Читать книгу Wit terroriste - Albert Blake - Страница 5

1

Оглавление

__________

Afrikaners word terroriste

Sowel die Smuts-regering as die Nasionale Party het die radikale beweging onder sekere Afrikaners wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog tot uitgebreide dade van sabotasie aanleiding gegee het, as volksvreemde gedrag afgemaak.1 Deneys Reitz, ’n lid van Jan Smuts se oorlogskabinet en Suid-Afrikaanse ambassadeur in Londen in die oorlogstyd, het in sy outobiografie No Outspan opgemerk: “They indulged in bomb throwing, sabotage and other subversive acts quite foreign to the normal character of our Afrikaans people.”2

Wat het ’n aansienlike groep Afrikaners dan daartoe gedryf om dade van sabotasie te pleeg? Die woord “terrorisme” is klaar genoeg om ’n ongemaklike siddering deur die gewone mens te stuur. Dade van terreur vervul die oorgrote meerderheid van die mensdom nog altyd met afgryse. Wat egter vir een ’n weersinwekkende terroris is, kan vir ’n ander ’n vryheidsvegter en patriot wees. Die meeste Afrikaners wat aan dade van sabotasie deelgeneem het, het hul ondermynende optrede in later jare bly regverdig. Inderwaarheid het hulle met ’n soort heroïese selfvoldaanheid en patriotiese trots na hul optrede teruggekyk.

Ten einde die vraagstuk te ondersoek, sal eerstens na die algemene omstandighede gekyk word wat moontlik ’n gunstige klimaat geskep het waarin sekere Afrikaners kollektief daarvoor ontvanklik was om aan ’n terreurveldtog deel te neem. In die laaste gedeelte van die hoofstuk word kortliks verwys na moontlike psigiese faktore wat individue daartoe beweeg het. In die daaropvolgende hoofstukke sal na spesifieke gebeurtenisse gekyk word wat as katalisator vir die terreur gedien het.

Teen die 1930’s het Afrikaners ’n swak selfbeeld gehad, veral weens armoede, en ’n algemene minderwaardigheidsgevoel teenoor Engelssprekendes. Afrikaners het as’t ware soos tweedeklasburgers in hul geboorteland gevoel. Wanneer só ’n kollektiewe minderwaardigheidsgevoel te lank in ’n drukpot geplaas word, kan dit tot uitbarsting kom, veral as dit nie genoeg uiting kry nie. Suid-Afrika sou in latere dekades ’n soortgelyke verskynsel ervaar met ’n wrokkige swart gemeenskap se gevoel van verontregting oor hul verlaagde status.

Aan die begin van die twintigste eeu het die Britse verskroeideaardebeleid in die Anglo-Boereoorlog die binneland geruïneer. Baie Afrikaners het dekades lank gesukkel om daarvan te herstel. Dit het ’n proses van verstedeliking aangehelp waartydens strome armes in krotbuurte in stede saamgetrek het. Die ontwortelde Afrikaners was nie sakelui nie en het aanvanklik ook nie die vermoë gehad om entrepreneurs op te lewer nie. Daarteenoor het wit mense van Britse of Joodse afkoms die nielandbousektore bykans volkome oorheers.3

Die beroepstatistieke van die 1930’s toon hoe erg die Afrikaner aan die agterspeen gesuig het teenoor Engelssprekendes. In 1939 was ’n skamele 3% van maatskappydirekteure en -aandeelhouers en vervaardigers wat vir hulself gewerk het Afrikaners. Slegs 3% van ingenieurs, 4% van boekhouers, 11% van prokureurs en advokate, 15% van mediese dokters en 21% van joernaliste was Afrikaners. Die staatsdiens was in wit Engelssprekendes se hande en minder as ’n kwart van die senior staatsamptenare het Afrikaans as huistaal gepraat. Hoewel Afrikaners 56% van die wit bevolking uitgemaak het, was hul inkomste in 1935 slegs 60% van dié van Engelssprekendes.4

Teen 1939 was ongeveer 40% van alle volwasse Afrikaner-mans in Johannesburg in die vier laer werkskategorieë, naamlik ongeskoolde arbeider, mynwerker, spoorwegwerker en messelaar. Wit Engelssprekendes het net 10% van dié kategorieë uitgemaak. Sowat 70% van die wit mynwerkers was Afrikaners, maar hulle het 90% van die gevaarlike ondergrondse poste gevul, waarvoor ook heelwat laer lone betaal is. Dieselfde het gegeld vir die spoorweë, waar baie Afrikaners ’n skamele vyf sjielings per dag of minder verdien het, vergeleke met die minimum vir beskaafde arbeid van agt sjielings per dag. Op sekere gebiede is Afrikaner-werkers selfs doelbewus benadeel deur sommige Engels beheerde vakbonde wat hulle van sekere ambagte uitgesluit het omdat hulle bang was Afrikaners sou bereid wees om vir laer lone te werk.5

Daar was nog ’n onaanvaarbare ongeletterdheid onder die Afrikaners en die algemene opvoedkundige peil was ook baie laag. In 1939 was slegs ’n derde van alle wit studente aan universiteite Afrikaners in ’n tyd toe die meeste wit mense Afrikaans was.6

Die wêreldwye depressie van 1929, gevolg deur die greep van ’n langdurige droogte in 1933, het armoede verder aangehelp en ’n soort wanhoop veroorsaak. Die armblankevraagstuk van dié tyd was in wese ’n Afrikaner-vraagstuk. Vandag is dit amper vergete dat ongeveer ’n derde van Afrikaners aan die begin van die 1930’s armlastig was en onder die broodlyn moes leef. Afrikaners was in dié tyd onteenseglik die houthakkers en waterdraers van die wit gemeenskap.

In sy herinneringe het ’n Stormjaer sy mense se droewige verhaal beskryf: “Die Afrikaners was almal arm gewees, brandarm, só bitter arm … die Engelsman was na die Engelse Oorlog aan die hoof van besigheid saam met die Jode … Dit was nie Afrikaners nie. Die Afrikaner was maar die een wat by die toonbank moes gaan koop. Hy was die arm man gewees. Hy was die werker gewees.”7

Armoede was nog altyd ’n teelaarde vir onrus, veral wanneer ’n sekere deel van die bevolking welvaart geniet. In die 1930’s en ’40’s is wit Afrikaner-armoede gepolitiseer, wat een van die belangrikste dryfvere vir radikale Afrikaner-nasionalisme sou word. Dit is ’n verskynsel wat hom later met radikale swart nasionalisme sou herhaal.

Benewens die blywende materiële skade wat die Anglo-Boereoorlog veroorsaak het, het dit ook op geestelike gebied wonde gelaat. Die grondslag van die Afrikaner se swak selfbeeld is in ’n groot mate gevorm deur ’n slagoffersindroom as gevolg van die oorlog. Dit is daarna aangehelp deur Milner se verengelsingsbeleid, ’n Engelse meerderwaardigheidshouding en armoede.

Sielkundiges meen die herinnering van ’n latere geslag aan ’n vorige geslag se trauma is ’n voortsetting daarvan. As ou wonde nie toegelaat word om op te hou sweer nie, veroorsaak dit ’n naakte aggressie wat simptomaties is van onverwerkte versoening en genesing.8 Met die aanvang van die 1940’s was daar nog nie genesing by Afrikaners vir die trauma van die konsentrasiekampe en ander gruwels van die Anglo-Boereoorlog nie. Daar was steeds ná vier dekades ’n waarneembare woede by ’n jonger geslag oor hul ouers en grootouers se vernedering. Al het hulle dit nie self beleef nie, kon hulle nie aanvaar wat hul voorouers moes deurmaak nie. Die nuwe geslag was in ’n sekere sin radikaler as hul ouers en minder geneë om Engelse oorheersing te aanvaar. (Dit is ’n tendens wat aan vandag se jong swart mense herinner – ’n jonger, radikaler geslag wat na vore tree met ’n nuwe en verhoogde vyandigheid teenoor die onderdrukker van hul ouers.) Die Engelssprekendes het nie die dieper betekenis van daardie trauma begryp nie of was net onsensitief daarvoor. Daarmee het hulle die Afrikaners die moontlikheid van heling en genesing ontsê.

’n Sterk anti-Engelse gesindheid kom herhaaldelik op ’n onverbloemde en robuuste wyse in herinneringe van en onderhoude met gewese Stormjaers en Terreurgroeplede voor.9 Pikkie Botha, ’n oud-Stormjaerleier, het nog in 1974 sonder skroom verklaar: “Ek is grootgemaak as ’n baie sterk rassis met ’n haat teen die Engelsman en alles wat nie Afrikaans is nie. Ek is só grootgemaak … en ek het my ook altyd in die rol gesien dat ek eendag die geleentheid sal kry om met die Engelsman te kan baklei.”10

In 1977 vertel nóg ’n oud-Stormjaer, Johan Malan: “Ek het anti-Engels grootgeword in die huis. My ouma het swaar tye deurgemaak in die Engelse-oorlog. Sy was in die konsentrasiekamp waar sy ’n paar kinders verloor het as gevolg van die tentlewe in die koue weer. Hulle het siek geword en gesterf. Sy het twee kinders oorgehou, van wie my moeder een was. Sy het ons van kleins-af anti-Engels grootgemaak. Die Engelsman is beskou as die verdrukker.”11

Die teregstelling van Jopie Fourie in die Rebellie van 1914 het vir die duur van die terreurveldtog soos ’n donker wolk daaroor gehang. Fourie is verhef tot ’n soort mitiese martelaar wie se nagedagtenis nie net geëer moes word nie; sy ideale moes ook in daad nagestreef word. Die gewelddadigheid van Fourie se optrede is daardeur misgekyk, terwyl Smuts se aandeel aan die tragedie as onvergeeflik beoordeel is. Die terreurveldtog word soos die Rebellie verhef tot edele optrede wat in volksbelang is. Die geweld wat met die terreurveldtog gepaard gaan, word gevolglik moreel geregverdig. Die herinnering aan Fourie se lot word ook herhaaldelik in die oudsaboteurs se herinneringe opgeroep.12

Die twee wit gemeenskappe was tussen die twee wêreldoorloë in ’n intense en bittere stryd gewikkel oor kwessies soos die status van Afrikaans, ’n nasionale vlag en volkslied. Vir Afrikaners was hul Engelssprekende landgenote se patriotisme teenoor Suid-Afrika sterk onder verdenking. Engelssprekendes is gereeld daarvan beskuldig dat hulle meer Engels as die Engelse van Engeland is. Party het inderdaad nog van Engeland as “home” gepraat, al is hulle nie daar gebore nie. Daarteenoor is aangevoer dat die Afrikaner nooit ’n ander vaderland as Suid-Afrika geken het nie.13

Daar was in dié tyd min sosiale kontak tussen die twee wit gemeenskappe. Baie Engelssprekendes was dekades lank afsydig en sommige selfs vyandig en minagtend teenoor Afrikaans – ’n gesindheid wat teen die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog nog algemeen voorgekom het. ’n Stormjaerleier, Herman Havenga, noem hy het ’n “wrok teen die Engelsman” oor die verlede gehad wat aangevuur is deur ’n miskenning van sy taal en kultuur: “As jy in Eloffstraat [in Johannesburg] geloop het en jy het Afrikaans gepraat, het hulle stilgestaan en [jou aangekyk] en as jy ’n winkel ingaan en jy praat Afrikaans dan sê hulle vir jou: ‘I don’t speak that language’ met die gevolg dat dit maar alles in die ou gedagte en in die brein opgelaai het.”14

Die muntstuk het natuurlik twee kante. Vir Engelssprekendes was Afrikaners se dwarstrekkery ondankbaarheid in die lig van die ontsaglike voordele wat hul bydrae vir die mynwese en die breër sakewêreld asook die Britse kultuur in die algemeen vir die land beteken het. Daar was ook by sekere Afrikaners ’n strewe na die herstel van die ou Boererepublieke, wat Engelssprekendes om verstaanbare redes verwerp het.

Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het die verhoudinge tussen Afrikaners en Engelssprekendes ’n nuwe laagtepunt bereik wat aangevuur is deur opponerende standpunte oor oorlogsdeelname. In sy ekstreme vorm het ’n onversoenlike, blinde, eksklusiewe Afrikaner-nasionalisme teen ’n selfsugtige jingoïsme te staan gekom.

Teen die einde van die 1930’s het dramatiese gebeurtenisse ’n kragtige oplewing van Afrikaner-nasionalisme veroorsaak. Onder meer die simboliese Ossewatrek van 1938, die stigting van die OB in 1939 en die Smuts-regering se besluit om Brittanje se oorlogspoging teen Duitsland in dieselfde jaar te steun, sou die vonke by die kruitvat wees.

Terselfdertyd het ’n klimaat van moed en idealisme onder Afrikaners ontstaan met ’n geleidelike verbetering van hul ekonomiese omstandighede. Afrikaners was besig om hulself op te hef, maar hul ervarings van armoede, onderdanigheid en ’n oorheersende wil om ’n herhaling daarvan in die toekoms te vermy, het gehelp om hulle te verblind vir die omstandighede van die swart bevolking, wie se posisie veel onbenydenswaardiger was. In die proses sou die Afrikaner homself van ander bevolkingsgroepe vervreem.

’n Nuwe nasionalistiese intelligentsia het onder die Afrikaner na vore getree wat in verset sou kom teen wat beskou is as onderdrukking deur Britse imperialisme met ’n oplewing van die ou republikeinse droom. In die proses het ’n radikale en onverdraagsame vorm van Afrikaner-nasionalisme by party mense ontstaan. Die terreurveldtog wat gevolg het, kan beskou word as ’n uitvloeisel van ’n radikalisering van Afrikaner-nasionalisme deur militante groeperings.

Dit sou egter ’n sekere soort mens, selfs onder die militantes, verg om daartoe oor te gaan om bomme te plant.

Verreweg die meeste Afrikaners wat soortgelyke ervarings van armoede en onderdrukking beleef het en wat ’n brandende republikeinse strewe en ’n sterk anti-oorlogsgesindheid gehad het, het hulle nie tot terreur gewend nie. Baie het terreur om morele redes afgekeur, terwyl ander wat dalk simpatie daarmee gehad het, net nie psigies en fisiek daartoe in staat was nie. Wat het daardie minderheidsgroep Afrikaners dan verder oor die rand gestoot om tot dade van sabotasie oor te gaan?

Sielkundiges leer ons dat sowel omgewingsfaktore as gene ’n individu se persoonlikheid vorm en gevolglik kan help om daardie persoon se gedrag te verklaar. ’n Ontleding van individue se unieke psigiese samestellings kan dus help verduidelik waarom sekere mense aan terreur deelneem. Waarskynlik het die meeste Afrikaners wat sterk teen die Smuts-regering se oorlogspoging gekant was, ook nie die psigiese mondering gehad om saboteurs te word nie. Al was die grootste nasionalis se oortuigings ook hóé groot, het hy nie noodwendig sulke eienskappe gehad nie.

Met die toename van internasionale terreur in resente tye is intensiewe navorsing in die Weste gedoen oor watter soort mens hom tot terreur wend. Terwyl die dryfmotiewe en omstandighede van moderne terrorisme heeltemal verskil van dié van die groep Afrikaanse saboteurs in die tyd van die Tweede Wêreldoorlog, is daar tog algemene psigiese faktore wat individue beweeg om by ondermynende bedrywighede betrokke te raak. Prof. Peter Bergen van die Universiteit van Arizona het in ’n studie ’n behoefte by sekere individue gevind om hulle te vereenselwig met ’n radikale ideologie of militante organisasies. Sulke optrede gee ’n gevoel van lewensbetekenis wat andersins nie daar sou wees nie. Dit stel sulke persone in staat om helde van hul eie storie te word. ’n Behoefte om deel te wees van ’n besondere samehorigheidsgevoel is ook ’n sterk bydraende faktor.15

Die Vrystaatse Stormjaerleier, Chris de Jager, kon nieteenstaande groot hoogtes in sy loopbaan nooit weer dieselfde euforie as tydens sy Stormjaerjare ervaar nie: “Ek het nog nooit daarna in al die dinge, in my latere studies, in my latere leeftyd waar ek met universiteits- en akademiese aangeleenthede te doen gehad het, waar ek tien jaar lank dekaan was van ’n fakulteit, ’n Afrikaanse fakulteit help opbou het … [weer] daardie belewenis gehad nie.”16 Greta Wolf was bedags ’n toegewyde onderwyseres by ’n skool in Pretoria en snags as Terreurgroeplid doenig met gevaarlike sabotasiewerk. Sy het ’n soort selftevredenheid oor die geheimsinnigheid ervaar: “Dit was natuurlik ’n avontuur om te voel dat jy nou hier is om ’n diens te doen en niemand weet daarvan nie.”17

Daar is diegene wat floreer in die opwinding wat adrenalien-gedrewe dade bied, terwyl dit eenvoudig nie met ander akkordeer nie. Niemand kan dr. D.F. Malan se patriotisme en toewyding aan Afrikaner-nasionalisme in twyfel trek nie, maar tydens die Anglo-Boereoorlog het hy in Nederland gaan studeer, terwyl baie van sy Stellenbosse studentemaats hul lewe op die slagveld gewaag het. Daar is gespot dat Malan nie geweet het wat is die voorkant en wat is die agterkant van ’n geweer nie.18 Nie net Malan se oortuigings het hom van terreur weerhou nie; soos baie ander Afrikaners was hy net nie vir dié soort optrede gemaak nie.

Dis nie moontlik om ’n profiel van ’n prototipe Afrikaner-saboteur van die tydperk saam te stel nie. Verskillende faktore het swaarder by individue geweeg. Die Stormjaerbeweging het op sy hoogtepunt na raming tussen 8 000 en 9 000 lede gehad, wat alle lae van die Afrikaner verteenwoordig het. Aan die Witwatersrand, byvoorbeeld, was hulle grotendeels myners, in Pretoria staatsamptenare en op die platteland meestal boere. Terwyl ’n kleiner aktiewe kerngroep as taai en ruwe manne voorkom, was die res om verskillende redes sporadies of selfs glad nie by sabotasiedade betrokke nie.

Onder die belangrikste rolspelers in die terreurveldtog is daar tog insiggewende ooreenstemmings. Hulle was meestal jong, ambisieuse Afrikaners uit die intellektuele klas. Party het universiteitsgrade gehad in ’n tyd toe sulke kwalifikasies nog skaars was, terwyl verskeie gegradueer het nadat hulle uit die gevangenis of interneringskampe vrygelaat is. Die meeste van die leiers sou later belangrike posisies in die samelewing beklee, onder meer as regters, dekane van fakulteite, belangrike politici, hoofde van staatsdepartemente, skrywers en suksesvolle sakelui. ’n Verdere opvallende aspek is dat baie leiers voorheen aan die Suid-Afrikaanse weermag verbonde was, wat deels verduidelik waarom die Stormjaers aan streng dissipline onderwerp kon word, veral wanneer die gewone lede gedreig het om met ongemagtigde sabotasiedade handuit te ruk.

Terreurbewegings is ideale broeiplekke vir ekstreme fanatici, ook vir diegene met sluimerende afwykende gedrag. Die ondermynende beweging onder Afrikaners was geen uitsondering nie. Dit is veral nodig om in dié mense se koppe te klim om te verstaan wat hulle ontvanklik gemaak het vir hul radikale optrede.

Historiese figure word toenemend vanuit die sielkunde geanaliseer om insig te kry in die ware mens agter die persona. Daardeur word gepoog om ook die moeilik verstaanbare en omstrede aspekte van ’n persoonlikheid te verklaar. Dit kan help om die ingewikkelder psigiese dryfmotiewe van veral fanatici beter te verstaan as nie net algemene faktore soos nasionalistiese en republikeinse strewes, godsdienstige oortuigings en armoede bekyk word nie.

Enkele fanatici wat deel uitgemaak het van die terreur, soos Robey Leibbrandt en Barnie Basson, het genoeg geskrifte nagelaat wat op een of ander afwykende gedrag dui en ’n psigohistoriese ontleding regverdig. Basson, ’n berugte Stormjaerleier en die meesterbrein agter opspraakwekkende sabotasiedade, het al sy dagboeke, plakboeke en ander dokumente aan die OB-argief geskenk. Hy was een van 11 kinders en het arm grootgeword. As kind is hy aangeneem. Sy biologiese pa was ’n Rooms-Katoliek en die priesters se pogings om hom in sy jeugjare tot Katolisisme te oortuig het sy gevoel daarteen net versterk. Sy geskrifte openbaar ’n kwellende gemoed met ’n gevaarlik fanatiese politieke ingesteldheid. Daar is elemente van godsdienstige dweping met ’n soort godgegewe roeping. Hy beskou homself as ’n soort uitverkore redder van die Afrikaner.19 Oor Leibbrandt bestaan daar ’n magdom primêre bronne waaruit onder meer sy grootheidswaan blyk.20

Terwyl die meeste Stormjaer- en Terreurgroeplede ná die oorlog klaarblyklik met ’n normale lewe aangegaan en by veranderde omstandighede probeer aanpas het, het fanatici soos Leibbrandt en Basson nooit van hul radikale oortuigings afstand gedoen nie. Selfs so laat as 1976 het Basson probeer om ’n geheime naoorlogse Stormjaerbeweging te laat herleef, maar in ’n veranderde wêreld was dit doodgebore.21 As bejaarde het hy in 1982 tydelik as hoofleier van die Afrikaner Weerstand Beweging (AWB) waargeneem nadat Eugène Terre’Blanche in Desember daardie jaar ’n tyd lank op aanklag van onwettige wapenbesit aangehou is.22

Weens ’n gebrek aan bronne kan daar nie altyd lig gewerp word op die denke van sekere fanatiese saboteurs soos die omstrede onderleier van die Terreurgroep Ernst von Elling nie. Von Elling word by ongemagtigde sluipmoorde en ander ekstreme optredes betrek.23 Mens sou graag wou verstaan wat sy en ander soortgelyke militante se psigiese beweegredes was.

Terwyl dit nie moontlik is om hier reg te laat geskied aan ’n psigobiografiese ondersoek van al die belangrikste rolspelers nie, is dit nodig om kennis te neem dat daar psigiese verduidelikings is vir fanatiese terreuroptredes. Die gevaarlikste van die Afrikaner-saboteurs was juis ’n klein groepie fanatici wat Suid-Afrika op die rand van ’n bloedbad gebring het, terwyl dit nie soseer die doel van die breër ondermynende beweging was nie.

Wit terroriste

Подняться наверх