Читать книгу Herinneringe aan Parys - André P. Brink - Страница 5

Studie in kontraste

Оглавление

Parys is nie ’n stad nie.

Parys is ’n manier van lewe, en ’n manier van reageer op die lewe – in vryheid, gebonde aan geen voorskrif nie; alleen aan die mens. Daarom is dit meer as ’n versameling geboue, selfs meer as ’n versameling mense.

Parys is vol kleur, maar seker nie móói nie. Wél, vanweë sy menslikheid, aangrypend en uniek. Niks hier is higiënies nie en niks het reguit lyne nie en niks is vooraf bepaal nie; alles is verward, soekend, tastend, beurend, barstend, soos die mens se gees deur die eeue. En sy skoonheid lê in sy onberekenbaarheid en in sy onverwagtheid.

Die waarheid bestaan – volgens een beskouing – in die voortdurende ontkenning van alle voorafgaande momente. So bestaan ook Parys in die paradoksale teenwoordigheid van alle teenstrydighede tegelyk. En niks is vergesog of absurd of onmoontlik in Parys nie: want kruis en munt, lig en donker, lewe en dood – is dit nie maar alles teëpole van immer-dieselfde ding nie?

Daarom is dit ’n stad waar alles in volkome vryheid mag gebeur – en waar juis die mees fanatiese vervolgings, ketterjagte en onverdraagsaamhede voorkom; waar daar op een muur staan: Lewe die Republiek! en op die ander: Gee ons ’n koning!

Hier kom alle kontraste van die Franse volk tot een brandpunt. Die Fransman weier elke beperking van die vryheid van die individu – en terselfdertyd is hy verslaaf aan ’n meedoënlose burokrasie. Die Fransman ontken die gesag van die geregsdienaar – en sy eie polisie het waarskynlik meer mag as enige ander land s’n. Die Fransman gun elke man sy eie opinie (éis dit selfs!) en die Académie Goncourt trek die jaar se grootste letterkundeprys terug van ’n skrywer wanneer iemand ontdek dat dié man vyf-en-twintig jaar tevore ’n paar pro-Nazi-artikels geskrywe het. Die Franse is die burgerlikste volk op aarde – en heg meer waarde aan hul aristokrasie as die Britte. Die Fransman vereer ’n groot leier – en weier om hom te volg. Die Fransman is die mees huisvaste mens wat jy kan kry – en sy etes neem hy in ’n kafee. Sy vrou is die wêreld se besgeklede dame – en Europa se berugste nudis. Die Fransman het logika en redelikheid tot die uiterste ontwikkel – en daarby is hy ’n onmoontlike romantikus. Hy is die wêreld se grootste Don Juan – en sy onbeskofste skobbejak. Hy is ’n onverbeterlike programopsteller – en die eerste om sy eie program te verbreek. Hy verwelkom soveel buitelanders as hy kan as toeriste – en laat hulle dan so ontuis as moontlik voel. Hy is ’n genadelose eksistensialis, ’n devote Katoliek, ’n toegewyde mistikus, en ’n verbete agnostikus. Hy is misantroop en humanis, sinikus en optimis, materialis en spiritualis. Hy verfoei Parys, en hy het Parys hartstogtelik lief.

Want Parys! – dáár kruis die weë van die wêreld. Daar lê die beskawing op sterwe, en van daar word dit voortdurend nuut gebore. Daar ontstaan alle kunste en modes, daar word alle filosofieë beproef, aanvaar, verwerp. En daarheen keer jy terug wanneer jy self die lewe nodig het, wanneer die kers dof raak, die riet gebuig, die wind stil.

Parys, het pous Innocentius III gesê, is die oond waar die brood vir die wêreld gebak word. So is dit vandag. So was dit duisend jaar gelede. Want Parys is nie net ’n stel van kontraste hórisontaal langs mekaar gerangskik nie: dit loop ook vertikaal deur die verlede terug, vandat Julius Caesar in sy sonore, nugter Latyn vertel het van die Keltestammetjie, die Parisii, in hul dorpie van vissers en vyebome op hul eilandjie in die Seine: ingeryg op die rivier (so sê ’n ou spreuk) soos ’n kosbare juweel aan ’n glimmende snoer. En dié steen met sy nimmereindigende fasette kaats op die een of ander tyd, op die een of ander manier, iets terug van alle spore van die geskiedenis, die soektogte, die hartstogte, die vreugdes en die sondes van die mensdom.

Dáár is in die vierde eeu Julianus as keiser van die Romeinse Ryk gekroon. Daar is die heilige, St. Denis, onthoof omdat hy die beelde van Mercurius op die hoogte bo die stad vernietig het. Daar het biskop Marcel met sy kruis die bose draak doodgeslaan. Daar het die devote jong Geneviève haar mense moed ingepraat en in ’n skuitjie voorrade aangeroei teen Attila en sy Hunne. Daar het Clovis die Christendom met geesdrif en geweld gevestig toe selfs Rome gewankel het. Daar het die wit-bebaarde Charlemagne die wêreld se grootste ryk geregeer tot sy wilde, miserabele seuns dit weer laat versplinter het. Daar het die wêreld se geleerdes saamgetrek; en daar het die boewe, die sluipmoordenaars, die vodde en uitvaagsels van die windstreke vergader. Daar het die stil kerseliefde van Héloïse en Abélard gebrand teen die nyd, die vernietiging en die skeptisisme van die wêreld. Daar het die heilige koning Lodewyk XI die doringkroon van Christus onder die gewelwe en tussen die singende flonkervensters van die Sainte Chapelle bewaar; en daar het op die hoogte van Montfaucon die tien meter hoë galg gestaan waar alle tereggestelde lyke moes hang totdat die toue verrot. Daar het die bedelaars en boewe snags in die doodloopstrate vergader en hul duister skrikbewind oor die stad gesprei – en daar het Notre-Dame sy groot arms uit die woelende chaos van die massa ten hemele opgestoot. Daar het die Swart Dood oorgetrek en tagtigduisend mense met hom saamgeneem; daar het honderd jaar van oorlog die mensdom laat sidder – terwyl die vroue met modes en hoë haarstyle geëksperimenteer het. Dit was die tyd van kruistogte, minneliedere en heroïek – en van uitbuiting, geweld en sluipmoorde. Daar het die rampsalige ou drinkebroer Villon deur die strate gedwaal en gesteel en gemoor – en onsterflike poësie geskryf terwyl hy op die galgtou wag. Daar het Rabelais se rumoerige en pierewaaiende Gargantua en Pantagruel deur die steë gedawer – en daar het Ignatius Loyola sy toegewyde orde gestig. Daar het die Paleisekoning, François I, sy heerlike kastele laat bou; en daar het die ellendiges teen die modderwalle van die rivier in krotte en murasies krioel. Daar het die mensdom in die dodehuise gedans. Daar het die toring van St. Germain-l’Auxerrois sy klokke in die Bartholomeüsnag oor die slapende Protestante laat galm; en daar het die groot Protestantse vors, Hendrik IV, seëvierend ingetrek in ’n stad waar die mense ná die lang beleg al begin het om honde en katte, gras en opgegraafde lyke te verslind. Daar het die Sonkoning, Lodewyk XIV, sy luisterryke heerskappy gevoer – en selfs gedans na die bekoorlike pype van Madame de Maintenon. Daar het Lodewyk XVI en Marie-Antoinette gefuif terwyl die skare skree om brood. Daar is die besadigde Mirabeau opgevolg deur die rasende Danton. Daar het die gepeupel die Republiek gevestig, en hulself vernietig. Daarvandaan het die Swart Engel glorieryk na sy veldtogte uitgetrek – en daarheen het die verflarde reste van die Grande Armée teruggestrompel. Daar het ’n vors tegelyk koning en burger probeer speel. Daar het Napoleon III se dansende optogte van die Belle Époque deur die strate getrek, en in 1871 die Pruisiese veroweraars. Daarvandaan het Pétain aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog met die Mona Lisa, die Bruilof by Kana en ’n kasarm waardelose dokumente gevlug – en daarheen het De Gaulle seëvierend teruggekeer. Daar word Hosanna! en Kruisig hom! nog daagliks deur dieselfde mense uitgeroep, en albei word ewe hartgrondig bedoel.

As dit dan deur die eeue so was: hoe sal dit anders wees vandag?

Stap deur die klein Square du Temple, waar vanslewe die lugubere vesting van die Tempeliere gestaan het waar die ongelukkige Lodewyk XVI en Marie-Antoinette voor hul skandalige verhoor opgesluit was: dáár speel die kinders nou in die koelte van kastaiingbome in die sand. En ’n fraai klein meisietjie van ’n jaar of ses staan op twee stoele en hou vir ’n versameling maatjies ’n uitvoering van stories, mimiek en kabaretsang; tussenin hou sy net oomblikke op om ’n lastige broekie nonchalant op te trek, of ’n afgetrokke toeskouer oor die kop te raps.

Op die plein voor die Hotel de Ville (die stadsaal), vroeër die berugte Place de Grève, staan ’n geduldige polisieman nuuskierige toeriste se onnosel vrae en beantwoord – waarskynlik op dieselfde plek waar vyfhonderd jaar gelede mense in kokende olie verbrand, of op die wiel gebreek, of deur perde gevierendeel is, en waar ’n eeu of twee gelede nog op midsomerdae katte en jakkalse in mandjies lewendig verbrand is in die nálewing van ou heidense rites.

Voor ’n grys deur in die Rue des Mauvais-Garçons (Straat van die Kwajongens) sit ’n ou vroutjie in ’n swart tjalie en hekel; en vroeër was al die huise in dié rustige straatjie bewoon deur sluip-moordenaars wat hul dienste te huur aangebied het.

Tussen die oorblyfsels van die ou Romeinse arena waar diere en gladiatore voor wuiwende skares geveg het, speel seuntjies nou met ’n groot rooi bal.

Die Pont Neuf (die “Nuwe Brug” – wat die oudste brug oor die rivier is), waar ergerlike motors heeldag verbydreun, was vroeër die kermisplek met stalletjies vir koop en verkoop; hansworse; oubasies met geleerde apies; goëlaars; akrobate; en deftige dames in hoë kapsels; en slawe te koop. (En snags, nou nog, spring daar af en toe iemand oor die kant in die donker slikwaters en maak aan die aardse kermis ’n einde.)

In die Louvre klouter kleuters oor stukke sfinkse en afgode van vyfduisend jaar oud, en teken hiërogliewe met deurskynpapier af.

Op die plein voor die Notre-Dame, van waar vandag alle afstande na ander stede bereken word, en waar toeriste vir hul foto’s kom poseer, het vroeër die biskop se skandpaal gestaan waar ongelukkige misdrywers ure lank die hoon, vrot eiers en tamaties van die skare verduur het.

En Clignancourt – die vlooimark …? Dié is miskien ’n saamtrekplek vir alle kruis en dwars kontraste van die stad. Met die métro ry jy op ’n Saterdag, Sondag of Maandag tot by ’n noordelike uithoek, klim dan uit en stap ’n paar honderd treë voort, gaan deur ’n klein, onopvallende poort – en beland terstond in ’n ander wêreld. Hier lê die dun stegies soos weefwerk oormekaar, elk nouliks ’n meter wyd, met rye stalletjies weerskant ingedruk. Daar is ’n voortdurende verskeidenheid ware uit alle tye en lae van die stad. Kosbare kristalglas, antieke handgemaakte meubels, ou skilderye met soms ’n meesterwerk tussen prulle, wonderbaarlike ou houtsneë, gebruikte tandeborsels en kaggelysters, stukkende horlosies, skif komberse, manjifieke ysterharnasse en helms uit die ridderdae, glimmende geelkoper, ou koetslampe, gegote ysterwerk, onpaar skoene, ou kouse met gate, leë brilrame, ’n soliede goudbeeldjie uit die Renaissance, tweedehandse vals tande, ’n halfklaar doodkis, ’n syrok uit die dae van Marie-Antoinette, ’n volledige, gemonteerde mensgeraamte … Die sublieme en die banale, die eietydse en die vergange bymekaar, naasmekaar, deurmekaar. Watter ridder het in hierdie stroewe ou harnas op sy perd uitgery – na watter stryd, watter beeldskone prinses, watter vuurspuwende draak? Watter kind het gespeel met dié afbeenpop met die kraaloë? Vir wie is hierdie doodkis gemaak, en waarom is hy nie daarin begrawe nie? Uit watter herehuis kom hierdie kristalkandelaar, hierdie duur Gobelin-tapisserie? Watter liefdevolle, vaardige kunstenaarshand het hierdie fyn houtkoppie vir ’n bottelprop gekerf, of die laggende, dansende harlekyne in die donker hout van daardie vorstelike ou stoel?

Waar is die sneeu van voorverlede jaar? sanik Villon se ou ballade. Waar is al dié mense? Waar gaan óns heen? Sal daar van mý ook eendag iets nog hier beland: ’n skoenveter, ’n horlosie, ’n geraamte dalk?

Die geskiedenis: die groot gelykmaker, die groot vernietiger. En al wat oorbly, is die kontras: soms skrynend, soms lagwekkend, soms fyn. Maar miskien is dít ook waar: dat solank die kontraste bly bestaan, mekaar bly terg en in reliëf stel – só lank sal die mens mens wees, die geskiedenis lewendig, en Parys Parys.

Dis ook maar goed. Want só sal ’n mens nooit kan sê nie: “Só is Parys,” of “Só is hy nié”. Alles bestaan altyd tegelyk in dié verbysterende ou-jong stad. Daarom sal hy altyd sterwe, en altyd lewenskragtig wees. Daarom sal daar van hom af altyd wind uitwaai oor die heelal om die mensdom nuut te hou, vir hom nuwe patrone te vind, nuwe moontlikhede, nuwe wanhoop en hoop.

Herinneringe aan Parys

Подняться наверх