Читать книгу Donkermaan - André P. Brink - Страница 7
3
ОглавлениеWas dit regtig maar eergisteraand, Saterdag, dat sy hier opgedaag het? Met vuil voete, ’n smeersel ghries oor die wang, en kortgeknipte swart hare nat vasgepleister teen haar klein, netjiese skedel. Haar groot vormlose trui tot op haar kaal knieë afgerem. Sy moet die frons gesien het waarmee ek haar modderspore oor die drumpel bekyk het, want sy’t vinnig vasgesteek, ekskuus gevra, en met heelwat inspanning, wip-wip op een been op ’n slag, haar twee logge stewels uitgetrek. Fraai voete.
Toe eers sê sy: “Jy’s seker Ruben Olivier? Dis jy wat die kamers geadverteer het?”
“Dis reg. Ek neem aan jy’s juffrou Butler?”
“Ja, ek is Tessa.” ’n Koue smal hand rakelings in myne. “Sorry ek is laat, maar die bleddie Volksie het gebreek, toe moes ek my tights vir ’n fanbelt gebruik.” ’n Skielike skuins glimlag terwyl sy na haar knieë beduie: “Dis nie juis ’n goeie entrance nie, is dit?” Sy kry ’n keep tussen die oë. “Ek belowe jou ek was van plan om my behoorlik op te dress. Alles was al reggesit en ek was op die punt om te begin aantrek, toe kry ek ’n pyn-in-die-gat besoeker. Anyway, nou’s dit seker daarnatoe. Ek neem aan ek het gedop?” Haar oë vernou effens. “By the way, is jy ’n filosoof of iets?”
Ek kon nie help om te lag nie. “Wat op aarde laat jou so dink?”
Sy het haar skouers opgehaal. “Jy lyk soort van beroemd. Seker al die hare. Jy lyk …”
Wat wou sy sê? Gedistingeerd? Wys? Of sommer net verwaarloos, deurmekaar, verwilderd? (“My Rubinstein,” het Riana my graag geterg. En toe was ek nog nie eens so spierwitgrys nie.)
“Ekskuus. Ek moes dit seker gekam het vir die okkasie.” Onwillekeurig het ek my hande deur my boskasie getrek, wat sake waarskynlik vererger het.
Stroompies reënwater loop oor haar gesig. “Wel, wat is jy dan?”
“’n Doodgewone bibliotekaris. Was.”
“Ek moet sê, jy lyk boekerig.” (Tania het daardie vervloë dag gesê: “Jy’t die lyf van ’n skrywer.” Wat dit ook al mag beteken. Komende van haar, het ek dit tog as ’n kompliment beskou.)
Ek bekyk haar in die gang se dowwe geel lig. Die rondheid van haar klein harde kop, haar skerp neusie, die arrogansie van haar ken, die ontsenuende direktheid van haar oë. Kleur? Nugter weet. Soos Madame Bovary s’n, dink ek, kan dit swart, of groen, of blou wees.
“Kan ek die kamer sien?” Weer die vlugtige glimlag, dié keer effens meer senuweeagtig. “Dis te sê as dit nog nie gevat is nie?”
“Nee, nog nie, maar soos ek jou oor die foon gesê het …”
“Ek belowe jou ek sal nie ’n nuisance van my maak nie.”
“Dis nie waaroor ek bekommerd is nie. Maar ek wou regtig eintlik ’n getroude paar gehad het. Jy weet, middeljarig.”
“Ek is miskien ouer as wat jy dink.” Onhebbelikheid in haar oë; uitdaging miskien, maar tog iets onsekers ook.
“Jy kan kom kyk,” sê ek ongemaklik. “Maar ek kan nog niks belowe nie.”
Met dié dat ek omdraai om haar in die gang af te begelei – verby die studeerkamer regs, my slaapkamer links – bars sy skielik agter my uit van die lag. Dit is so uitbundig, uit die maag uit, soos ’n onderaardse stroom wat skielik in ’n fontein uitbreek, dat dit my oorrompel. “Wat op aarde is dít alles?” Sy beduie na die deurmekaarspul van houers op die vloer.
“Ek is bevrees die reën vang my altyd onkant. Magrieta hou aan karring daaroor, maar elke keer as die son uitkom, dan vergeet ek om ’n loodgieter te bel. Of wie mens ook al bel om ’n dak reg te maak.”
“Is Magrieta jou vrou?”
“My huishoudster.”
“O.” Sy kyk weer na die spul potte en bakke en emmers op die vloer. “Mens kan ’n hele simfoniekonsert hier hou.” Sy buk om die naaste kastrol met ’n vinger te toets. Die klank is nie baie indrukwekkend nie.
“Hou jy van musiek?” vra ek.
“Ek tokkel af en toe ’n kitaar. Maar ek verkies om te luister.” Sy skud haar kop ’n slag heftig, soos ’n hond wat uit die water kom.
“Enige voorkeure?” vra ek. Dalk kan dit die saak beslis.
“Ag, ek vat dit maar soos dit kom.”
Ek probeer haar por: “Klassiek?”
“As dit nie te heavy is nie,” sê sy op haar hoede. “Kan ek miskien nou die kamer sien?”
Ek bêre die inligting in my agterkop. “Kom saam.”
Voetjie vir voetjie trap ons tussen die hindernisse in die gang deur. Dis ’n nogal onkonvensionele opeenvolging van kamers: die klein badkamertjie vir gaste regs, daarna die spaarkamer en die tamaai sitkamer oorheers deur Riana se swart vleuelklavier wat soos ’n swaar, glimmende verwyt in die halfdonker opdoem; links die eetkamer met die lang tafel van geelhout en stinkhout – sitplek vir twaalf – ’n erfstuk van die Hugo’s; gevolg deur die kombuis, opwaskamer en outydse spens. Daar’s iets onvoorspelbaars omtrent die uitleg van die huis, soos wat dit agterna na willekeur op die oorspronklike Hollandse fondamente oorgebou is. ’n Smaller dwarsgang skei die voorste gedeelte van die huis van die agterkant, wat hoofsaaklik bestaan uit ’n klompie kamers waar ons seuns vroeër kaatjie van die baan was, en wat nou meestal as pakkamers diens doen. Ek maak die deur oop na die voorste van die twee wat Magrieta vir ons moontlike loseerders reggemaak het.
“Dis fabulous!” sê die meisie. Sy bly vassteek op die drumpel van die eerste kamer, voorlopig ingeruim as ’n werk- of studeerkamer. Sy kom verby my na die middeldeur. “Dit lyk soos ’n honeymoon suite. En ’n kaggel boonop! Kyk net die ceiling!” Sy strek haar nek agteroor om boontoe te kyk en skreef haar oë asof sy bysiende is. Die strak gespanne lyn van haar keel. Na ’n rukkie beweeg sy na die ou koperkatel in die slaapkamer, kry haar sit op die rand en wip ’n paar keer op en af.
“Gebou om te hou,” sê ek sedig.
“No two ways, ek vat dit,” sê sy en beklink dit met nog ’n geesdriftige wip. Dan bedwing sy haar. “Maar dis natuurlik vir jou om te sê.” Sy staan weer op en lyk nou smaller as tevore; en ek kom agter dat sy bewe. “Jisses, maar dis koud.”
Wat my terstond terugbring van waar my gedagtes ook al hulle loop gaan neem het. “Kom ons gaan studeerkamer toe,” stel ek haastig voor, asof sy my op ’n indiskresie betrap het. “Ek het ’n vuur aangesteek. Dit lyk asof jy kan doen met so iets.”
“Great. Ek vrek van die koue.”
Ek loop vooruit, terug na die studeerkamer, verby die onmusikale houers in die gang, en staan daar tru om haar te laat verbykom. Sy kom oor die drumpel in die halfdonker kamer in – soos gewoonlik brand net die leeslamp op die lessenaar. Soos ’n dogtertjie by ’n verjaardagpartytjie loop sy deur die kamer, bekyk die wanorde wat my altyd laat tuis voel, en buk dan oor ’n stapel langspeelplate op die vloer om hulle van nader te beskou. Daar is weer die effens bysiende vernouing van haar oë.
“Jy’t baie van dié,” sê sy na ’n rukkie.
“Hulle het maar ’n neiging om op te gaar.”
“Jy’t nog nie oorgeslaan na CD’s nie?”
Ek skud my kop effens verleë. “Te veel van ’n gedoente.” Ek aarsel. “En ek is nogal geheg aan die oues.”
Sy glimlag toegeeflik.
“Sal ek iets opsit?” vra ek.
“As jy wil.”
“Wat wil jy hoor?”
“Het jy Bob Dylan?”
“Nee, ek is jammer.”
“No problem. Kies enigiets.”
Lieflik en lenig sypel die musiek in die skemerkamer in. ’n Kat roer. Ek draai die volume sagter.
Sy luister na ’n paar mate, draai dan haar kop skuins. “Wat is dit?”
“Mozart. Fluitsonates.”
“Nou, hoekom nie?”
Ek bly haar dophou, nog nie seker wat ek moet besluit nie.
Teen dié tyd is sy by die lessenaar, wat sy deurkyk soos ’n argeoloog wat ’n nuwe terrein inspekteer. Sy knik in die rigting van die rekenaar wat stilweg in sy ligkol bly gons. “Ek sien jy’t darem ’n paar mod cons ook.”
“Ek moes teen wil en dank maar leer, toe die biblioteek ’n paar jaar terug begin moderniseer het.”
“Waarvoor gebruik jy dit nou?”
“Notas. Navorsing. Letterkunde, musiek, geskiedenis, skilderkuns, dié klas van ding. En natuurlik e-pos. Ek het jare lank bly baklei daarteen, maar toe oorgegee. Nie dat dit altyd so voor die wind gaan nie. Om die waarheid te sê, die ding het my net vanmiddag weer in die steek gelaat.”
“Wat is fout?”
“Ek moet iets verkeerd doen. Hy steek net vas.”
“Kan ek kyk?”
“Weet jy iets van rekenaars af?” vra ek agterdogtig.
“Dis my specialty.”
“Wel …” Ek bly nog teësinnig. “Soveel mense het dit al met goeie bedoelings opgemors.”
“Gee my net ’n vinnige kans. As dit nie werk nie, sal ek dit los.”
“Dis regtig nie nodig nie, hoor. Ek …”
Maar sy’t klaar agter die rekenaar ingeskuif. “Watse program gebruik jy?”
Binne ’n paar minute is sy aan die klik en tik en te kere gaan teen ’n vaart wat my verbyster.
“Wees tog asseblief versigtig,” maan ek met ’n mengsel van bewondering en afgryse.
Sy hoor my nie eens nie, lyk dit. Dan en wan vra sy ’n kort vragie, dan val sy weer weg. Tien minute, twintig, ’n halfuur. Een of twee keer mompel sy: “Fok!” Meer dikwels knik sy met ’n tevrede “Daar’s hy!”
Ek kan nie my oë afneem van haar hande wat soos vinnige water oor die klawers vloei nie. Lang vingers, delikate kneukels, maar stomp gepunt, met kort praktiese naels wat sê sy vat nie nonsens nie. Sy behoort ’n skitterende pianis te wees, besluit ek by myself. Begeleiding vir die ingewikkelde patrone van die fluit op die agtergrond.
Dit kom amper as ’n teleurstelling toe sy ophou. “Ek dink dis nou dit.”
“Jy verdien ’n glas wyn,” sê ek.
“Spot on.”
“Merlot?”
“Kan nie beter nie.”
Toe ek terugkom uit die kombuis, sit sy voor die vuur, haar bolyf teen haar knieë, die los trui afgetrek tot op haar voete sodat net haar tone wys. (’n Smal goue ring aan een van hulle.) Sy kyk op, strek ’n arm uit om die glas te neem, vuurlig op haar wangbene. In die smal gesig, met die kortgeknipte nat hare, lyk die helder oë byna onnatuurlik groot. Daar is iets sonderling gerusstellends omtrent haar teenwoordigheid, asof sy daar hoort, asof sy van altyd af daar was, ’n kind in die huis.
Ek het in my ou leunstoel gaan sit – verweerde leer, vroeër donkerrooi, aangepas by die kontoere van my lyf – en gesien hoe sy my stip aanstaar oor haar opgetrekte knieë.
“Dit moet lonesome wees in so ’n groot huis?”
In ander omstandighede sou die opmerking ongevraag geklink het. Maar dis so spontaan, en die halfdonkerte om ons so intiem, en ek ineens so oorbewus van dié onvoorspelbare, mooi mens met die suggestie van ongepeilde dieptes agter haar pront oë (hoe naarstig probeer ek nou, agterna, regverdig wat gebeur het!), dat ek daar op dié oomblik niks ergerliks of ongewoons in vind nie. En toe ek dáárop antwoord, was die kans om wal te gooi eintlik verby.
“Ek is gewoond daaraan.”
“Is dit hoekom jy loseerders soek?”
“Dit was nie ek nie. Dis my kinders wat aangedring het.”
“Waar bly hulle?”
“Een seun in Australië. Nog een in Johannesburg, maar sy kop staan Kanada toe. Hulle het klaar begin opruim.”
“G’n dogter nie?”
“G’n dogter nie. Maar eenkeer …” Ek bly stil en kyk af na die glas tussen my bakhande.
“Eenkeer wat?”
“Sommer niks.”
“Is sy dood?”
“Nee.” Ek het my eers teëgesit, maar na ’n rukkie verby haar in die donker kamer in gepraat. “Sy’t nooit gelewe nie. Sy is voor haar geboorte al dood.”
“En jy het nooit weer probeer nie?”
“My vrou kon nie. Nie na die miskraam nie. Dit het … skeefgeloop.”
“Is jy geskei? Of is jou vrou dood?”
“Sy’s dood. Lankal. Elf jaar.”
“Jy nie weer gedink aan trou nie?”
Ek het my kop geskud.
“Wat doen jy vir seks?”
Hier kom nou eers ’n onderbreking te pas. NOTA OOR SEKS EN DIE BEJAARDE WEWENAAR. Daar’s maniere, kon ek vir haar gesê het. Maar natuurlik het ek nie. Wat sou sy daarvan verstaan, dié onaanraakbare jong vrou uit die onstuimige nag, dié vreemdeling met haar stompgeknipte hare, dié meisie wat wegkruip in haar lelike ou trui waaronder net haar tone uitsteek soos die pienk snoetjies van klein katjies? – Die eensame gestommel in jou bed. Die verbeeldings wat jy aangryp, die ontoereikende herinnerings, af en toe die beskamende reëlings, na ure van wik en weeg, om ’n bietjie verligting te bewerkstellig, al weet jy vooruit daar wag net teleurstelling, mislukking en afsku: die laatnagse oproep na ’n agentskap uit die koerant se advertensiekolomme. Die vernederende katalogus, antwoord ja of nee: blond of donker of rooikop, groot of petite, dominerend of inskiklik, eksoties of plaaslik, noem maar op. Nooit twee keer na mekaar dieselfde nie. Soos om pizza of pasta te bestel. Die terugoproep om te bevestig. Die wag in die donker huis, die motor wat voor die hek stilhou, die skarminkel wat saam voordeur toe kom, die broederlike knipoog, hier’s die bestelling, teken hier dat dit in goeie toestand ontvang is, terug oor ’n uur, bel maar as dit nodig is. Die kortstondige instroom van stadsgeluide – brandweer, ambulans, polisie – en dan weer uitgesluit met die toemaak van die swaar kiaathoutdeur. Net die bedliggie aan, 60 watt en gedemp, eerder stowwerig-dof as romanties. Die eerste opsommende deurkyk, die gemeenplase en kamma-vertoon van wêreldsheid, ’n glasie sjerrie miskien, dan die vinnige uittrek, met af en toe ’n meer bekoorlike, meer persoonlike afwyking van die roetine – ’n broekie wat vashaak aan ’n hoëhakskoen, ’n haarknippie wat losglip – en dan die immer-onoortuigende vertoon van begeerte. Goddank die ou staatmaker weer op aandag (maar eendag gaan hy my in die steek laat, haha); tegelyk die renons in dié koppige selfstandigheid van die vlees. Daarna die afstroop van die kondoom, ’n vinnige draai in die badkamer, die toilet wat spoel, ’n handsak wat toeknip soos ’n vagina dentata. En wat nou? Nog ’n glasie? – Moenie my alleen laat nie, ek sien nie daarvoor kans nie. Loop in godsnaam net, maak dat jy wegkom. – Die enkele toet in die donker straat. Pete is terug. Of Joe, of Stan, een van die monosillabiese broederskap. Die deur wat toeslaan, die motor wat om die hoek ry. Donkerte wat oor my toesak, laag op laag. Die huis roer beskuldigend in sy slaap. Antje van Bengale sluip onsigbaar deur die leë kamers, altyd net-net buite bereik. My bleek gesig in die badkamerspieël, onthutsend oud en naby, maar afstandelik deur die gevlekte glas. Ek doen my Lady Macbeth-ding in die donker. Die spookagtige skynsel van my wit hare, maag wat begin hang, benerige kniekoppe, Don Quixote op pad na die een of ander hertogin wat op die kritieke oomblik in ’n kru boermeisie gaan verander. Teen dié tyd is sy klaar weer by ’n volgende afspraak, waar alles van voor af begin. En ek hier van aangesig tot aangesig met wat ekself behoort te wees maar nooit is nie. Terug bed toe. En eers nou, by die terugdink, sypel daar ’n bietjie hartstog uit die herinnering, meer genadig as die professionele vertoning deur ’n liggaam wat so kortstondig voorgegee het om hier te wees. Veronderstel om mens vaak te maak; maar al wat dit bring is wakkerlê, met die akute besef van wat alles verkeerd geloop het, wat nooit gebeur het nie. Hierdie vlees wat mens so teen die mure uitja, so veeleisend, so vol hartstog en teleurstelling. Probeer weer, oë toegeknyp om te onthou, om te hou, ja, ja, klou aan die vervlugtige herinnering, die rose-naakte lieflikheid soos die digter gesê het, nee, nee. Inderdaad, ja: wat doen jy vir seks?
Of anders sou ek kon gesê het: Ek lees boeke. Dalk sou dit nader aan die waarheid gewees het. Die bevrediging wat lê in die sublimasie van ’n reisondervinding. Want ’n boek stel jou nooit teleur nie, sê nooit nee nie, laat jou nooit in die steek nie. Wat nie wil sê dat boeke “maklik” is nie. Hulle kan meer veeleisend wees as enige minnares, hulle kan verseg om saam te speel tensy jy bereid is om jou hele self op die spel te plaas. Maar as jy die uitdaging aanvaar, dan kan niks anders daarmee vergelyk nie. En dan het jy die vermetelheid om my te vra wat ek doen vir seks?
“Dis ’n baie persoonlike vraag, dink jy nie?” Ek was nog half oorbluf deur die buitensporigheid daarvan. Ek behoort haar net daar te gesê het om te trap. Maar waarom het ek nie? Ek het dit al soveel keer oordink, maar sonder om regtig ’n oortuigende verskoning te kry. Wou ek dalk op ’n perverse manier beledig word, gekrenk word, uitgedaag word? Maar wat was daar dan in my wat so iets sou wou hê? Of was dit eenvoudig die soort nag waarin al die opgehoopte eensaamheid van maande en jare ’n punt bereik het waar ek op naasteby énige oproep van buite sou reageer? Dit was die eerste keer sedert Johnny MacFarlane se dood dat ek kans gesien het om my vir enigiemand oop te maak. Teenoor Cathy, moet ek toegee, was ek getempteer, maar toe het my agterdog oor verborge agendas my teëgehou. En vir ten minste ’n week voor dié aand het ek met geen lewende mens behalwe Magrieta (en die kafeebaas in Newlands Avenue) ’n woord gewissel nie. Nie dat mens dit altyd mis nie: jy raak gewoon daaraan om hardop met jouself te praat, soos jy begin om te dirigeer op maat van die musiek op ’n plaat. Maar dié aand was ek bewus van ’n soort honger in my om te praat met enigiemand wat bereid was om te luister; en te luister na enigiemand wat met my wou praat. Maar selfs dit is nog nie genoeg van ’n rede nie. Dit was die meisie self, dié onwaarskynlike meisie, ingewaai deur die storm, gewetenloos, verregaande, vermetel, pragtig. (Dit gee my minstens kans om die toonlere van my adjektiewe te oefen.) Daardie manier waarop sy die mees onhebbelike dinge kon sê sonder om my werklik te kwets; asof sy regtig gretig was om antwoorde op haar vrae te kry; asof my antwoorde vir haar saak gemaak het. (Maar wanneer ek dan, soos dié keer, geweier het om te antwoord, het sy dit tog net so laat links lê en met iets anders begin.)
Ek het gewag dat sy ekskuus moet vra, maar sy het niks gesê nie. Waarskynlik het dit nie eens by haar opgekom dat ek dalk beledig kon gevoel het nie. En toe het daar bowendien ’n kleinigheid gebeur wat die atmosfeer effens, maar beduidend, verander het. Een van die katte, my gunsteling, die rooie met die trotse naam van Amadeus, het binnegekom, op die drumpel getalm om uit die hoogte die toneel te verken, en toe sonder aarseling na Tessa toe geloop – iets wat hy nog nooit met ’n vreemdeling gedoen het nie, nie eens met Johnny nie – en hom op die jong vrou se skoot tuisgemaak. Dit was ’n erkenning, ’n teken van aanvaarding, ’n gebaar wat heeltemal vreemd was aan dié geliefde, hovaardige skepsel. En toe Tessa oorleun om haar gesig in die sagte penspels te druk voordat sy weer terugskuif en die spinnende kat begin te streel, was die verhouding tussen hulle beklink.
Nog ’n minuut of twee lank het Tessa nie op my opmerking gereageer nie. Eers na ’n lang, tydsame teug aan die wyn, so donker soos Homeros se see, het sy in die vuur in gesê: “Dit sou nogal great gewees het as mens daarsonder kon klaarkom, nè?” Toe haar oë na my gedraai, skitterend in die skemer. “Sê my, word dit darem makliker as mens ouer word?”
Ek het van voor af verontwaardig gevoel. “Ek weet nie,” het ek kortaf geantwoord. “Ek is nog nie oud genoeg om te sê nie.”
Sy het liggies gelag, en sonder waarskuwing van onderwerp verander. “Hoekom chicken jou kinders uit?”
Vanwaar die onredelike drang in my om hulle te probeer beskerm? “Hier is hulle in ’n doodloopstraat.”
“Ek het nog nooit gedink aan padgee nie.”
“Johann, die een in Australië, is ’n dokter. Hy kon dit nie meer vat nie. Die manier waarop die hospitale agteruitgaan, medisyne wat gesteel word, personeel wat staak en die plek verwoes en pasiënte aan hulle lot oorlaat, dié klas van ding.”
“En die ander een?”
“Louis. Hy’s ’n siviele ingenieur. Hy’t kontrakte begin verloor oor hy weier om omkoopgeld te betaal.”
“En daar’s anyway meer geld in Kanada, nè?”
Ek vererg my. “Sy hoofrede is dat sy vrou se beste vriendin ’n maand gelede in haar motor gekaap en verkrag is. Daarna het hulle haar uit die bewegende motor gegooi. Sy sal nooit weer loop nie.” Toe sy stilbly, probeer ek haar opsetlik uitlok: “Hulle sê een uit elke twee vroue in die land gaan in haar leeftyd verkrag word.”
“Hoekom bly jy hier?” vra sy.
“Ek het nog nooit eens probeer om dit te verduidelik nie. Mens raak gewoond aan ’n plek. Dalk raak jy selfs lief daarvoor. Al moet ek toegee dit klink ’n bietjie pervers, as jy dink hoe stief die land ons die laaste tyd behandel.” Ek het ’n vinnige sluk wyn geneem. “Of dalk het die land ons lief, op sy manier.”
“Jy moet bleddie sentimenteel wees om so iets te sê. ’n Land kan mens miskien nodig hê, maar nie lief nie. Dis maar baie soos met mense ook.”
Sy het haar glas leeg gedrink, toe half omgedraai en dit na my toe uitgehou. “Kan ek nog ’n bietjie wyn kry?”
Ek het die bottel van die vloer af opgetel en haar glas aangevul sonder om op te staan. Dit was soos ’n klein, stil seremonie. Sonder dat ek dit kon verklaar, het my ergernis begin wegeb. Ek wou nie eens meer gekrenk of verwonderd voel nie. Voorlopig was dit genoeg om net te aanvaar dat sy daar is, met al haar koddighede en onverwagte wendings, al die skuiwe en prikkels en uitdagings van haar woorde, die verborge vloeibare vuur daaronder.
“Het jy regtig nooit self gedink aan weggaan nie?” het sy na ’n ruk weer begin.
“Jy kan nie ’n ou hond nuwe kunsies leer nie.”
“Jy lyk nog nie so oud nie.”
“Ek is vyf-en-sestig.” Teen wil en dank het ek bygevoeg: “Dit moet omtrent so oud wees soos jou pa.”
“My pa is dertig,” het sy geantwoord, iets ingehoue in die ryk donkerte van haar stem. Sy moet gesien het hoe ek frons, want na ’n oomblik het sy verduidelik: “Hy was nog altyd net ’n dowwe foto teen die muur.”
“Ek is jammer, ek …”
“Ek was maar drie toe hy dood is.” Haar groot oë kyk somber by my verby. “Hy’s vermoor. Ons was die naweek by vriende op ’n plaas. Hulle het in die nag gekom. Dit was unbelievable. Die hele huis was die ene bloed. As my ma nie saam met ons in die donker in gevlug het nie, dan was ons almal dood.”
Ek staar haar met afgryse aan. “Maar dis verskriklik! Dis …” Dit duur ’n rukkie om my gedagtes hok te slaan. “Hoe op aarde het jy dit ooit verwerk?”
“Ek wil liewer nie daaroor praat nie, as jy nie omgee nie,” sê sy ingetoë. “Selfs nou nog, na al die jare …”
“Natuurlik. Ek het nie bedoel om jou te ontstel nie.” Ek grabbel na iets om uit die noute te kom. “Hoe lank gelede … Ek bedoel, hoe oud is jy nou?”
Haar luim het weer verander; sy het effens geglimlag, maar sonder veel vreugde. “Ek het altyd gedink dertig is die limit. Seker omdat my pa toe dertig was. Ek kan nie glo ek het nog net drie maande oor voor ek die jackpot slaan nie.”
“Daar sal waarskynlik erger dinge met jou gebeur as om dertig te word.”
“Hier sal ek ten minste ’n vaste basis hê,” het sy kalm geantwoord.
Dit het iets onrustigs in my opgejaag. “Luister, Tessa …”
Baie pront sê sy: “Jy wil my nie regtig hier hê nie, nè?”
“Wel, ek het jou gesê ek soek eintlik ’n egpaar. Ek kan jou nie met my behoeftes opsaal nie.”
Met ’n tikkie sarkasme vra sy: “En wat ís jou behoeftes nou eintlik?”
“Dis nie wat ek bedoel nie!” maak ek beswaar.
“Wat het jy dan bedoel?”
“Ek het jou gesê dit het niks met my te doen nie. Dis my seuns wat nie wil hê ek moet so alleen bly nie. Hulle reken dis gevaarlik. Hier was ’n moord in ons straat ’n paar maande gelede. Ek is nie meer vandag se kind nie en my gesondheid – dis wat húlle sê …”
“Wat jy soek, is ’n huishoudster?”
“Nee, ek het klaar ’n huishoudster.”
“’n Nurse?”
“Ek is nie ’n invalide nie.”
“Wat dan? Iemand om te naai?”
“Jy’s van jou trollie af!”
“Wat is verkeerd daarmee? Ons het almal af en toe iemand nodig om by te slaap.”
Tot my ergernis – my verontwaardiging – voel ek ’n prikkeling in my lende. En ek blaker dit uit: “Al wat ek soek – wat hulle soek – is iemand om hier rond te wees as die huishoudster weg is. Net ingeval … Maar kom ons vergeet nou daarvan, asseblief.”
“Ek wil nie kook nie, ek wil nie huishou nie, en ek wil nie by jou slaap nie. Maar ek kan ‘hier rond’ wees as jy wil.”
“Hoekom sou jy hier wou bly?”
“Omdat ek nêrens anders het nie.”
Dis moeilik om nou al die kringe en draaie na te loop wat ons gesprek daardie nag gevolg het – al die herhalings, variasies, verleggings, veranderings van koers. Dit moet tot in die klein uurtjies aangehou het. Op een tydstip het ek nog ’n bottel wyn gaan haal, een keer wou sy ’n glas water hê, twee keer het ek vir haar gaan koffie maak, rooibostee vir my. (My hart mos.) Soms is sy saam met my kombuis of spens toe, waar sy haar op ’n breë rak gaan tuismaak het om my dop te hou, haar kaal bene swaai-swaai soos ’n kind in die kerk. En dwarsdeur dit alles het die gesprek aangehou, te veel om nou, twee dae later, op te roep en neer te skryf. Maar ek moet minstens probeer. Ek het nie ’n keuse nie, anders is dit alles vir goed verlore. Selfs terwyl dit aan die gang was, het ek my – soos so dikwels in my lewe – daarop betrap dat ek my probeer voorstel hoe ek dit agterna sou onthou, wat my sou bybly, wat sou wegglip deur die gate in die net van die geheue. Dis asof ek nie behoorlik teenwoordig is wanneer iets gebeur nie en eers agterna daarna moet probeer teruggryp. Levinas sê êrens, as ek reg onthou: “The great ‘experiences’ of our life have properly speaking never been lived.”
Selfs as kind was ek al so. ’n Paar keer het ek onmiskenbare astrale ondervindings gehad: die ontstellende indruk dat ek nie is waar ek is nie, maar van ver af neerkyk op wat gebeur. Eenkeer, weet ek, was ek saam met ’n klompie maats na die “Boesmangrot” toe, ’n myl van die plaashuis af tussen die klipkoppies – ’n soort oorhangkrans beskilder met Boesmantekeninge, derduisende jare oud en al half uitgewis onder laag op laag graffiti. En onverwags was dit of ek my bo-op die krans bevind en afkyk na waar ek daar onder op die grond probeer om my maats te beïndruk met stories wat ek in boeke gelees het of wat ons ou voorman, Outa Hans, my vertel het. ’n Ander keer was die middag in die donker, geurige waenhuis saam met die vroegwys klein Lenie tussen die lusernbale agter Pa se ou grys trekkertjie en sy spul mankolieke perdekarre en ploeë en skaapskêre en dipkanne en goed: en skielik was daar weer so ’n verskuiwing, dié keer op na die balke waar die rooi-oog bosduiwe nesmaak.
Daardie paar ondervindings was buitengewoon. Maar vir so lank as ek kan onthou, was daar dié besef van afstand. Iets, stel ek my voor, soos ’n akteur se besef van die pouse tussen die self en die rol. Net in boeke was dit anders. Hier in my studeerkamer, of in die biblioteek in die stad waar ek gewerk het voor Damokles se swaard geval het; gerusstellend omring deur woorde, was ek tuis.
Ek en my twee ouer broers het nie grootgeword met lees nie. Ons het natuurlik die Bybel gehad, en ’n gehawende boek met jagstories uit die vroeë dae van die eeu, en die Landbouweekblad met prentjies van Afrikanerbeeste en boere te perd, maar dit was al. Boeke was deel van ’n ander soort wêreld. Ons s’n was die kwaai mannewêreld van die plaas waar ek grootgeword het, met omtrent g’n vrou in sig nie, ’n streng afgebakende wêreld met g’n plek vir uitsonderinge nie. Ook reën het nie eintlik daar gehoort nie – dit was onwerklik, wonderbaarlik, iets uit die verbeelding, uit ’n ander ruimte as die sonverskroeide koppies op die veld-sonder-einde, die harde wit graspolle, die ongenadige son. Ek was drie jaar oud toe ek vir die eerste keer reën gesien het; dit was ongelooflik. Ek het soos ’n mal ding uitgehardloop, my klere afgeruk om die kaal water op my kaal vel te voel, soos ’n klein histeriese jakkalsie aan die lag gegaan, my arms geswaai, sproeisels water uit die poele opgeskop, in die modder begin rol, tot my broers uitgekom het om my te bliksem en my terug te sleep. Die hele nag lank het ek gelê en bewe van ’n blydskap wat ek nog nie kon verstaan nie, terwyl ek luister na die gekletter op die sinkdak, en daarna, nadat dit begin bedaar het, na die derduisende fluisteringe van die water wat ’n nat web van geluid in my gedagtes spin. Toe die son weer uitkom, was net die tekens van gister nog oor, maar in my herinnering het die wêreld in ’n ander soort plek verander.
Dit was iets wat ek met niemand behalwe Outa Hans kon deel nie. Hy kon stories oor die reën vertel, soos oor alles. My broers was nie soos hy nie. Hulle was my vyande, die ene vloek en geweld. Daar was tydjies wanneer dit lekker was om by hulle te wees, soos wanneer hulle poepwedstryde gehou het om te kyk wie ’n kers kon uitblaas of die vlam se kleur kon verander (blou, pers, partykeer groen). Maar dit was uitsonderlik; en meestal het hulle soos ’n nag oor my kinderjare gelê. Al wat hulle ooit kon doen, was om my te spot of my op te neuk, sommer vir die hel daarvan. Die paar geheime vriendskappe wat ek gehad het, het hulle verrinneweer. Met die swart seuntjies op die plaas. Of, die kosbaarste van almal, klein Lenie, wat partykeer saam met haar ouers van die buurplaas af oorgekom het. Sy was so oud soos ek, ’n fraai klein dingetjie, maar so taai soos ’n voorslag. My broers was baie ouer, maar wanneer hulle in die buurt was, het hulle ons nooit met rus gelaat nie. Een aaklige dag sal ek altyd onthou. Ek moet omtrent tien gewees het. Ek en Lenie was agter die kraalmuur aan die speel toe hulle daar aankom vir ’n skelm rook. Tot my verbasing was hulle dié dag nogal danig met Lenie. Die rede het ek gou agtergekom. Hulle wou hê sy moes haar rokkie vir hulle oplig, wat sy sonder omhaal gedoen het, met ’n laggie en ’n argelose ophaal van haar dun skouertjies. ’n Helder geel rokkie waarin sy soos ’n klein kappertjie gelyk het. Maar toe probeer hulle haar so ver kry om haar broekie uit te trek. Ek dink nie sy’t nee gesê oor sy gemeen het dis verkeerd nie, maar net omdat sy nie wou nie. Eers het hulle haar probeer omkoop. Met ’n skilpaddop, ’n knipmes, die skedel van ’n swaeltjie, ’n hanslam. Daarna het hulle beloftes begin maak wat selfs ek geweet het belaglik was: ’n honderd poppe, ’n honderd pond, ’n honderd vinke in ’n hok. Sy’t net haar kop bly skud, haar rug vasgedruk teen die klippers van die kraalmuur wat my legendariese oupa Goliath nog met sy eie hande gestawel het, lank voor die geboorte van God. Lenie het nie juis bang gelyk nie, eerder ’n bietjie verbaas dat so ’n stukkie lap nou vir enigiemand soveel werd kon wees. Algaande het hulle luim begin verander. Hulle het kwaai geraak, haar begin skel, nog later begin dreig. Hulle sou haar in die sementdam versuip, of haar ophang aan ’n hanebalk in die waenhuis. Ek was doodverskrik. Een oomblik, toe hulle naderkom en haar aan die arms probeer gryp, het dit gelyk of sy tog maar gaan toegee. In ’n stem wat ek skaars as my eie kon herken, het ek skielik gekrys: “Jy hoef nie as jy nie wil nie, hoor.” Hulle het omgeswaai na my toe. Sy’t die rieme neergelê. Hulle het my amper vrekgemaak: terwyl die een my hande agter my rug vashou, het die ander my begin slaan en skop, my met ’n knie in die maag en die lies gekarnuffel, tot ek begin opgooi het en flou geword het.
So ’n paar weke later, toe Lenie weer op die plaas kom kuier het en my broers nie daar was nie, het ons soos gewoonlik deur die veld gedwaal op soek na die goetertjies wat ons bymekaar gemaak het; en toe het sy onverwags ’n nattigheid in my oor gefluister en my aan die hand gevat en my waenhuis toe geneem waar sy my giggelend gewys het wat sy nie my broers wou laat sien nie.
En dit was asof ek in my eie kop die gedagtes kon sien woel: Is dit nou al? Waaroor was die bohaai? Miskien was dit die afstandelikheid in my wat dit so ónwatwonders laat lyk het. ’n Lyf, selfs daardie eerste meisieslyfie van my lewe, was net ’n lyf en niks meer nie.
Eers maande later, toe sy nie meer daar was nie, het ek partykeer op my eentjie teruggegaan na die waenhuis; en toe het daardie ontdekking met die onthou in iets besonders begin verander. Van toe af was die waenhuis ’n plek van wondere. Ek het dit in my binneste weggebêre, saam met al my kosbaarste herinneringe: die dag toe dit begin reën het, swaeltjies wat by die eerste rilling van herfs in die lug aanstalte maak om weg te vlieg na die verste noorde, ’n sononder mooier as alle ander, die tekeninge wat daar teen die bakkrans gemaak is deur klein mannetjies wat al lankal van die aangesig van die aarde af verdwyn het.
Dít was die soort wonder wat ek later met boeke begin verbind het. Miskien het dit gebeur omdat dit juis reën was wat my die eerste keer die binnekant van ons stowwerige dorpsbiblioteek laat sien het. Ek moet toe so ’n elf, twaalf gewees het, my broers was al uit die skool; en ek reken dit was in ’n skoolvakansie, want ek onthou nog die lang rit in dorp toe. Pa was haastig – hy was altyd haastig as ons in die muilkar of die bakkie moes dorp toe, want hy was half verwilderd tussen ander mense – en êrens tussen die kopperasie en die stasie het dit begin reën; en omdat hy my nie wou saamsleep na waar hy ook al moes gaan besigheid doen nie (onder meer die Queen’s Hotel, soos ek maar alte goed geweet het), het hy my in die biblioteek ingejaag. En my toe daar vergeet; en eers weer onthou toe hy op die plaas terugkom, te laat om weer die hele ent terug te ry.
Toe hy die volgende môre weer opdaag, so kwaad oor sy vergeetagtigheid dat hy dit kwansuis alles op my moes uithaal, was ek nog altyd daar tussen die rakke. Die vorige agtermiddag het die halfblinde ou bibliotekaresse (ek onthou haar ruik van ou stof en suur kwepers) nooit eens agtergekom dat ek daar was nie, en gewoonweg toegesluit en geloop; ek self het eers daarvan bewus geword toe dit te donker raak om verder te lees. Selfs toe het dit my skaars gepla. Ek het my op ’n breë vensterbank tuisgemaak in die dowwe ligkol van ’n straatlig so ’n twintig tree daarvandaan, en eenvoudig bly lees en lees tot ek aan die slaap geraak het; en toe ek in die môreskemer wakker word, het ek net verder gegaan van waar ek opgehou het.
Halfpad deur die môre het Pa opgedaag om my te kom haal. Ewe onbegrypend het die ou tannie in die grys trui, met die breipenne in haar bolla – ’n bloue en ’n groene – haar flets ogies in ons rigting geknipper; en ek het so ’n bohaai opgeskop dat Pa teen wil en dank die boek wat ek aan die lees was, vir my moes uitneem. ’n Kinderuitgawe van die Don Quixote. Ek kon destyds beswaarlik Engels lees en het net hier en daar grond gevat: maar dit was juis die vreemdheid daarvan, die ritmes en golwinge van die taal, wat my betower het. In a certain village of La Mancha, which I do not wish to name, there lived not long ago a hidalgo. “La Mancha”. “Hidalgo”. Liewe Jesus, Josef, Maria en die donkie! Dít was louter towerkuns. Dit het selfs die Bybel laat waar klink. En God het gesê: Laat daar lig wees, en daar was lig. Saam met daardie maer ou hidalgo het ek uitgery oor die vlaktes van La Mancha, net so kaal en dor as die landskap van die Kalahari, net so uitgelewer aan die genade en die woede van God. Die soort leegte wat mens toelaat om jou verbeelding te laat losloop; ’n vryheid bepaal deur die woord, opgetower deur ’n boek. Om te lees en te lees en verder te droom. Dof en loom in my sonnedroom.
Van toe af was dit my wêreld, en des te meer vandat Riana dood is; en selfs nóg meer in die volslae eensaamheid van hierdie afgelope paar jare vandat ek so onvoorbereid uitgewerp is deur die biblioteek wat al die jare my toevlugsoord teen die rumoer daarbuite was. My biblioteek – álle biblioteke – was ’n uiteindelik asiel, ’n laaste kuil van stilte tussen riet, waar betekenisse hanteerbaar word net omdat hulle jou tot niks verbind nie; en waar illusie die allure van die waarheid kry. Om te lees, te dink, en dan op die woordspore terug te loop tot by hul oorsprong, hetsy eg of verbeel; om jou enigiets te versin; om jou in die verbeelding in te waag. En dan van nuuts af aan te begin lees, ’n hergebore Columbus losgelaat oor eindelose nuwe wêrelde anderkant naamlose seë. Vandag nog, elke keer wanneer ek die Don Quixote oopmaak – elke keer as ek énige boek oopmaak – is dit asof ek soos Herakleitos in ’n nuwe rivier in waad, vol nuwe geheime, nuwe inwydingsrites, nuwe misteries en feeste. Gaan ek nou effens op hol? Maak nie saak nie. Dis hoekom boeke bestaan, my bestemming in hierdie wêreld-sonder-einde waar ek kan voortgaan met die noemspeletjie waarmee oorlede Adam begin het: Dit is ’n meerkat, dit ’n ystervark, dit ’n jong vrou, Tessa. Klein mnemoniese merkies op die papier waardeur ek agterna die sin kan snap wat my die eerste keer ontglip het. (En natuurlik is dit nie noodwendig betroubaar nie, dit is dalk waarom dit gaan. Eenkeer, ’n jaar na Alison, het ek afgekom op ’n stukkie papier – my enigste soewenier aan daardie vreemde middag – waarop ek die kriptiese frasetjie aangestip het: Alison se moesie. Ek sal nooit weet waarna dit verwys het nie; daar was nooit iemand wat my sou kon sê nie. Net die woorde bly oor. Daar is geheime, sê hulle, wat nie bedoel is om te verstaan nie; jy kan hulle net lewe. Maar ek sou so graag wou geweet het. Dalk sou dit die verlossing kon beteken van ’n dag wat nog na al die jare by my spook.)
En daarom, selfs terwyl ek twee aande gelede nog daar in my vertroude ou leunstoel gesit het, my oë op Tessa wat in die vuur in staar, asof sy ’n boek is waardeur ek blaai, terwyl ek die geur insnuif van die klammigheid wat uit haar ou trui damp, en kyk hoe die ongereelde klein flikkervlammetjies in haar oë weerkaats, het ek in my kop gesit en notas maak om later neer te skryf: “liriese hande”, “donker druiwe-oë”, “trui wat ruik soos ’n nat hond”, “robynrooi afsaksel van die wyn”, “die gespin van onsigbare katte”. Sou dit alles ook eendag vergader word tot die stof van “Alison se moesie”? Onthou tog, onthou. Onthou om later terug te kyk. Onthou hoe dit dan sal lyk, hoe dit sal wees, hoe dit sou gewees het. Ek leef in ’n vloeiende voltooide toekomende tyd, waarin haar teenwoordigheid oplos soos ’n klein onvoltooide blokkie suiker.
Nou, met die neerskryf, keer ek terug na die vraag: “Hoekom sou jy hier wou bly?”
En sy sê, soos ek seker kon verwag het: “Omdat ek nêrens anders het nie.”
“Waar het jy tot nou toe gewoon?”
“Die laaste maand het ek ’n flat in Kenilworth gedeel. Maar nou’t die meisie by wie ek gebly het, besluit om te trou. Niemand het dit ooit verwag nie, hulle het soos kat en hond baklei, hy’s so mal soos ’n haas. Maar daar het jy dit nou. Margie het net Maandag huis toe gekom en gesê: ‘Ek en Pete is vanmiddag getroud. Hoor hier, ek is jammer, maar jy sal moet uitskuif om vir hom plek te maak.’”
“Sy kan jou tog nie sommer uitgooi nie.”
“Ons is vriende, ek kan nie die lewe vir haar nog meer complicated maak as wat dit klaar is nie. Bowendien, hy’t my agter haar rug begin chaff. Dit sal net shit afgee.”
“Wanneer moet jy uit?”
“Hy’t vanoggend sy goed oorgebring. As dit moet, kan ek seker nog ’n rukkie aanhang. Maar hoe gouer hoe beter. En anyway …” Sy lig haar glas, kom agter dat dit leeg is, en hou dit weer na my toe uit. “Kan ek nog ’n slukkie kry?”
“Natuurlik.” Ek maak die bottel leeg. Vra dan: “Jy wou sê … ?”
“Alles gebeur mos altyd tegelyk. Jy sal dit nie glo nie.” Sy neem ’n sluk, sit die glas neer, vou haar hande om haar voete. En kom dan vorendag met ’n ingewikkelde storie oor ’n verhouding met ’n prokureur, kantore in Claremont, glo twee of drie jaar aangehou, as ek reg verstaan het. Die man het haar oorreed om haar werk by ’n advertensiemaatskappy op te skop om sy firma se sekretaresse te word.
“Dit was nogal o.k. in die begin. Maar toe begin dit hand-uit ruk. Toe ek my kom kry, begin hy praat van trou. Hy’t my tot ’n knuckleduster van ’n ring gegee en alles, die ene diamante en robyne en goed, te terrible vir woorde. Maar dié klas van ding tel vir Brian. Toe, omtrent ’n maand gelede, met die troudatum al vasgestel, het hy dit afgebreek.”
“Sommer so?”
“Ek dink hy’t ’n verskoning gesoek, koue voete gekry, die ou storie. Toe begin hy gal afgaan oor ek glo met ander mans aankarring. Skoon over the top. Die laaste strooi was toe hy my beskuldig dat ek met sy senior partner begin lol.”
“En dit was nie so nie?”
“Dis ’n baie chauvinist ding om te sê,” raps sy my, haar wange rooi van verontwaardiging, so lyk dit. “Anyway, daar was ’n hele crazy scene, en in plaas van by my te staan, trek die partner hom toe in sy dop terug, en Brian sê ek moet fokof en ek gooi die ring in sy gesig en die diamant val uit en toe’s dit ook nooit eens ’n diamant nie, en met dié is ek nog uit my job ook uit.”
“Kan jy hom nie hof toe vat nie?”
“Hy’s ’n prokureur, for God’s sake. En dalk was dit ook maar die beste vir ons almal. Ek het darem ’n package gekry. Nie juis om oor huis toe te skryf nie, maar darem beter as ’n skop onder die gat.”
“En nou sit jy op straat?”
’n Skouerophaling. “Dis nie doodsake nie. Ek begin Maandag by ’n nuwe plek. Een van die nuwe glossies, Woman. Lyk nogal promising. Ek moet die publicity doen.” ’n Vinnige glimlag. “So jy hoef nie bang te wees ek sal nie die rent betaal nie.” Die naaktheid van haar oë. “Dis over to you. Wil jy my hê, of gooi jy my uit?”
“Het jy nie familie by wie jy kan gaan bly nie?” Dis nou ’n gryp na strooihalms. En vir wat? Wag ek regtig vir ’n egpaar? Of voel ek bedreig? Deur dié hawelose meisiekind uit die reënnag, topswaar met die verspotte groot trui, haar hare teen haar kop gepleister?
“Hulle woon in P.E. My ma het daar aangebly na my pa se ongeluk.”
“Ek dag hy’s vermoor?”
Sy aarsel ’n oomblik en gaan dan gladweg voort: “Wel, sy moord was ’n soort van ongeluk. Hulle was eintlik op soek na iemand anders. Anyway, daarna moes my ma eenvoudig sien kom klaar. Sy’t ’n receptionist in ’n hotel geword, maar die pay was so sleg dat sy maar by die bottel gaan troos soek het. En by mans. Dis nie dat ek haar blameer nie, ek meen, watter keuse het sy gehad? Maar dit was tough op my en Stephen – my broer, hy was twee jaar ouer – en later het die Welsyn ons na ’n kinderhuis toe gestuur. Toe ons na ’n paar jaar terug is na haar toe, wou sy nog steeds niks met ons te doene hê nie.” Met dié, verduidelik sy, het sy en haar broer baie na aan mekaar gebly. Hy was haar bondgenoot en vertroueling. Totdat hy haar “verraai” het. Glo iets wat Tessa in die grootste geheim aan hom vertel het toe sy sewentien was en wat hy aan haar ma gaan verklap het. Wat beteken dat nóg ma nóg broer haar nou kan uithelp; en selfs al sou hulle kon, sou sy verseg om te vra. Sy wil ook nie vriende daarmee opsaal nie. “Ek moet my eie battles fight.”
Sy is te reguit vir my, ek kan dit nie hanteer nie. Sy sit en kyk na my asof sy verwag ek moet verder uitvra, maar ek sien nie kans nie: netnou antwoord sy. Wat sou haar beweeg om my soveel vertroulike dinge te vertel? Om my laaste verdediging te oorrompel? Om my te “toets”? Om my vir die gek te hou? Of sommer net om aan ’n impuls toe te gee?
“Is daar g’n kans dat dinge met jou gewese verloofde kan regkom nie?” vra ek, net om uit die doodloopstraat te kom.
“You must be joking,” sê sy met ’n snuif. “Om die waarheid te sê, hy’s die een wat wil terugkom. Hy’t nog vroeër vanaand daar by Margie se flat opgedraai, net toe ek wou regmaak om hiernatoe te kom.”
“Dan was hy die pyn-in-die-gat besoeker wat jou vanaand kom pla het?”
“Exactly. Jy kan nie glo watse scene hy gemaak het nie. Sê ek is wreed en harteloos, soebat vir nog ’n kans, druk ’n bos rooi rose in my hand, vreet die mat halfpad op. Ek dink nie ek sal mans ooit verstaan nie. ’n Maand gelede gooi hy my uit, verkoop al my meubels, doen ’n scorched earth op my lewe. Vandag kom kruip hy hande-viervoet. Ek het daar gestaan en afkyk na hom toe en gedink: Liewe Here, is dit nou die man wat ek so min of meer aanbid het? En nou sal ek nie eens ’n second-hand kar by hom koop nie.”
“Dit kon tog nie sommer in jou klere gaan sit het nie?”
“Nee, seker nie. Maar eintlik was dit good riddance. Besef jy, dit was die langste affair wat ek nog in my lewe gehad het? Genoeg om mens se derms te laat draai.”
“Hoekom is dit vir jou so erg?”
“Ek weet nie. Sommer net die gedagte. Ek meen, om mens vir jou hele lewe te commit.” Sy kyk ondersoekend na my. “Hoe lank was jy getroud?”
“Vier-en-twintig jaar.”
“Jisses.”
“Jy laat dit soos ’n vonnis klink.”
“Dis seker maar ’n generation ding.” Sy verskuif, vou haar lang bene onder haar in, leun agteroor teen die vormlose ou rusbank wat ek en Riana nog by ’n vendusie gekoop het: dit was ons eerste behoorlike meubelstuk na die bed. Ons het destyds nog nie eens ’n eettafel gehad nie, net ’n ou deur wat ons op vier stapeltjies bakstene staangemaak het. “En was julle gelukkig saam?”
“Natuurlik.”
“Ek kry altyd hond se gedagte as mense sê: ‘Natuurlik’.” ’n Pouse. Sy laat haar kop agteroor sak om op te kyk na die skaduwees teen die plafon. “Ek bedoel nie dat ek jou nie glo nie. Dis net dat ek omtrent nie kan dink aan ’n enkele couple onder my vriende wat gelukkig getroud is nie.”
“Net oor jou ma julle verwaarloos het …”
“Dit het niks met die saak te doen nie. Ek praat van my vriende. In die begin gaan hulle te kere soos bleddie konyne, daarna is dit kat en hond. Ek wonder partykeer of dit hulle manier is om te sê: ‘Ek het jou lief.’ Jy weet? Woorde beteken nie meer veel nie, nou try hulle maar iets anders. Was dit nie met julle ook so nie?”
“Nee,” sê ek vasberade. “Ons het natuurlik ons rusies ook gehad. Maar by haar dood, sy was toe een-en-vyftig, was ons nog net so verlief as toe ons die eerste keer saamgeslaap het.”
“En dis nou die gospel truth?”
“Miskien was ons nog méér verlief aan die einde. As mens soveel saam deurmaak, soveel goed en kwaad met mekaar deel …” Ek raak seker nou bietjie aangetas deur die wyn; ek was nooit veel van ’n drinker nie. En daar is te veel in my wat al te lank aan die opgaar was, om nou die vloedwater te probeer teëhou. Daar is soveel wat gelyk wil uitkom. In die begin is daar begeerte wat alles bymekaar hou. Riana was ’n ongelooflike mooi meisie. Maar soos mens ouer word, begin liggame verander, hulle sak uit en verslap. Dis nie dat mens teleurgestel raak met die liggaam en dit op ander maniere probeer sublimeer nie: dis eerder dat jy ontdek dat ’n liggaam op ander maniere mooi kan wees. As jy jonk is, is dit ondenkbaar dat die liggaam ooit kan oud word of sy fleur verloor. Maar as dit met twee mense saam gebeur, dan verskuif jy jou definisies. ’n Beleë lyf wat swaargekry het, en leer verduur het, en oorleef het, raak mooi op ’n manier wat jy, my liewe Tessa, jou nie eens kan voorstel van waar jy vandag is nie. Elke rimpel, elke spataar, elke plooi of vetlaag, elke grys haar, word ’n teken van wat julle gedeel het, van wat jy liefhet.
Hoeveel hiervan het ek regtig hardop vir haar gesê, hoeveel het onuitgesproke in my kop gebly? Dit maak skaars saak. Ek moet genoeg gesê het om haar te erger, want ek onthou nog hoe sy dwarsweg geantwoord het: “Dit klink of jy jouself probeer oortuig.”
“Jy sal nie verstaan nie,” kap ek kortaf terug.
Hoe sou sy kon weet wat dit beteken om in die nag op te staan en die leë ruimte langs jou te voel en te weet dat niks wat jy op aarde kan doen, iets daaraan kan verander, of haar kan terugbring nie? Om jare aanmekaar met dié leegte saam te lewe en aan niks anders te kan dink as aan wat jy verloor het nie, en hoe jy by die dag swakker en ouer word, en elke oomblik daarvan verafsku? As dit maar net vinnig wou gebeur, maar jy kom dit skaars agter so van die een dag op die ander, en dis net in uitsonderlike oomblikke dat jy dit nie kan ontken nie, dat die dissipline verslap, dat jy jouself in die oë durf kyk – en dan staan jy elke keer voor nuwe tekens van verval. Eendag sal dit genadiglik verby wees, maar dit lyk asof jy nooit regtig daar uitkom nie. Al wat daar is, is hierdie trae agteruitgang, namate jy al meer en meer verander in die ding wat jy altyd verafsku het, die ding wat jy altyd gevrees het. En al wat jy kan doen, is om al dringender en al naarstiger terug te gryp, na die verlede, na wat jy verloor het, na die een herinnering aan wat die lewe die moeite werd gemaak het, na liefde. Elke dag glip daar iets meer deur jou vingers. Maar jy hou aan, ag Here God, jy hou maar aan, want jy weet – jy weet dit so verskriklik, so desperaat – dat daar ’n tyd was toe jy gelukkig was, o ja, jy was, ’n tyd toe jy liefgehad het, en dat dit moet padkos wees vir hoe ver jy ook al deur die leegte moet aanhou. Tomorrow and tomorrow and tomorrow.
En weer kan ek nie sê hoeveel hiervan ek regtig uitgespreek het nie. Al wat ek onthou, is dat ek in een of ander stadium skielik opgehou praat het; skaam, half verwilderd. En gemompel het: “Ekskuus, dit was ongevraag.”
“Jy hét haar liefgehad,” het die meisie stilweg geantwoord. “Jy’s reg, ek dink nie ek kan dit verstaan nie. Maar ek dink tog ek glo jou. En ek belowe ek sal nie weer interfere met wat jy onthou nie.” Toe het sy haar hand na my uitgesteek en gevra: “Hoe lyk dit met nog wyn?”
“Ek het klaar te veel in.” Ek het uit die diep stoel opgestaan. Nog iets wat stadigaan moeiliker raak, al is ek nie altyd daarvan bewus nie: die effense stramheid laag in my rug, die knieë wat kraak. “Wat van koffie?”
“Koffie én wyn. Ek sal saamgaan.”