Читать книгу Herinneringe aan Parys - André P. Brink - Страница 8

Min vir ’n sikspens

Оглавление

Geen mens kon binne bly op ’n dag soos dié nie; iets het jou uitgedryf na die strate, net om die ongelooflike te ervaar – dat dit Februarie is, maar reeds lente. Dis iets wat in jou vaar soos ’n jakkerwindjie wat ’n venster oopruk aan ’n kamer wat lank toegestaan het: hy pluk aan die gordyne, en gooi ’n blompot van die tafel af, en hy is só toomloos en só speels dat niemand durf kwaad word nie.

Ek het daarom uitgeslenter, boek in die hand, deur die sypadskare gedring, en op ’n kafeeterras tussen koerantlesende mense en disputerende studente gaan sit.

“Crème,” het ek die kelner gevra.

Ek het geteug aan die halfsoet-halfbitter koffie en die onkeerbare lewe buite in die Boulevard St. Michel (“Boul’ Mich’” sê die studente) sien verbystroom. Eindelik kon ek ook dáár nie meer bly stilsit nie. Ek het my geld – honderd-en-tien frank, fooitjie inkluis – op die tafeltjie neergesit en uitgestap.

Maar by die deur het iemand my dringend en kwaai teruggeroep: “Monsieur!”

Ek het verbaas omgedraai. “En nou?” wou ek weet.

“Die fooitjie –!” het hy streng gesê. ’n Paar gesigte het om hul koerante begin uitloer.

“Maar ek het dit by die geld gesit,” het ek verweer; die hitte het in my begin opstoot oor dié onregverdige, openbare aanval.

“Dis nie genoeg nie.” Hy het sy vadoek oor sy skouer gegooi en sy palm met die muntstukkies na my toe uitgehou. “Die fooitjie bedra twaalf persent. Twáálf – nie tien nie.” Hy het die strokie in my rigting gefladder dat ek kon sien.

Ek het boosaardig twee frank uit my sak gevroetel en hom dit gegee. Iemand het gegiggel. Die deur het agter my toegeklater.

Twee frank – minder as ’n oortjie, een kwart van ’n pennie.

En dit was nie die eerste keer dat iets dergeliks my omgekrap het nie. Daar was die aand toe Estelle die rooi blokkiespapiertjie aan my kom gee het – synde die eerste maandstaat van ons hospita. “Kyk net daar!” het sy verontwaardig beduie. “Dis onmoontlik. Dis absoluut, heeltemal, volkome, totaal onmoontlik. Ons betaal nié soveel vir ’n bad nie!” Sy het haar mond skuins getrek en gevra: “Hoeveel ís vierhonderd frank presies?”

“Ses sjielings – amper.”

“En toe ons hier kom bly het, het Mademoiselle Domecq gesê ons kan bad net wanneer ons wil! Dis skandalig!” Sy het die papiertjie op die tafel gegooi. “Jy moet met haar gaan praat!”

Maar dit het nie gehelp nie – nie hiér nie. ’n Stuiwer vir twee mossies en ses sjielings om te bad. Uit en gedaan. Die ou-ou reël: niks vir niks, en vrek min vir ’n sikspens.

Toe ek by die restaurant uitstap, het ek aan dié insidentjie gedink, en aan baie ander. In ’n taxi. By ’n teater. In die bioskoop. Selfs in die openbare watsenaam. Oral die uitgestrekte hand, oop na bo – vir die fooitjie (wat ook ’n nuwe baadjie aangetrek het en nie meer “fooitjies” is nie, maar “diens” of “bediening” – service). Kry dit dan nêrens end nie, het ek gedink. Koop mens dan nou énigiets met geld: wortels en tamaties en liefde en sykouse en vriendskap …?

En toe was die Luxembourgtuin voor my, groot en na alkante toe wyd: dié uitgestrekte, omtraliede parktuin waar studente en jong ma’s met kleingoed uitstort soos riviertjies in die see. Ek het die rokerige mis van die oggend tussen die swart dun bome aan die oorkant sien sluier. Dit was ineens ’n uitnodiging: Kom hierheen; vlug ’n rukkie weg van die wêreld; kom sit hier, en rus, en vergeet van alle ergernis, en laat die eerste lente oor jou spoel soos skoon water.

Ek het deur die bome gevleg. Dit was nog stil, so vroemôre; later, teen etenstyd, sou die meisietjies van die buurt se skole hier instorm met groot geel balle en begin sketter en lag en roep en speel. Nou was daar net hier en daar in die mistigheid ’n vrou met ’n stootwaentjie; ’n paar studente met stapels boeke onder die arms; ’n jong paartjie skuins-skuins aan die liefkoos op ’n bankie onder die filosofiese, bedrukte ou figuur van een van die park se vele beelde; ’n paar stil, koerantlesende ou mense.

Die stad het weggeraak. Toe ek met die trappe afgaan na die groot grasperk-sirkel om die vywer voor die ou paleis, kon ek nog net ver bo die wintersbome die grys koepel van die Panthéon sien. En die geluide van motors en busse en mense het tot ’n lae dreun vervaag, rustig soos die see.

Ek het op een van die groen stoele gaan sit, heerlik agteroor, arms onder die kop. Ver, ver bó, die ligte wolkies, met flitse blou tussenin. Een keer deur die stilte die trae slae van ’n klok.

’n Priester het verbygekom, sy hande weggevou onder die groot plooie van sy ruim swart kleed, en met ’n stil glimlag op sy gesig.

’n Paar duiwe het blinknek, kop omlaag, ronkend gepronk om die skraler grys wyfies. Mossies het soos klein koeëlronde rubber-balletjies gewip-wip van krummel tot krummel – ’n serene ou tantetjie het hulle staan en voer. Hier en daar, verlangs tussen die bome, flitsend bo groen gras, was die silhoeëtte van beelde.

Rus, eindelose rus. In hierdie grote wêreldstad, te midde van al sy miljoene, al sy ellende, al sy gedruis, was daar dié uur net die stilte, die stilte wat uitreik soos kringe op water, ál uitreik, ál groter word en jou omsluit soos ’n seepbel wat wegdryf teen die lug, weg, ver, weg uit die tyd in die ruimte.

Mense het verbygekom, een-een of in klein groepies. Waardige ou mans met groot jasse en swart hoede en die koerant oop voor hulle. ’n Jong ingehaakte paartjie. ’n Klein dogtertjie met ’n reeds kokette wipstappie. ’n Skoolseun, boeksak op die rug, wat met sy skoenpunte patrone trek in die grond.

Werkers in blou oorpakke het om die vywer gewerk. Daar was hamerslae op yster, maar die geluid was dun en ver. In dié stilte het alles verenkel, alles ontsaglik eenvoudig geword, alle probleme oplosbaar, alle vrae beantwoordbaar.

’n Toeristevrou het met ’n gidsboekie in die hand by ’n polisieman die pad gaan vra. Sy mantel het lui in die sagte luggie geplooi.

Ver teen groen graswalle het kindertjies in rooi klere gespeel. Kleurspatsels teen ’n verfdoek. En ook geluid het kleiner geword.

Op my skoot was Comte se geelband Philosophie Positive met sy rooi letters. Nog kleur. Comte, het ek gedink: die lewe lê nie tussen die blaaie van jou geel boek nie, maar hiér, buite, rondom, in dié tuin en sy mense.

Elke mens wat verbygekom het, was vereenvoudig tot die suiwerste. Elk het sy eie, puur metafisika met hom saamgedra. Dit was so maklik om elkeen oombliklik te ken, as vriend, mede-reisiger, mens. En in die kleinste insident was almal betrokke, omdat elke episodetjie ’n kosmiese gebeurtenis was.

En ver om alles was die kring van die mistige bome, en daarbo die lug en die stilte.

Al lomer en lomer. Al verder en verder. En alles kosbaar, kosbaar, ver van die gemene en die kleine en die alledaagse.

Ek het die vrou in die swart rok sien aankom, met ’n lelike groen mussie op die kop. Kom seker pad vra, het ek gedink; en ek was vriendelik teenoor my naaste, die hele mensdom.

“Monsieur.”

Ek het my bene geroer en teen die son opgestaar, en my orent probeer lig.

“Dertig frank,” het sy gesê. “Vir die huur van die stoel.”

Ek het verslae na haar gekyk. “Hoe dan nou –?”

“Dertig frank.” Ongeduldig.

Ek het my hand in my broeksak gesteek, maar ná die koffie van flus was daar nou net twintig frank oor; die res het vergete tuis gelê.

“Jammer,” het ek gesug. “Ek het werklik nie genoeg nie.”

“Nou, dan kan jy nie hier bly sit nie.”

Toe is ek maar op – en vort. Terug na alles; ek en my geel boekie.

Dit sou ook nie gebaat het om later terug te keer nie. Want die wêreld het nou reeds daar ingedring.

Herinneringe aan Parys

Подняться наверх