die Stormjaers vanuit die OB ontstaan het. Hoewel die Stormjaers afsonderlik gefunksioneer het, word hul terreurveldtog dikwels verkeerdelik aan die OB toegeskryf. Teenstrydighede binne die beweging oor ideologie asook uiteenlopende standpunte oor hoe die oorlogspoging teengestaan moes word, het tot die verwarring bygedra.
Hierdie is nie ’n volledige geskiedskrif oor die OB nie – verskeie sulke werke het al verskyn. Die doel is om die OB in konteks te plaas ten einde die terreurveldtog tydens die Tweede Wêreldoorlog te verklaar en te kyk na die uiteenlopende standpunte oor terreur binne die OB. Ook word antwoorde gesoek op die vraag of ideologiese oorwegings ’n beduidende rol in dié veldtog gespeel het.
Die OB is op 4 Februarie 1939, enkele maande voor die Tweede Wêreldoorlog, in Bloemfontein gestig. Dit was ’n direkte gevolg van die geweldige opbloei van Afrikaner-nasionalisme wat uit die 100-jarige herdenking van die Groot Trek in 1938 ontstaan het.
Die beweging het ontwikkel tot die grootste in sy soort in die geskiedenis van die Afrikaner met ’n ongekende en tot nog toe ongeëwenaarde geesdrif. Prof. H.B. Thom, rektor van die Universiteit van Stellenbosch, het dit beskryf as “’n knetterende veldbrand in Suid-Afrika”.1 Na raming het die OB in sy bloeityd meer as 300 000 lede gehad.2 Takke het landwyd soos paddastoele opgeskiet.
Die doel van die OB was om die Afrikaner se kultuur te bevorder, maar vanuit die staanspoor is ’n eiesoortige vertolking aan die uitleef van kultuur geheg. Reeds met sy stigting het die stigterslede ’n eed afgelê om nie te rus voordat die vryheid van die Afrikaner herwin is nie.3 Gevolglik was die beweging vanaf sy ontstaan aktivisties met sterk elemente van versetpolitiek. Die OB het ’n soort dualisme tussen kultuur en politiek geopenbaar wat ná die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog al hoe meer ineengestrengel sou raak. Daarmee is die Afrikaner se kulturele ontwaking in die oorlogsomstandighede gepolitiseer.
Die OB se organisasie het van meet af aan ’n semi-militêre inslag gehad wat gebaseer is op die kommandostelsel van die ou Boererepublieke. Die stelsel is as ’n onvervreembare deel van die Afrikaner-kultuur beskou en sou as ’n soort wapenbroederskap dien wat alle Afrikaners bymekaar bring, ongeag hul partyverwantskap. Die hoof van die OB was ’n kommandant-generaal. Hy is bygestaan deur ’n Grootraad bestaande uit hoofgeneraals, gevolg deur gebiedsgeneraals, hoofkommandante, kommandante, veldkornette, korporaals en manskappe. Die OB is streng langs genderlyne verdeel met ’n afsonderlike vroueafdeling wat, soos die jeugafdeling, ook ’n militêre rangstruktuur gehad het. Die feit dat albei geslagte uniforms gedra het en vaandelparades gehou is, het die pseudokulturele beeld van die OB verder verstewig. Daar was ’n sterk strewe na streng volksdissiplinering met die instel van drilkampe, soms op afgeleë plekke. Soos ’n OB-lid dit gestel het: “Ons het gedril asof ons mal was.”4
Ondanks die beweging se groot, entoesiastiese aanhang het sommige Afrikaners dit spoedig begin wantrou. Die Afrikaanse dagblad Die Vaderland het smalend na die militêre voorkoms daarvan as ’n “kultuur-met-die-roer-beweging” en ’n “Leemetford-kultuurvereniging” verwys.5 Die militêre inslag van die OB het inderdaad gehelp om ’n gunstige klimaat te skep vir die ontstaan van die meer aktivistiese Stormjaers.
Veral Engelssprekendes het die OB met neerhalende vyandigheid en agterdog bejeën en van bedekte politieke motiewe beskuldig. Skaars ’n maand ná die OB se stigting het The Star en Cape Argus die beweging met die militante Sinn Fein van Ierland vergelyk.6 In die onstuimige klimaat in Suid-Afrika ná die uitbreek van die oorlog is die OB deurentyd van pro-Nazisme en Nazi-komplotte beskuldig – nie altyd sonder meriete nie.7
Die OB het op drie pilare gesteun, naamlik die republikeinse ideaal, teenkanting van die oorlogspoging en volkseenheid. Dié doelwitte het sterk byval by die gewone Afrikaner gevind en daartoe bygedra dat hordes mense in die beginjare daarheen gestroom het.
Die OB was in die eerste plek onmiskenbaar republikeins. In die taal van die Afrikaner-historikus prof. Piet van der Schyff was die “Ossewa-Brandwag se wortels diep ingebed in die geskiedenis van die Afrikaners se stryd om die koloniale bande met Brittanje af te sweer, om – soos in die republikeinse era – oor sy eie lotgevalle te kan beslis”.8 Daar was egter nie eensgesindheid oor hoe die republiek daar sou uitsien nie. Standpunte het gewissel tussen ’n eksklusiewe Afrikaner-republiek gegrond op die ou Boererepublieke en een wat gelyke regte vir die twee wit taalgroepe gebied het. Die OB was – tipies van die era – paternalisties en rasseskeiding is streng gehandhaaf.9
Uit die herinneringe van bykans al die Stormjaers en Terreurgroeplede is dit duidelik dat die republikeinse ideaal ’n wesenlike dryfmotief vir hul ondermynende optrede was. Om daardie doel te bereik sou hulle die oorlogspoging teen Duitsland op verskillende wyses ondermyn om wanneer die tyd reg was, beheer oor die land te neem.
Die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het Suid-Afrika meegevoer en die verdeelde wit gemeenskap is in ’n plofbare situasie van bitterheid en wantroue geplaas. Daar was woede onder sterk oorlogsgesinde Engelssprekendes omdat so baie Afrikaners neutraliteit wou hê in ’n oorlog wat in wese die vryheid en demokrasie van die wêreld se toekoms in die gedrang geplaas het. Die meeste Afrikaners was weer verbitterd omdat die oorlog nogmaals ’n Britse oorlog was, duisende myle weg van Suid-Afrika en op ’n ander kontinent, wat hul onderdanigheid aan Brittanje herbeklemtoon het. Die gevoel was dat Duitsland Suid-Afrika geen leed aangedoen het nie en ’n goeie handelsvennoot was. Die toekomstige OB-leier, Hans van Rensburg, het verklaar dat “die regering ’n Britse oorlog sou voer maar met Afrikaanse belange – ook met Afrikaanse bloed”.10
Die OB het hom by uitstek tot verset teen die oorlogspoging geleen en was openlik en soms uitdagend pro-Duits en anti-Brits. Groot gewag is daarvan gemaak dat die pro-Duitse gesindheid ’n middel tot ’n doel was. ’n Duitse oorwinning moes help om die begeerde Afrikaner-republiek te verwesenlik, maar nie om onderdanigheid aan Brittanje met onderdanigheid aan Duitsland te vervang nie.11
Die oorlog het ongetwyfeld groot stukrag aan die OB gegee. Die historikus G.D. Scholtz meen die omstandighede was net tydelik in die OB se guns: “Het die Tweede Wêreldoorlog nie slegs ’n paar maande na die stigting van die OB uitgebreek nie, sou die beweging miskien binne ’n jaar of drie doodgeloop het omdat daar in der waarheid geen plek vir die OB in die Afrikaanse volkslewe was nie.”12
Derdens het die OB hom ten doel gestel om die Afrikaner te verenig ná die onaangename verdeeldheid wat in 1933 gevolg het toe J.B.M. Hertzog en Jan Smuts se partye in die Verenigde Party saamgesmelt het en die wegbreek van die “Gesuiwerdes” onder D.F. Malan in die Nasionale Party. Die OB het op die oog af die geleentheid gebied om die Afrikaner minstens kultureel te verenig. Vir die aktrise Anna Neethling-Pohl was dit “nie net ’n geleerde groep akademici nie; dit was nie net ’n klomp spoorwegmanne nie; dit was nie net ’n klompie boere nie, maar orals soos masels het dit uitgeslaan en dit was vir my so wonderlik dat dit ’n gesamentlike front was”.13
Die opkoms van nasionaal-sosialisme in Europa in die 1930’s het ’n bepaalde invloed op die OB gehad. Die betekenis daarvan, veral vir die ideologiese grondslag van die OB, is egter dikwels misverstaan. Die beweging se ideologiese beginsels was vaag met verwarrende teenstrydighede en uiteenlopende beskouinge in eie geledere. Die Duitse historikus Christoph Marx meen die aanvanklike sukses van die OB het juis in sy populistiese aanslag gelê: “There is no clear ideological profile … it was just this vagueness and blur … which made the OB so very attractive to the masses.”14
Daar was net ’n klein groepie intellektuele, hoofsaaklik aan die noordelike universiteite, wat die ideologiese rigting in die OB probeer aanwys het, maar sonder duidelike ooreenstemming onderling. Namate die oorlog voortgewoed het, sou die OB na ’n duideliker nasionaal-sosialistiese ideologie neig waardeur kultuurgeoriënteerde lede vervreem is.15
Die kernbeginsels van die breë OB-ideologie het ’n Christelik-nasionale en republikeinse gesagstaat behels waar daar geen plek vir politieke partye was nie. In konteks gesien het Afrikaners se armoede sekere mense skepties gemaak oor wat beskou is as uitbuitende kapitalisme wat ’n partydemokrasie toegelaat het. Die OB was nie teen demokrasie as stelsel gekant nie, maar teen die parlementêre demokrasie as die regeringsvorm van die liberale individualisme. Sosialisme is beskou as ’n volkseie, nasionale sosialisme in sterk teenstelling met ’n internasionale sosialisme soos kommunisme. Die OB wou nie ’n eenpartystaat soos Duitsland en Italië hê nie, maar eerder partyloosheid. Die OB het dus ’n eie, inheemse Afrikaanse variasie van nasionaal-sosialisme gehad.16
Nasionaal-sosialisme was ’n vreemde ideologie wat nie ’n blywende indruk op Afrikaners kon maak nie. ’n Jong Hendrik Schoeman (die latere NP-kabinetsminister) skryf in sy memoires: “Ek kon my net nie sover kry om dit as ’n natuurlike gedoente vir die Afrikaners te aanvaar nie.”17 Die ateïstiese inslag van Adolf Hitler se nasionaal-sosialisme het gou met die OB se sterk Christelike grondslag gebots.
Verreweg die meeste OB-lede het nie verhewe ideologiese doelwitte aangehang nie. Vir hulle was die republikeinse strewe en verset teen die oorlogspoging aanloklike doelwitte wat nie van ’n nasionaal-sosialistiese ideologie afhanklik was nie. Die OB was in wese ’n populistiese volksbeweging eerder as ’n ideologiese beweging.
Die eerste leier van die OB, kol. J.C. Laas, het die beweging in geheimsinnigheid gehul met allerlei intriges en bewerings van kontak met Duitsland. Al voor die oorlog het die polisie hom ondersoek en in ’n daaropvolgende geheime verslag is kommer uitgespreek oor sy skakeling met Nazi-agente en ’n beoogde staatsgreep waarby die OB betrokke sou wees. Veral die kultuurgeoriënteerde lede van die Grootraad het glad nie vir lief geneem met Laas se ongemagtigde betrokkenheid by ondermynende bedrywighede nie.
Die OB-leierskap was heeltemal bo Laas se vuurmaakplek. Hy was ’n swak organiseerder met ’n onvermoë om die groeiende vloedgolf mense wat na die OB gestroom het, te hanteer. Hy het impulsief opgetree en sy onverantwoordelike en teenstrydige bevele het verwarring veroorsaak. Sy bisarre aanspraak dat hy telepaties met Hitler in verbinding was en bewerings oor sy lidmaatskap van die Vrymesselaars (wat ’n taboe onder die meeste Afrikaners was) het hom verder ongeskik gemaak. ’n Verbitterde Laas is gedwing om in Oktober 1940 te bedank. Die mantel het op die charismatiese Hans van Rensburg geval.18
Daar is waarskynlik min Afrikaners wat soveel bewondering onder hul volgelinge gehad het as Van Rensburg. Hy was geen besonderse demagoog en bepaald ook nie ’n ortodokse Afrikaner-nasionalis nie, maar sy magnetiese persoonlikheid met ’n amper onweerstaanbare sjarme het mense na hom aangetrek en hul verbeelding aangegryp.19
Van Rensburg is in 1898 in Winburg in die Vrystaat gebore. Met sy skerp intellek en stewige akademiese onderbou, wat ’n doktorsgraad in die regte aan die Universiteit van Stellenbosch ingesluit het, het hy buitengewoon vinnig vordering in die staatsdiens gemaak. Op 37-jarige ouderdom, wat vir daardie tyd uitsonderlik jonk was, het hy die administrateur van die Vrystaat geword.
Soos dikwels die geval is met leiers wat die verbeelding aangryp, is ’n mite rondom Van Rensburg gevorm. Hy was self erg omstrede. Hy het die OB organisatories versterk, maar ook ’n storm-en-drangtydperk veroorsaak waarin hy Laas se aktivisme tot nuwe hoogtes geneem het. Onder Van Rensburg het die beweging al meer militant geword en in die politiek ingemeng.20
Van Rensburg het terselfdertyd die leisels van die Stormjaers oorgeneem, hoewel hy waarskynlik de facto reeds vroeër beheer daaroor uitgeoefen het. Dat hy albei organisasies kon bly lei, is merkwaardig. Sy betrokkenheid by die terreurveldtog toon oënskynlike teenstrydighede wat nader toegelig sal word, só ook die tergende vraag waarom hy nooit geïnterneer of gearresteer is nie en die vreemde bewerings dat hy kop in een mus met Jan Smuts was.
Van Rensburg het ongetwyfeld besondere waarde aan sy Afrikanerskap geheg. Sy betrokkenheid as 16-jarige aan regeringskant in die Rebellie van 1914 sou egter by hom bly spook. Vir sekere geharde Afrikaners was só ’n empaaierdiens onvergeeflik.21 Hoe dit ook al sy, Van Rensburg moes ná die geveg by Doornkop op 10 November 1914 die verminkte lyke van Afrikaners aanskou wat deur mede-Afrikaners doodgeskiet is.22 Die gebeure het ’n blywende indruk op hom gemaak en hy het onderneem om alles in sy vermoë te doen om verdere sulke tragedies te verhoed.23 Dit verklaar waarskynlik deels hoekom hy tydens die terreurveldtog by verskeie geleenthede grootskaalse geweld gekeer het.
Van Rensburg het intensief belanggestel in militêre aangeleenthede en vinnig opgang in die burgermag gemaak. Teen die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog was hy bevelvoerder van die sesde brigade. Hierdie militêre agtergrond sou hom goed te pas kom met die organisasie van die Stormjaers en die handhawing van dissipline. Omdat hy nie kans gesien het om onder die Smuts-regering te dien nie, het hy as Vrystaatse administrateur bedank en op 1 Januarie 1941 die voltydse kommandant-generaalskap van die OB aanvaar.24
In sy hoedanigheid as sekretaris van justisie het hy Suid-Afrika in 1936 op ’n internasionale konferensie in België verteenwoordig. Daar is hy na militêre maneuvers in Duitsland genooi waar hy Hitler en Hermann Göring ontmoet het. Sy aangetrokkenheid tot die Duitse kultuur en bewondering vir die wyse waarop die Nazi’s onder Hitler die Duitse volk ná die Eerste Wêreldoorlog opgehef het, is versterk, maar ook die nasionaal-sosialisme het hom diep beïndruk.25 Sy omstrede verknogtheid aan nasionaal-sosialisme was nie net ’n onuitvoerbare ideaal nie, maar ook verwyder van die hoofstroom-Afrikaner-denke. Op die lang duur kon hy nie die rol vervul wat die beproefde Afrikaner-partyleiers as verteenwoordigers van ’n gevestigde demokrasie vervul het nie.
Baie OB-lede was gekant teen enige vorm van gewelddadige optrede. Die Grootraad self het enige vorm van sabotasie amptelik afgekeur en in Junie 1942, terwyl die terreurveldtog op sy hewigste was, ’n waarskuwing in die OB-koerant aan sy lede gerig om nie by enige geweldpleging betrokke te raak nie.26
Die verskillende historiese ervarings van Afrikaners in onderskeidelik die suide en die noorde het sterk na vore gekom in die uiteenlopende benaderings tot ondermynende optrede. Die nageslag van koningin Victoria se Kaapse Afrikaners was nie so vurig soos hul noordelike broers wat ’n geskiedenis van opofferings in ’n stryd teen Britse imperialisme gehad het nie. Volgens Erika Theron, ’n Kaapse vroue-OB-generaal, was die Afrikaners in die Boland maar ’n mak klomp in vergelyking met die Transvalers.27 In die Wes-Kaap het ’n voormalige OB-generaal, Wouter Rabie, nog in 1977 heftig ontken dat die OB enigiets met sabotasie te doen gehad het: “Ons het nie dade gedoen waaroor ons skaam moes gewees het nie.”28
Onder leiding van die Kaapse OB-leier, asst.kmdt.genl. J.A. (Sambok) Smith, ’n rebel uit die Anglo-Boereoorlog en voormalige redakteur van Die Huisgenoot, het die OB ’n beleid van verset sonder geweld gevolg. Theron het dit beaam: “Ons gaan ons nie neerlê by die oorlogsbeleid nie, maar sonder gewere.”29 Volgens dié mening was ondergrondse optrede misdadig en gevolglik verwerplik. Die Stormjaers kon ook nooit ’n behoorlike vastrapplek in Kaapland vind nie.
In Transvaal was daar ook teenstanders van enige gewelddadige optrede soos ds. S.J. Stander, ’n NG predikant van Hartbeesfontein wat lank voorsitter van die Grootraad was, in sy herinneringe opmerk: “Ek het dit baie sterk teëgestaan en ek het dit baie in die Grootraad gesê.”30
Daarteenoor was daar ’n groep OB-lede wat aktief deel was van die terreurveldtog. Soos Van Rensburg het sommige lede ’n dualistiese rol vervul. Die beskuldigings wat gedurig tydens die terreurveldtog teenoor die OB gemaak is, moet deels toegeskryf word aan hierdie ineengestrengeldheid. Ander lede het heeltemal van die OB weggebreek en hul heil by die Stormjaers gaan soek.
Van Rensburg se kernoogmerk was dat hulle moet wag vir die regte tyd voordat hulle tot daadwerklike aksie oorgaan. “Der Tag” moes eers aanbreek – die dag wanneer die Duitsers ’n oorwinning sou behaal en die republikeinsgesindes die geleentheid gee om ’n staatsgreep uit te voer of in grootskaalse opstand teen Smuts te kom.31 Vir Van Rensburg was daardie tydsberekening van wesenlike belang om ’n fiasko soos die Rebellie van 1914 te verhoed: “Ek wil nie ’n herhaling van 1914 hê nie, waar optrede kom en dit word platgeslaan en Smuts doen vir die res van die oorlog wat hy wil. Ons moet nog daar wees aan die einde van die oorlog.”32 ’n Oudoffisier in die militante Terreurgroep, Rawat de Wet, het in 1973 die mening uitgespreek dat dit deur Van Rensburg se toedoen was dat “Suid-Afrika gevrywaar was teen seker die grootste ramp wat ons ooit sou getref het, deur nie in die vyand se hande te speel nie”.33
Dat Van Rensburg daarin geslaag het om grootskaalse terreur in toom te hou, verklaar in ’n groot mate hoekom hy nooit geïnterneer is nie en ook waarom die OB nie verban is nie. Smuts het besef die OB kon gebruik word as ’n instrument om die anti-oorlog-sentimente betreklik vreedsaam te kanaliseer. Militante groepe soos die Stormjaers is wel verban, maar is daardeur verder ondergronds gedwing. As Van Rensburg wel gearresteer sou word, sou dit tot grootskaalse vergelding lei. Van Rensburg het in 1944 in ’n onderhoud gesê: “I can assure you that if the Government was foolish enough to put me into prison I can name at least five Cabinet Ministers who would be killed or at least badly beaten up that same night.”34
Van Rensburg se beskouing dat geweld en veral lewensverlies tydens die terreurveldtog vermy moes word, was nie altyd konsekwent nie. Ook het hy nie altyd volle beheer oor sabotasiedade gehad nie. Hierdie en die tergende dualistiese aard van sy leierskap oor sowel die OB as die Stormjaers sal van naderby ondersoek word.
Aanvanklik het dit gelyk of die samewerking tussen die Nasionale Party en die OB ’n suksesvolle samebindende broederskap met ’n politieke en kulturele terreinafbakening sou wees. Met die Cradock-samewerkingsooreenkoms einde Oktober 1940 is bevestig dat die Nasionale Party en die OB op onderskeidelik politieke en niepolitieke terrein na die belange van die Afrikaner sou omsien.35
Politiek en kultuur is nou eenmaal nie van mekaar te skei nie. Die militante onderbou van die OB het al hoe sterker na vore gekom, terwyl Van Rensburg ook uitdagender geraak en openlik daarop gesinspeel het dat die bestaande parlementêre stelsel omvergewerp en deur ’n gesagstaat vervang moes word. Teen einde 1941 het die Nasionale Party en OB in felheid uitmekaar gespat. Dit is gevolg deur ’n bittere stryd wat sou ontaard in ’n ongekende platvloerse en gemene broederstryd waarin haat hoogty gevier het. Die kort wittebrood het in ’n morsige egskeiding geëindig.
Verskillende beskouinge van Afrikaner-nasionalisme het bitter verdeeldheid in families gesaai. ’n Sprekende voorbeeld was die kinders van die Vrystaatse president M.T. Steyn. Sy een seun, Colin Steyn, was ’n kabinetsminister in die Smuts-regering en ’n dogter, Emmie du Toit, was die Kaapse hoofvrou van die OB.36
Dit was veral die neiging tot militante aktivisme wat die Nasionaliste dwars in die krop gesteek het. Die Nasionale Party het die OB direk verantwoordelik gehou vir die terreurveldtog en geen onderskeid tussen die OB en Stormjaers getref nie. Malan het op 14 November 1941 in ’n toespraak verklaar: “Die OB is nie meer soos in die begin een groot kring waar Afrikaners Afrikaners kan wees nie. Dit is vandag sirkels binne sirkels … [en] een van die binneste sirkels is die Stormjaers.” Malan het gewaarsku dat die republikeinse ideaal nie deur gewelddadige ondergrondse bedrywighede bereik kan word nie, want daardeur word in die vyand se hande gespeel.37
Die Unie van Suid-Afrika was in oorlog met Duitsland, maar die Afrikaners was onderling in oorlog met hulself.
Die OB het nie aan die verwagtinge van sy meer militante lede voldoen nie. Vir hulle was die OB net ’n braaivleisbende wat niks anders gedoen het as geld insamel nie. ’n Terreurgroeplid het die OB beskryf as “maar net nog ’n kultuurorganisasie wat baie gepraat het”38, terwyl ’n Stormjaeroffisier teleurgesteld was oor die gebrek aan aktivistiese uitlewing: “Daar was vir my geen aksie in die ding nie en ek kon nie juis sien dat daar ooit aksie in sou kom nie.”39
Vir die meer gematigde OB-lede sou die Stormjaers ’n groot las word wat beswaarlik geduld kon word. Die Stormjaers se ondermynende aktiwiteite het die OB se kultuurbedrywighede na ’n rookskerm laat lyk, met die gevolg dat elke aktiwiteit met agterdog bejeën is. Baie lede sou die OB om dié rede verlaat. Die militante Stormjaerbeweging wat uit die OB ontstaan het, was uiteindelik ’n achilleshiel van die eens magtige organisasie.