Читать книгу Donkermaan - André P. Brink - Страница 5

1

Оглавление

Daar is ’n spook in die huis. Dit was waarom dit destyds, toe ons dit gekoop het – amper veertig jaar gelede, agt-en-dertig jaar en vier maande gelede – so spotgoedkoop was. Spoke was toe nog nie in die mode nie. Saam met die spook van Antje van Bengale het ons die huishoudster op die koop toe gekry. Magrieta Daniels. Sy was toe in haar vroeë dertigs. En na Riana se dood – na al die jare, na die geboorte van ons seuns en die verlies van my dogter, in die leegte anderkant geluk en ongeluk, skuld en onskuld, in die lang skemer met niks meer om op te hoop nie, sonder enige verrassings, sonder ’n skielike nuwe maan, ’n landskap so oop soos die Kalaharivlaktes van my kinderdae, en met net die ingewikkelde verraad van die geheue om my snags wakker te hou – het sy aangebly om my te versorg. En vir Antje van Bengale natuurlik, die arme jong slagoffer van haar gewelddadige baas en minnaar, in die dae toe die Kaap nog Hollands was.

Vanslewe was die gehuggie van Papenboom – ’n klompie huise rondom ’n meule, ’n brouery, ’n bakkery, en ’n berugte taverne – amper twee uur per koets uit die nedersetting in Tafelbaai; ’n halte tussen Rondebosch en die Kompanjiestuin by Nuweland. Omtrent al wat oorgebly het, is die naam van ons straat, Papenboomweg, in die nes van klein lommerstegies onderkant Newlands Avenue; en dan dié huis, meer Victoriaans as iets anders, met nog net die massiewe fondamente en ’n stuk ringmuur van wat glo eers ’n nogal indrukwekkende landgoed was.

Ons was gelukkig hier, ek en Riana. Die huis was die teken van ons onafhanklikheid, vry van die besitlike oorheersing van haar ouers, wat nooit sou verstaan of vergewe hoe ons die rug kon draai op die wynplaas in die Paarlvallei waar sewe geslagte Hugo’s hulle naam gevestig het nie, erger as Southfork, Dallas. ’n Dogter wat swanger voor die kansel staan, was erg genoeg; om nie te praat van ’n kerkmuis van ’n skoonseun nie, wat uit die dorre binneland hier aangewaai gekom het soos ’n tolbos, met die ruik van boeke aan sy hande. Dat al die trots van ’n familie uit die Boere-adel willens en wetens verruil word vir ’n mieserige voorstedelike bestaan, was soos om die Here self in die gesig te spoeg. Maar ons het dit reggekry. En behalwe die verlies van ’n meisiekindjie wat ek nooit eens gesien het nie, ’n erger slag as enige ander in my lewe (maar mens moet seker boet vir jou sondes), het ons goed gelewe hier. Wat ons beleef het, wat ons gedoen het, was eintlik alles deur die huis bepaal. En hoe kan hulle nou van my verwag om dit alles prys te gee – die huis, die herinneringe, alles wat ek nodig het om te weet wie ek is – en dit soos ’n biblioteekboek om te ruil vir ’n kamer of ’n woonstel êrens tussen ’n spul oumense in die een of ander aftree-oord?

“Dis tyd om aan Pa se gesondheid te dink,” het hulle gesê. Johann. En Louis. En hulle vrouens. “Dis tyd om aan Pa se veiligheid te dink,” het hulle gesê. “Pa verdien dit om Pa se laaste jare gemaklik en sonder bekommernisse te slyt,” het hulle gesê.

“Om vadersnaam, man, ek is nog g’n oud nie. Ek is vyf-en-sestig.”

“Maar wat van die hartaanval?”

“Dit was nie ’n hartaanval nie, dit was angina. Mense leef vir jare met so iets saam. Die dokter het my al die pille gegee wat ek nodig het. Genoeg nitrogliserien om ’n vragwa op te blaas.”

“Maar wat van Pa se buurman, watsenaam?”

“Johnny MacFarlane? Ek weet presies wat met hom gebeur het, en dit was ’n gruwelike affêre. Die land is besig om in sy maai te gaan en niemand verroer ’n vinger om die geweld te keer nie. Maar dit beteken nog nie ék gaan iets oorkom nie. Ek kan myself oppas. Bowendien het ek vir Magrieta.”

“Magrieta stap ook aan. Sy’s ouer as Pa.”

“Sy’s ’n baie fris sewentig. En sy hou daarvan om my op te pas.”

“Die huis is besig om agteruit te gaan. Dit word al donkerder en somberder hier binne. Niemand het in jare iets aan die tuin gedoen nie, dit is skoon aan die verwilder.”

“Ek hou daarvan so. Die natuur gaan sy gang. Baie plek om te sit en lees waar niemand my kan steur nie.”

Oproepe van ’n uur, twee uur. Louis uit Johannesburg; Johann van halfpad om die wêreld, uit Sydney. Tot Johann naderhand vir Cathy met die vliegtuig gestuur het om te kom mooipraat. Weet mos ek het ’n sagte kol vir haar. Meer as vir my eie kinders; maar nou ja, hulle is mansmense.

“Toe nou, Ruben, probeer nou rede verstaan.” Sy’t my nog altyd om haar pinkie gedraai met dié manier wat sy het om my op my naam te noem. Gegewe my leeftyd, en hare, is dit ontwapenend.

“Wat kan meer redelik wees as om in my eie huis te wil aanbly?”

“As Magrieta kon inslaap, dan was dit iets anders.”

“Jy weet goed ek het vir Magrieta ’n huis in Delft gekry. Na al die jare. Hoe kan ek nou van haar verwag om dit op te gee?”

“Maar heretjie tog, Ruben! Moet dan nou nie so hardekwas wees nie. Jy kan nie so stoksielsaligalleen hier bly woon nie.”

“Ek woon g’n alleen nie. Ek het my spook om my geselskap te hou wanneer Magrieta nie hier is nie.”

“Nou praat jy gewoon twak.”

“Jy’t net nog nooit die moeite gedoen om Antje van Bengale se vertroue te probeer wen nie.”

“Ek wil ook nie. Probeer nou vir een keer luister wat ek sê.”

“Ek het alles geluister wat ek hoef te weet. Ons het dit nou al voos bepraat.”

“Ek het heelpad van Australië af gekom.”

Sy’t ’n manier van staan – ’n soort balletpose, skouers half skuins, kop gelig, donker oë smeulend, blonde hare teruggegooi, ken vooruit, skraal hande op die gepunte heupe – wat bereken moet wees om alle manlike weerstand te laat smelt. Maar ek het voet by stuk gehou.

“Hokaai nou. Dit was jou eie vrye keuse, Cathy. Ek is baie lief vir jou, kind, maar emosionele afpersing vat nie op my nie.”

Sy was al op pad uit – ons was hier in die studeerkamer tussen die boeke en leggers en papiere, die slapende katte, die gekoekte drade van draaitafel en versterker en luidsprekers en radio en rekenaar – toe sy skielik weer na my toe omdraai.

“Wat van loseerders?” het sy gevra. “Jy kan maklik ’n paar studente inneem …”

“Tog nie studente vir my nie. Dan is dit net kom en gaan en rook en drink en musiek maak en kattermaai en te kere gaan hier onder my dak, dag en nag. Nee dankie.”

“Wat dan van ’n egpaar, Ruben? Miskien middeljarige mense of so. Net solank hier iemand by jou is.”

“Ek is te gewoond aan alleen woon. Ek het geheg geraak aan allenigheid. Ander mense sal net ’n oorlas wees.”

“Die huis is tog groot genoeg. Jy kan ’n paar van die kamers daar aan die agterkant afstaan. Hulle hoef nie in jou pad te wees nie. Maar hulle sal ten minste hier wees as jy die slag iemand nodig het.”

“Cathy, die punt is dat ek niemand nodig het nie.”

Maar ek kon aan haar houding sien sy gaan nie kop gee nie. En na twee dae se geneul het ek maar ingewillig, om die liewe vredesonthalwe. Sy wou eers aanbly tot alles klaar gereël is, maar gelukkig het Johann gebel en gevra sy moet terugkom. Toe nog het sy met ’n vrou se lis gewag tot die advertensie in die koerant was voor sy vort is. Tussen my en Magrieta, het ek besluit, sou ons wel iemand probeer kry wat pas. En as dit nie werk nie, dan was dit ook maar daarnatoe. Dan kon ek met ’n rein gewete sê ek het probeer.

Tot dusver was hier twee egpare. Die eerste het ons sonder enige wroeging weggewys. Middeljarig, twee regte misoeste uit Johannesburg. Armsorgklere, ’n gehawende ou kartonkoffer, ’n reuk van sweet en moedeloosheid. Hy’t sy werk verloor, sy was haasbek, alles aan hulle het moeite en verdriet uitgespel. Tot my verligting was Magrieta net so min beïndruk as ek.

Daarna ’n jonger egpaar, in hul laat dertigs, vroeë veertigs. Kleurlinge, baie ordentlik. Onderwysers, altwee van hulle. Huis in Athlone gekoop en gewag om in te trek, maar dit sou nog ses maande duur. Ek het gesê ek sal terugkom na hulle. Mens moenie te halsoorkop wees met sulke dinge nie. Ek wil nie sonde met die bure hê nie, daar’s ’n goeie verstandhouding in die hele buurt. Toe hulle terugbel, het ek gesê jammer, maar ses maande is vir my te kort. Met my gesondheid kan ek nie so ’n kommery en ganery al om die paar maande hê nie. Te veel van ’n ontwrigting. Hulle het dit so ingesien.

Magrieta het haar misnoeë baie duidelik gemaak. Nie ’n sprook gesprak nie, maar sy het haar maniere. Dreun met die stofsuier op en af in die gang as ek sit en musiek luister, verskuif die papiere op my lessenaar, maak die boeke toe wat ek oop laat lê het, kap met haar besem teen die vloerlyste. Die heel eerste keer wat sy dit gedoen het, was by die dertig jaar gelede, kort nadat Riana die baba verloor het; die ongelukkige episode met Alison. Maar dié keer was dit minder ernstig en ons het al altwee geleer om te gee en te neem. Na ’n dag of twee was Magrieta haar gewone bekwame self.

Ek het net weer begin ontspan en my reggeskuif om my ou, voorspelbare, vreedsame roetine te hervat – ek het immers probeer, niemand kon my verwyt dat ek die ding nie kans gegee het nie; dit het nie uitgewerk nie, nou kon hulle my met rus laat – toe die derde oproep kom. Jong vrou, het dit geklink. Met ’n ongewone stem: ’n soort vloeibare donkerte daarin, en iets soos ingehoue lag, wat my laat dink het aan Françoise Hardy in die jare sestig.

Maar ek was nie van plan om sommer kop te gee nie. “Eintlik is ek op soek na ’n egpaar,” het ek haar gewaarsku. Gehoop dit sou haar afskrik.

Dit was toe nie so maklik nie. Sy’t gesê: “Is dit o.k. as ek kom kyk? Ek stel belang, genuine. Ek wil graag ’n afspraak maak as ek mag.” Die donker vuur van haar stem het teen my sin in my rugmurg af geskroei.

“Nou goed dan tog maar,” het ek gebrom. Ek weet ek kan baie onvriendelik klink oor die telefoon, maar ek wou nie hê sy moet met onredelike verwagtinge hiernatoe kom nie. Ek wou ook nie hê sy moet wegbly nie.

Die afspraak is vir vanaand. Magrieta is soos gewoonlik huis toe vir die naweek. Die hele dag al reën dit. Die akkerbome om die huis is swaar en nat kolosse in die nag, swart op swart. Ek het die emmers en potte en bekers en goed uitgesit vir die lekplekke in die gang en die kombuis; elke keer as dit reën, die laaste jaar of twee al, karring Magrieta aan my om iemand te bel wat die dak kan kom regmaak, maar as die son uitkom, is mens geneig om dit op die lange baan te skuif. Miskien moet ek ’n nota maak vir Maandag. Enige oomblik nou, tensy die reën haar afgeskrik het, moet die deurklokkie lui.

Donkermaan

Подняться наверх