Читать книгу Herinneringe aan Parys - André P. Brink - Страница 7

’n Vreemdeling in die stad

Оглавление

Dis een van dié aande wat eintlik ongemerk begin, doodgewoon, met ’n klompie van ons ingepas op die paar mank meubeltjies van ons middelste dakkamer … maar wat algaande ’n gang in hom kry, ’n vonk wat nog bly nágloei as jy daarna tydsaam in die bed op jou rug alles opnuut lê en herkou. Die reën vlaag buite teen die vensters; in hierdie buurt is daar weinig aandverkeer. Ver oor die dakke deur die grys reën strek die Eiffeltoring sy ligtentakels uit na die eenselwige hemel.

Die gesprek gaan oor Suid-Afrikaners in Parys. Oor stelle wat mense al afgetrap het. Die onmoontlikhede wat hulle al oorgekom het. Die taai worsteling wat elke nuweling het om in dié afsydige wêreld ’n staanplekkie te vind as hy nie – soos met meer as een landgenoot al gebeur het – êrens in ’n agterstraatjie deur die gety uitgestoot wil word nie.

“Julle praat maklik,” bied Sophie uiteindelik ook haar stuiwer aan. Haar blomhoed beweeg nadruklik. “Het ek julle al vertel van hoe dit met mý gegaan het die eerste ruk hier?”

Ons ken Sophie; en ons luister.

“Dis maklik om jou pad te vind as jy met man of vrou of vriend hier aankom,” begin sy vertel. “Of as jy net ’n toeris is op jou alwetende reis deur die hele Europa. Maar probeer dit nou ’n slag vingeralleen, met g’n kind of kraai nie, g’n mens wat jy hier ken nie! Ek is nie meer vandag se kind nie, en ek is ’n oujongnooi – en trots daarop. Maar dit het niks mákliker gemaak nie.

“Die hele gedoente het skoon onverwags op my afgekom. Toe ek my oë uitvryf, toe het ek die pos hier gekry. Hoe ek in die paar weke voor my vertrek uit die Kaap nog alles afgehandel gekry het wat gedoen móés word, moet julle maar nie vra nie. Die woonstel moes opgeruim word. Alles moes gepak word. Daar moes tasse gekoop word, inkomstebelasting betaal word, mense gegroet word, reëlings getref word. My bagasie alleen het my nagmerries gegee: daar’s ’n duisend klein dingetjies waarsonder ’n oujongnooi net nie kan klaarkom nie – al is dit net omdat sy niemand het om dit by af te laai nie. Alles moes dus maar saam: my ma se briewe uit my jongdae, portrette, nooit voltooide hekelwerkies, ’n verskeidenheid ornamentjies en aandenkinkies, die materiaal en die toebehore vir my blommerangskikkings – alles.

“Met al hierdie dinge was daar nie nog tyd om veel na te dink nie. Die toekoms moes nou maar kom met wat daar ook al móés. Ek het my werk gehad, en uitgesien daarna; en dit sou ’n nuwe begin in die lewe wees, ’n soort afskeid aan alles wat verby was. Dié troos het ek darem gehad: daar sou gesorg word dat ek losies in Parys het, en dat iemand my by Antwerpen ontmoet met ’n kaartjie vir die treinrit daarvandaan. Ook maar ’n goeie ding, het ek gereken, want aan kontant het ek nie veel oorgehad nie.

“En toe?” Sy trek haar skouers op die Franse manier op. “Toe ek in Antwerpen land, is daar geen lewende siel om my te ontmoet nie. Net ’n telegram om te sê ek moet maar self my kaartjie koop en dan later die bedrag terugeis. Daarmee was vyftien pond daarmee heen. In my handsak het ek nog ’n enkele vyfpondnootjie oorgehad.

“Op die een of ander manier het ek met bagasie en al in die trein beland en koers gekry. Dit was Januariemaand, en dit was kóúd. Hoe nader ons aan Parys gekom het, hoe drukkender het die weer geword. En toe ons hier aankom, begin ’n sneeustorm waarin jy beswaarlik jou hand voor jou oë kan sien. Ek het maar oë toegeknyp en my aan ’n taxibestuurder se genade oorgelaat, oortuig daarvan dat my laaste dag aangebreek het. Die ganse wêreld was wit; net die motorlampe en die straatligte het soos boweaardse wesens met stralekranse deur die wollerige skemer gegloei. Alles was onaards stil, en tog was dit of daar ágter alles iets dreun, iets brom, ’n aanhoudende vormlose bedreiging soos soms as mens droom. En dit was nou Parys …!

“Eindelik was ons hy die hotel. Daar sit ek toe nog met my Suid-Afrikaanse banknoot, en die taxibestuurder skel en raas en beduie en gooi sy hande ten hemele – en ek sit hom maar en aanstaar, bibberend van koue en skrik en verslaenheid, nie by magte in staat om te antwoord of selfs te verstaan wat hy sê nie. Julle moet weet: dit was die eerste keer in my lewensdag dat ek ’n woord Frans gehoor het!

“Die hotelmense het later maar kom help, iemand is met my geld daar weg, en ná ’n ruk het ek en die taxibestuurder elk met ’n paar note en ’n hand vol kleingeld gestaan. Hoeveel ek dié dag skade gely het, weet ek – miskien genadiglik – tot vandag toe nog nie.

“Die hotel was ten minste goed, en sentraal geleë. Maar my vertroosting was van korte duur: toe ek in my kamer begin sommetjies maak volgens die bedrae wat die hotelbaas op ’n kaartjie vir my neergeskryf het (hý kon gelukkig Engels praat), tref dit my soos ’n emmer kouwater dat dit my net mooi negentig pond ’n maand daar gaan kos – en dit net vir bed en ontbyt; die ander etes sou ek elders moes neem. (Julle weet hoe die vastelandse hotelle maak.)

“Daardie eerste paar dae was ’n nagmerrie. Niemand het geweet van goedkoper losies waar ’n mens ten minste nog respektabel kon bly nie; die stad was een groot verskrikking; honderd maal op ’n dag het ek so op ’n nippertjie na onder ’n motor beland – en waarvoor ek in dié proses alles uitgeskel is, weet ek nou nog nie. (Ek moet erken dat ek dankbaar voel daaroor.)

“Toe, so met die uitpak van my goedjies, fladder ’n ou koevertjie êrens uit waarop ’n vriendin in die Kaap nog net voor my vertrek inderhaas ’n adres neergeskryf het: glo van ’n dame wat bereid sou wees om Franse lesse aan vreemdelinge te gee. Uit louter moedeloosheid vra ek die telefoondametjie by die werk toe om ’n afspraak te maak, en dieselfde aand neem ek die métro na die adres; verdwaal nog hopeloos daarby – en julle weet hoe ‘hulpvaardig’ die Franse is! – en kom ’n uur later as die bestemde tyd by die huis aan.

“Dis ’n groot, formidabele gebou, baie oud, maar baie waardig. Ek is met die smal hysbakkie op. Dié ou goedjies is ook mos nouliks groter as ’n doodkis wat op sy punt staan, en dit rittel en beef soos ’n geraamte.

“By die derde verdieping struikel ek uit, lóóp die laaste een op, trek rok en hoed reg, en druk die klokkie. Dit was doodstil binne. My hart het gesink. Ek het weer ’n keer gedruk. Toe, sonder dat ek die geringste geluid gehoor het, swaai die deur so skielik oop dat ek ’n gilletjie van skrik gee.

“‘Goegoeienaand,’ kry ek dit darem eindelik in Engels uit. ‘Ek het laat bel om ’n afspraak te maak vir halfsewe. Ek is baie jammer dat ek –’

“‘Jy is laat,’ sê die ou dame voor my formeel, met haar ken spits opgelig sodat haar oë half moet áfkyk na my: ’n ou vrou in ’n pikswart rok wat tot by haar voete kom, met outydse hoë kragie en swart kantmansjette, haar grys hare streng op haar kop gestapel en met ’n swart kam vasgesteek. Alles omtrent haar is dun en streng. Sowat vyf-en-sestig sou ek haar skat.

“‘Nou toe?’ vra sy nog voor ek my mond kon oopmaak. ‘Kom tog in. Dit trek.’ En toe ek so half by haar verby is, steek sy skielik haar hand uit – ’n dun wit hand met donkerblou are – en sê: ‘aangename kennis.’

“Ek prewel maar iets terug; na alle waarskynlikheid nog in Afrikaans, só verbouereerd was ek teen dié tyd.

“Intussen het sy my jas so te sê met geweld van my afgestroop en in die portaal opgehang: ’n koue, kaal portaal sonder tapyt of meubels behalwe die jasrak; en bo aan die hoë plafon het ’n outydse kristallamp met fyn smeewerk gehang. Daarvandaan is ons na die woonkamer – ’n ontsaglike vertrek met ’n hoë dak en ’n groot kristallugter soos mens in ou paleise sien. Maar verder – hoe sal ek sê? – was dit asof ek agter ’n swyende, geruislose gees die doderyk binnegegaan het. Dit was heehemal goed verhit, selfs (soos die Franse daarvan hou) té bedompig warm. Maar die kamer self …! Met die inkom het ek geskrik: oral om my het bultige vorme onder wit lakens gestaan soos toegesneeude fossiele uit die ystydperk. Dit was die meubels, elk sorgvuldig bedek; en oor die skilderye en portrette teen die mure het insgelyks wit doeke gehang. Die swaar fluweelgordyne voor die boogvenster was toegetrek. Net in die hoek het ’n dowwe geel staanlamp gebrand.

“Ek het die atmosfeer probeer ligter maak, en gesê: ‘Dit lyk my u is besig om huis skoon te maak?’ Maar die ou vrou het net met haar vaal oë na my gekyk, met ’n kepie bo haar neus, asof sy nou glad nie weet waarvan ek praat nie. Eers mettertyd sou ek uitvind dat dit maar die gewoonte was om alles so onder lakens te hou. Daar was ’n paar baie mooi – en waarskynlik kosbare – stukke, maar die lakens moes altyd daar bly. Een keer het die ou vrou ’n bank oopgemaak toe daar gaste gekom het, maar die oomblik toe hulle opstaan, nog voor hulle uit is, het sy die laken weer oorgesprei.

“Ewewel, ek het nog so gestaan en rondkyk, toe vra sy: ‘Het jy my ma al ontmoet?’

“‘Nee,’ het ek geantwoord – ’n bietjie verbaas, want dit was, tog vanselfsprekend. ‘Maar ek sal graag wil.’

“Toe, vir die eerste keer, word ek daarvan bewus dat daar nóg ’n ou vrou in die kamer is, skuins agter my. Ek het geen geluid gehoor nie. En ek moet eerlik sê dat ek in al die maande daarna ook nooit een van hulle hoor beweeg het nie, asof hulle voete onder die lang swart rokke altyd ’n sentimeter bokant die grond gebly het. Waarskynlik het hulle maar net baie sagte pantoffels gedra; maar dit het hulle nie minder onwesenlik gemaak nie – en veral toe dié tweede ou vrou so onverwags hier agter my verskyn, het ’n rillinkie langs my ruggraat afgesluip en my hoendervleis gemaak. Die tweede dame was veel ouer, seker goed vyf-en-tagtig. Hulle was soos twee muwwe ou boeke waarvan die een net ’n bietjie langer as die ander op solder gelê het en meer verweer geraak het.

“Sonder dat ek nog kans kon kry om my aan te pas by die rare atmosfeer, het die les begin – in die hoek by die flou leeslamp, op twee stoele waarvan die wit lakenbedeksels net effens weggeskuif is. Terwyl ons besig was, was die ou moeder altyd daar op die agtergrond êrens in die skaduwees op ’n stoel of bank, roerloos behalwe as sy af en toe haar hande op haar skoot gekruis het. Maar haar oë het ons geen oomblik verlaat nie. Toe, eenkeer toe ek opkyk, was sy weg, spoorloos verdwyn. Ek kon weer die ligte rilling teen my ruggraat nie keer nie. Waar was sy? Wás sy ooit daar …?!

“Maar die les het voortgegaan, eentonig soos wat ’n skoolkind sy tafels opsê.

“Toe ek weer opkyk, het die ou vrou skuins voor ons gestaan met ’n skinkbord koffie – sonder dat ek ooit êrens koppies hoor rinkel of water hoor tap het. Sy het die laken van ’n lae tafeltjie afgehaal. Op die blad was ’n stuk vaal karton wat sy eers sorgvuldig reggeskuif het voordat die skinkbord neergesit is.

“‘Koffie,’ het my onderwyseres gesê, byna asof sy my van ’n misdaad beskuldig; en toe toonloos, meganies bygevoeg: ‘In Frans: café.’

“Ek het ’n koppie geneem, suiker ingegooi, gesidder by die gedagte aan wat sou gebeur as ek moet mors, en begin drink. My slukke het soos knalle deur die stil kamer getrek, terwyl hulle twee my stil, aandagtig, ondersoekend oor hulle koppies sit en aanstaar.

“‘Het jy ’n kamer?’ het die onderwyseres skielik gevra, só skielik dat ek effens verstik het. En weer meganies bygevoeg: ‘In Frans: chambre.’

“‘Ja,’ het ek amper oorhaastig geantwoord.

“‘Waar?’

“Ek het haar die hotel se naam gesê. Sy het sonder ’n oogknip na my gekyk. (Om die waarheid te sê, ek kan my nie herinner dat ek een van hulle óóit ’n oog sien knip het nie!)

“‘Hoeveel kos dit?’

“‘Honderd-en-twintigduisend frank per maand.’

“‘Hm.’ Sy het haar koppie na haar mond gebring asof die saak daarmee afgehandel was, onhoorbaar gesluk terwyl net haar skerp adamsappel ’n paar maal op en af beweeg. En toe soos ’n rympie opgesê: ‘Ons het ’n kamer. Vyf-en-dertigduisend frank. Dit sal jou beter pas.’

“‘Ek –,’ het ek skoon verward begin.

“‘Dit is dan afgespreek,’ het die oudste vrou langs my rustig gesê, asof ons die einde van ’n lang diskussie bereik het. ‘Wanneer kan jy intrek?’

“Van die eerste besoek onthou ek nie veel meer nie. My kop het nog gedraai toe ek daar uitgaan na die métro, en ek was so deurmekaar dat ek skoon by my stasie verbygery het. Dit was nie maklik om dié besluit te neem nie – en miskien wás dit op die ou end ook gek van my – maar ek was daardie tyd só verlore hier in Parys, so wanhopig en terneergedruk, dat ek dié halmpie maar aangegryp het. En so het ek my intrek by die twee ou dames geneem.

“Soos die woonstel die eerste dag was, so was dit altyd. Oor elke stoel en bank sy laken, op elke tafel en kas sorgvuldig ’n stuk vaal karton na maat gesny. Dat dié twee oues, meer as halfpad in die graf al, nog só die stryd teen mot en roes kon voortsit, het my altyd dronkgeslaan. Ek het later meer omtrent hulle te wete gekom, maar nooit veel nie, nooit genoeg om hulle te leer kén nie.

“Vroeër was dit ’n deftige, aansienlike woonstel glo, gesog in sommige vooraanstaande kringe, met groot bankette onder die kristallugters, gelag en gesels tussen die hoë mure met die skilderye in vergulde rame. Toe het die oorlog gekom. Al hul familielede het verdwyn – op die slagveld, in kampe, waar ook al. Net hulle twee het oorgebly. Maar vir hulle self het die lewe ook opgehou; net die verlede het oorgebly, en selfs dié was ’n onwerklikheid, ’n skim. Hulle was weinig meer as twee vae herinneringe, dwalend deur die somber kamers van die verlede.

“My slaapkamer was minder strak as die ander, daarvoor het ek gesorg; maar daar was ’n amper bose invloed wat van hulle af deur alles gesypel het en my soms snags verskrik laat wakker word het. My deur het ek saans op slot gehou!

“Daar was geen klerekas vir my nie, en aan die begin het ek toe maar my rokke en goed aan hangers teen die prentelys gehang om die kreukels uit te kry. Maar toe ek die eerste aand tuiskom, verneem die grafstem van die oudste ou dame: ‘Is dit gebruiklik in Suid-Afrika dat ’n mens se kamer soos ’n pandjieswinkel lyk?’

“En agter haar het die onderwyseres eentonig gesê: ‘In Frans: Maison de prêt.’

“Ek het magteloos voor hulle gestaan, my vuiste geklem; toe omgedraai en maar geloop. Die volgende dag het ek vir my by ’n winkel in die middestad ’n plastiese hangkas gaan koop. Dié ding moes ek deur die strate dra-sleep huis toe, te arm om ’n taxi te bekostig (en vir die métro was dit te groot), en dit in my hoek gaan monteer. Met ’n gevoel van verligting het ek my klere ingehang, en my skoene heel bo-op gepak.

“Toe ek die volgende aand tuiskom, lê my skoene nog daar: maar daar is ’n stuk vaal karton ónder hulle ingeskuif.

“Ek het dit nie gewaag om iets daaroor te sê nie. Ook nie daarná nie: ek het naamlik ’n kleurryke kleedjie wat ek met die oorkom op Las Palmas gekoop het, oor my bedtafeltjie gehang om die plek se somberheid te help verdryf. Maar met my volgende tuiskoms was daar ook onder die kleedjie ’n karton ingeskuif om die tafelblad te ‘beskerm’.

“As ek ten minste nog my gang kon gaan soos ek wou … maar moenie glo nie! As ek uit die badkamer kom, of dit sewe-uur in die môre of tienuur in die aand is, dan hoor ek in die donker gang die lang kleed van die oudste dame ritsel op pad soontoe om seker te maak dat ek die bad goed uitgewas het. As ek in die sitkamer was, sluip een van hulle agter my in om die kreukels op die stoellaken uit te stryk. As ek in die kombuis was om vir my ’n bietjie teewater te kook, is ek bewus van ’n teenwoordigheid agter my in die skaduwees, huiwerend, wagtend dat ek moet uit sodat sy kan seker maak dat alles in orde is. As ek saans tuiskom, weet ek dat hulle deur al my klere gekyk het – dis iets wat mens net wéét, sonder enige bewyse.

“Alles in hulle lewe – en daarom in myne – was sekuur afgebaken soos décorstukke op ’n leë verhoog. Ná agtuur saans mag niemand in die kombuis wees nie. Dié uur is etensuur. Daardie uur is rustyd. As die voordeurklokkie lui, selfs wanneer dit ’n gas vir my was, durf net die onderwyseres gaan oopmaak: dit was haar goeie reg om alle besoekers te keur. En een of twee keer toe van my werkskennisse opgedaag het op ’n uur wat blykbaar ongeleë was, is hulle teruggestuur. (Dié het ek dan eers die volgende dag te hore gekom.) As daar wél iemand vir my binnegelaat is en ons het in die kamer gesels, sou die onderwyseres halftien buite my deur vra: ‘Wanneer gaan jou vriendin huis toe?’ En stiptelik tienuur sou die oudste dame by die deur kom sê: ‘Jou gas behoort nou te vertrek. Dit is slaaptyd.’

“Waarom ek dit nog verduur het? Omdat dit tóg my enigste heenkome in die onbarmhartige stad was, ál plekkie – hoe vreesaanjaend ook al – wat ek myne kon noem en waar ek darem teen ’n redelike prys kon aanbly. Maar dit kon nie onbepaald so voortduur nie. My senuwees het begin gedaan raak. Vroeër of later sou daar ’n breekpunt kom.

“En toe, soos sulke dinge nou maar gebeur, vlug ek een Sondag weer daar uit op soek na ’n kerk. Alles het my begin vaskeer. Ek het gevoel ek word nou gek van eensaamheid en opkropping en herbergloosheid. En dié Sondagmôre kom ek toe by die klein Hugenotekerkie in die Avenue de la Grande Armée uit, net anderkant die Arc de Triomphe: ’n klein, intieme, rustige ou plekkie waarvan ek maar terloops te hore gekom het; met wit mure, en gekleurde vensters agter die preekstoel. Die orrel het begin speel toe ek inkom. Dit was of ’n stemmetjie vir my sê: ‘Sophie, dis die kerk wat jy gesoek het.’ Ek gaan sit. Die pastoor kom in, daar is ’n afkondiging of wat. En toe sing die mense: een van óns psalms. Kan julle verstaan wat op so ’n oomblik hier binne-in ’n mens gebeur? Ek het die woorde in my boekie nie eers gesien nie – ek kon dit buitendien tog nie verstaan nie. Ek het net die trane oor my wange voel loop, en gesing, in my eie taal. Wat het dit saak gemaak? Die Here sou wel verstaan, het ek geweet.

“Dit was die eerste keer sedert my aankoms in Parys dat ek ‘tuis’ gevoel het. Daarom het ek gemeen die minste wat ek kon doen, was om vir die orreliste te gaan dankie sê vir die musiek. Ná die diens pyl ek toe ook reguit orrel toe. Gelukkig kon die dame Engels praat, anders sou dit swaar gegaan het om aan haar duidelik te maak wat ek wil sê in die klein bietjie Frans wat ek teen daardie tyd onder die knie gehad het!

“Sy was ’n liewe mens, die hartlikheid self. As ek dan so lief vir musiek is, wou sy weet, hoekom sluit ek nie by die koor aan nie? Hulle is juis besig om ’n stuk in te studeer vir ’n uitvoering. Nou, in my Kaapse dae was koorsing een van my grootste liefdes; en so begin ek toe dié Maandagaand alleen by die orreliste sing aan Notre Père. Die woorde moes ek maar soos ’n papegaai leer, met g’n die minste besef van wat juis met ‘Notre père’ in die lied gebeur nie – en dit was ’n volle week voor dit tot my deurgedring het dat dit eintlik die ‘Onse Vader’ was! Maar dít was bysaak. Al wat werklik belangrik was, was dat ek weer ’n slag kon síng. Die orreliste was ook skynbaar doodtevrede, en van die Dinsdagaand af kon ek saam met die hele koor oefen.

“Die ander mense was vanselfsprekend almal Frans. Net één van hulle het genoeg Engels geken om darem ’n bietjie te gesels, en waarskynlik met voorbedagte rade het die orreliste gesorg dat ek ook juis langs dié dame te stane kom. Dit was ’n middeljarige vrou, baie goed gegrimeer, uitstekend aangetrek, met ingebore grasie en sjarme. Daar was nie veel tyd vir gesels nie – hoogstens om haar te vertel waar ek vandaan kom en watter werk ek in Parys doen. Sy wou nog uitvra, toe begin die orrel al dreun. Ons het ons noteboeke oopgeslaan, die inleiding gevolg, en begin sing.

“So na die tweede frase skep ons ’n oomblik asem en die dame fluister vir my agter haar oop boek: ‘Het jy verblyfplek?’

“Ek sing eers my frase klaar, draai my kop so effentjies, en antwoord uit die hoek van my mond: ‘Ja. Maar ek is glad nie gelukkig daar nie.’

“Toe dreun die orrel voort en ons sing weer lustig. Drie, vier mate verder kom die volgende mededeling lakoniek tussen twee note deur: ‘Ek het ’n kamer vir jou.’

“Ek voel my hart een groot spring gee, maar ek sing eers die maat waarmee ek besig is, dink blitsvinnig, en vra dan: ‘Met ’n bad?’

“Weer ’n reël. Ons blaai om.

“‘Met ’n bad,’ beaam my buurvrou en sing verder.

“‘Hoeveel?’ sing ek, sonder om op te kyk van my boek af.

“Sy gee die orrel kans om aan te swel, laat haar stem sak, en fluister: ‘Sestienduisend.’

“Net daar skrik ek toe: want as ek darem vyf-en-dertigduisend frank betaal vir die kamer wat ek hét, dan wil ek nie sien hoe lyk ’n kamer vir sestienduisend (skaars vier-en-twintig rand) nie. Dus kyk ek toe maar stip voor my op die papier en konsentreer op die uitspraak van die woorde, sonder om verder te redeneer. Ná die oefening gaan ek toe ook maar op my koers, maar net buite die kerk haal die dame my in.

“‘Wil jy nie ten minste my naam en adres neem ingeval jy my weer daaroor wil skakel nie?’ vra sy.

“Ek kon haar nie ’n afjak gee nie, en ter wille van die hoflikheid het ek die naam maar neergeskryf, maar sonder die minste bedoeling om my weer daaraan te steur. Teen dié tyd was ek ook taamlik uitgeput van die oefening en ek is terug na my dodehuis met sy ritselende geeste en wit lakens en sagte karton. Moeg en dors het ek tuisgekom en besluit om gou ’n koppietjie koffie te maak, agtervolg deur die sluipende skaduwee van die ou vrou.

“Die volgende môre aan ontbyttafel bars die storm toe los. Ek dog later die mens kry beroerte: ‘Weet jy nie jy mag nie ná agt in die kombuis wees nie? Hoe durf jy so ’n onverantwoordelike ding doen? Besef jy dat jy die hele huis kon opgeblaas het as jy die gas nie afgedraai het nie? Ons kon almal in ons beddens ’n gruweldood gesterwe het. En al ons meubels –’ Dit het nie gehelp om teë te praat nie. Ten einde raad moes ek maar maak dat ek daar wegkom. Toe ek die deur so hard agter my klap dat die teetafeltjie op die vloer rittel, was sy nog een stryk aan die praat.

“Verneder, woedend, verslae het ek by die werk aangekom. Ek het nie eens verder oor die saak gedink nie: alles was klaar besluit. Al moes ek nou in ’n stroois gaan bly, ek moes wég van waar ek was. Ek is reguit na die Franse dametjie by die telefoon in ons kantoor. Ek het die kaartjie waarop ek die vorige aand die dame se adres neergeskryf het, op haar lessenaar gegooi en gesê: ‘Bel asseblief vir my dié mense.’

“Die meisie het na die naam gekyk, haar groot bruin oë nóg groter gerek en byna met ontsag gevra: ‘Maar … waarom?’

“‘Ek wil ’n kamer by hulle huur. Die vrou het gisteraand gesê sy’t plek.’ Ek het bewus geword van ’n snaakse uitdrukking in haar oë, en ’n bietjie omgekrap gevra: ‘Wat makeer? Ken jy hulle miskien?’

“‘Maar almal in Parys ken tog dié naam!’

“‘Is dit darem vooraanstaande mense?’

“Sy het skielik begin lag dat sy skater – wat my nog meer die hoenders in gemaak het. Tot sy eindelik haar woorde weer kon bymekaarsit en verduidelik: ‘Dis een van die beroemdste Franse parfuumbase. Hulle is multimiljoenêrs!’

“Nou het die saak vir my éérs onverklaarbaar gelyk. Waarom sou ’n miljoenêrsvrou nou vir twaalf pond per maand gaan kamers uithuur? Êrens was daar beslis ’n skroef los. Maar die dametjie het hierdie probleem gou opgelos: hier bestaan blykbaar ’n reëling dat elke huisbaas ’n opgaaf van die grootte van sy huis en die aantal inwoners daarin jaarliks aan die staat voorlê. Omdat die woningnood so hoog is, het die staat dan die reg om na willekeur loseerders in te kwartier by mense wat te veel ongebruikte kamers het – tensy die huisbaas natuurlik self ’n loseerder vind. As hy self kan sorg vir ’n ekstra inwoner, spring hy boonop heelwat superbelasting vry. Dit klink alles taamlik ingewikkeld, maar ewewel, dis nou Franse demokrasie.

“Ek het my twee weke kennis gegee aan my twee geeste, en omdat ek intussen begin agterkom het dat my ‘onderwyseres’ inderdaad géén onderwyskwalifikasies besit nie en ek buitendien geen vordering daar kon maak nie, het ek ’n ander leermeester ook gaan soek.

“En nou sit ek hoog en droog tussen die miljoenêrs! En tog, snaaks, ek dink nog dikwels aan dié twee geruislose ou mense in hul Edgar Allan Poehuis; ek wonder oor hulle, en ek kry hulle jammer. Die ramp in hulle verlede het tog sonder húlle toedoen gebeur.”

Ons sit nog almal stil ná sy vertel het. Buite het die reën opgehou, maar ’n onrustige wind veeg nog teen die ruite soos ’n verlore gees wat wil inkom uit die duisternis. En agter die wind, ágter die duisternis, terwyl ons snoesig sit en sjokola drink, pols die stad voortdurend, onophoudelik: onvriendelike, norse landstreek vir die vreemdeling, hawe vir die herberglose.

Herinneringe aan Parys

Подняться наверх