Читать книгу Donkermaan - André P. Brink - Страница 10

6

Оглавление

Geen teken van haar gister, Sondag, nie. Die hele triestige dag – effense reënvlae, wind, kort tussenposes van halfhartige son – het ek bly wag dat die telefoon moet lui. Wat sy ook al besluit, sy sou tog darem seker laat weet? Maar met elke uur wat verbygaan, het die herinnering minder betroubaar geraak. Selfs toe ek die oggend voor die rusbank gaan staan, het haar hele besoek klaar onwerklik gevoel, onwerkliker as die skim van Antje van Bengale in gange of kamers. Die ligte kombers waarmee ek haar toegegooi het, het op die vloer gelê; in die leerkussings van die rusbank was daar nog die duik van haar lyf. Die skinkbord met koffiegoed op die hoek van die lessenaar. Leë glase en die twee wynbottels op die vloer voor die uitgebrande kaggel. Maar watse bewysstukke was dit? Ek kon my alles verbeel het.

Ek het die kombers onder my ken vasgedruk om dit op te vou. Was daar êrens nog ’n vae geur van haar in die wol? Die nat van haar kortgeknipte hare, die klamte van haar trui? Niks. Op ’n ingewing het ek in die gang gaan kyk. Modderspore by die voordeur. Iets van ’n gerusstelling, maar skaars deurslaggewend. ’n Vae gevoel van verlies het deur my gesprei. Watter kans het ek verspeel? Tog was dit skaars ’n teleurstelling; ek het eintlik al so gewoond geraak aan hoop wat nie uitwerk nie, moontlikhede wat onverwesenlik bly, dat ek my by voorbaat al daarmee versoen. Die beste verweer teen seerkry. En tog was ek die vorige nag wondbaar. Miskien selfs sonder om dit te besef.

Die meisie ook. Tessa. Ek het die naam met my tong probeer proe.

Miskien Maandag, het ek gedink. Miskien môre.

Maar vanmôre was daar nog steeds geen teken van haar nie – net die oorblyfsels van Saterdagnag; en hoewel ek my bes gedoen het om op te ruim, laat Magrieta haar nie so maklik om die bos lei nie. Oudergewoonte het sy teen agtuur opgedaag en dadelik in die kombuis begin werskaf met ’n gekletter wat dit duidelik gemaak het sy wil gehoor word.

Dit was nog nooit moontlik om vooruit te weet of sy my môrekoffie bed toe gaan bring of nie. (Dis die enigste keer bedags dat ek nog koffie drink.) Teoreties is dit deel van haar huishoudelike verpligtinge, maar Magrieta besluit gewoonlik self wat sy gaan doen of nalaat. Vanmôre het ek tot kwart voor nege gelê en wag. Toe daar nog steeds geen klop aan my deur kom nie terwyl die rumoer in die huis net erger raak, het ek maar my kamerjas aangetrek om self in die kombuis te gaan koffie maak. Magrieta was besig om met groot gebaar die tafel te skrop (heeltemal onnodig, want ek het dit gister al gedoen, juis om moeilikheid te vermy). Soos ’n donderwolk het sy oor die gladde blad gehang, met haar uitgewaste groen oorrok aan, bo-oor een van haar gewone veelkleurige monderings: blommetjiesrok soos ’n josefskleed, pienk trui, gestreepte rooi kopdoek.

“Plek lyk weer soos ’n nes vemôre,” het sy gesê, terwyl sy hyg van die inspanning. Ek kon nog nooit agterkom of sy aan asma ly en of dit van oorgewig is dat sy so kortasem is nie (Magrieta moet die skaal op ver oor die honderd kilo trek). Om te vra, sou haar net aanspoor om ’n eindelose katalogus van kwale deur te werk.

“Ek het my bes gedoen om op te ruim.”

Sy’t gesnork. “Meneer is ’n mansmens.” Hoeveel keer oor die jare het ek haar al gevra om my op my naam te noem? Maar dit was moeite tevergeefs. Met ’n swaar steun het Magrieta orent gekom en oor haar rug se smaldeel gestryk (as enigiets aan haar “smal” genoem kan word). “As ’n mansmens probeer skoonmaak, maak hy dit net erger.” Met geveinsde ongeërgdheid verneem sy: “Meneer weer gaste gehad?” Asof ek my gereeld vergryp. Ik ga mijn leven in orgieën door.

“Net iemand wat kom verneem het na die kamers.”

“’n Vrou.”

“Wat laat jou so dink?”

“Tensy mansmense deesdae ok lipstiek aansit. Op die glas daar op die sink.” Sy het die corpus delicti oop en bloot daar uitgestal. “Agter die sofa opgetel.”

“Jammer, ek het dié een misgekyk.”

“Jong vrou boonop.”

“Ag toe nou, Magrieta.”

“Ek het haar ruik op die sofa gekry. Is net jong meisiekinders wat sulke sent aansit.” Sy’t haar tong geklik en weer oorywerig aan die skrop gegaan. Sonder om op te kyk, het sy gevra: “En kom trek sy nou hier by ons in?”

“Ek weet nie. Ons moet nog sien. Ek het jou raad nodig.”

“Ek dag ons gat ’n couple kry.”

“Jy weet goed ons kon nog niemand kry wat hier pas nie.” Die ketel het begin kook. Ek het ’n teelepel kitskoffie in die beker uitgemeet en water bygegooi.

“Ek het gelyk van daai bruin couple.”

“Maar hulle wou dit net vir ses maande hê, Magrieta. Dit sou darem regtig te ongerieflik gewees het.”

“Meisiekinders bring net sônne,” sê sy en knik haar kop ’n paar keer beterwetend.

Met dié het ek my enigste troefkaart gespeel: “Sy’t Antje van Bengale gesien.” Ek het teruggeleun teen die kombuiskas om haar reaksie dop te hou.

“Gwaan!” Sy’t opgehou skrop om my aan te staar.

“Dis die reine waarheid. Sy was badkamer toe en toe sy terugkom, het sy Antje in die gang gekry.”

“En het sy geskrik?” Sy vee haar hande aan die oorrok af. “Ek sweer sy’t haar net daar natgepie.”

“Sy was niks bang nie.”

“Het Meneer haar die storie vertel?”

“Ek het haar vertel wat ek weet, ja. Maar ek het haar gesê die een om te vra, is jy. Dis jy wat met Antje praat.”

’n Tevrede laggie. “Ja, ons het mos al lang prate gepraat. Die arme Antje, sy’s ’n goeie spook. Hoe lank pas sy nie al die huis op nie? Ek was nog nooit bang gewees vir haar nie. Behalwe heel in die begin.”

Ek het geweet wat kom en my staan gekry om te luister; enigiets om weer in Magrieta se goeie boekies te kom.

Magrieta Daniels was nog ’n jong vrou toe sy Antje van Bengale die eerste keer ontmoet het. Dit was skaars ses maande nadat sy by die Benades begin werk het, die mense wat voor ons hier gewoon het. Met die intrap al het sy gevoel daar is fout met die huis. Van kindsbeen af was sy vatbaar vir sulke dinge. Met die helm gebore, het haar ma gesê. Maar toe sy met mevrou Benade daaroor praat, is sy op die plek geroskam. Daarna het sy maar die gevoel probeer onderdruk en ’n Nuwe Testamentjie in haar voorskootsak gehou as sy werk toe kom. Maar by die bure se bediendes het sy gou gehoor dat dit regtig daar spook. Sy’t begin moed bymekaarskraap om kennis te gee – al was dit ongeleë, want sy’t net begin regmaak vir trou met ’n man wat haar ma-hulle vir haar uitgesoek het, en sy’t elke pennie nodig gehad vir die gazat.

Haar ma het haar probeer ompraat: hulle was tog goeie Christenmense en selfs al het dit dan in die huis gespook, het hulle tog niks te vrees gehad nie, die Here was aan hulle kant. Haar ma het so ver gegaan om met ’n Slams in Distrik Ses te gaan praat, dit was waar hulle destyds nog gewoon het; en nadat sy hom iets betaal het, het hy haar ’n toegenaaide velsakkie vol geheime goetertjies gegee met die opdrag dat Magrieta dit vlak duskant die voorhekkie moet begrawe. Ongelukkig het dit net mooi die teenoorgestelde uitwerking gehad: op die heel eerste dag nadat sy die doepa begrawe het, het sy in die dwarsgang op die spook afgekom. Die figuur van ’n jong vrou in ’n lang rok, wat haar kop in haar hande dra.

Magrieta het daar en dan die skinkbord met teegoed laat val waarmee sy op pad kombuis toe was. G’n mooipraat kon haar daarna weer so ver kry om ’n voet in die agterste gedeelte van die huis te sit nie. Sy wou op die plek padgee, al was sy dan ’n maand se loon kwyt. Maar toe gee die huisvrou kop, waarskynlik omdat sy bang was oor die reperkussies wat dit kon afgee as daar gerugte oor die spook begin rondgaan. Dit was klaar moeilik genoeg om goeie bediendes in die hande te kry. Magrieta is ’n verhoging aangebied, en makliker werksure, en ’n belofte dat sy nie weer in die agterste slaapkamers hoef skoon te maak nie. Met dié is sy huis toe gestuur om van die skrik te herstel.

Sy was net op pad uit deur die agterhek toe iemand skuins agter haar sê: “Moet asseblief nie gaan nie.”

Magrieta het omgeswaai en haar asem vinnig ingetrek. Dit was weer die meisie, vlak by die grootste van die ou akkerbome in die tuin. Dié keer was haar kop darem op die regte plek. En daar was iets so hartseer en verlate in haar houding dat Magrieta haar vrees voel verdamp het.

“Wie – wie’s jy?” het sy gestamel, terwyl sy sorg dat daar ’n veilige afstand tussen hulle bly.

“Ek is Antje,” het die meisie in ’n ongewone aksent gesê. Omdat Magrieta nog nooit Hollands gehoor het nie, kon sy dit nie eien nie; maar dit was nie moeilik om te verstaan nie. “Ek moet met jou praat,” het die onbekende jong vrou gesoebat.

Maar Magrieta was nog steeds te benoud om te bly staan. So vinnig as sy kon, is sy in die koeltestraat af; en al wat sy kon dink, was: Hier sien hulle my nie weer nie. Maar reeds op die trein stad toe het haar gewete haar begin pla. Het sy nou ooit die regte ding gedoen? Daardie arme meisie het so verbouereerd geklink, asof sy regtig iets baie dringends te sê gehad het. Sê nou dit was nie eens ’n egte spook nie?

Haar ma, ook oorstuur toe sy die storie hoor, het haar teruggeneem na die Slams. Dit was tog hy wat belowe het om hulle teen die bose te beskerm, en kyk nou wat gebeur het.

Tot hulle verbasing was die oubaas hoog in sy skik. “Allah is voorwaar wonderbaarlik,” het hy gesê (iets wat die vrome Christenvrou moet ontstig het). “Dit beteken dat dit glad nie ’n bose gees is nie, maar een wat dit goed bedoel. As sy jou wou kwaad aandoen, sou sy nooit haar kop teruggesit het nie. Luister nou mooi, my kind. As sy ooit weer met jou praat, dan moet jy nie weghardloop nie. Bly staan waar jy is, gee haar antwoord, doen net wat sy vir jou sê. En as sy jou wil groet, draai dan ’n sakdoek om jou hand.”

Hoogs benoud, maar tog met ’n gevoel van bravade, is Magrieta die volgende dag terug werk toe. ’n Week lank het niks verder gebeur nie. Sy het net begin dink dat dit tog maar haar verbeelding was – dalk as gevolg van iets wat sy geëet het, of God se straf oor die vryhede wat sy haar verloofde, Andries, die aand voor die eerste besoeking toegelaat het – toe Antje weer haar opwagting maak. Dié dag was Magrieta alleen in die opwaskamer, besig met die skottelgoed. Dit was ’n winderige dag, ’n behoorlike swart sedoos, na dae en nagte van gietende reën. Agter haar het daar skielik ’n stem opgeklink. Sy het dit onmiddellik herken.

“Magrieta.”

Sy het oor haar hele lyf aan die bewe geraak.

“Magrieta, ek is jou vriendin.” Elke woord duidelik en apart uitgespreek in daardie half-vreemde, half-bekende tongval, asof sy wou doodseker maak sy word reg verstaan.

“Ag heretjie tog,” het Magrieta gefluister.

“Jy moet dadelik hier uit die kombuis uit padgee. Hardloop so vinnig as jy kan voordeur toe, uit in die voortuin.”

“Maar …”

“Hardloop, Magrieta!”

Magrieta het gehardloop. Toe sy by die voordeur op die breë stoep uitkom, het sy ’n onaardse gedruis teen die sykant van die huis gehoor. Eers toe sy in die tuin kom, het sy gewaar wat gebeur het. Die akkerboom voor die kombuisvenster, hol van ouderdom – die einste boom waaronder Antje die vorige keer haar verskyning gemaak het – is omgewaai deur die wind, al die swart wortels uit die deurweekte aarde uitgeruk. Dit het dwarsdeur die dak ingeval en die grootste gedeelte van die kombuis daaronder in puin gelê. Waar Magrieta by die wasbak in die opwaskamer gestaan het, was nou net ’n hoop rommel.

Sy het agteruit van die toneel af begin loop tot sy weer by die voorstoep terug was. Daar het sy haar vasgedruk teen die paletjies onder die broekieskant van die veranda. Sy was te geskok om selfs te huil. En sy’t nog net daar gestaan, yskoud tot op die bot, toe mevrou Benade van haar inkopies af terugkom. Al wat Magrieta kon uitkry, was: “Merrim, sy’t my uit die dood uit gered. Dit was weer daai Antje-vrou.”

Die vrou het haar binnetoe geneem en haar op die vloer in die spaarkamer laat lê (mens kon darem nie ’n bediende op ’n bed toelaat nie), waar sy vir Magrieta sal volatile ingegee het, haar met ’n strykkombers toegegooi het, en haar kans gegee het om tot verhaal te kom. Dit was hoe Antje haar aangetref het. Vir die eerste keer het hulle ordentlik gesels. Daarna het dit nog baie kere gebeur totdat dit mettertyd iets van ’n daaglikse roetine geword het. Met verloop van tyd het Magrieta al haar vroeë bedugtheid afgeskud. En sy was so ’n voorslag in die huis dat haar werkgewers besluit het om maar die aardigheid te duld van ’n bediende wat gesprekke voer met ’n teenwoordigheid wat niemand anders kon sien nie.

Maar dit was eers ’n jaar later, toe Magrieta al drie maande getroud was en pas ontdek het dat sy verwag, dat die verhouding verdiep het tot iets wat mens werklik vriendskap kan noem. Sy was weer allenig tuis, dié keer besig om die greinhoutvloer in die eetkamer op te vryf, toe Antje voor die lang glimmende eetkamertafel kom staan. Die tafel was nog sigbaar dwarsdeur die omlyning van haar liggaam.

“Magrieta,” het sy gesê (teen dié tyd al in ’n skaflike Afrikaans), “ek wil hê jy moet nou dadelik jou werk los en huis toe gaan.”

“Maar dis nog oggend,” het sy teëgepraat. “Die Merrim gat mos kwaad wees.”

“Dit kan ons later regsien. Daar’s nou belangriker dinge om te doen.”

“Maar wat is dit dan?”

“Gaan kyk, jy sal sien.”

Met haar hart in haar keel is Magrieta daar uit op die lang pad huis toe – af na Nuweland se stasie en in stad toe, daarvandaan na Hanoverstraat toe en bult-op na die klein fletjie wat sy en Andries by ’n swendelaar van ’n huisbaas gehuur het. Daar het sy vir Andries en ’n halfkaal meisiekind op die voorkamer se vloer aangetref waar hy net besig was om sy belt los te maak en uit sy broek uit te klim. Magrieta het baie flink met die indringer klaargespeel; en nadat die meisie hande-viervoet by die deur uit is, met ’n paar stukkies klere teen haar borste vasgeklem, het sy met ’n kombuismes in die hand na Andries toe omgedraai. Hy kon net daar alle hoop op ’n mooi toekoms kwyt gewees het as ’n viskramer nie op daardie oomblik in die deur kom staan het om hulle ’n bos vars harders uit Houtbaai aan te bied nie.

Dit was ’n hele mare van verwyte, en trane, en ’n gesoebat, en beloftes, wat gelukkig uiteindelik uitgeloop het op vergiffenis. Daarna was dit nooit weer heeltemal dieselfde tussen hulle nie – “Een ding weet ek nou vir seker,” sou Magrieta baie keer deur die jare daarna herhaal: “’n man is ’n man, en dis maar ’n sleg ding om te wees” – maar dis te betwyfel of Andries dit ooit weer sou waag om oor die tou te trap. Magrieta het doodbedaard met haar lewe voortgegaan, tevrede dat haar getroue vriendin haar voortaan op die hoogte sou hou van wát daar ook al verder mag gebeur.

Daarvan kan ek self getuig. Daar was daardie één keer, amper dertig jaar gelede, drie maande nadat Riana die baba verloor het en ek in ’n soort besetenheid wat ek nou nog nie mooi kan verklaar nie, vir Alison huis toe gebring het. Die mooi musiekstudent, een naweek toe Riana en die seuns by haar ouers op die plaas was en Magrieta weg na haar familie in Distrik Ses. Ek soek nie verskonings nie. Ons het geweet dit was verkeerd. Maar ek was halsoorkop verlief, en na daardie maande van opstand en blindheid en seerkry wou ek nie dié kans laat verbygaan nie, ’n laaste gryp na alles wat van my begin wegglip het – al daardie melodramatiese dinge wat mens jou in so ’n oomblik van desperaatheid probeer wysmaak. Ons het te veel gedrink, iets wat my maar bitter selde oorkom; dit het gelyk of Alison net so hartstogtelik soos ek was; en hier op die rusbank in my studeerkamer het ons mekaar begin liefkoos, die begeerte te fel om nog na die slaapkamer te verskuif. Één herinnering sal my altyd bybly: Alison wat agteroor op die bank lê, haar gesig hoogrooi van opwinding, en ’n hand uitsteek om dit om my ereksie te vou terwyl ek staan en ontklee, en saggies sê: “Jy’s so mooi,” iets wat geen ander vrou nog ooit vir my gesê het nie; en toe ek uiteindelik tussen haar bene kniel om in te kom, toe sê Magrieta in die gang: “Middag, Meneer,” en sy loop verby na die slaapkamer wat sy gewoonlik weeksdae gebruik het.

Toe ek daardie aand aan haar deur gaan klop, was sy al aan die slaap; of anders het sy gemaak of sy nie hoor nie. Ek het die hele nag slapeloos in ’n stoel bly sit. Die volgende dag het ek haar in die kombuis gaan soek waar sy besig was om ontbyt te maak met ’n aanslag wat deur die hele huis gedawer het. ’n Hoofpyn het swaar in my kop gepols.

“Magrieta,” het ek gesê, “kyk, wat gistermiddag gebeur het …”

“Is nie my besigheid nie,” het sy kort en klaar gesê terwyl sy met skrikwekkende aggressiwiteit eiers in die pan breek.

“Ons moet daaroor praat.”

“Niks om oor te praat nie.”

“Ek wil net hê jy moet verstaan.”

“Meneer moet met die Here loop praat as daar te praat is. Ek ken my plek.”

“Jy’s soos een van die familie, Magrieta.”

“Ek het my eie familie.”

“Maar in godsnaam tog!” Ek was nou regtig aan die soebat, maar sy het met haar rug na my toe bly staan. Dáárdie rug.

“Meneer vat nou die Here se naam ydellik.”

“Nou sê my dan net wat jy gister hier kom doen het,” het ek naderhand uitgevaar. “Jy kom nooit naweke in nie.”

“Is Antje wat my gelaat kom het.”

“Nou raak jy belaglik …”

Sy het haar skouers op haar malmakende manier opgehaal. En toe die huis met indrukwekkende deeglikheid getakel, van hoek tot kant. Veral my studeerkamer, waar sy elke boek, elke stuk papier aangepak het asof sy hulle wou reinig van die geringste stippeltjie smet of stof wat oor die jare aan hulle kom kleef het.

Ek het dit nooit weer gewaag om Antje van Bengale uit te tart nie. Op ’n manier, het ek gedink, was my eie toekoms op die spel.

“Antjie van Bengale wys haar nie sommer vir enigiemand nie,” herinner ek Magrieta. “Dit moet iets beteken dat sy aan ons gas verskyn het.”

“Het sy met haar kop in haar hande geloop?”

“Nee, ek dink nie sy wou vir Tessa bang maak nie.”

“So dié se naam is Tessa.”

“Juffrou Tessa Butler. Die vriendin saam met wie sy gebly het, het gaan trou. Dis dié dat sy ’n ander heenkome soek.”

“Wanneer kom sy?”

“Ons het nog niks afgespreek nie. Toe ek gisteroggend uitkom, was sy al weg.”

“Waar’t Meneer dan toe uitgekom?”

“Uit my kamer, Magrieta. Sy’t in die studeerkamer geslaap.”

“Ons kan nie sommer enige jentoe van die straat af invat nie. Dis ’n ordentlike plek dié.”

“Dis hoekom ek in my kamer geslaap het.”

Sy maak ’n geluid wat dalk goedkeuring beteken. “Waar’s haar mense dat sy nie by hulle bly nie?”

“Sy’t ’n ma en ’n broer in P.E.”

“Hoe oud is sy?”

“Nege-en-twintig.”

“Vir wat is sy nog nie getroud nie?”

“Sy was verloof, maar die man het dit afgebreek.” Na my berekening behoort dit ’n bietjie moederlike simpatie aan te wakker.

“Die rotter,” sê sy. “Mansmense. Mens moet hulle se goete klein-klein afknip soos met katte en honde. Dit sal latertyd baie sonde spaar. Hoeveel keer het ek dit vir Antje gesê?”

“Ek vrees jy was te laat vir haar.”

“Maar nou’s ek en sy same. Tussen die twee van ons sal ons die huis skoon hou.”

“Dis nou nie asof jy al wat man is uit jou lewe gehou het nie, Magrieta. Jy was tog drie maal getroud, dan nie?”

“Voor die Here, ja. Maar dis anders as man en vrou gekerk is.” Sy skud haar kop. “Ek sê niks teen Meneer nie, ma’ ’n man se ding ja hom ammelie rond en dan’s dit beterder om dit maar in die familie te hou.”

“As juffrou Butler terugkom, kan jy haar op jou tyd deurkyk,” doen ek aan die hand. En sedig voeg ek by: “Vra sommer vir Antje ook wat sy dink.”

Ek kan sien dat Magrieta begin inskiklik raak. Sy neem selfs my koue koffiebeker uit my hande en stoot my sagkens uit die pad. “Gee lat ek vir Meneer behoorlike moerkoffie maak, nie dié ou modderwatertjie nie.”

Terwyl sy die filterkan opstel, gaan ek by die kombuistafel sit om die oggendkoerant se spyskaart van moord, doodslag, korrupsie en skandale deur te kyk. Ek hou haar tersluiks in die oog – dié vrou wat nou al byna veertig jaar my lewe in haar hande hou, wat my en Riana deur voorspoed en teëspoed gehelp het en die huis soos ’n skip deur stormbranders op koers gehou het. Dit moet vir haar swaarder gewees het as wat sy ooit laat blyk het. Want dit was nie net óns lewens wat sy moes hanteer nie, maar ook die sinkplaatpad in haar eie: die sterftes van mans en kinders, die gedwonge verskuiwing uit Distrik Ses in die jare sestig, politieke oproer en familietwiste. Vir haar was óns welsyn altyd hoofsaak, nie haar eie nie. Maar af en toe, soos hierdie Maandagmôre, wanneer sy nie daarvan bewus was dat ek haar dophou nie, was ’n glimp van wat dit alles haar gekos het, vlugtig op haar gesig te sien: die onderdrukte hartseer en woede, al die teleurstellings, die moegheid waaroor sy nooit ’n woord sal kla nie. Sy sou my geen kans gee om dit selfs maar aan te raak nie. Al wat daar was, is die wete dat, hoe onsigbaar of ver ook al, dit daar is, en dat dit af en toe met die gewig van soveel jare tot lê kom in ’n gedeelde oomblik.

Sy het die vars koffie geskink en weer aan die werk gegaan. Ek het my beker leeg gedrink, haar ’n kompliment gemaak, en gaan bad en aantrek. Daarna het ek ’n ruk in die studeerkamer bly werk. Maar ek was ongedurig. Die reën was verby, die son was weer uit, een van die loublou dae van die Kaapse winter. Maar dit was nie die weer wat my al om die tien minute uitgelok het buitentoe om ’n draai deur die tuin te loop, by die posbus te gaan inloer, selfs entjies op en af in die glinsterende straat te drentel nie. Dit was sy. Dié jong vrou. Tessa.

Kyk, het ek myself probeer kortvat, dit raak nou belaglik. Selfs as haar voetspore oor my gewete lê, dan was dit verspot maklik verklaarbaar in die niemandsland waarin ek beland het. Ek was gewoon so vatbaar vir indrukke, so wondbaar, dat ek waarskynlik presies net so sou gereageer het op énige ander moderne jong vrou wat Saterdagaand uit die reën hier in my afsondering ingedring het. Was daar hoegenaamd enigiets wat haar van die ander kon onderskei? Al wat sy eintlik was, was astrant, verregaande vermetel. Sy het geen sin vir grenslyne nie – in die manier waarop sy my oor my lewe uitgevra het (maar hoekom was ek dan bereid om te antwoord?), in wat sy van haarself vertel het. G’n vrou by haar volle positiewe sou so ongeïnhibeer uitpraat teenoor iemand wat sy maar so pas ontmoet het nie. Of anders het sy my skaamteloos en gewetenloos probeer manipuleer, die oudste slenter in die boek. Kon ek regtig nie daar en dan dwarsdeur haar sien nie?

Die kort antwoord was nee.

In my derms het ek geweet sy’s nie maar net ’n tipiese voorbeeld van haar generasie nie. Maar wat wás dit dan? As ek by haar verwaarloosde skoonheid kon verbykyk (maar hoe kon ek?), haar bevlekte onskuld, haar oë, die klank van haar stem, daardie lag – wat bly oor? Ja, maar die blatante seksualiteit was vermeng met onselfbewuste grasie, met ’n verbasende skerpsinnigheid; as sy verlore en verwilderd gelyk het, dan het die manier waarop sy my rekenaar aangepak het, bewys dat sy ook koel en bekwaam en professioneel kan wees. Nou goed, sy was vermetel, astrant, arrogant. Maar ek kon my kop op ’n blok sit dat sy ook saggeaard, gul, ernstig, opreg begaan kon wees. Ek het glimpe van albei kante gesien. Dit was soos om op ’n afstand frases uit ’n onbekende, opwindende nuwe stuk musiek te hoor – net genoeg om te weet jy wil méér hoor, navraag doen oor titel en komponis, uitgaan en die plaat gaan koop. Die aantrekkingskrag van die onbekende? Nie “die misterieuse” nie, want eintlik was daar niks geheimsinnigs omtrent haar nie, maar eerder ’n donkerte, ’n soort droewigheid agter die opgewektheid? Die teenstrydige grepe wat sy so ongevraag van haar jeug aangebied het? As mens ’n snars daarvan kon glo! Maar miskien kom dit tog nader: die gevoel dat sy ligvoets op die kantjie van ’n afgrond dans. Wetend dat dit daar is, maar vol uitdaging – bowenal ’n uitdaging aan die feit dat ék daarvan bewus is. Wat was waarheid, wat leuen? Maar maak dit hoegenaamd saak? Daar was net iets in haar wat begrip uittart, iets wat per definisie nie verklaar kan word nie.

En waar was sy nou? Waar bly sy? Of was sy regtig vir goed weg? Ek kon dit nie glo nie. Maar namate die dag begin verbysleep het, het dit na ’n voldonge feit begin lyk.

Na middagete, in plaas van te gaan lê soos ek gewoonlik maak, is ek op na die universiteit, biblioteek toe. Nie eintlik om iets bepaalds te gaan doen nie, maar net omdat ek nie so kon bly rondhang in die huis waar haar herinnering nou begin loop het nie.

En toe, toe ek kort na sononder tuiskom, wag Magrieta my by die voordeur in.

“Daar sit ’n vrou op die dak,” sê sy.

Donkermaan

Подняться наверх