Читать книгу Donkermaan - André P. Brink - Страница 8

4

Оглавление

Op pad terug van die kombuis wou sy eers ’n draai in die badkamer maak. Ek het haar na die gasteplekkie langs die studeerkamer beduie. Terwyl ek die kwynende vuur in die kaggel weer met ’n paar wingerdstompies aan die gang kry, kon ek haar langsaan hoor pie. Die fyngeparste blonde vrug. Daar was iets onbeskaamd jeugdigs in die geluid. Ag, om weer jonk te wees, wanneer selfs urineer met uitbundigheid kan geskied, wanneer niks halfhartig is nie, alles absoluut. En banaal soos dit was, was dit ook huislik, ’n bevestiging van ’n menslike teenwoordigheid. Hoe lank het ek dit nooit gehoor nie. Die wegneem-meisies van die agentskap maak gewoonlik ’n kraan oop om die geluid te verbloem.

Die toilet word gespoel. Ek hoor die badkamerdeur oopgaan. Maar Tessa bly weg. Ek skink solank die wyn, en ook haar koffie en my tee, en maak net aanstalte om haar in die gang te gaan soek toe sy terugkom. Sy lyk verwonderd.

“Ek dag jy woon alleen hier?” vra sy.

“Ja, natuurlik.”

Daar is ’n fronsie tussen haar oë. “Ek het iemand in die gang sien afloop. Of kon dit die huishoudster gewees het?”

“Magrieta kom nie oor naweke in nie.”

Sy kyk stip na my, kom dan verby na die rusbank en vly haar daarop neer. In die opswaai van haar bene sien ek vlugtig die klein wit driehoek van die broekie tussen haar dye; die soort flits wat ’n uitgehongerde kluisenaar nie kan miskyk nie.

“Jy grap nou, nè?” sê sy. “Ek belowe jou ek het iemand gesien.”

“Hoe’t sy gelyk?”

“Dit was te donker om behoorlik te sien. Maar dit het gelyk soos ’n jong vrou, ’n meisie. Klein, skraal, in ’n lang rok, kaalvoet, met ’n doek of iets om die kop. Ek het haar gegroet, maar dit het nie gelyk of sy my hoor nie.”

“Dan het jy nou net vir Antje van Bengale ontmoet.”

“Come again?” Sy het ’n slukkie koffie geneem, toe oorgeslaan na wyn.

“Ek kan jou vertel wat ek weet,” sê ek. “Maar daar is ’n paar verskillende weergawes van die storie.”

Antje van Bengale het in 1696 saam met haar ma, Katrijn, op ’n slaweskip van Batavia af Kaap toe gekom, toe sy maar iets soos sewe jaar oud was. Onder die groot wildevy op die Parade waar die slaweveilings altyd gehou is, is sy vir 40 riksdaalders verkoop aan Anthonij Stalpaert, ’n bakker in die nedersetting; haar ma is teen vyf keer die prys aangeskaf deur ’n vryburger by Klapmuts en so ver ons weet, het hulle mekaar nooit weer gesien nie. Elf jaar later, toe Antje omtrent agtien was, is haar baas dood en is sy verkoop aan Willem Mostert, wat die taverne in Papenboom gehou het. Hy was die eerste eienaar van dié huis.

Daar was iets eienaardigs omtrent die transaksie, maar dis moeilik om agter die kap van die byl te kom omdat daar so min dokumentasie bestaan. Selfs in die volledigste en mees resente gepubliseerde verslag van Antje se lewe in Deon Vermeulen se ’n Mossie vir twee stuiwers: Slawerny aan die Kaap 1657-1795 (Human & Rousseau: Kaapstad) word daar maar net gegis oor dié periode in haar lewe; maar dit wil voorkom asof Willem Mostert, wat goed bevriend was met Stalpaert, Antje ’n hele paar jaar voor die transaksie in die bakker se huis ontmoet het. Ons weet dat hy by minstens drie geleenthede – in 1703, 1705 en 1706 – aangebied het om die slavinnetjie van sy vriend te koop, die laaste keer vir die nogal aansienlike bedrag van 250 riksdaalders. Maar om die een of ander rede wou die bakker haar nie laat gaan nie. Mens kry die indruk dat die vriendskap tussen bakker en tavernier na die laaste mislukte aanbod skipbreuk gely het; en dit het so erg geraak dat daar by Stalpaert se dood, op die leeftyd van skaars vyf-en-veertig, gerugte van vergiftiging die ronde gedoen het. Deur die nimlike Willem Mostert, wat glo ’n obsessie vir die slavin ontwikkel het toe sy nog maar skaars bekwaam was.

Hoe dit ook al sy, toe die bakker se boedel in 1707 opgeveil is nadat sy vrou besluit het om terug te gaan na Patria, is Antje opgeneem in die huishouding van Willem en Susara Mostert hier in Papenboom. Die egpaar het teen daardie tyd reeds ses ander slawe besit, vier vroue en twee mans, waarvan mens kan aflei dat hulle nogal vermoënd was. Die geld was hoofsaaklik van Susara se kant afkomstig, wat ter sake is vir wat later gebeur het. Want vir sover mens kan uitmaak, het Willem nie ’n dooie duit besit toe hy in 1690 of 1691 in die Kaap aangekom het nie. Daar bestaan geen rekord van sy aankoms nie, sodat mens maar jou verbeelding moet gebruik om jou te probeer voorstel hoe hy, wie weet, as verstekeling op ’n skip van Holland af die gevaarlike oortog aangepak het. Na sy landing, reeds oor die veertig jaar oud, het hy vermoedelik ’n ruk lank rondgeval, hier en daar los werk gekry, onder andere juis by die bakker Anthonij Stalpaert, voordat hy die eerste keer in die amptelike geskiedenis opduik toe hy as kneg by vryburgers in die buitedistrikte in diens geneem is. Soos die geluk, of sy vernuf, dit wou hê, het hy mettertyd tereggekom op die plaas van die ryk weduwee Susara Uytenbogaert, byna twee keer so oud as hy en, om dit sag te stel, indrukwekkend van postuur. Daar moet iets onweerstaanbaars omtrent die man gewees het, want skaars ’n jaar na sy aankoms op die plaas buite Stellenbosch is hulle getroud. Nie lank daarna nie, in 1702, het hy sy vrou oorreed om na Papenboom te verhuis, waar haar oudste seun, Diederik, die taverne bestuur het. Dié Diederik het gerieflik op ’n jagtog teen die hange van Duiwelspiek verongeluk (dit kos nie veel verbeelding om te raai dat sy stiefpa ook ’n lid van die geselskap was nie) en daarna het Willem Mostert die taverne oorgeneem.

Na Antje se aankoms in Papenboom het sy saam met die twee manlike slawe en twee van die slavinne ’n pakkamertjie in ’n buitegebou betrek; die ander twee slavinne het in die kombuis geslaap om byderhand te wees as die vrou des huises hulle nodig kry. Dit is onbekend op watter tydstip Willem begin het om snags uit die soliede ledekant te sluip en Antje op die agterwerf te ontmoet, van waar hulle dan op is na die buitegebou se solder. Dit is insgelyks onbekend of die hartstog wederkerig was en of Antje haar maar onderwerp het aan wat haar baas klaarblyklik as sy “reg” beskou het. Al wat ter sake is, is dat daar tussen Willem Mostert en Antje van Bengale oorvloedige tekens was van die “spirals of power and pleasure” soos Nigel Penn dit noem in sy beskrywing van ’n ander, maar vergelykbare, verbintenis (in “The Fatal Passion of Brewer Menssink”, in Rogues, Rebels and Runaways, David Philip: Kaapstad). Uit die kortstondige egskeidingseis wat Susara drie jaar later teen haar man ingestel maar kort daarna weer laat vaar het (vgl. Vermeulen pp. 109-111), blyk dit dat Willem Mostert oor die jare, selfs nog voordat Antje op die toneel verskyn het, gereeld seksuele omgang met sy vrou se slavinne gehad het; toe Susara hom by geleentheid daaroor aangespreek het, het hy die vermetelheid gehad om te antwoord: “Weet jij nog het Caabse gebruijk niet, dat eens hier na ’t oude Testament leeft?” Haar antwoord is nie opgeteken nie.

Wat ons wel weet, is dat die verhouding tussen Willem en Susara vinnig agteruitgegaan het. ’n Barometer van die spanninge in die huis, soos dit blyk uit getuienis deur die Gereformeerde predikant by die ondersoek vier jaar na Antje se aankoms in Papenboom, was Willem se toenemend uitdagende houding teenoor sy vrou. Haar enigste verweer was om meer en meer gewig aan te sit. Taamlik gou al was Willem nie meer tevrede om in die buitegebou se solder met Antje te verkeer nie en het hy begin om haar in die voorste gedeelte van die huis, ingerig as taverne, te ontmoet; naderhand is dit verskuif na die solder direk bokant die hoofslaapkamer. En elke keer as Susara gekla het oor die onheilspellende geluide wat sy in die nag gehoor het, het hy ’n verklaring gehad. Partykeer was dit realisties (rotte, vlermuise), ander kere vergesog en bonatuurlik (heksesabbatte waar die duiwel met jong maagde verkeer het). Wat bowenal uit dit alles blyk, is Susara se obsessie met die godsdiens se makabere onderkant: haar allesoorheersende vrees vir die donker en die bonatuurlike, die duiwel, die hel. En Willem het baie gou agtergekom hoe om haar vrese soos ’n gruwelike musiekinstrument te bespeel en daardeur sy arme vrou – teen dié tyd ’n magtige bolling van uitpuilende spek – in ’n blywende toestand van paniek te hou.

Na ’n paar maande was selfs die heksesabbatte op die solder nie meer genoeg om die uitspattige behoeftes van sy wellus te bevredig nie. Die volgende stap was om by die aandete ’n slaapmiddel in sy vrou se kruietee te gooi, te wag dat sy aan die slaap raak, en Antje dan aan die hand na sy slaapkamer te neem om op die sebravel voor die bed met haar omgang te hê. Susara het dwarsdeur dit alles geslaap. En toe dit nie meer genoeg was vir die gevoel van gevaar wat blykbaar onontbeerlik geword het vir sy paringsnood nie, het hy opgehou om sy vrou die slaapmiddel in te gee. Van toe af, lyk dit, het dit hom op ’n perverse manier bevredig om sy wawydwakker vrou te treiter met die geluide van sy geilheid skaars ’n paar tree van haar af. En ’n verduideliking het hy altyd gehad. Die verstommendste was dat sy vrou dit alles vir soetkoek opgeëet het – vermoedelik omdat sy om die een of ander rede doodbang was dat hy haar sou laat staan. Maar een nag het Willem so ver gegaan om Antje binne-in die bed by hom te neem; en selfs vir die liggelowige Susara was dit eens te veel. Toe sy uiteindelik haar vrees vir die donker te bowe kom en ’n kers aansteek, het sy die twee op heterdaad betrap. Willem se enigste bedekking was ’n jurk en ’n slaapmus, Antje was poedelnakend. Susara het haar man toegetakel met ’n koper kolepan wat sy gebruik het om die bed warm te hou. Maar hy het die houe afgeweer en opnuut met ’n verbluffende orasie vorendag gekom om te verduidelik wat gebeur het. Of dit aan sy welsprekendheid te danke was of aan Susara se patologiese vrees om die waarheid in die oë te kyk, feit is dat hy haar oortuig het dat dit die slavin was wat hom uit ’n nagmerrie kom wakker maak het deur by hom in die bed te kruip om te sê hy moet kom kyk, daar word by die kelder ingebreek.

Vir die soveelste keer het sy vrou voor die aanslag van sy versinsels geswig; maar dié keer het sy in ’n patetiese bevestiging van onafhanklikheid uitgeskuif na ’n spaarkamer aan die agterkant van die huis, en Antje met haar saamgeneem. Saans is die deur gesluit en die sleutel onder haar kopkussing gebêre. ’n Paar dae lank het Willem die kat uit die boom gekyk terwyl hy sy nood verlig het deur Antje dan en wan gedurende die dag na verborge hoekies van die huis, die buitegeboue of die kelder te lok. Daarna het hy ’n vanselfsprekende maar gewaagde oplossing bedink: Antje is aangesê om die knip van die venster oop te skuif wanneer sy in die aand gaan slaap, en daarna sou die twee slawemans, Adonis en Cupido, ’n leer buite onder die venster staanmaak. Net om die situasie ’n bietjie te kruie, het Willem hulle beveel om die leer weg te vat nadat hy ingeklim het en eers weer teen hanekraai terug te kom.

Een nag, vermoedelik na ’n besonder luidrugtige uitvoering, het Susara dit weer gewaag om ondersoek in te stel. Toe sy die gordyne oopskuif en in die maanlig die onbehoorlike spektakel op haar kamervloer gewaar, het sy ’n stoel gegryp en die stoeiende paar daarmee begin toetakel. Willem het by die oop venster uitgespring en hom byna disnis geval, maar net ’n verstuite enkel opgedoen; maar Antje is onhebbelik deurgeloop. Susara het die swaar stoel op haar flenters geslaan. Die gevolg was ’n miskraam – die heel eerste aanduiding dat die slavin swanger was aan haar baas se kind.

Selfs ’n lankmoedige en lydsame mens bereik vroeër of later breekpunt, en vir Susara was dit nou tot sover en nie verder nie. By die eerste daglumier het sy ’n perdekar laat inspan en saam met twee van haar slavinne Kaap toe laat vat, waar sy by verlangse familie van haar eerste man onderdak gaan vra het. Binne ’n uur na haar aankoms het sy haar opwagting gemaak by die pastorij van dominee Le Boucq, en kort daarna is die godsman saam met haar na die kamers van die Raad van Justisie in die Kasteel om ’n egskeidingsaak teen haar man aanhangig te maak. Hiermee het die saak ’n ernstige wending geneem, want soos Penn dit stel (op. cit., p. 37): “Divorce was regarded as a very extreme step indeed.”

Dit was nie net die skande wat Willem sou verontrus het nie (en mens moet in gedagte hou dat hy, hoe verregaande dit ook al mag klink, ’n ouderling en staatmaker in die kerk was): daar was ook die gevaar dat hy alles kon verloor wat hy ooit besit het, Antje inkluis, omdat dit alles op Susara se naam was. Sodra hy ’n snuf in die neus gekry het van wat aan die gang was, het hy Antje – nog steeds ernstig krank van die slae – aan die ander slawe se sorg oorgelaat en te perd die pad Kaap toe gevat. Nes Susara is hy eers by die pastorij aan, waar hy duidelik ’n gans ander storie vertel het, gerugsteun deur ’n flinke bydrae tot die kerk se tesourie (ongetwyfeld buitgemaak uit Susara se geldtrommel, wat al vroeg in hul huwelik nie meer teen sy aanslae bestand was nie). So geslaag was die besoek dat dominee Le Boucq hom persoonlik na Susara se tydelike verblyf vergesel het om sy saak te gaan stel. Daar word vertel dat Willem letterlik op die vloer voor die formidabele vrou se voete gaan kruip het en haar skoene natgehuil het terwyl hy voor God en sy ganse heirskare belowe om haar nooit weer seer te maak nie. ’n Hele paar kiste vol geskenke het gewig aan sy woorde verleen. Dit was die duiwel wat in hom gevaar het, het hy snikkend verduidelik; maar danksy die dominee se belofte om vir hom by God Almagtig voorspraak te doen, was hy nou gesterk in sy hoop en geloof dat hy vir goed uit daardie kloue van vuur en swael verlos sou word, om tot in lengte van dae getrou te bly aan die enigste vrou wat hy nog ooit opreg liefgehad het, Susara Uytenbogaert. Dit spreek vanself dat sy dit so aanvaar het, en mits dese is die egskeidingsgeding laat vaar.

Die gebeurtenis was nietemin ’n waterskeiding in Willem Mostert se kleurryke bestaan. Één gedagte het nou soos ’n paal bo water in sy kop gestaan: sy vrou moes dood. Selfs afgesien van die drang om Antje vir goed by hom te hou, was daar die vrees dat hy alles kon kwytraak wat hy nooit gehad het nie. Die besluit om Susara te vermoor, was op sigself nie so erg as die maniere wat hy daarvoor beplan het nie. Met nog meer vermetelheid as tevore het hy sy vrou se toestemming gaan vra om ’n rit Kaap toe te onderneem, vergesel van niemand anders as Antje nie. Dit was natuurlik nie hoe hy die saak verduidelik het nie. Wat hy gesê het, was dat Antje se teenwoordigheid ’n oorlas vir hul huwelik geword het en dat hy haar so gou moontlik in die dorp aan die eerste die beste aanvaarbare bieër wou gaan verkoop. Hierdie daad van opoffering het die goedgelowige vrou so ontroer dat sy waarskynlik sou toegestem het selfs sonder sy aanbod om Fatima, een van die ouer slavinne, as chaperone saam te neem.

Met dié is die paartjie daar weg op ’n wittebroodsreis van twee weke. Fatima se samewerking is verseker met ’n belofte van vrystelling. Onder skuilname het hulle hul intrek geneem in ’n herberg wat hoofsaaklik huisvesting aan matrose van verbygaande skepe gebied het; en wanneer hulle nie in die greep van hartstog rondgewriemel het nie, was Willem op besoek by dominee Le Boucq en ander invloedryke kennisse aan wie hy met ’n groot vertoon van diepe kommer uitgewei het oor sy vrou se swak gesondheid (wat glo al meer tekens van dementia begin vertoon het), terwyl die twee vroue ure lank rondgedwaal het tussen die mankolieke kraampies en skermpies teen die laer hellings van die Galgeheuwel op soek na ’n vreesaanjaende versameling doepa. Onder die items wat later by die moordverhoor vermeld is, was daar lekkernye soos “een mixtuur van poeder en haeren”, “verpoederde gebeente van gestorvenen”, “huid geschoren van de ledematen van aan de galg gehangen moordenaers”, “navelsnoer van een doodgheboren kind”, “excretie van tijgers en wolven” – ’n onheilige spul wat deur een historikus beskryf is as “’n middel waarvan die krag vermoedelik eerder deur nekromansie as deur farmakologie bepaal is” (Vermeulen, p. 114).

Na twee weke is die drietal terug na Papenboom met hul voorraad eksotiese middels. Susara se skok om Antje weer te sien, is gou besweer deur Willem se verduideliking, gestaaf deur Fatima, dat dit net tydelik was, terwyl hy wag op bevestiging van ’n gunstige aanbod deur een van die amptenare van die Kompanjie om die slavin oor te neem. Susara se enigste voorwaarde was dat Antje voortaan snags op solder toegesluit moes word, met ’n wag voor die deur. Hierdie hindernis is gemaklik oorkom deur twee lere met taai rieme aan mekaar te bind en hulle deur Adonis en Cupido te laat vashou. En toe die doepa so ’n week later begin werk, het dit nog makliker geraak.

Susara het afgryslik siek geword: hoofpyne, floutes, krampe van elke slag en soort. Met prysenswaardige toewyding aan sy vrou het Willem minstens een maal per week dokter Junniaar Bronssvinkel die hele pad uit die Kaap laat kom; tussenin, met ’n vertoon van kommer wat die hele nedersetting se simpatie gewek het, is Willem self telkens Kaap toe, natuurlik vergesel van Antje, om nuwe medisyne te gaan haal. Susara se toestand het gestadig vererger. Weldra kon sy glad nie meer opstaan nie, ’n situasie waarvan Willem gretig gebruik gemaak het om Antje uit die solder los te laat en soos vroeër met haar hoogty te vier vlak voor die bed waar Susara lê en stuiptrek en kerm in haar lyding.

Wanneer sy nog af en toe die krag gehad het om te protesteer, het hy lankmoedig verduidelik dat dit hallusinasies is waaraan sy ly, veroorsaak deur die duiwels wat in haar ingevaar het. Selfs wanneer hy ingeplant lê tussen Antje se dye, sou hy die teken van die kruis oor Susara se beswete kop maak, haar oë bedek met ’n klam lap wat spesiaal vir dié doel byderhand gehou is, en luidkeels tot God bid om tog sy arme lydende vrou genadig te wees – en dit terwyl hy vlak langs haar bokspring en wroet.

Vyf maande later is die arme vrou genadiglik dood, na vier laaste dae van onbeskryflike pyn en angs, begelei van die al meer besete, onophoudelike kopulasie van die twee minnaars. En toe was dit verby. By Susara se begrafnis moes hulle Willem vashou, want hy wou met alle geweld in die graf spring. Drie dae later, nadat die gaste weer weg is – in daardie dae was ’n begrafnis ’n groot sosiale gebeurtenis – het Willem allenig teruggeloop huis toe. Ure lank het hy in die verlate taverne bly sit en staar na die muur, sonder om te raak aan die beker slegte bier op die versplinterde eikehouttafel voor hom. Toe Antje met die sagte suiggeluide van haar kaal voete oor die misvloer na hom toe kom, het hy haar net bruusk beduie om pad te gee. Dit was asof al sy wellus met die uitblaas van sy vrou se laaste asem uit hom verdamp het.

Op dié afstand is dit moeilik om te sê of die einde voorspelbaar behoort te gewees het. Willem Mostert het oornag oud geword. Hy het al humeuriger geraak, verseg om die taverne oop te sluit of mense te sien. En toe het daar ’n gemor onder die slawe begin. Fatima was die eerste wat hom kom herinner het dat hy belowe het om haar vry te laat. As sy haar tyd beter gekies het, sou hy dalk anders gereageer het. Maar soos dit toe gebeur het, het hy haar ’n loesing gegee erger as al sy vorige buitensporighede. Daarop het die ander, voorgegaan deur Cupido en Adonis, kom eis dat hulle beloon word vir wat hulle gedoen het terwyl hy Antje die hof gemaak het. In die konfrontasie het Antje die fout begaan om haar téén hulle by Willem te skaar. En toe was dit net ’n kwessie van tyd voor die saak voor die Raad van Justisie beland het.

Die verrassendste van die hele gedoente was dat die ou Willem Mostert self nooit voor die hof gedaag is nie, nie eens as getuie nie. Dit was Antje wat aangekla is van moord, maar selfs onder die foltering het sy geweier om ’n woord teen haar baas te uiter; die ander slawe, aangekla as medepligtiges, het allerhande wilde beskuldigings gemaak, maar niemand het dit ernstig opgeneem nie. Amptelik is daar nooit met ’n vinger na die raaiselagtige tavernier gewys nie. Inteendeel, selfs nog voor die saak verhoor is, het dominee Le Boucq persoonlik getuig oor Willem se voorbeeldige gedrag en sy kommer oor sy vrou se gesondheid gedurende al die maande van haar slopende siekte. Dokter Bronssvinkel het dit bevestig. Watter suurlemoensap daar nog verder deurgeloop het, weet ons nie. Al wat mens met sekerheid kan sê, is dat Willem nooit aangekla is nie. In die woorde van ’n skerpsinnige historikus na aanleiding van ’n ander soortgelyke saak:

“We may … assume that one of the state’s ambitions was to maintain the social and judicial distance which existed between masters and slaves at the Cape. To place a member of the Cape’s élite in the same case as criminal slaves, and to judge this member as a co-conspirator of these slaves, was obviously more than the Court of Justice could stomach. To declare them as equals before the law would be to undermine the structures of inequality which bound the Cape’s colonial society together” (Penn, p. 56).

Op ’n deurskynde blou-en-goue herfsdag in Maart 1711 is Antje van Bengale verhoor, gevonnis en tereggestel. Destyds het die regspleging korte mette met ’n beskuldigde gemaak. Aan haar medeslawe is vonnisse van verskillende grade opgelê, vanaf géseling tot lewenslange gevangenskap op Robbeneiland, maar net sy is ter dood veroordeel. Soos Vermeulen dit saamvat, is sy “veroordeel om na die plek van openbare teregstelling geneem te word om daar aan ’n paal vasgemaak, met warm ysters gebrand, en met ’n koord verwurg te word totdat die dood intree. Daarna is haar kop en haar regterhand verwyder en op stawe by die ingang van die Kasteel opgestel, en haar oorblyfsels vasgemaak aan ’n gevurkte paal waar dit moes bly totdat dit verteer is deur die lug en die voëls van die hemel” (op. cit., p. 116).

Oubaas Willem Mostert was in die skare wat op die Parade vergader het om die teregstelling by te woon. Daarna is hy terug na die pastorij van dominee Le Boucq wat aan hom herberg verskaf het en aan wie hy daardie nag ’n belydenis afgelê het (wat by die daaropvolgende ondersoek aan die hof voorgelê is met die wysigings en skrappings wat die godsman goed geag het). Twee dae na Antje se teregstelling het Willem stilletjies in die nag die afsonderlike ledemate van die eens beminde liggaam bymekaar gemaak en teruggery na sy huis in Papenboom. In die afwesigheid van enige vaste getuienis, is dit die konsensus wat bereik is onder die enkele historici wat dit die moeite werd geag het om die treurige geskiedenis op te teken. Nadat Willem sy voorneme aan die predikant bekend gemaak het, het Le Boucq glo sy bes probeer om hom af te raai – so altans het hy later getuig – maar sonder sukses.

’n Week daarna het ’n reisiger op pad na Constantia by die opstal in Papenboom aangedoen om perde om te ruil, en gewaar dat die deure en vensters oopstaan. Die plek was verlate, en besmet van ’n afskuwelike stank. Te huiwerig om self ondersoek in te stel, het die vreemdeling ’n ent verder by die brouery gaan hulp soek. Daarvandaan is ’n paar slawe uitgestuur. Hulle het ou Willem Mostert se ontbindende lyk met ’n riem om die nek aan ’n swaar dwarstak van ’n akkerboom langs die huis aangetref. Van Antje van Bengale se lyk was daar geen teken nie.

Onvermydelik het daar in dié bygelowige tyd gou stories begin rondgaan oor ’n spook wat daar dwaal, en niemand het kans gesien om ’n eiendom aan te skaf wat onder ander omstandighede nogal ’n winskopie kon gewees het nie. ’n Jaar daarna is die huis op aanbeveling van die Gereformeerde Kerk tot op sy fondamente afgebreek. Die landgoed is onderverdeel en die randerwe teen redelike pryse van die hand gesit. Maar die middelste stuk het onverkoop bly lê, en dit ten spyte van die gunstige ligging vlak teen die hoofroete in ’n lommerryke buitewyk van die vinnig groeiende nedersetting. Eers teen die end van die negentiende eeu het ’n bejaarde immigrant uit Engeland die erf gekoop en op die oorblyfsels van die ou fondamente ’n nuwe huis in die koloniale Victoriaanse styl laat bou.

Donkermaan

Подняться наверх